BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Vergifnis. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vergifnis. Wys alle plasings

Woensdag 05 Februarie 2020

DIE REGTE PERSOON


[Wat sê God oor seksualiteit, huwelik en egskeiding? – ‘n basiese vertrekpunt.] 



Miskien wonder jy : “Het ek met die regte persoon getrou?” Veral nou as dinge nie so lekker gaan nie… Daar is rusie, verwyte, die gevoel van liefde is weg en elke aspek van die huwelik het afgekoel en flou geword... Daar is ‘n knaende stemmetjie: “Het ek die regte keuse gemaak?” 



Dis eintlik ‘n maklike vraag om te antwoord. (Kliek) John Piper sê : “Kyk na die ander naam op jou huweliksertifikaat. Dis die naam van die regte huweliksmaat.” God het jou en daardie persoon saamgevoeg! “Ja, maar hy maak so, sy maak so, ons gevoel vir mekaar is heeltemal weg…” Geen maars nie! God het julle bymekaar gevoeg en jy mag nie teen God gaan en skei nie! Jesus se standpunt is baie helder. “Hy het hulle geantwoord: "Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie." (Matteus 19:3-9) 

Dis Jesus se duidelike woorde, maar nou het Hollywood en die Huisgenoot ons gebreinspoel deur egskeiding as iets normaal uit te beeld. Dis nou “normaal” - as daar probleme kom om te skei. Maar die Satan het nie daar opgehou nie, nou het Hollywood en die Huisgenoot verder gegaan en ons vertel dis normaal om ongetroud saam te bly. Nog erger! Ons verkrag die huwelik nog voor daar ‘n huwelik is. En nou glo mense eerder vir Hollywood as vir God, maar dit kom hulle duur te staan, want God sê in Hebreërs 13:4 - “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.” 

God se oordeel tref diegene wat sy ordes rondom huwelik en seks minag! 

... en ek en jy hoef nie ver te kyk om hierdie oordele raak te sien nie!

Ons weet dat die hele Skrif deur God geïnspireer is, van God af kom, Goddelike gesag dra. (Kliek – SKRIF) Nou is dit juis as dit kom by die kwessies soos huwelik en seksualiteit dat mense die duidelikste wys hoe min hulle van God se Woord dink. Ons stem formeel saam – "Ja, die Bybel is God se Woord," maar as dit by hierdie sake kom dan maak ons soos ons wil. Ons weet beter as God, ons maak ons eie norme en standaarde... en die gevolge is skrikwekkend, verwoestend en fataal! 

Die duiwel fluister so maklik vir ons – hierdie man of vrou waarmee ek getroud is, is nie die regte een nie. Ek voel dan niks meer vir hom of vir haar nie… En dis dan wanneer ons die Skrif minag en skei.

Kom ons kyk na ‘n paar Bybelse hoekpenne rondom huwelik: 

KWALIFIKASIES 

Interessant die Bybel gee net twee kwalifikasies vir die regte huweliksmaat. Eerstens – (vanselfsprekend) dit moet ‘n persoon wees van die teenoorgestelde geslag. God het man en vrou gemaak en hulle bymekaar gebring. (Sommiges by die Algemene Sinode het dit blykbaar vergeet...) Die tweede kwalifikasie wat in die Nuwe Testament gestel word is dat dit ander persoon ‘n gelowige moet wees. 

Maar as jy reeds getroud (met ‘n ongelowige) is, dan mag die huweliksmaat se ongeloof geen rede wees om daardie persoon te verlaat nie. 

EGSKEIDING MAAK GOD KWAAD 

Kom ons kyk na drie redes waarom egskeiding so ‘n vreeslike vergryp is teen God : 

Egskeiding is opstand teen ‘n Goddelike instelling en handeling. Die huwelik is nie bloot ‘n menslik kulturele verskynsel nie, maar ‘n Goddelike orde. (Genesis 2:24) Wie teen God se ordes in opstand kom sal die gevolge dra, nou en eendag. Ons mag nie God se werk ongedaan probeer maak nie. Volgens Jesus se woorde in Matteus 19 het God jou en jou maat bymekaar gevoeg! 

Egskeiding behels die skending van ‘n Goddelike simbool en boodskap. In die NT is dit baie duidelik dat die huwelik oor meer gaan as net ‘n menslike verbintenis. Dis ‘n prentjie van iets baie groter. Dit beeld iets van die heerlike rykdom uit van die innige verhouding tussen Christus en sy gemeente. “Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees. Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het." (Efesiërs 5:23-25) 

Egskeiding is ‘n daad wat deur God gehaat word, want dit is geweld en bring die nageslag wat Hom moet eer in die gedrang. Dit het ‘n verwoestende invloed op ons verbondskinders!  (Weerens jy hoef nie ver te gaan soek om dit te sien nie.) Erger. Egskeiding vertroebel en versuur die verhouding tussen ons en God. Ons offers (godsdiens) word vir Hom onaanvaarbaar! Dit is die duidelike boodskap van God volgens die profeet Maleagi: 

“Daar is nog iets wat julle doen. Julle huil en kerm en sug by die altaar van die Here omdat Hy nie meer julle offers wil aanneem nie, 
en julle vra: "Waarom dan nie?" Dit is omdat die Here weet wat gebeur het tussen jou en die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is: jy was ontrou aan haar, ontrou aan jou eie vrou, die vrou aan wie jy plegtig trou belowe het. 
Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar ‘n nageslag moet wees, wat Hom eer. Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is nie. 
Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.”  (Maleagi 2:13-16) 

VERGIFNIS? 

Die groot vraag wat nou by ons opkom is: Is daar vergifnis vir my as ek op hierdie gebied oortree het? 

JA , vergifnis is beskikbaar, want ons het ‘n evangelie! 

Daar was ‘n kruis en ‘n opstanding! Die prys vir alle sonde is betaal, die straf op alle sonde is gedra deur Hom wat Sy lewe vir ons gegee het! 

Drie verdere perspektiewe is egter baie belangrik: 

Is daar vergifnis? Ja, as ons ons sondes bely... “Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Johannes 1:9) 

Is daar vergifnis? Ja! Onthou net die gevolge en letsels van hierdie sondes sal vir altyd op aarde by ons bly! Die moontlikheid van vergifnis verminder nie die erns van die oortreding nie. Moet nooit dink egbreek en losbandigheid is ‘n geringe saak nie! Dit het altyd konsekwensies! (Kliek -Dawid) 

Is daar vergifnis? Ja, maar vergifnis is geen vrypas om met sonde voort te gaan nie! Jesus het die owerspelige vrou vergewe en nie veroordeel nie, maar Hy het gesê : “Gaan heen en sondig nie meer nie.” (Johannes 8:11)  As jy volhard in hierdie sonde kan daar ‘n dag kom wanneer God se stem stil word en jy nie meer in vergifnis belangstel nie! 

As ons respek het vir God, sal ons respek hê vir die Goddelike instelling van die huwelik. As Jesus regtig my Koning is, sal ek my onderwerp aan sy opdragte ten opsigte van die huwelik!


Die regte een!



Vrydag 25 Oktober 2019

BID VIR REËN?


DIS DUIWELDOR DROOG EN VERSKROEIEND WARM 


Hier in Namibië smag ons met elke vesel in ons liggame na reën. Almal van ons. Boere of nie boere. Mag ons bid vir reën? Wie mag bid vir reën? Die antwoord op hierdie vraag is nie so eenvoudig soos dit op die oor af mag klink nie. Droogte is ‘n komplekse saak. Dit het nie net met reënval en El Nino te make nie, maar ook met gierigheid, met jare se oorbeweiding en roekelose veldbestuur. En dan leer die Bybel boonop vir ons dat God vir Elia op ‘n keer aangesê het om te bid dat dit NIE moet reën nie. Vir drie jaar en ses maande lank! (Jakobus 5:17) Hoe nou? 

Die modelgebed van Jesus, die Onse Vader (Lukas 11) wys vir ons ‘n duidelike pad aan. Maar baie belangrik ons moet nie net na die Onse Vader in isolasie kyk nie, maar die hele lering van Jesus oor gebed in Lukas 11:1-13 oordink. (Maak jou Bybel hier oop) 

OP REIS 

Hier in Lukas is ‘n bepaalde konteks wat baie belangrik is. Wat is dit? Vanaf Lukas 9:51 word dit duidelik dat Jesus doelgerig op reis was na Jerusalem om daar te gaan ly en daarna na die hemel te vaar. In Lukas 13:1 word ons as’t ware herinner aan Jesus se reis situasie deur die gebruik van die woorde “sekere plek, êrens” (NAB). Iewers op pad. Die dissipels kom op hierdie tydstip met ‘n versoek (nadat hulle Jesus sien bid het) dat Jesus hulle moet leer bid. ‘n Gepaste gebed vir hulle tyd en omstandighede. Onthou, Jesus en Sy dissipels is besig met ‘n opmars na Jerusalem. Die dissipels sou wonder : “Gaan die koninkryk nou kom, het die tyd van oordeel nou aangebreek? Gaan die groot insameling van die oes nou plaasvind? Hoe moet ons nou bid?” 

In hierdie situasie is dit opvallend dat Jesus spesifiek hierdie gebed vir Sy dissipels leer. 

MODELGEBED VIR DIE GEVAARLIKE PAD 

Net kortliks die inhoud van die gebed. Dit begin met ‘n aanroep van die Vader. (by einde van hierdie stuk lering kom Jesus weer terug by die onderwerp van “Vader” - vers 13). Daarna is daar drie uitroepe (“U Naam, U Koninkryk, U wil”) waarin die bidder God se beloofde toekoms toejuig en dringend vra dat dit mag aanbreek. Dit word dan gevolg deur drie afsonderlike versoeke. Al drie hierdie versoeke het betrekking op die bidders wat op pad is na God se beloofde ryk. Dis belangrik om raak te sien dat hierdie gebed nie oor twee losstaande afsonderlike sake gaan nie. ( eers God se eer en dan bloot ons behoeftes nie) Nee, dis juis mense wat onderweg is na die koninkryk wat lewensbehoeftes (fisiese versorging) nodig het, wat vergifnis nodig het, wat beskerming teen die Bose nodig het. Hierdie behoeftes gaan nie sommer oor versoeke van die mens in die algemeen nie. Dis dinge waarvoor mense net kan en mag bid in hulle ywer vir die koninkryk. In hulle op pad wees na die koninkryk. Hierdie is hoegenaamd nie versoeke wat in diens mag staan van ons eie selfsugtige behoeftes en ideale nie. Dit gaan oor versoeke binne koninkrykskonteks. 

Dis heel waarskynlik dat die gebed wat Jesus hier vir Sy dissipels geleer het, bots met die verwagting wat hulle op hierdie stadium gehad het. Hulle het gedink die finale heerlikheid gaan nou aanbreek in Jerusalem, die Messias gaan nou Sy koninkryk triomfantelik vestig. Ons weet mos dat hulle ten spyte van Jesus se duidelike lering oor Sy naderende lyding , dit nie juis kon sluk nie. Hulle het vir hulle self ‘n triomftogsituasie voorgestel. Hulle wou ‘n nuwe gebed leer wat by hierdie verwagtinge inpas. En nou? Nou leer Jesus vir hulle ‘n gebed wat hulpbehoewendheid veronderstel (daaglikse brood), wat sonde en versoeking veronderstel (vergewe ons...), wat aanvegtinge en stryd veronderstel (bewaar ons van die Bose). Jesus leer hulle nie ‘n gemakstoel gebed nie, maar ‘n reisgebed vir ‘n gevaarlike pad. 

Die toekoms wat Jesus sou bewerk word voer die dissipels langs ‘n gevaarlike pad. ‘n Pad wat voortdurende afhanklikheid sou vereis. ‘n Pad wat besaai is met beproewing en stryd. Die goeie nuus egter is dat op hierdie gevaarlike pad, hulle op Jesus se gesag met vertroue tot die Vader kan bid. 

Die pad is gevaarlik maar ons kan met vertroue bid. 

DIE VRYMOEDIGE VRIEND 

Die gedagte van vertroue word nou verder deur Jesus onderstreep met ‘n gelykenis. Dis seker nie toevallig dat hierdie gelykenis juis handel oor iemand wat op reis was nie! (6). Moontlik wil Jesus ook aansluit by die “ons” van die gebed wat Hy aan sy dissipels so pas geleer het. Dis ‘n vriend wat namens ‘n ander vriend hulp vra by ‘n vriend. Gebed gaan nie bloot oor onsself nie, maar die ander wat saam met ons op pad is. Hoe dit ook al sy, die hoofsaak wat Jesus met die gelykenis onder ons aandag wil bring is die vertroue en die versekering wat met die vrae gepaard gaan. Die een wat klop maak staat op die vriendskap van die slapende vriend wat reeds in die bed is. Daarom is hy onbeskaamd, vrypostig. Let wel die onbeskaamdheid verwys na die onbeskaamdheid van die kloppende vriend. Sy onbeskaamdheid, sy buitengewone vrymoedigheid blyk duidelik dat hy op so ‘n onbehoorlike tyd aanklop om hulp te vra namens ‘n ander vriend. Die punt is : Leerlinge van Jesus mag maar met groot vrymoedigheid by die Vader kom aanklop. 

Wanneer ons nood ervaar (ook in droogte) op ons pad na die Koninkryk mag skaamte ons nie weerhou om God te nader nie. 

DIE KLIMAKS VAN GEBEDSVERHORING : DIE HEILIGE GEES 

Die versekerings van vers 9-10 moet ons ook binne koninkrykskonteks verstaan! Jou vra, jou soek en jou klop op pad na die koninkryk sal nie op dowe ore val nie! Die lering sluit af met die voorbeeld van ‘n pa wat telkens vir sy kinders die beste wil gee. As dit die houding is van ‘n onvolmaakte aardse pa, hoeveel te meer dié van ons volmaakte Hemelse Vader! 

En wat is die beste wat Hy vir ons gee! Wat is die toppunt van gebedsverhoring? Die Heilige Gees! “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee—die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra." (Lukas 11:13) Die inwoning van die Gees is immers die duidelike bewys en deposito dat die koninkryk onstuitbaar op pad is! Dat al God se beloftes vervul gaan word! Vir die eerste dissipels is hierdie belofte met Pinksterdag vervul. Dit vind ook daagliks neerslag in ons lewe, as ons ‘n lewe leef onder beheer van die Heilige Gees! 

KOM ONS RAAK PRAKTIES 

1.Gebed is bedoel vir God se kinders. Dis die unieke voorreg van elkeen wat God, Vader kan noem deur Jesus Christus. Ons mag dus bid vir bepaalde behoeftes in ons op pad wees na die koninkryk : fisiese versorging (en dit is ook reën) , vergifnis, beskerming teen die bose. Wat ‘n wonderlike troos - Jesus skryf hierdie gebed voor omdat Hy bewus is van ons omstandighede op die pad - ons behoeftes, nood, swakheid en gevare waarmee ons te kampe het. 

2. Ons mag nie net nie, ons moet bid. Sonder hierdie gebed sal ons dit nie oorleef op pad na die koninkryk nie! Skaamte mag nooit in ons pad staan nie. Nooit hoef ons terug te deins om te vra nie. Ons Vader is meer as ‘n vriend, meer as ‘n aardse vader met gebreke. Hy is ‘n volmaak liefdevolle Vader. Ons mag maar vra, ons het die versekering uit Jesus se eie mond. 

3. Belangrik : Dit wat ons mag vra, dit waartoe ons aangespoor word om met vrymoedigheid te vra, mag nie in diens staan van ons eie sondige en selfsugtige belange nie. Dit gaan wel ook oor ons behoeftes, maar oor ons behoeftes as mense met ‘n koninkryksvisie. Op pad na die God bedoelde toekoms! Die fokus mag nooit wees myself en my welvaart nie, maar die eer van God! 

Die implikasie is : 

Reën mag nie vir ons belangriker wees as God se eer nie! (Neem ek en jy standpunt in vir dit wat eer bring aan God en teen dit wat Hom beledig en oneer aan doen?) 

Reën mag nie vir ons belangriker wees as bekering nie! 

Reën mag nie belangriker wees as heiligheid nie. 

Reën mag nie belangriker wees as ‘n begeerte om daagliks God se wil te doen nie! 

Reën mag nie belangriker wees as ons bywoning van eredienste en ons bereidheid vir sendingwerk nie. 

Kortom, as ons meer smag na reën as wat ons smag na die krag en die leiding van die Heilige Gees in ons lewens, is daar fout! 


Wie nie met erns bid vir en smag na geestelike reën – (die aanbreek van die koninkryk) nie, het geen reg om vir fisiese reën te vra nie!

Mag God ons beide skenk uit genade!



Vrydag 24 Julie 2015

SO LYK DIT IN DIE HEMEL

Gaan jy saam juig en is jy alreeds besig?

Hoe lyk die hemel? Daar is soveel idees oor die hemel. Allerhande mense beweer deesdae om in die hemel te gewees het. (Kliek op SONEL) Daar word ook roekelose en wilde aannames gemaak van wie hemel toe sou gaan en wat hulle daar sou maak. ‘n Mens verstom jou oor die uitlatings wat op begrafnisse gemaak word oor wie nou almal in die hemel rondjaag op motorfietse of daar vir ‘n span rugby of krieket speel... Dis net so bisar soos die Moslems se idee van ‘n hemel met maagde wat die wellus van jihadi’s moet bevredig...



GOD IS DIE FOKUS!

Hoe lyk die hemel? Op die ou end het ons net een betroubare bron, en dis God se Woord. Kyk gerus na twee Bybelse beskrywings van die hemel (se heerlikheid) in Openbaring 4:1-11 en JESAJA 6:1-7. Die ooreenkoms tussen Openbaring en Jesaja is merkwaardig en opvallend. Dis duidelik, die hemel is die plek waar God in sy volle majesteit volmaak geëer, bewonder en geloof word. God is in die sentrum! Hyself is die fokus! (Terloops, alle teologie en godsdiens waar Hy nie in die middelpunt is nie, is mensgemaak en vals.) 

Anders gestel, die hemel is die plek waar daar ‘n ewige volmaakte permanente erediens gehou word!


Natuurlik, ken ons nie al die detail van die hemelse bestel nie, maar die essensie daarvan word saamgevat in die konsep van 'n erediens!

Die vraag vandag is : Is ek en jy gereed vir hierdie ewige erediens? Baie mense is ooglopend nie gereed nie, want hulle stel nie eers nou belang in die erediens nie, dis nie vir hulle lekker nie en hulle sal beslis nie eendag daar inpas nie! So baie sien God bloot as ‘n helper (Hy moet spring as ons in die moeilikheid is of hartseer beleef), maar daar is min ywer om Hom te bewonder, te aanbid en sy wil te gehoorsaam.

Uit Jesaja 6 blyk dit drie dinge is nodig om voluit, nou en vir ewig saam deel te neem aan die hemelse erediensvieringe! Besef wie God is, besef hoe groot my sonde is, ontvang vergifnis!

BESEF WIE GOD IS. God het Homself aan Jesaja gewys en toe besef hy eers wie God regtig is. Net terloops – daar word melding gemaak van die “sterfjaar van Ussia” - dis ’n krisis tyd, die Here gebruik dikwels een of ander krisis om mens se oë te open. Jesaja sien die grootheid en heerlikheid van God raak! Liewers, God openbaar Homself aan die profeet. Wat ’n ontsagwekkende gesig! God op ’n baie hoë troon! Heerser van die heelal. Ten volle in beheer, absoluut soewerein! (dis ‘n feit wat deurgaans ook in die boek Openbaring beklemtoon word) Kyk, luister... Sien en hoor saam met Jesaja.. “Heilig, heilig, heilig…” Voel die kosyne rammel; ruik die rook. Angswekkend, verstommend heerlik en groots! Een saak is duidelik : Jesaja moes eers besef wie God is. Nie maar van hoorsê nie, nie bloot wat tradisie hom geleer het nie, maar werklik van aangesig tot aangesig. Dis moontlik om vir jare vaagweg te besef daar is ‘n God, maar op ‘n dag openbaar Hy Homself deur sy Woord en Gees aan jou! Dis wat ons die nodigste het.... ons moet besef wie God is, ons moet besef Hy is groot, ons moet besef HY IS GOD, HY IS HEILIG!

BESEF SONDE. Toe Jesaja besef wie God is, toe gebeur daar nog iets. Sy geestelike oë gaan oop, hy sien sy eie sonde raak. In die lig van God se heiligheid sien hy sy eie onreinheid. Dis asof die helder lig van God se heiligheid en heerlikheid deur sy siel skyn en elke stukkie onreinheid ontbloot. Hy roep uit: “Dis klaar met my, ek is verlore!” Wat gaan ons nie alles sien as hierdie lig deur ons skyn nie.... ? Sulke donker swart kolle van selfsug, haat, onreinheid...valsheid. Die vuil vlekke van hardvogtigheid, liefdeloosheid , jaloesie... Dit bring ’n wanhopigheid in Jesaja. “Dis klaar met my! Hierdie gesig bring hom tot ’n erkentenis van sy toestand van totale verdorwenheid. “Elke woord....” Nie net ’n paar klein foutjies nie! Lippe word beklemtoon... Sy bedoeling is moontlik ook hier dat hy vanweë sy onrein lippe nie kan deelneem aan die lofsange van die serafs om God te besing nie! Sonde verhinder ons om God te eer. Sy onrein lippe is ’n hindernis om te doen wat hy eintlik moet doen. 

Ons sonde keer ons om God te eer en te geniet! En dis dan juis waarvoor God ons gemaak het. Sonde verhoed ons om deel te neem aan die ewige erediens! Dis wat ons uit die hemel hou!

As die Heilige Gees met mens werk dan slaan dit jou plat en laat jou sprakeloos. Alle slimmigheid en verskonings verdwyn en al wat oorbly is om ‘n belydenis van sonde uit te stotter. Jy kan nie draaie loop met God nie. Nog iets. Jesaja sien die sonde rondom hom raak! As die Heilige Gees in ’n mens werk, kan jy nie meer dink alles in die gemeenskap is maar reg nie; jou oë gaan oop vir die afskuwelikheid van sonde. Nie net jou eie sonde nie, maar die sonde rondom jou word ’n pyn. 

ONTVANG VERGIFNIS. Nou gebeur daar iets dramaties met die gebroke sondebewuste Jesaja. God bewerk die versoening. (Op die altaar, dis waar die offers gebring is) Met ‘n gloeiende kool van die altaar word sy lippe aangeraak. Hy kry die versekering dat sy sondes versoen is, die versekering dat hy vergewe is. As jy vandag besef wie God is, en bewus word van jou eie sonde en onwaardigheid - dan is daar ook Goeie nuus vir jou : Op ’n altaar 2000 jaar gelede, is daar ’n volmaakte Offer gebring. ‘n Genoegsame offer, eens en vir altyd. (Hebr 10:14) Daar het ’n Lam gesterf - die Lam van God... op die altaar van die kruis. Die versoening is bewerk! Die oomblik as ek in erkentenis en berou my tot Jesus wend, dan ontvang ek die versoening persoonlik! ’n Bewende Jesaja sien die skrikwekkende heiligheid van God, hy besef sy sonde - en die wonder gebeur, hy word nie vernietig of weggestoot nie... hy ontvang vergifnis.

God vernietig nie ’n gebroke berouvolle sondaar nie. God red hom! Dawid sê : “U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God!” (Psalm 51:19) Terloops, daar is eintlik net een ding wat tussen ’n mens en verlossing kan staan, dis hoogmoed! ’n Trots wat nie wil buig nie! Niks kan keer dat God jou vergewe nie, nie ’n donker verlede nie, nie die aakligheid van al ons sondes nie, nie die getal oortredings nie, maar as ek hoogmoedig is en my sonde nie wil erken nie, dan gaan ek die genade misloop. “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” (1 Petrus 5:5) Jesaja verneder homself voor God en hy hoor die wonderlikste woorde wat enige sondaar op aarde kan hoor : “Jou oortredinge is vergewe, jou sonde is versoen.” (Vers 7) Dis die woorde wat Jesus op aarde ook telkens vir gebroke sondaars wat na Hom gekom gesê het... die verlamde man, die sondares wat Sy voete gewas het...

Het jy vergifnis ontvang op grond van Jesus se genoegsame offer? Dan kan jy deelneem aan die ewige erediens waar God geloof word. Dit begin nou reeds. Kom neem gerus elke Sondag deel...


[Felsenkirche]

Donderdag 11 September 2014

BAIE LIEFDE

- en die vraag oor wie mag deelneem aan die nagmaal? 

Ons as mense sit met ‘n probleem. Die Bybel is duidelik : Ons moet God liefhê en dien met ‘n volkome hart. (Dis onder meer so duidelik uit Jesus samevatting van die wet.) Dit klink mooi, maar hoe kry ‘n mens dit reg? Wat motiveer ons om God lief te hê? Of anders gestel, het ek God lief genoeg om Nagmaal te gebruik? Kwalifiseer ek vir die nagmaal? - want dis duidelik nie ‘n ligtelike saak nie! In LUKAS 7:36-50 kry ons ‘n voorbeeld van opregte en uiterste liefde. Dis die aangrypende verhaal van die sondige vrou wat Jesus se voete met haar trane “gewas” het, terwyl Hy aan tafel was saam met Simon die Fariseër. (lees dit gerus in jou Bybel)

DALK 'N SKANDAAL?

Wanneer ‘n mens ‘n belangrike gas vir ete nooi, hoop jy mos dat als sal regloop en dat niks sal gebeur wat jou in die verleentheid sal stel nie. (Ons wil ten alle koste verhoed dat die kinders skandes maak, die vrou uit haar beurt praat of dat iets met die kos sal skeefloop.) Op ‘n dag het Simon die Fariseër ‘n belangrike Gas genooi. (hy het natuurlik self nie besef hoe belangrik nie!) Probeer jouself die gebeure voorstel. Almal sit rustig aan tafel – moontlik was daar maar ‘n taamlik stywe en formele atmosfeer. Skielik kom ‘n huilende vrou die vertrek ongenooid binne gestorm. Wat sou sy hier maak? Sy gaan na Jesus en salf sy voete... Geskokte stilte, dan effense fluistering... en die gedagtes... Wat ‘n ongemaklike situasie! Dis asof ek die vraagtekens op almal se gesigte kan sien. Om alles te vererger was hierdie ‘n vrou met ‘n slegte reputasie- waarskynlik ‘n straatvrou met losse sedes.  Dalk 'n gewonder : "Ken sy Hom dan? Het ons dalk hier met ‘n skandaal te maak? Moet ons miskien RAPPORT se verslaggewer bel?"  ‘n Groot verleentheid vir almal, almal behalwe vir Jesus...

As ons die betekenis van hierdie gebeure wil verstaan, sal dit help om bietjie die drie hoofkarakters van naderby te bekyk:

SIMON. Op die oog af lyk Simon na ‘n billike ou. Hy het immers vir Jesus vir ete genooi.(terwyl Jesus seker nie baie vriende onder die Fariseërs gehad het nie) Tog word een ding duidelik, alhoewel hy uiterlik beleefd en ordentlik opgetree het teenoor Jesus, was daar in sy hart geen opregte liefde vir Hom nie. Eerder ‘n hoogmoedige kritiese gesindheid. “Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: "Hy, as hy ‘n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy ‘n sondares is." (39) 

Die rede : Simon het nie sy persoonlike behoefte aan Jesus besef nie, hy het nie besef dat hy Jesus nodig het nie, want hy het homself nie as ‘n verlore sondaar gesien nie... Dis die groot verskil tussen die veroordelende Simon en die gebroke vrou...

Simon is tipies van die godsdienstige goeie mens, wat nog nooit die Verlosser leer ken het nie. So baie Simons sit Sondag na Sondag in die kerk - pligsgetrou in baie opsigte, maar van berou, vergifnis, en verlossingsvreugde weet hulle niks... Daarom het hulle ook geen aanvoeling vir die nood van sondaars nie.

VROU. Anders as Simon wat ‘n gesiene persoon was, het hierdie vrou niks gehad om op trots te wees nie. Almal het geweet dat sy ‘n slegte vrou was. Maar baie belangrik : Sy was self ook bewus van haar sonde en daarom het sy gedoen wat sy gedoen het. Sy het haar sonde besef, maar gelukkig het sy nog iets besef, daar is net een Persoon wat haar in haar sondenood kan help, Jesus van Nasaret. (miskien het sy Hom al op straat hoor preek...) Dis duidelik dat sy desperaat was: “Ek moet by Jesus uitkom.” Sy het beslis nie meer omgegee wat mense van haar dink nie, die begeerte na vergifnis was te oorweldigend. Ek dink sy kon almal se oë op haar voel brand, maar vasbedrae voltooi sy haar sending...

Hierdie vrou ontvang die grootste geskenk wat ‘n mens kan kry : Vergifnis! “En Jesus sê vir haar: "Jou sondes is vergewe." (48) Hoe het sy dit gekry? Nie deur dit wat sy gedoen het nie, nie deur trane nie, maar deur geloof! Persoonlike geloof. “Maar Jesus sê vir die vrou: "Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede." (50) Haar trane, haar berou, haar diensbetoning aan Jesus, was maar net die bewys dat haar geloof eg was. Dit was die gevolge van haar geloof. Redding kry ons net deur ‘n persoonlike vertroue op Jesus. Ek kry dit as ek na Hom kom met my sondelas!

JESUS. Daar is niemand soos Jesus nie! Hierdie gebeure bevestig dit net weereens. Kyk hoe volmaak hanteer Hy hierdie moeilike situasie. Ander mense in sy posisie sou dalk kwaad geword het (“verwyder asseblief hierdie indringer”) of paniekerig (“wat gaan die ander mense nou van my dink?”), maar nee, Jesus is volkome in beheer. Jesus gebruik die geleentheid om die waarheid van vergifnis en liefde te demonstreer. Jesus weet van Simon se kritiek en Hy vertel daarom ‘n kort verhaaltjie om te wys dat vergifnis lei tot ware liefde. Hy vat alles mooi saam in vers 47. “Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde." Die implikasie is baie duidelik : Iemand soos Simon, al was hy uiterlik ordentlik het nog nooit die ware vreugde van vergifnis beleef nie, daarom was daar min liefde in sy hart teenoor Jesus. Hierdie vrou wat ‘n groot sondaar was, het radikale vergifnis ontvang en daarom loop haar hart oor van liefde vir Jesus. Sy is nie skaam vir Jesus nie, sy gee nie om wat mense dink nie, want sy het vergifnis persoonlik beleef en dis al wat tel!

Die verstommende en mees basiese feit (wat ek en jy so maklik vergeet) oor Jesus is dat Hy die mag het om sondes te vergewe. Nie net klein foutjies nie, maar sondes, regte sondes, aaklige sondes, “hel-toe-sleep-sondes” – ja, ook daardie een ding wat jou jare al bloots ry of soos ‘n gewig aan jou gewete vasgeketting is!

Wat leer ons hieruit? Spesifiek oor liefde en vergifnis? En wat sê dit oor die Nagmaal?

Liefde tot God is nie iets wat aangeplak kan word nie. Dit vloei voort uit ‘n ontdekking van my sonde en daaropvolgende belewenis van die heerlike vrye vergifnis wat Jesus skenk. Die nagmaal is daarom nie bedoel vir "goeie" mense nie, maar vir dankbare vergeefde mense. Net hulle waardeer die offer van Jesus en wil dit regtig vier. Natuurlik wys hulle lewens dit. Die vraag by die nagmaal is dus nie of ek goed voel oor myself of ‘n ordentlike persoon is nie, maar of ek al werklik my sondes besef het, dit na Jesus gebring het, vergifnis ontvang en daarom dankbare liefde in my hart het. (al besef ons ook hoe onvolmaak hierdie dankbaarheid is) Stukkende mense is welkom by die nagmaal, stukkende mense wat berou het oor sonde en hulle hoop op Jesus alleen geplaas het. Het jy al?


As die lig van sy vergifnis deurbreek oor ons lewe...




Vrydag 12 April 2013

TWEEDE KANS

- kan God ‘n diepgevalle kind van Hom heeltemal vergewe en weer vrugbaar gebruik? 

Toe jy die eerste keer as sondaar na Jesus gekom het, was God se vrye genade en volkome vergifnis iets wonderlik. Op grond van sy Woord het jy geglo dat Hy jou alle sonde, ja ook die ergstes heeltemal vergewe het. Hy het jou vrygespreek, as kind aanvaar en jou aangestel om vir Hom te getuig. Alles het goed gegaan…maar toe val jy baie diep in een of ander groot openbare sonde wat groot skande oor jou gebring het. Huweliksontrou, egskeiding, bedrog, dronkenskap of dwelmverslawing… Jy het 'n "backslider" geword. Nou worstel jy met die vraag : “Kan God my weer vergewe?” Miskien besef jy : “Ja, Hy kan my vergewe, maar ek sal nooit weer bruikbaar wees in sy koninkryk nie, ek sal nooit weer die volle vreugde beleef om vir Hom nuttig te wees nie. Miskien is ek nou verdoem tot ‘n tweedeklas Christenskap…” Die duiwel bly ook nie stil in sulke situasies nie. Hy probeer jou oortuig : “Kyk toe jy tot bekering gekom het, het God jou al jou sonde vergewe, want jy was onkundig en in duisternis. Maar nou het jy mos van beter geweet, jy is mos vooraf gewaarsku, maar jy was steeds ongehoorsaam…nou is daar vir jou geen hoop meer nie…” 

As jy al ooit deur hierdie gedagtes geteister is (of mense ken wat daardeur geteister word), kyk gerus saam met my na die aangrypende gesprek tussen Jesus en Petrus langs die meer, kort na Jesus se opstanding in Johannes 21:15-19. 

Petrus die rots. 

Ons ken die geskiedenis van hierdie “rots” - hy het Jesus drie maal openlik opsetlik verloën. Hy vloek sommer! Matteus 26:74 berig : Toe begin hy vloek, en hy sweer: "Ek ken die man nie!" Die rots het verkrummel, die pilaar het geval, die staatmaker het gevou. Petrus was een van daardie ongelukkige mense wat openlik gesondig en in die skande beland het. Sy sonde kon nie verberg word nie, almal het daarvan geweet. ‘n Mens kan jou indink die vernedering, hartseer, selfverwyt en beskuldigende kyke wat hy moes deurgaan. “Ja, jou grootbek, kyk wat het gebeur…” 

Genadeverhaal

Op hierdie stadium het Petrus waarskynlik reeds persoonlik vergifnis ontvang, want hy het bitterlik gehuil na die haan se derde kraai... Maar iets het nog ontbreek. Nou hier na ete, kom Jesus met hierdie vraag in die openbaar na Petrus: “Het jy my waarlik lief, meer as hulle hier? “meer as hulle” - verwys na die ander dissipels wat teenwoordig was. Hoekom so voor almal? Dit maak baie sin, want juis Petrus was ten opsigte van die ander die een wat die sterkste homself uitgespreek het. Terwyl die ander stil was het hy gespog : “ek sal my lewe aflê!” (Johannes 13:37,38) Petrus was die voorbarige, die sterke, dis juis hy wat tot aksie oorgegaan het en Malchus se oor afgekap het. Maar daarna het dinge tragies skeefgeloop. Petrus se selfvertroue en sy vleeslike dapperheid het hom in daardie krisisnag in die steek gelaat. Menslik gesproke het hy sy potensiaal as toekomstige leier onder die apostels onherroeplike skade aangedoen. Wie sou ooit weer na hom as leier kon opsien of hom vertrou? Daar was net een hoop vir hom – volledige openbare vergifnis uit Jesus se mond. Mooi verduidelikings en verskonings sou niks vir hierdie gevalle dissipel kon doen nie. Gesien die omstandighede dat Petrus as leierfiguur sy aansien onder die ander dissipels verloor het weens sy lafhartigheid, was iets meer as net private vergifnis nodig. Jesus moes hom in die openbaar herstel. 

Hier voor almal vra Jesus ‘n diepte ondersoekende vraag, wat Petrus waarskynlik tot in die diepte van sy siel sou geruk het. Probeer jou indink - hier voor almal word hy by die naam uitgesonder, en dit terwyl almal van sy pynlike mislukking bewus was. “Jy, Simon, seun van Jona, het jy my lief, meer....” Petrus se antwoord is veelseggend. Vroeër was hy nie skaam om homself ‘n trappie hoër as sy mede dissipels te stel nie. Maar nou is dit opvallend - hy probeer glad nie eers die vraag antwoord deur ‘n vergelyking met die ander te maak nie. Hy werp hom maar net op Jesus se kennis van sy hart. Sy gebroke, berouvolle hart. Petrus sê in effek : “Here ten spyte van my bittere mislukking, weet U dat ek U liefhet.” Jesus aanvaar sy antwoord. Die bewys daarvan kry ons in die opdrag “ laat my lammers wei.” Petrus se liefde vir die Here en die bewys dat hy herstel en vergifnis gevind het word duidelik uit sy versorging van die Here se mense. Dit eindig egter nie hier nie - Jesus herhaal die selfde vraag drie keer. Drie keer moes Petrus ten aanhore van almal hierdie pynigende vraag hoor. “Het my lief?” Die derde keer lees ons (17) het Petrus bedroef geword. Miskien het hy openlik gehuil, ons weet nie. Sy hart was gebreek. Net soos hy Jesus drie keer verloën het, verlang Jesus nou drie keer hierdie opregte belydenis van hom. Die derde keer antwoord die bedroefde Petrus : “U weet alles....” Ek kan dit so voor my oë sien hoe ‘n betraande Petrus dit uitroep : “ Here U weet alles, U weet dat ek U liefhet” Gebroke, geen spoor van selfgeregtigheid nie! Petrus het niks meer oor om mee te spog nie. Ook herhaal Jesus sy opdrag : “laat my skape wei.” Petrus se bediening word herstel. Let op die bediening word nie in ‘n titel gegee nie maar in praktiese opdragte : “laat wei, pas op.” 

Inderdaad het hy hierdie bediening getrou uitgevoer soos mens kan aflei uit sy opdragte aan ander herders. ( 1 Petrus 5:1-4) Net terloops - die skape wat Petrus moes oppas was nie sy skape nie, maar Jesus s’n “....my skape...” Die kerk is nie een van ons s’n nie, maar Jesus se eiendom wat Hy met sy bloed gekoop het! Onthou dit maar as ons van mekaar sleg praat of so maklik oor die “kerk” kla… 

PRAKTIES 

1.Hierdie gedeelte bring hoop vir gevalle kinders van God wat berou het. Hier is hoop vir daardie dissipels wat deur sonde in die bittere skande voor God en mense gebring is. Wat is die hoop? Die volledig herstellende genade en vergifnis van Jesus Christus. Totale kwytskelding! Juis vir sy kinders wat Hom in die steek gelaat het. Die ontroue Petrus kry sy “job” terug! Petrus se skandelike sonde is radikaal deur Jesus self vergewe en die bewys daarvan vind ons in sy vrugbare arbeid en sy getrouheid tot die dood. ‘n Ontroue dissipel word vergewe en bly uiteindelik getrou. Watter ongelooflike troos! Wie van ons kan nie met Petrus identifiseer nie? Wie van ons is nie diep bewus van die talle kere wat ons ons Here in die steek gelaat het nie? Watter heerlike verligting dat God nie net deur die 100 per senters werk nie. Watter troos om te weet dat ware dissipelskap nie altyd ‘n super suksesverhaal is nie. Dis ‘n genadeverhaal! 

Geliefde, jy wat vergifnis ontvang het, mag jouself nie as ‘n tweedeklas dissipel beskou en langer wegkruip nie! God het vir jou ‘n taak! 

2.“Het jy my lief?” Hierdie vraag bly steeds die primêre vraag wat Jesus aan sy volgelinge stel. Hy vra dit nou vir jou! Vir jou wat dalk nog net begin wankel het, vir jou wat geval het, vir jou wat begin moedeloos raak het…, maar ook vir jou wat dalk baie selfversekerd voel omdat jy al die regte dinge glo en nie gestruikel het soos iemand anders nie… Getrouheid en lojaliteit aan Jesus word nie in die eerste plek gemeet aan ‘n intellektuele onderskrywing van ‘n stel geloofsartikels nie. Petrus het deurgaans die regte feite oor Jesus geglo, maar wat Jesus wou dat hy in die openbaar moes bely is sy liefde. Sy persoonlike toewyding. Die inhoud sowel as die motivering van ware toewyding is liefde vir Jesus self. (Juis omdat Hy ons vergifnis bewerk het) Waar dit ontbreek is daar geen ware verhouding met die Verlosser nie, slegs miskien uiterlike godsdiens. 

Kom ons hoor elkeen hierdie vraag - “Het jy my lief?” uit Jesus se mond en ons antwoord met ons lewens daarop. 

Saterdag 08 September 2012

DAARDIE EEN SONDE...

- vind volle vrede by die Vervloekte!

Daardie een verskriklike sonde. Daardie sonde wat jy nie eers oor wil dink nie. Daardie sonde wat aan jou gewete vreet. Daardie sonde wat jou laat vrees vir die oordeelsdag. Daardie vreeslike sonde  van die verlede wat jou nog steeds verlam op die geloofspad.  Ja, alle sondes is erg, maar sommige se gevolge is tog groter. Sommige sondes veroorsaak vreeslike skade, baie keer skade wat nooit weer reggemaak kan word nie. Party sondes het 'n rimpel effek dwarsdeur mens se hele lewe. Dit lyk asof die wet van Moses ook party sondes erger as ander beoordeel het. Vir party sondes kon mens 'n offer bring of die skade regstel, en dan was alles weer reg. Vir ander sondes, spesifiek doelbewuste ergerlike sondes was daar blykbaar net een gevolg : die  doodstraf.  Dis wat  in Deuteronomium voorgeskryf word  vir ‘n opstandige seun. (Deuteronomium  21: 21) ‘n Ander sonde wat die doodstraf oor jou kon bring was owerspel (Deuteronomium 22:22) of om God te vloek (Levitikus 24:16). Geen genade nie, geen genoegsame offer nie, net die allervreeslikste dood. Hierdie sondes het die vloek van God oor jou gebring op 'n baie sigbare manier. So ̕'n oortreder se lyk is aan 'n paal  opgehang, as ‘n verdere verswaring van sy straf... almal kon dit sien.  (Hier in Deuteronomium 21:22-23  word die opdrag gegee dat so ‘n lyk voor sononder begrawe moet word sodat die land nie verontreinig word nie.)

Miskien is het jy ook een of ander “ernstige” sonde gepleeg het. Dalk het jy God direk gevloek in 'n oomblik van woede, miskien het jy een of ander seksuele misstap begaan (jy is bitter spyt, maar jy kan dit nooit vergeet nie), dalk het jy iemand aangerand of beseer, moontlik het jy by die okkulte betrokke geraak, bedrog gepleeg wat ander se lewens vernietig het, of dalk het jy jou eie kinders of ouers onherroeplike skade aangedoen..... Nou is jy gekwel, jy kan nie volle vrede en vreugde beleef nie...die herinneringe aan hierdie sondes agtervolg jou soos ‘n skaduwee.

Vriend, die Woord van God het baie goeie nuus. Jesus red ons van sonde waarvan die wet van Moses (Tora) ons nie kon red nie. Anders gestel, Jesus red ons van alle sonde!

God se oplossing vir ons sondegebrokenheid is geloof in Jesus en nie die wet (Tora)  nie!

 Handelinge 13:38,39 * (OAV)  is so ontsettend belangrik:

“Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses (Tora) nie geregverdig kon word nie.”

Daar is ‘n heerlike kontras tussen Jesus en die wet van Moses waarvan ons moet kennis neem. Johannes stel dit so : “God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (Johannes 1:17) Waar genade beperk was in die wet van Moses, ontvang ons deur Jesus ‘n oorvloed van genade! (Johannes 1:16) Die wet van Moses (Tora)  was ‘n tydelike en beperkte instelling, Jesus Christus is die finale en volkome Verlosser! Jesus bied volledige hoop en vergifnis, wat die wet van Moses nie kon bewerk nie. Hierdie genade is alles moontlik gemaak deur Jesus se kruisdood.  Die sondes waarvoor die wet van Moses ons vervloek het en tot die dood verdoem het, het Jesus op Hom geneem. Hy het die vloek wat die wet uitgespreek het op sondaars gedra en so self ‘n vervloekte geword!  Ek wil graag hê jy moet hierdie waarheid self sien, so kom ons blaai na Galasiërs 3:13. Wat ‘n aangrypende waarheid:

“Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: ‘Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is’”

Jesus het aan 'n houtkruis gehang en gesterf.  ‘n Houtkruis! ‘n Vloekhout! Dis vir hierdie argument van Paulus baie belangrik - Hy is nie net gestenig of met ‘n swaard doodgemaak nie! Paulus verduidelik Jesus se sterwe teen die agtergrond van  Deuteronomium 21:22-23. Hoekom het Jesus juis aan 'n houtkruis gesterf? Dis ‘n bewys, Hy  het nie  maar net ‘n normale dood  gesterf nie, maar spesifiek as 'n vervloekte!  Jesus het maar nie net ‘n toevallige dood gesterf nie, die houtkruis was ‘n teken dat God Hom as ‘n vervloekte behandel en beskou het. Wetsoortreders was onder die vloek, onder die oordeel van God. Daar was geen hoop vir hulle nie.  Hulle is gedood en hulle lyke is aan ‘n houtpaal opgehang. 

Maar God het sondaars lief, Hy stuur sy Seun Jesus na hierdie wêreld juis om mense vir wie daar nie hoop is nie te red. Jesus self het geen sonde gehad nie. Nie een nie. Hy het God se wet immers volmaak gehou. Hy was in alles gehoorsaam aan sy Vader. En tog hier sterf  Hy as 'n vervloekte, onder die oordeel van God aan ‘n houtpaal. Hoe so? Daar is net een antwoord, God het ons sondes gevat en op Jesus geplaas. God het ons ongeregtigheid gevat en op Jesus laat neerkom. (Jesaja 53:6!) God het vir Jesus as sondaar behandel in ons plek. (2 Korintiërs 5:21)  Jesus was dus bedek met ons sondes. Jesus het  as’t ware 'n sondaar geword vol aaklige sondes. Vol sonde, vol van ons sonde. Myne en joune. En wat sê die wet?  Die wet sien Jesus is vol sonde en grom : “Jesus, jy moet sterf!” En Hy sterf...  En ons? Ons wat glo - ons gaan vry! Dis die heerlike evangelie. Dis die boodskap wat hoop bring vir die ergste sondaar! O, wat 'n heerlike omruiling. Christus sterf in ons plek. Hy is vervloek aan die kruis en ons word geseën! Hy sterf en ons lewe!

Jesus het volkome al jou skuld en straf gedra.  Martin Luther stel hierdie waarhede  so sterk en duidelik** : Jesus het nie net vir klein oortredinkies en foutjies en misstappies gesterwe nie, maar vir aaklige sondes, gruwelike sondes, smerige sondes, sondes so groot soos die berge...Hy het aan die vloekhout gehang vir sondes wat die doodstraf verdien. Soos daardie groot sondaars met die ergere sondes van die Ou Testament wat aan die vloekpaal opgehang is! Glo dit. Gryp hierdie goeie nuus aan. Sê vir Hom dankie, sê hier is my lewe ek wy my aan U! Kyk na Jesus,  sien raak dat die volle prys betaal het. 

 Sien raak, sy kruis was ook genoeg vir daardie een vreeslike sonde! 

Hoor soos baie sondaars uit sy mond, "jou geloof het jou gered, gaan heen en sondig nie meer nie." Vier hierdie vergifnis in die Nagmaal, wat weereens ‘n sigbare versekering en bevestiging is van Jesus se genoegsame offer!

 *Natuurlik is Paulus se bedoeling nie hier om te sê dat die wet van Moses in die bedeling van die Nuwe Verbond nog steeds gedeeltelike vryspraak kan bied nie. Dis nie sy punt nie. Hy wil dit  positief stel dat daar deur die geloof in Jesus volledige regverdiging/vryspraak is. FF Bruce stel dit so : “Paul is not making partial but total claims for the power of the gospel over against the law” (THE NEW INTERNATIONAL COMMENTARY ON THE NEW TESTAMENT, The Book of Acts, p279) 

** In sy beroemde Kommentaar op die boek Galasiërs waaruit ek ook geput het vir hierdie preek.

Sondag 22 Julie 2012

VOORREG VAN VERGIFNIS

- vrae en feite.

Ons glo dat God sondes vergewe. Ons bely dit in die woorde van die Twaalf Artikels saam met die kerk van Jesus dwarsoor die hele wêreld. Die heilige God, die God wat LIG is, is ook ‘n vergewende God!  Reeds in die Ou Testament  leer ken ons die ware God as die Een wat sondes vergewe!  Dink maar aan :
Psalm 130:4  “Maar by U is daar vergifnis : daarom word U steeds gedien.”
Miga 7:18   “Wie is ‘n God soos U? U vergewe sonde...”

Dis hierdie feit van vergifnis wat ons God ‘n besondere God maak! Vergifnis is ‘n heerlike waarheid waarsonder ons nie kan bestaan nie; tog is daar baie praktiese vrae en onsekerhede rondom hierdie belangrike saak. Kom ons kry ‘n paar antwoorde uit 1 Johannes 1:5-2:2 (lees gerus) :

• Wie mag vergifnis vra? Dis duidelik Johannes skryf hier  vir kinders van God. Ons moet dit mooi verstaan - vergifnis is die voorreg van God se kinders. ‘n Mens kan net op een manier God se kind word, dis deur jou vertroue in Jesus te stel. Om elke dag sondes te bely maak jou nie noodwendig ‘n kind van God nie. (Dink maar Luther se tevergeefse gebieg en gebid daar in die klooster, voordat hy die evangelie begryp het). ‘n Mens kan jare lank, oggend en aand vir vergifnis vra, maar nog steeds verlore wees. Ek moet eers Jesus as Verlosser aanneem, dan eers het ek vrede met God. Maar as jy reeds ‘n kind van God geword het, is dit jou besondere genade voorreg om jou sondes te kan bely!

• Is dit dan  nodig vir God se kinders om vergifnis te vra? As mens ‘n kind van God is, is jy mos totaal vrygespreek, kwytgeskel van al jou sonde. Jy het vrede met God. Hier moet ons mooi verstaan. Die Bybel is baie duidelik dat as ek Jesus Christus as my Verlosser aanvaar, dan word ek vrygespreek. Van alle sonde!  Vrede met God! Dis duidelik uit tekste soos Hebr 8:12; Kol 2:13,14; Rom 5:1 en baie ander.  Dis ‘n volkome vergifnis wat jou in die regte verhouding met God plaas. Ons kan dit ‘n juridiese vergifnis noem. Dit verander jou status van ‘n skuldige rebel na ‘n wettige kind van God. Maar nou weet ons dat kinders van God ook kan sondig. Dis waaroor dit hier in 1 Johannes gaan. Mense wat ontken dat hulle nog sonde doen, is leuenaars sê Johannes. Kinders van God het ook vergifnis nodig. Hoekom? As kind van God staan ek nou in ‘n verhouding met my Vader. As ek nou oortree, sondig ek binne in hierdie verhouding, ek bedroef Hom. Ek bly nog sy kind, my status is onveranderd, maar ek maak my Vader ongelukkig en dis in hierdie konteks dat vergifnis nodig is. Dis die vergifnis waarvan Johannes hier praat. Ons kan dit Vaderlike vergifnis noem. Om ons te help verstaan kan ons hierdie onderskeid maak. Juridiese vergifnis, vryspraak is wat ek eenmalig ontvang as ek Jesus in geloof aanvaar as my Verlosser. Dit gaan oor my status voor God. Vaderlike vergifnis is iets waaraan ons daaglikse behoefte het.   Dit gaan oor my voordurende wandel met God.(Dink maar weer aan die verhaaltjie van die misdadige straatkind oor wie ‘n koning hom ontferm. Die goedhartige koning verleen aan hom ‘n volledige amnestie, wat al sy misdade dek en aan hom volkome vrywaring gee. Dis ‘n juridiese vergifnis. Die koning gaan verder en neem die straatkind aan as sy eie wettige kind en erfgenaam. Hierdie kind is egter ver van volmaak af. Hy doen nog steeds dinge wat verkeerd is en dit bedroef die koning en ontstig hom. Die kind sê dan hy is jammer en ontvang vaderlike vergifnis. )*

• Is vergifnis ‘n eenvoudige maklike saak? Kan ek maar net vinnig in die aand voor ek gaan slaap ‘n gebedjie prewel en als is weer reg? Is sonde iets ligtelik as dit dan so maklik vergewe kan word? Johannes gee vir ons pragtig die korrekte Bybelse balans in 1 Joh 2:1. “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig - ons het Jesus Christus, die Regverdige, as ons Voorspraak by die Vader.” Daar is iets soos vergifnis vir die kind van God. Hoekom? Jesus is ons advokaat (Voorspraak). Sy eenmalige genoegsame kruisdood het vir ons die reg tot vergifnis bewerk.

 Ons vergifnis  is nie gebou op ons hoeveelheid  trane of mooi hartseer gebede nie, maar op Jesus se volkome genoegsame middelaarskap. 

Maar dit beteken nie sonde is ‘n ligte ou sakie nie. Met alle erns waarsku Johannes vir God se kinders om nie te sondig nie! Sonde is altyds iets skrikwekkends. Sonde is nooit nuttig nie. Sonde bring altyd net verwydering, verwyte en oneindige hartseer.  Sonde steel ons vreugde. Geen kind van God voel gelukkig oor enige sonde van die verlede nie. Ons bly skaam en hartseer daaroor al weet ons dit vergewe.  Sonde doen net skade en ons moet met alle mag daarvan weg te vlug. En tog kry ons hierdie heerlike troos... AS ... ja, as ons val is dit gelukkig nie die einde nie! Daar is iets soos vergifnis.  Dis ‘n genade wat ons met dankbaarheid moet vervul en juis met alle mag moet laat stry teen sonde!

• Kan ek maar opsetlik sondig, met die gedagte in my agterkop dat ek tog maar net weer later vergifnis sal vra? Hier beweeg ons op baie gevaarlike terrein. Kan ek besluit : “Ag, ek is nou moeg vir my vrou en gaan ‘n ander een kry. Ek weet beslis dis verkeerd, maar ek gaan dit tog doen en ek sal maar net daarna vergifnis vra”?  Sal God so ‘n sonde vergewe? Wel, God vergewe sonde as ons dit bely.  Hiervoor  het ons ‘n duidelike belofte. Maar pasop, God vergewe ons net as ons bely, en voordat mens tot egte belydenis kom moet daar erkenning en berou wees. En weet jy wat? Om my sonde te besef is alreeds ‘n genadewerk van die Heilige Gees.  Berou is alreeds ‘n gawe van God. As jy vandag besluit ek gaan my vrou los en sal maar later vergifnis vra, waarsku ek jou daar is geen waarborg dat jy wel later berou gaan hê en opreg vergifnis gaan vra nie. God kan dalk jou hart verhard en jy sal geen behoefte na vergifnis ervaar en geen berou toon nie. Die punt is: Moenie God uittart nie. Moenie met genade speel nie. ‘n Voortgande lewe in duisternis is ‘n aanduiding dat iemand nie aan God behoort nie. (1 Joh 1:6)  As dit gaan oor genade moet ons nie probeer kanse vat of sommetjies maak nie. Genade moet aangegryp word.

Genadetyd is altyd nou. 

Wat môre gaan gebeur weet niemand nie. Moenie die Heilige Gees weerstaan as Hy  met jou praat en jou van sonde oortuig nie.

Kind van God,  Jesus het vir ons die heerlike voorreg van vergifnis verdien. Maak ruim gebruik daarvan. Moenie sonde vertroetel nie. Moenie met skuld en wanhoop rondloop wat jou uitmergel nie.  Die duiwel wil God se kinders graag weghou van vergifnis af. Want solank ons skuldig voel het ons nie vreugde nie en kan ons ook nie bruikbaar wees nie. Hy gebruik ‘n tweeledige taktiek. Vir sommige maak hy wys : “Ag, jou sonde is nie so erg nie. Jy het nie vergifnis nodig nie. Almal maak maar so.” Met ander mense gebruik hy juis die teenoorgestelde taktiek (Satan werk altyd met uiterstes) Hy mislei hulle deur te suggereer : “Weet jy hierdie sonde van jou is te erg. Jy kan nie daarmee na Jesus gaan nie.”  Satan sal als in sy vermoë doen om jou weg te hou van jou advokaat, jou Voorspraak,  Jesus Christus. Daarom vlug na Hom! Al het jy nou net gesondig, moenie vir jouself sê : “Ek sal maar  ‘n rukkie wag tot ek eers ‘n bietjie beter voel en dan met die Here praat nie.” Nee, gaan dadelik na Jesus. Gaan met hierdie belofte in jou hart... “As ons ons sondes bely - Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Joh 1:9)  Dis ‘n kosbare belofte en ‘n vreugdevolle voorreg wat Jesus vir ons beding het. 

* Lees ook op hierdie Blog, PALEISPRINS IN OPLEIDING

Vrydag 18 Mei 2012

DIE BITTER HOË HEKKIE

- waaroor gebede struikel en die plafon wat ons versugtinge terugkaats. 

Matteus 6:14,15 “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

As ons nie kan bid nie, as ons nie werklik kontak met ons hemelse Vader kan maak nie,  beteken ons Christenskap niks nie. Gebed is die vernaamste manier hoe  kinders van God hulle dankbaarheid vir verlossing prakties uitleef. Uit Jesus se mond het ons nou al ‘n hele paar belangrike dinge geleer oor gebed :
  • Ware gebed is nie ‘n hipokritiese  ritueel nie, maar egte kontak met ons Vader.  Dis ‘n lewe voor die aangesig van God. 
  • Ware gebed word beloon deur ons Vader wat presies weet wat ons behoeftes is. Gebed werk!
  • Ware gebed vereis ‘n U draai, weg van ek-gesentreerdheid na ‘n fokus op God (U). Dit gaan eerstens oor God se eer, God se koninkryk en gehoorsaamheid aan God se  wil.
  • Ware gebed sluit in dat mense wat God se eer nastreef en oppad is na die koninkryk vir alle behoeftes op die pad mag bid,  insluitend ons fisiese nood, vergifnis en beskerming. Dis dinge wat God se kinders almal nodig het.

Ons kyk nou na nog ‘n laaste belangrike beginsel uit Jesus se lering hier oor gebed : Ware gebed kom uit ‘n vergewensgesinde hart. Anders gesê, alle gebed wat nie uit ‘n vergewensgesinde hart kom nie, sal misluk. Vergewensgesindheid is ‘n kernsaak as dit by ware gebed kom . Matteus 6:14,15 lyk dalk soos ‘n voetnoot by die vyfde bede, maar dit verwys terug na die hele gebed wat handel oor ingang in die Koninkryk.*

Dis asof Jesus hier net ‘n laaste dringende vermaning wil byvoeg en sê : “Kyk jou gebed kan honderd suiwer geformuleer wees, maar as dit uit ‘n bitter onvergewensgesinde hart kom, word dit onmiddellik gediskwalifiseer." 

Moenie dat jou gebed oor die laaste hekkie struikel nie! 

Dis ‘n besonder bitter hoë hekkie, die hekkie van onvergewensgesindheid!

Hoe pas vergifnis en koninkryk en gebed bymekaar? Ons het gesien : gebed draai om God en sy koninkryk. Dit gaan oor God se prioriteit as Koning, maar ook oor ons deelwees van die koninkryk en ons oppadwees na die koninkryk. Daar is net een manier hoe ons deel kan word van die koninkryk - deur genade en vergifnis wat ons van God ontvang.    Die basiese beginsel van die koninkryk is vergifnis. As ons dus genade en vergifnis aan andere weier,  beteken dit ons verwerp die basisbeginsel van die koninkryk. As ek weier om  vergifnis te skenk, bly ekself ook sonder vergifnis en kan ek nie in die koninkryk ingaan nie. So slaan ekself die deur van die koninkryk toe. Onvergewensgesindheid is die grootste faktor wat ons gebede bederf en uitkanselleer. Onvergewensgesindheid is die grootste praktiese rede waarom mense die koninkryk sal misloop.  Kom ons toets dit aan ‘n paar ander Skrifgedeeltes:

Markus 11:25 “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.” 
Net soos in die Onse Vader koppel Jesus vergifnis as ‘n vereiste aan gebed en die ontvangs van vergifnis.

As ons verder in Jesus se woorde oor hierdie saak gaan soek sien ons dat dit nie net oor gebed gaan nie, maar oor ons eie vergifnis en dus ook oor ons verlossing as sodanig.

Matteus 5:7 “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”   
Ons het almal barmhartigheid nodig. Al is jy in ’n kerk gebore, al was jy jou hele lewe lank godsdienstig en al het jy geen erediens of biduur gemis nie, sonder Jesus se genade, barmhartigheid en vergifnis sal jy nooit in die Koninkryk kan ingaan nie.  Hierdie Saligspreking sê dus : Wat jy weet dat jy van God nodig het, betoon dit aan ander mense!  Iemand wat nie barmhartigheid bewys nie,  sê dus maar net : “Ek het self dit ook nie nodig nie, met ander woorde ek hoef nie in Jesus te glo nie.” Onbarmhartiges is dus by implikasie mense wat nie in Jesus glo nie en daarom verlore is! Barmhartigheid is ‘n bewys dat ek barmhartigheid ontvang het, en dat ek dus waarlik in Jesus  glo. Martyn Lloyd-Jones stel dit so treffend :
“What makes me merciful is the grace of God. But the grace of God does make me merciful. So it comes to this: if I am not merciful there is only one explanation, I myself have never understood the grace and mercy of God; I am outside Christ; I am yet in my sins, and I am unforgiven” 
As ek vergifnis weier aan ander is dit die duidelikste bewys dat ekself nog nooit vergifnis ontvang het nie en dus verlore is, oppad na die ewige straf! 

Matteus 5:23,24 “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”
Vergifnis en vrede is belangriker as enige uiterlike godsdienstige aksie!

Matteus 18:21-35 (lees gerus in jou Bybel) Ons ken hierdie gelykenis...  Hoe tree die koning uiteindelik op teen sy amptenaar wat weier om die ander een te vergewe?  Woedend! Vers 34 (lees) En dan sê Jesus hierdie skrikwekkende woorde : “So sal my Vader wat in die hemel is ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie” (35) Jy gaan nie met ‘n onvergewensgesinde hart by God verbykom en in die koninkryk inglip nie.

Maak seker dat jy self vergifnis ontvang het deur Jesus Christus en neem ‘n besluit voor God om alle oortreders in jou lewe te vergewe. (Onthou dis ‘n besluit en nie ‘n gevoel nie!) Moenie dat jou gebede en inderdaad jou reis na die koninkryk oor die laaste hekkie struikel nie! Moenie teen ‘n plafon vasbid nie!

* Dr Jakob van Bruggen, Matteüs - Het evangelie voor Israël

Donderdag 29 Maart 2012

SMS : "EK IS SWANGER"

- sonde, skande en skade, maar uiteindelik (en pynlik) triomfeer die GENADE!

“Ag, nee wat sonde is darem nie so erg nie. Om ‘n ou skelmpie te hê is ook nie die einde van die wêreld nie! Kyk nou maar vir ou Dawid. Hy was dan nou kwansuis hierdie wonderlike man van God en kyk wat het hy gedoen en die Here het hom mos darem weer vergewe...!” So ‘n ligtelike houding oor sonde openbaar ‘n groot onkunde! Kom ons kyk bietjie dieper na die saak van sonde en vergifnis vanuit die hartseer geskiedenis van Dawid. (oorsaak, gevolg en vergifnis)

Oorsaak: Dawid was ‘n kind van God. ‘n Man na God se hart. God self het hom geroep daar agter die skape uit en hom geseën in sy koningskap. Hy het ‘n pad saam met God gestap en ondervind hoe die Here hom gehelp het. Hy het geweet wat dit is om op God te vertrou.... (stryd met Goliat). En toe eendag gebeur hierdie vreeslike ding. Dawid op die dak...sien die mooi vrou bad... en die res is geskiedenis! (Ons lees dit in 2 Samuel 11) Hy vlug nie dadelik vir die versoeking nie en hy val!  Moenie vergeet nie, kind van God, ons eie hart soek net ‘n geskikte geleentheid vir sonde. Ons harte is soos petrol en versoekings is soos vuur!
Waarskuwing :

Ek en jy is teen geen sonde immuun nie!

Wees bedag op die  boosheid van jou eie hart! Vlug, m.a.w. gebruik jou voete. (2 Tim 2:22) Moet nooit mak raak vir sonde nie... Juis op die punte waar ons dink ons staan sterk, kan ons dalk die maklikste val...

 

Gevolge: Na sy geheime owerspel kry Dawid ‘n saaklike boodskap : “Ek is swanger” ‘n Kort boodskappie (in vandag se tyd sou sy seker ‘n SMS gestuur het) met baie lang gevolge! (2 Samuel 11:5) Toe weet Dawid, hier is moeilikheid! Uitgevang! Maar tipies van die sondaar mens, begin hy planne maak om sy sonde weg te steek...Hy laat roep haar man Uria vanaf die gevegsfront, met die hoop dat hy by sy vrou sal slaap en so die bewyse uitwis... maar dit misluk... en toe laat Dawid vir Uria vermoor op ‘n slinkse manier. Kyk wat gebeur : Dawid probeer sy owerspel verdoesel en dit lei tot moord. Sonde lei tot ander sonde. Byvoorbeeld, buite egtelike verhoudings lei dikwels tot dinge soos aborsie, leuens, ongelukkige huwelike of egskeidings wat weer kinders se lewens verwoes... hulle val weer in dieselfde sondes volgens die voorbeeld van hulle ouers. Sonde het skrikwekkende gevolge. God is baie duidelik hieroor by monde van sy kneg, Natan. (Lees 2 Samuel 12:1-10) Natan kondig ‘n vreeslike straf aan. “So sê die Here : ‘Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring.’” (Sien vers 12:10-12) Dawid se verdere familiegeskiedenis wys hoe tragies waar hierdie woorde van die profeet geword het. Allerhande ellende het gevolg : bloedskande, broedermoord, sy eie seun Absalom wat in opstand kom teen Dawid en in die openbaar met Dawid se vroue gemeenskap het... Lees dit in 2 Samuel 16:21,22.

Wat sê dit vir ons?

Moenie speel met sonde nie!

Moenie na Satan se slimpraatjies luister nie! Hoe klink dit? “Jy gaan nie regtig gelukkig wees, as jy nie eers aan hierdie of daardie sonde geproe het nie!” Dis ‘n leuen! Niemand is spyt oor ‘n sonde wat hulle nie gedoen het nie! Maar baie mense, ook kinders van God is bitter spyt oor sondes wat hulle wel gedoen het. Die letsels van hierdie dinge gaan nooit weg nie...

Sonde kan nie weggesteek word nie! Toe Uria dood is, toe dink Dawid sy geheim is veilig. Hy sal met Batseba trou en geen haan sal ooit daarna kraai nie. Maar God het al dit tyd geweet...

Sonde is erg omdat dit primêr sonde teen God is! Ons dink gewoonlik aan die menslike skade wat sonde veroorsaak, die ergste is egter die feit dat dit neerkom op 'n minagting van God! (Sien vers 9,10) Dis 'n verwerping van God se Woord en 'n vertrapping van sy eer! Dit moet ons laat sidder!


Vergifnis : Dawid erken sy sonde en toon ware berou. Psalm 51 gee vir ons verdere inligting oor Dawid se diepe berou en gebrokenheid oor sy sonde. God vergewe Dawid volkome. Maar moenie dink vergifnis is ‘n ligtelike goedkoop saak nie. Dawid en Batseba se seuntjie moes sterf, want die eer van die Here is deur Dawid se sonde geskend! (2 Samuel 12:13) Hierdie kind het toe wel gesterf, ten spyte daarvan dat Dawid baie ernstig gebid en gevas het. (16)

Die tragiese gebeure rondom Dawid en Batseba demonstreer die verwoestende uitwerking van sonde, maar dit het ‘n finale heerlike einde.

Die genade triomfeer!

Dawid word vergewe. Maar dis nie al nie. Na die dood van hierdie kind, het Batseba weer ‘n baba seuntjie gehad. En raai wat was sy naam? Salomo! Dawid se troonopvolger en die man wat deur God gekies is om die tempel te bou! Vers 24,25 is aangrypend heerlik : “... sy het ‘n seun in die wêreld gebring, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het hom liefgehad en het hom deur die profeet Natan, Jedidja laat noem, wat beteken : ‘die Here het hom lief.’” Maar dis nie steeds nie die volle hoogtepunt van God se heerlike genade nie. Uit Salomo se nageslag word die Verlosser Jesus gebore. In Matteus se geslagsregister word daar spesifiek van Batseba (genoem die vrou van Uria) melding gemaak! (Matteus 1:6) Dit dra ‘n heerlike boodskap : Jesus vereenselwig Hom met sondaars! Hy bring hoop vir werklike sondaars!

Twee sake staan uit in hierdie stuk geskiedenis:

Die verwoestende aakligheid van sonde : Sonde bring smarte, skande en skade. Sonde is nie speletjies nie. Dis ‘n slang met dodelike gif en skrikwekkende nagevolge. Vlug weg van alle versoekings en sonde. Veg daarteen al kos dit jou bloed!

Die heerlikheid van genade : Gelukkig is daar iets soos vergifnis. (Psalm 130 is die klassieke antwoord as jy hiermee worstel) Volledige vergifnis omdat Jesus ons sondestraf volledig gedra het. Maar laat ons nooit ligtelik dink oor hierdie vergifnis nie!

Vergifnis het God se Seun groot pyn gekos!

Die pyn van Godverlatenheid aan die kruis om vir ons hierdie versoening te bewerk. Kom, aanvaar hierdie genadige versoening. Wees eerlik voor die Here soos Dawid en ontvang sy vergifnis. By Hom is daar ‘n nuwe begin! Wys dan jou danbaarheid deur ‘n lewe van radikale liefde en gehoorsaamheid!