BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Vrymesselaars. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vrymesselaars. Wys alle plasings

Dinsdag 14 Mei 2013

CALVYN VOL VREUGDE

- wat is die feite?

Onlangs moes ek die volgende hooghartige beskuldiging teen Calvyn hoor : “Hierdie knaap het nie veel joy in sy lewe gehad nie.” Die “kenner” wat hierdie uitspraak oor Calvyn maak is ene Eben Swart. Al Eben se ander uitsprake eers daargelaat; is dit regtig so dat Calvyn ‘n vreugdelose mens was? 

‘n Bekende aanhaling uit Calvyn se werk klink so : “There is not one blade of grass, there is no colour in this world that is not intended to make us rejoice.” Vreemd vir iemand wat nie vreugde sou geken het nie? 

Calvyn was ‘n nugtere gebalanseerde teoloog. Al het hy homself verlustig in die heerlike wese van God, het hy nie met sy kop net in die hemel geleef nie, maar praat ook oor ons houding teenoor die huidige lewe op aarde in Hoofstuk 10 van sy Institusie (boek 3) en wys daarop dat God se gawes tot ons voordeel geskep is. Hierdie voordeel gaan nie net daaroor dat God in ons noodsaaklike basiese behoeftes wil voorsien nie, maar ons ook met sy goeie gawes wil blymaak. Calvyn skryf byvoorbeeld oor iets baie aards soos kos : “As ons dan nadink oor wat sy doel was toe Hy voedsel geskep het, sal ons vind dat Hy nie alleen ons behoefte nie, maar ook ons genot en vrolikheid in ag geneem het.” Die implikasie is, ons mag lekker kos geniet, ons mag daaroor bly wees! 

Dis natuurlik maklik om vol blydskap te wees as alles goed gaan. Die kwaliteit van ware vreugde word juis getoets as dinge sleg gaan. Calvyn is aan die einde van sy lewe deur ‘n verskeidenheid siektes geteister onder andere ‘n maagsweer en ‘n niersteen. Hy is op 27 Mei 1564 oorlede. 

Theodore Beza beskryf ‘n insident op 10 Maart toe hy ‘n besoek aan die siek Calvyn gebring het. “Ons het hom daar aangetref terwyl hy geklee by sy tafeltjie sit waar hy gewoonlik geskryf en nagedink het. Toe hy ons sien, het hy sy kop op sy een hand laat sak soos hy gewoonlik gedoen het wanneer hy iets oorpeins, en ‘n tyd lank stilgebly. Uiteindellik het hy met ‘n gebroke stem en met ‘n lieflike gelaat wat van vreugde straal, gesê: My geliefde broeders ek is julle baie dankbaar vir julle bekommernis oor my...” 

Op die 2 de April is ‘n baie siek Calvyn op ‘n stoeltjie in die kerk ingebring. Hy het vir die hele preek gebly en ook nagmaal gebruik wat hy uit Beza se hand ontvang het. Beza lewer die volgende kommentaar : “En hoewel dit met ‘n bewende stem was, het hy die lofsang saam met die ander met so ‘n gesigsuitdrukking gesing dat die tekens van blydskap duidelik op sy sterwende gelaat geskitter het.” 

Calvyn was beslis vreugdevol, hoe dan anders? Hy het immers proefondervindelik die genade van ‘n soewereine God beleef! Ware vreugde was vir Calvyn iets anders as bloot die plesiere van hierdie wêreld, maar ‘n vaste blydskap gebou op God. Daarom kan slegs gelowiges wat vergenoegdheid beleef in God se genade, waarlik en volmaak gelukkig wees! 

Calvyn verduidelik dit in sy kommentaar op Psalm 16:11 wat in die OAV so lees : “U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig.” Die KJV praat van “fulness of joy” 

"When God is reconciled to us, we have all things which are necessary to perfect happiness. The phrase, the countenance of God, may be understood either of our being beheld by him, or of our beholding him; but I consider both these ideas as included, for his fatherly favor, which he displays in looking upon us with a serene countenance, precedes this joy, and is the first cause of it, and yet this does not cheer us until, on our part, we behold it shining upon us. 

By this clause David also intended distinctly to express to whom those pleasures belong, of which God has in his hand a full and an overflowing abundance. As there are with God pleasures sufficient to replenish and satisfy the whole world, whence comes it to pass that a dismal and deadly darkness envelopes the greater part of mankind, but because God does not look upon all men equally with his friendly and fatherly countenance, nor opens the eyes of all men to seek the matter of their joy in him, and no where else? 

Fulness of joy is contrasted with the evanescent allurements and pleasures of this transitory world, which, after having diverted their miserable votaries for a time, leave them at length unsatisfied, famished, and disappointed. They may intoxicate and glut themselves with pleasures to the greatest excess, but, instead of being satisfied, they rather become wearied of them through loathing; and, besides, the pleasures of this world vanish away like dreams. David, therefore, testifies that true and solid joy in which the minds of men may rest will never be found any where else but in God; and that, therefore, none but the faithful, who are contented with his grace alone, can be truly and perfectly happy. (Commentaries) "

Ek wonder, kan Calvyn se kritici getuig van hierdie versadiging van vreugde?...en ja, moet mens nie maar eers deeglik navorsing doen voor mens met wilde uitsprake kom nie? 

* Eben is blykbaar is op ‘n kruistog om alle kerke, leraars en selfs die reformatore verdag te maak deur hulle aan Vrymesselary te koppel. Nou verstaan my goed, ek was en is nog altyd openlik uitgesproke teen alle geheime organisasies en ook Vrymesselary (die kernboosheid van Vrymesselary is dat dit die uniekheid van Jesus as enigste Weg na God ontken – iets waaraan baie hedendaagse teoloë ook skuldig is), maar Eben haak bietjie uit met sy bewerings en assosiasies, soveel so dat dit klink asof hyself die enigste nie-vrymesselaar op aarde is. ‘n Mens kan vanselfsprekend nie juis veel historiese insig en teologiese beheersdheid verwag van iemand, wat Calvyn, “ ‘n knaap” noem nie. Eben is soos iemand wat nie kan krieket speel nie en net wild met ‘n kolf swaai en tog wel hier en daar ‘n bal raakslaan en selfs vir ‘n ses moker. (want hy sê waar dinge ook!)

Een van Eben se aanvegbare bewerings is dat Suid-Afrika slegs plaaslike herlewings beleef het (weens die invloed van vrymesselary in ons geskiedenis), anders as ander lande. Wel, Suid-Afrika het inderdaad al ‘n groot herlewing beleef. Wat van die 1858-1862 herlewing? En dit was juis ondere andere in die Kaap in gemeentes waar Ds Andrew Murray en GWA van der Lingen gearbei het, wat deur Eben beskuldig word dat hulle Vrymesselaars was. Selfs ook die Zoeloe en Xhosa bevolkingsgroepe het herlewing beleef. Vrymesselaarsinvloed in Suid-Afrika is ‘n feit, maar dis nie meer as in ander lande soos byvoorbeeld die VSA nie, soos duidelik blyk uit die volgende inligting uit National Geographic: “Prominent Freemasons like Ben Franklin and George Washington played essential roles in the American Revolution. And among the ranks of Freemasons are 9 signers of the Declaration of Independence and 13 signers of the Constitution.” 

Dinsdag 27 Desember 2011

EINDE VAN DIE WÊRELD IN 2012? Deel 1

Volgens sommige mense se interpretasie van die sogenaamde Maja kalender sal die wêreld tot ’n einde kom in 2012 of daar sal ’n "nuwe bewussyn" tot stand kom. Hoe moet ’n Christen oor sulke beweringe voel?

In ons tyd van feitlik onbeperkte kommunikasie versprei idees, gerugte en teorieë natuurlik vinniger as ’n veldbrand in die droë winterveld. Daar is ’n duisternis van samesweringsteorieë (beter bekend as "conspiracy theories"), bangmaakstories, kwaksalwer profesieë en sommer net dwase gekkernye! Daar is ’n verbysterende lys van hierdie goggas : die teorieë rondom die Illuminati en die Vrymesselaars (ja, hulle bestaan en hulle is boos, maar God Openbaring leer ons God is op die troon, nie hulle nie) , die valse profesieë vanaf die verre Nostradamus tot by ons eie Siener van Rensburg en dan natuurlik die hordes van mislukte wederkomsvoorspellings, waarvan David Camping s’n nog vars in die geheue is! Bangmaakstories van alle soorte (onthou jy nog Y2K van die veel verwagte jaar 2000?) en allerhande geheimsinnighede soos die Rooi Slang familie wat agter die skerms sou werk tot die bisarre reptiele van David Icke se akkedisverbeelding!

’n Mens kan die onkundige wêreldlinge dit nog vergewe dat hulle hulle aan sulke wolhaarstories steur, maar as Christene kosbare tyd en kragte bestee om hierdie skimsels na te vors, dan flikker die gevaarligte. Het God se kinders dan vergeet dat al die skatte van wysheid en kennis in Jesus self te vinde is? (Kolossense 2:3) Al hierdie slim stories is maar net ’n manier hoe die Satan ons wil mislei sodat ons ons oë moet wegneem van ons Oorwinnaar Verlosser, Jesus Christus! Wees daarop bedag!

Vriend, ken jy werklik vir Jesus Christus? En as jy Hom ken is dit jou groot ideaal en ambisie om Hom beter te ken? Kan jy saam met Paulus sê:

 “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood....”       
 (Filippense 2:10,11)

Om Jesus Christus te ken is oneindig belangriker, oneindig meer vervullend en oneindig heerliker as al die  insigte oor teorieë en bangmaakstories van die wêreld, waaroor die kastige Christen navorsers ons so graag inlig!

Bewonder en bestudeer Jesus Christus, Hy alleen is dit waardig!