BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Sexy. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Sexy. Wys alle plasings

Woensdag 12 Maart 2014

“SEXY” OBSESSIE

- kulkultus van die lyf.

Elke kultuur het sy swak plekke en sondige neigings. Ons westerse kultuur word tans gekenmerk deur ‘n buitengewone beheptheid met die uiterlike. (by dames sowel as mans) Menige jongmens (en nie meer so jonk) se gedagtes word oorheers deur die vraag : “Hoe lyk ek?” ‘n Aantreklike en sensuele voorkoms word ’n verterende obsessie wat baie mense se lewens oorheers. Jy moet "sexy" lyk, anders is jy uit. Dit word al van kleins af (bewustelik of onbewustelik) by kinders ingeprent. Dit word aangewakker deur die media omgewing, die soort klere wat ons vir ons kinders koop, dis die boodskap van die eindelose ry skoonheidskompetisies waaraan die arme bloedjies van baba stadium tot tieners blootgestel word ter wille van pa’s en ma’s se eggo’s. Hierdie obsessie is nie maar sommer net ’n gier waaroor ons grappies kan maak nie, dit beheers en vernietig mense se lewens. Dit het ’n geweldige invloed op hoe ons onsself sien en hoe ons ander mense sien en behandel. As ekself nie heeltemal tevrede is met hoe ek lyk nie, voel ek minderwaardig en ’n mislukking. Hierdie beheptheid met voorkoms veroorsaak dat ook ander op die uiterlike getakseer word : “As jy nie mooi is nie, dink ek nie veel van jou nie.”

GOD DINK ANDERS.

God dink natuurlik heel anders. Hy help vir Samuel reg sodat hy homself nie sou laat mislei deur voorkoms met die kies van ‘n koning uit Isai se seuns nie : "Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike." (1 Samuel 16:7)

Die kultus van die lyf, is duidelik nie in lyn met God se siening nie en het ’n vernietigende uitwerking

1. Dit verwring veral vroue se siening oor hulleself en dra beslis by tot eetversteurings (anorexia), ongesonde gewoontes (party verniel hulle liggame ure in die son om die regte skakering te probeer kry), modeverslawing (dit lei soms tot lagwekkende situasies as sommiges klere dra wat nie pas by hulle figuur en ouderdom nie) en so kan mens voortgaan…

2. Dit demoraliseer persone wat ouer word. Ouderdom word gesien as ’n negatiewe ding. Mense probeer solank as moontlik vasklou aan die ideaal van “Forever Young.” (Ja, Chris Barnard het ook hard probeer, maar selfs ‘n slim ou soos hy kon dit nie regkry nie...)

3. Dit verdraai waardes. Mans wat ’n lewensmaat soek lê buitengewone klem op die uiterlike, en later moet hulle tot hulle smart ontdek, ’n vrou met ’n mooi uiterlike maak nie altyd noodwendig ’n goeie lewensmaat nie. (kliek op MOOI VROU)

4. Hierdie sondige obsessie is ’n handige handvatsel wat die duiwel gebruik om ons rond te skud sodat ons nie die vryheid kan ervaar wat God vir ons bedoel het nie. Dink net hoe buit die geldmag en die advertensiewese hierdie swakheid uit - jy moet dit of dat koop, want jy moet so en so lyk... Duisende rande word aan ongesonde maermaakmiddels en kosmetiese operasies bestee om te probeer lyk soos die tierwyfies op die voorblaaie van ons tydskrifte… Die aspirasie na ‘n onbereikbare voorkoms is waarskynlik ook ‘n groot bron van depressie – “ek kan nie so lyk soos...en nou voel ek soos ‘n lelike eendjie”

BEVRYDING : 

SKOONHEID VERGAAN, MAAR CHRISTUS BLY STAAN!

Wat moet ons doen? Wel, as ons tot eer van God wil lewe, en in vryheid Hom wil dien, moet ons leer om nie op die liggaamlike uiterlike te verafgod en verabsoluteer nie.* Ons moenie meer beheer word deur hierdie dinge nie. Die harde feit is, jy kan nie loskom van hierdie denkwyse deur maar net te probeer nie. (Dis net so 'n sterk mag soos gierigheid of alkoholverslawing.)

Om vry te kom van die liggaamskultus van ons tyd moet ons eers verstaan waar hierdie obsessie vandaan kom. Die wortels daarvan vind ons reeds in Genesis 3 (sondeval). Twee redes vir hierdie beheptheid met die liggaamlike kom na vore:

1. Deur eie pogings probeer die mens om sy naaktheid te bedek. (Daardie vyeblaaruitrusting!). Hoekom? Weens ‘n diep gevoel van skaamte en skande! Dit kom daarop neer dat ons ons diep innerlike gevoel van skaamte en skande en geestelike bankrotskap en onvermoë probeer wegsteek vir God en ander mense. Ons kruip weg agter die uiterlike want daar is ’n diep onsekerheid en gebrek in ons innerlike. Ek voel leeg en onvervuld in my binneste, nou probeer ek maar die buitenste soveel moontlik versier. Leegheid word deur sonde veroorsaak - ek weet in my hart ek is nie wat ek moet wees nie.

2. Daar is ’n diep onderliggende vrees in ons vir sterflikheid en naderende dood. Hierdie buitengewone drang na fisieke skoonheid, is ’n poging om te probeer jonk lyk, want ons probeer weghardloop vir die onvermydelike ouderdom en die dood! Die obessiewe najaging van die uiterlike is ’n ontvlugtingsmeganisme om nie die dood in die oë te kyk nie.

Hierdie is baie diep sake. Ons kan dit nie sommer so maklik afskud nie. Ons het Iemand nodig om ons te bevry.

Hierdie Iemand is Jesus. Terloops, hoe het Jesus gelyk? Was Hy die aantreklike fotogeniese held soos die Kinderbybels en flieks Hom uitbeeld? Jesaja 53:2,3 vertel ons : “Die dienaar was soos ‘n loot wat voor die Here uitspruit, soos ‘n plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie. Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.” Die werklikheid oor Jesus strook nie heeltemal met die prentjies van die Kinderbybels nie! Jesus was nie 'n kliënt van Hannon Botma nie! Jesus het die hemelse heerlikheid en sy skoonheid afgelê om ons te red van sonde en ewige dood. Hy het sy heerlikheid vrywillig verlaat en ’n slaaf geword, sodat Hy deur sy dood ons kon bevry. “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” (Filippense 2:6,7) 

Jesus het vrywillig “lelik” geword, sodat ons vir ewig “mooi” kan wees!

Jesus bevry elkeen wat na Hom kom van die worteloorsake van hierdie obsessie met die uiterlike. Wat is die worteloorsake nou weer? Die leegheid, stukkendheid en onvermoë wat ons ervaar weens ons sondeskuld. Die vrees vir ouderdom en dood.

Jesus bevry ons van beide : 

1. Hy bevry van sondeskuld. Hy het volledig betaal, die kind van God se sonde bestaan nie meer in God se gedagtes nie. “Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie." ( Hebreërs 8:12)

2. Hy bevry van doodsvrees - Omdat my sondeskuld betaal is, kan die Satan my nie meer bang maak met die dood en die hel nie, want God hou my sonde nie meer teen my nie. (Hebreërs 2:14,15) Dood is net erg as ek nie weet my sonde is vergewe nie. Sonde is die angel van die dood! 

As Jesus my bevry het van my skande en skuldgevoel, as Hy my bevry het van my vrees vir ouderdom en dood, dan word ek al hoe meer bevry van my obsessie en angs oor voorkoms. Nou kan ek rustig wees en vrede hê met wat die Here en soos die Here my gemaak het. Ek kan myself wees, want Hy het my vergewe en aanvaar. Ek kan sonder vrees leef vir wat mense van my dink, want al wat saakmaak is wat God van my dink; en die feit is in Jesus het Hy my ontsettend lief!

AL JONGER?

Maar dis nie die einde van die storie nie. Die kind van God word wel ouer en swakker (soos alle mense), maar ons word innerlik, geestelik al hoe meer vernuwe. (2 Korintiërs 4:16) Dit beteken die kind van God word elke dag geestelik mooier soos die Heilige Gees al meer beheer neem van my lewe en my meer gelykvormig aan Jesus maak. Maar ook dit is nie die einde van die storie nie. Daar kom ’n dag, dis wanneer Jesus kom, wanneer ons liggame wat nou deur sonde geskend is, volmaak nuutgemaak gaan word soos Sy verheerlikte liggaam! (Filippense 3:21)

Dink weer mooi oor wat belangrik is in die lewe... Mag God se kosbare kinders nie gekul word deur die kultus van die lyf nie, maar waarlik tot Sy eer leef!

*Natuurlik is ons liggaamlike versorging en welsyn nie onbelangrik nie. God het immers ons liggame ook geskape om Hom te verheerlik en ons is dus ook rentmeesters van ons liggame. Hierdie liggame moet gesond gehou word deur die regte eetgewoontes, oefening en ‘n gesonde leefstyl. Kinders van God se liggame is immers die tempel van die Heilige Gees en ons het dus ‘n goeie rede om nie ons liggame deur seksuele onreinheid, maar ook deur ongesonde kosse en gevaarlike stimulante soos nikotien te besoedel nie! Die Bybelse lering is iets heel anders as die heidens Griekse denke wat die liggaam degradeer tot maar net ‘n dop wat huisvesting bied aan die siel. Jesus red die hele mens en daarom glo ons ook aan die opstanding van die liggaam by sy wederkoms.

Dinsdag 02 Oktober 2012

DIE MAG VAN 'N MOOI VROU!

- om haar man vir Christus te wen.

Dis ‘n opsigtelike tragedie : Huisgesinne en huwelike is in groot chaos. Die ergste  is dat baie Christene se huise en huwelike nie juis altyd  beter lyk as die van die wêreld daarbuite nie. Dit doen soveel oneindige skade aan die beeld van die evangelie. Dis nie God se bedoeling nie! As God mense red, wil Hy ons totale lewe vernuwe. Dit sluit die huwelik in. Daarom kry ons baie spesifieke opdragte oor die verhouding tussen man en vrou in die Skrif.

Petrus gee onder leiding van die Heilige Gees praktiese opdragte aan mans en vroue in 1 Petrus 3:1-7. Ons kyk vandag wat hy vir die vrou sê:

“NET so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word as hulle jul reine, godvresende wandel aanskou het.
Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie,
maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.
Want so het vroeër ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself versier, en hulle was aan hul eie mans onderdanig,
soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie." (OAV)

Kom ons herinner ons net eers aan die wyer konteks  waarbinne hierdie opdragte aan die vrou (en later ook man) kom. Dit hang nie in die lug nie. Twee sake is van belang:  

Dis deel van die groot opdrag in 1 Petrus 2:11,12.  Hier  gaan dit  oor ‘n skoon lewenswandel, ‘n voorbeeldige en aantreklike lewensstyl te midde van ‘n bose en vyandige wêreld. Kinders van God  is in hierdie wêreld, maar ons is geroep om anders te wees. Ook wat betref ons huwelike en gesinne, moet ons opvallend anders wees! Ons moet deur ons voorbeeld die Christelike boodskap “versier” sodat ons die ongelowiges daardeur kan wen vir die waarheid! Mense moet vra : “Hi, hoekom is julle gesin so gelukkig?” Ons huwelike moet modelle wees wat buitestaanders se onregverdige kritiek teen die kerk tot swye sal bring!
Tweedens is hierdie opdragte ook ‘n onderdeel van die deurlopende belangrike beginsel van onderdanigheid in 1 Petrus 2:13 (dit word herhaal in 18,3:1)

Die saak wat Petrus aanspreek is spesifiek die verhouding van die vrou met haar eie man in die huwelik.   

Hierdie opdragte van Petrus ontspring natuurlik uit ‘n spesifieke situasie in die werklike lewe as agtergrond, wat heelwaarskynlik algemeen voorgekom het. Dikwels het net een lid van ‘n egpaar uit die heidendom tot bekering gekom. Dit skep besondere probleme en uitdagings. Hoe leef ‘n vrou in ‘n huwelik saam met ‘n ongelowige man, wat dus ongehoorsaam is aan die Woord? Dis vandag nog steeds ‘n aktuele krisis.  Gewoonlik hanteer die meeste Christen  vroue dit ongelukkig verkeerd. (Julle weet mos wat hulle doen :  hulle kry boekies en blaadjies en DVDs, bel die dominee om te kom praat ens. Die gevolg : pappie word net al kwaaier en bestee al meer tyd weg van die huis om te vlug vir sy vroutjie se gepreek!) Petrus maak dit baie duidelik wat die vrou se werkswyse moet wees. Hy gee ‘n heder antwoord. (al is dit nie die lekker en maklike antwoord wat ons wil hoor nie)

Die Christen vrou moet haar onbekeerde man vir Christus wen, deur wandel sonder woorde! Sy moet ‘n woordlose evangelie bring! Haar lewe moet ‘n getuienis wees met groot oortuigingskrag! Natuurlik, kom ons erken,  dis veel gevra en beslis nie maklik nie. Kom ons wees eerlik : dit vereis opregte toewyding, onselfsugtige Christenskap, eindelose geduld en selfs die bereidheid om te ly! Dit vra bonatuurlike deursettingsvermoë! Gedryf deur ‘n passie vir God se eer en ‘n werklike liefde vir die man.  Ondersoek die motief van jou hart. Is dit nie dalk :  “ek wil tog hê hierdie ou moet ‘n Christen word sodat die lewe vir my makliker kan wees” nie? (LW - dit gaan hier oor mense wat reeds getroud was, toe die vrou tot bekering gekom het. Baie gelowige vroue sit met die pyn van ongelowige mans omdat hulle direk teen God se opdragte met onbekeerde mans getrou het. En dit  terwyl die Bybel dit verbied.)

As die vrou die man so met haar leefstyl  kan wen is al die moeite en opoffering dit werd. Hoe lyk hierdie lewenswandel? Dis ‘n lewe volgens die beginsels van : Onderdanigheid, Reinheid en Godvresendheid.

OPGEMAAK OF NUUTGEMAAK?

Petrus maak hierdie beginsels op ‘n praktiese saak wat vir vroue belangrik is van toepassing. Hoe maak ‘n vrou haarself aantreklik? ‘n Vrou kan op een van twee kante konsentreer : Uiterlike of innerlike. Waar gaan sy al haar energie (en geld) insit?  Klere of karakter? Gesig of gees? Petrus is duidelik, die klem moet nie op die uiterlike val nie! (Natuurlik propageer Petrus nie onversorgdheid nie.) Hy spreek wel ‘n baie teer saak aan in die sensuele en oppervlakkige kultuur waarin ons ons bevind. Maar hierdie probleem is nie iets nuuts nie.  Petrus se vermaning herinner sterk aan die van Jesaja 3:16-24 Luister bietjie!

"Die Here het ook gesê:
Die vroue in Jerusalem is hoogmoedig.
Hulle loop neus in die lug en swaai hulle heupe.
Hulle kyk vir die mans en knip hulle oë,
hulle skud die ringe om hulle enkels.
Maar die Here sal hulle koppe vol sere maak,
en hulle hare sal uitval.
Daardie dag sal Hy hulle mooi goed wegvat:
die ringe om hulle enkels en die juwele
wat lyk soos die son en die maan,
die oor-ringe en die armbande en sluiers,
die kop-ringe en die kettings om hulle enkels,
die mooi gordels om hulle lyf, die reukwater,
die juwele om hulle nekke,
die ringe aan hulle vingers en die neusringe,
die mooi rokke, die doeke om hulle skouers, die handsakkies,
die spieëls, die lang rokke, die kopdoeke en die kort jassies.
Wanneer die Here
al die mooi goed weggevat het,
dan sal die vroue nie meer
lekker ruik nie, hulle sal stink.
Hulle sal nie meer mooi gordels dra nie,
hulle sal toue om hulle lyf dra.
Hulle sal nie hulle hare kan vleg nie,
want hulle sal kaalkop wees,
hulle sal nie meer mooi klere dra nie,
hulle sal rouklere dra.
Hulle sal nie meer mooi wees nie,
daar sal brandmerke op hulle lywe wees,
want hulle sal slawe wees."

Sjoe!!! Klink amper of Jesaja deur die Huisgenoot geblaai of een van ons winkelsentrums besoek het!

Waaroor gaan dit? Die profeet Jesaja veroordeel die ryk hooghartige dames van Jerusalem wat hulle slegs oor hulle uiterlike voorkoms bekommer, terwyl die samelewing innerlik verrot is. Dis gewoonlik die tendens, hoe groter die geestelike armoede, hoe meer word daar op uiterlike vertoon en uitspattigheid gefokus om te probeer kompenseer! 

Ook Paulus maak soortgelyke opmerkings as Petrus in 1 Timoteus 2:9-10 (lees) Die Bybelse siening staan  in skerp  kontras met die algemene opvattings van die wêreld. Ons hoor dit mos : van kleins af word kinders aangemoedig om “sexy” te wees! Pasop: Ouers voer hulle kinders verkeerde waardes op subtiele maniere, sonder dat hulle dalk self daarvan bewus is!

Petrus se punt is nie ‘n  legalistiese verbod op alle mooi klere of grimering nie. (waar sou mens in elk geval die streep trek?)  Nou wat wil hy dan  tuisbring? Die punt wat hy wel maak  is tweeledig : 
1) Die oorweldigende waarde van innerlike skoonheid bo uiterlike versiering. 
2) Die groot gevaar van uitspattige sensuele versiering.

Weereens durf ons geen kleinlike wettiese reëls hieroor maak nie.  Elke Christen vrou moet onder leiding van die Heilige Gees, volgens die beginsels van die Woord en binne die konteks van bepaalde kultuuromstandighede, eerlik voor die Here keuses maak. Dit gaan eerstens natuurlik oor jou eie diepste motiewe, maar vir die Christen vrou wat ander se geestelike welsyn op die hart dra, ook  oor die vraag of my kleredrag en grimering ander in versoeking kan lei.

Positief : 

Die geheim van die Christen vrou se standhoudende skoonheid lê nie in  hoe sy haarself opmaak nie, maar hoe die Heilige Gees van God haar nuutmaak! 

MAGTIGE MOOI VROUE

Die innerlike mooi Christen vrou het ‘n magtiger wapen om haar man mee te beïndruk as bloot uiterlike aantreklikheid.  Konsentreer daarop!  Die uiterlike  het slegs ‘n kortstondige duur : die hare moet telkens teen groot koste weer oorgedoen  word, die duur klere is volgende seisoen weer uit die mode... Daarteenoor word  ‘n sagmoedige, bedagsame karakter net al mooier. Dis die gees wat daagliks deur die Gees vernuwe word!  Dis wat God sien en hoog ag!

SARA OF ISEBEL?

Petrus verwys na die verlede en merk op dat dit altyd so was dat heilige vroue hulle versiering in die innerlike gevind het.
Hulle geheim? Hulle het op God gehoop! Sara was so ‘n voorbeeld. Sy het nie ‘n maklike lewe gehad nie... op die trekpad, vol onsekerheid, baie noue ontkominge... Tog het sy getrou aan Abram gebly en hom gerespekteer. Petrus haal aan uit Gen 18:12 . Dit gaan oor respek. Hoop op God sal lei tot respek vir die man. Pasop hoe jy oor jou man praat of na hom verwys as jy saam met vriendinne is!  Respek te alle tye!  Volg Sara se  voorbeeld na.  

So baie vroue is eerder dogters en nabootsers van Isebel....Die listige koningin met agterbakse planne wat haar  swakkeling man  Agab totaal oorheers het. Hierdie bose koningin kon nie God se oordele vryspring nie, haar oogverf en mooigemaakte hare ten spyt! (2 Konings 9:30)

 ‘n Innerlike mooi vrou is ook ‘n dapper vrou. Hulle "vrees geen verskrikking nie" Dit gaan nie hier oor ‘n aanmoediging om die Comrades te hardloop of Kilimandjaro te klim nie. Maar om dapper, standvastig, vol geloof in moeilike omstandighede, veral huislike omstandighede te wees! Om onder ‘n onbekeerde man ‘n stille blymoedige Christelike getuienis te handhaaf verg veel meer as om Kilimandjaro te bestyg!

Ek hoop jy sien raak dat hierdie gedeelte nie bloot ‘n polemiek is oor grimering en kleredrag nie. Hoor die positiewe noot in hierdie vermanings : die innerlike skoonheid van ‘n vrou is ‘n magtige instrument om ‘n verskil te maak in haar man se lewe en in haar huis, maar bo alles is hierdie innerlike skoonheid kosbaar voor God! 

My liewe vriendin, moenie die klem laat val op opmaak nie, maar laat toe dat die Heilige Gees jou nuutmaak! Dan is jy mooi... en magtig! Magtig in God se diens!