BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Gemeente wees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Gemeente wees. Wys alle plasings

Maandag 17 Oktober 2016

VERRE NOORD

- is nie te vêr vir God se genade nie.



Oshivelo, Oshakati, Oshikango… Ondangwa, Ongwediva, Onandjokwe… Omuthiya, Ombalantu... hierdie name spel : “Wamboland” en vir baie van  ‘n vorige generasie se manne : “Bosoorlog.” Wel, genadiglik is die oorlog verby, maar Oktobermaand in hierdie geweste beteken nog steeds : “Bloedig briesende hitte.” Dis byna sewe maal warmer hier as in Nebukadnesar se berugte oond. Die hitte het nie verander nie, so ook nie die donkies nie, maar verder amper alles. Dis nie meer die weermagbasisse, cuca winkels en stukkende karre wat die hoofrol speel nie. Oshakati-Ongwediva-Ondangwa is ‘n polsende stad met moderne winkelsentrums, robotte en ‘n stroom luukse motors op die oorvol paaie... Dis ‘n plek van uiterste kontraste – op ‘n sypaadjie voor die moderne Bank of Namibia gebou gee ‘n bokooi geboorte aan tweeling lammers, direk langs die besige teerpad word daar voor my oë (in die versengende hitte) ‘n bees geslag... ja, as jy dalk gewonder het, daar is nog steeds boomslaghuise in bedryf!






Owamboland is egter baie meer as net ‘n versameling eienaardighede en bedrywighede, dis die tuiste van die NG Gemeente Verre Noord. Dis ‘n gemeente met ‘n veelbewoë geskiedenis van saamstaan, opofferings, wonderlike genadeverhale, maar helaas ook van verwaarlosing, skokke, teleurstellings, baie groot nood... geestelik, maar ook andersins. Die afgelope paar jaar is die gemeente veral deur ‘n moeilike meul. Hartseer dinge het gebeur. Daar is seerkry. Huiwering. Onsekerheid. Vir ‘n geruime tyd is hier ook nie meer ‘n predikant nie. Strukture sal weer opgebou moet word. Een ding is wel seker, die gemeente is nog hier, want hier is steeds wonderlike gelowige (en bereidwillige) mense en die belangrikste – die Here van Sy kerk laat sy mense nooit in die steek nie!

Die gemeente is nou in ‘n tyd waarin daar opnuut oor die pad vorentoe besin moet word, maar veral gebid moet word. Dit was my voorreg om vir bietjie meer as ‘n week vier dienste (waaronder ‘n nagmaalsgeleentheid) hier te hou en ook persoonlik by ‘n hele aantal van die lidmate uit te kom.

Ons kon praat oor basiese Christenskap en gemeentewees (Kliek op BYBELSE CHRISTENSKAP), oor die belangrikheid van die gemeente as die draer en beskermer van die waarheid (1 Timoteus 3:14-16), oor die wonderlikheid van Jesus die Seun van Dawid wat sonde, Satan, dood en hel oorwin het! (Kliek op DAWID). Ja, God self het deur sy Seun ons sondeskuld uitgewis en nooi ons uit om na Hom terug te keer! (Kliek op UITGEWIS)

Bid asseblief vir die Koning van die kerk dat Hy aan hierdie gemeente ‘n herder sal skenk wat Sy skape met liefde sal versorg. Die behoefte aan en versugting na 'n leraar is baie groot - "ons is soos visse op land." ‘n Herder wat in die eerste plek God sal behaag en die waarheid in liefde sal verkondig sonder kompromie met die tydsgees van losbandigheid en ongeloof! Bid vir die gemeentelede, die getroues en vlytiges, maar ook vir diegene want eenkant en afvallig of wantrouig geraak het. Daar is hoop, want God is ‘n God van ‘n nuwe begin...




NS 1. Dankie aan almal in Wamboland wat my so vriendelik ontvang en sommer diep in mens se hart gekruip het...

NS 2. AS jy 'n staaltjie uit die ou dae in Wamboland wil deel, is jy welkom om dit onder OPMERKINGS te doen. As jy 'n woord van bemoediging tot die gemeente wil spreek, kan jy dit ook hieronder doen!



Hierdie miershoop in die ou deel van Oshakati is die resultaat van samewerking onder die termiete... Kom ons werk saam en bid saam vir Verre Noord gemeente!




Dinsdag 17 Junie 2014

ALTERNATIEWE GEMEENSKAP

- gevorm en bewerk deur die Gees van Jesus!

So dikwels is daar ‘n stryd in die kerk om mense betrokke te kry of dan nou om “fellowship” of "kononia" te organiseer. Baie moeite, planne en pogings, maar dikwels min resultate... Handelinge gee duidelike antwoorde en standaarde oor hierdie saak. Miskien wonder jy : “Maar is Handelinge ‘n realistiese eerlike boek?” Wel, Lukas is ‘n baie eerlike geskiedskrywer - hy vertel nie net die mooi dinge nie, maar ook hoe die heilige gemeenskap deur skynheiligheid ontsier is (Ananias en Saffira), hy vertel hoe etniese wrywing die heerlike eenheid bedreig het. Sy eerlikheid word nogal treffend bewys as hy selfs die spanning tussen die twee groot sendelinge Paulus en Barnabas beskryf.

Dis belangrik dat ons die moed sal hê om dus ook van ons kant eerlik na Handelinge te kyk en onsself en ons gemeentelike lewe in die lig hiervan te ondersoek en aan te pas. Johnson* sê dat Lukas sy beskrywing nie bloot bedoel het as ‘n nostalgiese retrospek van die goeie ou dae nie, maar eerder as ‘n patroon vir die huidige. Met ander woorde hierdie is ‘n patroon vir normale gemeente wees! (Natuurlik is daar ook uitsonderlike eenmalige gebeurtenisse in Handelinge wat nie net so vandag toegepas moet word nie. Leraars word nie almal deur die Gees getransporteer soos Filippus nie, ons hoef nie op die dak te gaan bid soos Petrus nie... Nou hoe weet ons wat normatief is vir vandag en wat nie? ‘n Eenvoudige reël is om die beginsels in Handelinge wat later in die vorm van opdragte in die Nuwe Testamentiese briewe aan gemeentes voorgehou word, as normatief vir die kerk van Jesus te beskou.... Opdragte oor gebed, liefde, versorging ens.)

So, wat sê Handelinge oor die praktyk van kerkwees as ‘n alternatiewe gemeenskap?

Grondliggend kan ons die kerklike praktyk in Handelinge saamvat as ‘n gemeenskap (fellowship) bewerk deur die Heilige Gees!

“Fellowship” is ‘n geykte term in Christen geledere, algemene woord, maar dit het heelwat van die betekenis soos ons dit in Handelinge vind verloor. Vir baie is dit sommer net bietjie gesellig saam wees. Maar daar moet tog meer in wees – ‘n klomp drinkebroers verkeer ook gesellig saam, nogal juis hulle... (dis nou voor die fight!) Gemeenskap van die gelowiges gaan egter veel dieper. Die fokus van ware gemeenskap is dit wat gelowiges in gemeen met mekaar het, dit wat ons met mekaar deel. Koinonia beteken om prakties die waarheid dat ons ledemate van een liggaam is, tot uitvoer te bring. Dikwels het hierdie begrip materiële en finansiële implikasies! 

Die opsommings van die kerklike lewe en groei in die eerste hoofstukke van Handelinge (byv. 2:43-47; 4:32-35; 5:12-16) bring ‘n paar praktiese aspekte van gemeenskap na vore. Dis: 

-Gemeenskap van gereddes. “En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.” (2:47b) Net mense wat gered is (m.a.w. saligmakend aan Jesus persoonlik verbind) kan waarlik deel van die kerk wees. Anders gestel : As ek aan Jesus verbind is, mag ek ook nie los wees van sy Kerk nie. God voeg my dan by sy gemeente! Die een Gees van Jesus woon in alle gelowiges – dit bind mense aan mekaar. Dis spontaan, dis Geesgewerk...(ons het nie eintlik iets soos Belhar daarvoor nodig nie...) Hierdie egte gemeenskap kan nie meganies geforseer of uiterlik afgedwing word nie. Ware gemeenskap begin dus by ware bekerings...

-Gemeenskap binne die konteks van die genade van God. “Die apostels het kragdadig getuig dat die Here Jesus uit die dood opgestaan het, en die genade van God was groot oor hulle almal.” (4:33) Dit sluit noodwendig aan by vorige punt. Die genade wat hulle aan hulle Verlosser gebind het, het hulle ook aanmekaar verbind. Gemeenskap van die gelowiges is net moontlik vir mense wat genade ontvang het en daarom ook genadig teenoor mekaar is. Omdat ons mense is met verskille in agtergrond, gewoontes en maniere is die potensiaal vir konflik en irritasie enorm groot in die kerk – daarom kan hierdie gemeenskap net werk as die beginsel van genade oorheersend is! Die gee van genade aan mekaar is die groot faktor wat ware fellowship, ten spyte van ons gebrokenheid moontlik maak. 

· Gemeenskap in die breking van die brood. Sonder twyfel was deel van ‘n normale maaltyd, maar dis ongetwyfeld wel ‘n spesifieke verwysing na die nagmaal in sy vroeë vorm. Die nagmaal is ‘n verbondsmaaltyd in die teenwoordigheid van die Here. Dit is ‘n viering van die Nuwe Verbond (Jeremia 31) en ego die verbondsmaaltyd wat by Sinaï in God se teenwoordigheid geëet is! (Eksodus 24:9-11) Wat ‘n geweldige gebeurtenis! (kliek op TOEGANG)  Die ooreenkoms met die nagmaal is opvallend. Nadat versoening deur die besprinkeling van die bloed bewerk is, mag hierdie groep persone in God se teenwoordigheid aansit vir ‘n maaltyd. Ten volle met God versoen, aanvaarbaar by God en in gemeenskap met Hom en met mekaar... Verbysterend heerlik! Die heiligheid en belangrike rol van die nagmaal moet nie onderskat word nie. Dis iets wat geen Christen sommer ligtelik mag misloop nie!

· Gemeenskap in gebed. Die nuwe bekeerlinge het voortgegaan om in die tempel gebed en lofprysing aan God te bring. Gebed was deel van die algemene ritme van die gemeente. (3:1) Dit gaan egter oor iets dieper as die gebed in ‘n gebou... Die gemeente, die gelowiges is die nuwe heiligdom, die huis van gebed vir alle nasies. (Jesaja 56:7) Later is die gebruik van die tempel uitgefaseer. Die natuurlike en instinktiewe reaksie van die gemeente is om hulle tot gebed te wend wanneer daar besluite geneem moet word (soos die kies van ‘n apostel) en wanneer daar ‘n krisis is. (4:23-31). As ‘n gemeente nie saam bid nie, kan ons dus nie praat van ‘n gemeenskap van die gelowiges nie. 

“Fellowship” gaan nie net oor saambraai nie, maar veral oor saambid!

· Gemeenskap op materiële vlak. “Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte.” (2:44,45) Christelike koinonia behels ook iets meer as die belegging van ons aandag en tyd in mekaar se lewens, dit behels ook die belegging van Rand en sent in die praktiese omstandighede van hulle wat nood het. Nie verpligte kommunalisme nie, maar Geesgedrewe opoffering vir mekaar. Hierdie tasbare aspek van fellowship word pragtig uitgelig in die Filippense brief. In Filippense 1:5 dank Paulus hulle vir hulle gemeenskap aan die evangelie. Dit het hier ‘n duidelike finansiële konnotasie. Dis duidelik as ons dit in verband sien met Filippense 4:15. Ons sal die implikasies hiervan in integriteit voor die Here moet uitwerk, ook op ‘n globale skaal. Christen liefde en gemeenskap het baie te maak met oop beursies! (1 Johannes 3:17)

Dis onaanvaarbaar dat sogenaamde Christene is monsteragtige groot paleise bly, terwyl broers en susters rondom hulle van honger krepeer!


IS DIT REGTIG MOONTLIK?

Hoe het die eerste gemeente hierdie gemeenskap reggekry? Ons sê so maklik : “Dit was ander tye, vandag leef ons in baie moeilike omstandighede!” Twak! (as jy lopende water in jou huis het, is jou omstandighede regtig nie so moeilik nie...miljoene het nie daardie voorreg nie!) Die kerk van Handelinge het beslis ook nie in idilliese omstandighede gefunksioneer nie! Dieselfde sonde en versoekings as vandag was destyds maar ook teenwoordig. Daar was inderdaad mense in die vroeë kerk wat agter die verleiding van die rykdom aangegaan het. (Demas) Dieselfde ekonomiese krisisse as wat mense vandag beleef - hongersnood in Jerusalem. Dieselfde verdelende faktore soos etnisiteit (6:1) en die skeiding tussen ryk en arm. So hoe het hierdie gemeenskap gerealiseer? Drie onmisbare faktore maak hierdie innige gemeenskap prakties moontlik :

Dit was die gevolg van die werk van die Heilige Gees en gehoorsaamheid aan die Gees. Paulus praat van die gemeenskap van die Heilige Gees. (2 Korintiërs 13:13) Lukas noem dit nie direk so nie maar die konteks maak dit duidelik dat hierdie gemeenskap ontstaan het weens die werk en gawe van die Heilige Gees. Hy verwys na die vrug van die Heilige Gees in hulle lewens- “eendragtig.” Daar is geen ander verklaring vir die eenheid onder hierdie groep mense nie as die werk van die Heilige Gees.

· Hierdie mense is ten spyte van hulle verskille saamgebind deur die waarheid. ‘n Gemeenskaplike passie vir die waarheid. Eenheid gebou op die waarheid. Dis die evangelie waarheid wat deur die apostels verkondig is. (2:42)

En onthou sommer ook...

In Handelinge kry ons ‘n duidelike beeld van ‘n aspek van Nuwe Testamenties Christenskap wat vir baie ‘n onbekende saak geword het. “Bybelse Christenskap is Christus gesentreer en gemeente gebaseer” (Albert Martin ) Nie ‘n klomp los individue wat elkeen die Here dien soos hy of sy wil nie! 

In die "laaste dae" (die tyd wat aangebreek het met Jesus se eerste koms en die uitstorting van die Gees!) gaan dit oor die herstel van die harmonie wat tydens die sondeval skipbreuk gely het. Nie net wat betref die verhouding met God nie, maar ook met mekaar. Hierdie herstelde verhouding word veral binne gemeente verband gedemonstreer en uitgeleef.

Gemeenskap (fellowship) in Handelinge is diepgaande, lewenskragtig, eg en baie belangrik - dis duur, dit kos baie, dit vra baie! ( in terme van tyd, geld en prysgawe van eie belange en eie programme) Maar dis die wil en bedoeling van God vir Sy kerk!

*Johnson se skitterende boek, “The Message of Acts in the History of Redemption” is die basis vir hierdie Pinksterreeks.  Om na die begin van hierdie reeks te gaan kliek op PINKSTER 2014

Maandag 01 Oktober 2012

LIEFDE DEUR DIE LIGGAAM

- Jesus is so aktief op aarde.

Die kinders van God op aarde vorm saam een liggaam.  Dis ‘n diep Bybelse  waarheid, met geweldig heerlike praktiese implikasies.
Dis nie maar net ‘n mooi teorie nie. As julle my sal verskoon om persoonlik te raak : ons het hierdie waarheid die afgelope tyd (met my Pa se afsterwe en begrafnis) op ‘n besonder positiewe manier beleef. In die ondersteuning, meelewing en sorg wat ons ontvang het van ons eie gemeente, die NGK Tsumeb, maar ook van die NGK Kerk Meersig in Walvisbaai en van ‘n ryke verskeidenheid van God se kosbare kinders. Kom ons dink bietjie oor hierdie belangrike saak vanuit die bekende 1 Korintiërs 12.*  Ons kyk na ‘n paar feite oor die liggaam, ‘n paar foute wat reggestel word as ons die realiteit hiervan besef,  en die voorreg en vreugdes wat deelwees van die liggaam meebring...

FEITE 

Kinders van God vorm nie net ‘n liggaam in die algemene sin van die woord nie, maar  spesifiek die liggaam van Jesus Christus  op aarde. (12;27) Dis ’n feit.  Ja, Jesus het opgevaar hemel toe, maar in ‘n sekere sin is Hy steeds daagliks sigbaar en tasbaar hier op aarde  teenwoordig. Natuurlik deur sy Heilige Gees, maar ook in die sigbare gestalte van die ware kerk. 

Die oomblik as jy wedergebore word, word jy deel van die liggaam van Jesus. Dit raak sigbaar en formeel bevestig as die Here jou by ‘n  gemeente voeg. (Handelinge 2:47) En wonderlik, so  is Jesus self  betrokke deur jou. 

Jy word inderdaad ‘n kanaal van Jesus se liefde!

Ons moet die kerk as liggaam van Jesus ernstig opneem. Vir Jesus self is dit geen geringe saak nie. Ons kry ‘n treffende bewys hiervan  as Jesus die onbekeerde Paulus oppad  na Damaskus ontmoet en konfronteer : “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” (Ons weet Paulus het nooit eers vir Jesus op aarde gesien nie. Hy het wel die kerk vervolg en Jesus beskou dit as vervolging van homself.) Dis duidelik : Wat jy aan die kerk doen, doen jy aan Jesus, wat jy vir die kerk voel, voel jy vir Jesus - dis sy liggaam!  Ons durf nie Jesus losmaak van sy kerk nie. 
Dis onmoontlik om te sê : “Ek neem Jesus ernstig op, maar ek voel nie veel vir sy liggaam nie.”  Dis absolute onsin om te beweer :“Ek het Jesus lief”, maar ek het nie Sy liggaam die gemeente lief nie. Of, “ek het Jesus lief”, maar ek beoefen my totale Christenskap voor die TV as ek daar na ‘n diens kyk en ek wil nie by ander kinders van God betrokke raak nie.

Twee verdere belangrike feite oor die liggaam word hier uitgelig : Eenheid en diversiteit. Anders gestel : ons is ten nouste saamgebind, maar ons is nie presies dieselfde nie, ons verskil in baie opsigte. 

Die eenheid word beklemtoon deur die feit dat ons met dieselfde Gees  gedoop is en dat alle kinders van God dus deur dieselfde Gees deurdrenk word. Dis so heerlik! As ek ‘n kind van God is, woon die Heilige Gees mos  in my. As jy ‘n kind van God is woon die Heilige Gees ook in jou - dis dieselfde Heilige Gees. Hy is een.  So ontstaan daar ‘n diep band van eenheid tussen God se kinders. Dis groter en sterker as kulturele of selfs familiebande.  Hierdie eenheid is dus nie ‘n kunsmatige geforseerde saak nie, maar ‘n bonatuurlike band en eenheid wat deur die inwonende Heilige Gees bewerk word!

Maar daar is ook ‘n heerlike en nuttige diversiteit in die liggaam van Jesus. (14) Dis nie maar ‘n toevallige verskynsel nie, dis deel van die essensie van liggaam wees. Dis ‘n onontbeerlike noodsaaklikheid. Geen enkele lid kan volledig liggaam op sy eie wees nie!  Immers hoe lank dink jy sou ‘n oog of hand op sy eie kon oorleef? Die verskillende gawes en funksies in die liggaam moet ons nie jaloers maak of minderwaardig laat voel nie, maar laat juig!

FOUTE

As ons die feite oor Jesus se liggaam ernstig opneem sal dit ons van ten minste twee foute of  bose sienings bewaar. Aan die eenkant  van hoogmoed en baaspelerigheid. Ek durf nie myself bo ander lede met ander funksies en gawes ag nie. Ek mag onder geen omstandighede hoogmoedig raak oor die gawes wat ek ontvang het nie, want die Here het vir elkeen van sy kinders gawes gegee om ‘n spesifieke rede. Wat my gawe ookal is, ek het dit ontvang om die res van die liggaam te dien. Die oog kyk nie net ter wille van homself nie, maar hy kyk juis sodat die hand en voet hulle werk kan doen. Ons gawes is bedoel vir diens aan ander en nie om ons eie eggo’s op te pomp nie. (Vgl. 1 Petrus 4:10) Geen leraar mag ook dink : "Hierdie is my kerk nie" Nee, dis bloot 'n deel van die liggaam van Christus ir wie ek moet bedien!

Die feit van die verskeidenheid van gawes moet ons ook bewaar van minderwaardigheid en gevolglike onbetrokkenheid. As jy deel van die liggaam is, het jy beslis ’n funksie. Net soos ’n oor, oog, been, hand vanselfsprekend elkeen ’n werk het, kry jy onmiddellik ’n werk en ’n plek in die gemeente, die oomblik as jy deur die geloof aan Jesus verbind word. Dis daarom nie ‘n kwessie  of jy ’n werk het nie, jy het dit, miskien voer jy dit nog net nie uit nie! Miskien is jy in opstand teen jou taak. 

As ons nie erns maak met ons plek en funksie nie, is daar twee ernstige negatiewe gevolge. Dit gebeur ongelukkig elke dag voor ons oë!

Onbetrokkenheid het ernstige gevolge vir die liggaam. As ’n enkele liggaamsdeel disfunksioneel word, is daardie hele liggaam gebreklik en minder effektief. Ander dele word ook oorwerk, moedeloos of raak geestelik siek weens jou afsydigheid. Ons lewer dan maklik kritiek oor die gemeente wat dit of dat verwaarloos, maar dis dan al die tyd my eie skuld dat die liggaam nie behoorlik funksioneer nie!

Onbetrokkenheid het ook ernstige gevolge vir jou as onaktiewe liggaamsdeel. Ons weet as ‘n liggaamsdeel nie meer gebruik word nie soos byv. ‘n been wat baie lank in gips is, atrofeer dit. Dit krimp sommer weg! Onbetrokke lidmate, raak dikwels heeltemal weg en uiteindelik los van Jesus self! 

Weet dit : 

As jy onbetrokke in die gemeente is, verkeer jy in gevaar!

VOORREG EN VREUGDE

Dis ‘n groot voorreg en geleentheid om deel te wees van Jesus se liggaam. Alles wat jy as Christen in gehoorsaamheid aan Christus doen is belangrik. Jy vervul so ‘n praktiese funksie van Jesus namens Hom, as deel van sy liggaam. Sterker gestel : Jy, ja, jy broer en suster  is vir iemand anders Christus se stem, hande, voete... Prakties gesê : As Jesus een van sy mense (‘n ander deel van die liggaam) met kos wil bedien, laat val Hy dit nie uit die lug nie. Hy stuur iemand soos jy met ‘n mandjie. As  Jesus een van sy volgelinge wil troos, stuur Hy jou om jou arms om daardie persoon te slaan. (jy word Jesus se arms) As Jesus ‘n boodskap van bemoediging of waarskuwing aan ‘n medegelowige wil oordra, gebruik hy gewoonlik nie ‘n engelkoor nie, maar jou menslike stem. Jy is Jesus se stem. Wat ‘n vreugde om te kan weet dat ek ‘n verlengstuk is van Jesus se aksie op aarde! Dit gee sin aan die lewe. Maar dit gaan ook verder. Jy gee namens Christus, maar jy ontvang ook soveel van Hom via sy liggaam. Die gemeente as liggaam van Jesus  beskerm en voed en ondersteun jou. So beleef jy dan hoe Jesus Christus self jou versorg, beskerm, bedien...sy liefde is ‘n daaglikse realiteit in die liggaam.

Is jy werklik al deel van die liggaam van Christus? Is jy besig om jou God bepaalde funksie te verrig?

*Hierdie is net enkele praktiese gedagtes en nie 'n volledige uitleg van die betrokke hoofstuk nie.


Broers in die Here van NGK Meersig in Walvisbaai, vir wie ons beleef het as die hande en voete van Jesus. Dankie, Wynand, ds.Peet en Pieter!