BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Die 144 000 Verseëldes. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Die 144 000 Verseëldes. Wys alle plasings

Vrydag 17 Februarie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (5)

- OORWINNING DEUR DIE BLOED VAN DIE LAM

(Blaai na Openbaring 12)

Onthou weer, die hele Openbaring draai rondom die evangelie van Jesus. Jesus self staan sentraal! Hy is : Die  Leeu, die Oorwinnaar, maar Hy het die Oorwinning aan die kruis behaal as Lam van God. Die evangelie naamlik redding deur die bloed, vryspraak op grond van Jesus se kruisdood is die sentrale tema van Openbaring, net soos die res van die Nuwe Testament. Ja, inderdaad gaan dit ook oor die toekoms en die finale oorwinning. Die finale koms en oorwinning van Jesus is egter gebou op die feit van sy offer aan die kruis!

Die term LAM, vir Christus is vol betekenis. Hy is die LAM omdat Hy geslag/geoffer is aan die kruis! Hierdie titel word 28 keer in Openbaring gebruik en bewys hoe sentraal die kruisdood van Jesus staan. Kyk byvoorbeeld na Openbaring 14:1-5 en hoe die term LAM hier herhaal word. (Terloops, hier kry ons ’n verdere bewys dat die 144 000 verwys na alle Christene en nie na etniese Israel nie, want alle Christene is mense wat deur Jesus losgekoop is!) In Openbaring 15:2,4 sing die verlostes die Lied van die LAM (verlossingslied). Interessant, dit herinner sterk aan Eksodus 15! (Lees) Die Eksodus gebeure, die verlossing uit slawerny is ’n skaduwee van die verlossingsgebeure van die evangelie! Na die verlossing deur die Rooi See sing die volk ’n lied en so loof God se kinders Hom ook vir die verlossing wat deur Jesus bewerk is.

Die sentraliteit van die Bloed van die LAM word pragtig geïllustreer deur die dramatiese gebeure van Openbaring 12. Dis ’n oorsig oor die stryd tussen God en die bose in die geskiedenis. Die slotsom :

Satan is ’n oorwonne vyand!

Dink aan die troos van hierdie boodskap vir mense wat ervaar het dat die Satan se agente hulle vervolg en vermoor! Volgens Openbaring is die Satan by drie geleenthede verslaan*:

~ In die oertyd toe hy uit die hemel geskop is.

~ Deur die kruis en die opstanding van Jesus.

~ Met die finale vernietiging wanneer hy in die poel van vuur gegooi word.


Ons fokus nou op die evangelie in Openbaring. Ons kyk dus in meer detail na Openbaring 12:10-12. (Ons sal later weer kyk na die tema van konflik wat ook in Openb 12 aangespreek word) Dit gaan nie hier oor volgordes nie, maar oor die verskillende dimensies van ons verlossing. Die oorlog in die hemel loop uit op die oorwinning van die gelowiges deur die bloed van die Lam.. Die aanklaer, Satan word deur hulle oorwin deur die bloed. Let op : God het ons redding gebring. Redding begin altyd by God!  Ons is ook betrokke (11) deur die geloof! Hoe? Die aanklaer word stilgemaak deur die bloed, die kruisiging van Jesus. Wat beteken dit prakties? Die duiwel kom as’t ware met al die feite van ons sonde na God en kla ons aan. En hoe goed ken hy dit nie...! Volgens alle aanduidings is ons defnitief skuldig. Maar die kruisgebeure dwing hom tot swye. Hoe so? Daar is niks om ons meer oor aan te kla nie, want elke sonde en oortreding is reeds gestraf. (As dit jou nie bly maak nie dan is daar groot fout....) Die straf wat vir ons vrede bring was op Hom! (Jesaja 53:5,6) Ons aanvaar hierdie waarheid in die geloof.

In plaas daarvan dat ons nou gestraf word oor die aanklagte van Satan teen ons, word hy bestraf en verdoem!

Hierdie tema kom alreeds uit die Ou Testament. Lees gerus die aangrypende Sagaria hoofstuk 3! Al die dokumentasie wat die Satan teen ons kon bring (die skuldbewyse) is aan die kruis van Jesus uitgedelg! Vriend, maak seker dat jy die heerlike boodskap van Kolossense 2:14 glo!

Die fondasie van ons oorwinning is dus nie iets wat ons doen nie. Dis die gebeurtenis aan die kruis, die Bloed van die LAM. Ja hiervan getuig ons! Ons getuienis gaan oor die getrouheid aan hierdie boodskap in ons woorde en lewens. Hoe ver moet hierdie getrouheid gaan? Tot by ’n bereidheid om ons lewens ter wille van Jesus te verloor! Hy is dit werd, want Hy het ons vryheid met Sy lewe verseker! (Sien Markus 8:34,35; Johannes 12:24,25) Onthou net dat ons getuienis nie ons prestasie is nie. Ons getuienis is gegrond op die getuienis van Jesus! (Vgl. Openb 1:2,9) Die klem val op Jesus en nie ons eie biografiese besonderhede nie.

Die gevolge van die oorwinning oor Satan is uiteenlopend! Vir die hemelbewoners is dit ’n saak van blydskap en feesviering! (12:12) Vir die aarde en sy inwoners is dit ’n voorspel tot groot teëspoed, want die verslane Satan vestig nou sy aandag op die aarde. Hemelbewoners is ’n idiomatiese term en sluit alle Christene in (ook die wat nog op aarde is).

Hoe kan ons nou reeds elke dag hierdie heerlike waarheid van die oorwinning oor Satan benut?

Antwoord : Ons antwoord die beskuldigings van Satan deur te wys na die kruisgebeure. As hy ons aanklae en aan al ons sondes en mislukkings herinner, kan ons hom so antwoord : “Ja, ek is sleg, sondig, maar daar aan die kruis is my sonde reeds gestraf, ek staan dus sonder skuld voor God al sê jy wat!” Dis maar net die waarheid van Romeine 8:33,34 op 'n ander manier gestel! Niemand kan ons aankla of veroordeel nie. Nie omdat onsself so goed is nie, ook nie omdat ons geloof so sterk is of ons bekering so wonderlik is nie, maar omdat Jesus se sterwe en opstanding en sy voorspraak vir ons heeltemal genoegsaam en voldoende is! Dis hierdie heerlike feite buite onsself wat vir ons sekerheid gee oor ons ewige sekuriteit!

Hierdie waarheid vat ook ons vrees vir die dood weg! ( vgl. Hebr 2:14,15)

Dit spoor ons aan om met oorgawe ons getuienis uit te leef!

 

* Du Rand p401




Dinsdag 07 Februarie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (4)

- Die groot VRAAG en die heerlike ANTWOORD!

(Maak gerus oop by Openbaring hoofstuk 7)

Almal stem saam dat ons antwoorde moet soek in die Bybel. Maar wat is die kernvraag? Ons moet seker maak dat die vraag wat ons vra ook die belangrikste vraag is en dit ons nie ons eie vrae (wat God dalk nie as belangrik beskou) op die Bybel afdruk nie. Dis regtig nie God se bedoeling om ons nuuskierighede oor Iran se kernprogram, China se weermagsterkte of Amerika se nuutste helikopters te bevredig nie!

Die KERNVRAAG wat God se Woord stel is : Hoe kan die onheilige sondaar aanvaarding vind by die heilige God?* Die antwoord daarop is die EVANGELIE : Op grond van Jesus se sterwe en opstanding! Deur Jesus se kruisdood het Hy die straf gedra en die opstanding het bewys dat God die straf as genoegsaam aanvaar het...

Ongelukkig is die meeste mense bekommerd oor die vraag: Hoe kan ek nou ’n gemaklike lewe op aarde en eendag ’n gemaklike lewe in die hemel hê? Dis waar die baie valse interpretasies van die Bybel hulle oorsprong het. (Soos byvoorbeeld die welvaartsteologie/prosperity gospel)

Die evangelie as antwoord op hierdie KERNVRAAG is ook die kernboodskap van Openbaring!

Openbaring gaan oor die evangelie!

Openbaring 7:13,14 definieer vir ons hoe mense gered word. (evangelie)

LW - hulle kom uit die verdrukking. Ons het verlede keer gesien verdrukking was ’n basiese bestanddeel van egte Christenskap. Dit verwys dus nie net na ’n sekere groepie Christene in ’n tyd wat nog moet kom nie... Onthou die oorspronklike lesers (lidmate van die 7 gemeentes) het die verdrukking alreeds eerstehands ervaar.

Wat maak hulle anders? Hoe is hulle gered? Hulle klere is gewas in die bloed van die Lam! Dit beteken :

Hulle is vrygespreek (geregverdig) en aanvaar deur God op grond van Jesus se plaasvervangende sterwe aan die kruis!

Die ou waarheid van Jesaja 53:5,6 word herbevestig! Vgl. ook 1 Joh 1:7; Hebr 10:19,22. Geregverdig, beteken dat ons in Jesus net so aanvaarbaar is voor God as Jesus self toe die stem uit die hemel gesê het : "Dis my Geliefde Seun in wie ek ’n welbehae het!" (Matt 3:7) Omdat Jesus die volle boete aan die kruis betaal het, staan elkeen wat in Hom glo, sonder skuld voor God!

Openbaring 7:1-8 gaan oor die verseëldes van God wat die wraak van God gaan vryspring. God se mense wat sy oordele gaan misloop en veilig gaan wees. Johannes sê nie dat God se kinders verdrukking gaan vryspring nie, maar dat God se kinders veilig gaan wees teen die finale “verdrukking” van God se oordele en wraak.

Belangrik : die twee groepe mense in Openbaring 7 is nie verskillende mense nie, maar dieselfde mense (God se kinders) vanuit verskillende hoeke gesien!

Die twee groepe is die 144 000 en die groot menigte

~ Die 144 000 (12x12x10x10x10) Dis baie duidelik ’n simboliese getal! Die 12 stamme van Israel m.a.w die gelowiges van die Ou Bedeling en die 12 Apostels as verteenwoordigers van God se volk in die Nuwe Testament maal 10 tot die mag drie. Tien is die volheidsgetal. Hierdie groep is nie etniese Israel nie, maar die volle getal van God se kinders wat veilig is teen die finale oordele en wraak van God! Nie een van God se kinders wat bedoel is vir die Koninkryk gaan kortkom nie! “The kingdom of God will not lack one member that belongs to its perfection” ** Elke plek wat Jesus gaan voorberei het (Joh 14) gaan gevul wees! God het sy uitverkore kinders se name reeds voor die skepping in die boek van die lewe geskryf! (Openb 13:8 vgl. Ef 1:4) Nie een van hulle sal kort nie!

~ Die groot menigte. Die tweede prentjie komplementeer die eerste. Die groot menigte lê die klem op die wydheid van die kerk uit alle volke en nasies! (Vers 9) Die kerk is universeel!

Die eerste prentjie lê die klem op die vaste getal, die feit dat nie een sal ontbreek nie! Die kerk word hier geteken as die strydende kerk op aarde. In stryd, maar veilig!

Die tweede prentjie - sê vir ons God se kinders bestaan uit ’n ryke verskeidenheid van mense! Die kerk word hier geteken as die seëvierende kerk in die hemel!

Die waarheid oor die ware kerk van Jesus moet ons troos en bly maak in alle omstandighede.

Ons is veilig. Ons gaan wel deur verdrukking, maar ons heerlike ewige bestemming staan vas. Ons is veilig teen die oordele van God. Ons ewige bestemming is oneindig seker en oneindig heerlik. Jesus se kruis en opstanding is die waarborg daarvan! Die bloed van die Lam maak die verskil! Volgende keer meer hieroor.

 

* Goldsworthy p191

** ibid p192