BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Waaksaamheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Waaksaamheid. Wys alle plasings

Donderdag 06 November 2014

AL AQSA, DIE TEMPELBERG EN MARKUS 13

- JESUS SE PROFETIESE AANSPORING TOT PARAATHEID



Sal Israel ooit so ver gaan om een van Islam se heiligste plekke te verwoes en hulle eie Joodse tempel te herbou? Die onlangse gebeure by die Al Aqsa moskee en die tempelberg plaas opnuut die fokus op die rol van Jerusalem en die tempel in die eindtyd. Ongelukkig is dit ‘n rol wat deur baie verkeerd verstaan word en juis so misverstaan word dat dit die skerpkant van Jesus se duidelike profetiese boodskap in Markus 13 uitkanselleer of afstomp!


DIE TEMPEL

Dis duidelik dat Markus groot klem lê op Jesus se houding en boodskap ten opsigte van die tempel in Jerusalem. Na Jesus se intog in Jerusalem is sy stelling (Markus 11:11) baie opvallend en vol betekenis :  "En Jesus het in Jerusalem gekom en in die tempel. En nadat Hy alles rondom bekyk het, en omdat dit al aand was, het Hy met die twaalf uitgegaan na Betánië...” Jesus doen inspeksie van die tempel en dit lei tot sy oordeelshandelinge in die tempel, onderstreep deur die vervloeking van die vyeboom. Die boodskap (wat ook sterk deur die Johannes evangelie uitgelig word) is dat die Joodse tempel en tempelbedeling misluk het. JESUS SELF IS NOU GOD SE TEMPEL. In Hom beleef ons nou die heerlikheid van God. Hy gee ons toegang tot die ware aanbidding van God!

In antwoord op die dissipels se opmerking in Markus 13:1 maak Jesus dit verder baie duidelik dat die tempel totaal verwoes gaan word! “Daar sal sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie!” (Markus 13:2) Dis seker ook nie om dowe neute dat Markus meld dat Jesus “regoor die tempel” gaan sit het nie. (Markus 13:3) 

JESUS SELF IS ONS TEMPEL, ONS EWIGE HOËPRIESTER EN ONS ALGENOEGSAME OFFER!

(Israel en die Moslems se gewoel by Al Aqsa raak dus nie God se tempel nie!)


VOORTEKENS 

Jesus se verdere lering in Markus 13:4-23 gaan spesifiek oor wanneer “hierdie dinge” sou plaasvind. Jesus wil duidelik maak dat hierdie dinge in vers 4-23 voorlopige gebeure is wat nie verkeerd verstaan moet word asof die wederkoms al aangebreek het nie! Jesus se hoofpunt hier is om die dissipels te waarsku dat hulle nie ontstel moet word deur die voorlopige tekens nie en dit ook nie moet verstaan as die aanbreek van die wederkoms self nie! 

Moenie voorlopige tekens met wederkoms verwar nie! (as ons dit so verstaan is daar geen konflik met die “tekens” en die uitspraak van Jesus in vers 32 nie!) Die voortekens bepaal nie die tyd van die wederkoms nie, daar moet dus nie afleidings rondom die tyd van die wederkoms vanuit hulle gemaak word nie. Hierdie voortekens word in Markus 13:8 met geboortepyne (Grieks - wdin)) vergelyk. In die Ou Testament verwys “geboortepyne” herhaaldelik na Goddelike oordeel (byv. Jesaja 13:8, 26:17, Miga 4:9ev) Die klem wat gelê word op “begin” suggereer dat die tydperk voor die verskyning van die Messias lank kan wees. God se kinders moet voorbereid wees vir ‘n lang tyd van verdrukking.

VERVOLGING EN EVANGELISASIE

Jesus beklemtoon dat as die dissipels hoor van onrus en rampe, moet hulle nie ontstel word nie. Hulle mag ook nie toelaat dat hulle mislei word en hulle aandag van hulle werk afgelei word nie. Hulle hooftaak bly die verkondiging van die evangelie aan alle nasies! (Markus 13:10) Hierdie werk gaan tot strawwe vervolging aanleiding gee. Jesus berei sy dissipels voor vir vervolging, soortgelyk aan sy eie. (Let op die herhaling van die woord “oorlewer” in vers 9,11,12.) Jesus se oorlewering en lyding is die proto-tipe van dit wat sy volgelinge te wagte kan wees. “Almal sal julle haat. Maar onthou : Wie volhard tot die einde sal gered word!” (Markus 13:13) Jesus se hoofboodskap is : GAAN AAN, VOLHARD, DIS NOG NIE DIE EINDE NIE! 

Dink aan die groot troos van hierdie gedeelte vir vervolgde Christene (toe en nou). Ons vervolging is nie iets abnormaal of vreemd nie, Jesus het dit voorsien, en boonop : ons verduur dit wat Hy ter wille van ons verduur het!

VERVOLGING IS DIE VOORLAND VAN ELKE VRUGBARE GELOWIGE!

VLUG

In Markus 13:14-23 fokus Jesus baie spesifiek op die plaaslike situasie in Judea en Jerusalem wat sou uitloop op die groot verwoesting van die tempel in 70nC deur die Romeine. (Die geskiedskrywer Flavius Josephus het hieroor uitgewei en baie inligting nagelaat.)

Jesus gebruik terminologie uit die boek Daniel. (Daniël 9:27,11:31, 12:11) Hy waarsku dat die “gruwel van die verwoesting” naby is en dat die vlug vanaf Jerusalem en Judea noodsaaklik is. Hierdie uitdrukking in Daniel beskryf ‘n afstootlike gruwel wat so erg is dat die mense die tempel sal agterlaat. Hierdie profesie van Daniel is alreeds vervul in 168vC toe Antiochus Epifanus die tempel ontheilig het deur ‘n altaar vir Zeus daar op te rig, waarop varke geoffer is. Jesus se gebruik van die uitdrukking dui daarop dat iets soortgelyks sou gebeur en dat daar weer ‘n ontheiliging van die tempel sou plaasvind. (Die herhaling van geykte profetiese temas om nuwe situasies te beskryf, is algemeen in die Skrif. Dit kom gereeld in Openbaring voor.) Die presiese aard van die ontheiliging word nie aangedui nie.

Die hoofklem in hierdie gedeelte is die opdrag om te vlug. Dis die praktiese raad wat Jesus aan die mense gee van sy eie geslag/tydgenote.

Die opdrag om te vlug veronderstel ‘n krisistyd in die geskiedenis, maar nie die finale einde nie! In Openbaring word “vlug” juis as futiel en nutteloos beskryf! (Openb. 6:15-17) Hierdie gebeure is beslis nie op die wederkoms van Jesus van toepassing nie (dan hoef God se kinders hoegenaamd nie te vlug nie), maar op die historiese situasie van oorlog wat sou uitloop op die verwoesting van Jerusalem en die tempel.

Jesus se boodskap hier is : “Daar wag vreeslike dinge op julle, vlug betyds as julle kans kry, maar moenie julle laat mislei nie, dis nog nie die finale einde nie!”

Ons is nie direk deel van hierdie historiese gebeure nie. Dis lankal verby. In ons dag is dit egter ook so dat vals profete floreer in tye van rampe en onrus. Moenie jou deur hulle praatjies laat vang nie!

PASOP VIR VALS PROFETE WAT IN MOEILIKE TYE OP HULLE PROOI TOESAK!



WEDERKOMS

Vanaf vers 24 is daar ‘n duidelike wending in die rede van Jesus. Hy bespreek nou sy wederkoms.Teenoor die valse hoop wat baie mense sal mislei is die ware hoop op die koms van Jesus! Fokus op Jesus self en moenie julle deur hierdie tussentydse dinge van koers af laat bring nie!

Jesus gee hoegenaamd nie nou ‘n tydsaanduiding van wederkoms nie. Hy het die dinge wat in sy dissipels in die onmiddellike toekoms te wagte kan wees uitgelig en dit duidelik gemaak dat sy koms nie sal plaasvind voor hierdie voorlopige gebeure nie.

Om die onbeskryfbare omvang en effek, heerlikheid en katastrofale aard van die wederkoms te teken, gebruik Jesus (Markus 13:24-26) terminologie uit Joël 2:10, 3:15; Jesaja 13:10;34:4; Esegiël 32:7-8; Amos 8:9. Die inmekaarval van kosmiese strukture wys op God se radikale ingrype en gepaardgaande katastrofes in die geskiedenis. Die lot van die heelal en die mens is ineengevleg. Met die sondeval is die hele skepping aan nietigheid onderwerp, met die mens se finale verlossing sal die hele skepping weer bevry word! (Vergelyk Romeine 8)

In Markus 13:26-27 gaan als oor aksies van die Seun van die mens. HY kom. HY maak die uitverkorenes bymekaar deur die engele. SY triomf word beskryf in terme van die Seun van die mens, die misterieuse figuur in Daniel 7:13ev. Jesus beklemtoon hier wat Hy reeds vir sy dissipels geleer het. Hy word verneder en ly, maar Hy kom weer in heerlikheid! (Markus 8:31,38)

Jesus maak sy verstrooides deur die engele bymekaar. “En dan sal Hy sy engele uitstuur, en Hy sal sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel.” (Markus 13:27) Die parallel met Deuteronomium 30:4 is uiters opvallend : “Al was jou verstrooides aan die einde van die hemel, daarvandaan sal die HERE jou God jou versamel, en daarvandaan sal Hy jou gaan haal.” Jesus herinterpreteer Israel se verwagtinge! Die onderliggende waarheid is dieselfde maar daar is diepgaande verskille. Die fisiese tempel en Jerusalem was die versamelplek van die verstrooides van Israel. Die tempel gaan nou finaal verdwyn (onthou die verdroogde vyeboom), maar die gevolg is ‘n nuwe hergroepering rondom Jesus self, die ware tempel!

As die vyeboom begin bot is mens seker dat die somer kom en dat dit naby is. Die beeld van vyeboom wat bot beklemtoon beslistheid van die gebeure en die nabyheid daarvan. Maar onthou om te weet iets is naby beteken nog nie ons weet wanneer nie!

WAAKSAAM EN NOGMAALS WAAKSAAM!

Markus 13:30 is ‘n baie omstrede vers wat uiteenlopende verklarings tot gevolg gehad het. “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.”

“Al hierdie dinge” verwys na “hierdie dinge” in vers 29. “Hierdie dinge” moet verstaan word in terme van die dissipels se vraag in vers 4 na aanleiding van Jesus se uitspraak oor die verwoesting van die tempel. “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken wanneer al hierdie dinge volbring word?” “Hierdie geslag” verwys na die tydgenote van Jesus. Inderdaad is die verwoesting van Jerusalem binne die leeftyd van Jesus se geslag voltrek. Sluit “hierdie dinge” nie ook die wederkoms self in nie? Het Jesus dan nie ‘n fout gemaak nie? NEE, vers 30 word gerelativeer deur vers 32. “Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader.” Vers 30 en 32 moet saam in balans verstaan word. Vers 30 verwys dus streng gesproke na die verwoesting van die tempel en die ander voorlopige tekens en vers 32 na die wederkoms self. Dit maak absoluut sin as mens in gedagte hou dat Jesus se hoofdoel met hierdie rede van Hom, die aansporing tot paraatheid en waaksaamheid is. Hieroor kan niemand twyfel nie... al sou jy met van die detail uitleg verskil. Jesus se waarskuwings staan voorop: 

Vers 5 "En Jesus antwoord hulle en begin te sê: Pas op dat niemand julle mislei nie."

Vers 9 "Maar wees julle vir julleself op die hoede, want hulle sal julle oorlewer aan regbanke, en in sinagoges sal julle geslaan word en voor goewerneurs en konings gebring word om My ontwil, vir hulle tot 'n getuienis".

Vers 23 "Maar julle moet op jul hoede wees. Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê

En wanneer dit spesifiek gaan oor die tema van Jesus se wederkoms op ‘n ONBEKENDE tyd word die kwessie van waaksaamheid verder onderstreep :

Vers 33 "Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie."

Vers 35 "Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie;"

Vers 37 "En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!"


BEREKENINGS EN BESPIEGELINGS

Dis tragies dat sommige (baie aktiewe) verklaarders Jesus se profetiese rede in Markus 13 juis gebruik om rondom tydsbepalings oor die wederkoms te bespiegel. Jesus se uitspraak rakende “hierdie geslag” is al min of meer as volg geïnterpreteer : Die vyeboom is ‘n simbool vir Israel. Israel het in 1948 ‘n onafhanklike staat geword. Binne daardie geslag sou die wederkoms plaasvind. ‘n Geslag in die Skrif is 40 jaar. Jesus se wederkoms sou in die laat tagtigerjare geskied. Natuurlik het dit nie gebeur nie en nou word daar gekyk na ‘n tydperk van 70 jaar, want ‘n leeftyd volgens die Bybel duur normaalweg 70 jaar!

Hierdie is ‘n voorbeeld van hoe mense die Skrif kan verkeerd interpreteer en juis teen die bedoelings van ‘n bepaalde Skrifgedeelte gaan. Jesus gaan uit sy pad om in Markus 13:32-37 te beklemtoon dat die tyd van die wederkoms ONBEKEND is. Die onbekendheid onderstreep juis die dringende noodsaaklikheid van waaksaamheid. Jesus sê dus : “Julle weet nie wanneer ek kom nie, jus daarom moet julle getrou op julle pos wees, besig met die werk (Vgl. Vers 34) wat julle gekry het!”

Let op die herhaling van “nie weet nie” :

Vers 32 “weet niemand nie”

Vers 33 “want julle weet nie”

Vers 35 ”want julle weet nie”

Die tyd van Jesus se koms is onbekend, die feit van sy koms is seker. Hierdie vooraftyd sal gekenmerk word deur vervolging, misleiding en rampe, maar dit moet ons nie ons fokus op volharding, waaksaamheid en die doen van ons werk laat verloor nie. 

REG VERSTAAN?

Wie verstaan Markus 13 dan nou reg? Die eenvoudige gelowige wat daagliks biddend en waaksaam besig is met die werk wat sy Verlosser hom gegee het en nie sy ore aan valse profete uitleen nie!

WAAK JY?

[Ons beleef groter wordende boosheid en afvalligheid. Die volgende uit 2 Timoteus het my juis vanoggend weer aangespreek- 
"Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word.  Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus." (2 Timoteus 3:13-15)  Bly by die basiese waarhede van die WOORD!]

Vir 'n bespreking van Ou Testamentiese profesie, kliek op PADSKRAPERDRYWER?

Saterdag 13 Oktober 2012

UITGESLOTE GASTE

- voorkom ‘n ewig afgryslike teleurstelling.

Dis ’n groot ontnugtering as mens ’n onverwagse teleurstelling op die lyf loop!  Dis ‘n groot skok as mens dink als is reg en te laat uitvind, dit was nie...  Hier in Matteus 25:1-13  word so ’n skokkende ontnugtering beskryf : bruilofsgaste wat voor ’n toe deur te staan kom en summier weggewys word. Hulle hoor al die vrolikheid en feestelikheid wat binne aangaan, maar hulleself is eensaam buite uitgesluit! So iets sou nooit in die konteks van Midde-Oosterse gasvryheid gebeur nie. Dis abnormaal. Dis juis hierdie abnormale gebeurtenis in die verhaal wat Jesus gebruik om Sy luisteraars te skok en ‘n ewigheidsbelangrike waarheid by hulle (en ons)  tuis te bring.

Kom ons kyk bietjie dieper na die gelykenis. (Natuurlik is dit belangrik om nie in te veel detail te verval en ‘n simboliese betekenis in als te soek nie - dit gaan eerder oor ‘n paar duidelike lyne) 

Daar is tien meisies in die verhaal, ‘n afgeronde getal. Hulle  lyk dieselfde en op die oog af kan jy geen verskil sien nie! Almal lyk gereed, almal vol verwagting. Almal het lampe, almal het olie. Tog is daar ’n dieperliggende  verskil : Een groep  tref ekstra voorsorgmaat reëls. Hulle vat  ekstra olie saam, hulle het  verder gedink, hulle maak dubbeld seker, en is gereed om enige gebeurlikheid te hanteer. Die ander het net bloot nie gedink dat ekstra olie nodig sou wees nie. 

Die groot saak, die finale verskil en onderskeid  is : Vyf was gereed en vyf nie!

Die bruidegom bly ongewoon lank weg, om een of ander rede het hy sy koms uitgestel. Dit word bewys deur die feit dat almal aan die slaap raak. Dan kom Hy wel op ’n tydstip wanneer niemand dit verwag nie. Die betekenis daarvan is baie duidelik. Dit sluit aan by Jesus se uitdruklike uitspraak dat Hy soos ‘n dief in die nag sal kom - onverwags! (Matteus 24:43-44) Terloops, weereens ‘n bewys, niemand sal die dag en datum kan uitwerk nie!

Die vyf meisies wat goed voorbereid was ondervind geen probleem nie. Die ander vyf probeer haastig ’n plan maak. Hulle is egter te laat.  Laat planne werk nie noodwendig nie. Ook ‘n goeie plan wat te laat is, is te laat om nog ‘n verskil te maak! Die skokkende is dat hulle voor ’n geslote deur kom en dat alle pleidooie om dit oop te maak tevergeefs is. Wat ‘n afgryslike lot! Geen tweede kans! Die skerp punt is : So sal dit nooit by ’n aardse bruilofsfees gaan nie. So sal dit wel gaan as die Hemelse Bruidegom Jesus kom.  

Drie sake is opvallend en vra ons aandag:

• Almal was nie gereed nie.  Hulle lyk dieselfde, deel dieselfde verwagting, maar almal was nie gereed nie. Dis duidelik dat hierdie boodskap nie gemik is op buitestaanders wat ooglopend nie gereed is nie, maar op mense in die  kerk wat dink dat als reg is. Die waarheid is : Almal wat formeel tot die kerk van Jesus behoort,  is nie noodwendig  gereed nie! Almal wat gedoop en aangeneem is, is nie outomaties gered en gereed  nie!  Nie gereed vir die dood, nie gereed vir die wederkoms nie! Daar wag nare verassings. Jesus het dikwels op hierdie waarheid gesinspeel - Sien Matteus 7:21 (vgl. vers 12 in die gelykenis) “Maar die bruidegom antwoord : ‘Ek sê  vir julle : Ek ken julle nie!’” Skrikwekkende woorde! Die meisies voor die toe deur was nie gerat vir ’n lang wag nie. Olie wys nie op ’n spesifieke saak nie - die punt is maar net hulle was nie voorbereid nie, hulle was nie gereed nie. Daar is verskeie redes waarom kerk mense nie gereed sal wees nie. Sommige het hulle nog nooit tot Christus bekeer nie, andere het afgedwaal... Die gelykenis van die Saaier wys ons daar  kan verskeie redes waarom mense wat wel die Woord hoor nie altyd vrug dra nie.

• Daar vind ’n onherroeplike skeiding plaas as die Bruidegom,  Jesus  weer kom! Geen tweede kans nie. Net soos in die gelykenis van die Ryk man en Lasarus. Ook Hebreërs 9:27 dui daarop. “ ‘n Mens is bestem om net eenmaal te sterf, en daarna kom die oordeel.” (Terloops dit is genoegsaam bewys dat die hele mite van reïnkarnasie* ‘n bedrogspul van Satan is. Daar bestaan nie so iets nie.)  As die deur gesluit is, is hy gesluit tot in alle ewigheid!

• Tot almal wat kan hoor kom  hier ’n duidelike oproep en vermaning! Vers 13. “Waak dan omdat julle nie weet  op watter dag en uur dit sal gebeur nie.” Dit wil maar net sê : Wees voorbereid. Maak seker dat jy gereed is. Vriend, moenie deel wees van die vyf dwase meisies se somber statistiek nie. Dis bitter noodsaaklik om hierdie boodskap en waarskuwing uit Jesus se eie mond te hoor. 

Die algemene indruk, as ons rondom ons kyk en mense se prioriteite gadeslaan is dat die verre meerderheid  nie juis besig is om voor te berei nie! 

So baie leef sorgeloos met ‘n valse illusie van sekerheid en saligheid. Grusame ontnugtering is die voorland!

Baie maak nie erns  met die Woord nie, hulle benut nie hulle kanse nie.
Baie mense het ‘n valse sekerheid, gebou op godsdienstigheid, gevoelens of aannames, maar nie op die genoegsame versoeningswerk van Jesus nie!
Baie steur hulle nie aan heiligheid nie - hulle dink dis nie nodig nie. Hulle vergeet Hebreërs 12:14 se dringende waarskuwing.
Baie kerklidmate sit onder die geklank van die Woord, maar het nog nooit ’n drastiese keuse gemaak om Jesus te volg nie...hulle stel altyd deur maar weer uit.
Baie het moeg en pap en slap in toewyding geword... die opgewondenheid om Jesus te volg het verdwyn.
Baie leef in onvrede, bitterheid, met wrokke...hulle weier vergifnis aan ander en wys so dat hulleself nog nooit vergifnis ontvang het nie.
Baie het lou geword. Hulle dink, praat en doen maar net soos die sondige wêreld rondom hulle, hulle is lankal nie meer warm nie...
Baie is net besig om aardse skatte bymekaar te maak, en dis ‘n duidelike bewys dat hulle geen aanddele het in die koninkryk van God nie!

Dis alles simptome van olie wat opgeraak het en lampe wat nie brandend is nie! Die gevaar van ‘n geslote deur is die   grusame gevolg...

BRAND JOU LAMP?



Die koms van Jesus gaan onverwags wees. Ons dood kan onverwags wees. Beide - ons dood of Jesus se koms is nou ‘n jaar nader, as wat dit verlede jaar hierdie tyd was! Is jy voorbereid? Brand jou lamp? Waarmee is jy besig?

Die oplossing is : tref bestyds voorsorg! Hoe? Wees eerlik oor jou toestand, erken voor die Here : Ek is nie gereed nie! Reageer op Jesus se uitnodiging! Kom net soos jy is, kom kry die lewe verniet, maar kom betyds!  Dis ‘n waarheid wat alreeds in die Ou Testament  onderstreep word in Jesaja 55:1 (lees dit gerus) Maar ook vers 6 is dringend belangrik. “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is.”

Roep na  Hom. Vind Hom! Volhard in waaksaamheid!

* Baie in ons dag glo hierdie leuen van Satan. Selfs iemand soos die skryfster Annelie Botes.