BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Waarheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Waarheid. Wys alle plasings

Dinsdag 01 Augustus 2017

AANDAG VIR DIE ANTICHRIS

- Hoe oorleef ek in ‘n tyd van massale afvalligheid?


KIES DIE WAARHEID BO WONDERS!

Ons leef in ‘n tyd van massale afvalligheid en afgryslike dwaling. Dwarsdeur die wêreld, maar helaas ook in ons eie land en kerk is daar al groter getalle mense wat basiese waarhede en waardes verwerp. Basiese waarhede soos wie Jesus is, sy uniekheid as enigste Middelaar, sy plaasvervangende kruisdood en sy liggaamlike opstanding word betwyfel en bevraagteken, selfs ook op ons teologiese fakulteite. Fundamentele etiese norme soos wat ‘n huwelik is word daagliks ondergrawe, nie slegs deur internasionale drukgroepe nie, maar in ons eie kerklike vergaderings...

Dit alles dui daarop dat as die Antichris kom gaan die groot meerderheid van mense hom aanhang en volg. (Ook die meerderheid van mense wat ons kerke vol sit!) Eintlik wys dit dat vele alreeds voor die Antichris se propaganda geswig het, want die Bybel leer natuurlik dat daar nou reeds baie antichriste is. “Kinders, dit is die laaste uur. Julle het gehoor dat daar ‘n antichris kom; en daar is nou reeds baie antichriste. Daaruit weet ons dat dit die laaste uur is.” (1 Johannes 2:18) Elke geslag lewer sy kwota antichriste op en hulle verblind en verlei die massas. Dit is nie iets wat nog kom nie, dit gebeur reeds elke dag voor ons oë! Die kernstrategie is misleiding. (Christene wat dink die Antichris, gaan sê : “Hi ouens, ek is die Antichris, kom hier dat ek vir julle ‘n 666 tjap op die voorkop kan gee,” is baie naïef en gaan beslis onkant gevang word!) 

Hoekom het die finale Antichris en ook al sy voorlopers so ‘n groot aantrekkingskrag? Waarom val so vele vir die valse “christusse” van elke era in die geskiedenis? Wat maak mense kwesbaar en vatbaar vir hierdie misleiding?

Ons kry hier in 2 Tessalonisense 2:9-12, drie belangrike hoofredes waarom mense soos vlieë agter vrot vleis agter die Antichris sal aanswerm. Paulus verwys hier na die Antichris as die “wettelose mens” of “mens van sonde”.(OAV) Vergelyk ook 2 Tessalonisense 2:3. “Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie.”

EERSTE REDE. Die Antichris se koms sal gepaard gaan met sigbare en opwindende vertoon - ongelooflike wonders! “Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaard gaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders.” (9) En dis juis wat mense gaan vang, want die goddelose mens wil graag sien en voel en ‘n ervaring hê! Dit staan reëlreguit teenoor die pad van geloof wat God uitgestippel het vir sy kinders. Paulus stel dit so in 2 Korintiërs 5:7 : “want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.” Die Antichris gaan mense dus maklik aan die hoek kry met die aanloklike aas van oorweldigende magsvertoon en “showbusiness”. Hy sal beslis gebruik maak van meesleurende reklame foefies, massamedia beïnvloeding, oortuigende retoriek en indrukwekkende wonderwerke. Die maklik verleibare massas sal verstom en verbyster word deur die valse wonders wat die Antichris se opgang sal ondersteun. Volgens Openbaring sal die valse profeet hierin ‘n groot rol speel. Die vals profeet as simbool van alle anti-waarheidsgodsdiens se bonatuurlike mag om wonders te doen sal miljoene mislei. Openbaring 13:13,14 stel dit so : “Hy doen groot tekens, sodat hy selfs vuur van die hemel af op die aarde laat kom vir die mense om te sien. Aan hom is daar mag gegee om wondertekens namens die dier te doen, waardeur hy die bewoners van die aarde mislei.” (Vals profete soos TB Joshua het reeds bewys hoe maklik massas met hulle vals wonders mislei kan word.) Alle wonders is nie Goddelike wonders nie! (Dink aan die Egiptiese towenaars wat ook water in bloed kon verander en hulle kieries slange laat word het!) Alle bonatuurlike dade het nie ‘n suiwer bron nie. Ja, daar is ware egte wonderwerke, spesifiek die wonders wat Jesus en sy apostels gedoen het, om Jesus se Godheid te demonstreer en om die evangelie in sy kinderskoene dae te sanksioneer. En natuurlik is God die Almagtige vir wie niks onmoontlik is nie, vandag nog in staat om wonders te doen soos en wanneer Hy wil! God vereis egter nou van ons om te glo sonder om te sien. Jesus se woorde aan Tomas is vol betekenis : “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” Ons moet deeglik daarvan kennis neem dat die Satan en sy agente konsentreer op wonders, want hulle ken die mens se hart. Die mens wil graag sien, wil graag vermaak word, wil graag wonders hê om sy eie lewe maklik en gerieflik te maak. Alle mense hou van wonders en sensasie, ook die mees goddelose rebel. Daarom sal die Antichris dit met groot welslae gebruik. Wees maar eerlik - as ons sou afkondig dat hier volgende Sondag definitief vuur uit die hemel sal kom, sal man en muis hier wees. Maar as ek vandag vir julle sê dat ek volgende Sondag die heerlike evangelie van genade in Jesus sal verkondig...dan is daar maar min belangstelling! Mense soek opwinding en vermaak - die Antichris sal dit in oormaat verskaf en hulle met ‘n slap riem vang!

TWEEDE REDE. Mense val vir die valsheid van die Antichris omdat hulle die waarheid nie liefhet en aanvaar nie! “...met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie.” (10)

Die “waarheid” is die waarheid van God, wat Hy geopenbaar het, naamlik die evangelie van Jesus Christus. Hierdie evangelie kom na ons deur die Woordverkondiging wat ons hoor en so word saligmakende geloof in ons gewek. Die mens wat nie erns maak met die Woord en doelbewus die evangelie aanvaar nie, is ‘n oop teiken vir die Antichris. Daarom sal selfs baie kerklidmate deur die Antichris en sy leringe meegesleur word, aangesien hulle nog nooit redding deur die evangelie gevind het nie. Ja, dis selfs moontlik dat die sogenaamde kenners van die eindtye deur die einste Antichris oor wie hulle so fluks spekuleer, geflous gaan word, want hulle het hulleself nog nooit aan die Waarheid (Jesus) onderwerp nie! Inderdaad, wemel dit in sommige kringe van beweerde en gewaande wonders, terwyl die waarheid onder hulle so skaars soos sonskyn in ‘n Arktiese winter is!

Gaan ek en jy veilig wees teen die Antichris? Die beste beskerming teen die leuen is om die waarheid baie goed te ken. Daarom ook Paulus se vermaning net ‘n entjie verder in vers 15. “Wees dan standvastig, broers, en hou vas aan die leer wat ons aan julle oorgedra het, of dit deur ons prediking of deur ‘n brief was.” Hou vas aan die apostoliese waarheid, die waarheid wat ons vandag in die Nuwe Testament het!

Dink bietjie. Hoe word mense opgelei om valse banknote uit te ken? Daar word nie gekonsentreer op voorbeelde van vals note nie - die vervalsers maak in elk geval altyd nuwe uitvindings, nee, die beste beveiliging is om die kenmerke en eienskappe van die egte note baie goed te bestudeer! Dan sal jy als wat daarvan afwyk, gou kan opmerk. Hoe beter ek die evangelie ken en die boodskap daarvan my eie maak, hoe minder kwesbaar sal ek wees vir die wolhaarwonders van die Antichris. Hoe meer ek die VOLHEID in Jesus ontdek (die genoegsaamheid van sy sterwe én lewe), hoe minder sal ek val vir die valsheid van die Antichris en sy trawante.

Daar is ook ‘n DERDE REDE waarom soveel mense vir die Antichris sal val. Dit hou direk verband met hierdie tweede rede, waarna ons nou net gekyk het. “Dit is ook waarom God hulle aan die mag van dwaling sal oorgee, sodat hulle die leuen sal glo.” (11) Om die waarheid van die evangelie te verwerp het skrikwekkende gevolge. God self word jou vyand en Hy bring jou onder die oordeel. Hoe doen Hy dit? Hy gee jou oor aan die mag van die dwaling. Het jy al gewonder hoe dit moontlik is dat selfs intelligente mense deur dwaalleraars aan hulle neuse rondgelei kan word? (Dink maar hoe mense val vir die Israelvisie, Hebrew Roots Movement, allerlei New Age propaganda truuks...) Hier is die antwoord. Wie God se Woord van waarheid verwerp en die ongeregtigheid verkies word as’t ware deur God self aan die Bose se mag oorhandig. Die straf oor sonde is nog erger sonde. Ons kry dieselfde gedagte in Romeine 1:28. “En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings...” Dis asof God sê : “Julle het my waarheid doelbewus verwerp, daarom is dit julle straf om die leuen te glo en so julle eie lot te verseël!”

Verwerp die Waarheid en God sal jou verwerp! 

Maar positief : Ons kan veilig wees teen die aantreklike verleiding van die Antichris! Hoe? 

Vat die Woord en volhard daarin! Dis hoe God jou sal bewaar!

Kies die Waarheid bo wonders! Die Waarheid is die Woord, die Waarheid is die evangelie, die Waarheid is Jesus self. (Joh 14:6) Diegene wat by Hom skuil is veilig!


Jy hoef nie te wonder of die briljante en omstrede Macron dalk die Antichris is nie... Jy moet wel seker maak dat jy die Waarheid ken en tot jou redding aanvaar het!

En ten slotte! Ons hoef nie een van die kastige "soekers na die waarheid" te wees nie. Die Waarheid is naby en by ons, dis Jesus self soos Hy Homself in die Woord deur die werking van die Heilige Gees openbaar! Kliek op SOEKERS




Donderdag 30 Maart 2017

BANG BEPREEK

- PAULUS MAAK VIR FELIKS BANG MET DIE WAARHEID.

Paulus het onskuldig in die tronk beland weens die komplotte van die Jode. Hy verskyn nou die tweede keer voor goewerneur Feliks wat as regter optree. Hier in Handelinge 24:24-27 gebeur nou iets merkwaardig. Gewoonlik is dit ‘n beskuldigde wat bang word in ‘n regter se teenwoordigheid, maar hier gebeur die teenoorgestelde. Feliks, die regter is die een wat bang word!

Dit lyk asof Feliks meer wou uitvind rondom Jesus. Mens kan aflei dat Feliks nie heeltemal onkundig was oor Jesus nie en nou meer wou hoor. In die berig oor die eerste verskyning van Paulus voor Feliks, lees ons immers : “Hier het Feliks, wat die besonderhede in verband met die leer van Christus taamlik goed geken het, die verhoor onderbreek.” (Hand 24:22)

Nou laat hy Paulus roep om meer te hoor van Jesus. Pragtig! Wat ‘n wonderlike geleentheid vir die evangelie! ‘n Kans wat Paulus kry om met ‘n persoon in ‘n hoë posisie die boodskap van Jesus te kan deel. Wat sou hy vir Feliks sê? Wel, as Paulus ‘n Amerikaanse Prosperity TV evangelis of ‘n ander kwaksalwer profeet was sou hy dalk baie aangename dinge vir Feliks kon gesê het. Miskien... “Edele Feliks, Jesus kan al u probleme oplos. Jesus kan u drome verwesentlik, u gelukkig maak, u suksesvol maak, u ryk maak ... Ag, edele al wat nodig is, maak net ‘n geldelike bydrae tot my “ministry” dan gaan die Here u sommer uit u sokkies uit seën... Ag , Feliks die pad na redding is baie eenvoudig, u kan maar net ‘n gebedjie agter my aanbid en u hart vir Jesus gee, dan is alles reg! Great!”

DIE BEGIN

Nee, toe nou nie! Paulus is nie ‘n selfaangestelde kommersiële profeet nie, maar ‘n geroepene van God. Omdat Paulus die ware evangelie hier aan ‘n verharde selfversekerde sondaar verkondig, begin hy by die begin. En wat is die begin? Waar moet ons begin voor ons mense van genade en vergifnis kan vertel (of beter gestel voordat genade en vergifnis vir hulle gaan sin maak?) Ons moet hulle wys op wat God se Woord te sê het oor hulle sondige toestand en die gevaarlike posisie waarin hulle hulself bevind. Dis presies wat Paulus hier doen. 

Hy praat met Feliks oor drie dinge:

  • ’n Lewe in gehoorsaamheid aan God. (geregtigheid - OAV) Die lewe wat God van mense verwag. Ja, God het ‘n bepaalde leefstyl wat Hy van ons verwag. Hy het die reg om sekere dinge van ons te vra. Hy is mos ons Maker. Daar is dinge waarvan Hy hou en daar is dinge waarvan Hy nie hou nie. Hy maak die reëls en nie onsself, die Huisgenoot of die algemene opinie van die dag nie! Hy en Hy alleen besluit wat is reg en verkeerd! (Nie eens die Algemene Sinode wat kort-kort van opinie verander nie.)
  • Selfbeheersing. Miskien was ‘n gebrek aan selfbeheersing persoonlik Feliks se swak punt. Dit wil voorkom dat hy in elk geval nie ‘n man met vaste beginsels en integriteit was nie. Eintlik is ‘n gebrek aan selfbeheersing ‘n wesentlike kenmerk van alle onbekeerde sondaars Efesiërs 2:13 gee ‘n beskrywing van die onbekeerde mens en dis duidelik die mens sonder God leef en maak net soos hy wil, sonder enige selfbeheersing! “So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word.” Ja, dis die mens sonder God, hy word deur sy luste aan die neus rondgelei...
  • Die komende oordeel. "Feliks jy moet besef, daar is ‘n God wat jou gaan verantwoordelik hou vir jou dade!"  Dis seker die laaste ding wat hierdie selfsugtige en gierige jakkals wou hoor! Die boodskap van die oordeel was egter deel van Paulus se evangelieverkondiging, so Feliks moes maar luister... Paulus het hierdie boodskap ook aan die gekultiveerde Atheners gebring. "God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan." (Hand 17:30,31) Hy verwys ook hierna in die Romeine brief in Rom 2:16. “...Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.” Dit was nie net Paulus wat oor die oordeel gepraat het nie. Die komende oordeel was deel van die Johannes die Doper se prediking en dit was ook ‘n belangrike deel van Jesus se prediking! Vandag is dit natuurlik taboe om na die oordeel en hel te verwys. Dit val buite die postmoderne mens se verwysingsraamwerk, want alles is mos maar reg en als is mos relatief! 
Die werklikheid van ‘n oordeel is deel van die onveranderde Bybelse boodskap!


EK HET JESUS REGTIG NODIG!

Hierdie feite, hoe ongemaklik ook al, onderstreep die sondaar se nood en behoefte aan Jesus! Hierdie is basiese waarhede wat nodig is om te verstaan voordat ‘n sondaar regtig na Jesus sal kom en regtig genade sal verlang. Dis net Jesus wat vergifnis kan skenk aan my vir my ongehoorsaamheid en ongeregtigheid. Dis net Jesus wat my kan nuutmaak en vir my selfbeheersing deur sy Gees kan gee. Dis net Jesus wat my kan red van die komende oordeel.

Sonder die feit van die oordeel maak die evangelie van God se genade geen sin nie en sal geen mens ook daarin belangstel nie. Hierdie dinge is natuurlik nie lekker om te hoor nie. Dis vandag nog nie lekker om te hoor dat jy ‘n rebel is nie. Trouens hierdie sake het Feliks so ontstel en verskrik dat hy uitroep : “Dit is nou genoeg….!”

EN DIE GENADE?

Miskien wonder jy tog nog of Paulus op hierdie stadium dan vergeet het van die boodskap van genade? Nee, beslis nie. Nie lank voor hierdie gebeure op sy reis na Jerusalem waar hy toe gevang is, het Paulus weereens bevestig – sy hele loopbaan gaan om een sentrale saak, die verkondiging van die goeie nuus oor genade! “Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” (Handelinge 20:24) Nee, Paulus se boodskap was en bly die genadeboodskap, maar dit is net relevant vir sondaars binne die konteks van God se geregtigheid en oordeel.

TYDELIKE INDRUKKE

Feliks het bang geword, maar dit was ook net vir ‘n tydjie. Sy hart het onaangeraak gebly. Dit gebeur met baie mense . In tye van siekte of dood, begin hulle nadink oor die dood en oordeel en toon selfs vir ‘n kort rukkie belangstelling in die Woord. Hulle kom selfs ‘n paar keer kerk toe. Maar helaas, dis net tydelike indrukke. Gou-gou waai die vrese en bekommernisse oor en gaan hulle weer aan op dieselfde pad van sonde. Feliks het geen ware belangstelling gehad in die Woord van God nie. Geen ware begeerte om gered te word nie. Hoekom nie? Sy groot passie was GELD! “Hy het die hele tyd ook gehoop Paulus sou hom omkoopgeld aanbied om los te kom. Daarom het hy hom so dikwels moontlik laat haal om met hom te praat.” (26) Terloops, korrupsie is nie iets wat deur Zuma uitgedink is nie! Dit kom van ver af. ‘n Liefde vir geld verdring alle bekommernisse oor my saligheid. Nou kan mens sommer ook verstaan waarom Paulus nie vir Feliks gesê het dat Jesus hom kan ryk maak nie. Vir seker sou Feliks dan sommer baie belang gestel het in ‘n rykmaak Jesus, maar hy stel nie belang in ‘n Jesus wat van sonde verlos nie! 

SO TRAGIES

Hierdie hoofstuk het ‘n tragiese einde. “Twee jaar later is Feliks deur Porcius Festus opgevolg. En omdat Feliks die Jode ‘n guns wou bewys, het hy Paulus as gevangene agtergelaat.” (27) Feliks is nog steeds vasgevang in ‘n lewe van korrupsie, ongeregtigheid en onbeheersde hebsug. Feliks het die kans gehad om die evangelie te hoor, maar hy het dit laat verbygaan…

Mag ons van sulke dwaasheid bewaar word!



Vrydag 20 Januarie 2017

GOD SE HUISGESIN

- is onmisbaar belangrik vir jou en my.



In 1 Timoteus 3:14,15 beskryf Paulus die gemeente as die huisgesin van God!



Ek skryf hierdie dinge aan jou hoewel ek hoop om gou na jou toe te kom.



Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. (reeds in vroeër vers 5 kry ons al ‘n verwysing na huisgesin in gemeentelike konteks)* 

Hoe heerlik en wonderlik is ‘n huisgesin! Om aan ‘n huisgesin te behoort is ‘n reuse voorreg en vreugde! Dis so onmisbaar belangrik vir ‘n kind se ontwikkeling en vorming. (terloops dis waarom Satan so naarstigtelik huisgesinne en huwelike probeer vernietig) Dis mos die plek waar ons kos kry, grootword, vertroos word, geleer word, veilig voel... en ook broodnodige opvoeding en selfs straf kry! Hoe meer nog is dit onmisbaar belangrik vir God se kinders om deel van God se huisgesin te wees. As iemand hom bekeer en deur die geloof in Jesus ‘n kind van God word, word hy/sy onmiddelik in God se huisgesin opgeneem (vgl. Hand 2:47). Deur die wedergeboorte word ons in God se gesin gebore en God word ons Vader en God se ander kinders word ons broers en susters. (en ook mede erfgename van Jesus die oudste broer!) En hierdie band is belangriker en inniger as die bande van aardse gesinne. Regtig? Wel, dis die implikasie van Jesus se woorde in Lukas 8:19-21.**

Soos ‘n kind nie gelukkig, gebalanseerd groot kan word en optimaal kan ontwikkel sonder ‘n liefdevolle huisgesin nie, het elke kind van God die huisgesin van God, die gemeente nodig!

ELKE LIDMAAT, MAAR OOK OUDERLINGE EN DIAKENS IS DEEL VAN GOD SE PLAN

In ‘n gesonde huisgesin is daar struktuur, orde en reëls. Elkeen het sy plek en funksie. Indien een lid van 'n gesin nie gesag erken of nie sy pligte uitvoer nie, is daar wanfunksionering en ly die hele gesin skade. In God se gesin is dit ook so. Paulus verwys hier terug na die spesifieke opdragte van hoe mense hulle in God se gemeente moet gedra. Spesifiek na die rol en pligte van mans, vrouens, ouderlinge en diakens. Ja, party mense dink aan ouderlinge en diakens as menslike tradisies of outyds en verkramp – Nee, dis deel van God se plan vir sy huisgesin! Net terloops, waar hierdie reëls nie toegepas word nie, kom daar groot hartseer in God se huisgesin. (byv. ouderlinge wat nie moes gekies gewees het nie, kerkraadslede wat nie hulle werk doen nie, gesagstrukture wat nie erken word nie ens.)

DIE GEMEENTE BESKERM DIE WAARHEID

Dis egter nie al wat hier van die gemeente gesê word nie...Die gemeente word verder ook hier genoem die draer en beskermer van die waarheid. (OAV - 'n pilaar en grondslag van die waarheid. ) Die (stulos) pilare het die dak gehou , maar meer nog dit as’t ware hoog opgelig sodat almal dit van ver kan sien. Die (hedraioma) fondasie het beskerming verleen.

Vir die wat skerp luister klink dit dalk vreemd – die kerk is mos gebou op die waarheid (evangelie), hier klink dit nou of die kerk die waarheid beskerm. Inderdaad staan kerk en waarheid in noue verband. Die kerk is afhanklik van die waarheid vir haar bestaan, maar die waarheid is ook weer afhanklik van die kerk vir haar verdediging en verkondiging. Die kerk, die gemeente beskerm die evangelie sodat dit nie vervals kan word nie. Die gemeente moet dus sorg dat die evangelie nie verdraai en verwring word nie. Dis in ons dag so nodig. Julle weet van al die dwalinge wat in sirkulasie is en mense verwar : mense wat beweer dat Jesus nie opgestaan het nie, mense wat nie die kruisboodskap verkondig nie, maar moralisme. Valse rigtings soos die Hebrew Roots Movement, goedkoop genade, die prosperity Gospel, mensgerigte "evangelies" waar God die mens se drome moet bewaarheid.... ("Gemeentelose Christene" en selfgesentreerde belangegroepies word veral maklik die prooi van allerhande dwalinge.)

Die waarheid wat in die gemeente beskerm en voortgedra moet word en as’t ware hoog opgelig moet word is die waarheid oor Jesus Christus wat uitgespel word in vers 16.*** Die kerninhoud van die waarheid wat ons as kerk moet bewaar is die waarheid oor Jesus Christus. (die kerk is nie bloot net nog ‘n NGO wat moet goed doen aan mense nie, ons het ‘n boodskap van redding en bevryding vir sondaars!) Dis waarskynlik ‘n ou Christelike lied wat Paulus  hier aanhaal. Dit bestaan uit drie koeplette : Die openbaring van Christus – Hy het mens geword en die Heilige Gees het deur die opstanding bevestig dat Hy waarlik die Seun van God is. Die getuienis van Christus – deur engele gesien, verkondig onder die nasies. Die ontvangs van Christus – Hy is geglo en Hy is in die hemel opgeneem. Hier is ‘n sterk verlossingsboodskap en ‘n sendinggerigtheid te bespeur. Die waarheid wat die kerk moet bewaar is die boodskap van Jesus as Verlosser van alle nasies! As ‘n gemeente nie meer Jesus verkondig as die redder van sondaars nie, het die gemeente gefaal en die waarheid verloor!

WIE EN WAAR?

Wie en waar is hierdie Gemeente? Dis die heilige algemene Christelike kerk wat ons bely om in te glo. Dis die kerk oor die wêreld heen versprei, die kerk van alle eeue! Dis natuurlik ook die plaaslike sigbare gestalte daarvan, ja inderdaad dis ook die gemeente van Jesus op Tsumeb. Dis die gemeente waar God jou tans geplaas het...

Ons kan nie sonder die gemeente nie – dis ‘n veilige huisgesin waar ons leer en groei, dis ‘n veilige kasteel waar die waarheid suiwer beskerm word. Maar dan moet ons erns maak om hierdie gemeente in te rig en te versorg volgens God se wil en opdragte!

Om ernstig te wees oor Jesus, behels ook dat ek ernstig sal wees oor die gemeente waar die Here my geplaas het! Hoe ernstig is jy oor Jesus, hoe ernstig is jy oor God se huisgesin? Is jy betrokke, bid jy, werk jy...?

*Immers, as iemand nie weet om sy eie huisgesin te beheer nie, hoe kan hy dan die sorg vir die gemeente van God op hom neem? (1 Timoteus 3:5)

**En sy moeder en broers het na Hom gekom, en weens die skare kon hulle Hom nie bereik nie. 

Toe bring hulle Hom die boodskap en sê: U moeder en u broers staan buite en wil U sien. 

Maar Hy antwoord en sê vir hulle: My moeder en my broers is die wat die woord van God hoor en dit doen. (Lukas 8:19-21)

***En dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid van ons godsdiens groot is: As mens het Jesus in die wêreld gekom, deur die Gees is bevestig dat die reg aan sy kant is, aan die engele het Hy verskyn; aan die heidennasies is Hy verkondig, in die hele wêreld is Hy geglo, en in heerlikheid is Hy opgeneem. (1 Timoteus 3:16)

Vrydag 21 Augustus 2015

HOU KOERS!

- en kom sonder vrees, veilig by die Vaderhuis!


“HOU KOERS!” is die pragtige en kragtige leuse van die Voortrekkers, maar dit het vir elkeen van ons iets belangrik te sê. Wat beteken dit? Dis om te hou by die regte pad en die regte rigting sodat jy by die regte plek kan kom. Dis die teenoorgestelde van verdwaal of afdwaal. Verdwaal is baie gevaarlik. Verdwaal maak dat jy jou bestemming en doel mis. Verdwaal kan jou jou lewe kos! As jy geestelik verdwaal, mis jy die ewige lewe!

HOU KOERS is dus ‘n baie belangrike lewens motto. Hou koers beteken prakties : “Kry die regte pad en bly by die regte pad!”

Die groot vraag is dan wat is die regte pad? Dis nie mos nie so eenvoudig nie. Ons kry so baie rigtings en idees wat aanspraak maak dat hulle die regte pad sou wees.

Daar’s soveel verwarring, soveel afdraaipaaie. Wat gister verkeerd was is vandag skielik reg in die oë van die wêreld.

Gelukkig dui die Bybel, God se Woord vir ons baie duidelik die regte pad aan. Johannes 14:1-6 is baie helder en gesaghebbend oor hierdie saak. Hierdie regte pad is nie ‘n idee of ‘n lysie reëls nie, dis ook nie ‘n klomp godsdienstige rituele of gewoontes nie, maar ‘n PERSOON! Jesus het vir hom gesê: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie." (6) Dis ‘n geweldige omvattende antwoord van Jesus self op Thomas se half pessimistiese siniese vraag in vers 5. Tomas sê toe vir Hom: "Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?"

Jesus self is die pad (weg), die waarheid en die lewe! Die Johannes evangelie sê vir ons in geheel baie duidelik wie hierdie Jesus is : Hy bestaan van ewigheid af, want God het deur Hom alles geskep, Hyself is waarlik God. Net Hy kan God as’t ware aan ons verduidelik en verklaar. Hy het absolute mag oor die natuur : Hy kon water in wyn verander, Hy kon die brood vermeerder, Hy kon ‘n man wat blindgebore is weer laat sien. Hy is ook sterker as die dood – Hy wek Lasarus op wat al vier dae in die graf was. Maar Jesus is nie net sterk nie, Hy verneder Homself, maak Homself swak om ons te red. So is Hy is ook die Lam van God wat vir ons sondes geoffer is aan die kruis. Hy sterf aan die kruis juis tydens Paasfees toe die offerlammers in die tempel geslag word. Ja, toe sterf God se Lam vir my sondes! Die volmaakte Paasoffer! Sy werk aan die kruis was heeltemal genoegsaam, want Hy roep uit : “Dis volbring!” Hierdie Jesus het ook uit die dood opgestaan. Hy is vol genade en waarheid. Hy help die ongelowige Thomas om te glo, Hy vergewe Petrus en stel hom weer aan om sy skape op te pas! Jesus is alles wat ons nodig het om God te ken en toegang te kry tot die huis van die Vader. Hy kom weer om almal wat aan Hom behoort te kom haal.

Kom ons besef mooi wat hier staan:

Jesus wys nie net vir ons die pad nie, Hy is die pad/weg. Die pad na God. Eers as ek Jesus ken is ek op die regte pad. Om koers te hou is dus om gelowig by Jesus te bly en Hom te vertrou.

Jesus vertel ons nie net die waarheid nie, Hyself is die waarheid. As ek Jesus ken, ken ek die waarheid en het niks anders nodig om gered te word nie. Om koers te hou is dus om alles wat teenstrydig is met Jesus te verwerp en aan Hom vas te hou.

Jesus gee nie bloot vir ons die ware lewe nie, Hy self is die lewe. As ek Hom ken lewe ek regtig voluit. As ek Hom ken het ek die ewige lewe, wat nou reeds begin en altyd aanhou, ook na die dood. (1 Johannes 5:12) Om koers te hou beteken dus dat ek nie die sin en vreugde van die lewe sal soek in ander dinge wat my wegtrek van Jesus af nie.

EKSKLUSIEF!

Jesus self is die eksklusiewe pad na God. “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Hy is ook eksklusief die waarheid, eksklusief die lewe! Daar is geen ander manier om gered te word nie, behalwe deur Jesus! Hy is nie maar een van baie opsies nie, Hy is ons enigste opsie en hoop! Hy is die enigste Middelaar wat ons met God versoen (1 Timoteus 2:5), Hy is die enigste ware Hoëpriester wat vir ons intree by God as ons gesondig het. Hy is die enigste Redder en Verlosser. Deur geen ander Naam kan ons gered word nie! (Handelinge 4:12)

BEVRY VAN VREES!

Waarom sê Jesus hierdie dinge? "Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.” (1) Hy wil ons bevry van vrees, angs en onsekerheid. Hy wil keer dat ons verdwaal. Hoe gaan
ons koershou, hoe gaan ons gevrywaar word van verdwaal? Glo in God, glo ook in Jesus! Dis so belangrik! Dis nie genoeg om net in die algemeen te glo dat daar ‘n Almagtige God is nie. Dis nie genoeg om te glo dat daar ‘n Goeie Vader is wat sorg nie. Ja, ons glo in Hom, maar ons moet ook spesifiek glo in Jesus Sy Seun wat die enigste pad na Hom is. Om kind van God te word, moet ons Jesus doelbewus aanvaar. (Johannes 1:11,12)

HOU KOERS beteken dus hou by Jesus. Hy self is die enigste regte koers! Kry Hom in jou lewe en bly by Hom!


Hou koers! (diep in Botswana)

Maandag 06 Januarie 2014

LUISTER, JA!

- maar na wie?

In die kerk word daar baie verwys na die sogenaamde “Seisoen van luister”. Hiermee poog die kerkleiding om die belangrikheid te onderstreep van luister na ander stemme wat insluit, lidmate, buite kerklikes, skeptici ens. “Ons moet hulle ernstig opneem en regtig hoor”, is die voortdurende oproep. Die kerk behoort (volgens hierdie siening) aandag te gee aan die argumente van allerhande andersdenkendes en selfs ateïste. (Ja, inderdaad word ateïste uitgenooi om kerklikes toe te spreek!) Alles in belang van sogenaamde debat en dialoog! Dit word soms tot uiterstes te gedryf soos die voorbeeld van “Kletskerk” wat verword het tot ‘n forum vir smerigheid en die Stellenbosch Woordfees debakel waar sommiges blykbaar gedink het die kerk moet so ver gaan om ongeloof en heidendom te subsidieer – alles in die naam van “ons moet luister wat die mense daarbuite sê.”

Natuurlik mag die kerk haarself nie in ‘n ivoortoring van kulturele onkunde en isolasie toesluit nie. Beslis moet die kerk die taal, agtergrond, kultuur, vertwyfelinge en filosofiese vertrekpunte van die mense onder wie sy beweeg en werk verstaan. Niemand stry daarmee nie. Paulus het homself ook deeglik vergewis van die Atheners se denkwyse, maar toe het hy die Woord reguit op die man af gebring...

IS DAAR NOG PLEK VIR PREDIKING?

As dit nodig is om na mense te luister is dit nog duisend maal meer nodig dat ons na God sal luister...

Woensdag 23 Oktober 2013

KOERSLOOS? - BRIEF AAN DIE KERKBODE

Geagte Redakteur

Wanneer ek die Kerkbode van 18 Oktober 2013 lees dan is daar ‘n klomp vrae wat in my gemoed bly maal.

Sondag 04 November 2012

WONDERWERKE OF WAARHEID?

- wees gewapen teen die Antichris.

As die Antichris kom gaan die groot meerderheid van mense hom aanhang en volg. (Ook die meerderheid van mense wat ons kerke vol sit!) Die Bybel leer natuurlik ook dat daar nou reeds baie antichriste is.  (1 Johannes 2:18)  Elke geslag lewer sy kwota antichriste op en hulle verblind en verlei die massas. Ook nou in ons dag op hierdie oomblik! Hoekom het die finale Antichris en ook al sy voorlopers so ‘n groot aantrekkingkrag? Waarom val so vele vir die valse “christusse”?

Ons kry hier in 2 Tessalonisense 2:9-12, twee belangrike hoofredes waarom mense soos vlieë agter die Antichris sal aanswerm. Paulus verwys hier na die Antichris as die “wettelose mens” of “mens van sonde”.(OAV) Sien 2 Tessalonisense  2:3.

Kom ons kyk na die redes:

EERSTE REDE. Die Antichris se koms sal gepaard gaan met sigbare en opwindende vertoon - ongelooflike wonders! En dis juis wat mense gaan vang, want die goddelose mens wil graag sien en voel en ‘n ervaring hê! Dit staan reëlreguit teenoor die pad van geloof wat God uitgestippel het vir sy kinders. Paulus stel dit so  in 2 Korintiërs 5:7 : “want ons lewe deur geloof,  nie deur sien nie.”  Die Antichris gaan mense dus maklik aan die hoek kry met die aanloklike aas van oorweldigende magsvertoon en “showbusiness”.  Hy sal beslis gebruik maak van meesleurende  reklame foefies, massamedia beïnvloeding, oortuigende retoriek en indrukwekkende wonderwerke.  Die maklik verleibare massas sal verstom en verbyster word deur die valse wonders wat die Antichris se opgang sal ondersteun. Volgens Openbaring sal die valse profeet hierin ‘n groot rol speel.  Die vals profeet as simbool van alle antiwaarheidsgodsdiens se bonatuurlike mag om wonders te doen sal miljoene mislei. Openbaring 13:13,14 stel dit so : “Hy doen groot tekens, sodat hy selfs vuur van die hemal af op die aarde laat kom vir die mense om te sien. Aan hom is daar mag gegee om wondertekens namens die dier te doen, waardeur hy die bewoners van die aarde mislei.”  Alle wonders is nie Goddelike wonders nie!  Alle bonatuurlike dade het nie ‘n suiwer bron nie. Ja, daar is ware egte wonderwerke, spesifiek die wonders wat Jesus en sy apostels gedoen het, om Jesus se Godheid te demonstreer en om die evangelie in sy kinderskoene dae te sanksioneer. En natuurlik  is God die almagtige vir wie niks onmoontlik is nie, vandag nog! God vereis egter nou van ons om te glo sonder om te sien. Jesus se woorde aan Tomas is vol betekenis : “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”  Ons moet deeglik daarvan kennis neem dat die Satan en sy agente konsentreer op wonders, want hulle ken die mens se hart. Die mens wil graag sien, wil graag vermaak word, wil graag wonders hê om sy eie lewe maklik en gerieflik  te maak. Alle mense hou van wonders en sensasie, ook die mees goddelose rebel. Daarom sal die Antichris dit met groot welslae gebruik. Wees maar eerlik - as ons sou afkondig dat hier volgende Sondag defnitief vuur uit die hemel sal kom, sal almal op Tsumeb hier wees. Maar as ek vandag vir julle sê dat ek volgende Sondag die heerlike evangelie van genade in Jesus sal verkondig...dan is daar maar min belangstelling! Mense soek opwinding en vermaak - die Antichris sal dit in oormaat verskaf en hulle met ‘n slap riem vang!

TWEEDE REDE. Mense val vir die valsheid van die Antichris omdat hulle die waarheid nie liefhet en aanvaar nie! (10)  Die “waarheid” is die waarheid van God, wat Hy geopenbaar het,  naamlik die evangelie van Jesus Christus.  Hierdie evangelie kom na ons deur die Woordverkondiging wat ons hoor en so word saligmakende geloof in ons gewek. Die mens wat nie erns maak met die Woord en doelbewus die evangelie aanvaar nie, is ‘n oop teiken vir die Antichris. Daarom sal  selfs baie kerklidmate deur die Antichris en sy leringe meegesleur word, aangesien hulle nog nooit redding deur die evangelie gevind het nie. Ja, dis selfs moontlik dat die sogenaamde kenners van die eindtye deur die einste Antichris oor wie hulle so fluks spekuleer,  geflous gaan word, want hulle het hulleself nog nooit aan die Waarheid (Jesus) onderwerp nie! 

Inderdaad, wemel dit in sommige kringe van beweerde en gewaande wonders, terwyl die waarheid onder hulle so skaars soos sonskyn in ‘n Arktiese winter is!

Gaan ek en jy veilig wees teen die Antichris? Die beste beskerming teen die leuen is om die waarheid baie goed te ken. Hoe word mense opgelei om valse banknote uit te ken? Daar word nie gekonsentreer op voorbeelde van vals note nie - die vervalsers maak in elk geval altyd nuwe planne en uitvindings, nee, die beste beveiliging is om die kenmerke en eienskappe van die egte note baie goed te bestudeer! Dan sal jy als wat daarvan afwyk, gou kan opmerk. Hoe beter ek die evangelie ken en die boodskap daarvan my eie maak, hoe minder kwesbaar sal ek wees vir die wolhaarwonders van die Antichris. Hoe meer ek die volheid in Jesus ontdek, hoe minder sal ek val vir die valsheid en leegheid van die Antichris en sy trawante.

Eintlik is hier ‘n DERDE REDE  waarom soveel mense vir die Antichris sal val. Dit hou direk verband met hierdie tweede rede, waarna ons nou net gekyk het. Ons vind dit in vers 11. “Dit is ook waarom God hulle aan die mag van dwaling sal oorgee, sodat hulle die leuen sal glo.” Om die waarheid van die evangelie te verwerp het skrikwekkende gevolge. God self word jou vyand en Hy bring jou onder die oordeel. Hoe doen Hy dit? Hy gee jou oor aan die mag van die dwaling. Het jy al gewonder hoe dit moontlik is dat selfs intellegente mense deur dwaalleraars aan hulle neuse rondgelei kan word? Hier is die antwoord. Wie God se Woord van waarheid verwerp en die ongeregtigheid verkies word as’t ware deur God self aan die Bose se mag oorhandig. Die straf oor sonde is nog erger sonde. Ons kry dieselfde gedagte in Romeine 1:28. “En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings...”  Dis asof God sê : “Julle het my waarheid doelbewus verwerp, daarom is dit julle straf om die leuen te glo en so julle eie lot te verseël!”

Verwerp die Waarheid en God sal jou verwerp!

Maar positief : Ons kan veilig wees teen die aantreklike verleiding van die Antichris! Hoe? Vat die Woord en volhard daarin! Dis hoe God jou sal bewaar! 

Kies die Waarheid bo wonders! 

Die Waarheid is die Woord, die Waarheid is die evangelie, die Waarheid is Jesus self. (Johannes 14:6)

Dinsdag 09 Oktober 2012

BISARRE ABELSE BABBELING

- soos kaf in die wind.

Daar is ‘n groep verdwaaldes wat hulle graag self tipeer as soekers en hulle onder die skyn van nederigheid beroem op die feit dat hulle altyd soekers sal bly. Onder hulle tel die uitgesproke Abel Pienaar, een van Rapport se aangestelde dwaalskrywers in diens van die liberale pers se aanslag op die Christelike geloof. Hierdie voormalige NG predikant (en tans deel van die "Renaissance Spirituele Gemeenskap") probeer homself verkoop as ‘n eerlike neutrale soeker. (weliswaar met ‘n "breë Christelike denkraamwerk"??) Nou wonder mens waarna hy soek, want vanuit die staanspoor bestaan daar vir Abel nie iets soos waarheid nie. Hy verklaar  : “Daarom is my oortuiging om nie ‘n afgod te maak van enige leerstelling oor of van die goddelike nie. En alhoewel ek nog bewustelik vanuit die Christelike tradisie (in sy breedste sin) werk, is ek oop en verdraagsaam teenoor alle religieuse tradisies en menslike gemeenskap van alle tye en kulture...” Abel se beweerde neutrale openheid en breë Christelikheid is natuurlik pure verdigsel. Hy is nie neutraal nie, want sy denke is deurspek met Oosterse godsdiens en heidense denke soos die panteïsme.

[Hieronder volg Abel se geloofsbelydenis. Ek gee dit weer in kursief en lewer kortliks kommentaar op elke artikel vanuit ‘n Bybelse perspektief]

Geloofsbelydenis van ‘n soeker

Ek glo in die Ewige
van die ewig veranderende kosmos
wie se naam verander soos die
soekers tydelik vind en noem.

Abel soek in die wind en die gevolg is ‘n waardelose en waarheidlose  windlawaai. Hy glo iets, maar daardie iets is alles en dus niks. Sy selfgewaande geloof is totaal sonder inhoud.  Uiteindelik dink hy sy eie antwoorde uit en skep hy sy eie “windwaarhede”.  Hierteenoor glo die Christen in ‘n Ewige God wat Homself duidelik bekend gemaak het in Jesus Christus as die finale hoogtepunt van die Godsopenbaring. (Hebreërs 1:1-3) Daar is vir ons ‘n duidelike Naam gegee waardeur ons gered kan word, die Naam, Jesus Christus! (Handelinge 4:12) Hierdie Jesus is die enigste Middelaar tussen die enigste ware God en die mens. (1 Timoteus 2:5)

Ek glo in God my vader
ook my moeder
en ook myself.

Abel is sy eie god. Hoe kan dit anders want sy “god” het geen identiteit en geen naam nie? Wat bly dan oor as dat ek maar op myself aangewese moet wees?  Onsinnige selfaanbidding!  Die ware God het Homself duidelik bekend gemaak. Ons God is die Vader van ons Verlosser Jesus Christus en daarom (en net daarom) ook ons Vader. Nêrens bely Abel vir  Jesus Christus nie. Dit wys dat hy deur die Satan verblind is en dan verstaan mens ook sommer waar sy windwyshede vandaan kom. Ja, inderdaad is hy deur sy god, die god van hierdie wêreld verblind, sodat hy nie die lig van die evangelie kan sien nie. (2 Korintiërs 4:4) Abel se god is uiteindelik (of hy dit weet of nie)... die Satan self!

Ek glo dat elke vorm van lewe
‘n manifestasie van God se liggaam is
en daarom wat ek aan ander doen
ek inderwaarheid aan myself doen.

Abel ontken die grens tussen Skepper en skepsel. Alles is vir hom, God. (Panteïsme) Abel se soeke het hom weer terug gelei tot  by die heidendom wat bome en diere aanbid! Hy aanbid en vereer die skepping en dus homself. Dis presies wat volgens Romeine 1:18-23 gebeur as ons nie God as God eer en dank nie. En dit het skrikwekkende gevolge soos ons verder in daardie hoofstuk lees... Ons glo dat daar 'n ewige onderskeid is tussen Skepper en skepsel. Ons glo nie dat die mens ooit 'n god word nie, maar dat ons as kroon van die skepping, ons sin en vreugde vind in die aanbidding van die een ware Skeppergod!

Ek glo in die liefde
wat mense inspireer
tot eerlikheid en weerloosheid
wat soms die ewige
tydelik sigbaar maak.

Abel glo in die liefde, maar dis vir hom ‘n normlose vaagheid. Slegs kinders van God weet wat ware liefde is, want ons het die uiterste vorm en hoogste norm daarvan aan die kruis gesien, toe die Sondelose in die plek van sondaars gesterf het. God het ons  eerste liefgehad en hierdie liefde roep ‘n wederliefde by ons op. Dis ‘n liefde met inhoud, naamlik die opdragte van ons Verlosser Jesus Christus, wat gesê het : “As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly...” (Johannes 15:10)

Ek glo dat ek en almal om my
deel is van dieselfde siklus
van geboorte tot dood tot geboorte.

Hier verraai soeker Abel sy oorgawe aan Oosterse bygeloof in  ‘n nimmereindigende siklus! Hy is nie so neutraal en onskuldig as wat hy probeer voorgee nie. Gelukkig is die Christen nie vasgevang in ‘n eindelose siklus nie, maar doelgerig oppad na ‘n heerlike voleinding, wanneer al God se vyande verslaan sal wees en God ten volle geëer sal word. (1 Korintiërs 15:24-28)

Ek glo dat vrede
voortvloei vanuit ‘n aanvaarding van wat jy is
en dit bepaal die misterie van wie jy is.

Abel het hier ‘n halwe waarheid beet, wat gegrond is op ‘n gevaarlike leuen. Reg teen die Bybel in wat leer dat ons sondaars is wat onder die regverdige toorn van God staan. Dis eers wanneer ‘n sondaar tot geloof in Jesus Christus gekom het, dat hy vrede met God het en daarom ook in vrede met sy medemens en homself kan leef. (Romeine 3:23,24; 5:1)

Ek glo dat die lewe ‘n dans is
en die doel daarvan – om jouself
in die ritme te verloor.

Abel mag dalk dans, maar hy weet nie waarom of waarheen nie. Wat ‘n stukkie leë nikseggende wollerige retoriek! Die “verloor” maak wel ietwat sin. Abel het duidelik koers verloor en as hy hom nie bekeer tot God en sy Seun Jesus Christus nie, gaan hy vir ewig verlore wees. Dis net die kind van God wat vrede met God deur die kruis van Jesus gevind het, wat nou en tot in ewigheid kan rondspring van vreugde! Ja, ons het ‘n duidelike doel en sin in hierdie lewe, en in die lewe hierna : om die Lewende God te aanbid en te geniet! Die doel van my lewe is nie myself nie, maar God!

Ek glo dat die wat soek sal vind
en wat hulle vind sal hulle verder laat soek
want alle waarheid en kennis
van God en die lewe
is altyd voorlopig.

Abel kom hier op die klank af  na aan die Bybelse waarheid, wat  wel duidelik leer dat die wat soek sal vind. Hy bedoel egter nie die Bybelse soeke  en die Bybelse Antwoord,  naamlik Jesus Christus nie. Abel en sy vriende sal ongelukkig bly soek, want hulle soek op die verkeerde plek. God openbaar Homself in sy Woord, en dis waar ons moet soek. Ons weet ook dat niemand van ons van nature God soek nie (Romeine 3:11), maar gelukkig soek God se uitverkiesende genade ons eerste op! Ja, die kind van God se verstaan is inderdaad in baie opsigte nog gebrekkig - niemand van ons is nou al instaat om die volle omvang van sy heerlikheid en genade te begryp nie, maar om te beweer dat alle waarheid tydelik is, is ‘n infame leuen. Jesus self is die weg, die waarheid en die lewe (Johannes 14:6) - en Hy is nie voorlopig nie, maar God se finale spreke tot die mens. Hierdie Waarheid kan ons ken, en deur hierdie Waarheid word ons vrygemaak! (Johannes 8:32) En hierdie Waarheid is weereens, die Seun van God! (Johannes 8:36) Sy versoeningswerk deur sy kruis en opstanding was finaal en genoegsaam, beslis nie net voorlopig nie.

Ek glo, ek hoop en ek het lief
en hiervan is die sterkste
my geloof in die Liefde.

Abel verval hier in ‘n  onsinnige sirkelredenasie.  Wat of in wie glo Abel - daar is dan volgens hom geen kennis van God beskikbaar nie?  Waarop stel hy sy hoop? Vir wie het hy lief? Sy vae onwerklike god, wat eintlik hyself is? Hy probeer vir Paulus na-aap, maar anders as by Paulus het Abel se geloof, hoop en liefde geen inhoud nie. Uiteindelik glo hy in die liefde, maar dis ‘n liefde van sy eie illusie, aangesien Abel duidelik die unieke enigste ware liefde wat God deur sy Seun Jesus Christus bewys het, minag en verwerp. Christene kan slegs liefde betoon, omdat God ons eerste liefgehad het deur die Gekruisigde! Die natuurlike (nie-wedergeborene) is nie instaat tot ware liefde nie, omdat die sondeval ons vol selfsug en selfgesentreerdheid gelaat het.

Abel Pienaar

Abel is allesbehalwe ‘n soekende reisiger na die waarheid. Nee, as beoefenaar van die Zen Boeddhisme is hy eintlik maar niks anders as ‘n afgodsdienaar nie. Sy betrokkendheid by Tai Chi en meditasie laat mens sterk vermoed dat hierdie “spirituele begeleier” diep in die net van die okkulte vasgevang is. Dit laat mens sidder om te dink waarheen hy sy aanhangers begelei!

Nee wat Abel, jy gorrel in die wind! Die gelowige wat die Bybel as die onfeilbare Woord van God aanvaar en wie se oë deur die Heilige Gees geopen is om die Woord (Jesus) in die Woord te aanskou is nie meer ‘n kind van die wind nie. Ons is gelukkig ook nie meer swerwers sonder roeping nie, want God het ons uit genade geroep om erfgename van Hom te word. Ons is ook nie meer soekers wat nooit vind nie, want God het ons eerste gevind en gegryp, en daarom kan ons ons losmaak van dit wat agter is en uitstrek na dit wat voor is met die heerlike vooruitsig van ‘n hemelse prys! (Filippense 3:12-14)

Abel (en sy mede Nuwe Hervormers en Vervormers)  is nie 'n regtig vry nie, al beskou hulle hulself as  vrydenkers. Nee, hulle is verknegtes van die Verleier! Vryheid is alleen te vinde in ons Verlosser Jesus wat ons vrygekoop het met sy kosbare bloed!

Addendum

Abel sanik nou weer onlangs in Beeld (20 Februarie 2013) dat die kerk 'n geleentheid tot "oop gesprek" misloop deur die Kerkbode se onttrekking aan die Woordfees. Sy uitsprake wys maar net weereens sy totale geestelike onkunde en absurde arrogansie. Van wanneer af is dit die kerk se roeping om "oop gesprek" met wolwe in skaapsklere te voer? Is Abel werklik so oningelig of is dit nou maar net 'n manier waarop hy wil skerm vir die Kerkbode se omstrede kletsjoernalis Jean Oosthuizen wat nou in die warm water beland het? Abel  behoort mos te weet dat Elia nie gesprek met die Baäl profete op Karmel gevoer het nie, maar eers met hulle gespot het... en toe laat slag het! En ook in die Nuwe Testament is die kerk se taak nooit "oop gesprek" nie maar duidelike en vreeslose verkondiging van die Waarheid!