BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Laaste Dae. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Laaste Dae. Wys alle plasings

Saterdag 26 November 2022

Die Antichris loer vir jou..

 - Ja, baie beslis deur jou televisieskerm en slimfoon... maar dikwels ook in sinodesale en vanaf kansels!

[Ly jy aan Antichris-angs, eindtyd-verskrikking of laaste dae-luiheid? Lees hier oor die Antichris en hoe om sy aanslag te oorleef!]



Paulus gee uiters belangrike en aktuele inligting oor die Antichris en die wederkoms in 
2 Tessalonisense 2:1-12 … (lees dit deur asseblief)  Die belangrike vraag is wat is sy doel met hierdie inligting? En spesifiek die inligting wat hy hier in hoofstuk 2 gee?  Sy doel sou logies ook die kernboodskap vir ons wees. So waarom skryf Paulus oor hierdie dinge?


Paulus het reeds in hfst. 1 aandag gegee aan die feit van die wederkoms. Daar gaan dit oor bemoediging  en  versterking vir die kinders van God wat verdruk word.  (1:6-10) As Jesus kom sal die bordjies verhang word en die verdrukkers van God se kinders sal hulle straf ontvang en God se getroue kinders sal in heerlikheid ingaan!



Hier in hfst. 2 is sy doel anders.  

Dit gaan daaroor om  Christene wat hulle kop verloor het en paniekerig geraak het deur allerhande bespiegelings oor die wederkoms, te kalmeer en praktiese leiding vir hulle te gee oor hoe hulle moes optree in die lig van die naderende koms van Jesus. 


Daar was mense wat angstig geraak het oor die nabyheid van die wederkoms en hulle is so meegevoer deur die dinge wat hulle gehoor het dat sommige gereken het, hulle hoef nie meer met hulle normale dagtaak aan te gaan nie. Hulle het so histeries en onordelik te kere gegaan dat party nie eens wou werk nie. (3:11) Hulle het passief geraak en hulle normale verpligtinge as Christene verwaarloos. Paulus wil nou weer vir hulle 'n nugtere perspektief gee.

 Mens kon Paulus se boodskap oor die wederkoms in  2 Tess so saamvat : die doel van hfst 1 is standvastigheid in lyding en swaarkry, die doel van hfst 2 is standvastigheid in die doen van goeie werke en normale lewenstake soos om jou brood te verdien. (John Piper)  

Maar so terloops kom ‘n uiters belangrike saak ter sprake soos ons verder sal sien...

AFVAL EN DIE ANTICHRIS

So hoe kalmeer Paulus nou hierdie beangste en histeriese Christene?  Paulus gee detail inligting oor twee sake: die afval (apostasia) en die mens van wetteloosheid. Twee aspekte  is ook opvallend. Hy gee baie detail oor die afval en die mens van sonde. Een of twee sinne sou mos genoeg wees?  Dink net, al hierdie detail om net op die ou end daarmee te sê, gaan rustig aan met julle normale take, want die wederkoms is nog nie hier nie. Aan die anderkant, tsv die detail is daar ‘n klomp onbeantwoorde vrae

Wat presies is die afval? 

Wie presies is die mens van wetteloosheid?  

Watter tempel van God is hier ter sprake? 

Wat is dit wat die koms van die mens van wetteloosheid verhinder/terughou? 

Dit lyk asof Paulus in sy tyd detail lering aan die Christene in Tessalonika gegee het oor hierdie sake en hulle nou net weer wil herinner. Maar ons wat nie daar was nie, ons  ken nie al die feite nie! Ons kan aflei dat die mens van wetteloosheid die Antichris is, maar wat betref dit wat hom  terughou is daar net raaiskote byv. die werking van die Heilige Gees, die invloed van die kerk, die Romeinse regstelsel (wat 'n teenwig was teen absolute chaos en anargie) of dalk die regstelsel in die algemeen.  Ons weet nie en dit lyk asof God dit in sy wysheid so bepaal het.... juis sodat ons nie dalk allerhande berekenings moet maak nie. 

Met ons beperkings in gedagte, kom ons kyk spesifiek na die twee hoofsake : die rebellie (afval) en die mens van wetteloosheid


Die afvalligheid. Dis nie die die "normale afvalligheid" of dwalings wat mens maar oral deur die geskiedenis in die kerk gekry het nie. Dit behels iets ongekend, buitengewoon boos en sigbaar opvallend! ‘n Ongekende direkte rebellie teen God en sy wette! Dit herinner sterk aan Jesus se woorde in Matteus 24:10-12.




Mens van wetteloosheid.  Net so 'n paar feite oor hierdie persoon, die Antichris. Dis ‘n mens, nie ‘n demoon of 'n "alien" van 'n ander planeet nie.  Hy is in sy wese wetteloos en sal aan geen wet of wetgewer onderworpe wees nie. Hy sal absoluut arrogant wees en maak soos hy wil. Aangesien net Een naamlik God bo alle wette is, volg dit logies dat hierdie persoon homself as God sal beskou – hy sal alle instellings, reëls en wette verander soos hy wil! Hy word genoem die seun van verderf – hy is dus gebore en bestem tot vernietiging en sal dus nooit tot bekering en verlossing kom nie. Opvallend – hierdie term word ook vir Judas Iskariot gebruik (Joh 17:12) – Judas was eintlik sy voorloper – soos Judas is daar vir hom geen hoop nie, net die ewige verdoemenis wat vir hom wag! 


Veral belangrik. Die krag van Satan sal op ‘n besondere manier deur hom werk – hy is ‘n spesiale Gesant van die duiwel. (2:9) 




Dit stel hom instaat tot bedrieglike tekens en wonders! Dis die groot gevaar : Mense gaan val vir hom omdat hy buitengewone goed sal doen! Hy sal regtige wonders doen, maar dit sal nie van God kom nie. Dis waarteen God al sy mense in Deut 13:1-3 gewaarsku het. Juis as gevolg van hierdie superkrag sal hy ‘n buitengewone vermoë hê om mense te mislei. (10) Hy sal ongeregtigheid – dit wat verkeerd is, as groot plesier en vooruitgang aan mense opdis en bemark! 


Weereens is daar groot ooreenkomste tuusen Paulus se lering hier en die woord van Jesus - Matteus 24:23-24.




Aan die einde van hierdie vreeslike tyd van wetteloosheid en misleiding sal Jesus skielik kom!


Waar die Antichris letterlik gaan verskyn is nie so belangrik nie... Jerusalem, Rome, Brussels of New York? (Die term "die tempel van God" het verskeie betekenismoontlikhede - dalk gaan hy buitengewone invloed binne die sigbare kerk uitoefen?) Luister dus maar fyn vir sy stem in kerkvergaderings en selfs van die preekstoel... Onthou dis opmerklik dat hy alle Goddelike ordes en instellings en waardes sal omkeer...





Die groot afvalligheid en die werking van die Antichris gaan saam.  Dis reeds besig om te gebeur (dit was al in Paulus se tyd 'n faktor) – die skeppingsorde van die huwelik, die basiese waarheid dat God die mens as man en vrou geskape het, die basiese waarheid dat daar ‘n onderskeid tussen God en mens is, onderskeid  tussen waarheid en leuen... al hierdie fundamentele waarhede word al hoe meer openlik bespot en geminag... Maak net oop jou oë!


Belangrike vraag : Waarom fokus Paulus op die groot afval en die mens van wetteloosheid net om daarna weer te sê gaan aan met julle lewe as Christene? 


PASOP VIR MISLEIDING


Die groot gevaar is misleiding! Om te val vir die plesier van ongeregtigheid en wetteloosheid. Vers 12 ("hulle vind behae in ongeregtigheid") En dis presies wat gebeur – mense hou van “songs” en sepies wat sonde uitbeeld! Dis so lekker om na sonde te luister en te kyk!  Die vermaaklikheidswêreld is die groot vanghok en slagyster van die Antichris. Dit maak ons sag vir sonde.... dit klink nie meer so erg nie...


Wat is die oplossing? Hoe kan ons beskerm word teen afvalligheid en misleiding? Mense gaan val vir die leuens van die Antichris, omdat hulle nie lief is vir die waarheid nie. Meer nog - oorlewering aan die Antichris se misleiding is eintlik God se straf vir mense wat nie wil erns maak met sy Woord nie!  Die oplossing en antwoord vir ons in hierdie deurmekaar tye is dus om lief te word vir die waarheid – lief te word vir die Woord, ja vir Jesus self wat die waarheid is! As jou sepies vir jou kosbaarder is as die Sondag erediens is jy klaar ‘n sucker vir die Antichris al sit jy allerhande vroom boodskappies op jou slimfoon!


Die Antichris is nie net daar ver nie, hy probeer jou kop swaai, jou hart wen en jou lewe steel - binne in jou eie huis!

Wat is die kernboodskap van Paulus aan ons? Gaan rustig, gelowig en gehoorsaam aan met julle lewens en moenie angstig en onstabiel raak weens allerhande gerugte nie – doen julle normale dagtake met heiligheid en integriteit soos dit by God se kinders hoort en hou by die waarheid van die Woord! Dan sal julle nie moislei word nie en gereed wees vir die wederkoms!  Vind jou vreugde in die doen van geregtigheid en nie in die sonde nie. Dan sal julle nie ‘n prooi van die Antichris word nie!

Woensdag 02 September 2015

BLOEDMAAN

- is die einde van alle dinge naby?



Gaan daar iets vreesliks gedurende die nag van 27/28 September 2015 (of kort daarna) gebeur met ‘n besondere maansverduistering, die vierde in ‘n reeks van sogenaamde bloedmane? Hieroor word wyd berig in sekere godsdienskringe en selfs in die sekulêre media. (Kliek op CNN)



Ons word vertel : “Astronome het die tekens opgemerk. Geskiedkundiges het die betekenis daarvan erken. In 2014 en 2015 is daar die fenomeen in die hemelruim van vier bloedmane wat gedurende Joodse feesdae plaasvind. Dit het nog net drie maal in die geskiedenis plaasgevind: 1493-94, 1949-50 en 1967-68. Elkeen van hierdie datums het ’n buitengewone betekenis vir die volk Israel gehad. Vanaf die ontdekking van die Nuwe Wêreld tot die skepping van moderne Israel, is hierdie jare waarin die vier bloedmane verskyn het, ware keerpunte in die geskiedenis.” (Dit klink na iemand wat graag 'n boek wil verkoop...)

Bewerings oor die betekenis van die sogenaamde bloedmane is nou aan die orde van die dag. Wat moet ‘n Bybelgetroue Christen hiervan dink? Net 'n paar perspektiewe:

DIE EINDE IS BESLIS NABY!

In 1 Petrus 4:7 lees ons : “Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid.” Die Bybel sê dus duidelik dat die einde van alles naby is! God se Woord is genoegsaam en finaal en ons moet dit ernstig opneem. (of die wêreld nou saamstem of nie)  Die sogenaamde tekens van die bloedmane voeg dus niks nuuts by tot ons kennis nie! Die einde is beslis naby, maar wat beteken dit nou presies? "Naby" is natuurlik ‘n relatiewe begrip. Is dit nou dae, maande, jare, dekades of eeue? Dit hang alles af van mens se perspektief op die geskiedenis. “Naby” in die sin wat Petrus en ander Bybelskrywers dit in verband bring met die wederkoms is myns insiens nie ‘n bepaalde stuk tyd wat gemeet kan word nie, maar eerder ‘n uitdrukking dat die wederkoms ‘n naderende, onverwagse werklikheid en ontsagwekkende realiteit is wat al ons aandag en voorbereiding en waaksaamheid vereis! Met ander woorde : Wees gereed! Die res van Petrus se woorde bevestig hierdie siening. Die nabyheid van die einde (hetsy dit my eie dood of die wederkoms is) moet ons aanspoor tot selfbeheersing en nugterheid, juis sodat ons kan bid! Die erns van die tye, as ons dit reg verstaan sal ons gedurig op ons knieë bring! En enigiets wat ons aandag aflei van gebed of gebedsversteuring veroorsaak moet ons ten alle koste vermy. Elkeen wat erns maak met die Bybelse lering oor die wederkoms kan uitgeken word, nie aan sy spraaksaamheid oor wederkomsteorieë of spekulasies nie, maar aan sy gebedspassie!

PASOP VIR NOG ‘N FOEFIE

Het ons nie al genoeg gehad van bangmaakstories en wolhaarprofesieë wat op niks uitgeloop het en net die Christendom se naam skade aangedoen het nie? (Dis net jammer dat hulle propageerders en aanhangers so stil-stil van die toneel verdwyn sonder om verskoning te vra vir hulle onsinnuge verkondiging van misleiding)

Onthou jy nog die planete wat in 1982 in lyn met mekaar sou beweeg en groot aardbewings en dergelike katastrofes sou veroorsaak? Niks het gebeur nie. In 1997 was dit weer die Hale-Bop komeet wat ‘n groot angstigheid en afwagting meegebring het. Weer niks. En toe die groot Y2K rekenaarkrisis wat die einde van die wêreld sou inlui in die veelbesproke jaar 2000. Dit sou kwansuis chaos veroorsaak en mense is aangeraai om noodvoorrade bymekaar te maak. Weereens, die jaar 2000 het stil gekom en gegaan, niks snaaks het gebeur nie. Meer onlangs was dit die paniek in 2012 rondom die sogenaamde Maja kalender en ander wederkomsvoorspellings wat alles op niks uitgeloop het. Al wat gebeur is dat ‘n hele paar mense elke slag heelwat geld maak met hulle verkoop van sogenaamde profetiese inligting aan liggelowige en onkundige Christene. Die uitbuiting van dwases!

WEES VERSIGTIG

Die bron van die nuutste bloedmaan bewerings is nie baie suiwer nie en dit moet mens maar klaar ‘n bietjie versigtig maak. Mark Biltz, van El Shaddai Ministries buite Washington in Amerika, wat die ontdekkings oor die bloedmane sou gemaak het se teologie toon ooreenkomste met die dwalinge van die Hebrew Roots Movement. (alhoewel hy ontken dat hy een van hulle is) John Haggee wat ‘n groot propageerder van die bloedmaan fenomeen is, se lering oor spesifiek Israel laat ook ernstige vrae ontstaan.

Daar is ook baie vrae oor spesifieke aspekte rondom die bloedmaan teorie as sodanig. Dis nogal ironies dat slegs een van die vier maansverduisterings sigbaar sal wees in die staat Israel. Dit maak nie regtig sin as dit 'n verskynsel van betekenis vir die land/volk Israel sou wees soos beweer word nie.

Die groot gevaar egter in al hierdie bewerings en die entoesiasme wat dit veroorsaak lê daarin dat dit mense opsweep en opgewonde maak oor allerhande dinge, maar nie juis aanspoor tot heiligheid en hulle opgewonde maak oor die evangelie nie. Wat maak jou werklik opgewonde? Is jy opgewonde waaroor die engele opgewonde is naamlik die evangelie? (1 Petrus 1:12)

LEES DIE BYBEL IN SY GEHEEL EN IN KONTEKS

Sons en maansverduisterings, duisternis as sodanig is tipiese beskrywings om iets van die geweldige intensiteit van God se oordele aan te toon (Vergelyk Eksodus 10:22; Esegiël 32:7-8) Die bekende profesie van Joël val ook in hierdie kategorie. Dit gaan oor Goddelike ingrype in terme van oordeel sowel as verlossing. Joël 2:31 lui: “Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom.” Hierdie profesie van Joel word deur die apostel Petrus aangehaal tydens sy Pinksterdag preek en luister wat sê Petrus. “Maar Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde. 
Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. 
Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: 
En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer. En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp. Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom. En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Handelinge 2:14-21)

Petrus haal die Joel profesie in geheel aan en veronderstel dat dit vervulling gevind het in die gebeure op Pinksterdag. Dit onderstreep die waarheid, erns en eskatologiese betekenis van die gebeurtenis. Die profesie word nêrens aangewend as ‘n model waarvolgens sekere tydsberekening gedoen moet word nie. Ons leef beslis in die LAASTE DAE! Dis die tydperk van Jesus se eerste koms tot by sy wederkoms. Dis die tyd van geleentheid en redding, maar dis ook die tyd van God se oordele, wat reeds aan die gang is, maar ‘n hoogtepunt met die finale verskyning van Jesus sal bereik. Die laaste dae is dus die groot draaipunt van die geskiedenis met betrekking tot die koms van die Koninkryk van God! En dis nou, dis vandag... dis 'n tyd van beslissing!

Hierdie beeld uit die Joël profesie word ook Openbaring 6 aangetref as beskrywing van God se oordele en nie as ‘n berekeningsformule nie. "En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was 'n groot aardbewing; en die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom wat deur 'n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos 'n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:12-17) God se oordele koms beslis, wees gewaarsku! Dis die Bybelse waarskuwing aan die goddelose, maar terselfdertyd die troosboodskap aan die verdrukte kinders van God.

Nêrens in die Skrif word ons aangemoedig om die tyd van Jesus se wederkoms te bereken nie, maar wel om altyd gereed te wees!


Maandag 23 April 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (9)

- die lofliedere gee ‘n Christusperspektief

Ons het verlede keer gekyk  na die funksie van die Ou Testamentiese apokaliptiese beelde. (Diere, koppe, horings ens.)  Hulle gee nie detail antwoorde op die vraag : Wanneer sal als gebeur? nie. Hulle volg ook nie 'n kronologiese volgorde nie. Hulle antwoord is net : Aan die einde of anders gesê op die Dag van die Here!  Onthou weer die dissipels se vraag in Handelinge 1:6. “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” Jesus se antwoord (vers 7,8) oor die Heilige Gees en hulle getuienistaak, wys daarop dat God se Koninkryk gevestig word in die laaste dae nl. die tyd tussen sy eerste koms en sy wederkoms! (Dit sluit NOU in!) Die Dag van die Here kom o.a. tot vervulling in en deur die kerk soos en wanneer ons die evangelie verkondig! Getuienis is nou ons groot taak!

Die dissipels se fout (en baie van ons s’n vandag) was om die herstel van die Koninkryk of die dag van die Here as een dramatiese gebeurtenis te sien en te verwag. (En tussendeur al ons spekulasies, ons getuienistaak te verwaarloos)

Die basiese inhoud van die Dag van die Here is die Jesusgebeure, m.a.w. die evangelie van die kruis en die opstanding! Die einde het aangebreek in Jesus : die geslagte Lam wat gely het, Hyself het die groot verdrukking deurgegaan, Hy behaal die oorwinning, die groot slag teen Satan is gewen aan die kruis, deur sy kruis en opstanding bind hy die Satan ens. Hierdie Jesus gebeure het vir ons die ewige erfenis van die Koninkryk verwerf!
Jesus doen dit deur lyding (LAM), maar Hy is reeds die oorwinnaar (LEEU)! Ons as die verlostes, die kerk van Jesus deel in hierdie dubbele karakter. Die kerk word geroep tot lyding (ons kan dit nie vryspring nie), maar is terselfdertyd oorwinnaars! Ons finale verheerliking sal egter eers plaasvind by die finale verheerliking van Jesus  by die wederkoms!

Ons probleem in praktyk is dat ons menslike beperkte perspektief veroorsaak dat ons lyding wat ons nou verduur, die heerlikheid wat reeds ons s’n is, laat verdof. Weens ons swaarkry is ons geneig om die heerlikheid wat aan ons behoort mis te kyk en daarvan te vergeet. Dis juis hierdie  probleem en misverstand wat Openbaring wil regstel.

Die evangelie feite is die oorheersende feite in Openbaring! Jesus en sy oorwinning is die groot gebeurtenis van die verlede, hede en toekoms! Dis waar die klem moet val en wat ons moet laat koershou. Kom ons kyk net weer hoe bied Johannes dit aan reeds in die inleiding in
Openbaring 1:5-7

Verlede tyd : (5,6) Jesus het ons bevry, verlos en ons ’n Koninkryk van priesters gemaak.
Hede : Jesus is NOU die Heerser oor al die konings van die aarde! Hy is NOU die beskermer van die gemeentes. (16,20) Hy het NOU alle mag oor lewe en dood! Die hele boodskap van Openbaring is ook van toepassing op die NOU! 
Toekoms : Hy kom sigbaar in die toekoms! (7)

Belangrik : Die feit dat Jesus NOU regeer beteken dat HY reeds die oorwinning behaal het oor sy vyande (Satan) deur die kruis en opstanding! Dis nie iets wat nog moet gebeur nie. (Die Satan hoef nie nog gebind te word nie, Hy is alreeds gebind!)

Hierdie fokus op Jesus as die Oorwinnaar word ingebring  tussen die apokaliptiese beelde wat uit die Ou Testament  kom. Dit word gedoen deur kort-kort  himniese gedeeltes (met ander woorde deur lofliedere en ook gebede) in te voeg tussen die beelde van diere, koppe, skale, ruiters  ens!  Juis om ons te laat verstaan dat ons die Ou Testamentiese profesieë en beeldspraak  moet interpreteer in die lig van die Jesus gebeure, die evangelie! Die Jesus gebeure is die vervulling van die Ou Testamentiese beelde!

Kyk saam na  Openbaring 5:9-10, 12. Let op die gebeurtenis van die verlede, naamlik die sterwe van Jesus skep die realiteit van die Koninkryk van priesters. “Hulle sal regeer” lê in die toekoms maar hierdie toekoms is nie in die verre toekoms alleen nie, maar ’n voortgaande reëling vanaf die tyd van verlossing! Ons as verlostes is ALREEDS sy Koninkryk van priesters (vgl. 1:6; 5:10) Openbaring bevestig net dit wat Paulus in Romeine 8:30 sê oor ons verlossing wat ’n vaste feit is! (Lees) 

Kyk na ’n ander lofgedeelte. In Openbaring 11 (maak jou Bybel gerus hier oop) kry ons die gedeelte oor die twee getuies wat doodgemaak is. (Twee is ’n getal wat op getuies dui - “in die mond van twee of drie getuies staan iets vas”) Kyk na Vers 9, 11- "drie en ’n half dae" - selfde as "42 maande" en "1260 dae" - drie en ’n half is simbolies ’n tyd van verdrukking. (Hierdie simboliek gryp terug op die  verskriklike verdrukking van drie en ‘n half jaar wat Israel beleef het onder die tiranie van Antiochus Epifanus in die 2de eeu vC. Dis ‘n tegniek wat die skrywer telkens gebruik om ‘n gebeurtenis of  term van die verlede as ‘n simbool te gebruik om ‘n bepaalde gedagte of nuanse oor te dra. Kom ek probeer dit verduidelik:  In ons geskiedenis was Bloedrivier ‘n geweldige slag wat nog steeds emosies gaande maak en bepaalde gebeure oproep. Almal weet darem van Bloedrivier! Ons gebruik nog steeds die term “Bloedrivier” om ‘n groot geveg of stryd aan te dui. Na ‘n besonder taai geweldadige rugbywedstryd sou ons vandag nog kon sê : “Sjoe, dit was ‘n regte Bloedrivier op daai veld! So dra ons ‘n emosionele konnotasie oor, iets van die intensiteit van die wedstryd, maar ons bedoel beslis nie dit was letterlik ‘n militêre veldtog nie.)  Die twee getuies simboliseer die getuigende kerk wat  onder druk en aanval van die bose verkeer, maar ten spyte van  terugslae oorwinnend is! Hierdie perspektief word dan gegee deur die stemme in die hemel wat heerskappy van Jesus bevestig. (11:15) Dit word aangevul deur die woorde van die 24 ouderlinge. (11:17-18) ’n Pragtige parallel van hfst 11 kry ons in Romeine 8:36,37 (Lees) Oorwinning te midde van swaarkry en selfs die dood!

Net terloops. Hierdie groot verdrukking van drie en 'n halwe jaar is nie 'n tyd wat nog iewers moet kom nie! Dis die belewing van verdrukking wat alle kinders van God in alle eeue moes verduur. Hoeveel kinders van God moes al op brandstapels en deur ander allerwreedste maniere sterf - hoe moet 'n verdrukking wat nog groter is as dit dan lyk? Of wat van die lyding van God se kinders in Noord-Korea? Kan Openbaring hulle troos as dit ons wil vertel dat daar iewers 'n groot verdrukking moet kom. Nee, hulle is reeds in die groot verdrukking en Openbaring verseker hulle en ons, dat God dit net tot op 'n punt sal toelaat!

Maar ten spyte van die werklikheid van verdrukking, vind ons hier 'n heerlike vertroostende boodskap vir elke getuie:

Kind van God, jy is onsterflik, onaantasbaar en onoorwinlik totdat God sou besluit dat jou getuienistaak op aarde afgehandel is! Getuig dus vrymoedig sonder vrees!

In Openbaring 15:1-5 kry ons die lied van die mense wat die oorwinning behaal het oor die dier en sy beeld. Dit word genoem die lied van Moses. Dit word so genoem na aanleiding van die lied wat die Israeliete gesing het in Eksodus 15 nadat God hulle deur die Rooisee verlos het uit die hand van die Egiptenaars. (Weereens, Johannes vat ’n Ou Testamentiese tema en ontwikkel dit verder) Daar is min letterlike ooreenkomste in die lied behalwe met Eksodus 15:11. Die groot ooreenkoms lê in die perspektief op verlossing!   Die lied van Moses herdenk die magtige verlossingsdaad van God met die Uittog/Eksodus! Dis ’n gebeurtenis wat vooruitgesien het op die nuwe eksodus, die verlossingsdaad deur Jesus aan die kruis toe Hy ons uit die slawerny van sonde bevry het. Die groot dade waarvan die verlostes nou sing in Openbaring is die evangelie gebeurtenisse. (die kruis en opstanding van Jesus) Dit is die Dag van die Here wat aangebreek het in die Persoon en werk van Jesus. Israel het God se verlossingsdade aanskou en sing ’n lied, ons as gelowiges reageer ook met ’n loflied op die evangelie dade van verlossing in Jesus Christus.

SING JY SAAM OOR JESUS SE VERLOSSINGSDADE?

* Sien  Graeme Goldsworthy : The Gospel in Revelation

Maandag 23 Januarie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (1)

- Kyk na die skildery en skep moed!

Maak oop en lees Openbaring 1:1-6 ( ’n oop Bybel langs jou is ’n vereiste om hierdie studies te volg)

Om te begin : MOENIE BANG WEES VIR OPENBARING NIE! Die boek Openbaring bekleë gewoonlik een van twee plekke in baie Christene se denke :

~ Dit word geïgnoreer en eenkant geskuif. (“Ag, dis te moeilik, dit maak my deurmekaar, los dit maar vir spesialiste!”)

of

~ By sommige is daar amper ʼn buitensporige en fanatiese belangstelling in die boek. Dit word amper ’n geestelike stokperdjie. Heeldag word daar na DVD’s gekyk en boeke gelees oor die onderwerp van die eindtye en vervulling van profesieë! (En met almal wat nie met my siening van interpretasie saamstem nie, word daar hewig gestry!)

Nie een van bogemoemde benaderings is tog reg nie!

Ons moet wel erns maak met die boodskap van Openbaring. Die lees van hierdie boek dra ’n belofte van seën! (Vers 3) Dis tog deel van God se Woord wat Hy vir ons welwese bedoel het.

PRENTJIES

Aan die anderkant is Openbaring nie ’n eie agenda opsigself nie. Ons sal sien dat Openbaring niks anders sê as die res van die Bybel nie, maar slegs uitbrei op sekere waarhede en dit op ʼn ander manier sê. Terloops, die meeste beelde wat in Openbaring gebruik word, kom in elk geval uit die Ou Testament! Nog belangriker : Die hoofinhoud van Openbaring is die evangelie self! ’n Mens sou amper kon sê dat Openbaring vir ons die evangelie in prentjies teken. Die evangelie gaan oor die goeie nuus met betrekking tot Jesus en sy werk! Reeds hier in die aanhef val die klem reeds baie duidelik op Jesus en sy verlossingswerk. Kyk weer na Vers 5 en 6. Jesus self is die doel en hoogtepunt van die geskiedenis!


Wat wil Openbaring nou eintlik sê? Vertel dit ons van die laaste dae? (En wanneer is dit?) Kom ons maak eers seker oor ’n paar belangrike vertrekpunte.

~ Openbaring is in die eerste plek aan sewe regte gemeentes (Efese, Smirna ens.) gerig. (Hierdie gemeentes was in die streek wat vandag Turkye is) Dit het gegaan oor sake wat hulle op daardie oomblik geraak het, binne ’n spesifieke situasie. Dis ’n boek vol bemoediging en vermaning in ʼn konteks van vervolging en die bedreiging van afvalligheid wat hulle konkreet beleef het. Dit moes hierdie Christene wat swaargekry het vermaan, vertroos en bemoedig. Dink dan net logies : As Openbaring hoofsaaklik en eksklusief gehandel het oor dinge wat in ons tyd (2000 jaar later) sou gebeur, watter nut sou dit vir hulle hê? Watse troos sou dit vir hulle bring? Wat sou dit help om vir hierdie mense te vertel van Iran se kernplanne of Europa se staatkundige bedeling? Vanuit die oorspronklike bedoeling en konteks kan ons sê :

Openbaring is ’n TROOSBOEK, nie ’n VOORSPELLINGSBOEK nie!


Ons kan en mag nie Openbaring lees asof dit Nostradamus of Siener van Rensburg is nie! Die hoofinhoud van hierdie troos is : die vestiging van en erkenning van God se alleenheerskappy op aarde soos dit reeds in die hemel is. (Mounce) Dis alles seker vanweë die oorwinning van Jesus!
~ Inderdaad gaan Openbaring oor die Laaste Dae. Maar wat bedoel die Bybel met die Laaste dae? Die Nuwe Testament beskou die hele tydsduur na Jesus se kruis en opstanding as die eindtyd of Laaste Dae. Die evangelie gebeurtenis in Jesus se kruis en opstanding was die beslissende draaipunt wat die hele geskiedenis in twee dele sou verdeel. Met Jesus se eerste koms en werk het die Laaste Dae aangebreek. Twee belangrike teksgedeeltes is Handelinge 2:14-21 en Hebreërs 1:1-3 . In Handelinge 2 kry ons die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag en Petrus se daaropvolgende toespraak. Hierin verwys Petrus dat wat op daardie tydstip gebeur het ’n vervulling is van die profeet Joël se voorspelling oor die laaste dae. (Sien vers 17) Die tydperk van die Laaste Dae was dus met die uitstorting van Heilige Gees reeds ’n werklikheid! (Die laaste dae is dus nie ’n tydperk wat eers in 1948 of 2000 begin het nie) In Hebreërs 1 sê die skrywer duidelik : “in hierdie laaste dae het God met ons gepraat deur die Seun” Vantevore het God Homself op baie maniere (deur profete, drome ens.) geopenbaar, maar Jesus was God se finale spreke. Deur Jesus het God alles aan ons bekend gemaak wat nodig is. (En natuurlik het ons God se openbaring deur Jesus in ons Bybel)

Jesus se eerste koms na die wêreld het die LAASTE DAE ingelui.


Jesus se koms na die aarde dui die beslissende moment aan van die begin van die vestiging van God se koningsheerskappy op aarde. Dis die Laaste Dae!
~ Ons moet verstaan wat is ’n profesie. Profesie (as ons ook gaan kyk na die Ou Testamentiese profete) het nie net gegaan oor toekomsvoorspellings nie, maar ook oor morele onderrig. Profesie is God se Woord vir mense in ’n bepaalde tyd en omstandighede. Deur sy werk ’n profesie te noem laat Johannes ons verstaan dat hierdie boek dieselfde gesag dra as die groot werke van die Ou Testamentiese profete! Dit gaan ook nie net oor ’n verre toekoms nie, maar het dwarsdeur die geskiedenis ’n boodskap vir daardie tyd se Christene gehad... dus ook vir ons!

Met bogenoemde as agtergrond, hoe moet ons dan nou Openbaring interpeteer?

Daar is twee belangrike beginsels wat ons in gedagte moet hou :

~ Hou rekening met die literatuursoorte (genres) in die Bybel. (Ons pas dit eintlik almal alreeds toe - ons lees die verhaal van die kruisiging wat geskiedskrywing is, anders as die Barmhartige Samaritaan wat ’n gelykenis is.)

In Openbaring kry ons die volgende literatuursoorte: Briewe, Profetiese uitsprake, Lofliedere, Apokaliptiese Visioene. Elke Bybelleser weet reeds dat ons nie elke Bybelgedeelte letterlik kan opneem nie. As Jesus sê : “Ek is die deur van die skape” weet ons tog presies wat Hy bedoel! Ons dink tog nie dat Jesus van hout gemaak is nie! Om dus alle beelde en getalle in Openbaring skielik letterlik te wil opneem is absurd! (Dink bietjie : Wil jy vir ewig ’n letterlike pilaar wees? - vgl. Openb 3:12)

 

~ Hou rekening met die sentrale tema en opbou van die hele Bybel. Die hele Bybel loop uit op die hoogtepunt in Jesus Christus! ( Kol 1:15-20; Ef 1:10) Ons kan die visioene nie los verstaan van die hoof evangelie gebeurtenisse naamlik Jesus se kruis, opstanding en wederkoms nie. Openbaring sê nie vreemde goed nie, dit sê presies dieselfde as die sentrale Bybelse boodskap, met Jesus as die kern, maar dikwels op ’n apokaliptiese manier. (Met beelde en simbole)

Ten slotte : Ons gaan na Openbaring kyk soos na ’n skildery. Om die geheelboodskap en grootsheid van ’n skildery te waardeer en te geniet, hoef mens nie altyd elke onderdeel te ontleed nie. Dis die geheelindruk wat mens aanspreek en ’n booodskap in jou hart deponeer! Ons gaan dus nie elke teks in detail probeer ontleed nie (en as ons oor detail betekenisse verskil, maak dit ook nie soveel saak nie) Ons gaan kyk na die groot temas wat saamvloei om aan ons ’n heerlike en magtige boodskap van oorwinning oor te dra! Sien nou reeds raak : "Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen." (Openb 1:6)

Mag die evangelie so nog helderder vir jou skyn, mag elkeen dit omhels en verder daarin groei en daaroor bly wees!

Lees verder oor Openbaring. Kliek op Maak oop by Openbaring (2)

 

(Bronliteratuur : Du Randt, Die A-Z van Openbaring; Goldsworthy, The Gospel in Revelation)