BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Tsintsabis. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Tsintsabis. Wys alle plasings

Sondag 05 Mei 2019

BOESMANS HOOR BOODSKAP UIT DIE HEL

Een van ons ouderlinge, Andries Gous is getrou besig met ‘n bediening onder die Boesmans (San) mense noord van Tsumeb. Andries deel ‘n merkwaardige ondervinding of twee: 



Sondag 28 April 2019 



Wat ‘n aaklige en fantastiese dag! 


Soos my gewoonte is, was ek besig om reg te maak vir die eredienste by my Boesmans broers en susters in die Tsintsabis omgewing. 

Tydens my voorbereiding en ook van die vorige dag af beleef ek enorme spanning en onrustigheid, selfs twyfel, moedeloosheid en geheel en al ‘n gevoel van verlatenheid, van alleen wees, alleen stry. 

Ek is kwaad en ontsteld en hartseer alles in een en ek voel ek gaan moed opgee met die bediening onder die Hai//om mense. Ek is siek en sat vir die alleen pad, vir die aankarring met, soos dit vir my voel, geen ondersteuning. 

Dit is natuurlik nie heeltemal waar nie, want daar is broers en susters wat my ondersteun, maar op hierdie Sondagoggend kon ek niks daarvan ervaar nie en het ek regtig gevoel daarna om alles net eenvoudig te staak. Dit is die Here se werk, het ek vir myself gesê en Hy sal ’n plan moet gee, want ek sien nie meer kans op aan te gaan nie, die taak is te moeilik. 

Hierdie is die gedagtes waarmee ek halfhartig my twee preke voorberei vir die dag. Die twee preke is vir die gemeente by Oupos en die ander vir die gemeentetjie by Makalani. 

Voordat ek in die pad val sien my vroutjie dat my gemoed vol is en dat ek glad nie lekker is nie. Ek vertel haar ook sommer luidkeels dat die Here self sy kerk moet in stand hou en dat ek nie meer kans sien om hierdie werk alleen te doen nie. 

Sy bid saam met my, eintlik bid sy maar alleen want my hart is nie in vandag se werk nie, my gemoed is vol van myself en my selfbejammering en gedagtes van moed opgee. 

In my stoutste verwagtinge kon ek nie voorsien wat op hierdie pragtige Sondag sou gebeur nie. 

Oupos 

Die tema van die preek by Oupos handel oor die 5000 mense vir wie Jesus kos gegee het en die tema gaan daaroor dat ons ook geestelike versorging nodig het en nie net fisiese versorging nie. 

Ouder gewoonte vra ek en Karel na die diens as daar mense is wat gebed benodig dat hulle uitkom en saam met ons kom bid. Die normale siektes en kwale word gebring – hoofpyn, lyfseer ens. en ons bid vir elkeen vir fisiese herstel maar altyd ook geestelike herstel en versterking. 

Emka bly eenkant staan en wag geduldig dat almal klaar bid en toe kom sy vorentoe en vertel vir ons van ’n droom wat sy gehad het. 

Sy het gedroom dat haar pa se ma haar besoek het. Haar ouma het haar gewys dat van haar familie op pad is na die hel. 

Sy sien in haar droom hoe haar familie brand in die hel! 

Volgens die manier waarop sy dit beskryf het, kon ek amper die helse vuur sien brand in my geestesoog. Nadat sy wakker geskrik het uit die droom, het sy vroeg môre opgestaan en begin om van familielid na familielid te stap en vir hulle te sê dat hulle hul moet bekeer en na God toe moet gaan want hulle is op pad hel toe en dat die hel ‘n verskriklike plek is. 

Ek ervaar voorwaar die kragtige bekerings boodskap van hierdie jong vrou. 

Emka is die vrou van die derde paartjie wat onder die indruk gekom het dat hulle moes trou en nie verder in sonde moes saamleef nie. Sy en haar man Petrus is dan ook getroud op 1 Maart 2019. (Kliek BY DIE NEDERIGES

Wat vir my opmerklik was hoe die gesig van Emka verander het na haar troue. Hoe haar gesig begin straal het nadat sy die stap in gehoorsaamheid geneem het en nie meer in sonde saamgeleef het nie. Wat my ook verder opgeval het is hoe die Here haar aanwend nou nadat sy in gehoorsaamheid opgetree het, hoe die Here haar as ’n instrument gebruik in hierdie gemeente. 

Makalani 

Na die diens op Oupos het ek en Karel oorgery na die samekoms plek by Makalani waar ons die tweede diens van die dag sou hou. Op Makalani aangekom merk ons ’n paar nuwe gesigte op, maar sonder om te veel daaraan aandag te gee gaan ons voort met die erediens . Hierdie keer is die preek se tema die sondeval – van Adam en Eva wat in opstand gekom het teen God. Op Makalani tolk Johannes Tampan vir die ere diens. 

Die diens het goed afgeloop en ouder gewoonte kom ons na die diens bymekaar om te bid vir almal wat gebed nodig het. Terwyl ons bid vir ’n jong man dra die vrouens/of ondersteun hulle swaar ’n vrou wat vir my baie oud lyk na ons toe. 

Karel, Johannes Tampan en ekself is besig om te bid terwyl hulle haar nader bring en ek merk haar eers regtig op toe ek omdraai om te begin groet . Ek neem sommer dadelik aan dat sy daar is dat ons vir haar gesondheid moet bid, maar oudergewoonte vra ek haar uit oor hoe haar saak met die Here staan. Jy kon my omtik met ’n veer toe die ou vrou sê dat sy haar saak met die Here wil regmaak dat sy nie in Hom geglo het nie, maar sy glo nou wel. EK het haar deeglik deur die twee tolke uitgevra om seker te maak of sy verstaan. Sy bely haar skuld saam met ons en doen ’n oorgawe aan die Here Jesus. 

Dit was voorwaar ’n baie kosbare oomblik vir elkeen van ons. Nog ’n “kind” het huis toe gekom! 

Net so kosbaar is dit wat na die gebed gebeur het. Nadat ons saam met haar gebid het, en toe nooit eens vir genesing gebid het nie, staan sy op en loop self terug na die huis se stoep toe! Ek was oorstelp van vreugde vir haar en gevul met absolute blydskap in my Here. 

Ek het weereens deeglik besef dat wanneer ons gedruk voel om moed te verloor en om tou op te gooi dan is dit baie maal omdat daar ‘n felle veldslag aan die gang is in die realm wat ons nie verstaan nie en omdat die vyand weet hy moet alles in die stryd werp want hy gaan een van sy kinders verloor want hulle gaan terugdraai na die Here toe. 

Soli Deo Gloria 

NS. Saterdag 4 Mei was ons weer aan by Makalani om ‘n foto van ouma te neem en dit wil vir my voorwaar lyk of sy jare jonger geword het in die kort paar daggies. Die duiwel is ‘n harde meester, wat mense moeg, gebreek en uitgeput agterlaat terwyl die Here se juk sag is en sy las lig.

Karel Ganseb, getroue geestelike leier, medewerker en tolk!


Sondag 05 Augustus 2018

SATERDAG OP TSINTSABIS

- trane en evangelie toe 'n getroue Boesmanbroer begrawe is.

Dit was 'n emosionele terugkyk, tuiskoms en evangelie geleentheid. Toti Tsam een van die eerste Boesmanbekeerlinge wat deur my oorlede pa, Johan de Koning se bediening op die plase in die Tsumeb omgewing die Here gevind het, is verlede Saterdag begrawe op Tsintsabis. Dis 'n nedersetting so ongeveer 60 km noord van Tsumeb. Toti was destyds 'n plaaswerker op Paul Smith se plaas Driehoek, oos van Tsintsabis. Daar onder 'n groot wildevye boom wat skuins groei het Toti die saak met sy Verlosser uitgemaak. Oom Reinhard Friederich een van die baie bekende Duitse boere in die omgewing, 'n sendingvriend en kenner van die Hai//om Boesmans en hulle taal het aan die groot groep mense vertel hoe opgewonde my pa was oor Toti en sy broer Atrabe se bekering. Dit was die jaar 1972. Dit was ook lekker dat Rudolf, oom Reinhard se seun wat ook 'n hart het vir hierdie mense, saam was by die begrafnis.

Toti en 'n ander Boesman bekeerling, Markus is later op 'n keer deur my pa saamgeneem na die verjaarsdag geleentheid van die Dorothea Sending noord van Pretoria om te gaan getuig van wat die Here vir hulle gedoen het. Maar ook hier in die omgewing is mense wat nog vertel hoe Toti hulle na die Here gebring het. Een van hulle is 'n tuinwerker van my vriend Andries Gous.  Andries, wat self nou 'n kosbare bediening onder die Boesmans op die Oerwoud nedersetting het, was ook by die begrafnis.

Vir ons haastige westerse mense was dit 'n lang (en luide!) begrafnis, maar die hoofsaak is die evangelie van hoop kon uitgedra word. Die dood is 'n vyand wat oorwin is deur ons Here Jesus. Ja, die dood is soos 'n aaklige skerpioen, maar sy angel is nou af! Daarom hoef ons nie te treur soos mense sonder hoop nie. Dit was vir my 'n reuse voorreg om aan so 'n groot klomp mense die kernwaarhede van die evangelie uit te spel soos ons dit saamgevat kry in 1 Korintiërs 15. "Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;
Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte."

Die groot skare mense wat geluister het, van wie baie deesdae aan elke denkbare vorm van dwaalleer blootgestel word, moet ons tog met groter erns laat bid dat die Here van die oes arbeiders in sy oesland sal stuur. Miskien is jy wat hier lees dalk deel van die antwoord van hierdie gebed...

Almal staan tou om eers die oorskot te besigtig.

Op sy laaste aardse reis.


Vrydag 01 April 2016

BROOD en brood

- God se gawes word uitgedeel op Tsintsabis!

Die NG Kerk Tsumeb het ‘n bedrywige Paasnaweek agter die rug. Behalwe ons gewone Vrydagoggend Nagmaal en Opstandingsdiens Sondag (hierdie preek is waargeneem deur ds. Janré van Jaarsveld van die Doppers) was ons die hele naweek betrokke by ‘n Paaskonferensie op Tsintsabis (so 60 km noord van Tsumeb) in samewerking met ds. Josef Gevers en sy span van Wildevy gemeente en Africa Outreach.

Franz Bense van Africa Outreach saam met sy vrou Brenda het ons kom besoek en met behulp van prente vir ons “VASTE FONDASIES - Skepping tot Christus” kom aanbied. Dis die hele Bybelse storielyn wat uitloop en fokus op die heerlike genoegsame werk van Jesus om ons redding te bewerk. Die vertrekpunt is die gedeelte in Lukas 24 waar die opgestane Jesus sy dissipels terugverwys na die Ou Testament toe Hy gesê het : "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is. Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan.” (Lukas 24:44,45) 

Ja, die evangelie begin alreeds in Genesis en word tot vervulling gebring deur Jesus se kruis en opstanding! Voor die naweek het Franz die program ook op drie weeksaande in ons gemeente self aangebied en dit het voorwaar weer iets van die wonder van die evangelie laat kliek...

Op Tsintsabis is ‘n tent opgeslaan reg teenaan die kerkgeboutjie. ‘n Bekende Duitse boer in die omgewing, Reinhard Friederich het die tent beskikbaar gestel. Die prente is dan buite teen die muur vasgesit in volgorde om die hele storielyn maklik volgbaar te maak. Mense van Oerwoud en Bravo is ook aangery om die geleentheid te kon bywoon. Franz as Nataller het sy vuurdoop met die Afrikaans goed geslaag – hy moes eenvoudig maar net. Vanuit die Afrikaans is daar na Damara/Nama (die taal wat die Hei//om gebruik) sowel as !Kung (vir die Boesmans vanuit die Kavango gebied) getolk. Die kinders is ook nie vergeet nie en is onder andere deur Trudie en Emka bedien. In die aand is daar groepies gemaak om die waarhede van die dag verder te bespreek.

Die fokus van die hele byeenkoms was natuurlik, Jesus self, die BROOD van die lewe, maar mense van vlees en bloed het ook gewone brood nodig. Dis waar Tsumeb se gemeentelede so wonderlik hulle gewig ingegooi het, deur reëlings tref, skenkings, verskaffing van vervoer en self kom krom staan by die swart potte. (Dankie aan Andries Gous wat voorgevat het, maar ook aan ieder en elk wat meer as julle deel gedoen het) Onder ‘n groot Maroelaboom is die kos gemaak en daar was genoeg vir almal, selfs ‘n honger hond of twee kon ook ietsie vir die maag opraap. Daar was sop, brötchens, aartappels, maalvleis en wat nog, maar die lekkerste was seker Saterdagaand se koedoe braaivleis!

Dit was vir ons almal wat betrokke was ‘n wonderlike ervaring om op ‘n praktiese manier goed te doen aan die geringstes van die geringes. Ons het egter nie net gegee nie, maar ook so baie ontvang. Ons harte is ook verbly deur die prysenswaardige samewerking van Wildevy se mense. Ons bede is dat die Woord vrug sal dra in baie harte. Daar is ook die realistiese hoop dat verdere geleenthede vir getuienis sal voortvloei uit dit wat die naweek gebeur het.





Frans gooi die Afrikaans! En dan weerklink die Woord verder in Damara/Nama en !Kung.



Onder die maroelaboom moes ons letterlik bontstaan, want, dis nou die tyd wat die maroelas begin val... amper soos 'n bombardement!









Ook klein Natanie het gehelp om aartappels in die pot te gooi!














Bravo se mense sing vir ons.

Woensdag 02 Maart 2016

LEWENDE WATER OP TSINTSABIS!

Ek het vandag (Woensdagmiddag) saam met die Tsintsabiswyk van Wildevy  vir die Here dankie gesê vir die groot present van water. 'n Boorgat is gesink, 'n sonpomp geïnstalleer, 'n stelasie opgerig en pype aangelê sodat daar nou water is by ons kerk. Natuurlik het die Here hierdie geskenk deur die bemiddeling en harde werk van mense aan ons gegee. Baie dankie aan ons gemeentelede Andries Gous, Roelf van Wyk en Piet Erasmus wat by die praktiese oprigting betrokke was en ook aan almal wat dit finansieel moontlik gemaak het. (Ongelukkig is Andries deur werksverpligtinge verhinder om vandag saam te gaan)

Dit was heerlik om die geleentheid van vandag te benut om die Woord uit Johannes 7:37 en 38 te bring : "Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees, het Jesus daar gestaan en uitgeroep: "As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!  Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei." Ons vier twee "waters" - die boorgat se water wat God ons gegee het, maar veral ook die lewende water wat Jesus vir sonde dors mense gee. Verniet!



Ons is baie dankbaar vir die water, want ons beplan 'n Paaskonferensie op Tsintsabis (25-28 Maart) saam met Africa Outreach. Bid asseblief vir die geleentheid en stel jouself ook beskikbaar om te help as die Here dit op jou hart lê!

Maandag 21 September 2015

DIS SO LEKKER OM TE GEE...

- dit was 'n vreugde vir die NGK Tsumeb se vroue om hulle susters in die geloof op Tsintsabis te bederf!

Hierdie groep vroue het handsakke gemaak en dit vol verrassings gestop. Saterdagmiddag 19 September is hulle toe met 'n bussie na die San vroue van Tsintsabis wat deel vorm van Wildevy gemeente om dit te gaan oorhandig. Trudie van Niekerk het die Woord uit die woordlose boekie gebring, daar is gesing, geëet en gedrink en sommer net die liefde van die Here gevier! Geloof in Jesus en liefde vir die heiliges, leer die Woord ons, is dinge wat saamgaan...





Lukas 6:38

"Gee, en vir julle sal gegee word: ‘n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word."

Vrydag 11 Oktober 2013

GETROU OP TSINTSABIS

- aansporing vir ons.

Dit was vir my ‘n baie aangename voorreg om saam met die kerkraadslede van die NG Gemeente Wildevy nou die dag op Tsintsabis rondom die Woord bymekaar te kom. Dit het ook vir my ‘n bykomende persoonlike dimensie aangesien daar van hulle is wat deur my oorlede vader se bediening jare gelede tot bekering gekom het en nou nog steeds op die pad volhard. 

Een van hulle is Toti Tsam ‘n (Hei-//om Boesman) wat meer as veertig jaar gelede tot bekering gekom het! Hy kon my vertel van die preek van Pa wat destyds sy hart geraak het. Dit het gegaan oor die vyeblaarkleed wat Adam en Eva aangehad het.

Kom ons dink in gebed aan die Wildevy gemeente. Hulle het so pas een van hulle eie mense, Josef Gevers as hulle leraar beroep, nadat hy teologiese opleiding onder leiding van ds. Hendrik van Zyl-hulle op Grootfontein voltooi het en onlangs gelegitimeer is.

Mag die getroue volharding van ons medegelowiges ons opnuut aanvuur om self te volhard en ook met verwagting die Woord aan alle nasies te verkondig, met die wete dat ons arbeid in die Here nie tevergeefs is nie!