BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

TSUMEB SE STORIE

Elke plek het ‘n storie (geskiedenis). ‘n Verhaal van wel en weë. Of noem dit maar sommer net ‘n verlede as jy wil. Hierdie verlede is egter baie belangrik vir die verstaan en waardering van ‘n plek en sy mense en net so belangrik as mens die toekoms wil bedink en aanpak... Ek deel graag so ietsie van die besonder interessante geskiedenis van Tsumeb met jou. (Vir die wat nie met Namibië se geografie bekend is nie, die huidige dorpe Tsumeb, Otavi en Grootfontein lê naby mekaar in die sentrale noorde van die land en deel in ‘n groot mate ‘n gemeenskaplike geskiedenis.) Die bekendste landmerke in die omgewing is die Otjikoto en Guinas mere, die Hoba meteoriet en ‘n verskeidenheid grotte.

Tsumeb se ryke geskiedenis is deur hoofsaaklik vier faktore “gesmee” en gevorm te wete MENSE, MYNBOU, OORLOG en NATUURVERKYNSELS. Hierdie faktore kan nie van mekaar geïsoleer word nie, maar is in nou wisselwerking en oorvleueling nog steeds besig om die geskiedenis van hierdie dorp en streek te “skryf”. Natuurlik weet die Christen dat God se hand agter alles is, want “history” is immers “His – story” en dit geld ook van ons elkeen se lewens persoonlik!



NAAM



Die ryk verskeidenheid van mense en volkere se rol in Tsumeb se geskiedenis word alreeds duidelik as mens die herkoms van die naam Tsumeb naspeur. Die Hei-//om Boesmans van die gebied het die plek “Tsomsoub” genoem. Dit het te make gehad met die watergate wat gegrawe is wat altyd ineengestort het as gevolg van die los sagte grond. Daar was destyds net een plek rondom die bekende koperheuwel waar water gevind kon word as jy diep genoeg gegrawe het. Dit was in die omgewing van die huidige gholfbaan. Die bekende groen koperheuwel self het ook ‘n bydra tot die huidige naam gelewer. Dit het die Herero’s geïnspireer om die naam “Otjisume” (plek van die padda) aan die omgewing te gee. Vanuit “Tsomsoub” en “Otjisume” het die Blankes blykbaar by die naam Tsumeb uitgekom. In die eerste verslae van die South West Africa Company word die naam as “Soomeb” gespel. (As iemand oor meer presiese inligting beskik, laat weet my asseblief.)






BELANGRIKE MOMENTE UIT DIE GESKIEDENIS



1851 Die ontdekkingsreisiger Francis Galton (daar is ‘n skool op Tsumeb na hom vernoem) vergesel van Charles Anderson reis in die gebied en kom op 26 Mei onverwags op die Otjikoto meer af! Die inboorlinge het geglo dat niemand lewendig uit die meer kan kom nie. Galton, Anderson en Allen het egter lekker in die meer geswem ten aanskoue van die inboorlinge. Dit het egter die wantroue van hulle gids opgewek wat hulle nou as towenaars beskou het! Belangriker vir die geskiedenis was dat Galton tydens hierdie reis na Ovamboland, die aanwesigheid van koperneerslae in die Otavi bergland aangeteken het.



1857 ‘n Reisgeselskap waaronder die Rynse sendelinge Hahn en Rath asook die jagter-handelaar Green het op 17 Junie op ‘n groep Ovambo mans afgekom wat kopererts, waarskynlik afkomstig uit die Otavi omgewing in gevlegte mandjies gedra het na hulle land.






1875 Vier handelaars, Hickey, Thomas, Wilmer en die Amerikaner Mckiernan (wat sy ervaringe te boek gestel het) het van Walvisbaai na die Otavifontein gereis en is deur ‘n jagter, Brooks ingelig oor die nabygeleë koperontginning van die inboorlinge. Hulle het ondersoek ingestel en gemeen dat die myn waardevol sou wees as dit nader aan die see was.



1884 ‘n Duitse Protektoraat (Schutzgebiet) kom tot stand in Suidwes-Afrika met die hys van die Duitse vlag op 7 Augustus naby Luderitzbucht. Duitse gesag is stelselmatig oor die gebied uitgebrei.




1885 William Worthington Jordan, ‘n gekleurde uit die Kaap koop ‘n groot gebied van 957 vierkante myl wat die huidige Tsumeb insluit van die Ndonga hoofman, Kambonde yaKampingana. Vir hierdie reuse area het Jordan 25 gewere, ‘n “gesoute perd” en ‘n vat brandewyn betaal. Jordan het in 1878 bevriend geraak met die Dorslandtrekkers wat vanaf die Transvaal gekom het. Hulle het langs die suidelike wal van die Kavango beweeg via Namutoni en vir ‘n tyd lank in Kaoko Otavi en Rusplaas in Kaokoland vertoef waarna hulle na Angola is. Sommige was nie hier gelukkig nie en ongeveer 20 gesinne het hulle op ‘n deel van die grond wat aan Jordan behoort het, by Gei/ous (Grootfontein) gevestig. Onder hulle was vanne soos Labuschagne, Prinsloo, Bouwer, Venter, Van Vuuren, Du Plessis, Opperman, Botha, Robbertse, Jordaan... In Oktober 1885 het hulle ‘n verdrag met Jordan gesluit en so het die Republiek Upingtonia, vernoem na die eerste minister van die Kaap, sir Thomas Upington sy ontstaan gekry. (Later is die naam na Lydensrust verander) G.D.P. Prinsloo was president, C. Leen sekretaris, Louw du Plessis landdros, B.D. Bouwer was kommandant en D.P. Black ‘n ‘veldkornet’. Tussen 1885 and 1887, is 43 plase toegeken waaronder Strydfontein, Rietfontein, Tygerfontein en Bavejaansfontein. Die republiek was egter van meet af in die moeilikheid. Die Herero hoofman, Maharero was nie gediend met die Boerevestiging nie en het die gebied as syne beskou. ‘n Groot terugslag was die moord op Jordan in 1886 deur Kambonde se broer Nehale. Om alles te kroon word ‘n Boer, du Toit naby Grootfontein deur ‘n Boesman vermoor. Aan die einde van 1886 het die gebied onder Duitse beskerming gekom, maar dit het nie ‘n praktiese verskil gemaak nie, aangesien die Duitse owerheid nog nie daadwerlike beveiliging kon verleen nie. Malaria en voortdurende Boesman aanvalle het hulle moed gebreek en teen die middel van 1887 het sommige na Transvaal en Angola teruggekeer. Party het hulle ook op Omaruru gevestig. 



1892 Die South West Africa Company verkry die mynregte oor ‘n oppervlakte van 13 000 km2 . ( ‘n Ooreenkoms tussen Maharero en die handelaar R. Lewis oor regte in hierdie gebied is klaarblyklik geïgnoreer)



1893 ‘n Mynekspedisie onder leiding van Mathew Rogers kom in die gebied aan. Op 12 Januarie word die groen koperheuwel besoek en Rogers se kommentaar was : “The outcrop of copper here is the finest mineral outcrop I have ever seen.”



1900 Op 6 April word die bekende Otavi Minen und Eisenbahn Gesellschaft (Otavi Myn en Spoorweg Maatskappy) of te wete O.M.E.G. in Berlyn, Duitsland gestig. Die stigters was die South West Africa Company Limited en die Exploration Company Limited (in London gestasioneer) en die Berliner Disconto Gesellschaft. Twee ekspedisies word na Duitswes gestuur om ondersoek in te stel na die uitvoerbaarheid van die ontginning van ertsliggame by Asis, Nagaib, Guchab en Tsumeb asook die konstruksie van ‘n spoorlyn na die see.



1903 Arthur Koppel van Berlyn en sy span begin werk aan die smalspoor (60 cm) tussen Swakopmund en Tsumeb. Theodor Gathmann word as myndirekteur in Tsumeb aangestel. Weens ‘n gebrek aan akkommodasie en water bly hy en sy gesin by Otavifontein. Mynwerksaamhede word vertraag deur die uitbreek van die Herero opstand in 1904. Oorlog en politieke veranderings sou in die toekoms by meer as een geleentheid ingrypende veranderings in die mynbou tot gevolg hê...



1905 Hierdie jaar word beskou as Tsumeb se stigtingsjaar. Weens die Herero oorlog kon mynbou aktiwiteite by die ou skagte van vorige ekspedisies eers in November hervat word.

1906 Op 13 November kom die eerste trein op Tsumeb aan.



1907 ‘n Waterpypleiding van die Otjikotomeer na Tsumeb word voltooi. Die eerste besending erts word na Hoboken by Antwerpen, België verskeep.

1908/9 Uitsonderlike hoë reënval van 1949,4 mm word aangeteken. Dit het blykbaar die gevolg dat ou ossewaspore van William Jordan oopspoel. Hierdie erosie het ‘n rivier midde in die dorp laat ontstaan wat as die Jordanrivier (of Jordaan) bekend is. (Dit loop deur die huidige United Nations Park)

1910 Erwe word opgemeet en ‘n polisiestasie en poskantoor word gebou. O.M.E.G. verkoop die Otavi spoorlyn aan die Duitse Ryk, hoewel hulle dit steeds bedryf op ‘n huurpagbasis.

1914 Die Eerste Wêreld Oorlog breek uit. Op 2 Augustus word alle pos en telegraaf kommunikasie tussen Tsumeb en Berlyn verbreek. ‘n Radiotoring van 85 meter hoog, wat in die O.M.E.G. werkswinkel te Usakos vervaardig is, word opgerig wat Tsumeb via Kamina (in die Duitse kolonie van Togoland) met Duitsland verbind. Die smeltery word gesluit, maar die myn gaan voort met produksie. Duitse krygsgevangenes word agter die Minen hotel gehuisves, waar die privaatskool nou is.

1915 Die Duitse magte kapituleer op 9 Julie by Khorab. (naby Otavi) Die Duitsers onder leiding van Gunther Wallbaum gooi 30 kanonne en 4500 kiste ammunisie in die Otjikoto meer. (Van hierdie kanonne word in 1983 deur Rob de Koning, Tulio Parreira en Oppies Opperman na die oppervlakte gebring. Dis in die Museum te sien. Tulio verloor sy regterarm in die proses.) Die Unie van Suid-Afrika neem die administrasie van Duitswes oor. Die spoorlyn is onmiddelik gekonfiskeer maar O.M.E.G. se ander eiendom is onaangeraak gelaat.

1916 Die eerste militêre magistraat, C.R. Poppe word in Tsumeb aangestel.

1920 In September besoek Generaal Smuts vir Tsumeb.

1932 Die Groot Depressie raak produksie. Teen 30 Junie 1933 word die mynbedrywighede gestaak.

1937 Op 8 Maart word die myn weer deur O.M.E.G. geopen.

1939 Die Tweede Wêreld Oorlog breek uit op 1 September en ‘n Suid-Afrikaanse voog word in beheer gestel van die O.M.E.G. aanlegte, werkswinkels en plaasgrond.

[WE WILL REMEMBER THEM  ONS SAL HULLE ONTHOU  EUCH ZUM GEDENKEN]

(Die metaalhelm is deur PJJS Harmse gemaak. Kota Harmse, een van sy seuns het dit so aan my meegedeel.)

1940 Die myn gaan aanvanklik voort met werksaamhede, maar word op 25 September gesluit weens die oorlog, wat ook die internering van Duitse vakmanne tot gevolg gehad het.

1942 Tsumeb word as ‘n verbode gebied verklaar en ‘n permitstelsel word ingestel.

1944 Die weermag verlaat Tsumeb in Februarie.

1947 Op 6 Januarie is die eiendom van O.M.E.G. vir slegs £1 010 000 oorgedra aan ‘n sindikaat waaronder Okiep Copper Company. So het T.C.L. tot stand gekom. (Tsumeb Corporation Limited)

1948 Lede word gewerf vir ‘n skietkommando. Daar word .303 Merk II gewere aangeskaf wat lede later kon koop nadat hulle ‘n sekere tyd in die vereniging gedien het. (In 1953 het soortgelyke skietverenigings in Grootfontein en Otavi ontstaan. Al drie het toe bekend gestaan as die Etosha skietkommando. Met Wet 44 van 1957 is die skietkommando’s vervang met ‘n kommandostelsel)

1949 In Mei kry Tsumeb ‘n Dorpsbestuursraad. ‘n Honderd woonhuise is reeds gebou en nog honderd word beplan. In Augustus word die TCL Ontspanningsklub en hospitaal voltooi.

1950 ‘n Afrikaans Medium Laerskool word voltooi. Swaar reën in die omgewing veroorsaak dat die Otjikoto meer oorloop. Een van die kleurryke figure van Tsumeb, Uli Hasse keer terug na die dorp. Hy is in 1919 te Kalkfeld gebore en kom met sy ouers en broers in 1920 na Tsumeb. Hy gaan in 1935 na Duitsland en sluit by die Luftwaffe aan in 1937. In 1941 word hy afgeskiet en moes vir ‘n uur en ‘n half in ysskoue water swem. Vir sewe jaar was hy ‘n krygsgevangene eers in Engeland en daarna in Kanada.



1950 Die NG Gemeente Tsumeb word gestig. Vroeër was die lidmate deel van die NG Moria gemeente wat die noordelike deel van die land beslaan het vanaf Omaruru tot Grootfontein. Ds. P. J. Fourie van Grootfontein gemeente word die eerste leraar van die nuut gestigte gemeente.



1951 Die hoeksteen van die NG Kerk Tsumeb se kerksaal word op Saterdag 28 Julie deur M. D. Banghart van T.C.L. gelê. Hy was ‘n Amerikaner wat in 1940 na Suider Afrika gekom het in die diens van Okiep Copper Company en ook T.C.L. se bestuurder geword het.








[ Waarom sou ‘n Amerikaanse mynbestuurder gevra word om die hoeksteen van ‘n NG kerksaal te lê? Dis die vraag wat onmiddelik by mens opkom. Terloops, sy van word verkeerd gespel op die hoeksteen. Ek het bietjie na ‘n ou notule gekyk van ‘n spesiale Kerkraadsvergadering van 2 Februarie 1951. Dit gee ‘n leidraad...



Lening : Brs. G van Tonder/G. P. Cloete stel voor dat sodra T.C.L. skriftelik bevestig dat die £10,000 lening goedgekeur is, die £4000 @ 4% rente aan die NG Kerk kas terug betaal word.



En verder aan...



Hoeksteen : Vergadering voel eens met die voorstel van Dr. C.H.J. Schutte/ G. Van Tonder dat Mnr. Banghard gevra word om die hoeksteen te lê.



Kommissie Brs. C.H.J. Schutte, G. Van Tonder en W.H.J. Botha sal Ds. Fourie behulpsaam wees met die uiteensetting en opstel van die opskrif op die hoeksteen.



T.C.L. was inderdaad baie nou verweef met die gemeenskap! Hulle leen selfs geld vir 'n kerksaal! Die hoeksteen word uitgestal by ons huidige kerkgebou in 4de Laan.] 



1951 Die Landdroskantoor word voltooi. 


1952 J.D. Stewart is Tsumeb se eerste senior landdros.

1956 Op 22 Februarie tref ‘n wolkbreuk vir Tsumeb. Die vloed in die Jordanrivier eis die lewe van Daniël Kleingeldt toe sy motor meegesleur word.





1960 Op 25 November word daar afskeid geneem van die smalspoorlyn wat met ‘n breë spoorlyn vervang is. Op 22 Desember brand T.C.L. se bioskoopsaal af.



1964 Op 3 Maart word die smelter van T.C.L. ingewy deur die Administrateur van Suidwes-Afrika. Die Hoërskool Etosha ('n Afrikaans medium skool) kom tot stand met E.P.F. Gouws as die eerste hoof. Die leuse van die skool is "STAAN BRANDWAG"



1966 Die Etosha kommando raak betrokke teen insypelaars in ‘n stryd wat later as die Bosoorlog bekend sou staan. Die eerste insurgent word op die plaas Leeudrink, naby die Etosha wildtuin geskiet. Met verskeie insypelings soos in 1976, 1979 ens. het hierdie kommando sy deel gedoen.



1968 Op 1 Julie word Tsumeb ‘n munisipaliteit. J.H. Bruwer Blignaut word as die eerste burgemeester verkies.

1970 In die vroeg sewentigs het my pa, Johan de Koning in samewerking met verskeie boere dienste vir die Hai//om plaaswerkers gehou. Onder die skewe Wildevyeboom op die plaas Driehoek het van die eerstes tot bekering gekom.



Die gemeente van die NG Kerk onder die Hai//om word daarom Wildevy genoem.




1979 Die wreedheid van die bosoorlog in die noorde van die land ruk mense aan die hart toe twee weerlose Roodt–kinders en hulle ouma wat hulle opgepas het op die plaas Wildernis deur insypelaars met bajonette vermoor word.



1980 Met die instelling van die Suidwes-Afrika Gebiedsmag (SWAGM) op 1 Augustus word die kommando eenhede nou bekend as areamageenhede. Etosha Areamageenheid lewer verskeie prestasies. Die kaplyn-idee is deur hierdie eenheid voorgestel. Dis ook die eerste Areamageenheid wat ‘n lid oplewer wat die Honoris Crux medalje vir dapperheid ontvang in die persoon van 2de Luitenant D.R. van der Westhuizen. Dit hou verband met ‘n insident op 14 April 1981 waartydens hy homself doelbewus aan gevaar blootgestel het, om sy makkers te help. ‘n Jaar en ‘n dag later op 15 April 1982 sneuwel hy, sy skoonseun J. H. Potgieter en 'n spoorsnyer Jan Kouswab en verskeie ander toe hulle Ratelvoertuig deur RPG7 vuurpyle getref word.

[ 2de Lt. van der Westhuizen en sy skoonseun is langs mekaar begrawe]

1981 In November vier Tsumeb sy 75ste bestaansjaar. By die geleentheid word 7de Weg herdoop na OMEG ALLEE ter nagedagtenis aan die stigters van die dorp.

1982 Die Tsumeb gemeenskap treur oor verskeie lede wat in die terroristestryd sneuwel. Behalwe die insittendes van die Ratel na wie reeds verwys is, was daar ook D.J.J. (Rassie) Erasmus van die plaas Vaalwater wat in 'n landmynontploffing ernstig beseer word en later beswyk, J.P. (Bol) Steyn van die plaas Massaus wat in 'n landmynontploffing op slag sterf. Louis Fourie van die plaas Ruimte word op kort afstand naby die plaashuis geskiet. Saam met hom sterf onderkorporaal Hercules (Klasie) Bester van Kemptonpark, Suid-Afrika.  Die aanvallers probeer daarna oor die heining van die plaashuis klim, maar word deur die dapper optrede van  mevrou Sientie Fourie wat op hulle skiet, verdryf en so word nog 'n groter tragedie afgeweer! (twee dogters en 'n kleinkind was ten tye van die aanval ook nog in die huis) Tannie Marthie Stehle, een van die Fouries se dogters, was op 'n stadium ons skriba.



1983 Militêre geskiedenis word gemaak (in die konteks van die Bosoorlog) toe twee eenhede op dieselfde dag, 24 September die amptelike reg tot Vrye Toegang tot die dorp Tsumeb ontvang het. Die eenhede was Etosha Areamageenheid en 61 Gemeganiseerde Bataljon Groep. (61 Meg) Die bevelvoerder van Etosha Areamageenheid was Kommandant L.M.J. Nel. Oom Lukas Nel, ‘n veteraan uit die Tweede Wêreld Oorlog het in 2012 nog sy negentigste verjaarsdag hier op Tsumeb gevier. Hy het saam met sy pa in 1926 na Suidwes per stoomtrein gekom.  Voorheen het oom Lukas op die plaas, Malta geboer. Hy het die plaas so genoem na sy wedervaring van ‘n noodlanding op die eiland Malta in die oorlog. Hy was ‘n vlugingenieur in die lugmag aan die kant van die Geallieerdes met diens in Noord Afrika en Italië. Die burgemeester in 1983 was raadslid A.J. Botes.


[Oom Lukas Nel op negentig]




1988 Die Suid-Afrikaanse mynreus Goldfields koop TCL en bedryf dit as GFN (Goldfields Namibia)

1990 Suidwes-Afrika word ‘n onafhanklike land met die naam Namibië. Vir Tsumeb sou dit ook ingrypende veranderinge teweegbring. Een van die praktiese gevolge sou wees dat die onderrigmedium by staatskole verplig word om na Engels te verander. 

1994 ‘n Afrikaanse privaatskool, Tsumeb Gimnasium kom tot stand. Die kategeselokale van die NG Kerk in 4de Laan word as klaskamers gebruik. Dries Horn is die eerste skoolhoof. Oom Dries dien tans (2018) nog op die kerkraad van die NGK Tsumeb. 

1998 Gedurende die 1990’s verswak die koperprys en skep probleme vir die bedryf. Pogings om die myn te red kry ‘n nekslag met langdurige en gewelddadige arbeidsonrus wat in Augustus 1996 uitbreek. Dit het onder andere tot gevolg dat die De Wet skag oorstroom. TCL (Goldfields Namibia Ltd) word tot insolvensie gedwing in 1998. Ongeveer 2000 werkers verloor hulle werk. Dis ‘n geweldige terugslag vir Tsumeb.

1999 ‘n Baie groot slag tref die gemeenskap en Tsumeb Gimnasium toe hulle geliefde hoof, Wickus van Wyk in ‘n motorongeluk sterf. Linda sy vrou, is tans (2018) ons orreliste by die NG Kerk, Tsumeb.

2000 ‘n Nuutgestigte Namibiese maatskappy, Ongopolo Mining and Processing Ltd. neem met regeringsondersteuning die aanddele van Goldfields Namibia in TCL oor. Andre Neethling was die besturende direkteur.

2006 Weens ernstige finansiële probleme verkoop Ongopolo sy meerderheidsaandeel aan die London genoteerde maatskappy, Weatherly International Plc.

2007 Tsumeb kry ‘n ekonomiese inspuiting met die oprigting van die Ohorongo sement fabriek tussen Tsumeb en Otavi.

2008 In Desember, met ‘n koperprys wat onder 4000 USD per ton geval het, skort Weatherly mynbedrywighede op. Die smelter word nog aan die gang gehou. 

2010 In Maart verkoop Weatherly die smelter aan Dundee Precious Metals Inc vir N$ 33miljoen. Weatherly behou al die myneiendomme.

2014 Reinhard Friederich 'n boer van die plaas Choantsas, 'n kenner van die natuur en veral die Hai//om Boesmans skryf 'n boek oor hierdie besondere mense wat ook in Engels vertaal word as "Etosha : Hai//om Heartland"


Reinhard en Yvonne Friederich (2017)


2015 Deon Lamprecht skryf 'n boek oor tannie Pompie van  Westhuizen van die plaas Koedoesvlei, 'n held van die Bosoorlog hier in die Tsumeb se omgewing. Haar man en skoonseun sterf in 'n hinderlaag. (sien bo)

Die smelter op Tsumeb smelt onder andere erts uit Bulgarye. Vanaf  2015 swaelsuur op groot skaal geproduseer as 'n byproduk.





[Hierdie stukkie geskiedenis is nog nie voltooi nie, jy is welkom om kommentaar te lewer, korreksies te maak of insette te lewer en foto's beskikbaar te stel.]

4 opmerkings:

  1. goeie dag ds de Koning

    Ek het die geskiedenis van Tsumeb interessant gevind. Wat bygevoeg moet word meen ek is die rol van die stille werkers gedurende die oorlog.
    Ek self was predikant van die Gereformeerde Kerk vanaf 1984-1990 op Tsumeb. Ds Herman Oosthuizen van die NG Kerk, ds Botes van die Herv. Kerk vir 'n kort tyd.
    Ds Willie Maree van NG Kerk suid. As daar terroriste in die blanke gebied gekom het. en die boere mag nie ry nie, was ons, naas Polisie en Soldate, die vebindingslyn met die boere. Jy het met Weermag beskerming, 'n soldaat wat saam ry, gaan besoek doen op plase. Onthou nog hoe het ek op versoek brood ea. moes koop en saam neem plaas toe. Die saam bid. Die net daar wees. Die besoeke en nagmaal aan soldate in basis. Die vroue van soldate, op Tsumeb, Ondagwa, Oshakati, wat alles tuis normaal moes laat loop terwille van kinders. My storie word te lank. Dis geskiedenis op sy eie.
    Voorspoed
    Kobus v Tonder

    AntwoordVee uit
  2. Ek het ook in Tsumeb grootgeword. My pa Tienie van Staden het vir Norman de Jager, die bevaamde Sarah de Jager se man gewerk as bouvoorman en was betrokke by bou van meeste van myn se woonhuise. Ek en man was daar en elkeen van daar plaasaanvalle beleef en meeste van daai mense persoonlik geken.

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Baie dankie vir die interessante inligting. Dit sou net lekker wees om ook u naam te weet ter wille van die geskiedenis! Groete

      Vee uit
    2. Wat 'n geskiedenis. Ek het groot geword tussen Oshakati, my oupa se plaas Welverdient(Tussen Ojikoto meer en Etosha) en Tsumeb. Oupa en ouma was Koot en Hester van Tonder. Hul kinders was Kobus( my pa en ook Posisieman vir 'n tyd), Magda Koukakus, Stella Pretorius, Ina Wolfaardt, Lena Alberts, Christa van der Merwe en Ben van Tonder. My ouma aan my ma se kant was Anna Clark wat by die winkeltjie gewerk het oorkant die Menin Hotel nou. My oupa was Nobbie Clark. My ma was Barbara (Pokkies) en haar susters was Brenda, Kleintjie en boetie Oubaas. Half broer en susters Adolf Bause, Baby en Karin. Ons is ook famielie van al die Lusse's en Vermeulens. Dankie vir die stukkie waardevolle geskiedenis.

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.