BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Sin van ons bestaan. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Sin van ons bestaan. Wys alle plasings

Donderdag 14 Junie 2018

“GESEËNDE” DWAAS


- vol skure en reuse bankbalans, maar vir ewig bankrot! 



“Kyk net hoe geseënd is hy, hy het al weer sy besigheid uitgebrei, al weer ‘n nuwe motor gekoop, nog ‘n luukse eiendom by Langstrand, Kampsbaai of Clifton... Die Here is baie goed vir hom...” Dis hoe mense praat en dink. Die harde realiteit is dat hierdie sogenaamde geseëndes egter dikwels op pad is na die verderf. Hierdie “seëninge” is baie keer net ‘n mooi woord vir hebsug en gierigheid. 

Hebsug is die hoofpad na die hel! 

Gierigheid is die groot gevaar wat lei na die ewige vuur! Dis juis so gevaarlik omdat ons dit nie as ‘n sogenaamde groot sonde soos egbreuk of moord sien nie. Tog is dit een van die sake waaroor Jesus die meeste teen gewaarsku het. Waarom is gierigheid of hebsug so subtiel gevaarlik en vernietigend? Ons kry hier in LUKAS 12:13-21 (die gelykenis van die ryk dwaas) ‘n paar belangrike insigte oor die gruwel van gierigheid en hebsug. 

DIE VROOM GESIG VAN HEBSUG. 

“En een van die skare sê vir Hom: Meester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.” (13) Ai, tog hoe respekvol, vroom en eerbiedig klink dit! Hierdie man vra raad by Jesus. Maar luister mooi, hy roep Jesus se hulp in ter wille van sy hebsug. Nie om van sy hebsug bevry te word nie, maar om dit te bevorder. Dis tipies van baie godsdienstige mense. Hulle misbruik Jesus om hulle eie belange te bevorder. Die Here moet my nou help, want ek het nog nie genoeg nie... Natuurlik het Jesus Hom nie laat vang nie en gebruik hierdie versoek nou as aanknopingspunt om te wys op die gevaar van gierigheid/hebsug. 

DIE MISVERSTAND VAN HEBSUG. 

Die saak waaroor Jesus nou wil praat raak almal, nie net die vraagsteller nie. Hy rig Hom tot die skare met hierdie diepsinnige waarheidstelling: "Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie." (15) Jesus waarsku teen hebsug/gierigheid/liefde vir geld. Die lewe vind sy sin en betekenis nie in die omvang van mens se besittings nie! Sukses is nie gelyk aan besit nie! (al dink die meeste mense so) Die volheid van die lewe kan nie gemeet word in terme van aardse bates nie. Dis die groot misverstand van hebsug. Kom ons kyk bietjie na die konteks van Jesus se woorde. Die werk van Jesus in Palestina op daardie stadium was juis gerig op die lewe. Hy het baie wonders gedoen en verleng mense se lewe deur die genesing van siekes ens. Maar dit beteken nie dat lewe as sodanig alles is nie. Dit kom daarop neer dat mense nie moet dink as hulle nou gesondheid ontvang het dat hulle nou alles het nie. “Ek is nou weer pure perd, nou kan ek gaan geld maak!” “Nee”, wil Jesus sê, “julle lewe word verleng dat julle by God kan uitkom en Hom kan ken.” 

Die sin en inhoud van lewe, lê nie in gesondheid en besit nie, nie in materieel meetbare suksesse nie, maar in ons deelwees van God se Koninkryk. 

Dis die groot punt wat Jesus in die gelykenis maak. Dis baie duidelik dat die ryk man nêrens in die verhaal berispe word oor sy rykdom as sodanig nie. Daar is ook geen sprake van oneerlikheid nie. Hy was nie skelm nie, hy was hardwerkend, maar hy het die doel van die lewe gemis! Hy het God gemis! 

DIE VERSKONINGS VIR HEBSUG. 

Hierdie man was volgens alle sigbare aanduidings ‘n geseënde van die Here. Dit lyk asof alles in sy guns was... Goeie grond en sekerlik goeie reën! Hy sou eerlik kon sê: “Die Here seën my so wonderlik! Kyk die goeie talente wat Hy my gegee het om so suksesvol te boer, dis die Here wat my seën met grond, reën en goeie oeste . Ek kan net nie anders nie, ek moet net groter gaan en uitbrei, uitbrei...” Ons steek hebsug weg onder baie vroom praatjies – “Ag, dis die Here wat so goed is vir my, ek moet mos vir my vrou en kinders sorg.” Ja, dis so, maar dis baie keer net ‘n verskoning om meer en meer in te palm. Sorg jy ook geestelik vir jou vrou en kinders? Sorg jy nou so “goed” vir jou vrou en kinders dat hulle en jy nie meer tyd het om by die kerk, huisgodsdiens en gebed uit te kom nie? 

DIE BANKROTSKAP EN ELLENDE VAN HEBSUG. 

Hebsug laat jou eindig met niks. Dis die bitter skokkende ironie. Baie mense wat als het, het eintlik niks. Hulle is so arm hulle het net geld! Hierdie man het baie skatte gehad, maar hy gaan die ewigheid tegemoet sonder enige bates, sonder enige hoop! Hy het groot skure op aarde ja, maar het hy ‘n hemelse tuiste? Baie het hom dalk sy rykdom beny, maar eintlik moes hulle hom bejammer het! Hebsug is die verkeerde en gevaarlike opsie in die lig van die eindtyd. Jakobus spel die gevaar konkreet uit : “En nou, julle rykaards, kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom. Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word, julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos ‘n vuur. Julle maak skatte bymekaar, en dit terwyl dit die laaste dae is.” (Jakobus 5:1-3) Dis nie woorde wat ons graag wil hoor nie, maar God het besluit dat ons dit moet hoor en gewaarsku moet wees... 

GOD SE BEOORDELING VAN HEBSUG. 

Hierdie man voel baie tevrede met homself. Sy aftreeplanne is in plek. Hy kan gaan op vervroegde pensioen. Hy hoef nie meer te werk nie; hy kan nou sonder sorge gholf speel en na Thailand toer! Maar wat is God se opinie? “Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’” (19,20) Skokkend! God self noem hierdie slim, vlytige, flukse en vooruitstrewende entrepreneur, ‘n dwaas! God kyk so anders as ons. God se beoordeling van ‘n suksesvolle gierigaard verskil hemelsbreed van mense se siening. Die wêreld en sy vriende sê : “Kyk wat ‘n sukses!” Die prosperity gospel aanhangers mymer baie vroom : “Kyk hoe geseënd!” God sê: “Kyk wat ‘n dwase mislukking!” Mense het hom dalk geprys, maar God beskou hom as ‘n swaap! Daar was dalk pragtige huldeblyke by sy begrafnis, maar God se opinie is dat hy ‘n pateet was. Wat gaan God oor ons lewe sê, as jy of ek vannag sou sterf? Hebsug het van hierdie man ‘n dwaas gemaak. Hebsug is ‘n skrikwekkende sonde, dit laat ons ons ware doel op aarde mis. En vir ewig...

DIE LEWE!

En wat is dan die ware sin van ons bestaan en ons eintlike doel? Wat is LEWE? Om na te jaag om God te ken! Om Hom te eer en Hom te geniet vir altyd! As my hoof ambisie en lewensdoel word om geld en besittings bymekaar te maak dan verloor ek visie op my eintlike doel om God te leer ken. Ook op ‘n praktiese vlak verhinder hebsug kennis van God. Ons bestee soveel tyd om ons onversadigbare dors na besittings te bevredig, dat ons nie tyd het om God se aangesig te soek nie. Hebsug maak ook dat ons nie lus het vir God nie. Al die mooi en blink dinge, bring ‘n skyn versadiging, dis eintlik net ‘n aptyt bederwer vir die ware voedsel, en dis om God te ken en sy wil te doen. 

Hierdie gelykenis stel ons voor ‘n vraag. Die eintlike vraag is nie vandag hoeveel geld jy het nie, die vraag is : Is jy ryk by God? Ken jy Hom? Is jy geseënd met die ewige lewe? Is dit dalk juis hebsug en gierigheid wat keer dat jy Hom ken? Gelukkig is daar ook vergifnis vir hebsug! Wees ryk by God, leef vir Hom deur Jesus te volg!




Maandag 20 Junie 2016

DIS NOU DIE LEWE!

Die kind van God is in ‘n wen-wen situasie.

“Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.”

Hierdie is ‘n radikale uitspraak in Filippense 1:21 wat die kern en hart van egte Christenskap vir ons ontsluit en verduidelik. Dis ook seker die duidelikste toets van waar elkeen van ons regtig staan met betrekking tot die Verlosser Jesus Christus. (Dit wys my sommer wat gaan regtig in my hart aan?) Natuurlik val hierdie uitspraak van Paulus nie uit die lug nie. Paulus sit in die tronk en hy is nie seker dat hy lewend gaan uitkom nie. Juis daarom is dit so merkwaardig dat hierdie hele brief aan die Filippense oorheersend die tema van blydskap onderstreep. Paulus sê in effek dit maak nie regtig saak wat met hom gebeur nie, as hy bly lewe is dit goed, want dan kan hy nog vrugbare arbeid verrig, maar as hy sterwe is dit eintlik vir hom die beste, want dan is hy by Jesus. Hy bevind homself eintlik in ‘n wen-wen situasie, maak nie saak wat gebeur nie, lewe of dood, hy wen, want alles draai vir hom om Jesus Christus. 

Hoe raak dit my en jou as Paulus sê : “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Beslis, gaan dit nie net oor Paulus nie, dit gaan oor elkeen van ons. “Ja, maar ek is nie Paulus nie hoor, Paulus was darem ‘n apostel.”, hoor ek. Vriend, ons glo nie in die Roomse onderskeiding van geestelikes en leke nie, ons glo nie in super Christene en gewones nie. Daar is net twee soorte mense : Christene en nie-Christene. (Daar is wel in die liggaam van Christus ‘n verskeidenheid gawes en ampte.) Paulus se woorde behoort dus die eerlike belydenisverklaring van elke kind van God te wees.

In die woorde van Paulus vind ons juis die duidelikste onderskeiding tussen die Christen en die wêreldling – net die wedergeborene kan sê dat die lewe vir hom/haar Christus is! Ander (minder of meer godsdienstige) mense kan wel sê dat hulle soms tot Jesus bid, dat hulle van Jesus hou of van die kerk hou of graag soos Jesus wil lewe, maar hulle kan nie eerlik verklaar vir my IS die lewe Christus nie!

VERSKEIE SIENINGS OOR DIE LEWE

“Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” Waarom draai die lewe vir jou? Wat IS lewe vir jou? Nou baie mense dink natuurlik nooit oor hierdie saak nie, hulle bestaan maar net van dag tot dag soos ‘n hond bestaan, eet sy kos, blaf as hy moet, kry kleintjies... en op ‘n dag is hy nie meer daar nie. 

Maar jy wat dink jy oor die lewe, waaroor gaan dit vir jou? 

Daar is natuurlik verskeie sienings : 

Hedonisme. Dit beteken prakties, ek melk die lewe vir elke krieseltjie plesier. Net een ding tel - hoeveel lekker dinge kan ek doen of ervaar. My maatstaf vir als is of dit my pret en plesier kan verskaf.

Vasbyter, sterkman siening. (stoïsyns) Ek moet die lewe maar vat soos hy kom, die lewe is iets om te verduur. Dis die “Cowboys don’t cry, ek sal nie huil nie korporaal” houding. Als draai om my eie oorlewing en belang. Ek het niks of niemand nodig nie.

Humanistiese beskouing. Ek moet net soveel as moontlik probeer goed doen aan ander mense. Wees net ‘n goeie mens, doen maar net altyd die regte ding. Daar is nie ‘n hemel of hel nie, dis als hier op aarde. Doen maar goed solank jy kan, want eendag is jy nie meer daar nie. 

Mistisisme. ‘n Passiewe houding van dood wees vir die wêreld se pyne en vreugdes, ‘n ontsnapping in ‘n mistieke sfeer. Vir sommige beteken dit ‘n kontak maak met jou dieper self.

Die gemiddelde, algemene materialistiese siening. Ag, ek dink nie veel oor die lewe nie, maar ek lewe maar vir my vrou en kinders, vir my werk en al die aktiwiteite waarmee ek besig is. Vir baie is dit hulle aftreeplanne! Toets jouself : Die dinge wat maar gedurig in my agterkop draai, dis maar die dinge waaruit my lewe bestaan en waarvoor ek regtig leef... My lewe bestaan uit en vir mense en dinge wat ek kan sien en tel. As hierdie dinge van my weggevat word is daar niks om voor te lewe en niks om na uit te sien nie. 

Soms kom die Here in sy groot genade en vat van hierdie “kosbare dinge” weg sodat ons die leegheid van ons lewe kan besef en Hom as sin en vreugde van die lewe kan soek!

Godsdienstige siening. (Dit lyk baie soos Christenskap, maar dit is nie.) Ek lewe vir my Christelike aktiwiteite en projekte wat ek aanpak. Die dinge wat ek DOEN vir die kerk gee sin aan my bestaan. Dit laat my nuttig voel. Ek geniet dit om besig te wees met “die dinge van die Here” Dis nie wat Paulus hier bedoel nie. As hy sy sin gevind het in sy avontuurlike sendingreise sou hy op hierdie stadium in depressie verval het, want hy kon nie nou reis nie, hy is gevange tussen die mure van die tronk. Vir Paulus het die lewe oor iets (Iemand) meer gegaan as sendingwerk, dit het gegaan oor Jesus self!

Wat bedoel Paulus met lewe en dat die lewe vir hom Christus is? Lewe is dit wat die belangrikste is vir my, dit wat sin en doel gee aan my bestaan as mens. Dis wat my laat “tiek”! Anders gestel dit is dit waarsonder die lewe geen betekenis sou hê nie. Dis dit wat my lewe oorheers, dit waarom my lewe draai. My GROOT LIEFDE! Sien Paulus daar sit in die tronk en dink... “Terwyl ek hier sit, vasgekeer, waaroor gaan my lewe, waarin kan ek vreugde vind, wat maak als sinvol? Ja, Jesus Christus maak die verskil, solank ek Hom kan liefhê, kan ek bly wees, ook terwyl ek agter tralies is. Die tronkkos en harde slaapplek kan niks aan sy liefde vir my verander nie. En as ek hier uitkom, het ek ook geen ander begeerte as om Christus beter te leer ken nie. Die kwaliteit van my lewe hang nie af van my omstandighede of my geleenthede om iets te doen nie, Jesus self gee kwaliteit aan my lewe en Hy verander nie. My blydskap is nie gebou op omstandighede nie, my blydskap is gebou op Jesus wat my so liefgehad het en sy lewe vir my gegee het. (Vgl. Gal 2:20ev) Die waarde van my lewe is nie afhanklik van wat ek besit of wat ek bereik nie, maar van Jesus en wie Hy is en wat Hy vir my reeds gedoen het.” Paulus se lewensideaal is Christus Jesus self. Hy vat dit pragtig saam in 3:10 as sy groot wens : “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,”

Hoe het dit gebeur dat Jesus self Paulus se kosbaarste bate en die sin van sy bestaan geword het? Paulus het eers op ander bates staatgemaak en ander ideale gehad. Hy het op ander dinge en prestasies geleun om God te probeer beïndruk... Dit was inherent goeie dinge soos sy Joodse afkoms, sy suiwer ywerige godsdiens, sy hoë morele waardes.... Maar toe word hy op pad na Damaskus gegryp deur Jesus en hy besef al hierdie dinge is waardeloos om hom van sy sonde vry te spreek. Hy beskryf dit treffend in Fil. 3:3-9 soos volg : 

“As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: ek is op die agste dag besny, van geboorte ‘n Israeliet, uit die stam Benjamin, ‘n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ‘n Fariseër, in my ywer ‘n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik. Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo."

JESUS SE WAARDE IS ALLESOORTREFFEND!

Paulus moes tot die besef kom dat geen menslike bates hom kan red en voor God regverdig stel nie, net Jesus. So het Paulus die allesoortreffende waarde van Jesus besef en daarom het hy tot ‘n heel nuwe waardasie van die sin van die lewe gekom.

Jesus is my lewe sê Paulus. In Hom is daar vryspraak, vreugde, vrede. Hyself is genoegsaam vir al my behoeftes. Hy skenk my ‘n diepe tevredenheid in alle omstandighede.* As dit goed gaan en ek het oorvloed, as dit sleg gaan en ek gebrek ly. As vry is en kan rondbeweeg en ook as ek in die tronk sit agter tralies. Hy gee my krag om goed en sleg te hanteer. (Fil 4:13) Jesus is my doelwit, my skat, my onuitputlike bron, my alles! En ja, selfs as ek moet sterwe, ook dan kan ek nie skade ly of verloor nie, dan wen ek ook, dan is dit wins, want dan is ek by HOM! 

*Doen jouself ‘n guns en lees weer ten minste die hele Filippense hoofstuk 4.


Christuskirche - Windhoek

Sondag 01 Mei 2016

TE VEEL EET...

EN BAIE ANDER DINGE... - ALLES MAAK SAAK!

Ons het verlede Sondag gekyk na die heerlikheid van die HIERNAMAALS, maar nou weet ons tog, kinders van God gaan mos nie dadelik hemel toe die dag as hulle tot bekering kom nie. Nee, ons is wel besonder begenadigde mense, vergewe, vrygespreek deur God van alle skuld, maar ons is ook doodgewone mense, wat nog steeds op hierdie aarde woon. Nou kan ons vra, wat is die sin en betekenis van ons lewe hier op aarde?


Die antwoord is duidelik : Ons is geroep om in hierdie wêreld nou tot eer van God te leef. Dis ‘n praktiese saak. Dit kom daarop neer dat ons elke dag keuses moet maak : gaan ek dit of dat doen, moet ek so maak of nie so maak nie? 

DEUR MY KEUSES
BRING EK EER OF ONEER AAN GOD!

Die Christene in Korinte het natuurlik ook voor hierdie keuses te staan gekom. (Sien 1 Korintiërs 10:23-33) Korinte was ‘n heidense hawestad met baie versoekings, prostitute, afgode... Hoe sou die gelowiges al hierdie dinge hanteer?  Daar was ‘n groep onder die Christene wat geredeneer het : “Alles is geoorloof! Everything goes!  Als is maar reg (dit klink bekend nê?), ek is mos nou God se kind en ek is vry om te doen wat ek wil!"

Die spesifieke saak waaroor dit hier vir hulle gegaan het, was die kwessie of Christene van die afgodsoffers mog eet. Dis vleis wat vooraf aan die afgode toegewy is. Natuurlik het die Christene nou nie meer in die afgode geglo nie, maar wat nou van vleis wat eers aan die gode geoffer is? Kan dit my nou skade aandoen? Paulus gee raad en sê : As jy nie weet dis ‘n afgodsoffer nie, kan jy maar met vrymoedigheid enige vleis eet sonder om daaroor uit te vra. Eet maar daai skaaptjoppies! Dit kan jou opsigself geen skade aandoen nie. Die aarde en als daarop behoort aan die Here... Maar as iemand vir jou duidelik sê dis ‘n afgodsoffer, moet dit liewers nie eet nie. Hoekom nie? Dis nie dat dit jou kan skade aandoen nie, nee, maar moenie dit eet nie, ter wille van die een wat dit gesê het. Jy kan hom geestelik skade aandoen, want hy glo miskien nog in die afgode en dan maak jou optrede hom deurmekaar... 

Die beginsel is : As jy ‘n keuse moet maak oor reg of verkeerd, neem ook ander mense in ag, wat dalk ‘n swakker Christene is. Jy kan dalk niks oorkom nie, dis nie vir jou ‘n versoeking nie, maar moenie net aan jouself en jou belange dink nie. Paulus herhaal hierdie beginsel weer in vers 33 : “Maak soos ek, ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word.”

Dink na oor die geestelike effek van jou keuses op ander mense. Bevorder dit hulle redding of heiligmaking? (hierdie beginsel is so belangrik waar dit kom by sake soos, watter partytjies ek bywoon, die gebruik van alkohol, die keuse van kleredrag, die besluit om SKOONHEIDSKOMPETISIES deel te neem...)

Hierdie beginsel is egter ‘n uitvloeisel van nog ‘n dieper groter beginsel in vers 31 en dis waarop ek wil hê dat ons sal fokus : “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.”

Dit Christen moet nie gelei word deur sy eie belange en regte nie, maar al my besluite is ondergeskik aan die eer van God. Ek moet dus nie redeneer – “dis my reg om dit of dat te doen nie”, maar vra – “eer ek God deur hierdie besluit?” “Lewe tot eer van God” is een van die mooi frases wat ons almal ken, maar wat beteken dit en hoekom is dit so belangrik? Om God te eer is om God se belangrikheid en eerste prioriteit sigbaar te laat word. Om God te eer behels dat ek sy wil en sy reputasie bo my eie opinies en voorkeure te stel. Dit gaan ook oor die vraag : As mense my sien, gaan dit wat ek doen hulle positief of negatief van God en sy kerk laat praat. 

Kom ons vat ‘n eenvoudige ding soos te veel eet as ‘n voorbeeld ter illustrasie. As iemand my sien hoe ek my gulsig ooreet – kan ek redeneer – “dis my saak, dis mos my liggaam, as ek te vet wil word het dit niks met ‘n ander mens uit te waai nie”. Of ek kan myself eerlik vra, “pas vraatsigheid by ‘n kind van God, bevorder ek die beeld van God, gaan my eetgewoontes nie ander mense afskrik van die evangelie nie, rym my optrede met die optrede van Jesus?” Baie ander klein dingetjies val onder hierdie kategorie... dis belangrik om landswette te gehoorsaam, betyds wees vir afsprake, netjies geklee te wees... , want as ek dit nie doen nie stuur dit ‘n skewe beeld uit oor wie God is.

Lewe tot eer van God in alle omstandighede is belangrik omdat dit te make het met die essensie van ons bestaan.

God het ons gemaak met een groot doel naamlik om Hom te eer. Dis die sin en die uniekheid van menswees. Ons is die enigste wesens op aarde wat God doelbewus kan eer. (Hierin verskil ons van blomme, diere, sterre en planete...wat onbewustelik eer aan die Skepper bring!) Dis hoekom Satan sy aanslag op die mens fokus. Hy haat God en daarom mislei hy ons om God te onteer, so wil hy God skade aandoen. Elke detail van ons lewens maak dus saak. In elke stukkie alledaagse lewe, dade, woorde, gedagtes...kan ek God eer of kan ek oneer bring op sy naam. Die kind van God wat leef onder beheer van die Heilige Gees kan teen Satan kies en doelbewus besluit om God te eer. En natuurlik as ek God eer neem ek my medemens se belange ernstig op. God is tog ‘n God van liefde, nooit kan ek Hom eer deur liefdeloos, selfsugtig, selfgesentreerd of hoogmoedig op te tree nie!Kom ons kyk positief daarna. Die kind van God, NET die kind van God, het die opwindende voorreg om God te eer. Nie net in die erediens nie – natuurlik dis een van die belangrikste geleenthede, dis daarom uiters belangrik om hier te wees, maar elke dag in my alledaagse besluite by die huis, werk, skool, sportveld... Orals kry ek die kans om God te eer. (Ons lewe mag nie in geestelike en beestelike kompartemente opgedeel word nie!)

Ons moet elke dag baie praktiese keuses maak om God te eer. Vra jouself twee vrae, voordat jy besluit: 

1) Is ek in lyn met God se wil (sy Woord) deur hierdie keuse? 

2) Neem ek die geestelike welsyn en belange van ander in ag deur hierdie besluit? 

Gebruik hierdie week elke geleentheid om God te eer. Dit maak jou lewe sinvol en bring vreugde. As ek besef dat my lewe nie eer aan God bring nie, waar begin ek? Wel, die eerste en belangrikste manier om God te eer, is om Jesus as Here en Verlosser te aanvaar en voor sy gesag te buig! AMEN

Tierkloof in die herfs




Saterdag 26 Julie 2014

WAAROM DIEN JY GOD?

- “Laat my tog U heerlikheid sien!


Waarom is jy ‘n Christen? Wat verwag jy om uit die “deal” te kry? Wat beteken dit vir jou, wat bring dit jou in die sak? Waarom dien jy God? Wat is jou doel met jou godsdiens? Is dit om beter gesondheid te geniet, geriefliker te lewe en dalk iemand te hê om vir jou te sorg? Miskien voel jy dit gaan darem jou daartoe bring om moreel ‘n beter mens te wees, om darem ordentlik volgens reëls en norme te kan leef? Miskien hoop jy dat godsdiens jou gaan help om groter geluk op aarde te beleef, of ten minste darem eendag die hel vry te spring? Sommige van hierdie dinge kan wel soos God dit wil byvoordele wees, maar daar is ‘n baie groter en meer fundamentele rede...

In Romeine 1 dring Paulus deur tot die kern van die saak. Paulus se doel met hierdie brief is om die evangelie sistematies te verduidelik. En waar begin hy? Na sy inleiding (vgl. Die kragtige uitspraak in 1:17) begin hy by die toorn (heilige wraak) van God. Lees dit saam met my...

1:18 God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.
1:19 Wat ‘n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring.
1:20 Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie,
1:21 omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister.

Hoekom begin Paulus op so ‘n negatiewe noot? Eenvoudig : ‘n Mens moet eers jou sonde besef voordat die genade boodskap vir jou sin maak. So baie mense stel nie belang in genade nie, want hulle reken eintlik dat hulle dit glad nie nodig het nie omdat hulle voel dat God nou nie juis te veel onrustig is oor hulle sonde nie! Paulus begin dus by sonde en God se oordeel daaroor. Wat is die eintlike groot sonde, die wortel van alle ander sondes? (21) Die mens besef vanuit die natuur wie God is en tog eer en dank hulle Hom nie as God nie! Anders gestel, wat is die groot wortelsonde wat die mens die hel laat verdien? Leef vir jouself! Mis so jou skeppingsdoel!

DIE GROOT DOEL VAN ALS

Nou as ons raaksien wat die groot sonde is, kan ons ook aflei wat die groot opdrag aan die mens en doel van die mens is... Om God as God te eer en te dank. Soos die Shorter Cathechism dit stel : “to glorify God and enjoy Him forever” Die doel en sin van ons bestaan is God self. Die doel waarom God sondaars red, is om hulle na Homself te bring! (1 Petrus 3:18 – kliek op REDDINGSDOEL) Dit word bevestig deur Jesus se samevatting van die wet : “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand...”

God moet aanbid en geëer word omdat Hy God is*, omdat Hy Skepper is, omdat Hy die Almagtige is, omdat Hy alleen hoog en verhewe is, omdat Sy Naam heilig is. As ons waarlik in God se teenwoordigheid kom, vergeet ons van alle byvoordele en eer Hom as God! 

God is nie ‘n middel tot ‘n doel nie, God self is die doel!


So baie lyne in die Ou en Nuwe Testament loop uit op hierdie punt. Kom ons kyk na ‘n paar:

God self is sy kinders se erfdeel. Na die Intog word die land verdeel onder die stamme van Israel. Nou is dit opvallend, die stam van Levi kry nie ‘n grondgebied nie... Die opdrag aan die Leviete in Numeri 18:20 (OAV) spreek boekdele : “Ook het die HERE vir Aäron gesê: Jy sal in hulle land nie erwe nie, en jy sal geen deel onder hulle hê nie. Ek is jou deel en jou erfenis onder die kinders van Israel.” God self is hulle erfenis en beloning. In die nuwe bedeling is ons almal priesters... Hierdie beginsel geld nou vir alle gelowiges! Vir my en jou!

God self versadig ons en is die bron van ons vreugde. Habakuk 3:17-19 spel dit so duidelik uit! "Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder. Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop. Vir die koorleier. Met snarespel. Die woordjie “nogtans...”(18) vertel als. Maak nie saak wat gebeur nie, oor God sal ek my verbly!

In Psalm 73 gaan dit oor die worsteling van ‘n gelowige met die vraag oor hoekom dit met hom sleg gaan, terwyl die goddeloses vet van die voorspoed is. Eers ontstem dit hom en maak hom sommer baie ongelukkig, maar uiteindelik kom Hy tot die gevolgtrekking dat sy geluk in God self te vind is! “Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.” (25)

Ook die Nuwe Testament maak dit vir ons duidelik, dit gaan nie oor wat God vir ons gee nie, maar oor God self, om Hom te ken... "En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is." (Johannes 17:3) 

Die ewige lewe is nie iets wat God gee, los van Homself nie, dis HYSELF!

Die essensie van die sin van ons bestaan is om te besef wie God is en Hom as God te eer en te dank! Dis jou doel op aarde! Om God opreg en passievol te eer en te dank moet ons eers weet hoe wie en hoe Hy is. Hoe nodig het ons daarom om die heerlikheid van God raak te sien! Laat ons daarom saam met Moses verlangende tot God roep : “Laat my tog u heerlikheid sien.” (Eks 33:18 OAV) As ons nie weet hoe wonderlik Hy is nie, gaan ons nie die begeerte hê om Hom te eer, te dank en te bewonder nie! Mag ons God se heerlikheid sien! Geen ander heerlikheid kan ons versadig en ‘n doel gee om voor te leef nie!

Is jou oë al geopen vir wie God is? 

Dit bring ons by die aller belangrikste vraag : Hoe en waar kan ons God se onbeskryflike heerlikheid raaksien?

Natuurlik kan ons baie van God se grootheid, heerlikheid en almag in sy skepping sien. Ons het dit gelees... Daarom sal niemand eendag ‘n verskoning hê nie. God openbaar homself in die natuur, maar Hy het Homself nog duideliker bekend gemaak. Deur mens te word in Jesus Christus... In Jesus se woorde en dade en veral in sy kruis en opstanding skyn die heerlikheid van God, die allesoorweldigende heerlikheid wat ons op ons knieë in aanbidding voor Hom bring! Na hierdie heerlikheid gaan ons nou vorentoe verder kyk. Spesifiek hoe Jesus die verskeidenheid van die ATTRIBUTE (eienskappe) van God se eerlikheid aan ons bekend maak.

*D.Martyn Lloyd-Jones, THE PLIGHT OF MAN AND THE POWER OF GOD, p33


Die heerlikheid van God se almag kan in die natuur gesien word, maar die volle heerlikheid, vol van genade en waarheid, kan ons alleenlik in Jesus Christus aanskou! (foto - Rundu)