BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Onwankelbare Koninkryk. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Onwankelbare Koninkryk. Wys alle plasings

Woensdag 01 April 2020

PSALM 91 - PANDEMIEPSALM?

- JA, IN JESUS IS JY ONAANTASBAAR VEILIG! (Wat presies behels dit?)*



“Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie.” (Psalm 91:5,6)

Psalm 91 is een van die wonderlikste Psalms wat daar is! Ongelukkig tel dit ook onder een van die mees misbruikte Skrifgedeeltes. Dit word buite die geheelkonteks van die Bybel aangehaal en soos ‘n towerspreuk of gelukbringer (amulet) as ‘n eenvoudige kitskuur verkwansel. So sou mense in die pandemiese omstandighede van vandag maklik bogenoemde verse aanhaal as ‘n bewys dat Christene nie deur die nuwe koronavirus getref sal word nie. Is dit waar en verantwoordelik om so iets te beweer? Gaan Christene van die Covid-19 virus gevrywaar word? NEE!

DIE DUIWEL KEN DIE BYBEL

Baie interessant, die duiwel self ken Psalm 91 baie goed en het juis ‘n aanhaling uit hierdie psalm misbruik om Jesus te versoek en van sy God beplande doel en missie te laat afwyk. “Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen 'n klip stamp nie. (Matteus 4:5,6) Sy aanhaling kom natuurlik uit Psalm 91:11,12.

Maar nou moet ons net pasop vir ‘n ander groot gevaar – ons moenie die heerlike Psalm 91 ignoreer of weggooi omdat die duiwel en dwaalleraars dit misbruik nie! In hierdie psalm vind ons ‘n verkwikkende troos en grondige waarborg vir elke kind van God! Kom ons maak erns met die betekenis hiervan. Kom ons kyk eerlik hoe dit in die Bybelse geheelboodskap inpas. In die storielyn of openbaringsontwikkeling van die Bybel het Psalm 91 drie kontekste of ander gestel drie agtergronde:

1. Psalm 91 doen ‘n beroep op die volk Israel om tot God terug te keer en die verbondsvloek oor hulleself af te weer. 

Hierdie psalm haak aan by die vloeke en seëninge van die verbond soos opgeteken in Deuteronomium Die direkte agtergrond en konteks van Psalm 91 is dus die Mosaïese verbond. (wat ons vanuit NT perspektief die Ou Verbond noem)

In die Ou Verbond val die klem op die fisieke welsyn en welvaart van die volk Israel in die beloofde land, Kanaän. Die opsies was duidelik - As hulle God se verbond hou sal hulle fisies geseënd wees. (Deut. 28:1-14) Maar as hulle die verbondsbepalings nie nakom nie, sal allerhande fisiese ellendes hulle tref. Spesifiek ook peste en plae! “Die Here sal peste en plae aan jou laat kleef totdat Hy jou uitgeroei het uit die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem.” (Deut. 2:21) Hier in Psalm 91 hoor ons dus die omgekeerde boodskap van hoop en bevryding byv. vers 3 “Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.” en vers 10 “Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie;”


Psalm 91 bring dus hoop, spesifiek vir die bannelinge wat hierdie verbondsvloek aan hulle lyf gevoel het. Hier vind hulle dus ‘n boodskap van bevryding en herstel. Hier is ‘n belofte dat die verbondsvloek tot ‘n end sou kom en dat God weer vir Israel onder sy vlerke, onder sy beskerming sou neem. Weereens, dit eggo baie duidelik die taal van Deuteronomium. Vergelyk Deut. 32:11,12 “Soos ‘n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ‘n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei; daar was nie ‘n ander god by Hom nie.” Met vers 4 (OAV) “Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser.” Telkens hoor mens die versekering dat God die toevlug of skuilplek is vir sy volk. (2,4,9). Dit herinner sterk aan die uitspraak in Deut. 32:37. “Dan sal Hy vra: ‘Waar is hulle gode? Waar is die rots waar hulle gaan skuil het,..."



Die belofte in vers 7 “Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand; na jou sal dit nie aankom nie.” toon ‘n opvallende (omgekeerde) ooreenkoms met Deut. 32:30 “Hoe kan een dan duisend agtervolg en twee tien duisend op die vlug jaag, was dit nie dat hul steenrots hulle verkoop en die HERE hulle oorgelewer het nie!”

In hierdie konteks gesien is Psalm 91 ‘n bekeringspsalm!

2. Psalm 91 is in Jesus vervul. 

Psalm 91 het op ‘n unieke manier op Jesus betrekking. Jesus is die ware opregte Israeliet sonder enige bedrog of ongehoorsaamheid. Hy en Hy alleen kom die verbondsbepalings volmaak na. Hy staan in ‘n volmaakte verhouding met Sy Vader en doen volkome die wil van die Vader. Jesus self het bevestig dat die Psalms oor Hom praat.** Prakties kom dit daarop neer: 

As daar ooit enigiemand was wat sou kon sê Psalm 91 se beloftes is op my van toepassing, dan was dit Jesus! 


Wie het ooit meer op God die Vader vertrou as Jesus (2) en wie het God ooit meer liefgehad as Jesus? (14) Dis juis waarom Satan se versoeking wanneer hy Psalm 91:11,12 gebruik so uiters geslepe en subtiel is! Hy weet dis van toepassing op Jesus! Maar hy misbruik dit om Jesus van die God bepaalde lydensweg af te verlei. Satan wil hê Jesus moet tydelike gerief, beskerming en voordele kies bo God se plan en opdrag vir Hom! Jesus moes mos juis ly om die Nuwe verbond tot stand te bring. Die Satan wys vir Jesus ‘n kortpad na heerlikheid – “Word ‘n wonderwerker wat van engele gebruik maak! Beskerm jouself met bonatuurlike magte!” Dis die duiwel se advies. Jesus weerstaan dit. Jesus kies om God se pad te loop – die moeilike pad na heerlikheid, die kruisweg!

Nodeloos om te sê – die duiwel mislei baie mense vandag nog met Psalm 91. Hy bied dit aan as ‘n maklike oplossing teen alle lyding en ellende. ‘n Kitsoplossing vir al ons probleme en sorge! Weerstaan hom soos Jesus hom weerstaan het! Aanvaar dat swaarkry, gevare en ellende deel is van die stukkende wereld waarin ons nou woon en moenie jou laat mislei met allerhande goedkoop reseppies nie. God beloof nie dat ons gevrywaar sal word van elke ellende, diefstal, pes of virus tydens ons aardse bestaan nie, maar Hy beloof ons iets baie heerliker! (Dit beteken prakties dat ook Christene maatreëls sal moet tref om hulleself te beskerm teen die virus, maar sonder die paniek en angs van die wêreld.)

Dit bring ons by die derde konteks van Psalm 91.

3. Psalm 91 is ‘n heerlike en kragtige versekering en sekuriteit vir diegene wat deel is van die Nuwe Verbond.

Psalm 91 het steeds vir ons betekenis, maar nie meer in die konteks van die Ou Verbond nie, maar die Nuwe Verbond wat Jesus tot stand gebring het. 


Die Nuwe Verbond het immers die Ou Verbond met sy bepalings vervang! Na Jesus se koms en voltooide werk leef ons nie meer binne die raamwerk van die Ou Verbond nie. In die Nuwe Verbond gaan dit oor baie meer as ‘n fisiese land Kanaän en fisiese seëninge! Dit gaan oor die ewige verblyf in die hemelse Kanaän met hemelse, ewige seëninge. (Wat inderdaad ook insluit die uiteindelike verlossing van die liggaam en die einde van alle smart, siekte en dood!) Dis waarin die kind van God nou deel het. Hoor hier - “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.” (Efesiërs 1:3) Hierdie Nuwe verbond is ‘n beter verbond met beter beloftes! Dit word bevestig deur Hebreërs 8:6 –“Maar nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes gegrond is.” (Vgl. ook Hebr 7:22) 

ONS TROOS!

So wat is die troos van Psalm 91 vir ons? In Jesus is ons veilig en kan niks en iemand nie – nie gevare, nie vyande, nie armoede en benoudheid, nie peste of virusse ons van ons ewige verlossing beroof nie! God beloof aan almal wat aan Jesus behoort ewige heerlikheid en onsterflikheid en dis derduisende maal heerliker beloftes as die beloftes van die Ou Verbond!

Die samevatting en klimaks van Psalm 91 se heerlike boodskap kry ons in vers 16. “Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.” (OAV – letterlik vertaal) Hierdie beloftes is van toepassing op jou as jy aan Jesus behoort! 

God se ewige volledige verlossing in Jesus is onwankelbaar, onaantasbaar vas en seker! Ons ewige heerlikheid en verlossing word gewaarborg. 

Niks kan enige skade aandoen aan God se liefde vir ons en ons ewige erfenis nie. (Vergelyk Romeine 8:31-39) Covid-19 en selfs die dood hou geen bedreiging vir ons in nie, want dood is nie meer die einde nie, maar slegs die ingang in na ‘n ewige onsterflike heerlikheid by God! Psalm 91 word heerlik waar in die opstandingsoorwinning wat Jesus behaal het oor die dood en die opwekking van ons liggame.*** Dis beter as enige belofte van die Ou Verbond!

NASKRIF

Die hele Ou Testament moet verstaan word in die lig van Jesus en die Nuwe Verbond - dit geld vir al die wette, offers, instellings (sabbat, besnydenis, tempel...) en natuurlik ook die Psalms! Psalm 91 is geen uitsondering nie!


AANTEKENINGE

*Met erkenning aan Wyatt Graham se artikel “Does Psalm 91 Promise to Protect Us from Pandemics?” 

**Lukas 24:44 “Daarna sê Hy (Jesus) vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is."

***As dit vir jou onduidelik is, gaan lees gerus weer die triomfantelike 1 Korintiërs hoofstuk 15!

 



Donderdag 25 April 2019

TERWYL ALLES WANKEL...

WEET DAN JY IS ‘N ONTVANGER VAN ‘N ONWANKELBARE KONINKRYK EN WEES DANKBAAR! 


Een van die rykste biljoenêrs in Denemarke verloor drie van sy vier kinders in die onlangse bomaanvalle deur Moslem ekstremiste in Sri Lanka.* Tragies! Ook ons hier op Tsumeb is die afgelope tyd amper op ‘n wrede manier herinner daaraan dat die geskape werklikheid wankelbaar, tydelik, broos en verganklik is : Die onsinnige moorde op Arandis, die !Uris Lodge wat afgebrand het en talle ellendes en siektes! O, ja en dan is daar ook nog die Notre Dame... 


In HEBREËRS 12:25-29 lees ons van wankelbare en onwankelbare dinge. Daar is inderdaad net twee soorte goed in die ganse heelal : wankelbaar en onwankelbaar! Ons kan alles onder hierdie twee noemers indeel. Reeds in die Ou Testament word hierdie feit duidelik gemeld. Psalm 102:27,28 vertel : "Die hemel en die aarde sal vergaan, maar U sal bly. Soos ‘n kledingstuk verslyt, so sal alles vergaan, soos klere wat uitgedien raak, so sal U alles laat verdwyn. Maar U bly dieselfde, u jare het geen einde nie." 

Die geskape sigbare werklikheid is wankelbaar, eindig, nietig, tydelik! God alleen daarteenoor is onwankelbaar, ewig, onvernietigbaar! 


WEES GEWAARSKU! 

Ongelukkig spandeer mense meestal hulle tyd en energie op die wankelbare dinge. Die hartseer feit is, meeste mense plaas al hulle hoop en toekomsvreugde op die wankelbare dinge. Met kinders van God moet dit anders wees – ons is die ontvangers van ‘n onwankelbare koninkryk. Kom ons kyk mooi wat die skrywer hier vir ons wil leer: 

Hy rig ‘n kragtige waarskuwing! “Pas op, moet Hom wat met julle praat, nie afwys nie. Hulle wat Hom afgewys het toe Hy sy Goddelike woord op aarde laat hoor het, het nie ontkom nie. Hoeveel minder sal ons ontkom wanneer ons nie ag slaan op Hom wat van die hemel af met ons praat nie?” (25) 

Pasop! Luister na God! Dit was een van die bittere lesse wat uit die woestyntog geleer is – keer op keer het Israel nie op God se waarskuwings ag gegee nie en die skrikwekkende gevolge gedra! 

Dis nou nog belangriker om te luister. Hy stel hier ‘n kontras met die Sinaï gebeure : destyds het God se stem gekom van ‘n aardse berg om die bepalings van die Ou Verbond af te kondig, nou word die Nuwe Verbond (evangelie) vanuit die onsigbare Sion uit die hemel afgekondig! Hoeveel minder sal ons die oordeel nou vryspring as ons hierdie Woord van God verwerp. Ongehoorsaamheid aan die evangelie bring nog ‘n erger oordeel as ongehoorsaamheid aan die wet van die Ou Verbond! Die Goeie nuus het ‘n keersy,’n anderkant van die muntstuk. Die genade is groter in die Nuwe Verbond, maar die skrikwekkende konsekwensies as ek my nie aan hierdie genade steur nie is ook groter! 

Toe God vanaf Sinai gepraat het was daar ‘n aardbewing. “Destyds het sy stem die aarde laat wankel, maar nou het Hy aangekondig: "Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde laat bewe nie, maar ook die hemel." (26) Nou met die aankondiging van die Nuwe Verbond gaan dit nog verder. Hy haal aan uit die profeet Haggai. “So sê die Here die Almagtige: Nog een keer, binnekort, sal Ek hemel en aarde, see en land laat bewe.” (Haggai 2:6) Die aankondiging van die begin van ‘n nuwe bedeling! Die bedeling wat deur Jesus aangekondig en ingelui is!

Vir die skrywer is hierdie woorde ‘n duidelike bewys - Die materiële dinge (wankelbare, tydelike dinge) gaan geskud word, gaan tot niet gaan, om plek te maak vir ‘n hele nuwe onverganklike bedeling. Alle geskape dinge is tydelik. Maar daar gaan ‘n herskepping plaasvind! Die koninkryk van God wat aan die kom is, is onwankelbaar en ewig! (Dink sommer aan die droom van Nebukadnesar - die groot klip wat die beeld vernietig!) God se koninkryk is nie maar net ‘n verbygaande tydelike instelling soos alle aardse dinge nie! Dis nie ‘n lugkasteel of bedrogspul nie. Dis nie maar die lee beloftes van ‘n Obama, Trump, Zuma of Ramaphosa wat almal uiteindelik weer gaan teleurstel nie... God se koninkryk is onaantasbaar, volmaak, onwankelbaar... 

WEES DANKBAAR! 

En nou die heerlike ongelooflike nuus : Ons wat glo in ons volmaakte Hoëpriester Jesus is ontvangers hiervan! Ons wat staatmaak op sy offer en nie op ons eie goedheid nie, is burgers van die onwankelbare koninkryk! Ons het ‘n vaste belegging in ‘n ewige onverganklike bate! 

Die enigste logiese, redelike reaksie : Wees dankbaar! “Laat ons wat ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil” (28) Die essensie van ons reaksie op God se genade is altyd dankbaarheid. Dankbaarheid is natuurlik iets konkreet, nie net teorie of gevoel nie... Dit moet behels dat ons God dien met eerbied en ontsag! Eerbiedige respek is nie onvanpas in die konteks van dankbare liefde vir God nie. (God is ‘n Vader, ja maar ‘n Vader vir wie ons respek het, nie ‘n speelmaatjie nie!) Prakties : Ons moet Hom dien soos Hy dit wil. Dit druis direk in teen die humanisme wat die mens in die middelpunt stel. Ons moenie God dien soos ons voel of soos dit vir ons lekker of voordelig is nie, maar soos Hy dit wil! Ons kry konkrete voorbeelde van hierdie dankbare diens in hoofstuk 13 : Broederliefde, gasvryheid, praktiese medelye, respek vir die huwelik en seksuele reinheid, ‘n lewe vry van gierigheid en vol vergenoegdheid, die bring van lofoffers! 

GOD IS VUUR! 

Nou hoekom is die dien van God in dankbaarheid en respek so ‘n ernstige saak? Die skrywer draai gee doekies om nie! “want ons God is ‘n verterende vuur.” (29) Nooit mag ons vergeet wie God is nie – ‘n verterende vuur! Ook in die konteks van die Nuwe Verbond waarop die Hebreërskrywer soveel klem lê! God se karakter is nie nou skielik anders nie! Hy het nie skielik in die Nuwe Testament ongeërg en slap oor sonde geword nie! Vuur simboliseer die angswekkende heiligheid van God, sy onverdraagsaamheid en toorn oor alle sonde. Dink aan: Sodom en Gomorra (met vuur uit die hemel verwoes), doringbos (die vuur wat brand), Sinaï (vuur en rook). Ook in die profete kry ons hierdie waarheid: 

“Die Lig van Israel sal die vuur wees, die Heilige van Israel die vlam: in ‘n enkele oomblik sal die vlam hulle geringes, die dorings en dissels, verbrand en verteer, en ook hulle aansienlikes, die vrugteboorde en die vrugbare velde. Dit sal hulle volkome vernietig.” (Jesaja 10:17,18) 

God is ‘n verterende vuur! Hierdie aspek van sy karakter word vandag feitlik volkome verswyg... 

Wanneer laas het ‘n sinode lidmate hieraan herinner? Ons sal oneerlik wees en ontrou aan die Woord as ons dit verswyg! 

God as vuur en God as liefde is nie teenstrydig nie, maar deel van dieselfde werklikheid. Respek en verwondering oor sy groot genade gaan saam met ‘n besef van sy skrikwekkende heilighed! 

Who can behold the blazing light? 
Who can approach consuming flame? 
None but Thy wisdom knows Thy might; 
None but The word can speak Thy name. (Isaac Watts) 

Is jy ‘n ontvanger van hierdie onwankelbare koninkryk? Wys jou lewe dit? Onthou weer die onwankelbare koninkryk van God is die enigste vaste bate in die heelal wat ware sekuriteit bied! (Terloops - Materialisme is die aanbidding en verering van hierdie einste wankelbare dinge...dis nie net afgodery nie, dis dwase afgodery!) Maak ons skatte in die hemel bymekaar of is al ons aandag steeds gefokus op die koorsagtige gejaag na aardse bates en aansien? Bates wat gaan brand...

Dien ons God met eerbied en ontsag? Of dien ons die eie ego en eie ek? 

Leef soos mense wat ‘n onwankelbare bate besit wat God ons gegee het! Leef heilig, leef dankbaar!  En wees nou eerlik:

Waar is jou hart, jou hoop, jou belangstelling, jou beleggings...?

*Anders Holch Povlsen is die eienaar van die klere kettinggroep Bestseller en grootste aandeelhouer in die klere reus Asos. Hy is ook volgens Times die grootste grondeienaar in die Verenigde Koninkryk.