BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Pinkster. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Pinkster. Wys alle plasings

Vrydag 02 Junie 2017

WIND,VUUR,TALE…

- die Heilige Gees as die Groot Gawe van die Nuwe Verbond!



Ou Israel was ’n groot mislukking in hulle toewyding aan God.... Ons ken mos die geskiedenis. Gedurig het hulle afgedwaal na die afgode. Ander kere het hulle wel uiterlik die offers en wette nagekom, maar innerlik was hulle ver van God af. Die Ou Verbond het “misluk”. Dit lei later tot die oordeel van die ballingskap. Tog was dit nie die einde van alles nie. Die profete voorspel die totstandkoming van ‘n Nuwe Verbond. Jesus kom dan in die volheid van die tyd en beseël die Nuwe Verbond met sy bloed!



Jesus se sterwe , opstanding en hemelvaart is egter nie die finale heilsgebeurtenis nie. Jesus beloof die koms van die Heilige Gees! Hier in die tyd van Pinkster is dit weereens belangrik om te besef : die koms en werk van die Gees staan sentraal in die Nuwe Verbond. Hieroor is ‘n gedeelte soos Esegiël 36:25-27 baie duidelik: “Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.” In die profeet Jesaja word die metafoor van ‘n vrugteboord in ‘n woestyn gebruik om die oorvloedige werk van die Gees mee aan te dui... “totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn 'n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir 'n bos gereken.” (Jesaja 32:15)

PINKSTERDAG

Hierdie beloftes en baie ander is vervul op Pinksterdag (‘n oesfees!). Ons lees daarvan in Handelinge 2. In sy Pinksterdagpreek verwys Petrus na die profesie van Joël wat ook ‘n wye omvattende werking van die Gees voorspel het. Die Heilige Gees is dus die groot gawe van die Nuwe Verbond. Dis die Heilige Gees wat die verskil maak binne die konteks van die Nuwe Verbond. Opvallend is die drie waarneembare tekens waarmee die koms van die Gees gepaard gegaan het. Hierdie drie tekens kan ons aanvaar was nie maar toevallig nie. Die wortels en betekenis daarvan is reeds in die Ou Testament te vinde.

Die tekens :

~Rukwind

~Tonge van vuur

~Talewonder

Dit gaan nie hier oor die elemente as sodanig as iets wat ons moet probeer na-aap nie. Van belang is die heilshistoriese betekenis. Hoe pas dit in en wat is die betekenis van hierdie tekens in die ontplooiing van God se verlossingsplan? Maar ook wat is die praktiese implikasies daarvan vir ons? Wat sê die tekens oor die werk van die Heilige Gees vandag? En baie persoonlik, ondervind jy die werk van die Heilige Gees?

WIND. Wind en Gees het ‘n duidelike konneksie met mekaar. (Dis dieselfde woord in Grieks  - πνεῦμα) Dis uiters gepas dat die uitstorting van die Heilige Gees met ‘n sterk wind gepaard gaan. Hier in Handelinge 2:2 is ook ‘n ander konnotasie. Die woord vir wind wat hier gebruik word is πνοὴ* Dis dieselfde woord wat in die LXX (Griekse vertaling van die Ou Testament) asem van die lewe is wat God in Adam geblaas het. (Genesis 2:7) Dis die Gees, die asem van God wat lewe gee. Die Heilige Gees bring lewe, Hy skep nuwe lewe. Weet verseker as die Heilige Gees nie in jou werk nie, sal jy geestelike dood bly. Daar sal geen ware sondebesef wees nie. Nog minder sal jy die heerlikheid van Jesus raaksien en in Hom glo. Die funksie van die Gees word reeds deur die profete van die Ou Testament voorspel. Die lewend gewende krag van die Gees is baie sterk op die voorgrond in die visioen van die profeet Esegiël oor die vallei van doodsbeendere. “En Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, die HERE, dit gespreek en gedoen het, spreek die HERE." (Esegiël 37:14) Hierdie herlewing van die doodsbeendere was niks anders as ‘n herskepping nie. Die geluid van die wind op Pinksterdag was dus ‘n teken van die koms van die Gees van God wat geestelike dooies lewend sou maak. Mense wat totaal dood is in hulle misdade, geestelike lyke word lewend gemaak deur die wedergeboorte! Hierdie wind was as’t ware die asem van God wat hy in die nuwe verloste mensheid sou blaas. Dit was die begin van God se herskepping. Die Gees maak mense nuut. Kan jy hiervan getuig in jou eie lewe?

DIE GEES HERSKEP EN HERSTEL ONS AS BEELDDRAERS VAN GOD!

VUURTONGE. Vuur bring die gedagte van God se heilige teenwoordigheid en reiniging na vore. Ons kan aan verskeie voorbeelde uit die Ou Testament dink. God se heilige teenwoordigheid die berg Sinaï is aangedui deur weerlig. Die vuur en wolk oor die tent van samekoms het die heilige heerlikheid van God sigbaar gemaak in die midde van die volk Israel. In die heerlike bedeling van die laaste dae is elke gelowige nou ‘n tabernakel/tempel van God se teenwoordigheid. Dit het geweldige implikasies...!

Vuur simboliseer ook die verterende heiligheid van God. Sy heiligheid brand alles weg wat vuil, onrein en boos is. Die Heilige Gees in ons lewens lei tot ‘n reinigingsproses waar ons skoongemaak word. Die Heilige Gees gee lewe, maar daar is ook ‘n gevaarlike angswekkende kant van die Heilig Gees se werking. Hy is so heilig en suiwer dat alle kompromieë met sonde en valsheid ondenkbaar en onhoudbaar word in sy teenwoordigheid. 

Die vuurtonge het ook ‘n derde konnotasie. Lukas gebruik nie die woord “vlamme” nie , maar “tonge”. Waarskynlik doelbewus. Die Heilige Gees bring ons tot getuienis. Hy roer ons hart en spraak aan om te vertel van die wonderdade van God.

DIE GEES HEILIG ONS EN BEKRAGTIG ONS TOT GETUIENIS!

DIE TALEWONDER. Hierdie was nie bloot ekstatiese klanke nie, maar werklike tale sodat die skare wat in Jerusalem bymekaar was die boodskap van Jesus in hulle eie moedertaal kon aanhoor. Hierdie hoorders was mense wat bande met die Judaïsme gehad het. Hulle dien hier as verteenwoordigers van die verskillende volkere waaronder hulle gewoon het in hulle verstrooiing. Aan watter Ou Testamentiese gebeurtenis laat tale jou dink? Natuurlik aan Babel! Wat gebeur nou hier? Die taalverwarring by Babel word nou omgekeer. Die talewonder verteenwoordig presies die teenoorgestelde van wat destyds by Babel gebeur het. Daar het die verskil in taal mense verdeel, nou word almal verenig in die hoor van God se Woord. Die evangelie in die krag van die Gees bring ‘n nuwe mensheid, ‘n nuwe eenheid tot stand! Die gevolg van die taalverwarring as straf op die mens se arrogansie, hoogmoed en ongehoorsaamheid, was verstrooiing. Met Pinkster word hierdie oordeel omgekeer en kom God se omvattende genade na vore; mense word nou bymekaargemaak vanuit elke nasie onder die hemel - nie om ‘n monument tot eie eer op te rig nie maar om as verlostes tot eer van God te leef. Die groot oes tot God se eer word nou ingesamel...

SONDE EN DIE OORDELE DAAROOR BRING VERDEELDHEID, DIE GEES BRING DEUR DIE EVANGELIE ‘N NUWE MENSHEID EN NUWE EENHEID TOT STAND! 

OOK VIR MY!
Dis ‘n feit die Heilige Gees het gekom, maar ervaar jy Sy werking as ‘n werklikheid? Nie die tekens nie, maar die werklikheid wat daardeur gesimboliseer word. Nuwe lewe, heiligheid, krag om te getuig? Onthou die Heilige Gees is tot ons beskikking kragtens die Nuwe Verbond wat Jesus deur sy bloed beseël het! Ons hoef nie weer te misluk soos oud Israel nie. God is nie suinig met sy Gees nie! Wonder jy miskien of die heerlike verlossing deur Jesus en die gepaardgaande werking van die Gees ook vir jou bedoel is? Wel, hoor die duidelike boodskap van Petrus op Pinksterdag binne die konteks van die belofte van God in die laaste dae (die bedeling van die Gees) : “En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Handelinge 2:21) Die HERE is die Here Jesus, want die Heilige Gees is immers die Gees van Jesus (Handelinge 16:7 NAV) en dis die Heilige Gees wat ons beweeg tot die aanroep van sy Naam!

Hierdie belofte is ook vir jou!

*Genesis 2:7 in LXX 


καὶ ἔπλασεν ὁ θεὸς τὸν ἄνθρωπον χοῦν ἀπὸ τῆς γῆς καὶ ἐνεφύσησεν εἰς τὸ πρόσωπον αὐτοῦ πνοὴν ζωῆς καὶ ἐγένετο ὁ ἄνθρωπος εἰς ψυχὴν ζῶσαν

Handelinge 2:2 

καὶ ἐγένετο ἄφνω ἐκ τοῦ οὐρανοῦ ἦχος ὥσπερ φερομένης πνοῆς βιαίας καὶ ἐπλήρωσεν ὅλον τὸν οἶκον οὗ ἦσαν καθήμενοι

Vrydag 10 Mei 2013

AS PRAAT EN PLEIT NIE MEER HELP NIE

- is die Gees nog steeds daar! 


Kinders van God beleef soms baie soorte teleurstellings en moedeloosheid en selfs partykeer ‘n wanhopige gevoel van bekommernis. Die redes is veelvuldig : dinge werk nie uit soos ek dit wil hê nie, probleme so groot soos die berge, moeilike omstandighede wat eindeloos voortsloer... van die ontstellendste krisisse is egter die angswekkende feit van eggenotes, kinders, familie en vriende (selfs gemeentelede) wat onbekeerd voortleef terwyl die einde naderkom... Hulle is vasgevang in Satan se greep, verblind deur die wêreld, verlam in ‘n verlore staat... Jou gepraat val skynbaar op dowe ore, jou gedreig en gepleit het geen effek. Dit maak jou moedeloos en selfs paniekerig. Dan is daar nog die betreurenswaardige toestand van die kerk...dwalinge, morele verval, wêreldsgesindheid en laksheid wat floreer. Dit dreig om baie Christene heeltemal moedeloos of sinies te maak. 

Die profeet Sagaria het vir elkeen wat so voel ‘n besondere boodskap. Sagaria self het opgetree in ‘n konteks van moedeloosheid en teleurstelling. Hy bring sy boodskap in die tydperk nadat die Jode uit ballingskap teruggekeer het na Jerusalem. Hulle het mooi verwagtinge gehad, maar als het nie uitgewerk soos hulle gedink het nie. Daar was armoede, vyande, geskille en geestelike verval. Die groot taak in hierdie tyd was om die verwoeste tempel weer te herbou, maar dit het maar broekskeur gegaan en op ‘n stadium moes die werk gestaak word. Die goewerneur Serubabel moes in hierdie moeilike omstandighede toesien dat die bouwerk vorder. Die doel van visioen van die olie en die lampe in Sagaria hoofstuk 4 was om hom te bemoedig. Hierdie bemoediging gaan egter verder as Serubabel en sy tyd, dis ‘n profetiese boodskap wat ook ons direk raak... 

Die kernboodskap van die beeld van die olie en die lampe vind ons in vers 6. “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige."

Dis wat die moedelose Serubabel moes hoor : die sukses van sy onderneming het nie afgehang van menslike vermoëns en planne nie, maar van God se Gees wat krag gee. Deur die krag van God se Gees sal die grootste berg, die ongemaklikste struikelblok, ‘n gelykte word! (7) Hoe nodig het ons nie om hierdie boodskap te hoor nie. Ons het mos die neiging om alles met brute krag en geweld te wil regforseer. Ek wil my familie regskree. Ek wil my man regpreek. Ek wil my werksmense sommer met ‘n dropper regmoker tot bekering! God herinner ons... “Nee, my kind, nie deur krag en geweld nie, maar deur my Gees...” 

Kom ons vat dit maar vir ‘n feit: ons kan niemand deur menslike geweld en oorredingskrag verander nie. Ons kan nie self lewe blaas in iemand wat geestelik dood is nie. Ons kan niemand se gewete bring tot berou nie. Ons kan niemand beweeg tot bekering nie...maar die Heilige Gees kan! 

Hierdie visioen van Sagaria beklemtoon ons totale afhanklikheid van God se Gees. Die lampe van die kandelaar word voortdurend voorsien vaan olie. Sonder die olie kan die lampe nie brand nie. Die lampe simboliseer die aanbiddingsgemeenskap, in ons taal, die gemeente. Sonder die bekragtiging en energie van die Heilige gees kan ons nie kerkwees nie, kan ons nie effek hê op mense rondom ons nie, kan ons nie slaag met ons Godgegewe take nie. Ek en jy kan nie in hierdie donker wêreld skyn en ‘n verskil maak sonder die olie van die Heilige Gees nie. 

Die heerlike boodskap van Pinkster is juis dat die Heilige Gees tot beskikking is van elke kind van God! 

As ons dan nou besef dat ons afhanklik is van die Heilige Gees, wat dan nou? 

Bid vir die bekragtiging van die Gees. Gebed is die duidelikste bewys dat ek nie meer op eie vermoëns staatmaak nie, maar op die Heilige Gees. God skenk sy Gees in antwoord op gebed. (Lukas 11:13) 

Waak dat ek nie die Gees bedroef en uitblus nie. (Efesiërs 4:30) Hoe keer ek dat ek die Gees bedroef? (Ef 4:31,32) Stel my verhouding met my medemens reg! 

Getuig onder beheer van die Heilige Gees. Hy gee die krag daarvoor. (Handelinge 1:8) Die Heilige Gees maak ons nie passiewe dromers met wollerige idees nie, maar gehoorsame arbeiders in God se wingerd! Vertel maar net in opregtheid wie Jesus is en wat Hy vir jou gedoen het. Moenie geestelike geweld en druk op mense toepas nie. Laat die Gees jou lewe spontaan oorheers, sodat jou woorde deur jou lewensstyl ondersteun word. 

Wie op die Heilige Gees vertrou het rede om positief blymoedig te wees. Die pessimiste sou destyds sê : kyk hoe stadig vorder die tempel, dit sal nooit klaarkom nie. 'n Belangrike deel van die boodskap wat Sagaria moes oordra is: Moenie ‘n klein begin verag nie! (10) Ja, die ware Christene is min, die wat vashou aan die waarheid van die Woord is yl gesaai, ons woorde voel so swak, ons pogings lyk so nietig... Moenie dit geringskat nie. Onthou vir die Gees is niks onmoontlik nie. (Hy kon Paulus die klipharde Fariseër verander...) Jesus self het ons daarop gewys die koninkryk van God begin maar klein, soos ‘n mostertsaadjie, maar dit groei onstuitbaar... 

God self sorg dat sy tempel gebou word!

Hiervoor het Hy destyds mense gebruik wat afhanklik was van die Gees. Die fisiese tempel is wel herbou in die tyd van Sagaria, maar God is vandag nog met iets baie groters besig. Hy bou sy ewige tempel, sy kerk, die liggaam van Jesus. God gebruik weereens mense hiervoor wat afhanklik is van die Heilige Gees. Jesus is ons Gesalfde, Hy was vol van die Heilige Gees en Hy gee sy Gees aan ons om die werk te kan doen. Hierdie feit gee ons hoop en vuur ons aan om te werk. Ons kan Hom vertrou om deur sy Gees groot dinge te doen, al lyk ons pogings hoe klein! 


Donderdag 24 Mei 2012

LEI DIE GEES MY?

- ek hoor dan nie stemme nie!   

God Drie-enig is betrokke by ons verlossing : Vader,  Seun en Heilige Gees. Hier in die Pinkstertyd is dit gepas om te praat oor die praktiese rol wat die Heilige Gees in elke kind van God se lewe speel. (maak gerus oop by Romeine 8)

Die Heilige Gees is nie ‘n teorie of krag  nie; Hy is ‘n  lewende Persoon. Hy is onmisbaar in ons verlossing.  Ek kan nie sonder die Heilige Gees die evangelie aanvaar nie. Dis onmoontlik om sonder die oortuigingswerk van die Heilige Gees vir Jesus Christus waarlik te ken. Daar is ‘n onmisbaar noue verband tussen Christus en die Heilige Gees.  Trouens, Hy word spesifiek genoem die Gees van Christus. (Vers 9)  Dis Hy wat Jesus aan ons openbaar en in ons harte werk dat ons waarlik in Hom kan glo. Belangrik : Die Heilige Gees werk nie net eenmalig in mens se lewe nie, maar Hy lei die kind van God op ‘n daaglikse basis. In Romeine 8:14 stel Paulus dit as ’n feit:

“Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.”

Dis waar van elke kind van God. As ek nie deur Heilige Gees gelei word nie, is ek nie ’n kind van God nie.  Maar wat beteken dit nou prakties? Beteken dit dat ek nou gedurig stemme hoor, skimme sien of drome droom? Dis allermins wat hier in Romeine ter sprake is.  Die konteks waarin Paulus  hierdie uitspraak maak  is belangrik. Dit gaan oor ’n nuwe lewe wat vereis dat ons ons sondige praktyke moet uitroei en gehoorsaam raak aan God se wil. Kom ons kyk na 'n paar maniere hoe die Heilige Gees elke kind van God in hierdie opsig lei :
1. Hy gee aan my ’n nuwe lewensuitkyk : God raak vir my belangriker as geld,  goed en genot. (1 Korintiërs 2:12) Die Gees laat my die waarde van God se genade en vergifnis, wat ek deur Jesus ontvang, besef. Hy gee my insig in en aptyt vir geestelike dinge. Ek ervaar ‘n honger na die Woord, die Bybel gaan vir my oop, ek geniet geestelike gesprekke. (Voorheen was dit dor en droog en irrelevant). Toets jouself : sien jy uit na gemeentelike byeenkomste of voel dit soos ’n straf?  Hy wek ook  ‘n liefde in my vir ander Christene; hulle gesprekke en belewenisse maak nou vir my sin. Die Heilige Gees  laat sien my die hele lewe vanuit ‘n  ewigheidshoek. Ek sien my aardse bestaan as ’n pelgrimsreis na ’n beter bestemming. Iemand wat deur die Gees gelei word,  sien uit  na die heerlike erfenis wat alle  smart van nou by verre sal oortref! (Rom 8:18)

2. Hy wek in my ’n begeerte om tot God, my Vader se eer te leef. Die Vaderskap van God word vir my ‘n persoonlike werklikheid. Hy bewerkstellig ‘n innige band tussen my en my Hemelse Vader!  (Rom 8:15) As die Heilige Gees my lei, leef ek ‘n lewe voor die aangesig van God. En ek vra nie meer wat mense dink nie nie, maar : “Vader, wat is U wil?” Die Heilige Gees maak my dus bekommerd oor my gebrekkige liefde vir God en laat my smag na ‘n inniger verhouding met Hom. Hy bring ook kommunikasie tussen my en my Vader tot stand deurdat Hy vir ons pleit. (Rom 8:26)

3. Hy laat my die heerlikheid van Jesus, sy genoegsaamheid en genade, raaksien, juis in die konteks van die bewustheid van my sonde! Ek besef die allesoortreffende  waarde van Jesus (die kosbare hoeksteen). Ja, ander mense weet dalk  van Hom, maar dis waar dit eindig. Die Heilige Gees verheerlik Jesus en  openbaar Hom en sy werk aan ons. (Joh 16:14) Waar die Heilige Gees mense lei, val die fokus op Jesus en sy werk. Soos  ligte (floodlights)  ‘n gebou in die aand verlig, nie om die fokus op die ligte te plaas nie, maar op die gebou.

4. Hy maak my toenemend bewus van my sondigheid. Hoe meer ek geestelik groei, hoe meer raak ek bewus van sondige gewoontes, denkwyses en  motiewe wat nog in my binneste skuil. Onthou Hy is die Heilige Gees! Hy is heilig en kan nooit met enige sonde kompromie maak nie. Hy maak mens sensitief vir versoekings en sonde. Hy wek in my ’n kommer en  hartseer oor my sonde. Die ongelowige is wel ook soms teleurgesteld in homself of voel sleg oor die gevolge van sy sonde. Die Heilige Gees laat my egter  besef, dis teen die Here wat ek gesondig het. Soos  Dawid in Psalm 51:6  ervaar het. 

Die Heilige Gees  stem my versigtig en onrustig oor sekere  plekke of persone. Ek weet net : “Bly weg hier. Dis gevaarlik vir jou wandel met God!”   

Die Heilige Gees lei mens dus om in alle situasies teen die wêreld en sy aanloklike begeertes te kies en vir die  navolging van Jesus.

5. Hy gee positief in my hart ’n begeerte na geregtigheid. ‘n Honger en dors om te doen wat reg is. Hy laat my ook oorgaan tot aksie om teen sonde te stry en dit uit te roei. Dis waarskynlik die belangrikste inhoud van wat dit hier beteken om deur die Heilige Gees gelei te word, want vers 13  onderstreep die belangrikheid om alle sondige praktyke in ons lewens uit te roei. Ons self moet praktiese stappe neem, maar dis die Heilige Gees wat ons oortuig van wat verkeerd is en die krag en moed gee om daadwerklik op te tree.

Romeine 8:13 sê : “...maar as julle deur die Gees ‘n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.”

6. Die Heilige Gees gee ons nie net krag om die verkeerde uit te roei nie,  maar produseer positiewe vrug in ons lewens. Die  vrugte van die Gees. Galasiërs 5:22  (Lees) Alle Christene sal al die vrugte vertoon in toenemende mate. Die Gees lei ons dus om heilig en al heiliger te leef!  

Alle Christene het die Heilige Gees en alle Christene word gelei deur die Heilige Gees. Sonder sy werk in ons kan ons nie kinders van God word nie en ook nie as kinders van God leef nie! Kom ons bid vir ‘n groter bewuste werk van die Heilige Gees in ons lewens. Kom ons verbind ons tot ‘n groter gehoorsaamheid aan die Heilige Gees se leiding, spesifiek om teen sonde te stry en dit uit te roei. 

* Dis in hoofsaak dinge wat  D.Martyn Lloyd-Jones in sy reeks oor Romeine noem.