BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 25 September 2017

"Viskriklik"

Vis lag hier "viskriklik" lekker vir sy eie demonstrasie van hoe sy tone lyk...



Ons het egter oor baie ernstige dinge gesels tydens ons kategesekamp by Ohange, onder andere die komplekse saak van verhoudings tussen tieners. Die boodskap is duidelik opgesom : Moenie as jy eendag voor die kansel gaan staan soos 'n gekoude "chappie" wees nie. Deur 'n klomp ander gekou en gesuig... Nee, wees eerder 'n "square" - 'n vars vierkantige "chappie"  wat nog deur niemand gekou is nie!

Baie dankie aan Vis (Albert) en Eben van die AEB wat kosbare lering en persoonlike getuienis met ons gedeel het!

Sondag is ons kamp afgesluit met 'n erediens op Tsumeb waar die Here se Woord ons uitgedaag het om teen die groep vir Jesus te kies... Kliek op GROEPDSDRUK.

Woensdag 20 September 2017

BUITE BY JESUS

- Kies teen groepsdruk en vereenselwig jou met die veragte en verworpe Jesus! 


Jy is bang om alleen te staan, jy is bang om uit te voel, jy is bang om eenkant toe gestoot of geïgnoreer te word. Jy is bang om aan die kant van die minderheid te staan, jy is bang of skaam om openlik met die meerderheid te verskil, jy is bang mense dink jy is snaaks of “weird.” Jy is bang om uitgekryt te word as ’n sissie of ’n pretbederwer of outyds. Jy is bang hulle sê : ”Ag, toe nou mamma se seuntjie!” Jy is bang om jou oortuiging uit te spreek , want netnou lag hulle vir jou... Jy is bang ander word ryk, maar jy bly arm, jy is bang ander vorder op die korporatiewe leer maar jy bly agter as jy nie saam met die manne na daardie "stripshow" toe wil gaan nie... Jy wonder dikwels by jouself : “Sê nou maar ek mis iets lekker van die lewe wat ander het of doen?” Jy wil graag hê dat almal van jou moet hou, jy wil graag altyd deur jou maats aanvaar word, jy wil graag in wees, jy wil graag aantrek soos almal aantrek, jy wil kan saampraat... Jy begin redeneer : “As almal dit doen, moet dit seker reg wees!” As jy al enige van hierdie gedagtes of gevoelens ervaar het dan het jy al kennis gemaak met die verskynsel van groepsdruk. Dit gaan hier spesifiek oor hoe groepsdruk ons as Christene raak. Groepsdruk ’n baie alledaagse en ernstige werklikheid. Twee basiese feite is belangrik om te onthou:  

1) ‘n Volgeling van Jesus kry elke dag en orals met groepsdruk te doen. Dis baie logies dat dit so sal wees, want die pad van die Christen is die smal pad : “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min." (Matteus 7:13,14) Die meerderheid mense, waarskynlik ook van jou maats of vriende is nie op die smal pad nie! Dis die alledaagse werklikheid, die rou realiteit...en nie net vir jongmense nie! Natuurlik in byv. die geslote sisteem van ’n skoolopset kan dit buitengewoon baie erg wees, maar orals deur mens se hele lewe - van Kabouterland kleuterskool tot eendag waar jy jou laaste jare in Huis Herfsblare of Silwerjare gaan slyt sal jy as Christen te doene kry met groepsdruk. Alle kinders van God sal groepsdruk ervaar, trouens dis in ‘n sin ’n goeie teken as jy dit ervaar. ‘n Mens voel tog juis die stroom die sterkste as jy teen die stroom swem. Veral as jy alleen teen die waters moet inbeur...


Die groot kwessie is - hoe gaan jy die groepsdruk hanteer? Gaan jy die groep kies of gaan jy Jesus kies? Dit bring ons by die volgende punt. 

2)Vir ‘n volgeling van Jesus is groepsdruk ’n ernstige saak – ‘n saak van ewigheidsbelang. Hoe so? Deur te swig voor groepsdruk kan jy die ewige lewe misloop. Ja, Jesus waarsku duidelik hieroor. “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is." (Matteus 10:32,33.) Dis ’n skrikwekkende moontlikheid wat kan gebeur - in jou hart glo jy in Jesus, jy is oortuig dat Hy die Seun van God is, maar jou vrees vir mense, dit wil sê groepsdruk verhoed dat jy openlik aan sy kant gaan staan. Ons kry ’n treffende voorbeeld hiervan in Johannes 12:42,43 waar ons lees : “Nietemin het selfs baie van die lede van die Joodse Raad tog ook tot geloof in Hom gekom, maar uit vrees vir die Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie; want hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God.” Hierdie mense het wel in Jesus geglo, maar verkies om stil te bly. Waarop kom dit neer? Vrees vir groepsdruk, vrees om nie deur maats en vriende uitgestoot te word nie. 

In Hebreërs 13:13,14 word ‘n drastiese uitspraak met betrekking tot groepsdruk gemaak! 

“Laat ons dan nou uitgaan na Hom (Jesus) toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het, want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.” 

Die Christene aan wie die Hebreërbrief geskryf is, het ongetwyfeld baie ernstige groepsdruk ervaar. Die brief is waarskynlik gerig aan Joodse Christene. As Christene het hulle swaar gekry - hulle het smaad en verdrukking verduur. As gevolg van hulle Christenskap is hulle ook van hulle eiendom beroof. (10:32-34) Daar was groot druk om dus nie voluit Christene te wees en nie hulle laaste bande met die Joodse geloof te verbreek nie. Trouens die versoening was groot om eerder terug te keer na die Joodse geloof. Die Joodse geloof het voordele ingehou, dit het immers beskerming onder die Romeinse wet geniet.* Om jou openlik en voluit by die Christene te voeg, het beteken dat jy nie meer beskerm was nie. Dit was dus ’n groot risiko om teen die groep - dit wil sê die aanhangers van die Joodse geloof te kies en jou lot by die Christene in te werp! Daarom kry ons die sterk vermanings in die brief om nie die geloof te verloën nie, maar te volhard. 

KIES OPENLIK KANT VIR JESUS!

Teen hierdie agtergrond rig die skrywer ’n ingrypende en gewigtige uitdaging aan hierdie Christen lesers van die Hebreërs brief : “Laat ons dan uitgaan....” (13) Jesus is buite die stad Jerusalem gekruisig. Dit was ’n teken van sy verwerping deur Jerusalem en alles waarvoor Jerusalem gestaan het. Immers, deur sy hele lewe het Jesus verwerping ervaar. Verwerping deur die groep - verwerp deur die godsdienstige leiers, verwerp deur sy eie familie, selfs verwerp en verlaat deur sy eie dissipels in Getsemane toe Hy gevang is. Hoekom is Jesus verwerp? Bloot omdat Hy die waarheid vertel het deur te sê dat Hy die Messias die Seun van God is. Die waarheid was immers nog nooit gewild en vir die meerderheid aanvaarbaar nie. Jesus is gespot en beledig. Hy is gesmaad, daar het ’n stigma aan Hom gekleef. Die gemeenskap, die leiers, die hele establishment het Jesus verwerp en gesmaad. Hy is uitgedryf buite die gemeenskap, buite die volkshuis. Sy kruisiging was die uiteinde en uiterste simbool en gevolg van daardie verwerping. 

Jerusalem en die Joodse volk se verwerping van Jesus het neergekom op ’n verwerping van God. God se teenwoordigheid moet nou buite daar waar Jesus is gesoek word.** Tot hierdie Christene word nou ’n uitdaging gerig – “gaan buite die laer!” (d.w.s. buite die gemeenskap en gebruike van die Judaïsme) Kies teen julle eie mense, teen julle eie groep en vereenselwig julle met die bespotte en eensame Jesus. Wees bereid om die stigma en smaad te dra wat Jesus gedra het. Kies openlik vir Jesus. Verlossing is alleen by Hom te vind, nie meer in die ou Joodse sisteem waar julle tuis was nie. Dit gaan ‘n moeilike keuse wees. Maar onthou deur die groep te verlaat, deur julle rug te draai op die ou sisteem gaan julle uiteindelik wenners wees. (Sien vers 14!)Die stad/sekuriteite van hierdie wêreld gaan verby, gaan tot niet (juis die sekuriteite wat vriende of die groep ons bied) Hierteenoor - ons wat aan Jesus behoort is op pad na iets beters - die toekomstige stad. Die stad met vaste fondamente waarvan God self die bouer is.*** 

GAAN JY HIERDIE UITDAGING AANVAAR?

Dink mooi oor twee sake:

Bedink die ewige verlies wat jy gaan ly as jy toegee aan groepsdruk en so Jesus verloën. Spurgeon het die implikasies van toegee aan mensedruk so treffend verwoord : "O, do not for a man’s frown or a woman’s smile forego eternal life.” Moenie mense vrees nie - vrees God. Die heel ergste wat mense kan doen is om jou liggaam dood te maak, God egter het die mag om liggaam en siel vir ewig in die hel te werp. “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan.” (Matteus 10:28) Die konteks gaan juis daaroor dat ons sonder vrees vir mense die evangelie moet verkondig, sonder vrees aan die kant van Jesus en die waarheid gaan staan.

Bedink die ewige wins wat jy gaan verkry as jy getrou bly aan Jesus en teen die groep standpunt inneem. Dink aan daardie dag as Jesus voor sy Vader gaan erken : “Vader, Ek ken hom/haar, hy/sy behoort aan My. Hy/sy was nie skaam vir my nie...”

KIES OPENLIK KANT VIR JESUS! KIES LIEWER OM SAAM MET HOM GESPOT TE WORD. DIS NOU SWAAR, MAAR DIT HOU EWIGE VOORDEEL IN! EN ONTHOU HY WAS NIE SKAAM OM VIR JOU TE LY NIE!



*FF Bruce, The Epistle to the Hebrews, p xxx

** Moontlik dink die skrywer hier aan Eksodus 33:7 waar ons lees dat Moses die tent van samekoms buitekant die laer opgeslaan het. dit het gebeur na die insident van die goue kalf wat daarop neergekom het dat die volk God verwerp het. Die laer het God dus verwerp en God se teenwoordigheid moes buite die kamp gesoek word. FF Bruce, The Epistle to the Hebrews, p403

*** Vergelyk Hebreërs 11:10


Woensdag 13 September 2017

HARVEY, IRMA EN DIE BRANDERS…

Wat wil Jesus in sy profetiese rede vir ons sê?



“…angs vir die gebulder van die see en sy vloedgolwe.” (Lukas 21:25)







Met Harvey, Irma, Maria en soveel ander vloede, aardbewings   (Meksiko) en rampe vars in die geheue dink mens onwillekeurig aan hierdie waarskuwende woorde van Jesus wat deel is van sy beroemde profetiese rede. (Sien Lukas 21:5ev) 

Wat wil Jesus vir ons nou sê, wat beteken hierdie dinge vir ons vandag? Ons moet myns insiens pasop vir twee slaggate as ons hierdie stuk lering van Jesus vandag oordink. Die een slaggat is om op ‘n simplistiese wyse gevolgtrekkings en berekenings te maak oor Jesus se wederkoms. Die tipe van uitlatings...“Jong, kyk hierdie klomp rampe, die wederkoms gaan beslis in 2017/18 plaasvind...” Die onlangse geskiedenis van die kerk lê besaai met die skelette van teleurstellings en mislukkings in die verband. Maar daar is ook ‘n ander slaggat - om Jesus se woorde maar net te ignoreer of te reduseer tot ‘n stuk geskiedenis wat net vir die dissipels van destyds belangrik was! Al Jesus se woorde is gesaghebbend en aktueel, nog meer so as dit nie net ‘n enkele teks is nie, maar ‘n uitvoerige stuk lering wat in drie evangelies voorkom!

NIE SO INGEWIKKELD!

Daar is min Skrifgedeeltes wat tot soveel uiteenlopende interpretasies aanleiding gegee het. Tog is die hoofboodskap eintlik baie duidelik en eenvoudig! (al sou mens bly verskil oor sommige van die detail)

Die agtergrond van Jesus se uitsprake is baie insiggewend. Die dissipels het ‘n onmiddellike koms van die koninkryk verwag!* Dinge gaan nou gebeur! Jesus het mos so pas triomfantelik as Koning, Jerusalem binnegery! (Lukas 19) 

VERWOESTING VAN JERUSALEM EN DIE WEDERKOMS

Jesus se hoofdoel met hierdie rede is om hulle verkeerde verwagtings reg te stel en hulle aandag te kanaliseer op wat belangrik is in hierdie tyd voor die finale koms van die koninkryk. Vir die korrekte verstaan van hierdie gedeelte is dit belangrik om raak te sien dat Jesus se woorde rofweg oor twee gebeurtenisse handel : Verwoesting van Jerusalem (wat gebeur het in 70 nC) en Sy wederkoms! Dis twee gebeurtenisse wat deur ‘n lang tydinterval geskei word, maar die dissipels en eerste Christene het dit natuurlik nie besef nie. So ‘n gemengde en verweefde tema is vir ons ‘n vreemde manier van praat, maar dit maak sin as mens iets verstaan van die manier waarop die Ou Testament en spesifiek die profete oor God se werkinge in die geskiedenis praat... Volgens hierdie manier van dink volg God se oordele en reddingsdade sekere patrone, want dis dieselfde God wat dwarsdeur die geskiedenis werk. Daarom byvoorbeeld word die verlossing uit Egipte, die eksodus ‘n model vir alle verlossingsdade van God, ja ook vir die verlossingswerk van Jesus! Ook in God se oordele is daar duidelike patrone sigbaar wat telkens weer herhaal word tot en met die finale oordeel.

Die eerste tema is dus die val van Jerusalem en verwoesting van die tempel. ‘n Gebeurtenis van ontsagwekkende ingrypende groot betekenis. Dit was God se oordeel oor Israel omdat hulle Jesus verwerp het. “Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: "As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor. Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie." (Lukas 19:41-44) 

Jesus wil verder nog iets belangriks sê : Die oordeel oor Jerusalem gaan ‘n skrikwekkende en dramatiese gebeurtenis wees, maar onthou dis nog nie die end nie! Pasop vir verkeerde voortydige gevolgtrekkings! Die stad en die tempel gaan wel verwoes word, maar die kerk en haar getuienis gaan voort. Dit gaan vervolging meebring en dit gaan volharding en waaksaamheid vra. Dit opsigself sou vir die eerste dissipels ‘n vreemde gedagte wees. Hulle sou dink :”Ons is mos die mense van die Messias, die Christus, ons gaan triomfeer en oorwinnaars wees! Maar wat nou, nou hoor ons van vervolging en verdrukking, hoe werk dit?” Hier kom ons dan by die verdere en groot doel van Jesus se rede. Om sy volgelinge voor te berei en te bemoedig vir die moeilike tye wat kom. Sy fokus is eintlik gerig op die tyd van wag vir die finale koms van die koninkryk.

GEEN TYDSROOSTER NIE

Jesus voorsien nie ‘n kalender met datums nie, maar ‘n wye omvattende prentjie. Die wederkoms word in terme van kosmiese tekens beskryf – son, maan, sterre. Die see word ook in besonder genoem, want in die antieke wêreld en veral vir Israel het die see geweldig vrees ingeboesem. Dit gaan dus oor meer as net letterlike tekens, eerder ‘n beskrywing van die geweldige katastrofale, verbysterende en aardskuddende karakter van Jesus se koms. Dit gaan iets wees sonder weerga. Gewone taal is nie genoeg nie. Die impak is bonatuurlik en angswekkend groots. Iets van die angs en verslaendheid waarmee Harvey en Irma gepaard gegaan het... maar nog baie meer! Daarom is gebeure soos Harvey en Irma inderdaad 'n aanmaning ("reminder") en wekroep om gereed te wees vir die laaste angswekkende GROOT DAG!

Jesus beklemtoon ook die dringendheid, sekerheid en nabyheid van die gebeure.  Hierdie dinge is nie teorie, bangmaakstories of studeerkamerpraatjies nie, maar werklikheid! Vers 32. “Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal al hierdie dinge gebeur.” Natuurlik het dit betrekking op die val van Jerusalem wat in die leeftyd van daardie geslag gebeur het. Maar daarmee saam word die werklikheid van sy wederkoms ook onderstreep. Een moontlike manier om hierdie teks te verstaan is dat dit wil sê : “In hierdie geslag nog sal hierdie dinge beslis begin gebeur, die geskiedenis het in beweging gekom en is onvermydelik op pad na die finale oordeel en wederkoms!***

PASOP!

In die lig van die werklikheid van sy koms, kom Jesus met ‘n dringende waarskuwing en oproep! Dit bring ons by die klimaks van sy boodskap! "Wees op julle hoede dat julle gees nie deur onmatige etery en drinkery en deur die sorge van die lewe afgestomp word nie en dat daardie dag julle nie onverhoeds soos ‘n vangnet oorval nie. Daardie dag sal skielik op al die bewoners van die hele aarde neerkom. Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn." (34-36) 

Hoe uiters noodsaaklik vir die kerk van ons tyd om dit te hoor! 

Pasop, wees waaksaam, wees op julle hoede - veral vir twee dinge: Plesier en Bekommernis! 

Dit lei mens se aandag af, dit stomp mens af vir die werklikhede van die aanbreek van die koninkryk en gaan veroorsaak dat mense nie gereed gaan wees as Jesus kom nie! Want onthou niemand weet wanneer Hy gaan kom nie!**** Dis wat ons sien gebeur. Ons mense word meegesleur en geokkupeer deur so baie dinge... Daar is ‘n oorweldigende spyskaart van plesiere en oordadigheid! Daar is ‘n oordonderende las van bekommernisse en kwellings. Die gevolg is? Ons is altyd net té besig... met een of ander sport of vermaak...met ‘n eindelose gerondhardloop om finansiële sekuriteit te probeer verseker.

IN BIDDENDE AFWAGTING

Positief, is Jesus se opdrag – bid! Dis sy raad vir die eindtyd! 

Mense wat gereed wil wees vir Jesus se koms sal erns met gebed maak. Mense wat die wederkomsboodskap glo, gaan nie hulle lewe wy aan plesier, bekommernisse, berekenings (en stryery) nie , maar aan gebed!

Die kernboodskap en fokus van Jesus se profetiese woorde is baie duidelik : Nie berekenings nie, maar paraatheid. Nie ’n tydskema nie, maar ‘n benadrukking en onderstreping van die werklikheid van ‘n wêreldeinde, van ‘n oordeel, van ‘n dag van afrekening en beloning! Nie soseer ‘n toekomsprofesie nie, maar onderwys in Christelike gedrag tydens die tyd wat ons wag. Getrouheid in die interim tyd voor Sy koms! Hierdie getrouheid sal veral waaksaamheid en gebed behels!

VOETNOTAS

*Selfs na Jesus se opstanding het hulle nog steeds so ‘n onmiddellike verwagting van die koninkryk se koms gehad en Jesus moes hulle weer reghelp in hulle verkeerde verstaan van dinge. “Toe hulle ‘n keer weer bymekaar was, het hulle vir Jesus gevra: "Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?"Hy het hulle geantwoord: "Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld." (Handelinge 1:6-8)


** Psalm 46:2-4; 65:7; 89:9; 107:23-32 Sien die rol van kosmiese tekens in die Ou Testament in Jesaja 13:7-13; 24:18-20; 33:9; 34:1-15; Jeremia 4:23-26; Esegiël 32:7-8; Daniël 8:10; Joël 2:10, 30-31; 3:15; Amos 8:9; Nahum 1:4-5; Haggai 2:6, 21

*** Daar is natuurlik baie pogings om die term “hierdie geslag” op ‘n ander manier te verklaar, maar dis nie baie suksesvol nie. In die Nuwe Testament beteken “hierdie geslag” normaalweg die geslag van die skrywer of spreker. Die hoog aangeskrewe geleerde D.A. Carson stel dit so : “‘This generation’ . . . can only with the greatest difficulty be made to mean anything other than the generation living when Jesus spoke.” ‘n Interpretasie wat “hierdie geslag” so verstaan en ernstige oorweging behoort te geniet is as volg : It takes the verb γένηται as an ingressive aorist. The same verb is found in all three Synoptics and is translated “takes place” (Matt. 24:34; Mark 13:30; Luke 21:32). As an ingressive aorist it emphasizes the beginning of the action with the meaning “begin to take place.” All those things would begin in that generation and find their ultimate completion at the Second Advent. This fits with the idea of not being deceived by the events mentioned in Matthew 24:4-8. The Lord specifically referred to these as “the beginning of birth pangs” (v. 8). [Stanley D. Toussaint, BibSac 161:644 (Oct 2004) p. 483-86] Lukas 21:32 sou ook so vertaal kon word : “Amen/voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal beslis/glad nie tot ‘n einde kom voordat/totdat al hierdie dinge (begin) gebeur het nie.” My Gereformeerde broer Janré van Jaarsveld het met die vertaling gehelp.

**** Matteus 24:36 "Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit.” En die ironie is, ten spyte van hierdie duidelike uitspraak hou mense aan om die tyd te probeer bereken!


Vrydag 01 September 2017

EN TOE SIEN HY...

- aanskoue van die onsigbare werklikheid bevry ons van vrees.



Wat sien ons? Zuma, Trump, korrupsie, wanorde, valsheid, ekonomiese druk... of die onsigbare God? Dis nogal baie belangrik. Wat ons sien het ‘n geweldige effek op ons...


Wat ons sien bepaal ons hele perspektief en gemoedstoestand, ons vreugdes of vrese. 

Dit kom pragtig na vore in die besondere verhaal in 2 KONINGS 6:8-23. (lees dit gerus eers deur) Die koning van Aram (Israel se vyand) stuur ‘n sterk leërmag en omsingel die stadjie Dotan. In hierdie stadjie woon die profeet Elisa (die vyand wil juis vir Elisa vang) en sy dienskneg. Hulle bly dus in dieselfde plek, maar hulle beleef elkeen ’n verskillende werklikheid :


~ Die dienskneg verval in vrees en paniek, want hy sien die gevaarlike situasie ... omsingeling deur ‘n gevaarlike vyand. Hoor bietjie hoe reageer hy : “Die môre vroeg het die slaaf van die man van God opgestaan, en toe hy uitgaan, sien hy ‘n leër rondom die stad, met perde en strydwaens. "Ag, Meneer!" sê die slaaf vir Elisa, "wat gaan ons nou maak?" (15) Hy sien waarskynlik al die dood en verwoesting. Bloed en bedreiging.


~ Elisa is opvallend rustig en doodkalm. “Hy (Elisa) het geantwoord: "Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is." (16) Hoekom?Is Elisa gerook? (soos ons dagga) Elisa het iets (Iemand) gesien wat sy dienskneg nie gesien het nie... Dit beteken nie Elisa was onrealisties of naïef nie. Ook was hy heeltamal nugter. En ja hy het beslis die gevaar gesien, maar hy het ook meer gesien, die volle werklikheid...


Ons het nodig dat God ons “oë” sal open!


Elisa bid dat die Here sy dienskneg se oë open, dat hy ook die volle werklikheid kan sien. God verhoor die gebed en die dienskneg sien toe ‘n verbysterende toneel... “Elisa het gebid: "Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien." Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur.”(17)


Wat gebeur hier? Waarop kom dit neer? Neem kennis : Daar is ook ‘n onsigbare werklikheid. ‘n Geestelike realm. Wat is die onsigbare werklikheid? Die vurige leërmag bevestig onder andere:


God is alomteenwoordig. Hy is onsigbaar maar Hy is in hierdie situasie. Wat ons sien met ons fisiese oë, is nie die volle prentjie nie! (dink maar aan son agter wolke)


God is almagtig. Hy is daar met sy mag- met ’n leërmag! God is nie swak nie. God se leër op die toneel is baie sterker as die vyand se leër. Enige vyandelike mag! Orals! Altyd!


God is aktief werksaam. God is nie maar net ‘n toeskouer nie. God was besig om op te tree, maar die dienaar het dit nie besef nie - eers toe sy oë geopen is.


Die volle werklikheid, is God, God in aksie!


Dis belangrik dat ons die volle werklikheid sal sien. Die volle werklikheid is nie net ons sigbare omstandighede, probleme of vyande nie, maar die onsigbare geestelike werklikheid. Die volle werklikheid sluit God in.


Pas dit toe op ons eie situasie:


~ Wat is die sigbare werklikheid? Geweld, chaos, onreg, ongelukke, siekte, hartseer, goddeloosheid, kwynende kerk, goddelose kinders, korrupte politici, arrogante wêreldleiers... Dis wat ons sien. Dit wek by ons vrees, selfs paniek, wanhoop, moedeloosheid....


~ Maar wat is die onsigbare werklikheid? In my krisis, my hartseer, my drukte moet ek met my geloofsoë raaksien :


1.God is teenwoordig. Alomteenwoordig. Hy weet van alles. Hy ken ons omstandighede. Meer nog Hy is hier by my in my situasie, al voel dit dalk nie so nie... (dink maar aan die dissipels in die storm, met Jesus wat in die boot slaap...) Paulus wy daarop uit in Romeine 8... “niks kan ons skei van die liefde van God in Christus Jesus nie...”


2.God is in beheer en Hy het ’n plan. Omdat Hy almagtig is kan niemand Hom keer nie, Hy is besig om dit uit te voer. God se plan kan nooit misluk nie, al lyk dit soms so vanuit ons beperkte perspektief. Die groot plan van God is natuurlik Jesus en sy Kruisiging en Opstanding. Dis klaar uitgevoer en nie al die magte van die hel kan dit verander nie.(Terloops, die kruisgebeure het vir die dissipels op sigbare vlak na die grootste mislukking gelyk!)


3. God is besig om sy Koninkryk te bou. God staan nie hande gevou nie. Miskien staan jy skepties hieroor en vra : Hoekom tree Hy nie nou dadelik op teen geweld en onregverdige heersers nie? Hoekom word alle siekes nie nou gesond nie? Johannes 18:36 gee hierop ‘n antwoord as Jesus sê : “My Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.” Sy Koninkryk breek eers finaal aan by sy wederkoms wat die begin van die Voleinding is.


As ons hierdie regte perspektief verander dit ons hele gemoedstemming, ons houding en ons verwagtinge. Wie die onsienlike werklikheid sien :


Vrees ons nie - want God is almagtig en by ons. En God is altyd ‘n meerderheid! Sy liefde bly ook onveranderlik. Selfs ook in lyding en DOOD! Wie God sien hoef nie te vrees nie! (2 Konings 6:16) Dit laat mens sommer dink aan die heerlike waarheid waarvan ons lees in 1 Johannes 4 :17,18. “Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.”


Glo en hoop en is nou reeds bly - want God is teenwoordig, binne ons situasie. Ons kan Hom glo, Hom vertrou en ons verlustig in Hom met die wete dat Hy by ons is.


Bid – want God wat lewend en almagtig is verhoor ons versugtinge volgens sy wil. Hy is heeltemal daartoe in staat. Niks is vir Hom onmoontlik nie. Elisa bid vir geopende oë en dit gebeur. Elisa bid vir blindheid en dit gebeur ook! (18)


Deel genade uit – want die almagtige God is juis ook ‘n genadige God. Hy is besig om mense na Hom te trek en ons moet ook genade uitdeel – selfs aan vyande! (22) Vrees gaan saam met wraak en angs, as ons van vrees bevry is kan ons vol selfbeheersing en genade optree ook teenoor andere!


Mag God ons oë open om die volle werklikheid raak te sien, die werklikheid waar God in beheer is en die hele geskiedenis lei tot ‘n heerlike voleinding. 


Wat sien jy? Dalk eerder, WIE sien jy?


Kom sing saam Lied 190, veral vers 3


U, oor alles God en Hoof,


open oë van geloof


dat ons sien, geen goed of kwaad


word aan toeval oorgelaat:


Bokant ons begrip, verstand,


hou U al wat is in stand.




[Die uitsig vanwaar ek nou vakansie hou op Swakopmund. Die "mis" van die beperkte oomblik kan soms tydelik die uitsig op die werklikheid verberg, maar dit kan dit nie verander nie...]