BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Prosperity Gospel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Prosperity Gospel. Wys alle plasings

Saterdag 28 Augustus 2021

FELIKS RAAK BANG!





Wat het vir Feliks bang gemaak? 






Paulus se evangelieverkondiging het hierdie ou vreesbevange gemaak! Reg gehoor! Nou wonder ek, maak evangelisasie vandag nog mense bang…?

Hoe word daar deesdae evangelisasie gedoen? Miskien het jy al gehoor: "Is jy eensaam, alleen, sukkel jy met 'n swak selfbeeld..? Moenie worry nie, Jesus het ‘n groot plan vir jou lewe… Bid ‘n gebedjie agter my aan. Vra Jesus om in jou hart te kom." Verder... "en dan gaan jy en geniet jouself en leef soos jy wil. En dan doen jy sommer lekker sonde, adverteer dit op Facebook en almal sê geluk! En weet van nou af gaan jy baie gelukkig wees, altyd gesond wees en sommer gou ryk word! Jy vlieg nou besigheidsklas… alles gaan net lekker wees!"  Is dit hoe evangelisasie volgens die Skrif gedoen moet word? Is dit hoe die apostels soos byv. Paulus die verlossingsboodskap gebring het? Kom ons kyk…


Paulus het geen geleentheid laat verbygaan om met mense oor Jesus te praat nie. Hy is nie skaam vir die evangelie nie. (Romeine 1:16). 



Nie alle mense het die evangelie van Jesus egter met blydskap aanvaar nie. Die evangelie wat Paulus verkondig het was vir party dwaasheid, vir ander aanstootlik, en party soos Feliks het bang geword. 

Kom ons kyk na Handelinge 24:24-27

In die voorafgaande gedeelte kry ons Paulus in die hof. Gevang in Jerusalem. Hy verskyn voor goewerneur Feliks.. Die verhoor word onderbreek. (22)

Na ’n paar dae hervat hy die verhoor (24) - ook sy Joodse vrou Drusilla is nou by. Paulus praat met Feliks en Drusilla oor die geloof in Jesus Christus. Nie oppervlakkige gesprek nie. (25) Dit het ingesluit dat Paulus met hulle gepraat het o.a. oor spesifiek drie temas wat hier genoem word:

Geregtigheid (OAV en Grieks) Geregtigheid maw die standaard wat God eis! (1983 Vertaling omskryf dit as gehoorsaamheid aan God), selfbeheersing, en die komende oordeel. Dis drie temas wat nie losgemaak kan word van die boodskap oor Jesus nie. U sien die boodskap van Jesus se vergifnis en genade kom nie in ’n lugleegte na ons nie.

As ons die boodskap van die Bybel ernstig opneem kan ons nie stilstaan by sentimentele goedvoelboodskappies nie. Paulus het die volle waarheid en die harde realiteit aan Feliks oorgedra. U sien dis so belangrik -. Ons moet aandag gee aan die volle boodskap wat die Woord leer. Ons moet luister na dit wat God as belangrik beskou : Geregtigheid, Selfbeheersing, Oordeel. Die doel daarvan is om ons tot ons sinne te bring en tot bekering te lei. So baie mense beskou hulself as kinders van God, maar hulle het nog nooit tot bekering gekom nie! Geregtigheid, Selfbeheersing, Oordeel! Hierdie drie temas skep’n probleem vir die sondaar. Inderdaad maak dit ons ongemaklik. Hoekom?

~ Die sondaar voldoen nie aan God se eis vir geregtigheid nie. Ons is oortreders van God se wet. Ons is ongehoorsaam aan God se wil. Dit maak dat daar vyandskap tussen ons en God is. Baie prakties - God haat die sonde wat ons doen en Hy gaan dit straf. Dit het Feliks bang gemaak.

~ Die sondaar het ’n probleem met selfbeheersing.
   Efesiërs 2:3 gee ’n realistiese beskrywing hiervan. 

 Die ongeredde wil doen net waartoe sy luste hom lei. God straf hierdie bandelose optrede. Weereens, dit het Feliks bang gemaak.















~ Die komende oordeel is ongetwyfeld ’n skrikwekkende vooruitsig vir elke rebel. Hoekom? Elke mens moet verantwoording gaan doen aan God wie se oë alles gesien het. Voor God is alles oop en bloot! Baie mense kom op aarde weg met baie dinge..... hulle word nooit uitgevang nie, hulle bedrog en geld en mag en slimmmighede laat hulle altyd vry kom. Maar daar is een finale rotsvaste toets wat niemand kan systap nie - God se oordeel. Die dag wanneer die mensdom voor die groot wit troon sal verskyn en daar van elkeen rekenskap geeis sal word... klein en groot, ryk en arm... (Openbaring 20:11,12) Feliks moes hierdie feite aanhoor en hy het bang geword. Dit het vir hom onuithoudbaar geword om langer daarna te luister en hy het uitgeroep : “Dit is nou genoeg!” (25)

Ja, dis duidelik dat God se eis vir geregtigheid, God se eis tot selfbeheersing en die feit van die naderende oordeel ’n dilemma is vir elke sondaar. Dit hou ’n bedreiging in vir elkeen van ons.

Die feit is dis slegs Jesus Christus wat die sondaar uit hierdie dilemma kan verlos. Slegs Jesus kan hierdie bedreiging afweer. Dis ook net as hierdie drie sake vir my ‘n skrikwekkende realiteit word dat die evangelie van die genade van God vir my sin maak en ek dit met dankbaarheid omhels! Jesus, sy vergifnis is die antwoord op die sondaar se dilemma. Feliks kry kans om na Jesus te draai! Hy kry geleentheid vir bekering. En nou laat Feliks hierdie unieke geleentheid deur sy vingers glip. 


Dis die groot tragedie - Feliks raak bang en draai sy rug op die enigste Een wat hom kan verlos.





Hoekom tree Feliks so dwaas op? Vers 26 gee ons die leidraad. Hy hoop Paulus gee hom omkoopgeld. Hier kom ons by Felix se wortelprobleem uit. Hy raak wel bang as hy van die oordeel hoor, maar sy groot fokus in die lewe is op die hier en nou. Geld is sy God. Materialisme is sy godsdiens. (Terloops, ek dink Feliks sou die prosperity gospel met ope arms aanvaar het!)Terwyl Paulus oor skrikwekkende ewige werlikhede praat is sy gedagtes besig met planne om nog ryker te word. Min gode is so sterk soos die geldgod! Hoe afgryslik dwaas! Wat baat jou geld jou as jy voor God se groot wit troon moet staan? God kan nie omgekoop word nie. Wat van ons? Word jy afgestoot deur die ware evangelie? Klink die evangelie vir jou te ernstig? Word jy bang as die waarhede van die Woord onverdund verkondig word? Die probleem is nie by die evangelie nie, maar by jou verdorwe hart wat verknog is aan eie belang. 


Die waarhede van God se Woord - die eis van geregtigheid en selfbeheersing en die feit van die komende oordeel het Feliks ontstel en kopsku gemaak vir evangelie. Hy het weggeskram van die hierdie waarhede en die geleentheid misgeloop om redding en die ewige lewe te kry. (Soos ‘n halstarrige donkie- weier hy om te beweeg, vasgevang in gierigheid…) Moenie dieselfde fout maak nie.

Luister en kyk op YouTube. Kliek op FELIKS

Vrydag 24 Januarie 2020

SELFBEHEPTHEID EN SELFLIEFDE

- die groot leuen van die valse profete 



“Jy moet glo in jouself! Jy moet jouself liefhê! ‘Like’ jouself! Wees net positief - Jy is geregtig op die mooiste vrou, die duurste kar; jy verdien die beste werk en ‘n luukse leefstyl… Jy vlieg mos besigheidsklas”* Dis die boodskap wat aan onkundige mense opgedis word, dis die lering waarvan die gierige massas hou en waarvoor die opgesweepte skares hande klap. Dis die boodskap van die valse profete. 



Dis teen hierdie mense, hulle invloed en lering waarteen die apostel Paulus vir die jong man, Timoteus waarsku in 2 Timoteus 3:1-9. As Paulus die groot verdorwenheid – die afval, verval en boosheid van die laaste swaar tye beskryf dan begin hy by – “Die mense sal selfsugtig wees.” (NAB) Letterlik in die Grieks staan daar - “filautoi" - "liefhebbers van hulleself.”(OAV)* As mens kyk na die laaste sin van die paragraaf wat die valse Christene en valse leraars se gedrag beskryf dan sien mens ‘n duidelike kontras. “Eerder liefhebbers van genot as liefhebbers van God!” (OAV) Dis die klimaks kontras tussen liefhebbers van hulleself (filautoi) en liefhebbers van God (filotheoi) Jy sien dis eintlik die twee kontrasterende en opponerende opsies – liefde vir die self of liefde vir God! Al hierdie ander bose eienskappe gaan saam met hierdie selfliefde en selfbeheptheid… as ek myself eerste stel dan word ek geldgierig (liefde vir geld), dan lei dit tot grootpratery (spoggery en “brag”)…ens. Selfgesentreerdheid en selfbeheptheid is die groeibodem van alle ander sonde en skande! Waarom steel en lieg mense, waarom bly mense ongetroud saam en leef losbandig, waarom skinder ons, waarom word ek dronk en gee nie om hoe dit ander mense rondom my raak nie...?



Selfbeheptheid is kunsmis vir alle soorte sonde! 

UITERLIK GODSDIENSTIGES – BLY WEG! 

Maar dan kom Paulus seker by die heel skokkendste uitspraak in hierdie gedeelte. “Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.” (5) Hierdie mense lyk en klink godsdienstig. Hierdie selfliefhebbers is deel van die kerk. Hierdie godsdienstige narsiste beweeg onder die vaandel van Christenskap! Hulle ken die Bybel en hulle gebruik die Naam van Jesus! Party bou selfs luukse megakerke! 

Hulle lyk baie vroom. Die gedaante, die vorm van godsaligheid! Hulle praat saam en sing saam, hulle stuur Christelike whatsapps, hulle ken al die Christelike woordeskat… Maar hulle kort iets – die krag van die godsdiens. Hoe so? Die krag van ware godsdiens lê juis daarin dat dit oorwinning oor selfsug, selfgesentreerdheid, selfbeheptheid en sonde bring! Die krag van ware godsdiens word juis gesien daarin dat mense hulleself opoffer om God en hulle naaste lief te hê. (Ook hulle onbeheersde drange opoffer) Die praktiese raad van Paulus aan Timoteus i.v.m. sulke mense is kort en kragtig : BLY WEG! 

Moenie eers gaan kyk nie, moenie eers gaan luister nie! Spaar jouself baie skade en skande! 

MISLEIDING VAN ONSTABIELE MENSE 

Saam met die vals profete se oënskynlike godsdienstigheid gaan hulle ywer om ander te mislei. Dis hoekom hulle so gevaarlik is. Dis hoekom mens van hulle moet wegbly! Mense wat hierdie selfliefde boodskap verkondig, beïnvloed baie ander rondom hulle. Hulle neem ander mense gevange met hulle slim en oorredende stories. Mens sien dit! Paulus noem hier ‘n praktiese voorbeeld uit sy tyd. Dit lyk asof hierdie valse profete van huis tot huis gegaan het en onstandvastige en naïewe, liggelowige vroue maklik met hulle valse stories mislei het. Hulle boodskap het aanklank gevind by hierdie vroue se sondige begeertes. Die valse profete kry sulke mense maklik in hulle mag. Dis vandag nog hulle taktiek… hulle maak jag op onstabiele en onkundige mense wat nie sterk staan in die Woord nie en nie sterk Woordgebaseerde oortuigings het nie. As voorbeeld van valse profete noem Paulus vir Jannes en Jambres. Dié name kom nie in die Ou Testament self voor nie, maar was volgens die Joodse tradisie twee towenaars aan die hofhouding van Farao. Die Joodse Targum (kommentaar) voeg hulle name in by Eksodus 7:11. “Die farao roep toe ook sy manne bymekaar wat dié soort ding ken, sy goëlaars. Dié Egiptiese towenaars doen toe met hulle towerkunste presies dieselfde: soos elkeen sy kierie neergooi, verander dit in ‘n groot slang. Maar toe sluk Aäron s’n hulle s’n in! (Eksodus 7:11,12) Ons ken mos die geskiedenis- Hierdie towenaars kon God se wonders tot op ‘n punt naboots. (Hulle kieries het ook slange geword!) Dit het gelyk asof hulle Goddelike mag het! Maar hulle was teen God. Hierdie vervalsers het Moses se boodskap teengestaan net soos die valse apostels die boodskap van Paulus en die apostels teengestaan het. 

Die selfliefde evangelievervalsers gaan uitgevang word! 

Gelukkig sal die vals profete nie ver kom nie. Die towenaars van Egipte kon ook net tot op ‘n punt bybly en die plae en die wonders van God naboots. Kort voor lank moes hulle die onderspit delf. Die valse leraars se dwalinge word uiteindelik ontmasker. Hulle sal noodwendig iewers ontbloot word en almal sal besef dat hulle net geestelike swendelaars en kwaksalwers was. 

WEES GEWAARSKU! 

Pasop vir enige lering en filosofie wat die klem op die mens en sy behoeftes en sy begeertes, sy plesier en sy prestasies plaas! (Al gebruik hulle stringe Bybeltekste om hulle punte probeer staaf) Die valse evangelie (soos byv. Prosperity Gospel/Voorspoedevangelie) lê gedurig klem op die self – my drome, my suksesse, my finansies, my gesondheid, my seksuele vervulling… Die mens wat nie weergebore is nie, vind natuurlik aanklank by hierdie selfgesentreerde boodskap – van nature wil alle mense mos ryk en gerieflik lewe, almal smag na mag en plesier... Slegs deur die wedergeboorte bewerk deur die Gees word ‘n nuwe stel waardes in ons harte gevestig. Eers dan word God en sy eer ons eerste prioriteit! Net dan kan ons ons naaste waarlik liefhê! 

Die boodskap van Jesus het reëlreguit ingedruis teenoor dié van die welvaartsleraars. “Verloën jouself!” Dis wat die Nuwe Testament ons leer. “Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” (Matteus 16:24) 

Ons moet egter nie net pasop vir die valse leraars en hulle boodskap nie. Ons moet onsself positief bewapen en versterk teen die valse leringe van ons dag. Ons moet ‘n lewe van volharding leef wat gebou is op die waarheid van die Woord! (Sien 2 Timoteus 3:10-4:5) Ons moet kies teen selfgesentreerdheid en selfbelang en vir God se Woord en God se wil! 

*Dis letterlik die strekking van wat At Boshoff van die CRC leer! 

**“people will be lovers of themselves” (NIV), “Die Menschen werden viel von sich halten” (Duits) maw “die mense sal baie van hulleself dink”


Ons dank die Here vir milde reën in Januarie!

Sondag 14 Julie 2019

EK BENODIG ‘N WONDERWERK...


[‘n Perspektief op wonderwerke vanuit Jesus se lydensgeskiedenis] 


“Ek benodig nou dringend ‘n wonderwerk…” Hoe dikwels het hierdie gedagte al by mens opgekom! So graag begeer ons ‘n mediese, finansiële of ander tipe wonder om net dinge ‘n bietjie makliker te maak of van ‘n ernstige krisis ontslae te raak. 

Jesus KAN wonderwerke doen! Hy het en Hy kan nog steeds. Jesus het sonder twyfel aangrypende en merkwaardige wonderwerke gedoen… Blindes kon weer sien, dowes kon weer hoor, lammes kon weer loop! Selfs dooies word opgewek! Lasarus was al vier dae in die graf... Geen natuurwet was (en is) vir Jesus onoorkomentlik nie! Hy maak wyn van water, loop op die see, maak ‘n storm stil… En tog hier ( in Lukas hoofstuk 22 en 23) tydens sy verhoor en kruisiging op Golgota lyk dit asof Jesus self ‘n wonderwerk nodig het. Dringend nodig het (om sy lewe te red!) en Hy doen niks, net mooi niks! Of dalk doen Hy juis iets? Hier is baie geleenthede vir wonderwerke en dit lyk asof Hy als net so laat verbygaan… 

Kom blaai saam : 

22:63,64 “Hulle het Hom geblinddoek en gesê: "Jy is mos ‘n profeet! Sê wie het jou geslaan!" En nog baie ander godslasterlike dinge het hulle Hom toegesnou.” Jesus word uitgelok om te profeteer wie Hom geslaan het. Hy kon dit natuurlik maklik doen. Jesus is mos alwetend! Dink aan Natanael (onder die vyeboom), Saggeus (bo in die vyeboom)... Die evangelies vertel dikwels hoe Jesus geweet het wat in harte van sy dissipels en sy vyande aangaan… 

23:8,9 “Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al ‘n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen. Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie”. 

Die goddelose Herodes begeer ‘n wonderwerk. Bid jou aan! Sy motiewe is natuurlik alles behalwe suiwer. Jesus laat Homself egter nie misbruik nie! Jesus doen nie wonderwerke om ongelowiges te vermaak of skeptici te oortuig nie! 

23:33-39 “Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: "Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is." 

Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied en gesê: "As jy die koning van die Jode is, red jouself." 

Daar was ook ‘n opskrif bokant Hom: "Dit is die koning van die Jode." 

Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: "Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!" 

Hier word die druk op Jesus om ‘n wonderwerk te doen baie groot- die leiers van die volk, die soldate en selfs een van die kwaaddoeners, ‘n medegekruisigde! Jesus word uitgedaag om Sy identiteit as Messias te bewys! Jesus kon so maklik van die kruis afkom, maar Hy doen dit nie, want Hy het Homself onderwerp aan die wil van sy Vader! (Dink aan sy gebedsoorgawe aan God se wil in Getsemane.) Sy Vader se wil kom eerste. Bo sy gerief, bo sy belange, bo sy eie reputasie! Jesus weier om toe te gee aan die versoeking om wonderwerke te doen om Homself te red of belangrik te maak. Net soos Hy geweier het om vir Homself brood in die woestyn uit klippe te maak toe die Satan Hom versoek het. Hy kon dit doen, maar dit sou beteken dat Hy die plan van Sy Vader sou verlaat. Dié plan was die pad van lyding, die kruisweg! 

Jesus kies nooit die kortpad van ‘n kitswonderwerk nie, maar die lang pad van gehoorsaamheid aan die plan van Sy Vader! 

Maar Jesus doen wel wonderwerke tot eer van sy Vader. En ons gaan dit nou sien... Die redding van ‘n veroordeelde misdadiger! 

23:40-43 “Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: "Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! 
In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie." 
Verder sê hy: "Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom." 
Jesus antwoord hom: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees." 

Hoe heerlik! REDDING van sonde, Satan, dood en hel! Dis die wonderwerk waarsonder ons nie kan nie. Gelukkig, dis juis die wonder wat Jesus graag, vryelik aan sondaars skenk uit genade! Deur persoonlike geloof in Hom. Stel jou die toneel voor. Hierdie man met waarskynlik weinig kennis en sy laaste bietjie asem en kwynende liggaamskrag, roep Jesus se Naam aan!... ‘n Vuil sondaar op sy laaste, roep desperaat na Jesus en hy word genadiglik verhoor! Dis die wonder wat Hy ook vir jou wil doen. Vandag! Roep Hom aan soos hierdie man! Vertrou Hom. Moenie omgee wat ander spot of sê nie! Stel jou hoop op die GEKRUISIGDE! 

En kort hierna gebeur daar ‘n teken met ‘n groter betekenis as al die genesings en wonders wat Jesus tot dusver gedoen het! (23:45) Die voorhangsel skeur – sondaars het vrye toegang tot God! Jesus se offer maak die pad na God oop! 

Die grootste magsdaad van God :

GOLGOTA EN DIE LEË GRAF

Die kruis en die opstanding drie dae hierna is die fokuspunt van God se wonderdade. Dis parallel met die eksodusgebeure. Dis die eksodus van die Nuwe Verbond.* God wat Homself so swak maak in Jesus deur as mens aan ‘n skandpaal te sterf. Die Almagtige Skepper wat toelaat dat sy klein skepseltjies Hom doodmartel aan ‘n stuk hout! God bewerk ‘n aangrypende wonder juis deur die lyding van sy Seun. Dis moontlik alleenlik omdat Jesus God se wil bo die tydelike voordeel of gerief van ‘n wonderwerk gestel het! Vir ewig sal ons Jesus dankbaar wees omdat Hy nie geswig het vir die versoekings van selfgesentreerde wonders nie, maar gehoorsaam die lydensbeker gedrink het wat Sy Vader vir Hom geskink het! 

TER OPSOMMING 

Pasop vir hierdie obsessie met wonderwerke wat daar tans heers. Om ‘n wonderwerk te begeer is geen noodwendige aanduiding van vroomheid of ‘n ware soeke na God nie! (Onthou maar net weer Herodes.) Terloops, daarom is die Prosperity Gospel so gewild. Alle mense soek immers die gerief wat mediese en finansiële wonders kan meebring! 

God kan inderdaad enige wonderwerk doen. Die belangrikste wat Hy doen is om sondaar harte te verander, van vyande van God tot aanbidders van God! En dis die wonder wat elke sondaar die nodigste het. Dis moontlik omdat die pad na God oopgemaak is deur Jesus, juis omdat Hy nie vir Homself gerief en veiligheid gesoek het deur ‘n wonderwerk nie, maar die wil van die Vader eerste gestel het. 

God se wil is ALTYD belangriker as wonderwerke! 

En net vinnig. Wat is God se wil dan vir jou en my? 

Twee sake staan sentraal. 

Johannes 6:28,29 “Hulle vra Hom toe: "Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?" En Jesus antwoord hulle: "Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het." 

Persoonlike geloofsvertroue in Jesus! Dis wat God nou van jou vra as sondaar. Dis prioriteit en nie een of ander wonder om jou lewe gemakliker te maak nie! 

1 Tessalonisense 4:3 “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.”  HEILIGHEID! Dis wat God se plan vir jou is as jy reeds sy kind is. Sy passie vir jou is om heiliger te word, meer soos Jesus en nie enigiets anders nie! 

Kry ‘n passie vir God se wil en ja op hierdie pad sal jy inderdaad wonders beleef!


*Trouens in Lukas 9:31 gebruik Lukas die woord exodoV (eksodus/uitgang) as verwysing na die kruisiging.



[So ietsie persoonlik. Ek het bostaande gepreek nou die afgelope Sondag in Owamboland in Verre Noord gemeente. Ek het Saterdag die 13de verjaar daarbo. Dit het my weer ver laat terugdink. Een en vyftig jaar gelede het ek my vyfde verjaarsdag ook daar in Wamboland gevier. Ek onthou nog my twee plastiek diere wat ek as persent gekry het. Dit was 'n ander Wamboland as vandag... tweespoorpaadjies, bosse en sand. Weinig winkels en lewensmiddele. Ma het vir ons vetkoek gebak. By die vriendelike Owambo's het ons hoenders en eiers gekry.  Dit was nog voor die vyandelikhede volskaals begin het. Ons het met die Landrover en karavaan rondbeweeg van plek tot plek. By een plek was die kinders nie juis witmense gewoond nie en het onder die tent se seile vir ons geloer... Ek het daar 'n klein knopkierietjie persent gekry wat ek vandag nog het. Hier is ek en my suster Maria.]

Sondag 06 Januarie 2019

PROFIEL VAN ‘N GESEËNDE

- Is jy seker dat jy ‘n geseënde is? 


Ons wens mekaar graag ‘n geseënde of voorspoedige nuwe jaar toe. Wat beteken dit? Vir ‘n kind van God beteken dit Goddelike seën. Goddelike seën is om die goedheid en guns van God te ervaar. Maar wat impliseer dit nou prakties vir ons in die alledaagse lewe van swoeg en sweet? Dis alles belangrike vrae... En baie persoonlik, is jy 'n geseënde, of wonder jy? Voel jy dat jy dalk eers 'n bankstaat moet trek of die uitslag van 'n onlangse mediese toets moet nagaan...? (Terloops, ek vermoed daar is sommige wat dink hulle is geseënd, maar nie is nie, en ander wat nie geseënd voel nie weens een of ander rede, maar inderdaad wel geseënd is!) 

Wie is geseënd en wie is nie? Hier is dit baie belangrik om die verskil tussen die ou en nuwe bedelings te verstaan. Die tyd voor en na Christus. Wie hierdie onderskeid en konteks nie ernstig opneem nie gaan in diep slaggate en dwalings val. Dis onder andere die dwaling van die Prosperity Gospel. (Wat trouens geen gospel is nie!) Hierdie mense maak oorvereenvoudigde en direkte afleidings sonder om die heilshistoriese konteks in ag te neem. Daar word so maklik gesê – “Abraham was geseënd en die Here het hom ryk gemaak” – so as die Here jou seën gaan jy ryk word. Nog ‘n prominente Skrif wat mens baie hoor is Deut 28:1-14. Veral vers 13. “En die HERE sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van die HERE jou God wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen,” (Deut 28:13) Die implikasie, so word gesê is dat dit met God se kinders baie goed sal gaan op liggaamlike en finansiële gebied. Jy moet Hom net gehoorsaam – veral om tiendes te gee sal die Amerikaanse TV evangeliste beklemtoon! Jy sal dan in als eerste wees – die kop en nie die stert nie! Jy gaan eerste in die ry staan as geluk en goud uitgedeel word... Is dit regtig so? 

Kom ons kyk eerlik na die Bybelse gegewens. Ongetwyfeld is daar in die ou bedeling ‘n sterk klem op sigbare materiële seëninge! Dit staan beslis voorop in ‘n gedeelte soos Deuteronomium 28. (Natuurlik is daar wel voorbeelde in die Ou Testament van God se gunsgenote wat baie swaar gekry het... Dink maar aan die arme Jeremia of die boodskap van die boek, Job!) Oor die algemeen vind ons egter die gedagte in die ou bedeling dat dit goed sal gaan met God se gehoorsame mense. Veral met die verbondsvolk as geheel in terme van 'n lang en gelukkige lewe in die land wat God hulle gegee het. Gelukkig onder jou vyeboom en wingerd!

Maar dit bring mens by ‘n hele klomp moeilike vrae as ons by die Nuwe Testament kom. Was Paulus dan ‘n geseënde – hy vertel van honger en naaktheid en ‘n doring in die vlees? Wat van die ontvangers van die Hebreër brief wat juis hulle besittings verloor het weens hulle geloof? (Hebreërs 10:34) Wat van al die martelare deur al die eeue, wat nie net hulle goed nie, maar ook hulle lewens verloor het weens hulle Christenskap? Wat van Jesus self? Hy het nie eers eiendom besit nie en sy lewe was vol lyding en smart? Was Hy geseënd?

GEESTELIKE SEËNINGE 

Kom ons kyk wat sê Paulus oor geseënd wees in Efesiërs 1:3-14. Ons begin as vertrekpunt by vers 3. Die OAV praat van “geestelike seëninge.” Ook die DVL vertaal dit so. “Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus. Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel.” 

As ons na hierdie gedeelte kyk en in die Nuwe Testament as geheel sien ons ‘n duidelike klemverskuiwing. In die konteks van die Nuwe Verbond is die fokus inderdaad op geestelike seëninge. Jesus beloof nêrens aan sy volgelinge ongekwalifiseerde rykdom en gerief nie, juis die teendeel. “Neem julle kruis op en volg my.” Juis, “Kies teen jouself en jou belange!” 

Beteken dit nou dat God in die nuwe bedeling glad nie meer omgee vir ons gewone bestaan as mense nie? Natuurlik nie. Jesus leer ons ongetwyfeld dat ons kan bid vir daaglikse brood, dus daaglikse versorging, maar dis nie waar die klem val nie. 

Die beste as ons wil weet wat Paulus hier met seëninge bedoel is natuurlik om in die konteks self te kyk. Hy brei uit op wat hierdie geestelike seëninge behels. Kom ons kyk na ‘n paar aspekte. Ons kry hier as’t ware ‘n profiel van ‘n geseënde! (Maak oop jou Bybel en kyk saam in Efesiërs 1) 

‘n Geseënde het genadige en onverdiende seën ontvang. God het ons daartoe uitverkies voor die wêreld geskep is. (4) Ons kan dus geen bydrae lewer tot hierdie seën of daarvoor kwalifiseer nie. Ons kan dit nie met tiendes “koop” nie! Dis sy besluit, sy voorneme. (9,11) Dis inderdaad net genade. (5) ‘n Geseënde is dus ‘n begenadigde uitverkorene volgens God se besluit. Alle uitverkorenes is geseëndes! Alle geseëndes deur God is uitverkore! 

‘n Geseënde het spesifiek die geskenk van vergifnis en verlossing ontvang. Kan daar beter nuus wees vir 'n sondaar wat skuldig staan voor God? (7) Die doel is sodat ons onberispelik en heilig voor Hom kan wees. (4) LW – dis ‘n duidelike geestelike doelwit. Nie aardse gerief en gemak nie, maar hemelse gereedheid! 

‘n Geseënde het die Heilige Gees ontvang as waarborg van kindskap en erfgenaam wees. (13,14) n Geseënde is dus ‘n kind en ‘n erfgenaam van God en dit sê ALLES! Met ander woorde God is jou Vader en jy erf als by Hom! Vir ewig kan jy niks kortkom nie! Hiervan oortuig die Heilige Gees wat nou in jou woon jou – Hyself is immers die klimaks van God se seëninge! Watter groter seëning sou daar kon wees as die Gees van die Lewende God wat in my as swakke mens woon? 

‘n Geseënde is elkeen wat IN Christus is. Dis die kernwaarheid. (kyk weer na vers 3) Hier word die lyn getrek, hier kom die verskil. In Christus is jy geseënd en ontvang jy al God se guns. 

Buite Christus is jy nie geseënd nie en bly jy ‘n voorwerp van Goddelike toorn! 

Kyk ook weer na vers 13! Hierdie waarheid is so duidelik ook in Galasiërs 3:13-14. “Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: "Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is."Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het.” Jesus het ons straf gedra. Die vloek wat die oortreding van die wet oor ons gebring het is uitgewis. In Jesus is ek dus nie meer ‘n skuldige vervloekte nie, maar ‘n geseënde. Ek kry nou deel aan die seën wat reeds aan Abraham beloof is. Aan Abraham is drie dinge beloof : ‘n land, ‘n nageslag, en dat die Verlosser van alle nasies uit hom sou voortkom. As ek aan Jesus behoort, IN Christus is – erf ek die ewige Kanaän, ek is deel van God se uitverkore volk, die Verlosser is nou ook my Verlosser! Dit is alles dinge wat verby hierdie huidige sigbare werklikheid strek...

Pasop! Selfs ook ons wat nie aanhangers van die Welvaartsevangelie is nie, trap in die slagyster om God se seëninge primêr aan materiële en sigbare welvaart te koppel! 

Die groot punt is : 

As jy in Jesus is, is jy ‘n geseënde, ‘n uitverkore begunstige!

Aan die anderkant... As jy los van Jesus is, staan jy onder die vloek en toorn van God al is jy blakend gesond en besit jy die helfte van Clifton en Kampsbaai...al het jy die mooiste persoonlikheid en vriendelikste geaardheid! Jy is sonder hoop en sonder uitsig, nou en vir ewig! 

Is jy ‘n geseënde? Dis nie ‘n onsekere saak of moeilike vraag om te antwoord nie. 

As jy aan Jesus Christus behoort en die Gees in jou woon is jy ‘n geseënde ongeag jou omstandighede. Jy is ‘n geseënde te midde en ten spyte van daardie siekte, swaarkry of smart wat jou op die oomblik teister! Hierdie wete maak dat ons 2019 met positiewe verwagting en vertroue kan ingaan. 

ONTHOU OM DIE HERE TE PRYS! Dis immers waartoe Paulus ons wil oproep in Efesiërs hoofstuk 1.

Geseënd wees gaan oor baie meer as net 'n paar lekker dinge wat God ons gee om te geniet. Dit gaan oor ons nuwe status IN Christus!


Donderdag 22 November 2018

DIT RAAK JOU KINDERS!

- HIERDIE IS ’N KEUSE WAT JOU NAGESLAG BESLISSEND BEÏNVLOED.



Baie van die keuses wat ons maak gaan vir altyd ook ‘n invloed hê op ons kinders se welsyn en toekoms... Dink nou maar aan die netelige kwessie van emigrasie. Moet ek bly of moet ek ry ter wille van ‘n beter (?) toekoms vir my kinders? 

Hier in Deuteronomium 30:15-20 word ’n uitdaging aan die volk Israel gerig om ’n keuse te maak. Opmerklik en veelseggend is dat die keuse nie net hulleself sal raak nie, maar ook hulle nageslag sal beïnvloed. “Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.” (19b!) 

Die belangrikheid om ‘n keuse te maak. 

Dis baie duidelik dat die volk Israel hier voor ‘n beslissing gestel word. Julle moet nou kies! Dikwels skram mense weg van hierdie verantwoordelikheid. Ander is baie gou by met die beskuldiging en skeldnaam METODISME as daar van ‘n keuse of eis tot bekering gepraat word! Daar is dikwels die verskoning, “Ag wat die Here het my paadjie uitgelê, wat sal gebeur sal gebeur.” Dis ’n verdraaiing van Bybelse waarhede om so te redeneer. Ja, natuurlik het God die inisiatief geneem. Hy het die verbond met Abram gesluit en beloftes gemaak. Dis alles sy genade! Ons kry hier weereens ’n duidelike verwysing daarna. “Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ‘n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee." (20) Dis inderdaad God wat toe Hy aan sy verbond gedink het, besluit het om hulle uit Egipte te verlos en na die beloofde land te lei. Maar nou moet hulle kies. Hulle is verbondsmense aan wie die heerlike beloftes behoort, maar hulle moet nou self KIES! Dis noodsaaklik, want alle verbondsmense (of as jy wil, kerkmense!) het nie noodwendig die lewe nie! JY moet kies, JY moet besluit! Hierdie uitdaging kom weer en weer ook tot ons. Jesus self het aan die verbondsvolk hierdie uitdaging gerig, reg aan die begin van sy bediening- “Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:14,15!) Het jy al duidelik gereageer? 

Die inhoud van die keuse. 

Waaroor het die keuse gegaan. Kies die LEWE! Wat is hierdie lewe? Hierdie keuse is ’n keuse om God lief te hê en sy gebooie te gehoorsaam. Dies lewe in God se teenwoordigheid. “As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem.” (16) Om God lief te hê is om sy gebooie, sy voorskrifte, sy bepalings te gehoorsaam! Dis ’n keuse vir gehoorsaamheid aan die wet van Moses as geheel. Die tora. 

Die tora het die pad aangedui. Die koers waarvolgens die mens moes loop. 
Die tora was die waarheid. Die duidelike suiwer waarheid te midde van al die valsheid en afgodery. 
Die tora was lewe teenoor dood. Godellike lewe in sy teenwoordigheid en onder sy seën!

Wat is die keuse waarvoor ons staan? Ons moet Jesus kies! Om Hom te glo en te gehoorsaam. 
Jesus self is nou die weg, die waarheid en die lewe! (Johannes 14:6) 

Dit wat die tora was in die konteks van die Ou Verbond, is Jesus self nou in die Nuwe Verbond. 

Jesus in Homself is die vervulling van die hele tora, die hele wet van Moses. Ons word uitgedaag nie net om ’n boek se voorskrifte na te volg nie, maar om ’n Lewende Persoon te volg! Om persoonlik my hele vertroue op Hom te plaas. 

Die langtermyngevolge van die keuse. 

Die gevolg van die regte keuse vir God en sy wet, sou ’n lang lewe wees in die beloofde land Kanaän. ’n Letterlik voorspoedige lewe in die land Kanaän. In die Nuwe Verbond gaan dit nou nie meer oor ’n letterlike Kanaän en aardse voorspoed nie. (Terloops, dis hier waar baie misverstande kom wat tot die Prosperity Gospel dwaling aanleiding gee. Mense maak so maklike die aardse beloftes van die Ou Verbond naatloos van toepassing op die Nuwe Verbond. Dit kan nie. Jesus die Middelaar van die Nuwe Verbond het nooit materiële voorspoed beloof aan sy volgelinge nie, maar wel ‘n ewige beloning hierna!) Ons wat die keuse doen om in Jesus te glo en Hom te gehoorsaam kry iets beter as Kanaän – die ewige lewe nou reeds en finaal in die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die ewige stad waarvan God self die Bouer is! EWIGE LEWE is om God en Jesus te ken en by Hom te wees! (Johannes 17:3) 

Die opvallende gedeelte van hierdie belofte in vers 19 is – “Jy en jou NAGESLAG” Die keuse raak nie net jouself nie, maar ook jou kinders! Nou is die groot vraag : Geld dit ook vir die Nuwe Verbond? Raak dit my kinders as ek tot bekering en geloof in Jesus kom? En die antwoord is ’n heerlike en besliste JA! Ons kry ’n treffende voorbeeld daarvan in Handelinge 16. Die bekering van die tronkbewaarder van Filippi. Lees gerus weer Handelinge 16:29-34. Let op na die antwoord wat die tronkbewaarder ontvang as hy vra wat hy moet doen om gered te word! "Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin." (31) Hierdie is ‘n belofte wat ons nie ligtelik moet opneem nie! 

Die punt is dit : 

Ouers se keuse speel ’n geweldige groot rol in die lotsgevalle en eindbestemming van hulle kinders. 

Beteken dit dat kinders van gelowige ouers outomaties gered word? Outomaties wedergebore is? Nee! Hulle moet self ook kies wanneer hulle die ouderdom van bevatlikheid en verantwoordelikheid bereik. En inderdaad gebeur die onbegryplik tragiese – sommige maak nooit die regte keuse nie en gaan vir ewig verlore! Die onbegryplike negatiewe wat kan gebeur mag egter nie veroorsaak dat ons die heerlike positiewe belofte hier verswak of ignoreer nie! 

Nou wat is die voordele dan vir kinders wie se ouers die Here Jesus ken en dien? 

-Hulle leef in die dampkring en die invloedsfeer van God se genadeverbond. God is hulle beskermer van kleins af. “U is my hulp van my geboorte af, reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm. U loof ek gedurigdeur.” (Psalm 73:6!) 

-God gebruik die Christen ouerhuis as die kanaal waardeur sy genade en beloftes ook na hulle kom. Hulle het ouers wat vir hulle bid en intree by God se genadetroon. Ons kan die Here herinner aan sy beloftes! Hierdie kinders hoor die Woord van kindsbeen af. Wat ‘n voorreg! “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus." (2 Timoteus 3:14,15) Ons kan positief vertrou dat die saad van die Woord wat natgemaak word deur die gebede van gelowige ouers uiteindelik sal vrugdra! 

-Kinders van gelowige ouers kry van kleins af die voorbeeld van geloof en van liefde vir die Here en liefde vir sy kerk! Ja, baie van hulle rebelleer, maar daar is baie getuienisse van verlore seuns en dogters wat na ‘n tydperk tussen die varke weer terugkeer... Ons as gelowige ouers kan die pad maar gelowig en hoopvol dophou... 

Oor wat jy as ouer oor emigrasie besluit, wil ek nie veel kommentaar lewer nie. Wat ek wel wil onderstreep is die Bybelse opdrag : Kies die lewe en jy en jou kinders sal lewe. Kies Jesus en jy en jou kinders lewe!

Naskrif : As jy dalk vanuit Bybelse vertrekpunte wil saamdink oor emigrasie, kliek op BLY OF GLY?



Donderdag 16 Februarie 2017

KEUSE TEEN DIE PALEISLEWE!

- Geloof kies teen gerief en sonde, maar vir die beloftes van God!


Dis maklik om te sê : “Ja.” Dis maklik om te sê : “Ek glo.” Maar om geloof op die regte manier te bely vra meer as net woorde, dis ‘n voortdurende keuse en lewenslange toewyding. Om geloof te bely is ‘n nuwe leefstyl wat mens dikwels in die moeilikheid bring. Om geloof te bely is om ‘n daaglikse pad saam met die Here loop. 

Ons het ‘n groep mense wat openlik gaan bely dat hulle in Jesus glo. Dis ‘n baie groot geleentheid. Dis ook ‘n goeie tyd om te vra : “Hoe raak geloof my lewe op ‘n praktiese vlak?” Baie misverstande oor geloof – geloof help jou om nie siek te word nie, geloof maak dat jy meer reën kry, geloof maak jou besigheid voorspoedig... NEE! Kom ons kyk wat sê die Bybel. As ons oor geloof wonder is Hebreërs 11 natuurlik ‘n baie geskikte hoofstuk om te raadpleeg, want hier kry ons ‘n beskrywing van geloof in aksie. Geloof word vir ons op ‘n baie praktiese manier uitgebeeld soos dit gelyk het in die lewens van die geloofsreuse van die ou Testament. Ons lees hoe geloof gefunksioneer het in die lewens van Abel, Henog, Noag, Abraham... Hierdie geloofshelde het nie oor geloof gefilosofeer nie, hulle het geloof in God en sy beloftes prakties geleef. Een van die besondere geloofshelde was Moses. Kom ons kyk watter praktiese effek het geloof in sy lewe gehad na aanleiding van Hebreërs 11:24-28 :

~ Geloof bring Moses by radikale keuses. “Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê." (24,25) Ons ken mos die geskiedenis van Moses – die baba in die mandjie, die Egiptiese prinses... sy bevoorregte grootwordjare in die paleis. Dit het beteken dat Moses die gerieflike lewe van ‘n Egiptiese prins kon geniet. Al die rykdom, plesier en voorregte van die Egiptiese paleis was syne... Maar op ‘n stadium moes Moses kies : die gerieflike paleislewe of ‘n lewe saam met God se volk. Dit moes ‘n baie moeilike besluit gewees het. ‘n Mens kan jou indink hoe sy vriende of dalk selfs sy “prinsesma” by hom gepleit het. “Dink mooi Moses, besef jy wat gaan jy verloor as jy die paleis verlaat en jou by die verdrukte Israelitiese slawe gaan voeg ? Dan kan jy maar koebaai sê vir al die skatte van Egipte, die beskerming van die Farao, die plesier van die hoflewe, die mooi Egiptiese meisies...moenie dom wees nie, Moses. Onthou die Israeliete is slawe, saam met hulle gaan jy net swaarkry.” Maar omdat Moses God se beloftes geglo het, het hy ‘n keuse gemaak om die lewe van ‘n prins in Farao se paleis vaarwel te roep. Hy kies teen die tydelike verbygaande genot van sonde, hy kies vir ‘n lewe van swaarkry. Geloof in God en sy Woord bring jou by ‘n keuse teen sonde, want jy besef dat die plesier van sonde van korte duur is, maar die vreugde wat God gee vir ewig duur! 

GELOOF VEREIS ‘N KEUSE VIR EN KEUSE TEEN!

~ Geloof laat Moses ‘n nuwe waardasie maak. “Die smaad ter wille van die Christus het hy ‘n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het.” (26) Moses moes kies tussen rykdom en Christus. (Ja, Jesus Christus het natuurlik toe nog nie aarde toe gekom nie, maar ‘n keuse vir God se beloftes was mos ‘n keuse vir Christus!) Let mooi op - Hier in Hebreërs 11 kry die “Prosperity Gospel” ‘n uitklophou. Geloof in God en in Jesus wat sou kom, het nie vir Moses rykdom gebring nie, inteendeel dit het hom juis rykdom laat verloor. Moses kon baie ryk gewees het as hy soet en stil in Farao se paleis gebly het. Hy sou ook ‘n invloedryke persoon met mag en voorregte gewees het. Maar nee, hy gehoorsaam God se opdrag om die volk uit te lei en verloor al sy kanse vir rykdom en prestige. Hoe het hy dit reggekry? Hy het uitgesien na God se beloning! Geloof laat ons die onsigbare sien. (11:1) Dit maak dat ons meer waarde heg aan Christus en die ewige lewe wat Hy vir ons bring, as aan tydelike aardse ambisies, plesiere en rykdom. Geloof heg meer waarde aan God se beloftes as aan ons pelle se opinie! Geloof sien dit wat ander mense rondom jou nie sien nie. Geestelike realiteite weeg meer as sigbares! Ander mense dink, Jesus is maar vaal en vervelig. Maar die een wat glo, besef dat om Jesus te ken oortref alles in waarde. (Vgl. Filippense 3:8) Die ongelowiges kyk vas teen die plesier en rykdom van die wêreld. Die gelowige word gefassineer deur die heerlikheid van Jesus en die beloning wat Hy bring! Glo jy? Hoe kosbaar is Jesus vir jou? 

GELOOF LAAT JOU ANDERS KYK NA LEWE!

~Geloof bevry Moses van vrees en laat hom volhard. “Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien.” (27) God roep Moses basies om in opstand te kom teen die heidense koning en die volk uit te lei. Dis ‘n baie gevaarlike opdrag en kon enige tyd sy lewe gekos het. Deur geloof het Moses God gesien. Omdat Moses geglo het, was God en sy beloftes vir hom ‘n groter werklikheid as Farao en sy dreigemente. As ek regtig God se beloftes glo, dan volhard ek op die pad van heiligmaking al word ek gespot, uitgestoot of gedreig. Geloof bevry mens van mensevrees en menslike opinies sodat ek volhardend die Here kan gehoorsaam. Dit beteken dat as my vriende se sienings bots met God se Woord, dan kies ek eerder om God te gehoorsaam as om gewild of in te wees! Dis baie duidelik of iemand glo; die gelowige begin God se opdragte implementeer en sy wil eerste te stel. 

GELOOF BEHELS VOLHARDING

~Geloof bring Moses by ‘n vaste vertroue in God se beloftes. “Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie.” (28) God het besluit om die eersgeborenes in Egipte uit te delg. Hy gee toe die opdrag deur Moses dat al die Israeliete ‘n lam moet slag en die bloed aan die deurkosyne moet smeer... So sou hulle lewens gespaar word in daardie nag van verskrikking. Dit het menslike gesproke nie na ‘n baie logiese plan geklink nie. Hoe sou ‘n bietjie bloed aan ‘n deur die doodsengel kon weghou? Moses het God egter geglo en die opdrag laat uitvoer. Geloof bring ons by ‘n persoonlike vertroue op God se verlossingsplan in Jesus. Geloof laat my sien dat Jesus se eenmalige offer aan die kruis genoeg is en my vir altyd teen die Goddelike wraak op sonde beskerm. 

GELOOF IS 'N VASTE VERTROUE IN GOD SE BELOFTES

Geloof is nie bloot ‘n korrekte napraat van sekere feite nie, maar ‘n keuse vir ‘n nuwe leefstyl en lewensbeskouing. Geloof bring nie gerief en gemak nie, maar maak ons getroue volgelinge van Jesus in die harde werklikheid van die alledaagse lewe, sodat ons eendag die beloofde beloning kan verkry!

Dinsdag 10 September 2013

DEMOON DOEDIES

- sien ons hier dalk die dogters van Skeva?

Die BBC berig : Brynne Larson and Tess and Savannah Scherkenback are all-American girls from Arizona, who enjoy martial arts and horse riding. But something sets them apart from most teenagers - they perform public exorcisms and often appear on TV chat shows.





(foto BBC)

Kyk, net as jy dink dat jy al als gehoor en gesien het wat geestelike innovering, kommersialisering en misleiding betref, dan is daar weer iets nuuts...

Saterdag 06 Julie 2013

VAN DOOPVONT NA VERDOEMENIS

- daar is ‘n pad wat reg lyk maar in die verderf eindig.

Dis baie belangrik om die regte pad te kies. Dis net die regte pad wat na die regte plek lei. Die verkeerde pad bring mens by die verkeerde bestemming en dit kan groot moeilikheid veroorsaak.

Dis waar oor die algemeen, maar veral wat ons ewige bestemming betref, is dit nog meer waar en meer belangrik. Daar is net twee plekke waar mens die ewigheid gaan deur bring – ‘n ewige heerlikheid of ‘n ewige hel.  Vir altyd met God of vir altyd weg van sy aangesig. Ewige vreugde  of ewige smart. Beide is finale bestemmings – daar is geen omdraaikans nie. Daarom is dit so belangrik om reg te kies, om seker te maak.

Dis nie altyd so eenvoudig nie, want Spreuke 14:12 waarsku ons dat daar ‘n pad is wat vir die mens reg lyk, maar die einde daarvan is die DOOD.

“Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”  (OAV)
“Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood.” (NAV)

Daar is baie paaie wat vir die mens reg lyk of reg voel, maar dit lei nie na die lewe nie... Kom ons bekyk ‘n paar paaie wat vir mense reg lyk, maar wat by ewige smart eindig:

1. DIE PAD VAN SONDE. 

Dis ‘n baie lekker en maklike pad. Afdraend! Sonde is nie moeilik om te doen nie, dit kom sommer vanself. Dis die natuurlike weg, want ons word op hierdie verkeerde koers gebore. Jy hoef dus nie iets besonders boos aan te vang om op hierdie glypad na elllende te beland nie, gaan net normaalweg aan. Weet egter : Die gevolg van sonde en ongehoorsaamheid aan God is die dood, die ewige dood. (Romene 6:23)

2. DIE PAD VAN SELFGERUSTHEID. 


Dis ‘n pad wat reg voel. Dis ‘n roete sonder bekommernis. So baie mense troos hulle daaraan : ek voel goed, ek voel soos ‘n Christen, ek voel wat ek doen is reg... maar helaas, dis ‘n valse sekerheid, dis gebou op die sand van selfbedrog.  Hoekom? Jeremia 17:9 gee die antwoord. “die hart van die mens is bedrieglik bo alle dinge” Dis ‘n groot risiko om staat te maak op ons gevoelens of gemoedstemmings. Jy kan mos onbewus op ‘n verkeerde trein wees, sonder enige bekommernis, maar dit verander niks aan die feit dat jy by ‘n verkeerde bestemming gaan aankom nie. Dit gebeur mos dat ‘n student baie goed kan voel oor ‘n eksamen wat afgelê is, maar dan is die uitslag ‘n aaklige verrassing!

3. DIE PAD VAN DIE MEERDERHEID. 


Dis die verwarde logika wat redeneer : Ek dink ek is op die regte pad, want ek maak maar net soos almal maak. Ek is nie juis beter of slegter as die gemiddelde mens nie. Almal vloek maar, almal steel maar so ‘n bietjie, almal knyp maar die kat in die donker... Dis uiters gevaarlik om so te redeneer. Jesus het juis geleer dat die pad van die meerderheid die pad na die verderf is. Die meeste mense is op die verkeerde pad! Die pad na die lewe is smal en daar is min wat daarop loop! (Matteus 7:14,15) Die verkeerde pad is die maklike pad en daarom is die meeste mense daarop, die regte pad is maar moeilik en daar is min wat dit volg!

4. DIE PAD VAN VOORSPOED. 


Hulle wat hierop wandel troos hulleself : Kyk hoe goed gaan dit met my besigheid of boerdery. Kyk hoe help die Here my in my akademie of sport! Dit wys seker die Here is aan my kant en ek is op die regte pad! Dis ‘n baie gevaarlike redenasie. Natuurlik kan God goed wees vir sy kinders soos Hy wil, maar voorspoed en welvaart beteken nie noodwendig dat ek God se kind is nie. Dink maar aan die gelykenis van die ryk man en Lasarus. (Lukas 16) Lasarus was vrek arm, vreeslik honger en vrot van die siekte! Die ryk man het in vraatsige weelde geleef,  maar toe beide sterf, blyk dit dat hy en nie die ryk man altyd die geseënde was! (Terloops, mens wonder wat sê die Prosperity Gospel ouens oor hierdie gedeelte? Volgens hulle denkwyse lyk die ryk man na 'n handboekvoorbeeld van 'n geseënde en arme Lasarus 'n ernstige kandidaat om geklassifiseer te word as iemand wat onder 'n sogenaamde "Bloedlynvloek" gebuk gaan!) 

5. DIE PAD VAN GODSDIENSTIGE RITUELE EN ORDENTLIKHEID. 



Jy sal vra : “Maar hoe nou? Om kerklik en godsdienstig te wees is seker die regte ding?” Vriend, wees gewaarsku daar is wel ‘n pad van die doopvont na die verdoemenis! Vanuit die koel doopwater tot binne in die hittige hel! (die hoeveelheid water opsigself maak nie saak nie) Daar is baie mense wat gedoop is (klein of groot), wat kerklidmate word, wat in die kerk trou en uiteindellik uit die kerk begrawe word, maar vir ewig verlore sal wees.  Al hulle godsdienstige stappe was eintlik maar net nog ‘n stap nader na die oordeel. Hoekom? Hierdie is mos als mooi dinge? Ja, hulle het deur die regte rituele gegaan, maar Jesus was nooit in hulle lewe nie. Hulle was goeie mense, maar nie geredde mense nie. Hulle was dalk verbondsmense, maar nog nie verloste mense nie. Paulus was ook eers so. Hy het op sy godsdiens en afkoms staatgemaak, maar hy het nog nie vir Jesus geken nie. Hy vertel daarvan in Filippense 3:3ev. Gelukkig het hy toe later op ‘n punt gekom waar hy nie meer op hierdie dinge geroem het nie, maar op Jesus Christus alleen. Kerklidmaatskap en betrokkenheid, selfs ernstige betrokkenheid is geen vrypas tot verlossing nie. Die gelykenis van die vyf verstandige en vyf dwase meisies, die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring en talle ander Skrifgedeeltes, maak dit baie duidelik dat deelwees van die sigbare kerk nie noodwendig redding behels nie!

Nou watter pad is dan die regte pad? 

Gelukkig sê die Bybel dit vir ons baie duidelik in Johannes 14:6 waar Jesus verklaar :

"Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”

Almal wat Jesus aangeneem het en op Hom vertrou is op die regte pad. Hulle is kinders van God. (Johannes 1:12,13) Jesus het deur sy kruisdood en opstanding als gedoen wat ons nodig het om  vrede met God te hê. Wie Hom het , het die lewe! (1 Johannes 5:12,13)

Draai weg van jou sonde en volg Jesus. Moenie op jou gevoelens staatmaak nie, maar op Jesus se volmaakte offer aan die kruis. Moenie jou aan die meerderheid steur nie, maar bly by Jesus, al staan jy alleen. Moenie veiligheid  in rykdom of besittings vind nie, maar wees tevrede wat Jesus vir jou gee. Moenie op jou godsdienstigheid of goeie maniere vertrou nie, maar neem Jesus aan, eers dan maak bid en Bybellees, kerk en sakramente sin!


 BEHOORT JY AL AAN JESUS?

Woensdag 22 Mei 2013

STERF OM VRUGBAAR TE KAN LEWE

- Jesus se raad (wat die gemiddelde “prosperity gospel” aanhanger en  TBN kyker aan hulle pizzas sal laat stik)

Die sekerste manier om onvrugbaar, vaal en vreugdeloos te wees is:  Leef maar net rustig vir jouself.  Fokus maar net op jou eie gerief, jou eie behoeftes, jou finansiële groei,  jou eie aftreeplanne... Klink dit vreemd en vergesog? Wel dis die duidelike implikasie van Johannes 12:24,25.   “Dít verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in. Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou.”   Geweldige woorde!

Jesus gebruik ’n eenvoudige beeld uit die landbou wat sy hoorders almal goed kon verstaan. ’n Koringkorrel of mieliepit moet in ’n sekere sin “sterwe” sodat daar ’n oes kan kom. Hy moet sy bestaan en vorm as pit prysgee, onder die grond begrawe word en van die toneel verdwyn. As ’n pit by wyse van spreke sou weier... sal hy ‘n mislukking wees, net alleen bly, geen oes voortbring nie, sy bestaansdoel misloop.

Jesus praat hier  natuurlik in die eerste plek van Homself en spesifiek van sy sterwe aan die kruis. (die gesprek vind plaas kort voor die kruisiging) Jesus se sterwe aan die kruis lewer ’n ryk oes op van verloste mense. Sonder Jesus se plaasvervangende dood sou nie een van ons gered kon word nie. Jesus se offerdood wis ons sonde uit omdat Hy so die straf wat ons verdien in ons plek ondergaan. (Jesaja 53:5,6) As Jesus nie gesterwe het nie,  sou ons nie verlos kon word nie-  nie ek nie, nie jy nie... Ons moet dit goed verstaan, Jesus het baie wonderlike dinge gedoen, genesings, vermeerdering van die brood, op die water geloop.....nie een van hierdie dinge kon verlossing bewerk nie,  Hy moes spesifiek sterwe en ons straf dra in ons plek. Daarom het Satan alles gedoen om Jesus van die kruis weg te hou... So dis baie duidelik, as Jesus nie gewillig was om te sterwe nie,  sou daar geen oes van verloste mense vir sy Vader  wees nie. Geen mens sou gered word nie.

Hierdie selfde beginsel van sterwe om te kan lewe, maak Jesus nou egter ook van toepassing op sy volgelinge. (vers 25) Dis op ons van toepassing op ’n aangepaste manier. Aangepas, want ons lyding en swaarkry  verdien nie vir ons die lewe nie en bewerk nie verlossing nie. Anders gestel, niks wat ons kan doen kan vir ons sonde betaal nie. Geen offer wat ons kan bring kan die slegte dinge wat ons gedoen het uitkanselleer nie. En tog word daar van elke kind van God  verwag om te sterwe aan sy eie voorkeure en belange, ja aan sy lewe. Wat beteken dit? Jesus moet eerste gestel word, uit dankbaarheid vir wat Hy vir ons gedoen het. Wie Jesus nie bo alles kies nie, kan Hom nie volg nie. Jesus kry voorkeur bo alles wat vir my belangrik, kosbaar en dierbaar is! In hierdie opsig moet ek sterwe aan my eie lewe.

Geen sterwe, geen lewe, geen sterwe geen oes! En daarom as daar geen sterwe in my lewe is nie, is my Christenskap vrugteloos en vaal en  gevolglik ook vreugdeloos. Hierdie beginsel is waar van Jesus self en sy werk. Maar dit geld as ’n basiese vereiste vir ons vrugbare volgelingskap. Dis veral prakties van toepassing op ons getuienistaak, deur woord en lewe in hierdie wêreld.

Kom ons sê dit anders : Sonder ’n doelbewuste keuse vir lyding en sterwe kan daar geen suksesvolle uitleef en uitdra van die evangelie wees nie!

Sonder ‘n doelbewuste keuse vir lyding kan jy nie vir die Here werk nie. 

Dis baie duidelik : Jesus moes deur lyding God se Koninkryk kom vestig. Jesus se lyding en vervolging het egter nog nie opgehou nie. Dit word voortgesit in ons. Ons lyding is ’n voortsetting van Christus se lyding. Dit is soos Paulus sy eie lyding verstaan het in Kolossense 2:24,25  “Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk,  waarvan ek ‘n dienaar geword het volgens die opdrag wat God my gegee het om sy woord ten volle aan julle bekend te maak.” Paulus het lyding verduur ter wille van die kerk. Paulus het lyding verduur om sodoende die evangelie te verkondig en die kerk te laat groei. Dit was ’n doelbewuste keuse tot lyding. Hy kon rustig eenkant ’n kommerlose bestaan gevoer het as selfsugtige “Christen” in ‘n “gerieflike voorstad” van Jerusalem... Maar nee, hy  kies om die pad van vervolging te loop sodat die evangelie versprei kon word. Paulus pas die beginsel van Jesus in sy eie lewe toe - Hy kies om te sterwe sodat daar ’n oes kan wees! 2 Timoteus 2:8-10. “Onthou altyd dat Jesus Christus, ‘n nakomeling van Dawid, uit die dood opgewek is. Dit is die evangelie wat ek verkondig.
Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos ‘n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie.
Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang.”

God het besluit om sy uitverkorenes deur die lyding van sy Seun te red. God het ook bepaal dat die evangelie deur die lyding van sy diensknegte versprei sou word. Evengelieverkondiging gaan onvermydelik met opoffering, lyding en sterwe in baie opsigte gepaard. As jy dink jy gaan gelukwensinge en ‘n klop op die skouer kry omdat jy die evangelie verkondig, leef jy nog in ‘n droomwêreld! John Piper vat als mooi saam : “More and more I am persuaded from Scripture and from the history of missions that God's design for the evangelization of the world and the consummation of his purposes includes the suffering of his ministers and missionaries. To put it more plainly and specifically, God designs that the suffering of his ministers and missionaries is one essential means in the joyful triumphant spread of the gospel among all the peoples of the world.”

Lyding ter wille van die verspreiding van die evangelie is ‘n doelbwuste keuse.   Om deur God gebruik te word in die uitdra van sy verlossingsboodskap moet ons bereid wees om baie kere en in baie opsigte te sterf.

Hoe raak hierdie beginsel ons prakties?  Wat moet ek opoffer soadat die evangelie kan versprei, in watter opsigte moet ek sterwe sodat daar ’n oes vir God ingesamel kan word. (Daar is mos nie oral malariamuskiete en kannibale nie - hoe sterwe ek ter wille van evangelie?) Ek wil net drie praktiese areas uitlig.

Ek moet sterwe aan :

~ My “reg” tot gerief en najaging van  eie belang. Ons voel so veilig om weg te kruip in ons bekende gemaksones...bekende mense, bekende aksies, bekende omgewings, gewaarborgde finansiële pakette en pensioen. Het jy al jou aan jou vrese vir mense gesterf en met ander mense oor Jesus gesels?
Dit sal dalk nodig wees om jou eie belange prys te gee in terme van tyd en geld.  Dit gaan egter nie net oor groot sake nie. Daar is  talle klein keuses waar ek teen my eie belang moet kies om bruikbaar te wees in die uitdra van die evangelie... dalk iets soos ‘n Sondagmiddagslapie wat opgeoffer moet word? Om werklik die Koninkryk van God te laat kom moet ek doelbewus teen my eie welsyn kies. Hierdie beginsel word onderstreep deur talle voorbeelde in die kerkgeskiedenis. Dink maar aan iemand soos Adoniram Judson wat twee vroue en talle kinders moes opoffer om die Woord van God na Burma te bring.  


Lees meer, kliek op ADONIRAM JUDSON.

Baie mense is bereid om op ’n afstand betrokke te raak by uitbreiding van die Koninkryk, maar wil nie hulle hande vuilmaak nie. Ek sal op ’n veilige afstand ’n tjek uitskryf, maar moenie my vra om in ‘n plakkershut in te gaan nie...





~ Kulturele trots en ekslusiwiteit. Ons moet in nederigheid grense oor te steek na ander kulture en klasse wat volgens ons norme anders of minderwaardig is. Ons moet ons hoogmoedige trots in ons sak steek. Ons moet bereid wees om in ander mense se lewe in te klim, hulle denke te probeer verstaan, opofferings te maak om hulle te akkomodeer. Het jy dit al gewaag om teenoor iemand van ‘n ander kultuur of godsdiens te getuig - soos ’n Moslem? Sterf vir jou gemaksone en doen dit. Skuif jou vooroordele opsy en gaan sit langs ’n plaaswerker of ‘n huishulp... of daal doelbewus na die vlak van 'n kind of 'n bejaarde om die evangelieboodskap in hulle leefwêreld se terme oor te dra. Dit kan ook insluit opofferings ten opsigte van taal of ander kulturele aspekte. Weet U dis presies wat Jesus gedoen het - hy het sy hemelse bestaan prysgegee om soos een van ons te word. Ons kan nie die evangelie uit die hoogte deel nie. Ook nie vanuit verkeerde motiewe nie - “Ja, sendingwerk is goed, dit hou darem die ... op hulle plek...” As ons die evangelie wil deel , moet ons diensknegte word wat van ons troontjies afklim. Dis presies wat Jesus gedoen het ...  ”Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense." (Markus 10:45)

~ Alle ambisies en begeerte na sukses en populariteit. Vergeet van daardie begeerte dat almal van my moet hou! Sterf aan die bedekte behoefte  wat ons het om gedurig bedank en waardeer te word. Ons eie ambisies staan in die pad van suksesvolle getuienis....soos om ryk te wil word of aansien in die gemeenskap te hê.  Ons moet ook sterf aan ons “groot indrukwekkende metodes” van evangelisering  wat meer gegrond is op wêreldse propaganda tegnieke as God se Woord.  Die TBN styl van "glitter en glamour!" As ons werklik die evangelie wil bevorder, moet ons bereid wees om nederige metodes te gebruik, wat aan God al die eer sal gee... Om agter die skerms te werk en in ons binnekamers te pleit voor God.  Weet verseker  dat as jy die onverdunde Bybelse boodskap bring,  gaan  jy beslis ongewild wees.  Mense gaan nie van jou hou as jy vir die beginsels van die Woord staan nie. Is jy bereid om ‘n verworpe ongewenste lid van die gemeenskap te wees?  Soos Jesus? Ja, dan eers kan God jou gebruik!  Satan het Jesus versoek op hierdie punt. Hy nooi Jesus om van die tempel se dak af te spring. Dit sou ‘n kortpad na gewildheid wees. Jesus val egter nie vir sy grappie nie, maar kies die bitter eensame pad van die kruis. Sukses mag nooit ons dryfkrag en motief wees nie. Ons moet bereid wees om die evangelie te bevorder al sien ons nooit sigbare resultate nie.  Ons begeerte om geprys te word moet ons afsterf. Jy gaan dalk die teenoorgestelde beleef as jy begin getuig. In plaas van resultate en lof gaan jou skoolleerlinge teenoor wie jy getuig, jou alle hel in die klaskamer gee; juis  jou plaaswerkers vir wie jy die Woord bring gaan jou dalk in die steek laat...terloops dis mos wat Jesus ervaar het van sy eie dissipels! Is jy bereid om al hierdie teenstand deur te gaan?

Kan jy sien, sonder ’n bereidheid om skade te lei, om te sterwe in vele opsigte, is daar geen kans dat ’n mens regtig die evangelie kan uitdra nie? Sonder sterwe, geen vrugdra, geen oes en daarom geen vreugde!

Twee slotopmerkings:

~ Waar lê die struikelblok, hoekom groei die kerk nie vinniger nie? Hoekom is daar nog soveel onbereikte mense na 2000 jaar van kerkwees? Ons kan seker baie lang debatte hieroor voer, maar een duidelik waarheid is : die kerk groei net met die spoed waarteen mense bereid is om te “sterf”!   Daarom is daar in tye van vervolging dikwels vinnige kerkgroei, maar hoe meer welvaart en gerief Christene beleef, hoe minder groei is daar. Namate ons bereid is om aansprake op gerief, eie belang en ambisies prys te gee, groei die kerk. Op hierdie oomblik is daar genoeg middele binne die kerk om die wêreld te bereik - waarom gebeur dit nie? Min Christene is bereid om die pad van die koringkorrel te loop. Min is bereid om hulle finansiële aspirasies en sekuriteite af te sterwe, min mense is  bereid om hulle gesondheid op die spel te plaas... John Stott sê : "The greatest single secret of evangelistic or missionary effectiveness is the willingness to suffer and die."

~Miskien is daar iemand wat eerlik en opreg wonder : Ek wil graag die evangelie uitdra - maar ek moet nog aan baie dinge sterwe, moet ek  maar eers wag totdat ek dit regkry?” Vriende, net Jesus se sterwe was volmaak en volledig. By ons is dit ’n onvolmaakte proses wat lewenslank duur. Solank ons hier op aarde is, sal die kind van God voortdurend maar die soeke na selfbelang en eie gerief in homself ontdek. Moenie wag totdat jy volmaak is voordat jy die evangelie begin uitdra nie- dan gaan jy nooit sover kom nie. Stel jouself tot beskikking van Jesus, NOU!  Die Heilige Gees is getrou. Hy sal jou wys waar jy nog moet sterwe. Begin net!

Bybelse logika :


Streef na jou eie belang en word 'n verloorder! Verloor jouself vir Jesus en sy saak en wees 'n ewige wenner!