BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Heidelbergse Kategismus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Heidelbergse Kategismus. Wys alle plasings

Saterdag 01 Februarie 2025

MAAK DIE MAAGDELIKE GEBOORTE REGTIG SAAK?

 


In ‘n onlangse woordewisseling tussen predikante van die NGK in Namibië op ‘n Whatsapp groep het hierdie saak weer ter sprake gekom. Daarom die belangrike vraag wat elke gelowige en spesifiek ook elke bedienaar van die Woord in selfondersoek moet vra : Glo ek in die maagdelike geboorte van Jesus ons Verlosser? Moet ek glo in Jesus se geboorte uit die maagd Maria, ‘n jong meisie wat nie geslagsgemeenskap gehad het nie? Ja, beslis! Dis deel van die kern belydenis van die historiese Christelike kerk van die vroegste tye af. Dit word immers duidelik verwoord in die bekende Apostoliese Geloofsbelydenis (Twaalf Artikels)

“Ek glo in Jesus Christus sy eniggebore Seun, wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria...”

Nou waarom is hierdie ‘n ononderhandelbare deel van die Christelike belydenis?

Ons hoef nie hieroor te spekuleer nie, die Heidelbergse kategismus is glashelder oor hierdie leerstelling.

SONDAG: 14 - VRAAG EN ANTWOORD: 35

Vraag: Wat beteken: wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria?

Antwoord: Dat die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is en bly , die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het . So is Hy tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid , in alles aan sy broers gelyk, behalwe die sonde .

SONDAG: 14 - VRAAG EN ANTWOORD: 36

Vraag: Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus?

Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is, en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek.

Kortliks kom dit daarop neer dat Jesus se verwekking sonder menslike toedoen en sy geboorte uit ‘n maagd die heerlike implikasie het, dat Hy waarlik God is, maar ook waarlik mens en tog sonder sonde. So kwalifiseer Jesus op unieke wyse om ons enigste Middelaar en volkome Redder te wees!

Net baie belangrik – natuurlik is Jesus se maagdelike geboorte nie gegrond op kerklike tradisie en belydenisse nie – dis die direkte lering van die Skrif.

Kom ons kyk net weer na ‘n uittreksel uit die aangrypende gebeure in Lukas 1 en 2. (Ons vind dit natuurlik ook in die Matteus geboorte geskiedenis waar dit vanuit die Ou Testament bevestig word) Die engel Gabriël kom na die niksvermoedende jongmeisie Maria en maak die aankondiging oor die geboorte van seun van die Allerhoogste God! Natuurlik is Maria totaal onkant gevang en verstom.

Lukas 1:34,35

34. Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met 'n man het nie?”

35. Die engel het haar geantwoord:

“Die Heilige Gees sal oor jou kom

en die krag van die Allerhoogste

sal jou oorskadu.

Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees;

Hy sal Seun van God genoem word.

Die verloofde meisie Maria weet genoeg van biologie om te besef dat sy nie swanger kan wees nie. (Daar was nog destyds meer respek vir die uniekheid van die huwelik as in vandag se houvrou/saambly kultuur)  Die engel gee vir haar die antwoord en oplossing van die raaisel.

Opvallend dat die heilige Drie – eenheid hier so treffend ter sprake kom. “Heilige Gees, krag van die Allerhoogste, Seun van God”

Dis skokkend dat sekere teoloë en predikante selfs binne die NGK nie meer hierdie waarheid glo nie.  Hulle afgryslike suggestie (deur woorde of deur implisering) is dat Maria maar ‘n “stout Joodse meisie” was wat oor die tou getrap het. Dis natuurlik ‘n baie ou aanval op Jesus self.  Hierdie denkwyse binne ‘n kerkverband wat nie meer aan die Skrif getrou is nie en onbeholpe voorkom as dit kom by sake soos geslag, huwelik en seksualiteit behoort ons nie te verbaas nie. Die oorsprong van hierdie betwyfeling van God se Woord is die Satan self. Die slang wat vir Eva aan God se Woord wou laat twyfel werk hard om mense selfs binne die kerk, die maagdelike geboorte en liggaamlike opstanding van Jesus te laat bevraagteken.

As iemand die maagdelike geboorte van Jesus verwerp, verwerp hy ook die uniekheid van Jesus as Seun van God – hoe so ‘n persoon dan nog kan beweer dat hy in die histories liggaamlike opstanding sou kon glo is moeilik te verduidelik. Dan kom die hele evangelie en ons verlossing in gedrang.

Bevraagtekening van kern Christelike leerstellings moet ons verontrus en verontwaardig maak. Dit kom neer op lastering teen die Heilige Maagd. Sy is ‘n besonder begenadigde, sy speel ‘n baie belangrike rol in ons geloofslewe soos die belofte van die engel aan haar dit bevestig het. (Terloops, dis nie om dowe neute dat die antieke kerk, Maria,  die Ark van die Nuwe Verbond (kliek) genoem het nie. Dis nie uit die duim gesuig nie, maar het ‘n sterk eksegetiese basis.) Maar dit gaan nog verder, wie Maria laster, laster ook haar Seun en verwerp die verlossing wat Hy vir sondaars gebring het!

Teoloë en predikante wat die maagdelike geboorte van Jesus verwerp, behoort die eerbare weg te volg en summier te bedank uit die kerk.

Donderdag 21 Mei 2020

HEERLIKE HEMELVAART!

- ‘n kort herinnering aan die praktiese nut en betekenis daarvan vir ons. 


Kom ons herinner mekaar ‘n bietjie aan die heerlike betekenis van die hemelvaart van ons Here Jesus! Hemelvaart word dikwels maar afgeskeep in ons denke en Christelike praktyk. Ons lê baie klem op Kersfees (die mens/vleeswording van Jesus), Paasfees (Jesus se kruis en opstanding ter wille van ons) en Pinksterfees (die uitstorting van die Heilige Gees), maar vergeet soms van die praktiese troos van hemelvaart. En dis juis ‘n besondere troos in hierdie tye. Maar ook elke dag in ons pad van geloof en stryd. Hoe lyk hierdie praktiese troos? 

Met die Heilige Skrif as bron en vertrekpunt het die Heidelbergse Kategismus dit vir ons in drie hoofpunte opgesom in vraag en antwoord 49. 

Vraag 49: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons? 

Antwoord: 

TEN EERSTE DAT HY IN DIE HEMEL ONS VOORSPRAAK BY DIE VADER IS. 

Ons lees dit onder andere in 1 Johannes 2:1. “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig- ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” Dis so heerlik geliefde, juis as ek en jy as kinders van God, gesondig gestruikel, misluk het – het ons ‘n persoonlike verteenwoordiger en advokaat wat met liefde vir ons pleit en intree by die Hemelse Vader. Hy stel ons saak. En natuurlik pleit Hy vir ons op grond van sy verdienste en meriete wat Hy aan die kruis vir ons verwerf het. As jy aan Jesus behoort het jy die beste advokaat in die heelal! Dit gee ons telkens weer nuwe hoop! Dit bring ons weer en weer op ons knieë om ons Here Jesus te dank en opnuut ons lewens aan Hom toe te wy! Die waarheid van sy intersessie vir ons word bevestig in die volgende Skrifgedeeltes: 

“Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Romeine 8:34 

“Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” Hebreërs 7:25 

TEN TWEEDE DAT ONS ONS MENSLIKE NATUUR IN DIE HEMEL AS 'N BETROUBARE WAARBORG HET DAT HY, AS DIE HOOF; OOK ONS, SY LEDE, NA HOM TOE SAL NEEM. 

Ons lei iets hiervan af uit Johannes 14:2,3 waar Jesus self sê : “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” Jesus het vir ons die pad na die hemel heerlikheid oopgemaak deur sy kruis en opstanding. Hy het liggaamlik opgestaan uit die dood. Daaroor is daar geen twyfel nie – Sy dissipels kon aan Hom vat en Hy het voor hulle oë brood en vis geëet sodat hulle duidelik kon besef hulle sien nie ‘n spook nie! En belangrik, Hy het ook liggaamlik opgevaar na die hemele. Hy is dus met sy verheerlikte liggaam in die teenwoordigheid van God! Hy beloof dat Hy weer gaan kom en ons ook gaan neem na daar waar Hy is – die implikasie is verbysterend heerlik – ons gaan ook met ons nuwe opstandingsliggame as volmaakte mense in die heerlikheid by God wees. Nuutgemaakte mense in ewige heerlikheid! Dit loop hand aan hand met die asemrowende feit van die nuwe hemel en nuwe aarde! Jesus se hemelvaart waarborg dit alles vir ons! Dis rede vir feestelike vreugde juis in ‘n tyd wanneer die wêreld vasgevang is in paniek, angs, onreg en ellende! Jesus se hemelvaart onderstreep en beklemtoon vir sy mense ewige sekuriteit! Dis nie ‘n mooi droom of wens nie, maar ‘n konkrete realistiese werklikheid! Halleluja! 

TEN DERDE DAT HY SY GEES AS WAARBORG NA ONS TOE STUUR DEUR WIE SE KRAG ONS SOEK NA WAT DAAR BO IS, WAAR CHRISTUS IS EN AAN DIE REGTERHAND VAN GOD SIT, EN NIE NA WAT OP DIE AARDE IS NIE. 

In Johannes 14:16 sê Jesus : “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees,” Hy brei verder uit in Johannes 16:7. “Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak (Trooster - OAV), die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur." Parakletos die term wat hier gebruik word met ‘n baie ryk betekenis skakering – dis die persoon wat jou in ‘n hof bystaan, hetsy as advokaat, getuie of verteenwoordiger en kan nie net met een woord vertaal word nie – dit strek verder as net die wetlike aspek – dis meer as net ‘n formele koue tegniese advokaat – verskeie woorde word gebruik om die betekenis probeer weergee – trooster, raadgewer, helper... Elkeen lig net een aspek uit. Nietemin. Die Gees is die een wat BY ons is en ons BYSTAAN in ons diepste nood. 

Die koms van die Heilige Gees wat ook in die Skrif juis die Gees van Christus en die Gees van Jesus genoem word beteken dat Jesus eintlik self orals en tegelyk by al God se kinders NOU teenwoordig is! Hoor mooi kind van God – Jesus is nou BY jou, nog meer deur Sy Heilige Gees is Hy nou IN jou. Dis hoekom Jesus vir sy dissipels kon sê dat sy weggaan voordelig vir hulle (en ons) sou wees! Hy is die Gees van die waarheid. Hy leer ons als van Jesus! Hy maak die Woord se betekenis vir ons oop. Hy staan ons in ons gebede by met onuitspreeklike versugtinge. Hy lei ons in die pad van praktiese heiligmaking sodat ons gereed kan wees vir ons ewige erfenis. Die Gees werk in ons om dit wat nog verkeerd is in ons lewe af te lê en uit te roei en aan die ander kant dit wat goed en reg is by te voeg! Dinge wat pas by ons nuwe status as hemelse burgers! 

Broer en suster, word bietjie stil en dink aan die heerlike konsekwensies van Jesus se hemelvaart vir jou: 

1) Jesus tree op hierdie oomblik in vir jou en my by die Vader. 

2) Ons gaan liggaamlik soos Jesus vir ewig wees by God in heerlikheid. 

3) Die Heilige Gees is nou hier by ons om ons te troos, te leer en te lei! 

GLO JY HIERDIE HEERLIKE FEITE? 

Hierdie wonderlike waarhede moet vandag, in hierdie moeilike onsekere tye nou ‘n verskil maak! Gaan vir ‘n oomblik op jou knieë en dank Jesus dat Hy liggaamlik opgevaar het na die hemel. Wy jou lewe opnuut aan jou Heerlike Verlosser!

NS Om te luister, kliek op HEMELVAART!

Donderdag 08 Februarie 2018

SAUL SE SPIEËL

- disseksie van ‘n sluwe sondaarshart! 



Het jy al ‘n nuwe hart gekry? ‘n Rein hart? Dis allesoortreffend belangrik. Hoekom? Daar is ‘n kragtige belofte in Matteus 5:8! “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” ‘n Christen is iemand wat ‘n nuwe/rein hart gekry het! En net so iemand sal God beleef, nou en eendag. 



In Dawid se passievolle gebed van berou na sy groot sonde, pleit hy : “Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.” (Psalm 51:12) Ons probleem lê nie by ons ouers, onderwysers, regering... nie, maar in ons onrein, bose harte! 



Dis ‘n groter saak as wat ons dink. Die probleem is meer akuut as wat ons sou wou erken. Ons harte is baie meer verdorwe en boos as wat enigeen van ons dalk besef. “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9) Ons erken baie ligtelik, “ag, ons is maar almal sondaars.” Ons besef egter nie die omvang en die grusame aakligheid van die probleem nie, 



Vir vergifnis, genesing, verlossing, bevryding is belangrik dat mens jou eie hart ontdek. Dis onontbeerlik belangrik. Die Heidelbergse Kategismus leer op die voetspoor van die Romeine brief dat drie dinge noodsaaklik is as ons salig wil lewe en sterwe : Ons moet besef hoe groot ons sonde is, ons moet weet hoe om daarvan verlos te word, ons moet dankbaar wees vir die verlossing! Sonde, Verlossing, Dankbaarheid. Hoe ontdek ons die omvang en die erns van ons sonde? Die Gees wys jouself vir jou en Hy gebruik die Woord. 

Hierdie ontbloting van mens se eie hart is gewoonlik ‘n voor bekeringswerk van die Heilige Gees voordat mens na Jesus kom. Dis juis die besef van die boosheid, en die gevaar van die boosheid van jou eie hart wat jou na Jesus toe dryf. Maar ook mense wat reeds God se kinders is ervaar dat die Here opnuut en voortdurend die boosheid van jou hart aan jou openbaar, met die oog op groter afhanklikheid van Jesus en ‘n dieper werk van heiligmaking. Baie keer besef mens eers die diepte van sonde na jou aanvanklike bekering! Dis juis ook vir die kind van God nodig om selfondersoek te doen, sodat ek stywer kan vashou aan die genade van Jesus. Dus aktueel vir almal. 

Die tragiese geskiedenis van Saul is ‘n treffende voorbeeld van die sluwe subtiele boosheid van die menslike hart. 'n Handboekvoorbeeld van totale verdorwenheid! Wees gewaarsku jy gaan jouself hierin sien! En dis nie ‘n mooi prentjie nie... Kom ons blaai saam deur 1 Samuel 15:1-35. 

1 Sam 15:1-3 “Samuel het vir Saul gesê: "Dit is vir my wat die Here gestuur het om jou tot koning oor sy volk Israel te salf. Luister nou na die woorde van die Here. 
So het die Here die Almagtige gesê: Ek het nie vergeet wat Amalek Israel aangedoen het nie, hoe hy Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte getrek het. 
Gaan verslaan nou vir Amalek. Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring. Jy mag jou oor hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigling, bees en skaap, kameel en donkie." Hier vind ons die agtergrond van die skokkende gebeure hierna : Saul kry die opdrag van God om die Amelekiete totaal uit te wis.  (En terloops, ons moet nou nie hierdie opdrag van God meet aan ons humanistiese postmoderne waardesisteme van vandag nie. Amalek was God se vyand, wat God se bedoelings probeer darsboom het en daarom was hulle 'n voorwerp van God se toorn en waraak...)

Wat doen Saul toe? 

“Saul het daarna die Amalekiete verslaan van Gawila af tot waar ‘n mens kom by Sur teenoor Egipte. 
Hy het koning Agag van Amalek lewend gevang, maar die hele volk om die lewe gebring. 
Saul en die manskappe het Agag gespaar en ook die mooiste kleinvee en beeste, die vetstes, en die lammers en alles wat mooi was. Saul-hulle wou dit alles nie om die lewe bring nie. Al die vee wat swak en waardeloos was, het hulle wel van kant gemaak.” (7-9) Hy is ONGEHOORSAAM! Die kern van alles sonde. Wat gebeur nou verder? 

God word toe baie bedroef oor hierdie ongehoorsaamheid. Ook Samuel wat Saul tot koning gesalf het, was uiters ontsteld. “Toe het die woord van die Here tot Samuel gekom: "Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie. Samuel was ontsteld en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek.” (10-11) 

DISSEKSIE

Ons kry nou verdere insae in verskeie aspekte van Saul se sluwe sondaarshart: 

HOOGMOED in plaas van berou. “Die oggend het Samuel hom vroeg klaargemaak om Saul te ontmoet. Iemand het vir Samuel vertel: "Saul het by Karmel gekom en nogal vir homself ‘n gedenkteken opgerig. Daarna het hy omgedraai en is hy verby na Gilgal toe." (12) Kan jy nou meer, die ongehoorsame Saul bou 'n monument vir homself! Die arrogansie van die gevalle mens darem! Die sondaarhart is totaal ongevoelig en verblind deur ‘n grootheidswaan en eie gevoel van belangrikheid. Geestelik heeltemal blind en afgestomp. 

SAUL HET GEEN LIEFDE EN RESPEK VIR GOD NIE, GEEN LIEFDE VIR SY MEDEMENS NIE, ALLES DRAAI RONDOM HOMSELF!

Saul is LEUENAGTIG EN VALS en MISBRUIK die Here se naam. “Samuel het toe by Saul gekom, en Saul het vir hom gesê: "Mag die Here u seën! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer." (13) Onbekeerdes gebruik die mooiste Christelike frases! Die Here is so goed vir my, die Here het my geseën, die Here het vir ons wonderlike reën gegee! 

‘n Totale gebrek aan opregte BEROU. “"Hulle het dit van die Amalekiete af gebring," antwoord Saul. "Dit is die goed wat deur die manskappe gespaar is, die mooiste kleinvee en grootvee om aan die Here u God te offer. Die res het ons van kant gemaak." (14,15) Saul wil nie sy skuld erken nie, maar BLAMEER ander. Let op - “hulle”, “deur die manskappe” gespaar om te offer. So tipies...Adam! Kyk die valse vroomheid.  Dis mos vir ‘n GOEIE DOEL! – “offer” (ou verskoning!) 

TOTALE ONTKENNING en HARDKOPPIGHEID. “Saul antwoord toe vir Samuel: "Maar ek hét na die bevel van die Here geluister! Ek het gegaan om te doen waarvoor die Here my gestuur het, ek het vir koning Agag van Amalek hierheen gebring, maar die Amalekiete het ek om die lewe gebring. 
Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste gevat, die beste van dié wat van kant gemaak moes word, om aan die Here u God in Gilgal te offer." (20-21) Hy sien nog steeds nie sy eie skuld raak nie! (hier is die groot verskil met Dawid toe Natan met hom gepraat het – Kliek op SMS SWANGER) Saul is vol VROOMKLINKENDE VERSKONINGS. (“aan die Here te offer”) 

Let op – dis weer die “manskappe” se skuld. Hy WEIER OM VERANTWOORDELIKHEID vir sy eie dade te vat. Dis die verharde sondaar se houding - my dronkenskap, my egskeiding, my kwaaivriendskappe, my swak kerkbywoning... dis altyd ander mense se skuld!

Saul was so slu, glibberig en glad met die bek soos Zuma homselwers, maar hy het nie rekening gehou met 'n ware man van God nie...

SAMUEL TRAP SAUL SE TJANK AF!

Samuel is ‘n man van God en Saul se sluwe vroom praatjies beïndruk hom glad nie! 

 “Maar Samuel antwoord: "Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. 
Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp." (22-23) Skrikwekkende woorde! Wat maak ek en jy met God se Woord? 

In Saul se reaksie op Samuel se woorde vind ons nog ‘n kenmerk van die sondaarhart : MENSEVREES! “Saul sê toe vir Samuel: "Ek het gesondig, want ek het die bevel van die Here en u opdrag oortree omdat ek vir die manskappe bang was en na hulle versoek geluister het."Vergewe tog nou my sonde en kom saam met my sodat ek tot die Here kan bid." (24,25) Dis die sondaar se houding : Ek is meer gesteld op wat mense dink as wat ek respek het vir God se wense, ek is banger vir mense se opinie as vir God se Woord en opdragte! Gee meer om vir wat mense dink as vir God se bevele. 

Nou klink dit wel of Saul berou het, maar dis VALSE BEROU! “Ek het gesondig," sê Saul toe. "Eer my tog net voor die leiers van die volk en voor Israel deur saam met my te kom sodat ek die Here u God kan aanbid." (30) Hoekom is sy berou oneg? As jy bietjie dieper kyk sien jy dit gaan vir hom meer oor sy "image" voor die manskappe as oor ware berou voor God. 

Ek en jy?

Wie eerlik in die spieël van Saul kyk na jou eie hart kry slegte nuus, maar as jy nie daar stop nie en ook na Golgota kyk is daar beslis baie goeie nuus! 

Die slegte nuus is : Die boosheid en sluheid van ons harte is baie groter en meer subtiel as wat ons besef. 

Die goeie nuus is : Jesus se offer van Homself aan die kruis weeg swaarder as die ergste sonde. Jesus se sterwe was genoegsame betaling vir AL ons sonde. Die bloed van Jesus reinig ons van alle sonde, maar dan moet ons eerlik wees oor die toestand van ons harte! 

Naskrif : Saul het nooit eerlik die boosheid van sy eie hart besef nie, en uiteindelik as ‘n Godverlatene gesterf op Gilboa. Vir my en jou is daar nog kans en hoop- Kliek op Gilboa en Golgota.

Woensdag 04 Mei 2016

HI, DIS HEMELVAART!

- “En ek was nog nooit regtig opgewonde daaroor nie”



Miskien sou dit jou eerlike opinie kon wees, maar ek vertrou dat dit nou vir altyd gaan verander…

HEMELVAART - ‘N GESKIEDENIS WAT ONS DIREK RAAK

Elke mens op aarde het ‘n persoonlike geskiedenis. ‘n Lewensloop met sekere hoofmomente, sleutelgebeure soos geboorte, huwelik, dood. Jesus is God wat mens geword het en as mens het Hy ook ‘n lewensgeskiedenis van wat hier op aarde met Hom gebeur het. Sy geskiedenis is baie menslik en doodgewoon, maar ook baie uniek en besonders. Baie belangrik, want sy geskiedenis, sy lewensloop raak ons direk. Trouens, Jesus se hele aardse bestaan en handel en wandel was ter wille van ons, tot ons (sy verlostes) se voordeel, nou en ewig!

Kom ons kyk so vinnig na sy geskiedenis, maar veral ook na die hemelvaart en hoe dit ons baie persoonlik raak:

Geboorte. Jesus het ‘n gewone geboorte gehad... maar tog ook uniek. Ons bely dat Hy uit ‘n maagd gebore is en deur die Heilige Gees verwek is. Hieruit volg logies : Jesus is waarlik God, maar ook waarlik mens. Hy beklee dus ‘n unieke posisie. Hy kan identifiseer met ons as mense, ons gevoelens, ons pyne tot selfs met die dood. Maar tog is Hy almagtig God, die Een wat ons waarlik kan red en ‘n Middelaar is tussen God en mens.

Wonderwerke en magtige dade. Die lys is te veel om te noem. Dit was nie skynwonders soos wat ons by vandag se kwaksalwers sien nie...blindes het gesien, lammes het geloop, dooies het weer lewend geword! Water het in wyn verander, op water het Hy geloop... Sy wonderwerke het gewys Hy het mag oor die natuur, mag oor siekte, mag oor demone en mag oor die dood! Hy is waarlik God!

Sterwe. Dis veral Jesus se sterwe wat baie uniek en kosbaar is. Hy sterwe aan ‘n houtkruis tydens Paasfees, as ons Paaslam wat die oordeel afweer!. Sy martelaarsdood is nie net nog ‘n tragedie nie (inderdaad het aie mense al aan kruise gesterf), maar ‘n doelbewuste selfoffering ter wille van ons sonde. Hy dra die vloek oor ons sonde en sterf dus as vervloekte aan ‘n hout, sodat ons die seën kan kry.

Begrafnis. Hy gaan deur hierdie vernedering, wat bewys Hy was werklik dood, dus het Hy werklik die volle straf gedra van ons sonde. Sy dood was nie maar net ‘n skyndood, simboliek, drama of opvoering nie.

Opstanding. Jesus staan na drie dae liggaamlik op en eet brood en vis voor die oë van sy dissipels. Hulle sien Hom, vat aan Hom, praat met Hom. Die opstanding het bewys dat Jesus werklik was wie Hy gesê het Hy was. As daar nie ‘n opstanding was nie, was Jesus maar net nog een van die baie godsdienstige swendelaars. Maar Hy het opgestaan, dit wys dat God sy offer aanvaar het, dat ons sondeskuld inderdaad betaal is en dat ons ook eendag sal opstaan met verheerlikte liggame.

Hemelvaart. Ook hier het ons met ‘n werklike stuk geskiedenis te maak. Lees dit gerus in HANDELINGE 1:9-11. Let op - “terwyl hulle dit sien” - daar was dus ooggetuies! Jesus het liggaamlik opgevaar na die hemel ten aanskoue van ‘n klomp mense.

Hoe raak dit ons? Kan ons ook daaroor opgewonde raak soos oor sy geboorte, sterwe en opstanding? Watter praktiese nut en voordele hou dit vir ons in? Die Heidelbergse Kategismus Vraag 49 spel baie duidelik 3 redes uit:

1.Jesus doen vir ons voorspraak. Hy is ons persoonlike advokaat. Hy pleit vir ons. Luister na 1 Joh 2:1 – “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig -ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” en Rom 8:34 – “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Glo jy dat Jesus vir jou pleit? Wat ‘n heerlike troos! Ons vra dikwels vir mense om vir ons voorbidding te doen en dit beteken vir ons baie. Maar nou hoor ons Jesus self doen vir ons voorbidding. Kan daar iets meer vertroostend wees? Wanneer jy platgeslaan is, moedeloos is, nie eers krag het om te bid nie, wanneer geen mens daar is om jou te ondersteun of moed in te praat nie, weet daar is Iemand wat vir jou pleit by die almagtige God! (en terloops, dis nie Maria of een of ander heilige nie, dis God se eie Seun) Sal God nie na sy Geliefde Seun luister nie? Verseker sal Hy... Onthou Jesus bid vir jou, as jy magteloos siek lê, as jy in ‘n donker krisis is en nie weet wat om te bid nie, wanneer jy deur versoeking geteister word en juis ook as jy in sonde geval het... Hou vas aan hierdie feit en skep weer moed!

HEMELVAART VERSEKER ONS VAN ‘N PLEITENDE JESUS! KIND VAN GOD, HY PLEIT VIR JOU! GAAN JY DALK NOU OPGEWONDE RAAK?

2.Die feit dat Jesus as mens met sy menslike liggaam en natuur opgeneem is in die hemel is ‘n waarborg, dat Hy ons ook as mense met nuwe liggame na Hom sal neem. “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie." (Joh 14:2) Ons gaan nie swewende spoke wees nie. Ons gaan na ‘n plek wat Jesus vir ons berei het. Ons gaan nuwe liggame kry, soortgelyk aan sy verheerlikte liggaam. Liggame sonder gebreke, sonder smet of sonde! “Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” (Fil. 3:21)

3.Na die hemelvaart het Hy Sy Gees gestuur om by ons te woon en dis ‘n groot voordeel. Jesus verseker sy dissipels : “Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur." (Joh 16:7) Dis die belofte wat op Pinksterdag letterlik waar geword het. Maar dis ‘n waarheid met blywende effek – die Heilige Gees is by elke kind van God en troos ons, leer ons, lei ons, bekragtig ons! Jesus het sy belofte gehou en daarom maak die Heilige Gees ‘n werklike verskil in elke kind van God se lewe.

JESUS IS NOU BY ONS DEUR DIE GEES!

Jesus se hemelvaart is dus net soos sy geboorte, sy wonders, sy kruisdood, sy opstanding goeie nuus vir ons. Goeie nuus om waarlik oor opgewonde te raak en dankbaar voor te wees! Hierdeur waarborg Hy ons redding deur sy voortdurend voorspraak. Hy waarborg ons liggaamlike voortbestaan en ewige heerlikheid by Hom. Hy waarborg dat Hy nou deur die Heilige Gees by ons is, want die Heilige Gees word genoem die Gees van Christus en die Gees van Jesus! Hemelvaart beteken eintlik ons brood is aan beide kante gebotter – Jesus is by die troon van die Vader waar Hy vir ons pleit, maar Jesus is ook deur die Heilige Gees nou by ons!

Maandag 01 Februarie 2016

AS ONREG OF RAMPE MY TREF...

-is dit tyd om vas te hou aan die voorsienigheid van God!

As slegte goed met goeie mense gebeur, as rampe die regverdiges tref, dan word ons maklik verward, mismoedig en selfs wankelrig in die geloof. Hoe kan dit dan wees, hoekom beskerm God dan nie sy kinders nie? Kan Hy nie of wil Hy nie?

Dis hier waar ons iets moet verstaan van die voorsienigheid van God. Min mense ken nog die woord of begrip. (en dis so jammer) Maar ons voorgeslagte het hierdie saak deeglik deurdink en dit baie mooi geformuleer. Ons vind dit duidelik uitgespel in NGB artikel 13. Dit beteken nie dis ‘n waarheid of leerstuk wat mense uitgedink het nie, die saak word duidelik in die Bybel aangespreek. 

En een van die Bybelverhale waar die voorsienigheid van God op die mees dramatiese manier figureer is die verhaal van Josef. So kom laat ons die geskiedenis van Josef eers so ‘n bietjie afstof. Ons ken dit darem seker almal... 

Josef word deur sy pa Jakob voorgetrek  en dit veroorsaak 'n giftige en wraaksugtige jaloesie by sy ander broers. Om sake te vererger het Josef drome gedroom, wat geïnsinueer het dat sy eie familie eendag voor hom sou buig. Toe op ‘n dag toe hy gaan kos wegneem vir sy broers, neem hulle hulle kans waar, vang hom, gooi hom in ‘n put en verkoop hom aan handelaars wat hom toe weer in Egipte as slaaf verkoop. In Egipte beland hy in Potifar se huis, dit gaan baie goed en hy word bevorder, maar dan kom daar weer moeilikheid. Potifar se vrou probeer hom verlei en toe sy dit nie regkry nie beskuldig sy Josef valslik. Die woedende Potifar laat Josef in die tronk gooi. Sjoe, Josef bly getrou aan God se gebod, maar kyk wat gebeur met hom! Kan dit sin maak? Dit sou kon lyk asof God vir Josef vergeet het of in die steek gelaat het ('n Egiptiese tronk is nie juis 'n vyfster hotel nie!), maar te midde van al hierdie ellendes lees ons dat Here by Josef was! (Genesis 39:2,21,23) Ons ken ook die verhaal verder, hoe Josef die bakker en skinker se drome in die tronk uitgelê het. Die skinker is vrygelaat soos Josef voorspel het en het belowe dat hy Josef se saak by die farao sou stel. Maar ons weet mos wat gebeur met mense se beloftes... Die skinker vergeet van Josef en vir nog twee lange jare moes Josef in die tronk deurbring. (Twee jaar voel soos lewenslank as jy onskuldig in 'n tronk sit.) Weereens sou dit kon lyk asof nie net die skinker nie, maar God self van die arme Josef vergeet het. Maar toe droom die Farao ook en Josef word uit die tronk gehaal om dit uit te lê. Dit lei uiteindelik daartoe dat hy as onderkoning in Egipte aangestel word sodat hy toesig kon hou oor die projek om graan op te gaar. Toe die wêreldwye hongersnood kom wat Josef voorspel het, het sy eie broers daar kom koring koop en uiteindelik het Josef se vader Jakob en sy familie permanent in Egipte kom bly. Toe Jakob sterf was die broers bang dat Josef sou wraak neem oor die onreg wat hulle teen hom gepleeg het en dis toe dat Josef die wysheid en insig oor Goddelike voorsienigheid kwytraak. “Maar Josef het hulle geantwoord: "Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ‘n groot volk nou in die lewe gebly het.” (Genesis 50:19,20)

In effek sê hy : “Ja, julle het verkeerd gedoen, maar God het dit alles gebruik om sy goeie plan te volvoer!” Josef se woorde word bevestig deur Psalm 105:16,17. “Toe Hy (God) hongersnood oor die land gebring het en al hulle kos laat opraak het, het Hy iemand voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.” Kyk hoe word hierdie twee sake parallel gestel. God “stuur” Josef – hy beland nie maar sommer toevallig in Egipte nie, maar die manier hoe Hy dit doen is deur die “verkoop” van Josef as ‘n “slaaf”. 'n Slegte daad staan in diens van God!

Die waarhede oor God se voorsienigheid, met ander woorde oor sy soewereine bestuur en beheer van als wat in die skepping gebeur word duidelik gesien in hierdie geskiedenis van Josef en dit word pragtig saamgevat in die NGB Art 13*. Kom ons kyk daarna:

"Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie." God onttrek Homself nie van hierdie wêreld nie, maar beheer en bestuur alles volgens sy volmaakte wysheid. Die hongersnood is nie toevallig nie, God het daarmee sy doel gehad. Josef se koms na Egipte en als wat daar met hom gebeur het, was ook nie toevallig nie, God het daarmee ‘n doel gehad. Inderdaad is God se hand agter alles!

"Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie en Hy dra ook nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig." As ons sê dat God se hand agter als is kan mense nou maklik redeneer dat Hy ook skuldig is aan die verkeerde dinge wat gebeur. Daarom sê NGB Art 13 pertinent dat dit nie so is nie. God se voorsienigheid vat nie ons skuld of ons verantwoordelikheid weg nie. Josef se broers het sonde gedoen deur hom te verkoop (en hulle sou daaroor verantwoording moet doen), dis nie God se sonde of skuld nie, maar God is so groot dat hy ook verkeerde dinge kan gebruik om sy raadsplanne te volvoer. Selfs onreg is ‘n instrument in God se hand. Ja, dit sluit ook ons eie verkeerde keuses en foute in... dit bly ons skuld, maar God gebruik selfs ook dit om sy doelwitte te bereik!

MAAR DIT KLINK SO ONBEGRYPLIK?

"Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry." Ons kan God se voorsienigheid nie verstaan nie, ons verstand is te klein om alles uit te pluis. Die mens sou kon vra of God nie maar op ‘n ander makliker manier Jakob en sy familie in die hongersnood kon deurgedra het nie. (Of waarom nie sommer van die begin af gesorg het dat daar nie hngersnood was nie?) Ons wonder dalk hoekom moes hy so onskuldig ly? Dis waar ons moet buig voor God en sê dat ons Hom net vertrou al verstaan ons nie. Ek en jy verstaan meestal nie die slegte en hartseer dinge wat oor ons pad kom nie, maar ons kan weet God is God en Hy weet wat Hy doen. 

TROOS! NIKS IS TOEVALLIG NIE!

"Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons goeie hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop - hulle is almal getel - en ook nie een mossie op die aarde sal val nie (Mat 10:29, 30). Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwels en al ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat." Die wêreldgeskiedenis, maar ook ons eie lewensgeskiedenis is nie soos ‘n vragmotor wat sonder remme by ‘n bergpas afhardloop nie... Ons is nie aan ‘n blinde noodlot, kans, geluk of toeval uitgelewer nie. Niks kan met ons gebeur as God dit nie toelaat nie! Dis ons troos binne in ons smart. Die God wat ons liefhet en sy liefde deur Jesus aan die kruis bewys het, is in die finale beheer van sake en Hy bestuur alles tot ons uiteindelike beswil! Dit laat ons geduldig wees in teëspoed en dankbaar wees in voorspoed! Dit laat ons die toekoms met vertroue ingaan, want niks in die skepping kan roer of beweeg sonder God se wil nie!**

NIE FATALISME!

God se voorsienigheid beteken nie (soos sommige ons daarvan wil beskuldig) dat ons maar fatalisties agteroor moet sit in ellendes en net kyk wat God aan die saak gaan doen nie. Beslis werk dit nie so nie! Weereens is Josef 'n pragtige voorbeeld. In uiterste slegte omstandighede doen hy steeds sy uiterste bes en maak die beste van 'n slegte saak. As slaaf in Potifar se huis blink hy uit en kry bevordering, as hy ten onregte in die tronk beland is sy optrede weer so onberispelik dat hy as toesighouer aangestel word. Ons doen wat ons kan, ons gehoorsaam steeds God en sy gebooie en laat dan die res oor aan sy soewereine wil...wetende dat God ons nie vergeet het nie!

Kind van God, (jy wat swaarkry of verontreg voel) weet op hierdie oomblik dat soos God nie vir Josef in die tronk vergeet het nie, Hy jou ook nie vergeet het nie, maar besig is om sy doel met jou te bereik!

NIKS IS TOEVALLIG NIE! SONDER GOD SE WIL KAN GEEN SKEPSEL ROER OF BEWEEG NIE!

*Die tekste wat die NGB Art 13 vermeld is : Joh. 5:17; Heb. 1:3; Sp. 16; Ef. 1:11; Jak. 4:13,19; Job 1:21; 2 Kon. 22:20; Hand. 4:28; 2:23; 1 Sam. 2:25; Ps. 115:13; Jes. 45:7; Amos 3:6; Deut. 19:5; Spr. 21:1; Ps. 105:25; Jes. 10:9; 2 Tess. 2:11; Eseg. 14:9; Matt. 10:29; Rom. 1:28; 1 Kon. 11:23; Gen. 45:8; 50:20; 2 Sam. 16:10; Matt. 8:31; 1 Joh. 2:16; Ps. 5:5; 1 Joh. 3:8; Gen. 1:26; Kol. 1:15; 3:10.

** Die Heidelbergse Kategismus Sondag 10 praat ook heerlik vertroostend oor die voorsienigheid van God, ja dit noem selfs droogte (dit wat baie gebiede tans teister) by die naam!

Sondag 10

27 Vraag: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a) waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).

(a) Hand 17:25-28; Jer 23:23, 24; Jes 29:15, 16; Eseg 8:12. (b) Heb 1:3. (c) Jer 5:24; Hand 14:17. (d) Joh 9:3. (e) Spr 22:2. (f) Matt 10:29; Spr 16:33.

28 Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?

Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).

(a) Rom 5:3; Jak 1:3; Ps 39:10; Job 1:21, 22. (b) 1 Tess 5:18; Deut 8:10. (c) Ps 55:23; Rom 5:4. (d) Rom 8:38, 39. (e) Job 1:12; 2:6; Spr 21:1; Hand 17:2.


Geen ramp of ongeluk is toevallig nie, ook al is mense daaraan skuldig...

Vrydag 16 Oktober 2015

GOD SE LIEFDE VIR 'N HOER!

- Die oorwinnende mag van God se liefde soos beskryf deur die profeet Hosea.



‘n Hoer word gekies as bruid, die bruid word weer ‘n hoer, maar haar man gaan haal haar en vat haar terug. Eintlik meer, hy koop haar terug! Ons vind in die boek Hosea die mees dramatiese demonstrasie van die oorwinnende mag van God se liefde. Hierdie profeteboek is taamlik ingewikkeld, maar die basiese boodskap is tog baie duidelik : God in sy ruim liefde skryf sy mense nie af as hulle ontrou geword het nie, maar roep hulle terug, oorreed hulle terug en lei hulle tot bekering! God oorweldig mense met liefde! God bring hierdie boodskap nie net in woorde nie. Die profeet Hosea se persoonlike lewe moes dit op aangrypende wyse demonstreer. Hosea se optrede moes ‘n spieëlbeeld wees van God se verbysterende groot liefde ten spyte van afgryslike groot ontrouheid.



Die profeet Hosea kry opdrag om met ‘n prostituut met buite egtelike kinders te gaan trou. Wat ‘n groot skande en vernedering! Haar naam was Gomer. (Hosea 1:3) Sy het egter weer ontrou geword en weggeloop en die huwelik geskend. En nou kom die merkwaardige opdrag in 3:1. “Gaan knoop weer ‘n liefdesverhouding aan...” Dit gaan om dieselfde Gomer, al word haar naam nie genoem nie.* 


“Die Here het vir my gesê: Gaan knoop weer ‘n liefdesverhouding aan met ‘n vrou wat vir ander mans lief is en egbreuk pleeg, net soos die Israeliete vir wie Ek, die Here, lief het, ander gode aanhang en lief is vir rosyntjiekoeke.

Ek het toe vir my ‘n vrou gekry vir vyftien stukke silwer en honderd kilogram gars.

Ek het vir haar gesê: "Jy moet ‘n lang tyd tot my beskikking wees. Jy mag met niemand hoereer of trou nie, ek sal dit ook nie doen nie."

Net so sal die Israeliete ‘n lang tyd moet klaarkom sonder ‘n koning en amptenare, sonder offers en klippilare, sonder efodbeeld en afgodsbeeldjies.

Daarna sal die Israeliete hulle bekeer. Hulle sal vra na die wil van die Here hulle God, en hulle sal hulle koning Dawid aanhang. Hulle sal vol eerbied terugkom na die Here toe en na die oorvloed toe wat Hy in die toekoms sal skenk.” (Hosea 3:1-5)

Beide Gomer en Hosea se optrede dra ‘n duidelike boodskap:

  • Gomer se ondankbare ontrouheid is ‘n beeld van Israel se ontrouheid deurdat hulle ander gode gedien het. Die rosyntjiekoeke waarna verwys word, het ‘n belangrike rol in die Baäl kultus gespeel. Dit het ‘n simbool geword van die Baäl kultus, 'n sogenaamde vrugbaarheidskultus met sy soete genietinge van sondige wellus en uitspattigheid. Dis ter wille van hierdie genietinge van die Baal vrugbaarheidsgodsdiens dat die Israeliete God verlaat het. Ja, mense verlaat die gebod van God ter wille van sondegenot!
  • Hosea se vergewende liefde is ‘n aangrypende beeld van God se onmeetbare liefde vir sy afgedwaalde en rebelse kinders. Hosea moes vir Gomer gaan terugkoop teen ‘n hoë prys. Waarskynlik het haar hoerery haar in ellende en slawerny laat beland. Hosea se liefde deins vir niks terug nie! God se liefde gaan tot die uiterste toe om ons harte terug te wen vir Hom! Die boodskap vir ons as kerk van Jesus is mos baie duidelik : God het ons teen ‘n ontsagwekkende hoë prys losgekoop uit die mag van Satan, die BLOED VAN SY SEUN JESUS! Die kruisboodskap is ‘n boodskap van God se verlossende liefde, wat ons tot terugkeer en inkeer roep!

Die NG Kerk se Algemene Sinode het ongetwyfeld soos ‘n hoer opgetree deur vir goddelose humanisme en tydsgees te kies teen God se Woord. Maar moet ons nou summier sê dat God die kerk in geheel afgeskryf het? Die boodskap van Hosea is dat God mense nie sommer so vinnig afskryf nie, maar eerder probeer oorreed met sy liefde, ‘n liefde wat ons tot bekering oproep.

Ons moet nou net pasop in hierdie tyd om nie net alleenlik op die Algemene Sinode te fokus nie. Wat van ons? As gemeente, maar ook as enkelinge? Daar is gruwelike sondes in ons midde. Sondes wat ons vertroetel en voor verskonings soek. Hoeveel van ons leef rustig in hardnekkige bewuste sondes voort? Alle sondes is vir God ‘n gruwel, nie net homoseksuele dade nie! Kyk weer na 1 Kor. 6:9-11. 

“Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.
En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”

Daar is geen twyfel dat homoseksuele dade sonde is nie, maar AL die dinge in die lys is baie ernstig... en dis dinge wat algemeen onder ons voorkom! Hier in ons eie gemeente is saamblyery, gieriges, dronkaards... Ons weet dit mos! Gaan ons berou hê daaroor, of gaan ons aanhou om dit goed te praat? Ons is tereg ontsteld oor die bose besluit van die Algemene Sinode, maar is ons ook net so ontsteld oor die boosheid hier onder ons?**

God se liefde is ondenkbaar groot. God se liefde sluit natuurlik ook tugtiging in. Sy liefde maak dat Hy ons laat swaarkry! Ons kry ‘n treffende voorbeeld Hosea 2:12,13. “Ek gaan haar laat boet vir al die kere dat sy die Baäls gedien het en vir hulle geoffer het, vir al die kere dat sy haar uitgedos het met ringe en versiersels en agter haar minnaars aangeloop het en My vergeet het, sê die Here.Tog sal Ek weer begin om haar die hof te maak. Ek sal haar na die woestyn toe bring en mooi dinge vir haar sê.” 

Sy strawwe kan soms erg wees. En die leiers van sy volk word uitgesonder... "Israeliete, luister na die woord van die Here, want Hy kla die inwoners van die land aan: Omdat trou, liefde en toewyding aan die wil van God in die land ontbreek, het vervloeking, valsheid, moord, diefstal en egbreuk hand oor hand toegeneem en is die vergieting van onskuldige bloed aan die orde van die dag. Dit is waarom die land verdor en al die inwoners van dors versmag saam met die wilde diere en die voëls, en waarom selfs die visse vrek.
Niemand word ligtelik aangekla en tot verantwoording geroep nie, maar Ek gaan jóú mense aankla, Priester!
Jy gaan vandag nog tot ‘n val kom en die profeet gaan vannag nog saam met jou tot ‘n val kom en Ek gaan selfs jou moeder om die lewe bring." (4:1-5) 

God se oordele is skrikwekkend, maar sy motief bly liefde! Sy liefde roep die NG Kerk terug, ons gemeente, vir my en jou persoonlik!

Gaan ons antwoord, gaan ons ons bekeer? Mag die oorweldigende mag van God se liefde ons harte vermurwe en oorreed tot ware berou en bekering!

*Van Leeuwen, p83

** Vergelyk Heidelbergse Kategismus 

87 Vraag: Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie? Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a). (a) 1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14. 

Sondag 06 April 2014

SPONG SE ONBYBELSE SPRONG

- oor sonde en verlossing.

Die evangelie van Jesus Christus maak net sin binne die raamwerk van Sonde, Verlossing en Dankbaarheid. Dis natuurlik die kernsamevatting van die inhoud van die Heidelbergse Kategismus, een van die sogenaamde Drie Formuliere van Enigheid wat deur alle NG predikante onderteken is. Op sy beurt is hierdie inhoud weer geskoei op die inhoud van die Romeine brief, wat die omvattendste en mees sistematiese oorsig van die evangelieboodskap in die Nuwe Testament is. 

Na Paulus se inleidende opmerkings oor die inhoud van die evangelie en die triomfantelike beskrywing daarvan as die krag van God (1:1-4;16,)* gaan hy voort om die erns van God se toorn oor SONDE en die feit dat sowel Jood as nie-Jood onder die regverdige oordeel van God staan, te beskryf. In hoofstuk 3 vers 20 kom hy dan tot die volgende konklusie - “Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is.” Hierdie slegte nuus is egter ‘n noodsaaklike voorspel tot die verrassende aankondiging van God se VERLOSSING in die groot draaipunt van die Romeine brief in vers 21. “Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie...” Hierop volg dan nou ‘n diepte beskrywing van die regverdiging deur die geloof, gegrond op die soenverdienste van Jesus se offer aan die kruis. Die feit dat ons die verlossing slegs deur die geloof ontvang, onderstreep die feit dat redding alles, alles net genade is. Op grond van hierdie genade word die verloste mens dan nou opgeroep tot ‘n lewe van radikale DANKBAARHEID in die laaste deel van die brief. Paulus stel dit so : “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” (12:1,2) Die kind van God se lewe van gebed, toewyding, gehoorsaamheid en diensbaarheid val als onder die noemer van evangeliese dankbaarheid vir die genadige verlossing in Jesus Christus.

Hierdie boodskap van Paulus (en die res van die NT) loop vandag deur onder die spervuur van valse leraars wat die Skrif sowel as ons Reformatoriese belydenisskrifte wil ondermyn. Een van hierdie valse profete wat feitlik alle kernwaarhede van die Christelike geloof van alle eeue verwerp is John Shelby Spong, ‘n afgetrede Amerikaanse biskop van die Episkopaalse Kerk te Newark. Hy glo nie in die bestaan van sonde nie en gevolglik ook nie in verlossing deur die plaasvervangende sterwe van Jesus aan die kruis nie!

Oor sonde en verlossing het Spong die volgende te spoeg : "Original sin is irrelevant to the life of our world -- and anybody that keeps talking about sin and rescue and redemption doesn’t understand what’s going on.

The primary Christian myth – the way we have told the Jesus story for most of the years of our life – is based on the perfection of Creation, including human beings, and their fall from perfection. They can’t rescue themselves and need a divine rescuer; the rescuer comes, pays the price, and restores them to their status before they were fallen. That’s the way our hymns talk and that’s where we developed what I call our fetish with the blood of Jesus and his cleansing power. Protestants like to bathe in it. Catholics like to drink it. It’s interesting the way we’ve made that fetish work.

But when you look at Darwinian principles, there never was a perfect creation, so [there] could not have been a fall. You don’t need to be rescued from a fall that never happened (not even metaphorically) and you can’t be restored to a status you never possessed.

We’ve got to get out of what I call the rescue/savior/redeemer mentality and begin to see life not as fallen, but incomplete. And then you develop a Christology that helps people to become more whole, more complete, more human, more authentic -- and that’s where I think we can make a difference in the world today."

Dit klink soms of hierdie valse Christus met sy humanistiese ideale selfs ook van kansels in ons eie land verkondig word!?

Dit het seker tyd geword dat elkeen wat die Here Jesus liefhet duidelik moet standpunt inneem teen sulke geloofsvernietigende dwalings... Wie die bestaan van sonde bevraagteken, het ook nie meer Jesus as Verlosser nodig nie en glo bloot in Jesus as ‘n moreel goeie Jood van die eerste eeu. Dit behels ‘n ontkenning van Jesus as die unieke Seun van God en kom neer op lastering van die ergste graad, ‘n vertrapping van sy bloed...

*Romeine 1:1-4 “Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God. Hierdie evangelie het Hy vooruit deur sy profete in die Heilige Skrif aangekondig, en dit handel oor sy Seun. As mens is Hy uit die geslag van Dawid gebore; op grond van sy opstanding uit die dood is Hy deur die Heilige Gees aangewys as die Seun van God wat met mag beklee is, Jesus Christus ons Here.”

Romeine 1:16 “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.”

Vrydag 07 Maart 2014

DIE KRISIS VAN ‘N KRAGTELOSE KERK

- ons Meester gee die oplossing.


Die kerk het baie planne en projekte, maar mens kry die indruk dat ons dikwels magteloos is om diegene te help wat vasgevang is in sonde, verslawing en wanhoop. Het Jesus dalk sy krag verloor? Is die evangelie se rakleeftyd verstreke? Of lê die probleem dalk iewers anders?

Woensdag 27 Maart 2013

LINA LOS DIE KERK

- watter lesse moet ons hieruit leer? 



Die bekende digter Lina Spies het onlangs in Rapport vertel van haar bedanking uit die NG Kerk. En natuurlik sal die onheilspers nooit ‘n geleentheid laat verbygaan om ‘n sappige (al is dit bitter sap) verhaal te publiseer wat die evangelie probeer diskrediteer nie. 



Lina kla oor baie dinge, maar wat is die essensie van haar ontnugtering? Sy het in opstand gekom teen die leer van sonde, verlossing en dankbaarheid. Lina skryf : “Kerkgangers sing ook lustig die huidige Lied 238: “God, enkel lig, voor u gesig/ is niks op aarde rein nie./ Ons is bevlek, met skuld bedek – kan nie voor u verskyn nie.” Die gevolg van so ’n allesoorheersende sondebesef deur jare lange kerklike indoktrinasie is ’n na binnegekeerde selfhaat wat tot uitdrukking kom in woede teenoor andersdenkendes in jou eie geloof en ander gelowe.” Hier is die kruks van die saak : Lina hou nie daarvan as die kerk haar vertel (en dit in sang verwoord) dat sy ‘n sondaar is nie. Sy beskryf dit as kerklike indoktrinasie, maar liewe Lina vergeet dat die lering dat die mens ‘n gruwelike en verlore sondaar voor die aangesig van die heilige God is, nie sy ontstaan by die NGK of enige ander denominasie het nie. Dis die duidelike lering van die Skrif : 


Daar staan immers geskrywe: "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. 
Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. 
Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. 
Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. 
Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter. 
Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, ontsag vir God het hulle nie." Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is. (Romeine 3:10-20) 



Die verdorwe mens haat dit om te hoor hy/sy is ‘n sondaar. Dis die kernrede vir verset teen die Bybel se boodskap. 


Omdat Lina klaarblyklik verseg om voor hierdie Bybelse waarheid te buig, is dit dan eintlik vanselfsprekend dat sy geen proefondervindelike belewenis van verlossing en dankbaarheid kan smaak nie. Wie die diepte en erns van die sondeval en sy gevolge ignoreer, beleef ook nie die heerlike hoogte van die verlossing deur Jesus nie! En kan derhalwe ook nie saamjuig in dankbaarheid nie! Dis slegs as ek platgeslaan word deur die slegte nuus van die mens se verdorwenheid, dat die heerlike genadenuus van vryspraak my weer ophef as ek dit gelowig aanvaar. Daarom gaan Paulus voort :


Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. (Romeine 3:23,24) 



Dis eers as die mens die vreugde van hierdie vergifnis ervaar het, dat hy hier en nou voluit tot God se eer kan lewe, as ‘n verloste in ‘n stukkende wêreld. Dit verstaan Lina blykbaar nie. En ja, beslis sien die verlostes wat nog elke dag die pyn van eie sonde en ‘n gebroke en bose samelewing moet trotseer, uit na die finale verlossing en verheerliking, ook van die liggaam. Dis ook onteenseglik deel van die Bybelse boodskap, dat daar ‘n beter toekoms wag. (beter selfs as Stellenbosch...) Hierdie hoop is nie ‘n lugkasteel nie, maar is gebou op die werklikheid van Jesus se liggaamlik historiese opstanding uit die dood, wat ons in hierdie dae met blydskap kan vier. 

Lina, uit wat jy skryf kan ek nie anders as om af te lei dat jy hoegenaamd nie die evangelie begryp nie. Jy reageer op die Woordfeesdebakel rondom Jean Oosthuizen en skryf van Jesus wat nie bang was om met Nikodemus en die Samaritaanse vrou debat te voer nie. Weet jy wat het Jesus vir Nikodemus gesê? Hy het die noodsaaklikheid van die wedergeboorte onder sy aandag gebring. Waaroor het Jesus met die Samaritaanse vrou gepraat? Hy het haar sondige lewensstyl (saamblyery) ontmasker en vir haar die lewende water aangebied. Dis tog heel iets anders as die Woordfeesdebatvoerders en hulle ondersteuners wat ons wil oortuig dat die Bybel nie waar is nie! Ai, Lina wees bietjie meer skepties oor die filosofie en gaan kinderlik na die Woord van God en mag God gee, dat jy die LIG sal leer ken!    
Beleef Sy vergifnis en liefde, en dan sing jy opreg saam met ons uit die LIEDBOEK (waaraan jy ook gewerk het) van die verlossing van sonde wat lei tot 'n nuwe lewe, nou maar ook eendag!

WAT MOET DIE KERK LEER UIT LINA SE VERHAAL? 

Mag die kerk besef, dat die afskaffing van tug, kompromie met sonde en die gelekkery van teologies liberales geen voordele vir die gemeente van Jesus Christus inhou nie. Hulle word net daardeur aangemoedig om al verder van die waarheid af te wyk en as hulle iewers opgehou pamperlang word, hardloop hulle graag na die media en deel as “gemarginaliseerdes” hulle hartseer verhaal van ontnugtering. 

Die kerk moet duideliker die boodskap van Jesus verkondig. Jesus roep alle mense, inderdaad ook saamblyers en onsedelikes, homoseksuele... fariseërs..., ja, alle soorte sondaars (soos ek ook), maar Hy roep mense tot bekering (Markus 1:14,15) en nie tot selfgeruste stagnasie en versuiping in die vullisbad van sonde nie. 


Die kerk kan gerus weer die Heidelbergse Kategismus afstof en terugkeer na die kernwaarhede van sonde, verlossing en dankbaarheid. Ons moet duideliker oor sonde en die skrikwekkende gevolge daarvan praat, dan sal mense hulle behoefte aan ‘n volmaakte Verlosser besef en hulle tot Hom bekeer. Maar juis ook dan en net dan kan daar ware dankbaarheidsvreugde en blymoedige aanbidding in die kerk wees.

Vrydag 27 April 2012

SPEEL VIR DIE SKARE?


- Leef jy voor die mense of leef jy voor die aangesig van God? 

So maklik kan ons ‘n tipe godsdiens bedryf wat gefokus is op mense. Soos sommige rugbyspelers, wat net speel waar die skare dit kan sien en hulle erkenning kan kry, maar daar onder in die losgemaal waar niemand kan sien nie, beteken hulle niks.

In Matteus 6:5,6 praat Jesus oor die belangrikheid van binnekamergebed. Dis 'n uiting van ‘n intieme lewe voor die aangesig van God :

“Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot joun Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” (6)

Die onmiddellike konteks van vers 5,6 is  die waarskuwing teen ‘n vertoonkas godsdiens. Dis vrugteloos en lei tot geen Goddelike beloning nie. (6:1) Dis ‘n godsdiens wat gedurig vra : Wat sal die mense sê of dink? Terloops, ek kan myself toets of ek hieraan skuldig is. Sal ek anders optree en leef as ek sê nou maar alleen in Parys, Frankryk gaan vakansie hou, as wat ek hier in my tuisdorp sal optree waar almal my sien en beooordeel? Iemand wat bewustelik voor die aangesig van God leef, sal orals dieselfde wees en konsekwent heilig leef.

Ware Christenskap, egte geloofsvertroue bring my in kontak met die Hemelse Vader en laat my rekening hou met Hom! Dit vind prakties neerslag in ‘n egte persoonlike gebedsverhouding.

(Natuurlik is daar mense wat hierdie teks graag misbruik as ‘n verskoning om nie bidure by te woon nie. “Ons wil nie skynheiliges wees nie” sê hulle. Jesus verbied nie bidure saam met gelowiges nie. Jesus verbied ‘n skyngodsdiens., ‘n godsdiens wat net op menslike applous ingestel is.)

Twee belangrike opmerkings rondom binnekamergebed:

BINNEKAMERGEBED IS ‘N BAROMETER VIR ONS WERKLIKE VERHOUDING MET GOD

Wat bedoel Jesus as Hy van gebed in die binnekamer praat? Bedoel Hy ons mag net in ons kamers bid en net as die deur gesluit is? Nee natuurlik nie! ‘n Binnekamer kan ‘n verskeidenheid van plekke wees. Jesus se binnekamer was dikwels bo op ‘n berg. In Handelinge 10 lees ons hoe Petrus op die dak gebid het. Binnekamergebed, is daar waar ek alleen en (veral) opreg met God besig is. Dis waar ek met my Hemelse Vader in kontak kom en Hom van harte aanbid en my nood eerlik voor Hom uitstort. Dit gaan nie oor ‘n ritueel of oor ‘n rympie nie, maar oor ‘n egte ontmoeting  met die Lewende God. Die doel van ware godsdiens, die doel van ons redding is om God te ken! Onthou die doel van ons verlossing is nie maar net om te keer dat ons hel toe gaan nie. Nee, dit gaan oor baie meer! God red ons om ons na Homself te bring. Hy wil in ons midde woon. Hy wil werklik ons God en Vader wees! (Vergelyk Eksodus 19:4-6 waar God die doel uitspel waarom Hy Israel uit Egipte verlos het.) Gebed tot God is die vernaamste deel van ons dankbaarheid as verlostes volgens die Heidelbergse Kategismus.*  Dis die belangrikste manier hoe ons God dank vir die verlossing wat ons ontvang het en daarom ook ‘n daadwerklike  bewys dat ons waarlik ontvangers van sy genade is. (Dis ook die weg waarlangs Hy ons gedurig met sy genade voed en die volheid van sy Heilige Gees aan ons skenk.)

Nou kan ons verstaan hoekom opregte persoonlike gebed die barometer van die werklike stand van ons verhouding is met God. As daar iets skort met ons verhouding met die Here wys dit heel eerste in ons persoonlike gebedslewe. As ons wegdwaal van ons Vader word ons gebedslewe eerste aangetas : Dit word ‘n dor ritueel of ‘n vervelige plig. Dit word afgeskeep en  vinnig afgerammel om my gewete te sus. Gaandeweg verdwyn dit heeltemal uit ons lewens.

Afgedwaaldes met koue harte kan vir lank nog die skyn van godsdiens instand hou. Ons kan nog kerk toe kom, Sondagskool gee, besig wees met baie aksies, maar ons kan nie meer kontak maak met die Vader in ons binnekamers nie.

Hoe lyk my gebedslewe op hierdie oomblik?

Wat keer mense om in ‘n binnekamerverhouding met God te staan? Die mees algemene rede : Hulle het nog nooit Jesus ontmoet en as Verlosser aanvaar nie! Ons kan nie werklik kontak maak met God as ons nie Jesus as Middelaar persoonlik ken nie. Ons eie verdienste en prestasies kan nie vir ons onheilige sondaars die pad na die heilige God oopmaak nie. Jesus se kruisdood het die pad oopgemaak (die voorhangsel is geskeur). Ek kan net op grond van Sy verdienste, sy genoegsame offer met God praat en Hom, “Vader” noem. 

Maar ook kinders van God wat Jesus ken se binnekamerlewe kan begin kwyn. Redes : Ons raak te besig, ons raak koud en koel teenoor die Here, ons verwyt God vir iets sleg wat met ons gebeur het, daar is ander dinge wat geleidelik die Here se plek in ons lewens inneem, ons begin een of ander sonde vertroetel... Of ons is vasgevang in kwaaivriendskap en onvergewensgesindheid en dan begin ons teen “die dak vasbid”. As ons in sulke sonde volhard, bedroef ons die Heilige Gees. (Efesiërs 4:30) en ons is juis mos afhanklik van die hulp van die Heilige Gees  as ons bid. (Romeine 8:26,27) Dis 'n hartseer toestand, maar God wil graag hierdie kontakverhouding herstel. Hy wag ons in soos die Vader vir die Verlore Seun uitgekyk het!

BINNEKAMERGEBED BRING ‘N VADERBELONING

Jesus koppel ‘n heerlike belofte aan binnekamergebed. “Jou Vader sal jou beloon.” (6) Wat behels hierdie beloning? Wat wil God vir ons gee? Die beloning word nie hier presies omskryf nie. Ons kan dit dus ook nie beperk nie. Wat wel duidelik is, dit is ‘n Vaderbeloning! God word spesifiek “Vader” genoem in hierdie konteks. Dit het heerlike implikasies. Die term Vader beklemtoon God se  liefde en sorg vir ons. (Psalm 103:13) ‘n Vader weet wat sy kinders nodig het en wil net die beste vir hulle. (Matteus 6:8,31,32) Ons kan dus gerus wees, want ons Vader weet nie net wat ons nodig het nie, maar ook wanneer. Dit raak al ons geestelike en tydelike behoeftes. Die Onse Vader gebed wat Jesus net hierna leer vir sy dissipels wys dat ons mag bid vir als wat ons nodig het terwyl ons oppad is na die Koninkryk en ons beywer vir die Koninkryk : daaglikse versorging, vergifnis en beskerming teen die bose. Ons raak so dikwels onnodig paniekerig, ons skarrel rond om allerhande planne te maak, ons hardloop eerste na mense, ons wend ons tot krag en geweld om dinge te probeer verander...alles omdat ons hierdie heerlike belofte vergeet! 

Hou vas aan hierdie belofte van Jesus en bid gelowig met ‘n verwagting tot jou Vader! (Hebreërs 11:6) 

Kom ons leef biddend voor ons Vader se aangesig. Hy wil ons graag beloon!

* Heidelbergse Kategismus Sondag 45 116
Vraag : Waarom is gebed vir Christene nodig?
Antwoord : Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis. En omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.