BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Nuwe Verbond. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Nuwe Verbond. Wys alle plasings

Vrydag 01 Desember 2023

Maria die Begenadigde

 - Is sy die ark van die Nuwe Verbond?

Ons lees in Lukas 1 hoe die Engel het aan Maria 'n verbysterende buitengewone wonderbaarlike boodskap oordra...  Dit kom daarop neer... "Ja al het jy nie ‘n man nie, sal jy moeder word van die Seun van die Allerhoogste." Dink bietjie... Sy ‘n gewone tienermeisie. Dis asemrowende  genade! Dis ook die ontsagwekkende ALMAG van God in aksie. 

Die engel het ook die feit van Elisabet se swangerskap genoem as  voorbeeld dat niks vir God onmoontlik is nie. (Dis natuurlik nie die eerste keer dat 'n kinderlose vrou, wonderbaarlik moeder word nie. Dink maar aan Hanna die moeder van Samuel. Later blyk dit dat Lukas doelbewus die aandag wil vestig op die Samuelgeskiedenis...) 

BESOEK AAN ELISABET

Maria gaan besoek nou Elisabet en daar gebeur weereens onbeskryflike heerlike dinge.   Die ongebore Johannes, spring op van vreugde in Elisabet se baarmoeder. Elisabet word vervul met die Heilige Gees. Dan maak sy met die krag en insig van die Heilige Gees ‘n merkwaardige uitspraak – Maria is uniek geseënd onder vroue ( absoluut uitsonderlik spesiaal) “Geseend is die vrug van jou moederskoot.” Dit sou nog normaal kon klink, maar dan kom die klimaks in vers 43 – “die moeder van my Here,” maw die moeder van Jesus die Here, onthou - Jesus wat waarlik God is m.a.w. die moeder van God! Dis ontsagwekkend! Opvallend ook is die manier waarop Elisabet se woorde gestel word in vers 43    “Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom?” Wie is ek, ek is dit mos nie werd nie?

ARK VAN DIE NUWE VERBOND?

Hier kom ons nou by ‘n baie interessante en  fassinerende saak. Ons is mos nou nie die eerste mense wat hierdie gedeelte in Lukas lees nie. Ons moet dit ook lees saam met die kerk van 2000 jaar. Nou is dit interessant dat van die ou kerkvaders na Maria verwys het as die Ark van die Nuwe Verbond. 


Die verbondsark – dit was mos daardie goue houtkis wat in die Allerheiligste deel van die  tabernakel en later die tempel gestaan het. Ons ken die geskiedenis van hoe die ark deur die Fillistyne weggevoer is, al die drama wat daarmee saam gegaan het en die hele verhaal hoe dit weer teruggebring is na Jerusalem.  (Lees gerus  gou daarvan in 2 Samuel 6.)

As ‘n mens nou bietjie dieper na hierdie paragraaf in Lukas kyk, sien mens merkwaardige ooreenkomstige tussen hierdie gebeure by Elisabet  in Lukas 1 en die terugbring van die verbondsark in 2 Samuel 6. Dit lyk asof Lukas sy verhaal doelbewus skoei op die gebeure in 2 Samuel 6. Onthou net Lukas het waarskynlik reeds sy lesers voorberei vir ‘n tabernakel en ark konteks! Vgl. Lukas 1:35 met Eksodus 40:34,35 waar die heerlikheid van die Here neerdaal op die tabernakel waarbinne die verbondsark van God was!  In die Septuagint vertaling van die Ou Testament word hier presies dieselfde woord gebruik. * Daar is reeds dus die insuniasie van  'n lyn van die ark na Maria!

Kom ons kyk nou na 'n fassinerende vergelyking tussen die arkverhaal in 2 Samuel 6 en die besoek van Maria aan Elisabet:

Vergelyking** :

Ark van die Ou Verbond

Maria – “Ark” van die Nuwe Verbond

Die ark gaan na die bergland van Judea. (2 Sam. 6:1-11).

Maria reis na die huis van Elisabet en Sagaria in die berglandskap van Judea. (Lukas 1:39).

Dawid dans gekleed in ‘n priesterlike kleed voor die ark.  (2 Sam. 6:14).

Johannes die Doper, van priesterlike afkoms, spring op in sy ma se moederskoot as Maria naderkom - (Lukas 1:41).

Dawid vra  “Hoe kan die ark van die Here na my toe kom?” (2 Sam. 6:9).

Elisabet vra : ““Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom?”  (Lukas 1:43).

Dawid en die hele volk van Israel begroet die ark met uitroepe van vreugde. (2 Sam. 6:15).

Elisabet het  “hardop uitgeroep” (Lukas 1:42). Die Griekse woord ἀνεφώνησεν word in die Septuagint gebruik in konteks van die ark. (Hier in Lukas is dit die enigste plek in die  NT waar dit gebruik word!)

Die ark het drie maande in die huis van Obed-Edom gebly.  (2 Sam. 6:11).

Maria bly drie maande by Elisabet. Lukas meld dit spesifiek.  (Lukas 1:56).

“Die Here het Obed-Edom en sy hele huishouding geseën.” (2 Sam. 6:11).

Die woord geseënd/gelukkig word drie keer gebruik. (Lukas 1:39-45).

Die ark kom terug na Jerusalem en  uiteindelik teruggebring na die tempel waar die heerlikheid van die Here geopenbaar word. (2 Sam. 6:12; 1 Kon. 8:9-11).

Maria keer terug huis toe en eindig uiteindelik ook in die tempel in Jerusalem met die vleesgeworde Woord van God, die baba Jesus in die tempel. (Lukas 1:56; 2:21-22).



 

Is dit nou alles toevallig? Ek dink nie so nie...

DIE FOKUS OP DIE HEERLIKHEID VAN JESUS

Wat nou? Wat moet ons nou hiervan maak? Een saak is duidelik - God is op ‘n unieke manier in beheer van die geskiedenis. Die geboorte van Jesus word vooruitgesien in die detail van die Ou Testament selfs in die geskiedenis van die verbondsark. Maria is ‘n “tipe” van verbondsark, daar is ‘n lyn, ‘n ooreenkoms. Die ooreenkomste is te opvallend om maar net "toevallig" te kan weees...  Maar nou moet ons fyn trap - gaan dit oor die uniekheid van Maria of oor die uniekheid van Jesus?

Hierdie merkwaardige gebeurtenis onderstreep net bo alles die uniekheid van Jesus – belangrik – in die res van Lukas val die klem nie op Maria nie, maar op Jesus die Seun van Maria, die Seun van God.

Die verbondsark tipologie help ons juis om die heerlikheid van Jesus nog meer te besef!  Kyk eers na Hebr 9:3,4 waar die tabernakel beskryf word : 


"En agter die tweede tempelgordyn was 'n tent, wat die Allerheiligste genoem is; dit het die goue altaar vir die reukwerk bevat en die verbondsark, wat aan alle kante met goud oorgetrek was. Daarbinne was die goue kruik met manna, en die staf van Aäron wat gebot het, asook die tafels van die verbond;"

Dink nou weer :

Die verbondsark het die Woord van God, die Tien gebooie op kliptafels bevat, Maria dra die Lewende vleesgeworde Woord van God, Jesus Christus. Die verbondsark het die staf van Aaron die hoëpriester wat gebot het bevat -  Maria dra die ewige finale Hoëpriester, Jesus in haar skoot;  Die verbondsark het ‘n goue kruik met Manna bevat wat die volk moes herinner aan God se versorging in die woestyn, Maria se baarmoeder bevat Jesus, die ware Manna, die Brood van die lewe wat van die hemel gekom het soos Jesus self dit verduidelik in Johannes 6:41.  

Maria se uniekheid as anti-tipe van verbondsark plaas die fokus op Jesus se uniekheid en genoegsaamheid. Hy vervul al die Ou Testamentiese gebeurtenisse, instellings, seremonies en voorwerpe. Aanbid Hom! Fokus op Hom. 

Dis die groot vraag bly dus- nie wat dink jy van Maria nie, maar - Ken jy die unieke Jesus die Seun van God? 

Tog bly Maria vir ons ‘n voorbeeld van opregte oorgawe aan die wil van God. Sy is ‘n modeldissipel. Ons dink aan haar met dankbaarheid. Ons respekteer haar as  die begenadigde maagd, die Moeder van Jesus saam met die kerk van alle eeue.

VOETNOTAS

*Die Griekse woord πισκιάζω wat gebruik word in Lukas 1:35 ("oorskadu" word ’n paar keer in die LXX gebruik om na die wolk van heerlikheid te verwys wat die verbondsark in die tabernakel oorskadu het. Ons vind dit byvoorbeeld in Eksodus 40:35 (κα οκ δυνάσθη Μωυσς εσελθεν ες τν σκηνν το μαρτυρίου, τι πεσκίαζεν πʼ ατν νεφέλη κα δόξης κυρίου πλήσθη σκηνή.

** Met erkenning aan die volgende tabel. Kliek op tabel.

Vir 'n volledige akademiese artikel oor hierdie onderwerp, kliek op MARIA - tipologie


Dinsdag 10 November 2020

WIE IS GOD SE VOLK?

Is jy deel?

Dis beslis die grootste voorreg wat enige mens op aarde kan hê – om deel te wees van God se eie volk! Maar WIE is God se volk? Hierdie vraag is tans weer intens aktueel. Wat is die status en funksie of doel van hierdie volk! 

Die antwoorde op hierdie vrae is nie bloot van teoretiese belang nie. Dit ontbloot die kern van jou verstaan van die evangelie. En daarmee saam hoe jy die verskil tussen die Ou en die Nuwe verbond sien. Dit raak ook uiteindelik jou praktiese besluite as gelowige. Die apostel Petrus antwoord hierdie uiters belangrike vrae gelukkig baie duidelik. 

KOM ONS LEES 1 Petrus 2:9-10 

"Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. 
Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys." 

Petrus verwys amper woordeliks na ’n baie belangrike Ou Testamentiese gedeelte in Eksodus 19:4-6. ‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." 

Onthou die konteks van hierdie woorde van God. Dis God wat met sy volk Israel praat by die berg Sinai nadat Hy aan hulle genade bewys het deur hulle uit Egipte te bevry. Dis opvallend die hele volk word “priesters” genoem. Oor die algemeen in alle volke was priesters destyds ’n besondere groep mense wat direk in kontak kon kom met die godheid. 

Wonderlik! Israel as nasie is almal in hierdie sin priesters, hulle almal (ook die gewone mense) staan in ’n besondere verhouding tot die lewende God. Priesters was destyds normaalweg ’n afgesonderde groep met voorregte en pligte en so het die verloste Israel ook gedeel in spesiale voorregte maar ook verpligtinge om God se heilige volk te wees. Maar nou weet ons almal hulle het die verbond verbreek deur onheilige optrede. Dit het God se oordeel oor hulle gebring. Dit het uitgeloop op die ballingskap. 

Die profeet Hosea het hierdie oordeel van God oor sy volk in baie skerp taal beskryf. Nadat sy vrou Gomer swanger geraak het kom die opdrag aan die profeet : "Noem hom "Nie-my-volk-nie", want julle is nie my volk nie en Ek is nie julle God nie." (Hosea 1:9)

Skrikwekkend! Pynlik hartseer! Maar as mens na die hele profesie kyk is daar ‘n belofte van hoop! ‘n Belofte van herstel!

“...Tog sal die getal van die Israeliete in die toekoms wees soos die sand van die see wat nie getel of gemeet kan word nie. Waar nou vir hulle gesê word: "Julle is Nie-my-volk-nie," sal vir hulle gesê word: "Julle is kinders van die lewende God." (Hosea 1:9,10) Sien, God beloof herstel. 

Ook Jesaja 61:6 verwys na hierdie herstel! En let op die hele volk gaan priesters wees! “Julle sal genoem word: Priesters van die Here, Dienaars van ons God. Julle sal van die rykdom van die nasies geniet, die trotse eienaars word van hulle besittings.” 

OOK ANDER NASIES WORD INGESLUIT!

Hierdie herstel soos beloof in terme van die Nuwe Verbond het ook ‘n ander wonderlike faset. Iets wonderliks - ook ander nasies sal ingesluit word. Ons kry reeds 'n aanduiding daarvan in Jesaja 19:25. “Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê: Geseënd is my volk Egipte, geseënd is Assirië wat deur My geskep is, en geseënd is Israel, my eiendom.” 

God se verbondseën sal ook deur ander etniese volke gedeel word! 

En dis presies waarna Petrus hier verwys . Hy sê in effek vir hierdie voormalige heidene wat nou Christene geword het : “Julle, wat voorheen nie aan Israel behoort het nie, is nou deel van God se volk en dus ’n heilige priesterdom.” Petrus sê nie hier ‘n nuwe ding nie. Reeds by die apostelkonvent in Handelinge 15 lees ons hiervan. “Simon het verduidelik hoe dit God self is wat begin het om na die heidennasies om te sien deur vir Hom ‘n volk uit hulle te versamel. Die profete sê dieselfde. Daar staan geskrywe: Daarna sal Ek terugkom, en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal sy bouvalle herstel en dit weer regmaak, sodat al die ander mense die Here kan soek, ja, al die heidennasies wat Ek geroep het om my eiendom te wees, sê die Here wat hierdie dinge doen." (Handelinge 15:14-17) 

God se volk bestaan nou uit gelowiges wat Hy deur Jesus verlos het uit al die volke van die aarde! 

Nêrens word hierdie waarheid duideliker gestel as in die lied van die ouderlinge in Openbaring nie! “Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.” (Openbaring 5:9) 

So wie is God se volk? 




God se volk is nie die huidige staat Israel nie.





God se volk is nie die Boerevolk of die blanke volkere of enige spesifieke etniese groepering nie. 





God se volk is almal wat waarlik aan Jesus Christus behoort! 


Paulus laat ook geen twyfel hieroor nie : “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.” (Galasiërs 3:7) 

Net kortliks. Wat is die taak van God se volk hier op aarde? 

Petrus het reeds in 2: 5 verwys na geestelike offers. Wat word daarmee bedoel? Vers 9 verskaf die leidraad :“om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, ” (OAV), “verlossingsdade moet verkondig”, (NAB) Dit gaan terug na Jesaja 43:21! Daar lees ons - “Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.” 

Nie meer bloedoffers nie, maar lofoffers! 

Ons doen dit deur geloofwaardige belydenis van Jesus se Naam, die verkondiging van die evangelie, die bring van lof wat fokus op God se dade en karakter soos geopenbaar deur Jesus. As jy die genade van Jesus beleef het, as jy deur Jesus se versoeningswerk deel van God se volk geword het, sal jy nie anders as spontane lof en dank aan God kan bring nie! 

Jy protesteer : "Ek kan nie goed praat nie, ek is skaam..." Gestel iemand help jou uit ’n groot verknorsing op die snelweg waar jy sonder petrol gaan staan het. Wat sal jy doen? Jy sal met verwondering daaroor praat teenoor ander mense al is jy nou nie juis ’n goeie spreker nie. Dit kom sommer net. Dit vloei voort uit jou dankbaarheid en blydskap... Die mense wat deur Jesus gered is, het as volk van God het ‘n wonderlike verlossing beleef. Vanuit duisternis tot lig! Net soos Israel destyds vanuit die duisternis van Egipte tot by die heerlikheid en lig van Sinai. Dis hoe die verlossingswerk ook in Jesaja 42:6-7 beskryf word. “Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies. Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry; wie in die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan.” Hierdie beloftes is finaal vervul in Jesus! 

Kind van God, Hy het jou verlos uit die duisternis van sonde, Satan, dood en hel en gebring tot die ewige LIG van GOD! Hy is die lig, daarom sal daar op die nuwe aarde nie meer ‘n son wees nie! “Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer." (Openbaring 22:5) 

Kan JY God vir jou verlossing en deelwees van sy volk LOOF? Verkondig jy God se deugde, sy goeie eienskappe en sy goeie dade! Mag HY ons help!

Dinsdag 26 Mei 2020

Pasop vir die HONDE!

- hulle mislei julle om op uiterlike vleeslike bates te vertrou in plaas van op Jesus alleen! 



Soos ons ‘n vorige keer gesien is Paulus se brief aan die Filippense ‘n heerlike aanmoedigings brief vol blydskap, vreugde, vertroosting en vergenoegdheid. (Kliek op MATRIEK

Tog vind die apostel dit ook nodig om ‘n ernstige waarskuwing te rig in Fil. 3:2. Sy waarskuwing klink baie hard, reguit en eintlik ‘n bietjie kru. Letterlik staan daar soos die OAV dit vertaal “Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding.” Die NAB omskryf dit ietwat versagtend soos volg : “Pas op vir daardie dwaalleraars; pas op vir daardie mense wat kwaad stig; pas op vir daardie betekenislose besnydenis!” 

Waarom vind Paulus dit nodig om so iets aan die Christene van Filippi te skryf? Daar was dwaalleraars wat hierdie jong Christene in Filippi geleer het dat die geloof in Jesus alleen nie genoeg was vir hulle volle verlossing en vreugde nie – hulle moes steeds die Joodse besnydenis ondergaan. Ons noem hulle die Judaïseerders – (hulle was ook in die gemeentes van Galasië ‘n probleem) Natuurlik is dit ‘n valse lering wat die hart van die evangelie en die eer van Jesus aantas en daarom wek dit Paulus se argwaan en sterkste misnoeë op. Hy noem hierdie valse leraars “honde” en die besnydenis noem hy spottenderwys die “versnyding” In die Grieks kry ons hier ‘n skerp woordspeling. Tussen peritome (peritomh) - besnydenis en katatome (katatomh)
 – versnyding (OAV), versnippering - dis sommer eintlik net ‘n onnodige verminking* wil Paulus hulle laat verstaan! 

Besnydenis is natuurlik nie iets wat in isolasie verstaan moet word nie. Hierdie selfde dwaalleraars wou die Christene laat terugkeer na die ou Joodse wetsisteem wat ingesluit het die onderhouding van die Sabbat en die voedselwette. (Klink bekend, nê? Sabbat en koswette – dis vandag nog die alewige snaar waarop die dwaalgeeste so graag tokkel!) 

Kortweg gestel, al hierdie wette wat hulle op die Christene wou afdwing het neergekom op ‘n terugkeer na die Ou Verbond! 

Dit bring ons by die kernsaak waaroor dit hier gaan. Waarop of op Wie vertrou jy vir jou volle genoegsame verlossing? Op die tora (die wet van Moses) of op Jesus? Op uiterlike gebruike en rituele (wat Paulus hier die vlees noem) of op Jesus Christus die gekruisigde en opgestane Here? 

Wees eerlik! Op wie of wat vertrou jy nou eintlik? 

Ek rig hierdie uitdaging aan al die aanhangers van die Israelvisie en die Hebrew Roots Movement. Julle wat so spog oor julle sabbat, julle nuwe mane, julle streng voedselwette, julle bedrieglike kastige afstamming (Israelvisie) van die tien stamme van Israel. Julle gedwepery met Hebreeuse name! En so terloops, daar is net een NAAM bo alle name, die naam Jesus waardeur ‘n mens gered kan word. En in die Nuwe Testament wat oorspronklik in Grieks geskryf is, kom dit in die Griekse vorm IhsouV na ons. Gaan bestudeer maar net eerlik Handelinge 4:10-12 en Filippense 2:5-11. 

Vertroue op Sabatte, name en kosreëls? Wat anders is dit as vertroue op uiterlike dinge? Vertroue op die vlees?

Maar ek rig ook hierdie waarskuwende woorde aan mense wat gereeld in die kerk sit, lidmate, maar vir wie dit maar net bloot oor uiterlike godsdiens of mooi tradisie gaan. Die punt is vertrou jy op Jesus die gekruisigde alleen of is ander bates nog vir jou belangriker? Is ander bates nog jou eintlike sekuriteit? Troos jy jouself met allerhande mooi gebruike of ordentlikheid? 

In hierdie konteks is Paulus se uitspraak in vers 3 veelseggend en kardinaal belangrik! “Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.” (Fil. 3:3) 

Paulus weet waarvan hy praat. Soos hy verder beskryf (en lees gerus verder in hfst. 3) het hy eens op ‘n tyd ook op alle uiterlike bates vertrou soos sy fisies afkoms van Abram en soos sy fanatiese stiptelike gehoorsaamheid aan die tora. Hy was onberispelik getrou aan die tora oftewel die wet van Moses. Maar toe ontmoet hy Jesus Christus. Meer korrek dis Jesus wat hom wat Paulus is gegryp het daar op pad na Damaskus. Toe verander als... En van toe af beskou hy al hierdie vorige bates as drek, gemors , waardeloos sodat hy Jesus as enigste bate kan aankleef. Hoekom? Paulus het nou besef - Die regverdiging, die vryspraak is in Jesus alleen te vind. “Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo.” (Fil. 3:7-9) 

My vriend, hoor mooi! Al jou indrukwekkende Hebreeuse frases en name, streng onderhouding van allerhande wette en spitsvondige slimmighede is waardeloos! Stel jou vertroue op Jesus alleen en dank Hom deur die vrugte van die Gees te dra wat die einste Paulus vir ons in Galasiërs 5:22,23 beskryf. Dis natuurlik ten diepste in lyn met God se bedoeling met die wet. 

Jesus self is die volkome vervulling en eind doelwit van al die bepalings van die Mosaïese wette. 

Die Mosaïese wette was die konstitusie van die Ou Verbond. Jesus het die Nuwe Verbond deur sy finale en volledige bloedoffer bevestig. Hy sê dit self met die instelling van de nagmaal. Die implikasies is duidelik : Wie aan Jesus behoort is die ware Israel en dus kinders van Abram. (Gal. 3:7) Wie op Jesus vertrou het die ware besnydenis en deel in die ware Sabbatsrus, want Jesus self is die weg, die waarheid en die lewe! Alles wat die tora was in die Ou Verbond (die waarheid en lewe en die regte pad) is nou in Jesus self te vind binne die Nuwe Verbond! Om dus weer terug te keer na die Ou Verbond is ‘n verwerping van Jesus en die evangelie! Wees gewaarsku! 

My vriend, vriendin, plaas jou vertroue op Jesus en Hom alleen! Vandag nog! 

Kyk op Youtube - kliek HONDE!

*Ook in die brief van die Galasiërs waarin Paulus dieselfde probleem van terugkeer na die besnydenis en die wet van Moses aanspreek, raak Paulus baie driftig op dieselfde trant soos in Gal.5:12. “Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!” (NAV) “ Ag, as die wat julle opstandig maak, hulleself tog maar ook wou vermink!” (OAV) Paulus raak hier erg sarkasties teenoor die dwaalleraars en sê dus in effek : as hulle dan nou wil besny moet hulle sommer by hulleself als afsny!

Woensdag 01 April 2020

PSALM 91 - PANDEMIEPSALM?

- JA, IN JESUS IS JY ONAANTASBAAR VEILIG! (Wat presies behels dit?)*



“Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.” (Psalm 91:5,6)

Psalm 91 is een van die wonderlikste Psalms wat daar is! Ongelukkig tel dit ook onder een van die mees misbruikte Skrifgedeeltes. Dit word buite die geheelkonteks van die Bybel aangehaal en soos ‘n towerspreuk of gelukbringer (amulet) as ‘n eenvoudige kitskuur verkwansel. So sou mense in die pandemiese omstandighede van vandag maklik bogenoemde verse aanhaal as ‘n bewys dat Christene nie deur die nuwe koronavirus getref sal word nie. Is dit waar en verantwoordelik om so iets te beweer? Gaan Christene van die Covid-19 virus gevrywaar word? NEE!

DIE DUIWEL KEN DIE BYBEL

Baie interessant, die duiwel self ken Psalm 91 baie goed en het juis ‘n aanhaling uit hierdie psalm misbruik om Jesus te versoek en van sy God beplande doel en missie te laat afwyk. “Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen 'n klip stamp nie. (Matteus 4:5,6) Sy aanhaling kom natuurlik uit Psalm 91:11,12.

Maar nou moet ons net pasop vir ‘n ander groot gevaar – ons moenie die heerlike Psalm 91 ignoreer of weggooi omdat die duiwel en dwaalleraars dit misbruik nie! In hierdie psalm vind ons ‘n verkwikkende troos en grondige waarborg vir elke kind van God! Kom ons maak erns met die betekenis hiervan. Kom ons kyk eerlik hoe dit in die Bybelse geheelboodskap inpas. In die storielyn of openbaringsontwikkeling van die Bybel het Psalm 91 drie kontekste of ander gestel drie agtergronde:

1. Psalm 91 doen ‘n beroep op die volk Israel om tot God terug te keer en die verbondsvloek oor hulleself af te weer. 

Hierdie psalm haak aan by die vloeke en seëninge van die verbond soos opgeteken in Deuteronomium Die direkte agtergrond en konteks van Psalm 91 is dus die Mosaïese verbond. (wat ons vanuit NT perspektief die Ou Verbond noem)

In die Ou Verbond val die klem op die fisieke welsyn en welvaart van die volk Israel in die beloofde land, Kanaän. Die opsies was duidelik - As hulle God se verbond hou sal hulle fisies geseënd wees. (Deut. 28:1-14) Maar as hulle die verbondsbepalings nie nakom nie, sal allerhande fisiese ellendes hulle tref. Spesifiek ook peste en plae! “Die Here sal peste en plae aan jou laat kleef totdat Hy jou uitgeroei het uit die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem.” (Deut. 2:21) Hier in Psalm 91 hoor ons dus die omgekeerde boodskap van hoop en bevryding byv. vers 3 “Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.” en vers 10 “Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie;”


Psalm 91 bring dus hoop, spesifiek vir die bannelinge wat hierdie verbondsvloek aan hulle lyf gevoel het. Hier vind hulle dus ‘n boodskap van bevryding en herstel. Hier is ‘n belofte dat die verbondsvloek tot ‘n end sou kom en dat God weer vir Israel onder sy vlerke, onder sy beskerming sou neem. Weereens, dit eggo baie duidelik die taal van Deuteronomium. Vergelyk Deut. 32:11,12 “Soos ‘n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ‘n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ‘n ander god by Hom nie.” Met vers 4 (OAV) “Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser.” Telkens hoor mens die versekering dat God die toevlug of skuilplek is vir sy volk. (2,4,9). Dit herinner sterk aan die uitspraak in Deut. 32:37. “Dan sal Hy vra: ‘Waar is hulle gode? Waar is die rots waar hulle gaan skuil het,..."



Die belofte in vers 7 “Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand; na jou sal dit nie aankom nie.” toon ‘n opvallende (omgekeerde) ooreenkoms met Deut. 32:30 “Hoe kan een dan duisend agtervolg en twee tien duisend op die vlug jaag, was dit nie dat hul steenrots hulle verkoop en die HERE hulle oorgelewer het nie!”

In hierdie konteks gesien is Psalm 91 ‘n bekeringspsalm!

2. Psalm 91 is in Jesus vervul. 

Psalm 91 het op ‘n unieke manier op Jesus betrekking. Jesus is die ware opregte Israeliet sonder enige bedrog of ongehoorsaamheid. Hy en Hy alleen kom die verbondsbepalings volmaak na. Hy staan in ‘n volmaakte verhouding met Sy Vader en doen volkome die wil van die Vader. Jesus self het bevestig dat die Psalms oor Hom praat.** Prakties kom dit daarop neer: 

As daar ooit enigiemand was wat sou kon sê Psalm 91 se beloftes is op my van toepassing, dan was dit Jesus! 


Wie het ooit meer op God die Vader vertrou as Jesus (2) en wie het God ooit meer liefgehad as Jesus? (14) Dis juis waarom Satan se versoeking wanneer hy Psalm 91:11,12 gebruik so uiters geslepe en subtiel is! Hy weet dis van toepassing op Jesus! Maar hy misbruik dit om Jesus van die God bepaalde lydensweg af te verlei. Satan wil hê Jesus moet tydelike gerief, beskerming en voordele kies bo God se plan en opdrag vir Hom! Jesus moes mos juis ly om die Nuwe verbond tot stand te bring. Die Satan wys vir Jesus ‘n kortpad na heerlikheid – “Word ‘n wonderwerker wat van engele gebruik maak! Beskerm jouself met bonatuurlike magte!” Dis die duiwel se advies. Jesus weerstaan dit. Jesus kies om God se pad te loop – die moeilike pad na heerlikheid, die kruisweg!

Nodeloos om te sê – die duiwel mislei baie mense vandag nog met Psalm 91. Hy bied dit aan as ‘n maklike oplossing teen alle lyding en ellende. ‘n Kitsoplossing vir al ons probleme en sorge! Weerstaan hom soos Jesus hom weerstaan het! Aanvaar dat swaarkry, gevare en ellende deel is van die stukkende wereld waarin ons nou woon en moenie jou laat mislei met allerhande goedkoop reseppies nie. God beloof nie dat ons gevrywaar sal word van elke ellende, diefstal, pes of virus tydens ons aardse bestaan nie, maar Hy beloof ons iets baie heerliker! (Dit beteken prakties dat ook Christene maatreëls sal moet tref om hulleself te beskerm teen die virus, maar sonder die paniek en angs van die wêreld.)

Dit bring ons by die derde konteks van Psalm 91.

3. Psalm 91 is ‘n heerlike en kragtige versekering en sekuriteit vir diegene wat deel is van die Nuwe Verbond.

Psalm 91 het steeds vir ons betekenis, maar nie meer in die konteks van die Ou Verbond nie, maar die Nuwe Verbond wat Jesus tot stand gebring het. 


Die Nuwe Verbond het immers die Ou Verbond met sy bepalings vervang! Na Jesus se koms en voltooide werk leef ons nie meer binne die raamwerk van die Ou Verbond nie. In die Nuwe Verbond gaan dit oor baie meer as ‘n fisiese land Kanaän en fisiese seëninge! Dit gaan oor die ewige verblyf in die hemelse Kanaän met hemelse, ewige seëninge. (Wat inderdaad ook insluit die uiteindelike verlossing van die liggaam en die einde van alle smart, siekte en dood!) Dis waarin die kind van God nou deel het. Hoor hier - “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” (Efesiërs 1:3) Hierdie Nuwe verbond is ‘n beter verbond met beter beloftes! Dit word bevestig deur Hebreërs 8:6 –“Maar nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is.” (Vgl. ook Hebr 7:22) 

ONS TROOS!

So wat is die troos van Psalm 91 vir ons? In Jesus is ons veilig en kan niks en iemand nie – nie gevare, nie vyande, nie armoede en benoudheid, nie peste of virusse ons van ons ewige verlossing beroof nie! God beloof aan almal wat aan Jesus behoort ewige heerlikheid en onsterflikheid en dis derduisende maal heerliker beloftes as die beloftes van die Ou Verbond!

Die samevatting en klimaks van Psalm 91 se heerlike boodskap kry ons in vers 16. “Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.” (OAV – letterlik vertaal) Hierdie beloftes is van toepassing op jou as jy aan Jesus behoort! 

God se ewige volledige verlossing in Jesus is onwankelbaar, onaantasbaar vas en seker! Ons ewige heerlikheid en verlossing word gewaarborg. 

Niks kan enige skade aandoen aan God se liefde vir ons en ons ewige erfenis nie. (Vergelyk Romeine 8:31-39) Covid-19 en selfs die dood hou geen bedreiging vir ons in nie, want dood is nie meer die einde nie, maar slegs die ingang in na ‘n ewige onsterflike heerlikheid by God! Psalm 91 word heerlik waar in die opstandingsoorwinning wat Jesus behaal het oor die dood en die opwekking van ons liggame.*** Dis beter as enige belofte van die Ou Verbond!

NASKRIF

Die hele Ou Testament moet verstaan word in die lig van Jesus en die Nuwe Verbond - dit geld vir al die wette, offers, instellings (sabbat, besnydenis, tempel...) en natuurlik ook die Psalms! Psalm 91 is geen uitsondering nie!


AANTEKENINGE

*Met erkenning aan Wyatt Graham se artikel “Does Psalm 91 Promise to Protect Us from Pandemics?” 

**Lukas 24:44 “Daarna sê Hy (Jesus) vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is."

***As dit vir jou onduidelik is, gaan lees gerus weer die triomfantelike 1 Korintiërs hoofstuk 15!

 



Vrydag 13 September 2019

VRY VAN DIE WET!


“Hoera! Nou kan ek darem lekker sonde doen!" 

[Dis ‘n algemene manier van dink, maar is dit wat die Woord ons leer?] 

GENADE EN SONDE 

In Romeine 6 is Paulus besig met ‘n uiters belangrike saak. Dit gaan oor die vraag of ‘n Christen maar kan aanhou sondig want God se genade het mos als vergewe? “Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem?” (1) En hierdie genade is oortreffend groot! Paulus se kort en kragtige antwoord : “Beslis nie!” Die feit van genade gee aan ons hoegenaamd nie ‘n vrypas tot sonde nie! Dan gaan hy aan en gee verskeie redes waarom dit ondenkbaar vir elke Christen sou wees om so te redeneer. (dat ek maar kan aanhou sondig omdat die genade groot is) 

ONS IS MOS VRY VAN DIE WET 

In die gedeelte Romeine 6:15-23 raak Paulus aan ‘n ander redenasie wat mense aanvoer om aan te hou sondig (en mens hoor hierdie redenasie vandag nog) – Dit is : “Ag, ons leef gelukkig nie meer onder die wet nie, maar onder die genade! Steel, leuens en egbreek is nie meer so erg nie, want ons staan mos gelukkig darem nie meer onder die wet van Moses nie!” 

Inderdaad is dit so. Ons staan as Christene van die Nuwe Verbond nie meer onder die Mosaïese wetgewing nie. Hieroor is Paulus baie duidelik : “Maar nou is ons vrygemaak van die wet, want ons het gesterf en staan nie meer onder die wet waardeur ons gebind was nie. Nou kan ons (God) dien in die nuwe bedeling van die Gees, nie in die ou bedeling van wetsvoorskrifte nie.” (Rom 7:6) 

Maar weereens beteken dit dat ons nou maar sonde mag doen? 

Wat is Paulus se antwoord, sy teenargument hierop?

Kortliks twee dinge: 

1.Onthou julle wat nou Christene is, was voorheen slawe van die sonde. Hierdie sonde was julle baas, julle kon nie daarmee ophou nie, julle was slawe. Ja, ons moet weet, die sondaar lyk baie gelukkig, natuurlik geniet hy dit, maar hy is ‘n magtelose slaaf. Jy dink jy doen sonde soos jy wil en lekkerkry, dis die teenoorgestelde – sonde is jou baas. ‘n Wrede baas! Jy kan nie daarmee stop nie! Die sonde lei tot allerlei ellende, jy sien waarheen dit gaan, jy sien die verwoesting en pyn wat dit veroorsaak, jy weet diep in jou binneste lei dit na die hel, maar jy is magteloos om anders te leef. So Paulus se argument teenoor Christene wat weer wil sondig, kom neer op :” Is julle nou mal? Wil julle weer teruggaan na die ou wrede baas? Elke deel van julle liggame was in diens van die wrede baas van sonde, julle was glad nie in God se diens. Nou is julle vrygespreek, begenadigdes , julle is mos nou dankbaar in God se diens. Julle is nou God se slawe. (18) Hoe kan julle so jul rug op God draai en weer na die ou baas toe teruggaan? Dit maak net nie sin nie!” 

Jy sien, Paulus gebruik ‘n bepaalde logika om Christene te waarsku en te probeer oorreed om nie weer terug te gaan na die sonde toe nie. 

2.Die tweede deel van die argument sluit nou aan by die eerste deel.Dink terug aan die gevolge van die sonde in jou vorige lewe. “Wat was die vrug wat dié dinge waaroor julle nou skaam kry, tóé vir julle opgelewer het? Die uiteinde van dié dinge is die dood.” (21) Paulus wil sê : (Onthou hy praat met reeds bekeerde mense) Dink bietjie terug aan die tyd toe julle onbekeerd was en slawe van die sonde was. Dink aan die dinge wat julle toe gedoen het. Wat was die gevolge van daardie dinge? Wat het daardie dinge julle in die sak gebring? Watter nut het daardie dinge gehad? Wat het julle gewen deur daardie dinge? 

Weereens Paulus sê nie maar net bloot, sonde is sleg nie. Hy maak ‘n appèl op ons logiese denkwyse. Logiese denkwyse is ‘n hulpmiddel in ons keuses, in ons stryd teen die sonde. Bekyk ‘n bietjie die saak van sonde naderby. Dink bietjie terug aan die dinge wat jy daardie tyd gedoen het en waaroor jy nou skaam is. (Terloops, ‘n mens wat nie skaam oor sy sonde is nie wys maar net dat jy nog totaal verlore is en hoegenaamd nog nooit die genade van God aanvaar het nie… As jy nog spog oor ou skelm planne, onsedelikheid ens., weet jy is op pad na die hel!) Christene is skaam oor hulle vorige leefstyl. Paulus sê nou ons moet terugdink daaraan en dit logies beredeneer… Wat was die gevolge van daardie sonde? Wat was die gevolge van my goddelose partytjies, my onsedelike leefstyl, my losbandige verhoudings en gebruike, my drankmisbruik, my leuens, my opstand teen my ouers… Ja, dink terug aan daai aand toe jy so dronk geraak het en jy ‘n onbesonne dwaasheid aangevang het, kan jy onthou wat was die gevolge? Die onherstelbare skade aan mense se lewens? Maak ook die skande wat jy oor God se naam gebring het? Dink bietjie terug aan ou sondige leefstyl, onthou bietjie die vrug daarvan… die hartseer, die huweliksverbrokkeling, kinders wat deur die trauma van egskeiding moet gaan, party weet nie eens wie hulle pa’s is nie, die skade aan ander mense se gesondheid, gemoed, eiendom en lewens, die skades en ellendes wat sonde in my eie lewe veroorsaak het… Dink aan die leegheid van sonde, die vrugteloosheid...watter ewige nut al daardie kortstondige plesier en jollery vir jou gebring? Was dit dinge waarop jy in die oordeelsdag trots op kan wees? En moenie vergeet nie, die uiteinde van daardie leefstyl is die ewige dood! Die poel van vuur, ewig weg van God af! Julle wat nou weer met sonde wil speel, kom nou, dink terug, bereken weer die gevolge… Die einde van die pad van sonde is die hel, al kry jy die welsprekendste dominee of pastoor om soetsappige stories op jou begrafnis te vertel! 

DINK LOGIES EN EERLIK! WAT HET DIE SONDE JOU IN DIE SAK GEBRING

HOU TOG OP DAARMEE! 

Paulus kom nou weer terug na God se kinders se huidige posisie. “Maar nou—julle is vrygemaak van die sonde en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe.” (6:22) Hy wil God se kinders aanmoedig : “Kom nou kinders van God, moenie dwaas wees nie. Julle is mos vry van die slawerny van sonde, julle dien nou die lewende God. Julle leef mos nou heilig en die einde daarvan is die lewe! Julle sien sonde en dood gaan saam, heiligheid en lewe gaan saam. Moenie deurmekaar raak nie!” Daar is twee duidelike opsies voor ons. Twee wyduiteenlopende en teenoorstaande opsies. Dit stel Paulus nou in ‘n kragtige klimaks kontras in vers 23. “Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.” Hy kies sy woorde fyn. 

Die loon van die sonde is die dood. Die noodwendige betaling, dit wat ek verdien as ek sonde doen is die dood. 

Die genadegawe (teenoor loon) wat God gee (teenoor sonde) is die lewe (teenoor dood) 

Kies die pad van genade! Dis ‘n geskenk ja, wat nie verdien kan word nie. Die pad van genade (die weg waarop genade ons lei) staan teenoor die pad van sonde. 

Genade kan nooit as verskoning vir sonde doen gebruik word nie. 

Kies die pad van die lewe! Die pad van die lewe staan teenoor sonde. Daar is dus geen verskoning vir enige kind van God om vrede te maak met sonde nie. Nee, ons moet daarteen baklei en dit deur die krag wat die Gees ons gee uitroei! (Romeine 8:13)

NS. As jy meer wil weet van Christelike vryheid binne die konteks van die Nuwe Verbond, kliek op NUWE VERBOND


Donderdag 29 Maart 2018

DIE GOEIE NUUS EN VOORREG VAN GOEIE VRYDAG

moet verstaan word binne die konteks van God se heiligheid! 



Wat ‘n aangrypende gebeurtenis vind ons hier in EKSODUS 24! Moses, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers bestyg die berg Sinaï en kom in die teenwoordigheid van God! Ja, hulle sien Hom en hulle het geëet en gedrink! As’t ware saam met die lewende God aan tafel. Natuurlik, dit was slegs moontlik nadat hulle met bloed besprinkel is! Drie groot sake vra ons aandag : 


1. God is angswekkend heilig en asemrowend heerlik! God is waarlik God. Heilig, hoog en verhewe. Dis ‘n kernboodskap in beide die Ou en Nuwe Testament. Ons as mense moet ons plek ken voor God en wegbly van alle arrogansie en hoogmoed. God gee hier die duidelike opdrag aan Moses : “As julle nog ver is, moet julle al voor My buig.” (1) God is nie ons speelmaatjie nie! Daar is geen plek vir die hedendaagse Amerikaansgedrewe familiariteit met God in die Skrif nie! Ons kan nie met ons onheiligheid en verwaandheid by Hom instorm en vir Hom hiet en gebied nie. Ons kan nie vir Hom beveel nie, Hy beveel ons! Hy alleen gee opdragte! Hy gee die gebooie waarvolgens Hy gedien moet word. God verwag gehoorsaamheid. Op God se bevel het Moses al die gebooie van die Here neergeskryf en dit aan die volk voorgelees. (4,7) Die hedendaagse rebelse en outonome mens wil mos self besluit wat reg en verkeerd is (selfs die definisie van wat ‘n huwelik is moet verander word....) - ons maak ‘n dodelik gevaarlike fout! God alleen mag besluit wat reg en verkeerd is en Hy alleen bepaal hoe Hy gedien moet word. God se heiligheid en heerlikheid word op verskeie maniere hier onderstreep. Sy heerlikheid word verberg deur ‘n wolk wat die berg omhul. Sy heiligheid lyk soos ‘n gloeiende vuur! (16,17) Vuur is meermale ‘n simbool van God se heiligheid in die Skrif. VUUR is verterend , gevaarlik, tog ook heerlik, suiwerend, helend! (Kliek op Brandende bos) Mag ons kennis neem : die ware God is ‘n angswekkend heilige God! 

2. God begeer gemeenskap en saamwees met sy mense. Dis wat so merkwaardig is : die groot heilig verhewe God verlang na gemeenskap met die klein sondige mens. Onbegryplik heerlik. God wil by sy mense wees en in ‘n verhouding met hulle staan. God het sy volk uit Egipte verlos en gelei met ‘n baie duidelike doel . Dit word duidelik uitspel dit in Eksodus 19:4-6. “‘Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het. As julle My gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal julle uit al die volke my eiendom wees, ‘n koninkryk wat My as priesters dien, en ‘n gewyde nasie. Die hele aarde behoort immers aan My.’ Dit is wat jy aan die Israeliete moet vertel." Hy het hulle op arendsvlerke gedra en na Homself gebring! Ja, om by Hom te wees! God soek reeds in die tuin van Eden toenadering tot die mens as Hy na Adam roep... God neem hier in Eksodus 24 ook die inisiatief en nooi uit : “Klim die berg op na My toe...” (1) God verlos vandag nog mense sodat ons in ‘n verhouding met Hom kan staan. Dis die uiteindelike doel waarop sy redding van sondaars afstuur. Dit word so mooi gestel in Openbaring 21:3 “Kyk, die woonplek van God is by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.” 

WEET DIT, GOD WIL OOK IN ‘N INNIGE VERHOUDING MET JOU STAAN! 

3. God maak self voorsiening dat sondaar mense saam met Hom kan wees en sy heerlikheid kan aanskou. Die eerste twee feite wat ons raaklees in hierdie gedeelte veroorsaak ‘n probleem. God is ontsagwekkend heilig, maar Hy wil in ‘n verhouding staan met mense. Die probleem is - hierdie mense is sondige mense! Dis die groot dilemma wat die Bybel vir ons stel, maar gelukkig ook self antwoord en oplos : Hoe kan sondaars in die heilige teenwoordigheid van God kom sonder om verteer te word en te sterf? Hoe vind ons genade by God? Die antwoord kom baie duidelik uit hierdie gedeelte (die antwoord is natuurlik die evangelie opsigself) : God maak in sy verbond voorsiening dat die sondes deur offers versoen kon word. Die verbond word deur bloed bevestig. Hierdie bloed is toe op die volk gesprinkel. Na die besprinkeling kon Moses en sy metgeselle die berg uitklim na die teenwoordigheid van God. 

Ons vind hier ‘n asemrowende en uitsonderlike opwindende gebeurtenis - ‘n verbysterende hoogtepunt.“Hulle het die God van Israel gesien ; onder sy voete was ‘n plaveisel van saffiersteen, so blou soos die hemel self. God het geen hand teen die leiers van Israel gelig nie : hulle het geëet en gedrink.” (10,11) 

Mense sien God! Hulle beleef God se teenwoordigheid op ‘n besondere manier. Die heerlikheid van God is natuurlik te groot vir ‘n sterfling om te verstaan en te beskryf - daarom word net gemeld van die plaveisel onder sy voete wat blou siersteen was. Baie belangrik : hierdie manne eet en drink in God se teenwoordigheid. Om saam met iemand te eet het besondere betekenis. Dis ‘n veelseggende teken van aanvaarding en opregte vriendskap en belangstelling! Dit word uitdruklik gemeld dat God geen hand teen hulle opgelig het nie! Hoekom is dit so buitengewoon en verdien dit spesiale vermelding? Dit beklemtoon net weer God se verterende heiligheid. Eintlik mag geen mens naby God kom sonder om te sterf nie, maar God laat hulle toe naby Hom kom op grond van sy groot genade, op grond van die bloed van die verbond waarmee hulle besprinkel is! 

Die bloed wat gevloei het tydens die sluiting van die Ou Verbond by Sinaï, was ‘n voorspel tot die kruisiging van Jesus, die Lam van God wie se bloed binne die konteks van die Nuwe Verbond volkome genoegsaam was vir al ons sondes en vir ons ewige toegang tot die heerlike teenwoordigheid van God bewerk het. 

Dis die boodskap van die heilige Nagmaal. Daar is net een manier hoe ons toegang kan kry tot die heilige God! Ons word gereinig deur die bloed van die Middelaar van die Nuwe Verbond, Jesus Christus. Dis evangelie! Die Goeie Nuus van Goeie Vrydag! Maar dit eis van ons dat ons Jesus se offer persoonlik gelowig moet aanvaar as genoegsaam vir my eie sondes. Dis die vereiste van Goeie Vrydag! Elkeen wat so gereinig is, deel ook in die voorreg van Goeie Vrydag naamlik ewige tafelgemeenskap met God. In Eksodus 24 is daar duidelike lyne wat deurloop na die Nagmaal. In die Nagmaal word die genoegsaamheid van Jesus se offer persoonlik, sigbaar en “proebaar” aan elkeen wat glo bevestig. “Dis vir julle!” In die Nagmaal beleef ons nou reeds tafelgemeenskap met die lewende Here as ‘n voorskou tot en ‘n voorsmaak van die ewige bruilofsmaaltyd van die Lam.

Geseënde Paasfees!!

Maak ook weer seker van die feite van die OPSTANDING wat die bevestiging is van die Goeie Nuus van Goeie Vrydag!

Vrydag 02 Junie 2017

WIND,VUUR,TALE…

- die Heilige Gees as die Groot Gawe van die Nuwe Verbond!



Ou Israel was ’n groot mislukking in hulle toewyding aan God.... Ons ken mos die geskiedenis. Gedurig het hulle afgedwaal na die afgode. Ander kere het hulle wel uiterlik die offers en wette nagekom, maar innerlik was hulle ver van God af. Die Ou Verbond het “misluk”. Dit lei later tot die oordeel van die ballingskap. Tog was dit nie die einde van alles nie. Die profete voorspel die totstandkoming van ‘n Nuwe Verbond. Jesus kom dan in die volheid van die tyd en beseël die Nuwe Verbond met sy bloed!



Jesus se sterwe , opstanding en hemelvaart is egter nie die finale heilsgebeurtenis nie. Jesus beloof die koms van die Heilige Gees! Hier in die tyd van Pinkster is dit weereens belangrik om te besef : die koms en werk van die Gees staan sentraal in die Nuwe Verbond. Hieroor is ‘n gedeelte soos Esegiël 36:25-27 baie duidelik: “Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.” In die profeet Jesaja word die metafoor van ‘n vrugteboord in ‘n woestyn gebruik om die oorvloedige werk van die Gees mee aan te dui... “totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn 'n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir 'n bos gereken.” (Jesaja 32:15)

PINKSTERDAG

Hierdie beloftes en baie ander is vervul op Pinksterdag (‘n oesfees!). Ons lees daarvan in Handelinge 2. In sy Pinksterdagpreek verwys Petrus na die profesie van Joël wat ook ‘n wye omvattende werking van die Gees voorspel het. Die Heilige Gees is dus die groot gawe van die Nuwe Verbond. Dis die Heilige Gees wat die verskil maak binne die konteks van die Nuwe Verbond. Opvallend is die drie waarneembare tekens waarmee die koms van die Gees gepaard gegaan het. Hierdie drie tekens kan ons aanvaar was nie maar toevallig nie. Die wortels en betekenis daarvan is reeds in die Ou Testament te vinde.

Die tekens :

~Rukwind

~Tonge van vuur

~Talewonder

Dit gaan nie hier oor die elemente as sodanig as iets wat ons moet probeer na-aap nie. Van belang is die heilshistoriese betekenis. Hoe pas dit in en wat is die betekenis van hierdie tekens in die ontplooiing van God se verlossingsplan? Maar ook wat is die praktiese implikasies daarvan vir ons? Wat sê die tekens oor die werk van die Heilige Gees vandag? En baie persoonlik, ondervind jy die werk van die Heilige Gees?

WIND. Wind en Gees het ‘n duidelike konneksie met mekaar. (Dis dieselfde woord in Grieks  - πνεῦμα) Dis uiters gepas dat die uitstorting van die Heilige Gees met ‘n sterk wind gepaard gaan. Hier in Handelinge 2:2 is ook ‘n ander konnotasie. Die woord vir wind wat hier gebruik word is πνοὴ* Dis dieselfde woord wat in die LXX (Griekse vertaling van die Ou Testament) asem van die lewe is wat God in Adam geblaas het. (Genesis 2:7) Dis die Gees, die asem van God wat lewe gee. Die Heilige Gees bring lewe, Hy skep nuwe lewe. Weet verseker as die Heilige Gees nie in jou werk nie, sal jy geestelike dood bly. Daar sal geen ware sondebesef wees nie. Nog minder sal jy die heerlikheid van Jesus raaksien en in Hom glo. Die funksie van die Gees word reeds deur die profete van die Ou Testament voorspel. Die lewend gewende krag van die Gees is baie sterk op die voorgrond in die visioen van die profeet Esegiël oor die vallei van doodsbeendere. “En Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, die HERE, dit gespreek en gedoen het, spreek die HERE." (Esegiël 37:14) Hierdie herlewing van die doodsbeendere was niks anders as ‘n herskepping nie. Die geluid van die wind op Pinksterdag was dus ‘n teken van die koms van die Gees van God wat geestelike dooies lewend sou maak. Mense wat totaal dood is in hulle misdade, geestelike lyke word lewend gemaak deur die wedergeboorte! Hierdie wind was as’t ware die asem van God wat hy in die nuwe verloste mensheid sou blaas. Dit was die begin van God se herskepping. Die Gees maak mense nuut. Kan jy hiervan getuig in jou eie lewe?

DIE GEES HERSKEP EN HERSTEL ONS AS BEELDDRAERS VAN GOD!

VUURTONGE. Vuur bring die gedagte van God se heilige teenwoordigheid en reiniging na vore. Ons kan aan verskeie voorbeelde uit die Ou Testament dink. God se heilige teenwoordigheid die berg Sinaï is aangedui deur weerlig. Die vuur en wolk oor die tent van samekoms het die heilige heerlikheid van God sigbaar gemaak in die midde van die volk Israel. In die heerlike bedeling van die laaste dae is elke gelowige nou ‘n tabernakel/tempel van God se teenwoordigheid. Dit het geweldige implikasies...!

Vuur simboliseer ook die verterende heiligheid van God. Sy heiligheid brand alles weg wat vuil, onrein en boos is. Die Heilige Gees in ons lewens lei tot ‘n reinigingsproses waar ons skoongemaak word. Die Heilige Gees gee lewe, maar daar is ook ‘n gevaarlike angswekkende kant van die Heilig Gees se werking. Hy is so heilig en suiwer dat alle kompromieë met sonde en valsheid ondenkbaar en onhoudbaar word in sy teenwoordigheid. 

Die vuurtonge het ook ‘n derde konnotasie. Lukas gebruik nie die woord “vlamme” nie , maar “tonge”. Waarskynlik doelbewus. Die Heilige Gees bring ons tot getuienis. Hy roer ons hart en spraak aan om te vertel van die wonderdade van God.

DIE GEES HEILIG ONS EN BEKRAGTIG ONS TOT GETUIENIS!

DIE TALEWONDER. Hierdie was nie bloot ekstatiese klanke nie, maar werklike tale sodat die skare wat in Jerusalem bymekaar was die boodskap van Jesus in hulle eie moedertaal kon aanhoor. Hierdie hoorders was mense wat bande met die Judaïsme gehad het. Hulle dien hier as verteenwoordigers van die verskillende volkere waaronder hulle gewoon het in hulle verstrooiing. Aan watter Ou Testamentiese gebeurtenis laat tale jou dink? Natuurlik aan Babel! Wat gebeur nou hier? Die taalverwarring by Babel word nou omgekeer. Die talewonder verteenwoordig presies die teenoorgestelde van wat destyds by Babel gebeur het. Daar het die verskil in taal mense verdeel, nou word almal verenig in die hoor van God se Woord. Die evangelie in die krag van die Gees bring ‘n nuwe mensheid, ‘n nuwe eenheid tot stand! Die gevolg van die taalverwarring as straf op die mens se arrogansie, hoogmoed en ongehoorsaamheid, was verstrooiing. Met Pinkster word hierdie oordeel omgekeer en kom God se omvattende genade na vore; mense word nou bymekaargemaak vanuit elke nasie onder die hemel - nie om ‘n monument tot eie eer op te rig nie maar om as verlostes tot eer van God te leef. Die groot oes tot God se eer word nou ingesamel...

SONDE EN DIE OORDELE DAAROOR BRING VERDEELDHEID, DIE GEES BRING DEUR DIE EVANGELIE ‘N NUWE MENSHEID EN NUWE EENHEID TOT STAND! 

OOK VIR MY!
Dis ‘n feit die Heilige Gees het gekom, maar ervaar jy Sy werking as ‘n werklikheid? Nie die tekens nie, maar die werklikheid wat daardeur gesimboliseer word. Nuwe lewe, heiligheid, krag om te getuig? Onthou die Heilige Gees is tot ons beskikking kragtens die Nuwe Verbond wat Jesus deur sy bloed beseël het! Ons hoef nie weer te misluk soos oud Israel nie. God is nie suinig met sy Gees nie! Wonder jy miskien of die heerlike verlossing deur Jesus en die gepaardgaande werking van die Gees ook vir jou bedoel is? Wel, hoor die duidelike boodskap van Petrus op Pinksterdag binne die konteks van die belofte van God in die laaste dae (die bedeling van die Gees) : “En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Handelinge 2:21) Die HERE is die Here Jesus, want die Heilige Gees is immers die Gees van Jesus (Handelinge 16:7 NAV) en dis die Heilige Gees wat ons beweeg tot die aanroep van sy Naam!

Hierdie belofte is ook vir jou!

*Genesis 2:7 in LXX 


καὶ ἔπλασεν ὁ θεὸς τὸν ἄνθρωπον χοῦν ἀπὸ τῆς γῆς καὶ ἐνεφύσησεν εἰς τὸ πρόσωπον αὐτοῦ πνοὴν ζωῆς καὶ ἐγένετο ὁ ἄνθρωπος εἰς ψυχὴν ζῶσαν

Handelinge 2:2 

καὶ ἐγένετο ἄφνω ἐκ τοῦ οὐρανοῦ ἦχος ὥσπερ φερομένης πνοῆς βιαίας καὶ ἐπλήρωσεν ὅλον τὸν οἶκον οὗ ἦσαν καθήμενοι