BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Bekering van Verbondskinders. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Bekering van Verbondskinders. Wys alle plasings

Woensdag 18 November 2020

GOED OF SLEG?

EERLIK GEKYK NA DIE MENS

Is die mens goed of sleg? Is party mense sleg en party dalk goed? Is die meerderheid goed en die minderheid sleg of dalk andersom? Daar is baie opinies… Daar is egter net een betroubare opinie en dis God se opinie. Dis wat Hy ons in sy Woord leer. 

Ons vind die antwoord op hierdie vraag in Romeine 3:11-18

Daar staan immers geskrywe: "Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, 
daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. 
"Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. 
"Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. 
"Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. 
Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter. 
Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, ontsag vir God het hulle nie." 

Wat 'n skokkende beskrywing van die mens se toestand! Alle mense. Die heel egste – geen ontsag vir God nie! Die mens het van nature geen respek vir God nie, geen liefde vir God nie, geen verlange om sy Woord te hoor nie, geen begeerte om sy opdragte te gehoorsaam nie… Ons sien orals rondom ons die bewyse : minagting vir God se wette oor die huwelik, verbreking van die beloftes wat ons aan God maak, plesier wat voor God gestel word, maar as ons in die nood is dan hardloop ons gou na Hom… 

Om saam te vat – God se opinie oor die mens is dat die mens ‘n totaal verdorwe diep gevalle sondaar en korrupte woestaard is! En onthou God is regtig lief vir mense, God se opinie is nie die van iemand wat negatief is nie, maar van iemand wat die mens regtig liefhet! Wat God van die mens sê, sê Hy dus omdat dit die waarheid is. God het dit reeds van die mense in die tyd van Noag gesê : “Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die Here bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief.” (Genesis 6:5,6) Dis nog steeds die situasie... 

GEEN TOEGANG SONDER WEDERGEBOORTE 

Die implikasie is niemand kan God se Koninkryk ingaan as daar nie eers iets drasties gebeur nie. In die Johannes evangelie sien mens dit so duidelik – Nikodemuswas 'n goeie man, iemand wat die Bybel geken het, ‘n leraar in Israell. Maar Jesus sê vir hom: “Jy moet weergebore word!” Die punt is hy het Jesus nodig. Net in die volgende hoofstuk kry ons ‘n absolute kontras– die Samaritaanse vrou – ‘n slegte vrou (bly ongetroud saam met ‘n man – ja dit mag dalk ‘n verrassing wees vir sommige, maar die Bybel sien dit so) – 'n uitgeworpene. Dit kom aan die lig sy het al vyf mans gehad. Jesus bied vir haar die lewende water aan. Die punt is dieselfde – sy het Jesus nodig. 

Alle mense is helverdiende sondaars, alle mens het ‘n Middelaar en Verlosser nodig en die Enigste wat jou kan red is Jesus. 

Die doopformulier stel dit baie duidelik. Almal is aan die verdoemenis onderwerpe en kan slegs in die koninkryk van God ingaan as hulle weer gebore word! 

Die Goeie nuus is dat God uitreik (Sy hand uitsteek) na die diep gevalle sondige mens. God het die mens nie afgeskryf en in sy ellende net so alleen gelos nie. Reeds na Adam en Eva in die tuin kom soek God die emns op. Later op besondere manier reik Hy uit na Abram. God doen dit deur sy beloftes en die bevestiging daarvan in die verbond. Sy beloftes van redding. “Ek wil vir jou ‘n God wees en jy moet my volk wees.” Die sigbare teken van God se beloftes in die ou bedeling was die besnydenis. Deur die besnydenis het God belowe : "Ek wil jou God wees en jy moet vir my ‘n kind wees." Maar luister mooi! Nie almal wat die teken ontvang het, het die beloftes aanvaar en God se kinders geword nie. Die Bybel praat van die mense wat besnede was, maar onbesnede van hart gebly het. Hulle het God se beloftes verwerp al was hulle besny en God se straf en oordele het hulle getref. 

In die nuwe Verbond is dit soortgelyk. God bevestig die waarheid van die evangeliebeloftes in die sigbare teken van die doop. Jesus se kruis en opstanding was vir ons genoeg. Maar ons moet dit aanvaar deur geloof en bekering. Sonder geloof en bekering sal gedooptes verlore gaan! Hoor ons dit? Daar gaan baie gedooptes in die hel wees! Maar dit sal nie God se skuld wees nie. Daar is niks verkeerd en vals aan God se beloftes nie. Daar kom niks te kort aan die volledigheid van Jesus se kruis en opstanding nie.

HOEKOM STEEDS VERLORE?

Hoekom gaan mense nog steeds verlore? Kom ons luister hoe die Johannes evangelie hierdie vraag beantwoord…

 "God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 
God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 
Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie. 
En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. 
Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. 
Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is." (Johannes 3:16-21) 

BELOFTE EN EIS

God maak beloftes. Ons sien dit sigbaar by die DOOP. Ons MOET antwoord op God se beloftes deur geloof en bekering. Dis die eis van die verbond. Geloof in Jesus is nie net om van Jesus te weet nie, maar om na Hom wat die lig is te kom… Het jy al na Jesus gekom sodat Hy jou lewe nuut kan maak?



Donderdag 22 November 2018

DIT RAAK JOU KINDERS!

- HIERDIE IS ’N KEUSE WAT JOU NAGESLAG BESLISSEND BEÏNVLOED.



Baie van die keuses wat ons maak gaan vir altyd ook ‘n invloed hê op ons kinders se welsyn en toekoms... Dink nou maar aan die netelige kwessie van emigrasie. Moet ek bly of moet ek ry ter wille van ‘n beter (?) toekoms vir my kinders? 

Hier in Deuteronomium 30:15-20 word ’n uitdaging aan die volk Israel gerig om ’n keuse te maak. Opmerklik en veelseggend is dat die keuse nie net hulleself sal raak nie, maar ook hulle nageslag sal beïnvloed. “Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.” (19b!) 

Die belangrikheid om ‘n keuse te maak. 

Dis baie duidelik dat die volk Israel hier voor ‘n beslissing gestel word. Julle moet nou kies! Dikwels skram mense weg van hierdie verantwoordelikheid. Ander is baie gou by met die beskuldiging en skeldnaam METODISME as daar van ‘n keuse of eis tot bekering gepraat word! Daar is dikwels die verskoning, “Ag wat die Here het my paadjie uitgelê, wat sal gebeur sal gebeur.” Dis ’n verdraaiing van Bybelse waarhede om so te redeneer. Ja, natuurlik het God die inisiatief geneem. Hy het die verbond met Abram gesluit en beloftes gemaak. Dis alles sy genade! Ons kry hier weereens ’n duidelike verwysing daarna. “Om die Here jou God lief te hê, Hom te gehoorsaam en Hom aan te hang, sal vir jou lewe gee en jou lank laat woon in die land wat die Here met ‘n eed aan jou voorvaders Abraham, Isak en Jakob beloof het om aan hulle te gee." (20) Dis inderdaad God wat toe Hy aan sy verbond gedink het, besluit het om hulle uit Egipte te verlos en na die beloofde land te lei. Maar nou moet hulle kies. Hulle is verbondsmense aan wie die heerlike beloftes behoort, maar hulle moet nou self KIES! Dis noodsaaklik, want alle verbondsmense (of as jy wil, kerkmense!) het nie noodwendig die lewe nie! JY moet kies, JY moet besluit! Hierdie uitdaging kom weer en weer ook tot ons. Jesus self het aan die verbondsvolk hierdie uitdaging gerig, reg aan die begin van sy bediening- “Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:14,15!) Het jy al duidelik gereageer? 

Die inhoud van die keuse. 

Waaroor het die keuse gegaan. Kies die LEWE! Wat is hierdie lewe? Hierdie keuse is ’n keuse om God lief te hê en sy gebooie te gehoorsaam. Dies lewe in God se teenwoordigheid. “As jy die Here jou God liefhet en sy wil doen deur sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings wat ek jou vandag gegee het, te gehoorsaam, sal jy lewe en baie word en sal die Here jou God jou voorspoedig maak in die land wat jy in besit gaan neem.” (16) Om God lief te hê is om sy gebooie, sy voorskrifte, sy bepalings te gehoorsaam! Dis ’n keuse vir gehoorsaamheid aan die wet van Moses as geheel. Die tora. 

Die tora het die pad aangedui. Die koers waarvolgens die mens moes loop. 
Die tora was die waarheid. Die duidelike suiwer waarheid te midde van al die valsheid en afgodery. 
Die tora was lewe teenoor dood. Godellike lewe in sy teenwoordigheid en onder sy seën!

Wat is die keuse waarvoor ons staan? Ons moet Jesus kies! Om Hom te glo en te gehoorsaam. 
Jesus self is nou die weg, die waarheid en die lewe! (Johannes 14:6) 

Dit wat die tora was in die konteks van die Ou Verbond, is Jesus self nou in die Nuwe Verbond. 

Jesus in Homself is die vervulling van die hele tora, die hele wet van Moses. Ons word uitgedaag nie net om ’n boek se voorskrifte na te volg nie, maar om ’n Lewende Persoon te volg! Om persoonlik my hele vertroue op Hom te plaas. 

Die langtermyngevolge van die keuse. 

Die gevolg van die regte keuse vir God en sy wet, sou ’n lang lewe wees in die beloofde land Kanaän. ’n Letterlik voorspoedige lewe in die land Kanaän. In die Nuwe Verbond gaan dit nou nie meer oor ’n letterlike Kanaän en aardse voorspoed nie. (Terloops, dis hier waar baie misverstande kom wat tot die Prosperity Gospel dwaling aanleiding gee. Mense maak so maklike die aardse beloftes van die Ou Verbond naatloos van toepassing op die Nuwe Verbond. Dit kan nie. Jesus die Middelaar van die Nuwe Verbond het nooit materiële voorspoed beloof aan sy volgelinge nie, maar wel ‘n ewige beloning hierna!) Ons wat die keuse doen om in Jesus te glo en Hom te gehoorsaam kry iets beter as Kanaän – die ewige lewe nou reeds en finaal in die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die ewige stad waarvan God self die Bouer is! EWIGE LEWE is om God en Jesus te ken en by Hom te wees! (Johannes 17:3) 

Die opvallende gedeelte van hierdie belofte in vers 19 is – “Jy en jou NAGESLAG” Die keuse raak nie net jouself nie, maar ook jou kinders! Nou is die groot vraag : Geld dit ook vir die Nuwe Verbond? Raak dit my kinders as ek tot bekering en geloof in Jesus kom? En die antwoord is ’n heerlike en besliste JA! Ons kry ’n treffende voorbeeld daarvan in Handelinge 16. Die bekering van die tronkbewaarder van Filippi. Lees gerus weer Handelinge 16:29-34. Let op na die antwoord wat die tronkbewaarder ontvang as hy vra wat hy moet doen om gered te word! "Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin." (31) Hierdie is ‘n belofte wat ons nie ligtelik moet opneem nie! 

Die punt is dit : 

Ouers se keuse speel ’n geweldige groot rol in die lotsgevalle en eindbestemming van hulle kinders. 

Beteken dit dat kinders van gelowige ouers outomaties gered word? Outomaties wedergebore is? Nee! Hulle moet self ook kies wanneer hulle die ouderdom van bevatlikheid en verantwoordelikheid bereik. En inderdaad gebeur die onbegryplik tragiese – sommige maak nooit die regte keuse nie en gaan vir ewig verlore! Die onbegryplike negatiewe wat kan gebeur mag egter nie veroorsaak dat ons die heerlike positiewe belofte hier verswak of ignoreer nie! 

Nou wat is die voordele dan vir kinders wie se ouers die Here Jesus ken en dien? 

-Hulle leef in die dampkring en die invloedsfeer van God se genadeverbond. God is hulle beskermer van kleins af. “U is my hulp van my geboorte af, reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm. U loof ek gedurigdeur.” (Psalm 73:6!) 

-God gebruik die Christen ouerhuis as die kanaal waardeur sy genade en beloftes ook na hulle kom. Hulle het ouers wat vir hulle bid en intree by God se genadetroon. Ons kan die Here herinner aan sy beloftes! Hierdie kinders hoor die Woord van kindsbeen af. Wat ‘n voorreg! “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus." (2 Timoteus 3:14,15) Ons kan positief vertrou dat die saad van die Woord wat natgemaak word deur die gebede van gelowige ouers uiteindelik sal vrugdra! 

-Kinders van gelowige ouers kry van kleins af die voorbeeld van geloof en van liefde vir die Here en liefde vir sy kerk! Ja, baie van hulle rebelleer, maar daar is baie getuienisse van verlore seuns en dogters wat na ‘n tydperk tussen die varke weer terugkeer... Ons as gelowige ouers kan die pad maar gelowig en hoopvol dophou... 

Oor wat jy as ouer oor emigrasie besluit, wil ek nie veel kommentaar lewer nie. Wat ek wel wil onderstreep is die Bybelse opdrag : Kies die lewe en jy en jou kinders sal lewe. Kies Jesus en jy en jou kinders lewe!

Naskrif : As jy dalk vanuit Bybelse vertrekpunte wil saamdink oor emigrasie, kliek op BLY OF GLY?



Vrydag 10 Maart 2017

GOD SELF

- BELOOF, BEVESTIG EN BEWERK ONS VERLOSSING!



Ons het gesien hoe God met Abram besig is op sy geloofspad in Genesis 15. Hy het sy beloftes aan die wankelende Abram herbevestig. Boonop het Hy toe vir Abram op ‘n nagtelike uitstappie gevat – “Kyk na die sterre! Kan jy hulle tel? Abram, dit wat jy nie kan doen nie, kan ek doen. Dit wat vir jou onmoontlik is , is vir my moontlik.” (Kliek op STERRE) En Abram glo. Maar daar is nog steeds huiwering by hom. “En hy sê: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?” (8) Hy soek nog meer vastigheid en versterking. Hierdie versoek is nie ‘n teken van ongeloof, maar ‘n bewys van geloof wat van sy eie swakheid bewus is. God verag nie ‘n geringe en swakke geloof nie. (Die aangrypendste voorbeeld in die Nuwe Testament is die pa wat na Jesus toe kom in Markus 9 – “Ek glo Here, kom my ongeloof te hulp!”)



VERBOND


Om Abram se geloof te versterk sluit God ‘n verbond (kontrak) met hom. God bevestig sy beloftes op ‘n formele kontraktuele manier. Hy hoef dit nie te doen nie, sy beloftes moet mos genoeg wees, maar Hy kies om dit so te doen. 

“En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. Op dié dag het die HERE met Abram 'n verbond gesluit...” (17,18)

GOD TREE EENSYDIG OP!

Oor die presiese betekenis van al die besonderhede van hierdie verbondsluitingseremonie is daar nie eenstemmigheid nie.* Dis net interessant om te onthou dat mens in Hebreeus ‘n “verbond sny” Die verdeling van die diere – as ‘n oordeelsteken maak dus baie sin. Wat wel opvallend waar en vol betekenis is, is dat God eensydig** optree. Hy gaan alleen tussen die verdeelde diere deur in ‘n Goddelike verskyning. (Normaalweg sou mens verwag dat beide partye in die verbond dit sou doen) Die rokende oond en fakkel herinner sterk aan die wolk en vuurkolom tydens die Uittog uit Egipte en mag dalk ‘n profetiese boodskap van beskerming inhou ten opsigte van die latere geskiedenis van Israel. Nietemin, die klem val op God se inisiatief, God se ingrype, God se belofte en God se versekering terwyl Abram in ‘n passiewe toestand van vrees en angs is. (12) “En toe die son wou ondergaan, val daar 'n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.” (Dis miskien iets soos daai drome waarin jy voel of jy van als bewus is, jy word bang, jy wil iets doen, maar jy is magteloos… )

Abram is buite aksie, dis God wat die aksie uitvoer. 

En dis ‘n genade aksie! ‘n Heerlike troos! God staan nie simpatiekloos en kyk eenkant toe hoe ons in die geloofslewe spartel en verdrink nie. Hy gryp in… Hy neem als op Hom. So wek HY geloof en ondersteun HY ons geloof. Hier in vers 18 word die verbond met Abram die eerste keer by name genoem. (die teken van die verbond, die besnydenis word eers in hfst. 17 gegee) En terloops, die hele res van die Bybel gaan oor die magtige verhaal van hoe God getrou bly aan sy verbond. Tot in Openbaring kom dit weer ter sprake!

Aangrypend heerlike drama. Die almagtige Skeppergod daal neer na die nietige mens en maak beloftes aan hom, maar dis nie al nie Hy sluit ‘n verbond met hom om die beloftes te bevestig. God kom na ons in Woord en sakrament. God verbind Homself deur sigbare tekens. Ook aan ons. Doop en nagmaal. Dis die groot saak om raak te hoor in die prediking en raak te sien in die sakrament. God speel die hoofrol. God tree op. God belowe. God bevestig sy beloftes. Ons troos lê in dit wat HY doen en wat HY belowe. In die doop wat die uiterlike teken is van die verbond gaan dit dus nie in die eerste plek wat ons belowe nie. Dit gaan oor God se beloftes, spesifiek God se beloftes wat waar geword het in Jesus. Dink tog maar mooi, watter troos bied ons beloftetjies tog… verbreek ons hulle nie dikwels maar vinniger as wat ons hulle gemaak het nie? 

DOOP

Net terloops. ‘n Streng subjektiwistiese siening van die doop, waar alle klem op my belydenis en my besluit val bied maar min troos in tye van storms en vertwyfel. Die feit dat ons (onder andere) vanuit die Abramsverbond aflei dat kindertjies ook hierdie teken mag ontvang (sommer om nou in ‘n polemiek betrokke te raak) bevestig net hierdie sterk klem op die eensydige kant van God se beloftes wat hier in Genesis 15 so dramaties geïllustreer word. Natuurlik kan klein kindertjies nog nie glo nie, natuurlik kan hulle nog nie tot bekering kom nie. Maar sou dit God verhoed om reeds sy beloftes aan hulle te bevestig? Onthou weer, Abram het geslaap toe God opgetree het... Abram ontvang wel die teken van die verbond nadat hy geglo het in Genesis 17, maar toe sy seun Isak gebore word ontvang hy die teken al op agt dae. Isak sou wel iewers later tot geloof gekom het, want volgens Hebreërs 11 was Isak ook ‘n gelowige.

EVANGELIE

Die groot saak is - Ons hoor reeds die evangelie hier in Genesis 15! God tree eensydig op, Hy gaan alleen tussen die stukke deur, Hy neem die inisiatief by die verbondsluiting. Dis mos presies wat by die kruis van Jesus gebeur het. God het mens geword in Jesus. Hyself vat die volle straf vir ons sonde. By die kruis het God alleen opgetree. Die mens het nie gehelp nie. Deur Jesus se offer het God gekom en ons met Homself versoen. Hy het dit volledig gedoen. Die mens het nie op Golgota enige bydra gelewer nie, die verlossing is genoegsaam en volkome deur God self bewerk in Jesus Christus.

REAKSIE : DANKBAARHEID!

Ons kan niks anders wees as dankbaar nie. Daar bly vir ons niks anders oor om te doen as dankbaarheid nie. Ons bewys ons dankbaarheid deur geloof en bekering. Geloof en bekering is die sigbare bewys van dankbaarheid. Wie nie glo nie en nie bekeer nie, is gruwelik ondankbaar en verwerp God se genade en vertrap die verbond… Juis ook en veral op gedoopte verbondskinders rus die verpligting om te reageer met geloof en bekering.

Net ‘n laaste vraag. In die lig van wat God gedoen het, sy eensydige verbond, sy genade, sy werk deur Jesus aan die kruis… Hoe kan ons onaangeraak bly, hoe kan ons ongelowig bly, hoe kan ons onbekeerd in sonde voortgaan, hoe durf ons die Woord minag…? Dis waansinnig dwaas om God se liefdevolle toenadering te verwerp en inderdaad sal so ‘n verwerping lei tot ‘n ewige waansin van selfverwyt in die hel…


Besondere wolkformasie bo die Omatako's (foto : ds. Hendrik van Zyl)

*Sommige verklaarders maak baie van die ooreenkomstige gebeure in Jeremia 34:18-20 waar die straf weens die verbreking van die verbond voorop staan, terwyl ander meen daar is nie ‘n direkte ooreenkoms nie.

**Dumbrell, Covenant and creation,p49 en ook Woord teen die Lig II/3 p160,162

Vrydag 07 November 2014

NOOIT TE JONK NIE!

- begin sou gou as moontlik vir Jesus ken en skyn.

[Hier is drie kerse : ‘n kortetjie,  ‘n baie lang een, en ‘n middelmatige een. Watter van hierdie kerse is ‘n “baba” kers en watter een is die “oupa” kers? Reg geraai. Die lang kers is die “jong of baba” kers, want hy het nog ‘n lang tyd oor om te brand! Die kort kersie is die “oupa” wie se tyd begin min word...]




Kom ons lees die bekende verhaal van die jong Samuel se roeping as profeet in 1 Samuel 3:1-10. Hier word twee baie belangrike dinge oor die seun Samuel gesê :

Vers 1. “Samuel het die Here gedien.” Van kleins af het Samuel aan God behoort en Hom in die tempel gedien. Ons ken mos die geskiedenis – hoe die kinderlose Hanna hartstogtelik gebid het vir ‘n kindjie... Sy het ‘n gelofte afgelê... “Sy het ‘n gelofte afgelê en gesê: "Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ‘n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie." (1:11) Sy het met sulke groot passie en erns gebid dat die priester Eli gedink het sy is dronk! Toe het sy ‘n belofte gekry dat die Here vir haar ‘n seun sou gee. “Toe sê Eli: "Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het." (1:17) Dit het waar geword. Sy het ook haar gelofte nagekom en hom na die tempel gebring vir diens aan die Here. Ons moet nooit die gebed en die invloed van sy moeder miskyk nie. Dis ‘n voorreg om in ‘n Christelike huis groot te word, om van kleins af deel te wees van die kerk, om die Bybel te leer ken, maar die Here wil nog iets beter vir jou...

Vers 7. “Samuel het nog nie die Here geken nie.” Samuel was besig met God se dinge daar in die tempel, maar ‘n innige persoonlike verhouding het nog ontbreek. Ons kan sê, Samuel het God net so op ‘n afstand geken. (soos jy dalk jou onderwyser ken, maar nog nie soos mens ‘n pa of naby vriend ken nie) God het ‘n groter plan gehad vir Samuel as maar net so ‘n algemene diens en algemene bekendheid. 

God het Samuel persoonlik geroep en Samuel het persoonlik geantwoord op Sy roepstem! Ons sou kon sê dat Samuel se ouers tot op hierdie stadium namens hom gekies het om die Here te dien, maar nou moes Samuel self kies! Ook as verbondskind moes hy nou self verantwoordelikheid vat!

Ons ouers, die Sondagskool, die kerk het ‘n goeie invloed op ons. Ons word groot met God se dinge. Daar kom egter ‘n tyd wanneer die Here persoonlik met ons praat. Dit gebeur wanneer die Heilige Gees regtig hier diep in ons hart met ons praat deur die Woord. Dis wanneer ek weet, God roep vir my op my naam. Dit gebeur wanneer ek weet ek is ‘n sondaar en ekself het Jesus nodig.

Miskien sê jy : "Maar Dominee, Samuel was tog ‘n spesiale geval, hy is geroep as profeet. Ek is maar net ‘n gewone kind. Die Here sal my seker nie roep nie?" Ja, dis waar ons is almal gewone mense, maar die Nuwe Testament in geheel leer ons dat God ons almal roep deur Jesus om konings, profete en priesters te wees. 

Jesus roep jou om as koning te heers oor sonde, om gesag uit te oefen en sy wil te doen. 
Jesus roep jou om ‘n priester te wees om jouself met dankbaarheid, gebede en lof aan Hom te offer (toe te wy, te gee). 
Jesus roep jou om as profeet sy Woord te verkondig, vir Hom te getuig daar waar jy is tussen jou klasmaats en in jou huisgesin.

Om dit saam te vat : God wil in ‘n baie persoonlike verhouding met jou staan, HY WIL BAIE NABY AAN JOU WEES en op ‘n persoonlike manier gebruik. Hy roep jou nou terwyl jy nog jonk is, sodat jy lank vir hom kan brand en ‘n lig kan laat skyn. (Jy is nog soos die lang kers!) Hy roep jou nou, deur Sy Woord en die Heilige Gees wat met jou praat in jou hart! Die Here wil jou beste jare hê. Hoekom sal mens jou beste jare vol energie vir die duiwel mors? Ons het net een lewe en ook net een jong lewe. Dis nou die beste tyd om op God se roepstem te antwoord. Vorentoe kom daar al meer probleme en hindernisse. Prediker 12:1 gee vir ons baie goeie raad. “Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: "Ek het daar niks aan nie." 

God roep en gebruik jongmense en kinders : Miriam, die jong Dawid, die onbekende dogtertjie in Naäman se huis... Jeremia was nog jonk, Timoteus was nog jonk. Jesus gebruik die vyf brode en twee vissies van ‘n seuntjie... Hy roep jou vandag! Jy word geroep om in Jesus te glo, om raak te sien dat Jesus klaar die straf vir al jou verkeerde dinge gedra het aan die kruis. Jy moet glo dat sy offer ook heeltemal genoeg was vir jou en dat Hy jou ten volle liefhet. 

Hy roep nou. Jy moet vandag antwoord. Sommer nou, kan jy in jou hart met Jesus praat en vir Hom sê : “Hier is ek!” Hoekom nie? Hoekom wil jou uitstel? Hoekom wil jy nog verder in sonde voortgaan en nog verdere letsels opdoen? Hoekom wil jy kosbare tyd wat jy saam met God kan deurbring vermors deur dit saam met die duiwel deur te bring? Niemand wat van jongs af God se kind geword het, was al ooit spyt daaroor nie...

Die grootste gevaar is uitstel. (kliek op UITSTEL) Dis speel met vuur om te sê: “Ek sal môre, ek sal eers wag tot na die eksamen, ek sal maar eers die vakansie agter die rug kry...” Hy roep jou vandag en niemand kan waarborg dat jy weer ‘n kans sal kry om geroep te word nie! Gaan jy antwoord? Hoor weer, HY ROEP JOU!

En ten slotte, sommer 'n dringende woord van waarskuwing aan die groot en ou mense : Jou kers is dalk al baie kort, jou tyd is min, maar tot vandag toe nog het jy nie gehoor gegee aan Jesus se roepstem nie... Jy het jou lewe "bestee" aan jouself en nie aan God nie.  Jy het nog 'n kans om die saak reg te stel, reageer NOU!