BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Christelike huis. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Christelike huis. Wys alle plasings

Saterdag 08 Junie 2019

MAAK VAS; MAAK SEKER! (1)


[Petrus se resep vir Christene wat onseker en wankelend is!] 



Ons oorkoepelende tema vir Pinkster vind ons in 2 Petrus 1:10 waar ons lees : “Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie.” (OAV) Ons gaan deeglik na die hele 2 Petrus hoofstuk 1 kyk, maar nou eers net so ‘n algemene inleiding tot die vraagstuk van sekerheid en volharding. 


Petrus wil graag hê sy lesers moet sekerheid en vastigheid beleef. Hy verlang dat hulle die einddoel van hemelse heerlikheid sal bereik en weet dat hulle dit sal bereik. Een van die redes is waarskynlik juis om hulle te beskerm teen die valse leringe van dwaalleraars. (sien hfst 2) Onsekere en onvaste Christene is oop en maklike teikens vir verdraaiings, kortpaaie en kitsoplossings. So word hulle mislei en verder van God af gelok en nog meer verwar en moedeloos gemaak. (Of dalk nog erger, ‘n vals fondasie en gerustheid gee!) 

KWELVRAE 

Word jy gekwel en geteister deur hierdie vrae : "Is ek regtig ‘n kind van God, is ek uitverkies, sal ek die eindpaal haal, sal ek kan volhard, kyk hoe maklik val ek vir sonde...?" Vir party pla hierdie onsekerheid, ander word nooit eens daardeur gepla nie en dis nog gevaarliker... Daar is natuurlik ook baie wat wel seker is, maar op verkeerde fondamente bou... Daar is iets soos valse sekerheid. Baie sal eendag hoor: “Ek het julle nooit geken nie...” (Matteus 7:21-23) Verbondsoutomatisme bly ‘n baie gevaarlike bedreiging in sekere kerklike kringe! (Dis die idee dat ek outomaties gered is aangesien ek gedoop is en in die verbond grootgeword het.) 

OORSAKE VIR ONSEKERHEID BY GOD SE KINDERS 

Daar is ‘n hele klomp moontlike oorsake waarom kinders van God onsekerheid beleef t.o.v. hulle ewige saligheid. (En terloops, ons moet dit duidelik sê : Dit is moontlik om ‘n kind van God te wees en onsekerheid te beleef. Alle kinders van God het nie altyd outomaties noodwendig sekerheid en vastigheid nie.) Dis juis waarmee die apostel Johannes wil help as hy vir kinders van God skryf : “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.” (1 Joh 5:12,13) en waarom ook Petrus dit nodig vind om hieroor te skryf. Wat is die redes waarom opregte kinders van God onsekerheid beleef?* 

Eensydige introspeksie. Dit kan veroorsaak word deur ongebalanseerde prediking wat altyd net die erns van sonde onderstreep en nie die genoegsaamheid van Christus nie. (Dis skaars in ons dag, maar dit kan wel gebeur) Daar is ook sekere persoonlikheidstipes (veral introverte) wat gedurig geneig is tot introspeksie. Hier is balans belangrik. Ja, selfondersoek is noodsaaklik, goed en gesond, maar ware prediking wys mense op die genoegsaamheid van Christus se werk aan die kruis. Onthou : ”Deur te sien op die kruis is daar lewe en heil!” Vrede is nie in onsself te vind nie! Vrede en sekerheid begin by die besef wat God gedoen het! Ons sal sien dis ook hoe Petrus die saak aanpak. 

Onkunde oor die aard van redding. Baie Christene dink die deurslaggewende faktor is hulle eie geloof en eie bekering en besef nie dat redding eerstens van God af kom nie. Hulle dink hulle redding word deur hulle eie geloof en bekering bewerk i.p.v. die feit dat ons redding deur Jesus aan die kruis bewerk is. Onthou, geloof en bekering is bloot (onvolmaakte) reaksies op die (volmaakte) werk van Jesus aan die kruis. So dikwels kyk ons te veel na onsself en te min na die kruis! Jesus is die REDDER, nie ekself nie! My geloof is maar altyd onvolmaak. Die deurslaggewende faktor is egter Jesus die volmaakte OBJEK van my geloof! Horatius Bonar het dit so goed gestel : “What God demands from us is not satisfaction with our faith, but satisfaction with Christ and His work!” 

Ek weet nie wat die datum van my bekering is nie. Baie mense, veral diegene wat in Christelike huise grootgeword het, weet nie altyd presies wanneer hulle tot geloof in Jesus gekom het nie. Dit kan by hulle later twyfel laat ontstaan. Aan die anderkant is dit juis ‘n datum wat vir party mense valse sekerheid gee...Hulle leef in die verlede (daardie gebeurtenis by ‘n CSV kamp in 1972 of die Mannekamp te Okahandja, 1998) en hou vas aan ‘n ervaring van lank gelede, maar hulle huidige lewe wys hulle is ver van God. Onthou, die belangrikste datum is Golgota! Dis goed om te weet van datums van God se werkinge in my, maar my vertroue moet nie op ‘n datum wees nie, maar op Jesus self! Ons al sien hoe Petrus en die ander apostels nie die klem plaas op ‘n bekeringsdatum nie, maar op die werk van God deur Jesus aan die kruis. En in reaksie daarop die belangrikheid van volharding in 'n heilige wandel.

Skuldgevoelens en die aanklagte van die duiwel. Sommige mense sukkel om die verlede te vergeet en te aanvaar dat hulle volledig vergewe is. “Ek sukkel om myself te vergewe,” moet mens dikwels hoor. Partykeer gaan dit oor “daardie een sonde” wat soveel skade en skande veroorsaak het! God het my als vergewe, maar wat van daardie een ding...? Hierdie Christene wat so gekwel word verstaan nog nie regtig die vryspraak deur die geloof alleen nie of hulle hou nie rekening met die Satan as aanklaer en beskuldiger van God se kinders nie. Hy kla juis die broers aan! “Toe het ek ‘n stem in die hemel gehoor wat hard uitgeroep het: "Nou het ons God die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde! Die aanklaer van ons medegelowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het.” (Openbaring 12:10) Ons moet leer om na God se beloftes te luister en nie na die verwyte en beskuldigings van die duiwel nie! William Bridge, een van die Puriteine het dit so gestel : “He that lacks assurance of God’s love converses too much with Satan...” Die kruisoffer van Jesus was algenoegsaam, sy vergifnis is volledig! 

Stryd teen versoekings en sonde wat verkeerd geïnterpreteer word.  “Kyk watse versoekings beleef ek, kyk hoe dikwels het ek al geval! Dis seker onmoontlik dat ek God se kind kan wees!” Wel, hulle vergeet die grootste deel van die Nuwe Testament is juis geskryf om raad te gee aan Christene hoe om sonde en versoeking te oorwin. Stryd teen versoeking is deel van die daaglikse Christelike lewe. Daarom is die kwessie van vergifnis en die beskerming teen versoekings en die Bose deel van die gebed wat Jesus vir sy dissipels geleer het. 

Beproewings wat verkeerd verstaan word. “As ek ‘n kind van God is, hoekom kry ek so swaar?” Dis ‘n vraag wat ‘n beproefde kind van God onseker en mismoedig kan maak. Ons vergeet so maklik van die Bybelse lering oor beproewing, tugtiging en opvoeding. “Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: "My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem." Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie? As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie." (Hebreërs 12:5-8) Swaarkry is nie ‘n teken dat jy nie God se kind is nie. Inteendeel! Dis ‘n bewys dat Hy vir jou lief is en met jou besig is! 

‘n Ongedissiplineerde en ongehoorsame lewe wat die Heilige Gees bedroef. Miskien is dit die mees algemene rede in ons tyd. Dis die Heilige Gees wat vir ons sekerheid en blydskap gee, as ons Hom bedroef kan ons nie juis verwag om blydskap en sekerheid te beleef nie. “En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag.” (Ef 4:30) Wie nie hartseer is oor sonde nie, sal ook nie die vreugde van verlossing beleef nie! Geen ware kind van God sal sekerheid en blydskap beleef terwyl hy bewustelik voortploeter in sonde nie. 

Angs of ek sal kan volhard. Miskien is jy nou redelik seker, maar daar is tog by jou ‘n vrees of onsekerheid oor die toekoms. Sal ek die eindpaal kan bereik, ek is so swak, wat as ek val, wat as daar ernstige toetse of vervolging kom? Dit dui op ‘n gebrekkige verstaan van hoe verlossing werk. Die kind van God se verlossing is van ewigheid deur God beplan en sal deur God in stand gehou word! Petrus gaan vir ons wys dat dit in die eerste plek gaan oor God se krag! 

Al hierdie redes het eintlik te maak met onkunde oor die Bybel of ongehoorsaamheid aan die Bybel! Die Woord van God moedig ons aan om seker te wees en ons roeping en verkiesing vas te maak! Ons gaan na die kosbare lering in 2 Petrus 1 kyk en hoe dit ons by vaste sekerheid wil uitbring.  Kliek op Maak vas;Maak seker (2)

*Met erkenning aan John MacArthur 







Vrydag 07 November 2014

NOOIT TE JONK NIE!

- begin sou gou as moontlik vir Jesus ken en skyn.

[Hier is drie kerse : ‘n kortetjie,  ‘n baie lang een, en ‘n middelmatige een. Watter van hierdie kerse is ‘n “baba” kers en watter een is die “oupa” kers? Reg geraai. Die lang kers is die “jong of baba” kers, want hy het nog ‘n lang tyd oor om te brand! Die kort kersie is die “oupa” wie se tyd begin min word...]




Kom ons lees die bekende verhaal van die jong Samuel se roeping as profeet in 1 Samuel 3:1-10. Hier word twee baie belangrike dinge oor die seun Samuel gesê :

Vers 1. “Samuel het die Here gedien.” Van kleins af het Samuel aan God behoort en Hom in die tempel gedien. Ons ken mos die geskiedenis – hoe die kinderlose Hanna hartstogtelik gebid het vir ‘n kindjie... Sy het ‘n gelofte afgelê... “Sy het ‘n gelofte afgelê en gesê: "Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ‘n seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie." (1:11) Sy het met sulke groot passie en erns gebid dat die priester Eli gedink het sy is dronk! Toe het sy ‘n belofte gekry dat die Here vir haar ‘n seun sou gee. “Toe sê Eli: "Wees gerus en gaan nou maar. Die God van Israel sal aan jou gee wat jy van Hom afgesmeek het." (1:17) Dit het waar geword. Sy het ook haar gelofte nagekom en hom na die tempel gebring vir diens aan die Here. Ons moet nooit die gebed en die invloed van sy moeder miskyk nie. Dis ‘n voorreg om in ‘n Christelike huis groot te word, om van kleins af deel te wees van die kerk, om die Bybel te leer ken, maar die Here wil nog iets beter vir jou...

Vers 7. “Samuel het nog nie die Here geken nie.” Samuel was besig met God se dinge daar in die tempel, maar ‘n innige persoonlike verhouding het nog ontbreek. Ons kan sê, Samuel het God net so op ‘n afstand geken. (soos jy dalk jou onderwyser ken, maar nog nie soos mens ‘n pa of naby vriend ken nie) God het ‘n groter plan gehad vir Samuel as maar net so ‘n algemene diens en algemene bekendheid. 

God het Samuel persoonlik geroep en Samuel het persoonlik geantwoord op Sy roepstem! Ons sou kon sê dat Samuel se ouers tot op hierdie stadium namens hom gekies het om die Here te dien, maar nou moes Samuel self kies! Ook as verbondskind moes hy nou self verantwoordelikheid vat!

Ons ouers, die Sondagskool, die kerk het ‘n goeie invloed op ons. Ons word groot met God se dinge. Daar kom egter ‘n tyd wanneer die Here persoonlik met ons praat. Dit gebeur wanneer die Heilige Gees regtig hier diep in ons hart met ons praat deur die Woord. Dis wanneer ek weet, God roep vir my op my naam. Dit gebeur wanneer ek weet ek is ‘n sondaar en ekself het Jesus nodig.

Miskien sê jy : "Maar Dominee, Samuel was tog ‘n spesiale geval, hy is geroep as profeet. Ek is maar net ‘n gewone kind. Die Here sal my seker nie roep nie?" Ja, dis waar ons is almal gewone mense, maar die Nuwe Testament in geheel leer ons dat God ons almal roep deur Jesus om konings, profete en priesters te wees. 

Jesus roep jou om as koning te heers oor sonde, om gesag uit te oefen en sy wil te doen. 
Jesus roep jou om ‘n priester te wees om jouself met dankbaarheid, gebede en lof aan Hom te offer (toe te wy, te gee). 
Jesus roep jou om as profeet sy Woord te verkondig, vir Hom te getuig daar waar jy is tussen jou klasmaats en in jou huisgesin.

Om dit saam te vat : God wil in ‘n baie persoonlike verhouding met jou staan, HY WIL BAIE NABY AAN JOU WEES en op ‘n persoonlike manier gebruik. Hy roep jou nou terwyl jy nog jonk is, sodat jy lank vir hom kan brand en ‘n lig kan laat skyn. (Jy is nog soos die lang kers!) Hy roep jou nou, deur Sy Woord en die Heilige Gees wat met jou praat in jou hart! Die Here wil jou beste jare hê. Hoekom sal mens jou beste jare vol energie vir die duiwel mors? Ons het net een lewe en ook net een jong lewe. Dis nou die beste tyd om op God se roepstem te antwoord. Vorentoe kom daar al meer probleme en hindernisse. Prediker 12:1 gee vir ons baie goeie raad. “Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: "Ek het daar niks aan nie." 

God roep en gebruik jongmense en kinders : Miriam, die jong Dawid, die onbekende dogtertjie in Naäman se huis... Jeremia was nog jonk, Timoteus was nog jonk. Jesus gebruik die vyf brode en twee vissies van ‘n seuntjie... Hy roep jou vandag! Jy word geroep om in Jesus te glo, om raak te sien dat Jesus klaar die straf vir al jou verkeerde dinge gedra het aan die kruis. Jy moet glo dat sy offer ook heeltemal genoeg was vir jou en dat Hy jou ten volle liefhet. 

Hy roep nou. Jy moet vandag antwoord. Sommer nou, kan jy in jou hart met Jesus praat en vir Hom sê : “Hier is ek!” Hoekom nie? Hoekom wil jou uitstel? Hoekom wil jy nog verder in sonde voortgaan en nog verdere letsels opdoen? Hoekom wil jy kosbare tyd wat jy saam met God kan deurbring vermors deur dit saam met die duiwel deur te bring? Niemand wat van jongs af God se kind geword het, was al ooit spyt daaroor nie...

Die grootste gevaar is uitstel. (kliek op UITSTEL) Dis speel met vuur om te sê: “Ek sal môre, ek sal eers wag tot na die eksamen, ek sal maar eers die vakansie agter die rug kry...” Hy roep jou vandag en niemand kan waarborg dat jy weer ‘n kans sal kry om geroep te word nie! Gaan jy antwoord? Hoor weer, HY ROEP JOU!

En ten slotte, sommer 'n dringende woord van waarskuwing aan die groot en ou mense : Jou kers is dalk al baie kort, jou tyd is min, maar tot vandag toe nog het jy nie gehoor gegee aan Jesus se roepstem nie... Jy het jou lewe "bestee" aan jouself en nie aan God nie.  Jy het nog 'n kans om die saak reg te stel, reageer NOU!