BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Gekruisigde Christus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Gekruisigde Christus. Wys alle plasings

Vrydag 09 Augustus 2013

KRAG OF ONSIN?

die kruisvraag wat alle mense in twee groepe verdeel.
In 1 Korintiërs 1:18 maak die apostel Paulus ‘n formidabele uitspraak. Dit het aardskuddende gevolge, ewigheidskonsekwensies!  “Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.” Dis baie duidelik uit hierdie teks: Daar bestaan wesentlik net twee groepe mense. Nét twee groepe. Geen middelgroep nie. Dié wat verlore gaan en dié wat gered word. Die wat verlore is, is  slawe van sonde en satan. Die wat gered is, is mense wat verlos is van sonde, satan, oordeel en hel. Verlorenes sal vir ewige weg wees van die aangesig van God, uitgewerp in die buitenste duisternis. Die gereddes sal vir ewig by God wees en die warmte van sy liefde voel en die glans van sy majesteit aanskou.
Baie interessant, die verskil tussen die twee groepe word hier gedefinieer in in terme van hulle uiteenlopende houdings ten opsigte van die kruisboodskap. Anders gesê: jou houding teenoor die kruisboodskap bepaal of jy ‘n verlorene of ‘n gereddene is.  Die vraag wat elkeen van ons moet antwoord is : “Wat maak ek met die krusboodskap?”
Net kortliks, wat is die kruisboodskap? So baie mense kan aframmel :”Jesus het vir ons sondes aan die kruis gesterf” maar hulle het nie die vaagste benul wat dit beteken nie. Dit maak hulle daarom ook nie juis opgewonde nie, dit bring ook nie vir hulle vrede nie. Dit maak geen praktiese verskil in hulle lewens nie.
Die kruisboodskap is die evangelie. Dis die goeie nuus. Dit was Paulus se ekslusiewe boodskap. Dis waarop hy gefokus het. (1 Korintiërs 2:2) Die kruisboodskap gaan daaroor dat Jesus die regverdige straf van God oor sondaars op Homself geneem het.  Anders gesê, Jesus het die boete vir my sonde in my plek klaar betaal.  Sy opstanding uit die dood was natuurlik die klinklare bewys dat God hierdie boetebetaling aanvaar het. As ek waarlik in Jesus glo, dan beteken dit dat God my nie meer straf nie, maar my vryspreek en niks meer teen my hou nie. Hierdie waarheid kry ons al in die Ou Testament in die bekende Jesaja 53. Let op na vers 5,6 : “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” Ja, sy straf wat Hy ondergaan het, bevry my en  bring gewetensrus en vrede!  In die Nuwe Testament hoor ons hierdie duidelike boodskap op baie plekke soos byvoorbeeld in 2 Korintiërs 5:21 wat sê : “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.”
Hierdie boodskap is onsin, snert, “nonsense” vir die mense wat verlore gaan. Hoekom dink hulle so?

 ~ Sommige verwerp die kruisboodskap met toenemende aggressie outyds en barbaars.“Waarom vertel die kerk aan ons so ‘n bloederige storie? Was dit nou regtig nodig dat God Sy Seun moes laat sterf? Waarom nie ‘n algemene amnestie, ‘n kwytskelding van sonde en daarmee afgehandel nie? Kon die almagtige God geen ander manier vind om sondaars te begenadig nie?” Postmoderne mense vind die kruis afstootlik; dis volgens hulle primitiewe barbaarse denke om jou Seun te laat doodmartel.  Hierdie reaksie is natuurlik glad nie so  nuut nie. Reeds in Paulus se tyd was daar mense wat hierdie boodskap afstootlik en onsinnig gevind het. “Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin” (1:23)
~ Dan is daar diegene wat ‘n soort van respek en bewondering vir Jesus het as goeie mens  en bekwame wysheidsleraar, maar hulle sien Hom los van die kruis.  In praktyk vereer hulle ’n Jesus sonder ’n kruis. Dis hulle wat sê:  “Ja, vertel vir my van die Jesus wat siekes gesond gemaak het, wat liefde aan kinders en bedelaars bewys het, wat vir ons leer om ons vyande lief te hê, wat ons sal inspireer om huise vir die armes te bou en na Vigspasiënte om te sien.” Hierdie aanhangers van die (kliek Social Gospel) sien Christenskap net as ‘n goeie morele lewe van naasteliefde. Hulle beweer ook :  “Die kruisboodskap het niks met Jesus self te maak nie. Dit kom ook nie van Hom af nie, dis daardie rabbynse jood, Paulus wat hierdie teologie van bloed en offers in die kerk ingedra het.”  Dit getuig natuurlik van uiterste onkunde om sulke bewerings te maak. In die evangelies is dit duidelik dat Jesus se kruisdood voorop in sy gedagtes was. Hy verwys gedurig daarna en spel self die betekenis daarvan uit in Markus 10:45 waar Hy verklaar : “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense."
~Daar is egter nog ‘n manier van minagting van die kruis. Seker die algemeenste. Dis diegene wat intellektueel sal saamstem met die waarheid en belangrikheid van kruis en tog is daar  min bewondering en dankbaarheid. Hulle harte bly onaangeraak, hulle lewens bly onveranderd. Of  hulle hoor van Jan van Riebeeck en of  hulle hoor van die Seun van God wat Sy lewe gegee het, dit het ewe min praktiese effek. Hulle sal  saamstem dat beide gebeure histories waar is. Maar dis bloot ‘n tegniese saak, hulle  sal sonder om geraak te wees sê: “Ja, ek weet Jesus het aan die kruis vir ons sondes gesterf. Maar wat daarvan?” Daar is ’n groot groep van hierdie mense in die kerk. Jesus se kruisdood het vir hulle min praktiese betekenis – ander dinge soos geld en plesier is baie belangriker.

~Nog ’n laaste baie subtiele manier om die genoegsaamheid van die kruis te ontken moet genoem word. Dit kom dikwels voor by mense wat vroom is, selfs ook by mense wat al ’n duidelike opregte keuse vir Jesus gemaak het. Dikwels degradeer hulle ook maar op ’n manier die kruis. Hoe so? Dit gebeur as ek probeer om die werk van die kruis deur my eie morele prestasies te wil aanvul. Die kruis is wonderlik, dit maak my selfs bewoë, maar die kruis is nie genoeg om vir my gemoedsrus te gee dat my sondes volledig  uitgekanselleer is nie. Ek voel gedurig ek moet ook ‘n bydrae maak, ek moet myself eers voor God bewys voordat Hy my sal aanvaar. Sommige van hierdie mense is geneig om na binne gekeer te wees  en in selfworstelings vas te val: Is my geloof genoeg, is my bekering eg, het ek nou regtig al my sondes bely? (hulle bely gedurig maar vind nooit rus nie, kort-kort maak hulle nuwe oorgawes as die prediking net emosioneel genoeg is)*. As dit die geval is, het jy nodig om weg  kyk van jouself, te kyk na die kruis en te glo dit was genoeg.  Die ou Halleluja lied wat sê “deur te sien op die kruis, is daar lewe en heil” is so waar. Beskou jy al die kruis as jou enigste bate of wil jy jou ewige toekoms met beleggings van menslike verdienste  help verseker? (Ander misken weer die genoegsaamheid van die kruis deur dit te probeer aanvul met die sabbat en koswette. Dis hoogmode in sekere "Tora/Torah kringe. Kliek op WORTELS VAN VERWARRING)

maar...
Mense wat gered word beleef die kruisboodskap as die krag van God. Hoe so? Hulle aanvaar dat Jesus se offer aan die kruis volledig genoegsaam was vir die betaling van al hulle sondeskuld. Dit bring bevryding van hulle gewete, vrede in hulle gemoed. God gaan my nie meer straf nie, want Jesus het my straf gevat. Ek hoef dus nie meer dood en oordeel te vrees nie. Dit eindig egter nie daar nie. Dankbaarheid vir Jesus wat sy lewe gegee het, is ook vir die wat glo ‘n kragtige aansporing om in heiligheid te leef. Om hulle in dankbare toewyding aan God oor te gee. Om so te leef dat dit God bly maak.  2 Korintiërs 5:15 stel dit so helder en kragtig : “En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.”  In Galasiërs 6:14 praat Paulus van die verskil wat die kruisboodskap in sy eie lewe gemaak het : “Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.” (Terloops, hy sê dit juis in die konteks van mense wat weer aspekte van die Joodse Tora soos die besnydenis en Sabbat aan Christene wou opdring)
Mense wat die kruisboodskap werklik aanvaar en glo, leef nie meer vir hulleself en wêreld nie, maar vir hulle Verlosser! Hulle het ‘n nuwe ambisie, ‘n nuwe koers, ‘n nuwe lojaliteit... en dis sigbaar in hulle lewens.
Wat sê jy van die kruis : Krag of onsin?

*As jy baie hiermee worstel, kliek gerus op WURGGREEP VAN VERTWYFELING

Maandag 22 April 2013

ONS GAAN DIE WÊRELD REGRUK

- die illusie van die “Social Gospel” 

Gaan ons die wêreld ten goede omkeer en die koninkryk laat kom deur die mens se sosiaal-ekonomiese omstandighede te verander? Gaan almal beter mense word as ons deur ‘n verskeidenheid van programme dit regkry om werkloosheid, onkunde, siektes, ongelykhede en dergelike ellendes uit te wis? Is dit die kerk se primêre taak om ons te beywer vir ‘n wêreldbestaan sonder bomme en ‘n aarde sonder armoediges? Blykbaar dink baie mense in die kerk so en verkondig met groot entoesiasme hulle idees wat mens breedweg as die “Social Gospel” kan tipeer. 

Die “Social Gospel”* is ‘n verskraalde, nee ‘n vals evangelie, want dit: 

1. Lê die klem op die horisontale verhouding tussen mense. Natuurlik is medemenslike verhoudings vir God ontsettend belangrik. Nooit mag ons egter vergeet dat die mens se grootste nood sy gebroke verhouding met God is nie. Die grootste en wortelsonde is immers die oortreding van die eerste gebod : "‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod.” (Matteus 22:38) Beslis verander die aanvaarding van die evangelie ook mense se onderlinge verhoudinge en selfs hulle ekonomies-sosiale omstandighede. Waar groot getalle mense tot bekering kom soos tydens die Walliese herlewing van 1904 word huishoudings nuut en verbeter lewensstandaarde omdat vaders nie meer hulle geld uitsuip nie, maar vir hulle gesinne begin sorg in lyn met die opvolgende gebod van naasteliefde. Die punt is net, dinge begin nuut word op alle terreine as mens weer in die regte verhouding tot God kom. Dit kom heel eerste. 

2. Hou nie rekening met die totale verdorwenheid en uiterste verlorenheid van die mens nie. Dit gaan klaarblyklik van die veronderstelling uit dat die natuurlike mens tot goeie werke instaat is en opgehef kan word tot 'n Godaanvaarde vlak. Mag ons altyd onthou dat ons beste dade vir God verwerplik is. Moenie my verkeerd verstaan nie. Goeie werke is absoluut God se duidelike wil vir sy kinders, maar dis goeie werke wat voortvloei uit die redding deur geloof. Sulke werke word deur God voorberei en is welbehaaglik vir Hom. Efesiërs 2:8-10 leer ons : “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Mense het eers nodig om gered te word, voordat hulle kan begin nuut leef. En ons moet ook nie sommer aanvaar dat almal wat ons kerkbanke volsit reeds gered is en maar bloot aangemoedig kan word om goeie werke te doen nie. 

Met alle respek, Madonna se “goeie werke” om vir Malawiese kinders skole te bou, tel nie in God se oë as goeie werke nie, want sy doen dit nie vanuit die geloof in Jesus as Verlosser nie! 

3. Maak nie erns met die Bybelse prioriteit en vereiste van die wedergeboorte nie. Om bloot Jesus en sy etiese leringe  (soos in die Bergrede) as voorbeeld na te volg, verleen nie toegang tot die koninkryk nie. Die vereiste is die wedergeboorte, niks minder as ‘n herskeppingswonderwerk nie! Die erns van Jesus se duidelike woorde aan Nikodemus mag nooit uit die oog verloor word nie. Om vir armes boorgate te sink maak nie van my ‘n Christen nie. Nog minder maak dit Christene van diegene wat uit daardie boorgate gaan drink. (lees meer hieroor en kliek op – DIE BOK WAT ‘N LEEU WOU WORD

4. Verkondig dikwels ‘n oppervlakkige Christus, wat deur sommige as net ‘n besondere Joodse rabbi gesien word. Jesus word bloot gedefinieer in terme van sy morele opdragte van naasteliefde. Alles mooi, maar van sy grootste primêre doelwit op aarde naamlik om Homself as offer aan die kruis te gee in plek van sondaars praat hierdie sosiale weldoeners en woelgeeste maar min. Jesus is in die eerste plek die Gekruisigde! Dis Hom wat Paulus verkondig het. Meer nog, Jesus self is baie duidelik as dit by sy hooftaak kom : “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense." (Markus 10:45) Jesus se kruisdood staan sentraal in die boodskap wat ons moet verkondig.

5. Reduseer die kerk tot net nog ‘n NGO, juis omdat die boodskap van die Gekruisigde Christus verswyg word. Sommige “Christelike” joernalistiek bewys hierdie gebrek baie opvallend.** Mens hoor baie van sop en komberse (en dis wonderlik!), maar selde van sonde oortuiging en bekerings. Daar is baie hulporganisasies wat goeie werke bepleit en organiseer. Dis mooi, maar niks unieks nie, die Moslems doen dit ook. Die kerk volgens sy Bybelse bedoeling is egter iets meer en iets heeltemal anders. Die kerk bestaan uit mense wat deur die geloof verlos is en so lede van Christus se liggaam geword het. Hierdie kerk het die taak om die evangelie te verkondig (Groot Opdrag) sodat mense hulle kan bekeer en aan die Koning kan onderwerp. 

6. Maak dikwels valse “strooipopfigure” van mense wat die Bybelse evangelie verkondig en skiet hulle dan met groot geraas aan flarde. Opmerkings soos “die ou sendelinge het net in mense se siele belang gestel” word gehoor. “Party Christene stel so belang in die lewe hierna dat hulle vergeet om nou te leef”, is ‘n ander beskuldiging. Dis grotendeels so onwaar en onbillik. Dis juis mense wat die herstelde verhouding met God as eerste prioriteit beskou het, wat die meeste vir ander mense se liggaamlike en sosiale nood omgegee en iets daaraan gedoen het te midde van groot opofferings. Dis tog immers die evangelie wat iemand soos die klipharde John Newton se hart verander het en hom teen die slawehandel laat draai het! 

7. Maak ‘n valse teenstelling tussen dade en dogma. Lewe en leer. Die slagspreuk (wat met baie mense resoneer) is : “Deeds not Creeds.” Allerlei aktiwiteite en aksies word voorgehou as die taak van die kerk en die hoop vir die wêreld. Wat mense glo, maak nie regtig meer so saak volgens hierdie siening nie. Die nuwe geslag “Social Gospel” verkondigers glo nie dat daar iets soos waarheid bestaan en dat dit geken kan word nie. (Lees meer, kliek op – KERKBODEKASKENADES) Michael Horton vat die Bybelse balans en volgorde pragtig saam : “Yet the answer is not “deeds over creeds,” but to be re-introduced to the creeds that generate the deeds that are the fruit of genuine faith. Getting the gospel right and getting the gospel out, as well as loving and serving our neighbours, comprise the callings of the church and of Christians in the world. However, confusing these is always disastrous for our message and mission.” Die regte leer, as dit werklik geglo word, sal noodwending tot hart en lewensverandering by die individu lei en onvermydelik ook ‘n impak hê op die breër gemeenskap. Ja, hoe meer bekeerdes daar in ‘n gemeenskap, staatsdiens of land aanwesig is, hoe positiewer die invloed! 

8. Behels ‘n naïwe optimisme dat die mens deur ‘n verskeidenheid van aksies en aktivisme die aarde ‘n beter plek kan maak. Dit maak nie genoeg erns met die feit dat die probleme waarmee die mensdom te kampe het die direkte gevolg van sonde of die indirekte nalatenskap van die sondeval is nie. Horton slaan weereens die spyker op die kop as hy opmerk: “Terrorism, global warming, and AIDS are problems we need to address as responsible human beings together with non-Christians in our common life together… However, the Great Commission is not the Great Cultural Mandate… If we could resolve our top ten crises in the world today, we would still have the devil on our back, sin mastering our heart, and everlasting death as the penalty for our mutiny.” Die wortel van alle ellende is die mens se sonde en dis die unieke taak van die kerk om hiervoor die oplossing aan te bied in die verkondiging van die evangelie. Jesus het immers gekom om sy volk van hulle sondes te verlos. (Matteus 1:29) 

9. Misken of onderspeel die Bybelse hoop wat gerig is op ons ewige erfenis, die opwindende werklikheid van die nuwe hemel en nuwe aarde. Natuurlik leer die Woord ons nie om hande gevou te sit en vir die wederkoms te wag nie. Natuurlik moet ons as verantwoordelike burgers nou hard werk sodat ons (en andere saam met ons) kan eet. Natuurlik, moet ons uitreik na ‘n wêreld in nood en nou en hier sout en lig wees. Dit behels om deur heiligheid (wat barmhartighed insluit) God te eer te midde van ‘n krom en verdraaide geslag. Tog was die fokus van die eerste Christene (juis omdat hulle so vervolg is weens hulle kompromislose lewens) die heerlike erfenis wat wag. Daarom sien Paulus daarna uit om by Jesus te wees, al weet hy dat hy nog werk oor het om te doen op aarde. Christene is realistiese mense. Ons weet dat nie die ANC, of die VN of Siener van Rensburg se aanhangers die wêreld ‘n beter plek gaan maak nie. Ons glo dat hierdie aarde eers deur vuur gesmelt en gereinig sal word, voor God dit gaan herskep by Jesus se wederkoms! “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? -- julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” (2 Petrus 3:11-13) Wat ‘n heerlike vooruitsig! Die Christen neem met blydskap kennis van Jesus se uitspraak teenoor Pilatus : "My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie," antwoord Jesus. "As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie." (Johannes 18:36) Hierdie wêreld is ook nie ons finale tuiste nie, ons is bloot vreemdelinge en tydelike bywoners. 

Dis juis Christene wat hierdie hoop op ‘n ewige erfenis die sterkste koester, wat ook nou heilig en gehoorsaam lewe en ‘n verskil maak in ander mense se lewens. Hoekom? Ons weet ons gaan voor ons Koning verantwoording doen, ons weet ook daar wag ‘n beloning! 

10. Dit maak nie onderskeid tussen die Groot Opdrag (die kerk se sendingtaak), die Liefdesgebod (vir alle mense) en ons Kultuurmandaat (om die aarde te onderwerp) nie. Jesus se laaste opdrag is baie duidelik dat ons mense sy dissipels moet maak deur die verkondiging van die evangelie. Sondaars moet uitgedaag word om hulle te bekeer en in Hom te glo. Die kerk mag nooit hierdie primêre fokus verloor nie. Die korrekte aandag aan die ander twee sake is ‘n uitvloeisel van eersgenoemde. Mense wat reeds sy dissipels is sal noodwendig in gehoorsaamheid aan Hom ook ander mense liefhê en in alle verhoudings (ook teenoor die skepping) nuut leef. Hierdie nuwe lewensstyl dien ook weer om die verdere evangelieverkondiging meer geloofwaardig te maak. 


Kan ons iets leer by die “Social Gospel”? Beslis ja! ‘n Mens kan van almal iets leer. (selfs van die duiwel, hy is ‘n voorbeeld van vlytigheid!!) Alle grappies daar gelaat. Ja, dit is so dat daar by sommige opregte Christene ‘n skeeftrekking kan plaasvind. ‘n Oorbeklemtoning van die suiwere leer, terwyl die praktiese Christelike lewe wat naasteliefde insluit verwaarloos kan word. Soos in baie gevalle is die “Social gospel” ‘n dwaling wat deels ontstaan het vanweë ‘n eensydige Christenskap wat liefde tot die medemens verwaarloos het. Die “Social Gospel” bly egter ‘n vals boodskap wat verwerp moet word, maar dit moet ons tog aanmoedig om seker te maak dat ons nie in ivoortorings sal lewe wat die geloofwaardigheid van die evangelie sal skaad nie. 

Voetnotas

*Hierdie is nie ‘n akademiese bespreking van die “Social Gospel” in al sy variasies en uitlopers (soos byv. Bevrydingsteologie) nie. Die term word baie breed oorkoepelend gebruik om die denkrigting aan te dui wat die Bybelse klem op die verhouding tussen God en mens verskuif het na ‘n mensgerigte benadering. Dit word goed beskryf deur H. Richard Niebuhr as volg : “A God without wrath brought men without sin into a kingdom without judgment through the ministrations of a Christ without a Cross.” 

** Ds. Hein Bertram merk tereg op in ‘n reaksiekolom van die aanlyn Kerkbode : “Misdaad, kerkhereniging, seksuele en ander geweld, die aantasting van menswaardigheid, die ekonomie, werkloosheid en arbeidsonrus.”
In die lig van dié stelling moet die sin verderaan verander word na: “Kerkbode is verbind tot die bevordering van die Sosiale Evangelie(Social Gospel).” Die evangelie van Jesus Christus en Kerkbode is twee konsepte wat deesdae oënskynlik totaal vreemd teenoor mekaar staan.