BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Saggeus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Saggeus. Wys alle plasings

Sondag 01 Maart 2020

SOWAAR DEUR DIE OOG VAN DIE NAALD!

- DIE HEERLIKE GEVOLG VAN JESUS SE REDDINGSGENADE 

Ons ken almal die verhaal van Saggeus in LUKAS 19:1-10. Die verhaal van Saggeus, gaan in hoofsaak natuurlik nie oor Saggeus nie, maar oor Jesus. Jesus se reddingsgenade is verrassend en kragtig! Dis juis ook ’n doelgerigte soekende genade, gefokus op sondaars! Die ergste sondaars! Ja, daar is hoop vir ons...  Die hoofboodskap van hierdie gebeurtenis kry ons natuurlik in vers 10 as klimaksteks! “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is." 

VERRASSENDE GENADEKRAG! 

Jesus se genade is verrassend. Jesus verras vir Saggeus, maar hy verras ook die omstanders. 

Saggeus kruip weg in die wildevyeboom. Hy dink hy kan vanuit ‘n veilige afstand alles dophou. Hy dink hy kan anoniem bly. Maar dan verras Jesus hom. “Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: "Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan." (5) Hy roep hom by sy naam! (Luister mooi, Hy roep jou ook...) Die Seun van God doen persoonlik bemoeienis met ‘n onverdienstelike sondaar! Dink net hoe verbaas en verras Saggeus moes wees… Ja, Jesus konfronteer Saggeus. Maar dis ‘n liefdevolle konfrontasie. Dis ‘n genadige konfrontasie. Ds ‘n reddende konfrontasie. 

Wat in Saggeus se lewe gebeur is niks minder as ‘n wonderwerk nie! ‘n Gierige ryke wat vrywillig van die helfte van sy besittings afstand doen en belowe om sy verkeerde optrede teenoor ander mense reg te maak is nie sommer net ‘n klein veranderinkie nie. Dis gelykstaande aan ‘n drankverslaafde wat sy vol bottels in die toilet afspoel. Dis soortgelyk aan ‘n jongmens wat ‘n sondige seksuele verhouding verbreek al maak dit jou hart stukkend. Dis net Jesus wat hom so kon bevry van sy verknogtheid aan geld. Dis net Jesus wat hom so kon bevry van die heerskappy van sy beursie. Wie Jesus in sy huis (en hart) toelaat en ontvang sal noodwendig ‘n transformasie ondergaan. Die kettings waarmee die duiwel hom gebind het word verbreek.  Dis mos waarvoor Jesus gekom het - “En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak.” (1 Johannes 3:8b) 

SAGGEUS EN DIE RYK JONGMAN 

Hierdie wonderwerk in Saggeus se lewe word nog meer vol betekenis as mens dit vergelyk met die geskiedenis van die Ryk Jongman in die vorige hoofstuk. (18:18ev) Daar is opvallende ooreenkomste en verskille. Beide is ryk. Beide het ‘n soeke in hulle lewens ervaar. Beide het ‘n sterk begeerte na Jesus op een of ander manier. (Die Ryk Jongman kom val voor Jesus neer, Saggeus maak ‘n plan om Jesus te kan sien.) 

Ook tragiese verskille: Die Ryk Jongman het op die ou end teleurgesteld weggegaan. Saggeus word opgeneem in die familie van gelowiges. Die Ryk Jongman se besittings tel vir hom meer as die koninkryk van God. Saggeus se hart raak los van oorheersing deur besittings en so lewer hy bewys dat hy nou ‘n kind van Abraham geword het. In beginsel doen Saggeus dit waarvoor die Ryk Jongman nie kans gesien het nie. Die merkwaardigste is dat hierdie geskiedenis van Saggeus inderdaad bewys dat God die “onmoontlike” kan doen en ‘n ryk man kan red. 

Die Ryk Jongman moes teleurgesteld omdraai omdat hy nie gehoor wou gegee aan Jesus se opdrag van bekering van sy materialisme nie. Die gesprek gaan toe verder tussen Jesus en sy dissipels - “Toe Jesus sien dat hy teleurgesteld is, sê Hy: "Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom. Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom." Dié wat dit gehoor het, sê toe: "Maar wie kan dan gered word? Daarop antwoord Hy: "Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik." (18:24-27 ) 

Ontsagwekkend en asemrowend heerlik! Geen sondaar is buite bereik van God se genade nie! Daar is hoop vir daardie goddelose eggenoot, kind, kollega wat deur mense afgeskryf word... 



Inderdaad het die kameel toe deur die oog van die naald geglip! Die heerlike kragtige genade van God vir wie niks onmoontlik is nie, was in aksie...


BESWAAR TEEN GENADE 

In die proses verras Jesus ook al die omstanders. Hoe so? Wel, hulle het Saggeus almal baie goed geken. Hy was die berugte en gehate tollenaar wat hulle afgepers en besteel het. Die ongewilde en korrupte "ontvanger van inkomste!" Daarom maak hulle ten sterkste beswaar teen Jesus se toenadering! “Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: "Hy gaan by ‘n sondige man tuis!" (7) Jesus se radikale genade vir die slegste sondaars laat baie mense deur al die eeue en vandag nog ongemaklik en kwaad voel. Dink aan hoe kwaad en teleurgesteld Jona was toe die mense van Nineve hulle op grond van sy boodskap bekeer het en God hulle genadig was! (Jona wou nie genade sien vir hierdie vyande van sy volk nie - gelukkig is God se genade groter as die genade van sy boodskappers s'n!) Gaan jy opgewonde wees as Jesus vir Zuma of die Fishrot bende vergewe! Sal ons hulle in die kerk verwelkom? Gaan jy ook daardie plaaswerker of besigheidsman wat jou soveel skade aangedoen het as broer verwelkom as hy in Jesus glo? 

GEVOLGE VIR DIE HELE HUIS 

Die verrassende en kragtige genade van Jesus het heerlike gevolge. Saggeus word nou deel van God se volk. ‘n Ware kind van Abram. “Daarop sê Jesus: "Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham.” (9) Etnies was hy dit alreeds, maar nou word hy ook geestelik ‘n kind van Abram, want hy glo nou ook waarlik in Jesus. (Vgl. Gal 3:7 “Julle sien dus dat dié wat glo, kinders van Abraham is.”) 

Maar ons moet ook mooi kyk na wat Jesus hier sê. (9) “redding vir hierdie huis” Die reddende genade wat Saggeus ontvang het raak sy hele gesin, sy huishouding! Dit klink dalk vir ons as westerse individualiste vreemd, maar dis ‘n tema wat ons deurgaan in die Skrif kry. Noag (en sy hele familie word gered), Abram (God se beloftes vir hom en sy nageslag), Josua ("ek en my huis sal die Here dien"), Ragab (saam het haar hele familie opgeneem in die verbondsvolk)… En ons vind dit ook in die Nuwe Testament. Lidia, die tronkbewaarder van Filippi… Natuurlik gaan dit nie hier oor outomatiese redding van ‘n kind as een van die ouers gered word nie. Dit gaan daaroor dat die hele huisgesin ‘n werksveld van God se verbondsgenade word. Christen ouers se kinders word groot in die dampkring en onder die invloed van die Woord en die Woord is die instrument van die Heilige Gees. Vir God is huisgesinne belangrik. Hier sien ons dit duidelik. Saggeus se redding is groter as net ‘n persoonlike saak! 

As jy op Jesus se uitnodiging reageer, as jy jou huis en hart vir Hom oopmaak, as jy jou bekeer van jou afgode gaan dit heerlike gevolge vir jouself en jou nageslag hê! 
Kameel in die Swakoprivier.

*Hierdie en ander gedagtes met erkenning aan Nico van der Walt

Vrydag 19 Desember 2014

KERSFEES SAAM MET SAGGEUS

- nie bo in jou vyeboom nie, maar met ‘n nuwe hart.



Hoe moet ’n mens Kersfees vier? Mag ons dit hoegenaamd vier? (Ons weet mos van al die probleme rondom hierdie dag…. Kliek op KERSKOUS) Wel, ons het ’n pragtige voorbeeld van iemand wat “Kersfees” gevier het. Saggeus het "Kersfees" gevier op die regte manier. Ek bedoel hy het die werklike betekenis van die koms van Jesus verstaan en prakties beleef en dis tog juis waaroor Kersfees veronderstel is om te gaan. Anders gestel, Saggeus het die volle impak van die Kersboodskap ondervind!

In Saggeus se lewe het die boodskap van die engele sigbaar in vervulling gegaan. (Ons lees van Saggeus in Lukas 19:1-10) Die Goeie Nuus soos aangekondig deur die engele in Lukas 2, die Kersfees evangelie het grondgevat en ’n verskil gemaak in hierdie skelm man se lewe. Hy het dus werklik Kersfees gevier. 

Drie belangrike elemente van die engelboodskap aan die herders tydens Jesus se geboorte het proefondervindelik deel van sy lewe geword! Koms ons verfris weer ons geheue: “Toe sê die engel vir hulle: "Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! (Lukas 2:10,11) 

Die volgende elemente word treffend waar deur Saggeus ervaar:

~“groot blydskap” - Ons lees van Saggeus se reaksie nadat Jesus hom geroep het – “Hy maak toe gou en klim af en het Hom met blydskap ontvang.” (Lukas19:6) Saggeus die sondaar, het Jesus met blydskap ontvang. ’n Ware ontmoeting met Jesus bring blydskap. Hoekom? Jesus skenk vergifnis en vryspraak wat die vrede tussen God en die sondaar herstel. Kan daar iets meer vreugdevols wees? (vergelyk Romeine 5:1-5) 

~ “hele volk,” Ja, die boodskap van Jesus se koms was bedoel vir die hele volk. Ook die heel slegtes soos Saggeus! Sy gierigheid en korrupsie was ‘n openlike geheim. “En toe almal dit sien, het hulle gemurmureer en gesê: Hy het by 'n sondige man tuisgegaan.” (Lukas 19:7) Saggeus was ’n sondige man in die volle sin van die woord. Dis nou juis so merkwaardig en baie insiggewend - Jesus gaan tuis nie by een van die godsdienstige leiers nie, maar by die slegste man in die dorp! (Stel jou voor in vandag se tyd...Jesus besoek jou dorp of stad en slaan al die belangrikes en vernames oor en verkies om te gaan oorbly by die persoon met die slegste naam en reputasie vir korrupsie...) Die evangelie is genoegsaam en kragtig genoeg vir die heel slegste mens op aarde. Dis bedoel vir die hele volk. Niemand sal dus die Ewige Lewe misloop a.g.v. te groot of te veel sonde nie! Nee, mense gaan die hemel mis omdat hulle nie na Jesus wou kom nie. (Nie uit hulle “boom” wil klim nie)

~ “Verlosser” Die ontmoeting met Saggeus illustreer baie duidelik dat Jesus ’n Verlosser en Bevryder van sondaars is. Jesus het een groot doel – om verlore sondaars te red van sonde, Satan en hel!

(so dit wat deur Lukas in die begin van die evangelie beskryf word nou hier ’n praktiese werklikheid)

JESUS, DIE VERLOSSER!

Jesus self maak die verskil in Saggeus se lewe! Jesus self gryp in. Saggeus kan “Kersfees” vier, want hy het Jesus ontmoet. Ek het dit net weer baie sterk besef - Christenskap is nie vashou aan ’n sisteem nie, nie nakoming van rituele nie, maar ’n lewende en blywende ontmoeting met ’n Persoon, Jesus Christus!

Hoe het dit gebeur dat Saggeus Jesus ontmoet het en ’n ware Kersfees beleef het?

~ Jesus neem die inisiatief en roep hom. Saggeus sit anoniem in ’n boom, bekyk alles vanaf ’n afstand, maar Jesus gaan staan en roep hom by die naam. Hy roep vandag nog mense deur die verkondiging van die evangelie. Dis eintlik die hooffokus en tema van die hierdie verhaal. “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” (10!) Jesus self is die een wat soek en red. Hy soek verlorenes. Jesus self maak die verskil - ons redding lê nie in ’n klomp dinge wat ons weet of doen nie, maar in ’n Persoon!

~ Saggeus neem ’n definitiewe besluit en ontvang vir Jesus. (6) Ons kan nie wegkom van hierdie waarheid nie - die evangelie eis ’n besliste keuse. Ons moet Jesus bewustelik aanneem. (Johannes 1:12) Het jy al met jou hart en mond die keuse gemaak? Dis innerlik en uiterlik. “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” (Romeine 10:9,10)

~ Saggeus se ontmoeting bring hom tot ’n nuwe insig oor sonde en ’n nuwe lewensuitkyk. “Maar Saggéüs het gaan staan en aan die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” (8) Die najaging van goed was sy groot passie en hy was bereid om op ander mense te trap om dit te bereik. Nou het hy ’n hele nuwe houding teenoor geld. Hy gaan ‘n klomp weg gee.  As mens Jesus ontdek kry jy ook ’n ander siening oor sonde. Jy is bereid om reg te maak waar jy verkeerd gedoen het. Het jy al Jesus ontmoet? Toets jouself - jy sal nie meer in gemak met sonde kan voortleef nie!

~ Saggeus hoor die versekering dat hy nou ook gered is. “Toe sê Jesus aan hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook 'n seun van Abraham is.” (9) Hy is nou eers werklik ’n kind van Abram – hy was fisies uit Abram se nageslag - hy was in die verbond, maar nou eers word sy redding ’n persoonlike werklikheid...

Weereens - Hoe moet mens Kersfees vier? (Die detail sal verskil van kultuur en gewoontes en omstandighede.) Dis eintlik nie so ‘n belangrike vraag nie, belangriker is WIE kan? As jy Jesus se roepstem gehoor het, as jy daarop “Ja” gesê het, as Hy jou verander en gered het, dan verstaan jy waaroor Kersfees gaan. Dan gee die feit dat Jesus gekom het om verlorenes te soek en te red vir jou rede om elke dag fees te vier. Kersfees, as fees vir ‘n Lewende Verlosser is eintlik ‘n lewenslange fees van dankbaarheid en blydskap vir sondaars wat vergifnis ontvang het soos Saggeus. (of 25 Desember vir jou spesiaal is al dan nie)


Jesus se koms het hoop gebring vir die mees hopelose sondewrak...

[Hiermee roep ek wat Woord-Skatte betref nou eers halt vir 2014. Mag die Here jou in hierdie feestyd verkwik... As dit Sy wil is praat ons weer volgende jaar.]