BESLUIT
DIE KERKRAAD VAN
DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK OTJIWARONGO HET OP ‘N BUITENGEWONE
VERGADERING GEHOU OP DIE 13DE OKTOBER 2015 DIE VOLGENDE BESLUIT GENEEM:
ONS STANDPUNT TEENOOR DIT WAT DIE
PAS-AFGELOPE ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERKVERBAND BESLUIT HET OOR
SELFDE-GESLAG-VERHOUDINGS (Bewoording met vergunning aan die NG Kerk
Moreletapark).
1. Ons
is oortuig dat die Skrif ons leer dat ‘n huwelik die lewenslange verbintenis
tussen een man en een vrou is, wat mekaar met die liefde van Christus versorg.
Ons aanvaar dat die enigste wyse waarop ‘n Christelike huwelik tot stand
kom is tussen een man en een vrou waar Christus in die middelpunt is.
2. Ons
glo dat die Skrif daaroor duidelik is dat alle seksuele verhoudinge buite die
huwelik teen God se wil en plan is.
3. Ons
glo dat die beoefening van homoseksualiteit teen God se wil en plan is soos
alle ander sondes waaroor die Skrif praat. Vir al hierdie sondes is daar
vergifnis en vrymaking deur die bloed van Jesus Christus.
4. Die
gemeente se deure staan met die liefde en deernis van Christus oop vir alle
mense. Wanneer ‘n persoon egter in enige sonde volhard kan hy/sy nie in ‘n
leiersposisie (leraar, personeel, bestuurslid, bedieningsleier of aanbieder)
in ons gemeente dien nie.
5. Ons
wil steeds as kerk die oop arms van Jesus wees wat vir alle mense genade,
vergifnis en heling bied.
WAT ONS NOU
PRAKTIES TE DOEN STAAN.
1.
Die
Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo verbreek onmiddelik alle bande met
die Algemene Sinode van die NG Kerk in Suid-Afrika.
2.
Die
Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo behou voorlopig kerkverbandelike
verbintenis met die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië. Die
eersvolgende sinode van die Nederduitse Gereformeede kerkverband in Namibië sal
bepaal of die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo haar verbintenis met
die NG Kerkverband in Namibië sal handhaaf al dan nie.
(Nota: Die Nederduitse Gereformeerde Kerk
Otjiwarongo betreur die feit dat die afgevaardigdes van die NG Kerkverband in
Namibië die landswette van Namibië moes voorhou as rede waarom nie akkoord
gegaan kan word met die besluite van die Algemene Sinode nie. Die Nederduitse
Gereformeerde Kerk Otjiwarongo sou verkies dat enkel en alleen op suiwer
Bybelse beginsels gestaan sou word wanneer die NG Kerkverband in Namibië se
betrokkendheid by die AS se besluit, oorweeg word.)
3.
Die
Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo staak met onmiddelike effek alle
finansiële bydraes aan die Algemene Sinode. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk
Otjiwarongo gaan wel huidiglik voort met sy finansiële bydraes aan die
Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië met die duidelike en
pertinente voorwaarde dat geen deel van hierdie bydra aan die Algemene Sinodale
Verband oorbetaal mag word nie. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk Otjiwarongo
vra dat die Nederduitse Gereformeerde Kerkverband in Namibië via sy sinodale
kantoor asseblief aan ons die versekering sal gee dat geen so ‘n oorbetaling
aan die Algemene Sinode gedoen sal word nie. Indien die Nederduitse
Gereformeerde Kerkverband in Namibië dit nie moontlik vind om aan die NG Kerk
Otjiwarongo se versoek te voldoen nie, sal die Nederduitse Gereformeerde Kerk
Otjiwarongo verplig wees om voorlopig sy finansiële bydraes aan die Nederduitse
Gereformeerde Kerkverband in Namibië te staak tot tyd en wyl die NG Kerkverband
in Namibië se standpunt betreffende selfde-geslag-verhoudings bekend is. In so
‘n geval sal die NG Kerk Otjiwarongo die betrokke betalings in ‘n aparte
rekening deponeer, en indien die NG Kerkverband in Namibië dan wel uiteindelik
aandui dat sy die weg van God se Woord gaan volg betreffende
selfde-geslag-verhoudings, sal die teruggehoude gelde dan volledig aan die NG
Kerkverband in Namibië oorbetaal word (So ‘n besluit deur die NG Kerkverband in
Namibië sal vanselfsprekend beteken dat die NG Kerkverband in Namibië haarself
losmaak van die Algemene Sinodale verband in SA). Indien die NG Kerkverband in
Namibië egter sou besluit om in die spore van die Algemene Sinode te volg, is
dit vanselfsprekend dat die NG Kerk Otjiwarongo ook sy bande met die NG
Kerkverband in Namibië sal verbreek.
Nota: Daar moet baie sorgvuldig in gedagte gehou word
dat volgens die basiese beginsels van die Skrif en die gereformeerde kerkreg is
die plaaslike kerk (gemeente) volwaardige kerk. Christus is die enigste Hoof en
Hy regeer sy kerk deur sy Woord, Gees en die ampte. Die kerkverband kom voort
wanneer twee of meer plaaslike kerke op ‘n bepaalde beginsel-grondslag met
mekaar in verband tree. Daardie beginsel-grondslag word in die kerkorde
omskryf. Die kerkverband hanteer dan ook alleenlik daardie sake wat van
gemeenskaplike belang is en wat nie sinvol deur die plaaslike kerk alleen
gehanteer kan word nie. Dit is verder ook belangrik om altyd in gedagte te hou
dat daar binne die gereformeerde kerkreg en verstaan van kerkwees geen sprake
is van hierargie nie. Die ring is nie ‘n hoër vergadering as die kerkraad nie,
en die sinode is ook nie ‘n hoër vergadering as die kerkraad en die ring nie.
Die ring is wel ‘n meerdere vergadering as die kerkraad, en die sinode is ‘n
meerdere vergadering as die kerkraad en die ring. Dit beteken dat op ‘n
ringvergadering is daar meerdere ervaring en kennis van die Skrif teenwoordig
as op ‘n kerkraad en eweneens so op die sinode as op ‘n kerkraad en ‘n
ringsvergadering. Wanneer ‘n ring en/of ‘n sinode egter kennelik en duidelik
wegbeweeg van die Skrif af (soos wat nou gebeur het met die Algemene Sinode)
dan verloor daardie vergadering onmiddelik en logies sy status as meerdere
vergadering, en het die kerkraad (plaaslike Kerk) die reg om sy posisie
betreffende die betrokke meerdere vergadering in heroorweging te neem. Ons is
immers daartoe verbind om eerder aan God gehoorsaam te wees as aan mense (Hand.
4: 19 en Hand. 5: 29).
[Omatako - sinoniem met Otjiwarongo]
Lees ook : Waarom is dit belangrik om standpunt in te neem? Kliek op SKANDE
En lees ook : DANKIE DOPPERS!
En lees ook : DANKIE DOPPERS!
