BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Sekerheid van Verlossing. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Sekerheid van Verlossing. Wys alle plasings

Donderdag 14 November 2019

WIE?

WIE SE SAAK MET GOD IS REG? 

 Wie mag die Nagmaal gebruik en so sy verlossing vier? Met ander woorde, wie se saak is reg met God? Wie word deur God self as ‘n regverdige beskou? Jesus self gee ‘n duidelike en radikale antwoord in LUKAS 18:9-14. Dis ‘n pynlike, skokkende antwoord wat baie kerkmense en vroom godsdienstige siele aan hulle Paasbolletjies en Kersmaaltye sal laat verstik! Aan die anderkant is dit juis ‘n antwoord wat vir hopeloses, moedeloses en gebrokenes hoop gee. Vir hoogmoediges en selfversekerdes is dit ‘n wrede ontnugtering; maar vir geestelike bedelaars is dit inderdaad evangelie! 

Jesus het ‘n baie spesiale doel waarom Hy hierdie gelykenis vertel : Sy doel is om mense te ontmasker en te waarsku wat op hulleself vertrou dat hulle saak met God reg is! Dis nou almal wat op hulle eie geestelike en morele bates staatmaak om in die koninkryk in te gaan. Veral mense wat hulleself met ander vergelyk en daarom seker voel van hulle saligheid. 

“En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel.” (Lukas 18:9 OAV) 

TWEE MANNIE IN DIE TEMPEL 

Daar is ‘n duidelike ooreenkoms tussen hierdie twee manne. Altwee gaan na die tempel om te bid. Altwee glo in God. Altwee (soos alle mense) is sondaars. Die een weet dit net nie! Maar dis waar die ooreenkoms ophou. 

Daar is inderdaad diepgaande verskille tussen die twee. Dit moet noodwendig tot twee uiteenlopende toestande lei. Uiteindelik twee verskillende ewigheidsbestemmings! 

HOE VERSKIL HULLE? 

Wat betref hulle opinie oor hulleself: 

Die fariseër het baie selfvertroue en voel goed oor homself.  Hy het 'n valse geloofsekerheid gehad! Hy was seker van die hemel, maar bestem vir die hel! Dit word duidelik dat sy geloof eerder in homself is as God! Sy goeie selfbeeld sou kon doen as ‘n handboekvoorbeeld vir elke plaaslike, Amerikaanse of Nigeriese welvaartsprediker! 'n Ware trofee vir die beste lifecoach!

Die tollenaar het geen goeie selfbeeld of selfvertroue nie. Hy voel bitterlik sleg oor wie hy is! In mooi taal – hy mishaag homself! 

Die fariseër vergelyk homself met ander en hoe meer hy dit doen hoe meer neem sy selfvertroue toe. Hy raak so liries oor homself, hy is eintlik besig om homself te aanbid! 

Die tollenaar probeer homself nie eers met ander vergelyk nie, Hy sien homself net as sondaar voor God en dit stroop hom van alle selfvertroue! Sy hele houding, lyftaal en woorde vertel net een ding : diep berou en hartgrondige sondebesef. (13) "Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’ 

Wat betref die basis van hulle vertroue: 

Die fariseër vertrou op homself. Dit lyk of hy inderdaad rede het...Hy het ‘n indrukwekkende geestelike batelys. (Baie soos Paulus voor sy bekering waarvan hy later in Filippense 3 vertel) Hy is volgens alle uiterlike standaarde ‘n vroom man wat God se wette ernstig opneem. (11) En dis reg, ons moenie hierdie verkeerde dinge doen nie. Verder....hy kom die regte godsdienstige pligte na... (12) Hy vas, gee tiendes... En dis inderdaad goeie en belangrike dinge! Onthou, Jesus veroordeel nie die fariseër omdat hy vroom is nie, maar omdat hy op sy vroomheid staatgemaak het! 

Die tollenaar is geestelik bankrot. Hy het niks goeds om oor homself te sê nie. Niks om op trots te wees nie. En hy probeer nie eens om verskonings vir sy verkeerde gedrag uit te dink nie. Hy noem homself eerlik net “‘n sondaar” sonder enige versagtende beskrywings... (LW – daar staan nie “arme” sondaar nie!) Onthou, Jesus prys die tollenaar nie omdat hy so vol sonde is nie, maar omdat hy op God se genade staat gemaak het. 

Altwee is sondaars. Die fariseër besef dit nie. Die tollenaar is diep daarvan bewus. Dis eintlik al wat hy oor homself kan sê!

Altwee is sondaars. Die fariseër dink egter dat sy goeie dade homself laat kwalifiseer vir die koninkryk. Volgens sy self opgestelde geestelike balansstaat oortref sy goeie dade sy slegtes! Die sondaar besef hy het geen kwalifikasies nie. Hy is bankrot voor God. Sy enigste hoop is op God se genade! 

EWIGHEIDSVERSKIL

Die belangrikste verskil is : Die tollenaar gaan daar weg as ‘n regverdige. Hy word deur God self vrygespreek! Die fariseër nie. Dis die allerbelangrikste verskil, dis ‘n ewigheidsverskil! Daar is eintlik maar net twee soorte mense. Daar is ‘n duidelik skeidslyn. Onwedergebore en wedergebore. Kind van die hel, kind van God. 

WEERGEBORE?

In die fariseër se houding en woorde sien mens die duidelike eienskappe van iemand wat nie weergebore is nie. Wat is dit? Hy bid wel tot God maar sy eintlike vertroue is op homself, sy moraliteit en sy godsdienstigheid! Hy vind troos in homself dat hy goed genoeg is om nie hel toe te gaan nie. 

 Die beroemde Amerikaanse teoloog, Jonathan Edwards* het gesê: “Almost every natural man that hears of hell, flatters himself that he shall escape it!” Dis so waar - onwedergebore godsdienstiges troos hulleself oor die algemeen– “Ek is darem nie so sleg dat ek hel toe sal gaan nie…” 

In die tollenaar se houding en woorde sien mens die duidelike tekens van wedergeboorte: Bewustheid van sonde en eie onwaardigheid. Vertroue op God! Hy weet hy verdien die hel. Daarom is sy vertroue alleenlik op die genade van God. Die genade wat God ons deur Jesus skenk. Voortdurende besef van sonde en hartseer erkenning van my onvolmaaktheid is duidelike tekens van die Gees se genadewerking in ‘n mens se lewe. Daarmee saam ‘n afhanklike vertroue op Jesus deur wie ek God se genade kry. 

Die tollenaar is ‘n geestelike bedelaar en volgens Jesus is dit die basiese vereiste om deel te kry aan die Koninkryk van God! (Matteus 5:3) 


DIE VEILIGSTE PLEK 

Die veiligste plek is om jouself plek as sondaar voor God se genadetroon in te neem! Om jouself te verneder. (14) Miskien is jy vol onsekerheid… Ja, jy weet jy het lank gelede jou lewe vir Jesus gegee… Maar jy het dalk baie afgedwaal, dalk lou geword, beleef baie twyfel, baie mislukkings agter die rug... Jy wonder dalk diep binne in jou hart of jy waardig is om die nagmaal te vier… Jy smag na die Here God se teenwoordigheid, maar jy weet nie hoe om by hom uit te kom nie... Wat staan jou te doen? 

Charles Spurgeon het ‘n baie kosbare verhaal in die verband vertel. (aangepas) Dis van die edelman wat ‘n baie goeie verhouding met die koning van die land gehad het. Maar iewers het dinge begin skeefloop. Hy wou so graag weer die koning sien, maar hy kon dit net nie regkry nie. Daar was altyd een of ander probleem of struikelblok. Toe kom hy te hore dat die koning ‘n reuse partytjie in die paleistuin vir al die stad se bedelaars en boemelaars gaan aanbied. Die uitnodiging was baie duidelik : “Almal is welkom!” En net daar kry die edelman ‘n plan! As ek dan nie my koning kan sien as edelman nie, gaan ek nou na die byeenkoms as bedelaar! Bedelaars, alle bedelaars is mos uitgenooi! So gaan ontmoet hy weer die koning as bedelaar in sy vodde en so word die verhouding herstel! 

Die punt is : 

As jy nie meer weet of jy as kind van God voor Hom kan verskyn nie, kom as sondaar! Eerlike gebroke sondaars vol berou is altyd welkom by God. 

Kom as sondaar na God op grond van Jesus se verdienste, sy volmaakte kruisdood… Sondaars wat berou het en uitroep om genade sal nie weggewys word nie! Dis die regte houding, maar ook die vertroue waarmee ons die Nagmaal gebruik! Dis ook ‘n drastiese keuse. KOM! KRY BEROU! VERTROU! Kom nou in kinderlike vertroue na Jesus. Hy nooi jou! “Die Gees en die bruid sê: "Kom!" En elkeen wat dit hoor, moet sê: "Kom!" En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17)

Dis met die gesindheid van die tollenaar waarmee ons na die Nagmaalstafel kom. Dis die regte gesindheid!

*Hierdie aanhaling sowel as heelwat ander gedagtes het ek by Nico van der Walt gekry.

Woensdag 12 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (5)


- Maak jou roeping en verkiesing vas deur te DOEN! 



Sal ek die hemelse eindpaal bereik? Hoe weet ek die Here self het my geroep om sy kind te wees? Hoe kan ek seker wees dat ek ook uitverkies is? Hoe kan ek groei in heiligheid? Hoe moet ek volhard? Die Woord van God antwoord vir ons hierdie vrae op baie praktiese wyse. 

Kom ons kyk verder wat sê die apostel Petrus : “As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken. 
Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is. Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. 
En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.” 2 Petrus 1:8-11 

Dis baie duidelik Petrus praat nie hier van valse Christene en onbekeerde mense nie. HY verwys immers na “reiniging van vroeëre sondes ” Hy praat met Christene. Wat sê hy vir Christene oor sekerheid van ons bestemming? 

Moenie gaan stilstaan nie! 

Moenie in selftevredenheid verval nie. Moenie fokus op ‘n dag of datum lank gelede nie. Fokus op groei in die voorafgenoemde elemente deugsaamheid, kennis, selfbeheersing, volharding, godsvrug, broederliefe en liefde vir almal. Dis reeds aanwesig, maar dit moet altyd toeneem. Altyd ruimte vir verbetering. Praktiese Christenskap is soos swem teen ‘n sterk stroom. Jy durf nie neutraal bly of laat slaplê nie. As jy ophou swem word jy meegesleur. Leuenstoel Christenskap is uit en dis gevaarlik! 

Hoe gaan dit in jou lewe op hierdie oomblik? Maak jy vordering? Of makeer jy die pas? Het jy dalk al gaan sit? Nee, span jouself in! Werp alles in die stryd. (5) As daar inspanning is sal jy Jesus beter leer ken. Dit bly ons groot ideaal. “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het.” (Filippense 3:10-12) 

Weereens, Christen, jou roeping en verkiesing word al duideliker, nie deur ingewikkelde metafisiese redenasies en spekulasies nie. Nie deur gedurig jou ervarings te vergelyk met ander Christene s’n nie. (God werk met elke mens uniek) Nie deur heeltyd die vinger op jou geestelike pols te hou en voel of jy lewe nie. Die beste manier om te weet of jy regtig lewe is om te LEWE! Die beste bewys dat ‘n baba gesond is is as daar groei is! 

Roeping en verkiesing is Goddelike aktiwiteite. God het dit reeds gedoen. Vasmaak (bevestiging) deur vordering in ‘n heilige wandel en groei in gehoorsaamheid is menslike aktiwiteite. 

Hoe kom dit bymekaar? “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” (Filippense 2:12,13) 

Maak dit vas! Hoe maak ons dit vas, hoe bevestig ons dit? Moenie leef en praat asof jy nog onwedergebore is nie. Onthou jy is nie meer net ‘n natuurlike mens sonder geestelike lewe nie, jy het ‘n wonderwerk beleef – Jy het alles ontvang wat nodig is deur Jesus Christus, jy is ‘n ontvanger van God se kosbaarste beloftes toe jy jou hoop op Jesus geplaas het! Kyk opnuut en daagliks na die kruis, besef daar is alles volbring! Besef die waarheid oor jouself as Christen – dis my sondes wat uitgewis is, my straf wat klaar voltrek is in Jesus. Jy moet wakker word vir die Bybelse feite oor jouself, jou oë moet oopgaan en jy moet weer bietjie onthou! Onthou wat het God vir jou gedoen, onthou dis God Drie enig wat in jou lewe ingegryp het! Konsentreer op die feite wat waar geword het in jou lewe. 

Stop om te kla oor jou tekortkominge en ellendes en raak aktief, maak werk van die opdragte wat na jou as Christen toe kom. 

Stop om passief te wag vir een of ander openbaring of belewenis of teken! Dis opmerklik dat Petrus (maar ook nie een van die ander NT skrywers nie) as hulle met die Christene praat oor heiligmaking en volharding, hulle nooit en nêrens aanmoedig om ‘n nuwe ervaring (second blessing) te soek nie. Al die NT skrywers, as hulle met God se kinders praat herinner (12) hulle aan wat met hulle gebeur het. "Julle is vrygespreek, julle het mos saam met Christus gesterf en saam met hom opgestaan (Romeine 6) , die Gees van God woon mos nou in julle, dieselfde krag waarmee God vir Jesus uit die dood opgewek het is nou werksaam in jou..." 

Besef wie julle is en leef daarvolgens! 

Gaan oor tot aksie. Hou op met verskonings. Hou op met daardie stories van ek is maar net ‘n mens en ons is maar almal swak... Maak dood en trek uit wat verkeerd is. Voeg by en trek aan wat reg is! 

Leef die Christelike lewe voluit en met oorgawe. Doen wat jy weet jy moet doen. Wees hiermee besig dan sal jy nie val nie. 

HOU DIE EINDDOEL IN DIE OOG!

Petrus moedig ons aan deur die einddoel weer voor ons oë te plaas! As julle hierdie dinge doen waaroor ons nou gepraat het, sal julle dood ‘n wonderlike ding wees, dit sal ‘n heerlike en oorvloedige ingang wees in God se Koninkryk. Dit gaan nie ‘n sukkel-sukkel onsekere storie wees nie, maar ‘n triomfantelike intog in God se heerlikheid! Hierdie is ‘n belangrike aspek – ons kyk te veel na onsself, te veel na ons omstandighede, te veel na die wêreld rondom ons. Nee, kyk eerder na die einddoel en laat die einddoel julle gedrag bepaal. Dieselfde tipe argument vind ons ook in 1 Johannes 3:1-3. “Kyk wat 'n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie. Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.” Besef wie jy is, en waarnatoe jy op pad is en dit sal jou gedrag bepaal. En hoe meer jy verander en nuut word, hoe meer gaan dit vir jouself en vir ander duidelik wees waarnatoe jy op pad is. 

SEKERHEID

Sekerheid werk soos ‘n pakkie saad wat jy saai. Jy plant sê nou maar tamatie saad. Jy glo jy het tamaties geplant, want die etiket sê dit duidelik. Dis ‘n belofte op die pakkie. Maar as die plantjies begin opkom en groei, en daar is later blommetjies en vruggies, groei jou sekerheid en vreugde al hoe meer. Dis regtig tamaties! Ons kry sekerheid deur te vertrou op die beloftes van God aangaande Jesus, maar: groeiende vrugte (hierdie eienskappe wat Petrus vir ons sê om by te voeg by die geloof) gee al hoe meer sekerheid en vreugde!


Vir die laaste aflewering in hierdie reeks, kliek op




Dinsdag 11 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (4)

WERP ALLES IN DIE STRYD OM JOU GELOOF TE VERRYK EN STAP DIE VOLLE PAD TOT BY LIEFDE VIR ALLE MENSE! 



Ons het gesien, omdat ‘n kind van God reeds als ontvang het wat nodig is (ONTVANGERS), word ons opgeroep tot kragtige aktiwiteit! Dis voortdurende en harde werk om hierdie eienskappe wat Petrus in 2 Petrus 1:5-7 noem by te voeg by ons geloof. Ons het reeds na ‘n paar elemente gekyk, nou gaan ons aan na die volgende: 



VOLHARDING Dis 'n vrug en kenmerk van ware saligmakende geloof. Die kind van God is 'n ster wat jaar na jaar skyn, nie net 'n meteoor wat vir 'n rukkie vir 'n groot skouspel sorg nie. (Pasop maar vir kortstondige opwindende ervarings... Pasop om nie ‘n konferensievraat te word wat by elke geestelike kamp of konferensie in snot en trane ‘n nuwe oorgawe maak, maar telkens maar weer op die ou pad voortploeter nie...) Hierdie volharding is nie net sommer gewone vasbyt nie, maar dis moontlik omdat die kind van God verby stryd en probleme kan kyk en uitsien na die ewige beloning! Soos Jesus dit gedoen het volgens Hebreërs 12:1-3. “Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so ‘n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” Jesus word hier voorgehou as navolgenswaardige model van volharding. Hoe het Hy dit reggekry? Hy het als verduur ter wille van die vreugde wat vir Hom gewag het! 

Ons ervaar krisisse en probleme en hartseer en versoekings soos alle mense, maar ons volhard omdat ons na al hierdie donker onstuimighede kyk in die kalm lig van die ewige heerlikheid wat God aan die getroues beloof. Ons sien die heerlikheid wat wag en daarom volhard ons. Ons moet, kan en sal juis volhard, omdat ons redding nie iets is wat met ons inisiatief en ons krag gebeur het nie. Dis God se uitverkiesende inisiatief en God se krag! (Vers 3) 

GODSVRUG (Godliness) Dis die bewustheid van God en daarom gehoorsaamheid aan God in elke praktiese aspek van my lewe. Godvrugtigheid is die teenoorgestelde van goddeloosheid. Die term  eushbeia word gebruik in kontras met asebeia (goddeloos) in 2:6.  Die goddelose is teen God, die Godvrugtige is op God en sy eer ingestel! Dis baie belangrik, want daar is 'n gevaar dat die kwessie van redding en meer spesifiek geloofsekerheid vir baie mense 'n selfsugtige, selfgesentreerde saak word– Baie redeneer : "EK moet net seker wees van MY polis teen die hel. Christenskap is maar eintlik net nog een van my selfgesentreerde besigheidstransaksies. Of ek God eer en of ek God gehoorsaam en of ek God behaag is van minder belang. Wat met die kerk van Jesus gebeur traak my ook nie juis nie.." Nee vriend, dit mag nie so wees nie! Verander jou gesindheid - fokus op 'n Godvrugtige lewe. Laat God en sy wil vir jou belangrik raak, dan sal jou sekerheid ook groei! Dit sal ‘n duidelike bewys wees van jou redding, want niemand eer God en niemand het God en sy kerk van nature lief  nie! As hierdie dinge in jou groei is dit ‘n onomstootlike bewys van wedergeboorte! 

BROEDERLIEFDE (liefde onder mekaar) Hieroor het die Here Jesus self en die res van die Nuwe Testament baie gesê. Ons hoor dit so baie, die gevaar is dat ons dit glad nie meer ernstig opneem nie. Dit is 'n onontbeerlike kenmerk van elkeen wat deel gekry het van die goddelike natuur. Dit kom egter nie sommer so van self nie, soos die ander trappe, moet ons alles in die stryd werp om dit prakties te implementeer. Dit beteken o.a. om moeite te doen om mekaar te verstaan en ten spyte van foute te aanvaar, om alles moontlik te doen om eenheid te bewaar deur ons te weerhou van skinder, verdagmakery, afguns ens. Kies om te vergewe keer op keer! Dit beteken dat ons praktiese stappe moet neem om mekaar se laste te dra deur te luister, meegevoel te betoon, praktiese en finansiële hulp te verleen ens. Gasvryheid! Broederliefde is ‘n onteenseglike duidelike bewys van ware Christenskap. 1 Joh 3:14,15“Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie.” 

Broederliefde het ‘n baie direkte relasie tot ons sekerheid van kindskap! 

NAASTELIEFDE (liefde vir alle mense)) Behalwe vir broederliefde, d.w.s. die liefde vir my medegelowiges, moet die kind van God ook liefde in die algemeen beoefen. Dit is so wyd dit sluit my naaste op alle vlakke van kontak in, selfs my vyande! Dis tog letterlik wat Jesus self gesê het. Dis buitengewoon, bonatuurlik! Ook in hierdie opsig moet ons navolgers van God wees, wat sy reën op goeies en slegtes laat val. Navolgers van Jesus wees, wat terwyl Hy in hegtenis geneem word, 'n oor gesond maak en terwyl Hy in pyn aan die kruis hang nog vir sy vyande bid. Jy vra hoe dit moontlik kan wees? Onthou net weer 2 Petrus 1 vers 3 - "Sy Goddelike krag het ons alles geskenk..." Hierdie is nie net maar 'n mooi onbereikbare ideaal nie, deur die eeue het die kinders van God dit reggekry en uitgeleef. George Wishart een van die vroeë Reformators in Skotland was so 'n voorbeeld . Net voor hy verbrand is vir sy geloof het die laksman op sy knieë geval en gevra dat Wishart hom sal vergewe. Wishart het hom toe op die wang gesoen en gesê : "Dis die teken dat ek jou vergewe .... doen jou plig" Naasteliefde het nie grense nie, dis uiters radikaal en vreemd aan die gevalle mensdom!

Wat het al hierdie dinge te make met vastigheid en sekerheid? Soos hierdie eienskappe groei sal my sekerheid groei. Sekerheid kom nie weens passiewe spekulasies en rondkrappery in my siel nie, sekerheid groei as ek aktief by my basiese geloof hierdie dinge byvoeg. Die duidelike implikasie is : 

Sekerheid, vastigheid en vreugde is nie beskore en bedoel vir lui of ongehoorsame Christene nie. Positief gestel, sekerheid is ‘n bonus wat saamgaan met geestelike groei, ywer en gehoorsaamheid! 

Die uitverkorenes se verlossing is vas en seker! God sal die werk wat Hy begin het voltooi en niemand kan Hom dwarsboom nie! “Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.” (Rom 8:29-30) Petrus leer dat die uitverkorenes se lewens hiervan ‘n bewys sal lewer deur voortgaande geloof en die dra van vrugte wat by die geloof pas. Hoe meer vrug jy dra hoe sekerder, hoe minder gaan jy struikel... daarom werp alles in die stryd om vrug te dra!

Vir die opvolg, kliek op MAAK VAS; MAAK SEKER (5)


Dit was so wonderlik om tydens Pinkster 2019 vir Christoph Gouws  raak te loop. Die seun van 'n ou vriend en 'n jongman wat die Here dien.

Donderdag 05 April 2018

HIPEROORWINNAARS!

- Die praktiese effek van Paasfees vir elkeen wat aan Jesus behoort. 


Ons het weer die afgelope tyd gekyk na die feite van Paasfees! Die vaste en sekere feite van Jesus se genoegsame kruisdood as volkome offer vir ons sondeskuld. Die heerlike feit van die liggaamlike historiese opstanding wat ‘n bewys is van sy oorwinning oor sonde, Satan, dood en hel. God het Jesus se offer aanvaar en daarom kan die duiwel ons nie meer beskuldig of afpers weens ons sonde nie. 

Een van die heerlikste dele in die ganse Heilige Skrif wat hierdie waarheid onomstootlik duidelik stel is ROMEINE 8:31-39. 

Die kruis en opstanding van Jesus maak ons superoorwinnaars, eintlik letterlik “hiperoorwinnaars” soos Paulus dit in vers 37 stel. “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.” * Maak nie saak in watter omstandighede ons onsself bevind nie, die kind van God is triomfantlik, die kind van God kan nooit ‘n verloorder wees nie. Ja, ons word nie gevrywaar van slegte dinge, vervolging en swaarkry nie, maar al hierdie dinge kan ons nie onderkry nie en ons van ons hemelse kroon beroof nie! Ons styg uit bo alles omdat ons gedra word deur God se liefde! 

VIER VRAE

Paulus verduidelik vir ons die kind van God se onaantasbare oorwinnaarstatus deur vier retoriese vrae te vra. Dis retoriese vrae waarvan die veronderstelde antwoord, elke keer is : “Nee, niks, niemand nie…” en dan gee Paulus die rede vir die antwoord. Die rede sal jy sien kom in feite neer op die Paasgebeure – die kruis en opstanding van Jesus. Kom ons kyk kortliks na die vier vrae: 

EERSTENS (31) “Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees?” As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Die antwoord : Niemand nie! Wat is die rede vir hierdie vertroue? “Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?” (32) Wel, as God so ver gegaan het om selfs sy eie Seun nie te spaar nie, maar ter wille van ons te offer, is dit net logies dat Hy vir ons als sal gee wat ons ook al mag nodig kan hê. (Hierdie woorde in die Grieks eggo die aangrypende gebeurtenis in Genesis 22:16, waar Abram nie sy seun wou spaar nie, maar bereid was om hom te offer) Paulus voer ‘n logiese argument, van die grote na die kleine. As Iemand bereid was om sy heel kosbaarste vir jou te gee, gaan hy tog nie ‘n probleem hê om iets minder belangriks vir jou te gee nie… 

TWEEDENS (33) “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry.” Wie kan die uitverkorenes van God aankla? Let op, die benaming vir God se kinders – ons word uitverkorenes genoem, juis om te beklemtoon dat die feit dat ons aan God behoort, nie ‘n prestasie van onsself af is nie. God het ons gekies sonder dat ons dit verdien! Ons is begunstigdes van God, uit genade! As God dan self ons vrygespreek het, wie durf ons nog aankla? Ons staan sonder skuld voor God! God self het ons dan reeds kwytgeskeld en vrygespreek van alle skuld en blaam! 

DERDENS (34) “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Wie kan God se kinders veroordeel? Dis asof Paulus hier ‘n openlike uitdaging rig tot almal wat ons wil beskuldig en veroordeel… ander mense, alle aardse regters en kritici, ons eie gewete en ja die groot beskuldiger en aanklaer, Satan self! “Toe, toe, laat ons hoor, wat het julle te sê…” En weereens is die veronderstelde antwoord : Niemand nie, niemand kan God se kinders veroordeel nie! Hoekom nie? Ja, dis ‘n goeie vraag...Hoekom is Paulus so vol uitdagende sekerheid? Hy gee die redes. En let nou baie mooi op, dis baie belangrik – hierdie redes het niks met my eie goedheid of prestasies te doen nie! Kyk die argumente van Paulus : Christus het gesterf. Hoekom is dit so belangrik? Sy sterwe het my sondeskuld uitgewis en daarom kan niks en niemand my veroordeel nie! Maar dis nog nie al nie. Christus is uit die dood opgewek. Hoekom is dit so wonderlik? Dis die bewys dat God Jesus se offer as genoegsaam aanvaar het. Maar dis nog nie alles nie. Jesus is op hierdie oomblik besig om te pleit en in te tree vir God se kinders. Hy is ons lewende advokaat en Hy stel ons saak, op grond van sy versoeningswerk aan die kruis! Kan daar iets meer gerusstellend wees? 

Hier is die vaste fondasie van ‘n Christen se vertroue en sekerheid. Dis nie binne myself te vind nie, maar in Christus en sy werk! As ‘n skip in stormwater beland, help dit nie hy gooi ‘n anker uit in sy eie ruim nie, nee, die anker word na buite gegooi na die vaste seebodem... Ons gooi ons ankers uit op die vaste rotsbodem van Jesus se volmaakte offer!

Die kind van God kry sekerheid en vastigheid nie deur na binne te kyk, na jouself nie (is my geloof sterk genoeg, is my bekering eg genoeg…?), maar na die genoegsame en volmaakte werk van Jesus aan die kruis! 



VIERDENS (35) “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?” Hier kom Paulus se redevoering en logika tot ‘n verbysterend heerlike klimaks! Is daar enigiets of iemand wat ons van hierdie liefde van Christus kan skei, kan beroof? NEE! NIKS! NIEMAND! Dan noem Paulus ‘n hele klomp slegte goed wat met God se kinders kan gebeur, en dit is erge dinge… Maar, ja al gebeur hierdie dinge met ons, verander dit niks van God se liefde nie. Hierdie dinge kan ons nie permanente skade berokken nie. Te midde van hierdie dinge bly ons triomfantlike oorwinnaars! “Hiperoorwinnars” soos ons reeds gesien het! En dan voer Paulus se heilige logika hom tot een van die mees verhewe en heerlike uitsprake in die ganse Heilige Skrif. “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (38,39) Paulus sê met passievolle oortuiging : “Ek is absoluut seker dat niks, hoegenaamd niks ‘n verskil kan maak aan die spesiale liefde van God, soos dit deur Jesus aan die kruis vir ons bewys is nie! Kom wat wil, ek weet God het my lief, die Paasgebeure het dit bewys. Kom wat wil, God se liefde in Jesus sal my nooit as te nimmer in die steek laat nie en Hy sal my daarom veilig by my ewige bestemming uitbring!” 

VREUGDE! VREUGDE! VREUGDE!

Hier is oorvloedige rede vir vreugde, Paasfeesvreugde! Nou reeds! Deur die geloof beleef ons reeds nou te midde van allerlei druk hierdie blydskap. 

En weet verseker, weldra sal ons geloof oorgaan in aanskoue, wanneer die opgestane Jesus ons gaan kom haal om vir ewig by Hom te wees! 

*”meer as oorwinnaars” is die vertaling van die Griekse werkwoord υπερνικωμεν (upernikomen). νικωμεν sou beteken “ons oorwin”, maar nou staan daar υπερνικωμεν “ons hiperoorwin.”



Niks, maar niks kan ons skei van God se liefde nie....

Vrydag 19 Januarie 2018

KYK, WAT HET HY GEDOEN!

BEVRY VAN VREES, KAN EK NOU WEER ‘N NUWE  LIED SING!



Is jou Christenskap besig om jou moeg te maak? Voel dit vir jou dis iets wat jy nie regkry nie? Is jou Christenskap besig om jou bang te maak? Jy voel altyd vol vrees en onsekerheid of jy goed genoeg is? Jy wonder : “Is my bekering eg genoeg, is my berou diep genoeg, is my geloof opreg genoeg?” Maak jou Christenskap jou dalk negatief? Dis vir jou ‘n bitterlik sware plig om kerk toe te kom of te bid, en as jy kans kry om dit nie te hoef doen nie, is jy maar net te bly!


Daar kan baie redes wees vir hierdie toestand, maar een van die grootste redes is dat jy die evangelie nog nooit verstaan of aanvaar het nie. Jy dink verkeerdelik dat die evangelie ‘n swaar plig is, dat Christenskap ‘n buitengewone harde lewenstaak is of dat daar ‘n groot prestasie van jou verwag word om kind van God te word of te bly. Jy het al soveel keer probeer om ‘n goeie mens te wees, maar telkens misluk… Eintlik, het jy miskien al moed opgegee...

Die heerlike stuk heilsgeskiedenis van die Israeliete se deurtog deur die Rooi See is ‘n besondere duidelike illustrasie van hoe God werk en wat ons reaksie daarop moet wees. (Lees gerus eers Eksodus 14:15-31; 15:1-3) Dis niks anders as die evangelie reeds in die Ou Testament nie! (Terloops, dit illustreer sommer ook vir ons die belangrikheid van die Ou Testament om die werk van Jesus dieper te verstaan.) 

Dit gaan oor Gód se reddingswerk en mense se vreugdevolle en dankbare reaksie daarop. 

GROOT MOEILIKHEID!

God het die volk Israel onder leiding van Moses uit die slawebestaan in Egipte bevry. Ons ken die dramatiese gebeure wat reeds plaasgevind het… Die hardkoppigheid van die farao, die wondertekens en plae... Die feit dat Israel tot hier gekom het, was geensins weens hulle eie prestasies nie… Inteendeel… Maar nou bevind hulle hulself weer in baie groot moeilikheid. Voor hulle is die Rooi See, ‘n verdinkingsdood wat wag! Agter hulle is ‘n oprukkende en wraaksugtige Farao en sy Egiptiese krygsmanne, ‘n dood deur swaard en spies! Groot benoudheid, ‘n benarde situasie, geen uitkomkans! Letterlik tussen die duiwel en die diepblou see!

Elke mens is geestelik ook in hierdie haglike situasie. Die wet is duidelik: “die siel wat sondig moet sterwe!” En dis duidelik dat almal van ons leuenaars, diewe en lasteraars... is, want ons het elke gebod wat daar is reeds in daad of gedagte oortree. Party probeer hierdie feite ignoreer, party maak planne… “Ek hoop maar ek doen meer goeie dinge as slegte dinge, dat my goeie dade die slegtes sal uitkanselleer...” (Dis natuurlike naïewe dwaasheid; probeer bietjie so ‘n tipe argument in ‘n hof…"Ja, edelagbare ek is inderdaad skuldig aan moord en verkragting, maar asseblief onthou net ek skenk gereeld geld vir die kankervereniging en die DBV!") God se geregtigheid soos uitgedruk in sy wet keer ons vas van voor en agter. Daar is geen uitkomkans nie, ons is skuldig, die oordeel hang soos ‘n swaard oor ons… WAT NOU?

Eers, terug by die verskrikte en beangste Israeliete. Moses praat hulle moed in. “Maar Moses het die volk geantwoord: "Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg." (13,14) 

GOD DOEN IETS!

En wat gebeur toe? God bewerk ‘n kragtige verlossing deur middel van sy kneg Moses! Dis Hy wat die verlossing bewerk! Net Hy alleen! Wat sou ongewapende mans, vroue en kinders buitendien teen die magtige Egiptiese leër kon uitrig? Wat sou hulle kon doen om sonder skepe oor die Rooi See te vaar? Niks! Totaal magteloos! Net God kon ‘n reddingswonder doen, net God kon ‘n ramp afweer en uitkoms gee. En Hy het! “Die Here het Israel daardie dag gered van Egipte, en die Israeliete het die Egiptenaars dood op die strand sien lê.” (30)

ONS REAGEER GELOWIG DANKBAAR

En waar kom die Israeliete nou in die prentjie? Wat was hulle reaksie? “Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar.” (31) Hulle besef die ontsagwekkende grootheid van God en hulle glo! Bekering en geloof! God het ingegryp en hulle redding bewerk, daarom glo hulle, vertrou hulle. 

Dis nie ons geloof opsigself wat redding bewerk nie, dis nie die kwaliteit van ons geloof wat die verlossing verseker nie. Nee, ons geloof neem net vertrouend en dankbaar kennis van die redding wat GOD bewerk het!

En wat bly oor? Waartoe lei hierdie heerlike verlossing wat God bewerk het? Net meer DANKBAARHEID en BLYDSKAP! Hulle sing nou dankbaar ‘n verlossingslied. 

“Toe het Moses en die Israeliete die volgende lied tot eer van die Here gesing: "Ek wil tot eer van die Here sing omdat Hy hoog verhewe is. Perd en strydwa het Hy in die see geslinger.
Die Here is my krag en my beskerming. Hy het tot my redding gekom. Hy is my God, Hom roem ek, die God van my voorvaders, Hom prys ek.
Die Here is oorwinnaar in die stryd, sy Naam is ‘die Here’! ...(15:1-3ev)

Die evangelie gaan oor God wat deur sy eie Seun, Jesus Christus ‘n magtige verlossingswerk aan die kruis gedoen het. Die duiwel is verslaan. Die vyand is vernietig! By die kruis is ons redding bewerk. Dit gaan nie oor wat ons doen nie, dit gaan oor wat HY gedoen HET! Ja, ons reageer gelowige en dankbaar. Ons buig in nederige dankbaarheid voor die ontsagwekkende almag en heerlikheid van God. Ons word geïnspireer tot lofprysing. Lofprysing met ons mond, hart en lewe!

Die lied wat die bevrydes hier gesing het vind weerklank tot in die laaste boek van die Bybel. In Openbaring 15:3 lees ons hiervan. “Hulle sing die lied van Moses, die dienaar van God. Dit is ook die lied van die Lam: "Groot en wonderbaarlik is u dade, Here God, Almagtige. Reg en betroubaar is u optrede, Koning van die nasies.” Alle gereddes, alle verlostes gaan eendag die lied van Moses sing. Dis die evangeliese lied wat erkenning gee aan die Lam wat ons deur sy bloed vrygekoop het, die lied wat alle eer aan God gee!

Ware Christenskap is nie om een of ander harde werk te doen om God te beïndruk of jouself te red nie. Dit gaan in die eerste plek om vertroue op God, spesifiek geloof in Jesus oor dit wat HY gedoen en afgehandel het aan die kruis. Anders gestel. Die evangelie is nie doen, doen, doen, nie! Die evangelie is, dit is gedoen, dit is gedoen, dit is gedoen!  Ja, klaar gedoen aan die kruis! Wie dit glo en raaksien kan nie anders nie as om ‘n lewe van lof en dank te lei nie. Ja ‘n lewe van lof en dank vereis al ons oorgawe en toewyding, maar dit gaan nie oor prestasie nie, maar oor dankbaarheid! 

CHRISTENWEES IS NIE 'N DIY JOB NIE!

CHRISTENSKAP GAAN DAAROOR DAT ONS DANKBAAR FOKUS OP DIE VERLOSSING WAT GOD SELF REEDS DEUR JESUS BEWERK HET!


Het jy al gelowig die groot verlossing wat God deur Jesus op Golgota bewerk het aanskou? Besef jy dat Hy vir elke sonde, ja, elkeen die volle straf gedra het? Besef jy dat Hy jou bevry het van sonde, satan, dood en hel? Raak dit jou, reageer jy? Gaan jy saam met die groot koor verlostes tot in ewigheid ‘n dankbare verlossingslied sing? God se kinders sing dit nou reeds en gaan nooit ophou nie! 

Sing jy al?

Donderdag 13 Julie 2017

GELEEF, GESTERF VIR MY!

Jesus se passiewe én aktiewe gehoorsaamheid gee vir ons volkome sekerheid.


Gaan ek die hemelse wenstreep haal? Dis so ‘n belangrike vraag. Dink maar aan ‘n Comrades marathon – as daardie laaste skoot klap om die afsnypunt aan te kondig. Die teleurstelling en smart as iemand dit gemis het... Hoeveel erger sal die gevolge wees as ek die hemelse afsnypunt mis? Hoe kan ek seker wees dat ek dit nie sal misloop nie? Ja, ek het Jesus aanvaar maar kyk net ek is en voel so onvolmaak... Sal ek kan ingaan in die Koninkryk? Kan ek seker wees? Ons gaan die antwoord uit die Woord kry, maar ek wil dit ook koppel aan die woorde van die bekende Liedboek 396 se eerste vers en spesifiek die woorde “Hy leef, Hy sterf in my belang”

[Terloops. Wat ons sing is baie belangrik. Nie net om tyd om te kry of afwisseling te bewerk nie. Dit is eintlik ’n weerspieëling van wat ons glo. Dis aanbidding tot God, maar dis ook moontlik ’n manier waardeur ons mekaar bemoedig en onderrig. Dis m.a.w. nie net die dominee wat lering aanbied nie, ons leer mekaar deur die liedere wat ons sing.(Kol 3:16;17)] 

Wat beteken dit as ons sing dat Jesus in my belang geleef en gesterf het? Jesus het vir ons gestérf (dit weet almal ). Ons weet ook wat dit beteken. Hy het al ons sonde op Hom geneem en is daarvoor in ons plek gestraf. (Jesaja 5:5,6) Daarom is ons wat in Hom glo vry van straf...MAAR Hy het ook vir ons gelééf. Beide Jesus se lewe en sterwe is vir ons van die allernoodsaaklike belang. Wat beteken dit dat Jesus vir ons geleef het? Ons sing dit mos. En ons moet tog bedoel wat ons sing!

VOLBRING!

Een van die sleutel begrippe in die Johannes evangelie is die woord “volbring”*. Dis die woord wat Jesus aan die kruis uitroep (Johannes 19:30), maar dis ook ‘n deurlopende tema in die hele Johannes evangelie.  Dit is ’n uiters belangrike leidraad om Jesus se lewe en werk te verstaan. Blaai bietjie saam met my deur die vierde evangelie:

Johannes 4:34 “Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” Jesus se groot ingesteldheid was om God se wil te doen, om die werk wat God Hom gegee het te voltooi. 

Ook so Johannes 5:36 “Maar Ek het 'n groter getuienis as dié van Johannes, want die werke wat die Vader My gegee het om te volbring, die werke self wat Ek doen, getuig van My dat die Vader My gestuur het.”

Johannes 17:4 “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.” Net Jesus kan dit sê in ‘n absolute sin! Sy hele lewe lank was Hy perfek gehoorsaam aan God se wil. Nooit iets teen God se wil en wet gedoen nie. Dis ’n ander manier om te sê Jesus was sondeloos. 

Jesus het niks verkeerd gedoen het nie, maar meer as dit, Hy het ook positief alles gedoen wat God wou gehad het Hy moes doen. 

Hy en Hy alleen het al God se opdragte in die kleinste detail en met volmaaktheid uitgevoer. Jesus en net Jesus was die volmaak regverdige Israeliet. (Dis die duidelike boodskap van Matteus 4 – die verhaal van die versoeking in die woestyn; elke keer het Jesus opgetree soos ’n volmaak regverdige) As volmaak gehoorsame het Jesus geslaag waar alle ander mense misluk het - Adam, Moses, Dawid, al die groot helde van die Ou Testament het gefaal, Jesus nie. Die volk Israel as geheel het gefaal, maar Jesus het die toets geslaag. Jesus en Jesus alleen het sy Vader se werke volbring en sy wil perfek uitgevoer!

Wat baat dit ons ? Hoe raak dit ons? Geweldig baie. U sien ons staan skuldig voor God oor die verkeerde dinge wat ons gedoen het. Maar meer nog, ons staan ook skuldig oor die regte dinge wat ons nie gedoen het nie. Niemand van ons het God genoeg lief nie, niemand eer God genoeg nie, niemand dank God genoeg nie.... Ons staan dus dubbeld skuldig voor God! Maar nou het Jesus as ons plaasvervanger ’n volmaakte lewe voor God geleef hier op aarde. Alles wat Hy gedoen het was presies soos God dit wou gehad het. Hy het God se werke volbring in die volle sin van die woord!

Hoe raak dit my? As ek in Christus is, word sy volmaaktheid, sy geregtigheid as myne beskou en staan ek volmaak voor God. Ons sing ook mos : “Hy is my geregtigheid , ek staan volmaak in Hom.” HY IS MY GEREGTIGHEID! “Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing.” (1 Kor. 1:30) Alles wat Christus was en is, is Hy VIR ons TER WILLE VAN ons. Hy is die sondelose mens vir ons (ons moes dit gewees het....). Hy is die ware verbondgenoot vir ons (ons was veronderstel...). Hy is die regverdige, die heilige, die Geesvervulde, die volmaakte aanbidder van God, wat ons moes gewees het... - Alles VIR ons!

Anders gestel : 

Jesus het die toets wat ons moes skryf namens ons geskryf! Hy het die reisies wat ek moes hardloop, namens my gehardloop! 

AKTIEWE GEHOORSAAMHEID VAN CHRISTUS

Jesus het vir ons gesterf. Dit word sy passiewe gehoorsaamheid genoem. Jesus het ook vir ons geleef. Dit word sy aktiewe gehoorsaamheid genoem. Sy aktiewe gehoorsaamheid het Hy ook namens ons uitgeleef. Sy volmaakte gehoorsaamheid word vir ons wat glo toegereken. Sy gehoorsaamheid word nou beskou as ons gehoorsaamheid en daarom kan ons sonder vrees voor God staan, as ons met Jesus verenig is. Aan die einde van sy lewe het die groot teoloog en stryder vir die waarheid, Gresham Machen ’n telegram aan John Murray gestuur met die woorde “I am so thankfull for the active obedience of Christ. No hope without it”**

WAT VAN MY?

Jesus het God se wil volmaak uitgevoer en uitgeleef. Wat Hy geleef en gedoen en gesterf het was vir ons, ter wille van ons, tot ons voordeel. Sodat ons gered kan word! Een belangrike vraag bly oor. Hoe kry ék deel daaraan. Hoe weet ek dat wat Hy gedoen het, ook my persoonlik raak. Dat dit persoonlik verlossing vir my bring?

Die Johannes evangelie gee ’n baie duidelike antwoord. Weer is die sleutelwoord “volbring.” “Toe vra hulle Hom: Wat moet ons doen om die werke van God te volbring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Dít is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy gestuur het.” (Johannes 6:28,29) God vra van ons net een ding - Glo in Jesus , die Een wat deur God gestuur is. Jy sien daar is net een wat God se werke volbring het, net een wat volmaak gehoorsaam voor God se aangesig geleef het. Jesus. As ons God se werke wil doen, doen wat God verlang en verwag, dan moet ons in Jesus glo. Ons eie pogings nie genoeg nie. Dis waarom baie mense se godsdiens so ’n tragiese frustrasie is. Hulle wil self God tevrede probeer stel. Ons kan nie. Net Jesus het God tevrede gestel, net Jesus kon aan die einde van sy lewe sê : “Dis volbring. Al die werk wat die Vader my gegee het , het Ek afgehandel.” Ons kry deel aan Jesus se volmaaktheid namens ons deur die geloof. 

Nou wat is geloof? Een of ander ingewikkelde gedagtehandeling? Nee, gelukkig nie!

Geloof is om tevrede te wees met dit wat God vir ons gedoen het in Jesus. Geloof is nie opsigself ’n perfekte daad wat vir ons verlossing verwerf nie. Geloof sê maar net : “Ek weet ek is nie goed genoeg nie, maar ek vertrou wat Jesus gedoen het met sy lewe en sterwe was goed genoeg, ook vir my!”

Die grond van my sekerheid is nie die kwaliteit van my geloof nie, maar die genoegsaamheid en volkomenheid van Jesus se lewe en sterwe namens my!

Horatius Bonar sê dit so mooi :
“What God demands from us is not satisfaction with our faith, but satisfaction with Christ and His work" - en juis dit is ware geloof!

*In die Grieks is dit deurgaans die stamwoord τελειόω. Die OAV vertaal dit dan ook konsekwent met “volbring”

**Murray, Ian, The Life Of John Murray; p64.

Dinsdag 01 Desember 2015

BLYDSKAP OOR MY NAAM IN DIE BOEK...

-die grootste vreugdesfeit wat die vyand nie kan roof nie en selfs die westewind* nie kan wegwaai nie! 

Daar is baie dinge wat ons bly maak – goeie eksamenuitslae, finansiële voorspoed, gesondheid, reën (ja, veral reën as jy in Namibië woon), allerhande suksesse... Dis nie verkeerd nie, dis normaal om bly te wees oor hierdie dinge...Die probleem met hierdie blydskap is dat dit net so maklik as wat dit kom ook kan verdwyn... dit gaan nie altyd goed met die eksamenuitslae nie, daar is baie dinge wat finansiële voorspoed kan opvreet, gesondheid is iets wat oornag kan verdwyn, reën weet ons baie goed kom nie altyd wanneer ons dit wil hê nie, ons is nie altyd suksesvol nie... wat word dan van ons blydskap?

GOEIE TYDING VAN GROOT BLYDSKAP

En ons sou ook kon vra, wat het geword van die belofte wat saamgegaan het met Jesus se geboorte? Die belofte van blydskap wat die herders van Betlehem op daardie besondere nag gehoor het? “Toe sê die engel vir hulle: "Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.” (Lukas 2:10)

Groot blydskap! Is dit hoegenaamd waar? Hoe is dit waar en vir wie is dit waar? Wat dan van al die slegte dinge wat gebeur?

WEES REALISTIES EN KYK NA BLYDSKAP UIT 'N EWIGHEIDSOOGPUNT!

In Lukas 10:17-20 gee Jesus vir ons ‘n kosbare en belangrike perspektief op blydskap.

Die agtergrond is die uitsending van die sewentig dissipels. Hulle is op ‘n uitreiking gestuur met die opdrag om vir siekes te bid en die boodskap van die koninkryk te verkondig. (9) Dit was nie ‘n maklike opdrag nie. Jesus het vir hulle gesê, Hy stuur hulle soos skape onder wolwe. Hulle moes teenkanting en moeilikheid te wagte wees!

Dit blyk egter dat dit baie goed gegaan het met hierdie sendinguitreik. Die dissipels was vol blydskap met hulle terugkoms. “Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: "Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam." (17) Jesus beaam en erken hulle “sukses”. “Ja, dis goed so, julle is bevoorreg...”

Maar dan gee Hy ‘n belangrike perspektief, dis eintlik of Hy ‘n korreksie wil aanbring op hulle blydskap. “En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is." (20) “En tog...” Dis asof Hy sê: “Ja, dis goed om bly te wees oor julle sukses en gesag, maar blydskap gaan oor iets baie belangriker. Wees veral bly dat julle name in die hemel opgeskrywe is...”

BOEK VAN DIE LEWE

Uit die res van die Skrif weet ons dat daar ‘n boek van die Lewe is. Reeds in die Ou Testament kry ons hierdie begrip.

Moses verwys daarna as hy by God pleit vir die volk na die petalje van die goue kalf toe God die volk wou vernietig. “Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.” (Eks 32:32) Ons kry ook ‘n verwysing daarna in Daniël 12 :1 “In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die lede van jou volk waghou, op die toneel verskyn. Dit sal ‘n swaar tyd wees, so swaar soos dit nog nooit was vandat daar nasies is nie. In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word.”

Om opgeskrywe te wees in God se boek is dus ‘n aanduiding van God se guns, van redding, van ewige sekuriteit. In Openbaring kry ons die duidelikste verwysing na hierdie boek. (lees Openbaring 20:11-15) Wat ‘n geweldige, verbysterende toneel! Menigtes en menigtes van mense so ver soos die oog kan sien... Almal verskyn voor die groot wit troon! Dan word God se boeke oopgemaak en elkeen se lot finaal en ewige beslis. Ewige lewe of ewige dood. Ewige blydskap of ewige smart!

As jy weet dat jy opgeskryf is vir die ewige lewe, begin jou blydskap nou al. En dis die grootste blydskap van almal. Dis die punt wat Jesus wil maak.

Daar is net een blydskap wat blywend is en alles oortref. Dis die blydskap oor ons verlossing. Die westewind kan dit nie eers wegwaai nie... Op die ou end is ons ewige verlossing, ons name in die boek van die lewe, al wat saakmaak. Dis iets waarvoor die mens vandag blind is. Om jou naam geskryf te hê in die hemelse burgerskaplys oortref alle ander suksesse en genadegawes! Om te weet die verlossing van sonde is ook my deel is die grootste rede tot vreugde. Ons kan dit toets aan die engelboodskap by die geboorte van Jesus. “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” (2:11) 

Die blydskap gaan oor die Verlosser en die verlossing wat Hy bring! Die verlossing van sonde, satan, dood en hel!

Hoe kan ek seker wees van my naam in die boek van die lewe? Hoe kan ek seker wees dat ek in hierdie vaste verlossing deel? Deur my volle vertroue op Jesus, die Saligmaker te stel! Deur weg te kyk van myself en op HOM en SY WERK te fokus! (Vir meer hieroor kliek op SEKERHEID)

GROOT VERRASSING

Kom na Hom toe in berou en geloof! En weet jy wat dan wag daar ‘n verrassing. Dan leer jy dat jou naam al van voor die ontstaan van die aarde al in sy boek geskryf is. Want God se genade is al van ewigheid vir sy kinders bedoel en staan onwankelbaar vas in God se onveranderlike raadsbesluite! (Sien Openbaring 13:8, 17:8 en vgl. met Efesiërs 1:4**)

Dis nie verkeerd om oor alledaagse seëninge, voorregte en suksesse bly te wees nie! Maar as jy nie deel aan blydskap oor jou ewige verlossing nie, het jy eintlik geen rede om bly te wees nie! Anders gestel : “Waar gaan jy die ewigheid deurbring?” ‘n Positiewe antwoord hierop is die essensie van ons blydskap, in die Kerstyd, maar ook enige ander tyd. AMEN

*Die westewind spel vir ons hier in Namibië net een ding : droogte!

** Efesiërs 1:4 (OAV) “soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees,” (lees eintlik die hele gedeelte van vers 3 tot 14)




Vrydag 10 April 2015

REDDENDE GELOOF

- laat jou in jou spore omdraai!

Gedurende die Paastyd het ons die heerlike feite herdenk van die kruis en die opstanding. Die waarheidsevangelie van Jesus se volkome afgehandelde versoeningswerk. Jesus het ons sondestraf gedra en as bewys van die genoegsaamheid daarvan is Hy uit die dood opgewek. Die vraag is net, raak dit jou persoonlik? Is jy al hierdeur diep in die hart getref? Het dit al tot persoonlike geloof en bekering gelei? 

Nou wonder jy dalk, wat is geloof? Wat is reddende geloof? Daar is mos ‘n algemene idee dat geloof ’n positiewe ingesteldheid is - ek glo dit sal ’n goeie jaar wees, ek glo ek sal my eksamens deurkom... Dis nie die Bybelse siening van geloof nie! Mense dra hierdie siening oor na hulle geestelike lewe - ek glo maar alles sal regkom (en dink dis geloof) Ek glo ek sal hemel toe gaan - dan dink hulle hulle sal hemel toe gaan. Dis ’n absurde redenasie. (As ek op ‘n verkeerde trein geklim het, kan ek glo soos ek wil, ek gaan nie by die regte bestemming aanland nie...) Dis moontlik om vas te glo aan iets wat nie waar is nie, sulke geloof help mens niks...

So wat is Bybelse geloof dan? Ons kry ‘n besonder prakties en insiggewende voorbeeld daarvan in Johannes 4:43-54. Dis die merkwaardige verhaal van die regeringsamptenaar wat na Jesus gekom het om Hom te vra om na sy kindjie te kom wat sterwend was en hom te genees. Jesus het nie saam met hom gegaan nie, maar wel die volgende gesê : “Jesus antwoord hom: Gaan, jou seun lewe!” En wat was die amptenaar se reaksie? GELOOF! "En die man het die woord geglo wat Jesus vir hom gesê het, en hy het gegaan.” (vers 50 OAV) Om te glo is om persoonlik God se woord/belofte te vertrou. Dié verhaal illustreer dit prakties. Die man weet sy kind is siek en op sterwe. Jesus sê vir hom : Jou seun lewe! Hy glo dit en draai om en gaan huis toe! Hy vertrou op Jesus se woord, Hy aanvaar dit as die waarheid en vra nie verder vra daaroor nie. Geloof is vertroue op God se belofte, nie op my eie idees of wense nie. (Abram) Geloof is vertroue op God se belofte ten spyte van die huidige werklikheid en feite. Die man weet, dis ’n feit dat sy kind sterwend is, maar Jesus sê hy lewe en hy aanvaar dit as die waarheid. Geloof is om teen al die sigbare feite God se belofte te aanvaar. Soos Abram volgens Romeine 4:18,19 teen die sigbare, mediese werklikheid God se beloftes geglo het.

Watse beloftes maak God aan ons? Baie, maar die belangrikste is oor Jesus self en dit wat Hy vir ons aan die kruis gedoen het. God se Woord sê : Jesus is die lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem. (Johannes 1:29) Deur sy kruisdood het Jesus jou straf gedra en dit bring vrede. (Jesaja 53:5,6!) Glo jy dit? Om te glo moet ek die feite oor Jesus ken, oor sy sterwe en opstanding, maar ook persoonlik vertrou dat dit ook vir my genoeg was!

BEWEEG SONDER OM TE SIEN

Maar daar kom iets by! Wat doen die man toe hy glo dat sy seun lewe? Hy draai om en gaan huis toe. Dit wys dat hy regtig glo, sy geloof bring hom in beweging. As hy nog daar rond gestaan het, vrae en bewyse gevra het..... dan het ons geweet hy het nie regtig geglo nie. Hy sou miskien kon sê : “Ek glo,” maar solank hy daar hartseer rondgestaan het sou dit duidelik wees dat hy nie geglo het nie. Hy sien nog niks, maar hy vat Jesus op sy woord. Hy glo sy seun lewe en hy gaan huis toe! Geloof bring reaksie. Dink weer aan Abram. God sê vir hom basies : “Ek gaan vir jou ’n nageslag en ’n land gee. Trek”. Hy glo dit. En hy begin trek.... hy het nog nie die land nie, het nog nie die seun nie, maar omdat hy God se belofte glo kom hy in beweging!
God sê vir jou: “My seun het jou straf gedra, deur Hom ontvang jy volle vergifnis!” As jy dit glo, sal jy Jesus begin volg, jy sal van gedagte verander (metanoia), omdraai van die ou lewe en Jesus begin gehoorsaam. Dit noem ons bekering. Bekering volg op geloof. Dit gaan saam soos twee kante van ’n muntstuk. 

Ds. Chris Saayman gebruik die volgende treffende beeld. Sien in u geestesoog die volgende prentjie: Twee mense is besig om afdraende te hardloop: reguit hel toe. Weg van God af. Hulle hardloop soontoe, want hulle het ’n onbetaalbare reusagtige sondeskuld by God. Dit maak ’n MUUR tussen hulle en God. Maar toe stuur God een van Sy amptenare agter hulle aan met ’n boodskap. Uiteindelik hardloop die boodskapper hulle in en uitasem sê hy: “Julle ouens kan maar omdraai, terug na God toe. Verander van gedagte, want Hy het my gestuur om vir julle te sê dat Hý deur Jesus al julle skuld betaal het. Hý het alles tussen julle en Hom reggemaak op Golgota. Draai maar om.” Een van die mans se oë begin blink en hy glo onmiddelik dit wat die boodskapper sê. En omdat hy glo, steek hy in spore vas en draai hy om – terug na God toe. Maar, die ander man lag die boodskapper af – “ Ag, dit is tog absurd – dat God my hemelhoë skuld kon afskryf en my die hel kon kwytskeld – NOOIT – dis verregaande – so-iets kán nooit gebeur nie ” – en hy hardloop doelbewus verder – hel toe... Die vraag is: Waar gaan die tweede man eindig? Antwoord: Dáár waar hy gekies het om heen te gaan: die ewige verderf. Hoekom? Omdat Hy God tot leuenaar gemaak het en nie die boodskapper wou glo nie en dáárom nie omgedraai het nie. Vra dan ook : Waar gaan die eerste man eindig? Antwoord: Vir ewig by die Here. Waarom? Omdat hy geglo het en omgedraai het?? Nee – omdat God Sy skuld op die kruis uitgevee het! – en dáárom kon hy omdraai terug na God toe! Hy draai om OP GROND VAN die INHOUD van die verbysterend heerlike boodskap van God: “Ek het jou sondes in my Seun Jesus se vloekdood gestraf en afgeskryf ”. Dit is dus nie sy OMDRAAI wat hom red nie, maar die inhoud van die boodskap wat hy begin glo – DIT red hom. Hy red nie homself met sy eie omdraai nie. Maar hy draai om omdat hy die boodskap hoor (en glo) dat hy gered is deur God se ontferming! 

Gaan jy glo, of gaan jy God tot ‘n leuenaar maak? 1 Johannes 5:9,10 “As ons die getuienis van die mense aanneem--die getuienis van God is groter, omdat dit die getuienis is van God wat Hy aangaande sy Seun getuig het. Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie.”

Hoekom nie God glo nie? Hoekom sou Hy vir ons lieg?

Glo jy die evangelie of het jy dit maar nog net gehoor? Het dit jou al laat omdraai, weg van die ou lewe of is jy dalk (binne die kerk) volspoed op pad na die ewige verderf? 

GLO, DRAAI OM en BEGIN GOD DANK!


[koppie naby Otjiwarongo]

Vrydag 21 November 2014

UITGEWIS!

- Dis die beste nuus wat jy nog ooit gehoor het. 


“Uitgewis!” Dis ‘n baie sterk woord. As ’n mens iets of iemand uitgewis het, bly daar niks van oor nie! ‘n Vyand wat uitgewis is, is totaal vernietig en verdelg! Dink nou net bietjie as God iets uitgewis het.... wat word daarvan? Wat bly oor? God se daad van uitwissing is finaal, volkome, volledig. Nou hoor ons dat God ons sondes uitgewis het... 

“Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.” (Jesaja 44:22) 

Drie sake vra ons aandag: 

1) Die werklikheid van ons sonde. Die aaklige realiteit van sonde is ‘n onontkombare feit. Dis groot, dis baie, dit het tragiese gevolge. In jou eie lewe en in ander mense se lewe. Ons kan nie ons sonde wegredeneer nie, dis daar. Dis erg, dis baie - ’n skrikwekkende lang lys vol bedrog, valsheid, dade teen medemense (selfs ons eie geliefdes)... en dan praat ons nie eers van verkeerde gedagtes, motiewe, gesindhede... Ja, wat dit veral erg maak is dat alle sonde, sonde teen God is*. Die gevolge is afgryslik. Dis inderdaad ’n donker dik wolk wat oor ons hang en ons hele lewe negatief beïnvloed en tot in die ewigheid strek. Dit belemmer en befoeter ons verhouding met God en naaste en selfs ons omgewing op alle vlakke. ’n Donker wolk wat keer dat ons nie die strale van God se heerlikheid kan raaksien en waardeer nie - vat ons blydskap weg, ’n donker wolk wat verhoed dat ons die warmte van God se liefde kan voel skyn dit laat ons vrees, donker wolk. Hierdie donker wolk voorspel vir ons dat daar enige oomblik ’n storm gaan losbars, die toornige storm van God se ewige oordeel... Daar is geen menslike oplossing vir die donker wolk van sonde nie. Tog probeer die mens in sy dwaasheid juis dit doen met allerhande saamgeflanste beteuterde poginkies. Kom ons kyk na ‘n paar. Ons probeer dit : 

Vergeet : Ek probeer my sondebewustheid afskud en nie daaraan dink nie. Sommige dink dalk dat hulle dit goed regkry, maar God vergeet nie onvergeefde sonde nie. Die oordeelsdag sal ‘n dag van afrekening wees waartydens alle sonde, ook die diep verborge sonde, aan die lig sal kom. 

Versag : Ek probeer my sondes met allerhande eufemismes en trooswoordjies “kleiner en sagter” maak. Ek het nie die sinkplate by die myn gesteel nie, ek het dit net gescore; Ek was nie dronk nie, ek het net bietjie te veel gekuier, Ek hoereer nie,( dit klink darem te erg), ek knyp net die kat in die donker! 

Verskuif : Ek blameer my moeilike ouers, ongenaakbare eggenoot, onregverdige baas, opstandige werkers “wat my siel hel toe sleep...” 

Vergoed : Ek probeer vergoed vir my slegte dade deur dit met goeies uit te kanselleer. deur godsdiens en goeie dade. (As ek ‘n slag in kerk was, voel ek bietjie beter al het ek aan Saterdag se rugbywedstryd gedink tydens die preek...) Ek probeer beter voel deur meer te bid, meer Bybel te lees...Maar helaas, my sondeskuld agtervolg my soos ’n skaduwee. 

Verminder : ek werk daaraan om my sonde bietjie te beskaaf en te beteuel. Ek probeer darem om ’n Christen te wees, ek het miskien al met ’n paar lelike dinge opgehou. Dis ‘n futiele oefening! 

Kan jy iets aan ’n dreigende onweerswolk doen, kan jy met jou kaal hande ’n haelstorm keer? 

Nee, ons is magteloos. Ons is magteloos ten opsigte van ons sondeskuld en die oordele van God wat dit op ons gaan afbring! 

God is egter nie magteloos nie. Dit bring ons by die tweede punt: 

2) God se hantering van ons sonde. Ons kan niks effektief omtrent hierdie donker dreigende sondewolk doen nie, MAAR GOD KAN. God het. Hy het dit uitgedelg. God sê : “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis...” Hoor ons dit, God verlustig Homself in hierdie kragtige uitspraak. Ek het dit gedoen in genade, ek het dit gedoen in medelye, ek het dit gedoen in regverdigheid, ek het dit gedoen in liefde, ek het dit gedoen net omdat ek wou , omdat ek God is, terwille van my eer. God doen dit want Hy is getrou aan Homself en sy beloftes. God is die een wat genade bewys en verlossing bewerk - vanaf Genesis toe Hy in sy goedheid vir Adam en Eva klere van vel gemaak en die moederbelofte gee het...Dwarsdeur die geskiedenis sien ons God se genade, maar een toneel staan bo alles uit. Golgota. Die kruis. Jesaja 53 verduidelik so goed wat daar gebeur het...**

God se uitwissing van ons sonde is totaal en volkome –“En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe. Ek is getrou aan Myself, Ek dink nie meer aan jou sondes nie.” (Jesaja 43:25) Vergelyk ook Jeremia 31:33,34. Hoeveel sonde en simptome van sonde is daar nie by ons aanwesig nie - sondes van die liggaam, die oog , die oor, growwe openbare sondes, geheime weggesteekte sondes (maar net so aaklig), sondes van die gedagtes, en verbeelding, sondes by die huis, die skool , die werk , hier by die kerk... Herhaalde sondes, opsetlike sondes, twyfel, laster, direkte sondes teen God, sondes teen jou medemens, teen jouself, noem maar op ... God laat geen kategorie uit nie – Hy het alles uitgedelg. Weereens, waar en wanneer het God ons sondes uitgewis, uitgedelg? Dit het by die kruis gebeur. “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,” ( Kol 2:13,14) Op Golgota is ons sondeskuld, hierdie sondeskuld wat verdoemend teen ons getuig, finaal en volledig uitgewis! Ja, jy onthou dit nog miskien, ander mense onthou dit, sommige sondes laat lewenslange letsels na - maar daar waar dit saakmaak - in die gedagtes van God - is dit uitgewis. God se uitwissing van sonde, God se vergifnis van sonde is iets buitengewoon wonderbaar en finaal! “Wie is ‘n God soos U? U vergewe sonde, U straf nie die sonde van dié wat uit u volk oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, U betoon liefde. Hy sal ons weer genade betoon, Hy sal ons sonde tot niet maak, U sal al hulle sondes in die diepsee gooi. “ (Miga 7:18,19) Ja, Hy het ons sondes in die diepte van die see gewerp! (en onthou : visvang is verbode)

3) Ons gepaste reaksie op God se genadedaad. God verwag geen teenprestasie nie. Genade is genade. Dit word nie verdien nie, dit kan nie verdien word nie, dit benodig geen aanvulling nie. Dis ’n geskenk. ’n Mens betaal of werk nie vir ’n geskenk nie, maar ’n geskenk lok wel reaksie uit. Dis mos so....Watse reaksie is hier gepas? Watse reaksie verwag God van ons noudat ons gehoor het, dat Hy ons sondeskuld uitgewis het? God sê vir sy volk : “Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos...” Wie die Goeie Nuus van die verlossingsdaad op Golgota werklik glo draai om van die ou pad en aanvaar dit met dankbaarheid... Die Goeie Nuus van die uitwissing van ons sondes laat elkeen wat dit glo in sy spore omdraai. Mense wat ongesteurd voortgaan, wys dat hulle God se genade verwerp het, dat hulle die boodskap van die kruis minag. Hulle sal die gevolge moet dra.

Soos jy hier lees val jy in een van twee groepe en in elke geval is hier vir jou ‘n kragtige boodskap:

~ Jy het nog nooit die Goeie Nuus (evangelie) werklik geglo nie. Miskien is jy baie godsdienstig, maar jy het nog nooit in dankbaarheid die evangelie aanvaar nie. By jou wil ek spesiaal pleit : Sien raak die werklikheid en feit van jou sonde, maar hoor dan die Goeie Nuus! “Ek het dit uitgewis...” Kom vandag, NOU na Jesus toe. Aanvaar in die geloof wat Hy reeds lankal gedoen het. As jy Hom aanvaar het, kan jy verseker weet ook jou sondes persoonlik is vir eens en altyd uitgewis.

~ Jy het hierdie boodskap lank reeds aanvaar en geglo. Tog kom daar twyfel by jou op as jou gedagtes begin rondhardloop : “Wat van hierdie vreeslike ding, wat van daardie sonde waarin ek herhaaldelik geval het, wat van my daaglikse mislukkings...?” Geliefde kind van God, hoor gelowig wat sê God. “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis” Vat God op sy Woord, want Hy is nie ’n mens dat Hy sou lieg nie. As Hy sê : “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis” dan bedoel Hy dit. Laat sy Woord vir jou genoeg wees en los al die “maars”. Sy Woord tel meer as ons gewete, ons mislukkings of ander se opinie.  Mag hierdie kragtige uitspraak van God rus, vrede, sekerheid en blydskap in jou hart bring. Bedink dit en Bêre dit in jou hart! Vier dit in die Nagmaal. Dis 'n feit so seker as die brood en wyn wat jy voor jou oë sien en met jou mond proe!



*In Psalm 51:6 bely Dawid : “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.”

**"Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom."

[Met erkenning aan Donald MacDonald, CHRISTIAN EXPERIENCE, hoofstuk 5]


In die diepte van die see...