BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Seksuele reinheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Seksuele reinheid. Wys alle plasings

Vrydag 23 Oktober 2015

MOET EROS REGEER?

SEKS IS NIE ALLES NIE!

"Ons leef in ‘n tyd waarin Eros haar reg en heerskappy oor ons lewens met ‘n byna gewelddadige volgehoudenheid oor ons lewens wil uitoefen."

Ds.Eugene Viljoen skryf treffend oor hierdie sake. Hier is stof wat stem tot diep nadenke en selfondersoek :


Seksualiteit en selfverloëning

Inleiding

Ons leef in ‘n tyd en samelewing waar seksualiteit deur talle mense beskou word as ‘n gebruiksartikel. Dit is iets wat nie alleen geniet kán word nie, maar selfs deur almal wat wil geniet móét word. Elkeen het blykbaar die reg daarop. Seksualiteit word bekyk vanuit die perspektief as ‘n basiese lewensdrang of -lus. Soos wat ‘n mens ‘n basiese drang na voedsel, beskerming en veiligheid het vir sy oorlewing, só is seksualiteit ‘n basiese lewensdrang waaraan met genot en vryheid uiting gegee móét word. Die manier waarop die liggaamlike omgang tussen man en vrou dan ook heel kort as “seks” beskryf word, is tiperend van hierdie verbruikersmentaliteit. Die woord wil heel kort verwoord dat ‘n natuurlike drang uitgeleef word. Van liggaamlike eenwording tussen ‘n man en vrou in ‘n huweliksverhouding waar uitdrukking gegee word aan hulle wedersydse liefde, kom min tereg in so ‘n besondere kaal woord. Seksualiteit word versmal tot ‘n drang en ‘n daad.

Sondag 15 Februarie 2015

Heiligheid, huwelik en seksualiteit



Getuienis van die Kerkraad, NG Kerk Tsumeb:



1.Die Kerkraad bely in die lig van die Skrif dat die huwelik tussen een man en een vrou ‘n instelling van God is en die enigste ruimte is waarin die mens sy Godgegewe gawe van seksualiteit kan uitleef. Die huwelik is ‘n formele verbintenis met duidelike grense. Om saam te woon of selfs verloof te wees is nog nie ‘n huwelik nie!


2.Die Kerkraad wys lidmate daarop dat God se voorskrifte oor die heiligheid van die huwelik deel is van die basiese opdrag tot heiligmaking en dat die verwerping hiervan neerkom op ‘n verwerping van God self en dus sy straf oor ons bring.

3.Die kerkraad wil lidmate ernstig vermaan teen alle oortredings van die sewende gebod soos egskeiding, losbandigheid, alle voor en buitehuwelikse seksuele verbintenisse (byv. ongetroude saamwoon), homoseksuele dade, die kyk na pornografie, maar ook meer subtiele vorme soos ongewenste films, webwerwe en literatuur wat nie in lyn is met God se standaarde vir sy kinders nie. In ons stryd teen hierdie sondes, moet ons nie net die sonde self vermy nie, maar ook gewoontes, kompetisies, vermaak, situasies en praktyke wat ons daartoe kan verlei. Die kerkraad maak hierdie uitspraak nie vanuit ‘n posisie van hoogmoedige selfgeregtigheid nie, maar is inteendeel diep bewus van die feit dat almal van ons aan hierdie tipe versoekings blootgestel word.

4. Die kerkraad is bewus van baie verskonings wat spesifiek aangevoer word ter verdediging van die saambly gewoonte, soos finansiële en praktiese omstandighede. Die feit bly egter dat sonde ‘n verwoestende, ernstige saak is en dat ons opgeroep word om selfs tot die dood daarteen te stry. Die Here se seën sal nooit op ‘n sondige verbintenis rus nie, want God kan nie ontrou wees aan sy eie Woord nie.

5.Die kerkraad is bekommerd en hartseer dat lidmate wat bely dat hulle Jesus ken, deur hulle ongehoorsaamheid aan Bybelse standaarde ten opsigte van huwelik en seksualiteit, hulle getuienis en gevolglik die naam van die Here ernstig skade aandoen. God se kinders is immers geroep om onberispelik te leef en te skyn in ‘n donker wêreld, ook in ons huidige samelewing wat gekenmerk word deur uiterste immoraliteit.

6.Die kerkraad wil almal wat op hierdie terrein oortree het in liefde oproep tot berou en bekering en hulle daarop wys dat alle sondaars by Jesus welkom is. Waar daar berou en bekering is, is daar volle vergifnis vir alle sonde op grond van Jesus, ons Middelaar se soenverdienste.

7.Die kerkraad wil egter ook lidmate wat op ‘n openbare (en dus tugwaardige) manier in hierdie sondes volhard, waarsku dat hulle lidmaatsvoorregte in gedrang kan kom. Die Skrif verbied immers gemeenskap met die sulkes wat hulleself binne die gemeente bevind.

8.Die kerkraad doen ook ‘n beroep op ons kerk se meerdere vergaderings en amptelike organe (soos DIE KERKBODE) om hulleself duideliker en meer gereeld uit te spreek teen hierdie tipe dinge wat die naam van Here en sy kerk oneer aandoen.




Teksverwysings :

1. Genesis 2:18; Markus 10:9; Matteus 1:18

2. 1Tessalonisense 4:7,8; Hebreërs 13:4

3. Matteus 5:27-28; Romeine 1:18-32; Efesiërs 5:3-5

4. Hebreërs 12:14

5. Filippense 2:15

6. 1 Korintiërs 6:9-11, 1 Johannes 1:5-2:1

7. 1 Korintiërs 5:11,12

[Goedgekeur op die kerkraadsvergadering van Sondagmiddag 15 Februarie 2015]

Donderdag 15 Januarie 2015

GOD SE WIL VIR MY

- is baie duidelik!

“Wat is God se wil vir my lewe? Wat is sy planne vir my toekoms?” Dis ‘n vraag wat mense dikwels vra, veral dalk hier aan die begin van ‘n jaar. Ons vra dit gewoonlik in verband met dinge soos : “Watter werk moet ek aanvaar, moet ek op ‘n ander plek gaan woon, met wie moet ek trou, waar moet ek gaan studeer...?” By sommige is daar groot nuuskierigheid oor God se wil (eintlik meer oor die toekoms) en hulle gebruik allerhande kunsmatige metodes – Hulle kyk waar die Bybel oopval en gryp sommer die eerste teks as ‘n aanduiding van God se wil... Hulle kyk gedurig uit vir tekens en visioene... Aan die anderkant is baie mense weer bevrees oor God se wil.... “Sê nou maar die Here stuur my na ‘n plek wat vir my heel onaanvaarbaar is, sê nou maar God gee my ‘n opdrag waarvoor ek glad nie kans sien nie?” (Dis natuurlik 'n ongegronde dwase vrees, want hoe sou die Persoon wat jou die meeste liefhet in die ganse heelal iets slegs vir jou beoog?)

DIE BASIESE BEGIN...

Kom ons vergeet eers van alle metodes en vrese en kyk eenvoudig na wat God se Woord vir ons sê. Anders gestel kom ons kyk eers na die basiese Bybelse vertrekpunt rondom die saak van God se wil. 1 Tessalonisense hoofstuk 4 is ‘n goeie beginpunt. “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.” (3) Jy sien, God se wil is volgens die Bybel nie ‘n vreeslike geheim wat deur allerhande metodes ontdek moet word nie! Dit word tog hier duidelik en eenvoudig gestel... Nou sal iemand sê : “Wag ‘n bietjie, dis nie wat ek wil hoor nie, ek wil weet of ek daardie aanloklike werksaanbod moet aanvaar?” Ek dink dis waar ons die groot fout maak, ons ignoreer God se basiese opdrag aan sy kinders en juis daarom tas ons so in die donker rond wat ander besluite betref. Begin by die begin. As jy reeds ‘n kind van God is, is God se basiese wil in die eerste plek dat jy in heiligheid moet leef. (As jy twyfel oor kindskap moet jy na Jesus kom dat Hy jou red, dis dan die belangrikste saak vir jou op God se agenda. Vergeet eers van alle ander dinge.) 

God se wil vir sy kerk (sy kinders) is HEILIGMAKING. Dis in lyn met ons basiese belydenis oor die wese van die kerk : “Ek glo in ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges!” Heiligheid is die basies wil van God en opdrag aan sy kerk. “Daar staan immers geskrywe: "Wees heilig, want Ek is heilig." (1 Petrus 1:16)

REINHEID

Paulus maak die wil van God baie prakties : “Weerhou julle van onsedelikheid.” Dit was destyds uiters aktueel en vandag nog meer so. Dit gaan hier oor alle vorme* van seksuele onreinheid – in woorde, gedagtes, dade... Alle uitlokking (kliek – SNEEUWITJIE), losbandigheid, saambly (kliek – ONDER MY DAK?), egbreuk en alle vorme van perversiteit (Kliek – GAY?). Dis juis op hierdie terrein waar die vroeë Christene radikaal anders geleef het as die omliggende massas mense. Hulle het uitgestaan vanweë hulle nuwe lewenswyse op seksuele gebied. Al die onreinheid wat vandag so aanvaarbaar geword het, was ook reeds deel van die heidense Romeine samelewing. Paulus beklemtoon die erns van hierdie saak. “Die Here straf al sulke dinge.” (6) Paulus maak dit ook duidelik dat dit nie hier oor sy eie voorskrifte of puriteinse gevoelens gaan nie, maar oor God se opdragte! “Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ‘n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.” (8) 

BROEDERLIEFDE

Die ander aspek van God se wil wat hy onderstreep is die broederliefde. Dis so vanselfsprekend dat hy sê dis eintlik nie nodig om daaroor te skryf nie. Hy moedig net die Christene aan om nog meer daarop te fokus. “Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. En dit doen julle dan ook teenoor al die broers in die hele Masedonië. Ons versoek julle egter dringend, broers: Lê julle nog meer daarop toe.” (9,10)

As jy erns wil maak met God se wil, as jy regtig wil weet hoe om te leef, maak erns met die opdragte wat hier gegee word. Dis asof Paulus wil sê : “As hierdie dinge in plek is, moenie verder bekommerd wees nie, gaan net rustig aan met jou lewe en doen jou werk wat jy nou het goed.” (sien vers 11) 

KEUSES?

God se wil vir sy kinders is nie iets vreemds of ‘n geheim wat deur sekere formules ontdek moet word nie. Sy wil is dat jy moet fokus op heiligheid. Los als wat sy Woord verbied en fokus positief op liefde vir jou medegelowiges soos die Woord beveel. As hierdie dinge in plek is, sal jy ook weet watter keuses om te maak t.o.v. beroep, studies, huwelik ens. As hierdie basiese beginsels van heiligmaking afwesig is, soek jy tevergeefs na God se leiding in spesifieke sake.

As ek in een of ander buite egtelike verhouding, enige vorm van onsedelikheid, bitterheid, onvergewensgesindheid... leef, mors ek my asem om te vra dat God my sal lei wat die toekoms en sekere keuses betref!

Kom ons vat dit saam : As jy die basiese wil van God naamlik ‘n heilige lewe nastreef, dan gaan detail besluite oor werk en huwelik en studies... amper outomaties kom. Hoe heiliger jy lewe hoe makliker sal jy die regte besluite neem, want jou begeertes en jou denkprosesse sal al meer in ooreenstemming met God se Woord wees. God se Woord (nie net enkele tekste nie), maar die beginsels van die Woord sal ‘n blywende stem in jou binneste word wat jou daagliks sal lei...

“en jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.” (Jesaja 30:21)

Vir nog verdere praktiese wenke oor die verstaan van God se wil rakende keuses wat ons moet maak, kliek op JI Packer.



[God se koers en wil vir ons is die pad van heiligmaking.]

*Die Griekse woord "porneia" is 'n baie omvattende term.

Maandag 17 November 2014

MOET ONS MEISIES ALLES WYS?

Mag 'n meisie als wat sy het wys aan almal wat wil of ook nie wil kyk nie? Het sy iets om weg te steek? 

Maretha Maartens herinner ons onder andere aan :




"Wanneer iets met sorg bedek word, is die een wat dit bedek, nie noodwendig skaam daarvoor nie. Soms word iets bedek omdat dit te kosbaar is om oop en bloot te lê..."

"Wanneer iets kosbaars vertoon word, word dit aan iemand vertoon met 'n doel. Ons maak die juwelekissie vir die waardeerder oop, sodat hy vir ons kan sê wat dit werd is. Ons haal ons borsspleet onder die halsyn van ons toppie uit om die aandag van mense op ons seksuele begeerlikheid te vestig. Soms doen ons dit sommer in die mall in plaas van die slaapkamer."
  • Ons leef in die tyd van die Groot Vergeet. Die mens het vergeet wie sy Maker en Eienaar is. Elke menseliggaam is ‘n tempel deur God gebou, en bestem om die woonplek van sy Heilige Gees te wees.  Dis nie gemaak om ‘n plek van berekende verleiding te wees waarby mense met wie jy nie in ‘n huweliksverhouding is nie, talm en inloer nie.
Het eerbare meisies iets om weg te steek? Nee. Hulle het iets om te bewaar.
  • Ons leef in die tyd van die Groot Vergeet. Die mens het vergeet wie sy Maker en Eienaar is. Elke menseliggaam is ‘n tempel deur God gebou, en bestem om die woonplek van sy Heilige Gees te wees.  Dis nie gemaak om ‘n plek van berekende verleiding te wees waarby mense met wie jy nie in ‘n huweliksverhouding is nie, talm en inloer nie.
Het eerbare meisies iets om weg te steek? Nee. Hulle het iets om te bewaar.
  • Ons leef in die tyd van die Groot Vergeet. Die mens het vergeet wie sy Maker en Eienaar is. Elke menseliggaam is ‘n tempel deur God gebou, en bestem om die woonplek van sy Heilige Gees te wees.  Dis nie gemaak om ‘n plek van berekende verleiding te wees waarby mense met wie jy nie in ‘n huweliksverhouding is nie, talm en inloer nie.
Het eerbare meisies iets om weg te steek? Nee. Hulle het iet

  • Ons leef in die tyd van die Groot Vergeet. Die mens het vergeet wie sy Maker en Eienaar is. Elke menseliggaam is ‘n tempel deur God gebou, en bestem om die woonplek van sy Heilige Gees te wees.  Dis nie gemaak om ‘n plek van berekende verleiding te wees waarby mense met wie jy nie in ‘n huweliksverhouding is nie, talm en inloer nie.
Het eerbare meisies iets om weg te steek? Nee. Hulle het iets om te bewaar.
Baie sinvolle skrywe van Maretha. Kliek op ALLES WYS? vir haar baie raak en gepaste konklusie!


NASKRIF Dit bevestig net weer die dwase roekeloosheid van SKOONHEIDSKOMPETISIES. Kliek op SNEEUWITJIE!

Vrydag 12 September 2014

“SAAMSLAAP” ONDER MY DAK?

- die ongemaklike dilemma vir Bybelgehoorsame Christene.

Wat moet ek doen as ‘n ongetroude paartjie as gaste in ons huis oorbly en ‘n kamer wil deel? Dit kan goeie vriende, familie of selfs my eie kind wees... Hoe moet ek getrou bly aan my gewete voor God, my getuienis handhaaf, maar ook nog ‘n boodskap van liefde oordra?

GROOT VERVAL 

Die morele verval en die minagting van God se bevele oor reinheid en huwelik het so algemeen geword dat die meeste mense nie eers meer ‘n oog knip as ongetroudes soos getroudes saamleef nie. (Dis ‘n hartseer en skokkende werklikheid ook hier in die gemeenskap waar ons woon.) Natuurlik is dit nie ons plig om mense buite die kerk te “polisieer” en op te pas nie. Dit het Paulus tog baie duidelik gemaak in 1 Korintiërs 5. Wanneer onrein verhoudings binne die gemeente opset plaasvind, mag ons egter nie ons oë daarvoor sluit nie en kom die kwessie van onderlinge vermaning, opsig en tug ter sprake. (hierdie belangrike saak is egter nie nou onder bespreking nie) Die probleem kom egter by ons voordeur aanklop wanneer (ongetroude) goeie vriende of familie in ons huis kom oorbly en dit as vanselfsprekend aanvaar om soos getroudes ‘n kamer te deel. (Miskien is hulle mense wat selfs beweer om Christene te wees...) Moet ons dit weier en die gevaar loop om ‘n kosbare vriendskap te versteur? Moet ons dit maar stilswyend toelaat, ons hande in onskuld was en saamkuier asof niks verkeerd is nie? Dan is die vraag of ons nie ons getuienis van ‘n nuwe moraal in Jesus en die krag van die evangelie om van sonde te bevry in die gedrang bring nie? As hulle sê hulle is ook Christene (en hulself dus so gruwelik mislei) gaan ons nie die misleiding versterk deur als maar net so te aanvaar nie? Dit help tog nie ons knik ons koppe in instemming as ons Sondag ‘n preek oor heiligheid hoor, maar sodra ons by die huis is, laat ons maar goedsmoeds toe dat die Bybelse eis vir seksuele reinheid ooglopend vertrap word nie!

Die Woord van God is baie uitgesproke oor die erns van enige vorm van onsedelikheid.

“Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe;julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie.Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys.God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe.Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net ‘n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het." 
(1 Tessalonisense 4:3-8)

Enige onsedelikheid kom neer op ‘n verwerping van God self!

So hoe moet ek as Christen optree in so ‘n netelige situasie? My siening is dat ons nie mag stilbly nie, maar in liefde die saak openhartig moet aanroer met die betrokke gaste.

Waarom nie stilbly en maar verduur nie?



  • Ons het ‘n Bybelse opdrag om goddeloses te waarsku, anders sal hulle bloed eendag van ons geëis word. God gaan van ons rekenskap eis! (Esegiël 3:18) Wie van ons sal in die finale oordeel verwyte van verlore familie en vriende wil hoor : “Kyk, waar is ons nou, hoekom het julle ons nie gewaarsku oor die toorn van God oor sonde nie?” 
  • Deur maar net niks te sê nie, gee ons stilswyende goedkeuring aan sonde. As ons as Christene nie eers die moed van ons oortuiging het om op te staan vir God se standaarde vir die huwelik nie, nou wel, van wie anders kan ons dit verwag? 
  • Deur stil te bly oor iets wat mense dikwels weet verkeerd is volgens God se Woord, gee ons ‘n boodskap deur dat die goedkeuring van mense belangriker vir ons is as die goedkeuring van God. 
  • As daar jonger kinders in my huis is, kry hulle so van kleins af die boodskap dat verkeerd nie meer regtig verkeerd is nie. Dan sal ek hulle later ook nie oor sodanige sake kan aanspreek nie. 
  • God bring situasies oor ons pad as ‘n geleentheid tot getuienis. Ons mag nie sulke geleenthede verspeel nie. Enige keer kan dalk die laaste keer wees! 
  • As mense sien dat ons ernstig is oor die Bybelse lering oor sonde, sal hulle wanneer die tyd ryp is ook ons boodskap oor die volheid en genoegsaamheid van VERGIFNIS geloofwaardig vind! As hulle agterkom ons is nie bereid om die waarheid oor sonde te vertel nie, hoekom sou hulle ons glo as ons die slag oor vergifnis praat? (Om verder te lees oor radikale en volkome vergifnis, kliek op TWEEDE KANS of BAIE LIEFDE)


MAAR DIS MOEILIK!

“Maar dis baie moeilik, gaan ons deur openlik te praat nie vir altyd ‘n vriendskapsverhouding bederf en juis sulke mense van die Here af wegdryf nie?” Inderdaad is sulke sake nie maklik nie. Daarom moet ons die “waarheid in liefde” praat*, juis ook in so ‘n komplekse situasie. Ons moet die waarheid, dat dit sonde is om voor die huwelik as man en vrou saam te leef duidelik stel, maar op so ‘n manier dat daar nie twyfel oor ons liefde vir die betrokke persone kan wees nie. As dit dan van my sal vra dat ek selfs my eie kamer moet afstaan (as daar nie genoeg spaarkamers is nie) en op die sitkamerbank moet gaan slaap, dan moet dit! (dis John Piper se baie praktiese raad) Met deernis moet ek dit maar reguit aan die paartjie stel : “Luister, ek besef dat julle dinge anders sien, maar as Christen wat aan die Here getrou wil wees, moet ek julle vriendelik vra om hier in my huis waarvoor ek verantwoordelik is, in aparte kamers te oornag. Ek wil nie graag in julle persoonlike lewens inmeng nie, maar ek moet God bo alles eer.”

En as mense (ook ons eie familie of gesinslede) dan vir ons kwaad word en die pad vat? Wel, as dit gebeur (en die kanse is seker redelik goed) is dit nie so snaaks nie. Dis eintlik deel van die vervolging wat ons in hierdie wêreld te wagte kan wees as ons getrou aan Jesus wil bly. Gehoorsaamheid aan Jesus gaan tweedrag tot gevolg hê, ook binne families en gesinne. Elke lojale dissipel moet nou nie juis verbaas wees as jy as verkrampte dweper, skynheilige of moeilikheidmaker uitgekryt word nie.

"Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is.Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.""Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.Ek het gekom om tweedrag te bring ‘tussen ‘n man en sy vader en tussen ‘n dogter en haar moeder, tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder;ja, ‘n man se huismense sal sy vyande wees.’"Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie.” (Matteus 10:32-37)

Mag die Here sy kinders besondere wysheid en krag gee om soos ligte te skyn te midde van ‘n krom en verdraaide geslag! Mag ons ook die moed hê om te ly vir dit wat reg is!

Luister gerus self na die gebalanseerde wyse waarop John Piper hierdie komplekse saak aanspreek. Kliek op  OORBLY IN MY HUIS.


*Efesiërs 4:15




'n Huis verswelg deur die sand... sonde is nog gevaarliker!

Dinsdag 01 April 2014

SO SKAARS SOOS WORS IN ‘N HONDESTAL

- gevolge van menslike rebellie sigbaar in die verval van die huwelik.

‘n Maagd voor ‘n kansel (met betrekking tot beide bruid of bruidegom) het in ons dag so skaars geword soos wors in ‘n hondestal. (Die Oscar en Reeva sage het dit maar net weer onderstreep dat seksuele reinheid bykans glad nie meer bestaan onder die helde en rolmodelle van vandag nie.) Byna net so raar is gelukkige huwelike en heel gesinne. Egskeiding (selfs binne die kerk) is so algemeen dat dit skaars nog ‘n wenkbrou laat lig. Wat egter nog meer skokkend is, is dat die situasie ten opsigte van seksuele reinheid, huwelikstrou en gesinsgeluk onder sogenaamde belydende (of weergebore) Christene min verskil van die ongelowige wêreld daarbuite.

Woensdag 20 Junie 2012

REDDING VAN 'N ROKJAGTER

- ingrypende genadewonder  in die lewe van Augustinus.

So baie is vasgevang in die strik van ‘n seksueel losbandige lewe - pornografie, perversiteit, huweliksontrou en al dergelike dinge. Is dit moontlik om hiervan bevry te word en die voortgaande vreugde van ‘n verhouding met God te kies bo die kortstondige plesier van seksuele sonde? Wel, ja... dis wat met Augustinus gebeur het...

“Ek het na Karthago gegaan, waar ek myself  te midde van ‘n kookpot van wellus bevind het...my ware behoefte was aan U my God, wat die voedsel vir die siel is. Ek was nie bewus van hierdie honger nie...” 

Dis hoe Augustinus later teruggekyk het na sy losbandige en hedonistiese leefstyl as jongman. Hy is op 13 November, 354nC gebore in Tagaste, naby Hippo in die hedendaagse Algerië. Augustinus se vader was ‘n heiden (hy het eers ‘n jaar voor sy dood tot bekering gekom), maar sy moeder Monica was ‘n diep gelowige vrou wat haar lewe lank vir haar seun gebid het! Maar Augustinus se doelwitte was nie in lyn met sy moeder se gebede nie; sy ambisie was om ‘n goeie redenaar te wees. God het egter hierdie vrome moeder se versugtinge verhoor en Augustinus is omgekeer deur die genade van God en ‘n nuwe mens gemaak. Maar dit was  nie so vinnig en maklik nie...

In Karthago het hy ‘n verhouding aangeknoop wat 13 jaar geduur het en waaruit ‘n seun, Adeodatus gebore is. Hy is nooit met hierdie meisie getroud nie.  Maar God was reeds aan die werk....Daar in die kookpot van Karthago het Augustinus  kennisgemaak met ‘n geskrif van Cicero, Hortensius. Hierin het hy  wysheid as verhewe bo plesier aangeprys. Dit was nog glad nie Augustinus se bekering nie (dit sou eers nege jaar later gebeur), maar het sy lewensuitkyk verander. Augustinus het dit so beskryf :

 “Dit het my gebede tot U verander, O Here, en het my van nuwe hoop en aspirasies voorsien...”

Hierna sou dit menslik gesproke kon lyk asof Augustinus weer verder van die waarheid wegbeweeg,. Hy het op ‘n verdere dwaalpad beland,  naamlik die dualistiese lering van die Manicheisme. Dit sou duur tot op ‘n ouderdom van 28 toe hy ontnugter geraak het deur een van die leiers. In sy nege en twintigste jaar is hy na Rome om te gaan onderrig gee, maar kort daarna vestig hy hom in Milaan. 

Hier in Milaan  het God met hom ‘n afspraak gehad.

Hy het die werke van Plotinus ‘n neo-Platonis ontdek wat verdere ontwikkeling in sy denke meegebring het,  maar het ook onder die invloed van die groot biskop Ambrosius se prediking gekom. Hy is gevul met liefde en vrees vir God. Hy vertel van daardie tyd : 

“Ek was verbysterd dat alhoewel ek U liefgehad het...ek nie volhard het in my verlusting in my God nie. U skoonheid het my tot U aangetrek, maar gou is ek weggesleep van U deur my eie gewig en in verslaenheid het ek myself weer ingedompel in die dinge van die wêreld.” 

Augustinus, so lyk dit het sy magteloosheid as sondaar om God te dien,  agtergekom. Die krag van seksuele losbandigheid was sterker as die krag om vreugde in God te vind. (Piper)* Augustinus beskryf sy stryd so:

 “Ek het begin soek vir ‘n manier om die krag te kry wat ek nodig het om U te geniet, maar ek kon nie hierdie manier vind nie, totdat ek die middelaar tussen God en mens, Jesus Christus omhels het nie.”

Sy moeder Monica, het  ook in Milaan aangekom en begin om reëlings vir ‘n huwelik in ‘n Christelike familie te tref. Augustinus het sy jarelange  minnares weggestuur. Daar het egter niks van die voorgenome huwelik gekom nie en hy het ‘n ander minnares geneem. 

Augustinus se probleem wat hom van God weggehou het,  was dus blykbaar nie van een of ander intellektuele aard nie, maar eerder sy wellus!

Toe kom die groot gebeurtenis. Augustinus begin vertel dit so : 

"O Here, my Helper en Verlosser, ek sal nou vertel en bely tot eer van U naam hoe U my verlos het van die kettings van wellus wat my so styf geboeid gehou het en van die slawerny van die dinge van hierdie wêreld.” (Ons vind hierdie beskrywing in sy beroemde "Confessiones"

Op die dag van die finale krisis was die 32 jarige Augustinus saam met sy vriend Alypius in gesprek oor die merkwaardige opoffering en heiligheid van die Egiptiese monnik, Antonius. Sy lewe was in so ‘n sterk kontras met die van Augustinus. Daar was ‘n klein tuintjie by die huis waar hulle tuisgegaan het. Hier het Augustinus homself nou in ‘n geweldige sielestryd bevind. “Ek het my hare getrek en my voorkop met my vuiste geslaan” Verder : “Ek het myself neergewerp onder ‘n vyeboom en my oorgegee aan die trane wat uit my oë gestroom het... Ek het aangehou huil : hoe lank gaan ek sê môre, môre? Waarom nie nou nie? Waarom nie ‘n einde maak aan my aaklige sondes op hierdie oomblik nie?”

Skielik het Augustinus die lied van ‘n kind gehoor in ‘n huis daar naby. Die woorde wat hy by herhaling gehoor het was : “Neem dit en lees, neem dit en lees.” Hy is haastig terug na die plek waar Alypius gesit het en een van Paulus se briewe gegryp, dit oopgemaak en in stilte die eerste gedeelte gelees waarop sy oog geval het. Dit was die aangrypende gedeelte in Romeine 13:13-14 wat sê :

“Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.”

Toe hy by die einde van die sin kom was dit asof die lig van vertroue in sy hart ingestroom het en al die donkerte van vertwyfeling verdryf het.  Augustinus het ‘n nuwe mens geword... Tydens Pase van 387nC is hy deur Ambrosius in Milaan gedoop.

Die geredde rokjagter  het ‘n groot kerkleier en teoloog geword wat gestry het vir die waarheid. Die waarheid van God se soewereine genade. ‘n Genade wat ons nie kan verdien nie, ‘n genade wat God skenk aan wie Hy wil. Augustinus was immers proefondervindelik ‘n ontvanger van hierdie onbeskryflike en bevrydende genade! ‘n Genade wat hom ware genot laat vind het. Die ware vreugde in God wat groter is as die tydelike genot van losbandigheid!

Mag God se genade so elkeen van ons bevry om die vreugde van verlossing en vervulling in Hom te ontdek!

*(Erkenning : John Piper, The Swan is not Silent - Sovereign Joy in the Life and Thought of St. Augustine. Lees dit gerus op die internet)

Afbeelding : skildery van Philippe de Champagne uit de 17de eeu


Donderdag 29 Maart 2012

SMS : "EK IS SWANGER"

- sonde, skande en skade, maar uiteindelik (en pynlik) triomfeer die GENADE!

“Ag, nee wat sonde is darem nie so erg nie. Om ‘n ou skelmpie te hê is ook nie die einde van die wêreld nie! Kyk nou maar vir ou Dawid. Hy was dan nou kwansuis hierdie wonderlike man van God en kyk wat het hy gedoen en die Here het hom mos darem weer vergewe...!” So ‘n ligtelike houding oor sonde openbaar ‘n groot onkunde! Kom ons kyk bietjie dieper na die saak van sonde en vergifnis vanuit die hartseer geskiedenis van Dawid. (oorsaak, gevolg en vergifnis)

Oorsaak: Dawid was ‘n kind van God. ‘n Man na God se hart. God self het hom geroep daar agter die skape uit en hom geseën in sy koningskap. Hy het ‘n pad saam met God gestap en ondervind hoe die Here hom gehelp het. Hy het geweet wat dit is om op God te vertrou.... (stryd met Goliat). En toe eendag gebeur hierdie vreeslike ding. Dawid op die dak...sien die mooi vrou bad... en die res is geskiedenis! (Ons lees dit in 2 Samuel 11) Hy vlug nie dadelik vir die versoeking nie en hy val!  Moenie vergeet nie, kind van God, ons eie hart soek net ‘n geskikte geleentheid vir sonde. Ons harte is soos petrol en versoekings is soos vuur!
Waarskuwing :

Ek en jy is teen geen sonde immuun nie!

Wees bedag op die  boosheid van jou eie hart! Vlug, m.a.w. gebruik jou voete. (2 Tim 2:22) Moet nooit mak raak vir sonde nie... Juis op die punte waar ons dink ons staan sterk, kan ons dalk die maklikste val...

 

Gevolge: Na sy geheime owerspel kry Dawid ‘n saaklike boodskap : “Ek is swanger” ‘n Kort boodskappie (in vandag se tyd sou sy seker ‘n SMS gestuur het) met baie lang gevolge! (2 Samuel 11:5) Toe weet Dawid, hier is moeilikheid! Uitgevang! Maar tipies van die sondaar mens, begin hy planne maak om sy sonde weg te steek...Hy laat roep haar man Uria vanaf die gevegsfront, met die hoop dat hy by sy vrou sal slaap en so die bewyse uitwis... maar dit misluk... en toe laat Dawid vir Uria vermoor op ‘n slinkse manier. Kyk wat gebeur : Dawid probeer sy owerspel verdoesel en dit lei tot moord. Sonde lei tot ander sonde. Byvoorbeeld, buite egtelike verhoudings lei dikwels tot dinge soos aborsie, leuens, ongelukkige huwelike of egskeidings wat weer kinders se lewens verwoes... hulle val weer in dieselfde sondes volgens die voorbeeld van hulle ouers. Sonde het skrikwekkende gevolge. God is baie duidelik hieroor by monde van sy kneg, Natan. (Lees 2 Samuel 12:1-10) Natan kondig ‘n vreeslike straf aan. “So sê die Here : ‘Van nou af gaan Ek uit jou eie huis ellende oor jou bring.’” (Sien vers 12:10-12) Dawid se verdere familiegeskiedenis wys hoe tragies waar hierdie woorde van die profeet geword het. Allerhande ellende het gevolg : bloedskande, broedermoord, sy eie seun Absalom wat in opstand kom teen Dawid en in die openbaar met Dawid se vroue gemeenskap het... Lees dit in 2 Samuel 16:21,22.

Wat sê dit vir ons?

Moenie speel met sonde nie!

Moenie na Satan se slimpraatjies luister nie! Hoe klink dit? “Jy gaan nie regtig gelukkig wees, as jy nie eers aan hierdie of daardie sonde geproe het nie!” Dis ‘n leuen! Niemand is spyt oor ‘n sonde wat hulle nie gedoen het nie! Maar baie mense, ook kinders van God is bitter spyt oor sondes wat hulle wel gedoen het. Die letsels van hierdie dinge gaan nooit weg nie...

Sonde kan nie weggesteek word nie! Toe Uria dood is, toe dink Dawid sy geheim is veilig. Hy sal met Batseba trou en geen haan sal ooit daarna kraai nie. Maar God het al dit tyd geweet...

Sonde is erg omdat dit primêr sonde teen God is! Ons dink gewoonlik aan die menslike skade wat sonde veroorsaak, die ergste is egter die feit dat dit neerkom op 'n minagting van God! (Sien vers 9,10) Dis 'n verwerping van God se Woord en 'n vertrapping van sy eer! Dit moet ons laat sidder!


Vergifnis : Dawid erken sy sonde en toon ware berou. Psalm 51 gee vir ons verdere inligting oor Dawid se diepe berou en gebrokenheid oor sy sonde. God vergewe Dawid volkome. Maar moenie dink vergifnis is ‘n ligtelike goedkoop saak nie. Dawid en Batseba se seuntjie moes sterf, want die eer van die Here is deur Dawid se sonde geskend! (2 Samuel 12:13) Hierdie kind het toe wel gesterf, ten spyte daarvan dat Dawid baie ernstig gebid en gevas het. (16)

Die tragiese gebeure rondom Dawid en Batseba demonstreer die verwoestende uitwerking van sonde, maar dit het ‘n finale heerlike einde.

Die genade triomfeer!

Dawid word vergewe. Maar dis nie al nie. Na die dood van hierdie kind, het Batseba weer ‘n baba seuntjie gehad. En raai wat was sy naam? Salomo! Dawid se troonopvolger en die man wat deur God gekies is om die tempel te bou! Vers 24,25 is aangrypend heerlik : “... sy het ‘n seun in die wêreld gebring, en Dawid het hom Salomo genoem. Die Here het hom liefgehad en het hom deur die profeet Natan, Jedidja laat noem, wat beteken : ‘die Here het hom lief.’” Maar dis nie steeds nie die volle hoogtepunt van God se heerlike genade nie. Uit Salomo se nageslag word die Verlosser Jesus gebore. In Matteus se geslagsregister word daar spesifiek van Batseba (genoem die vrou van Uria) melding gemaak! (Matteus 1:6) Dit dra ‘n heerlike boodskap : Jesus vereenselwig Hom met sondaars! Hy bring hoop vir werklike sondaars!

Twee sake staan uit in hierdie stuk geskiedenis:

Die verwoestende aakligheid van sonde : Sonde bring smarte, skande en skade. Sonde is nie speletjies nie. Dis ‘n slang met dodelike gif en skrikwekkende nagevolge. Vlug weg van alle versoekings en sonde. Veg daarteen al kos dit jou bloed!

Die heerlikheid van genade : Gelukkig is daar iets soos vergifnis. (Psalm 130 is die klassieke antwoord as jy hiermee worstel) Volledige vergifnis omdat Jesus ons sondestraf volledig gedra het. Maar laat ons nooit ligtelik dink oor hierdie vergifnis nie!

Vergifnis het God se Seun groot pyn gekos!

Die pyn van Godverlatenheid aan die kruis om vir ons hierdie versoening te bewerk. Kom, aanvaar hierdie genadige versoening. Wees eerlik voor die Here soos Dawid en ontvang sy vergifnis. By Hom is daar ‘n nuwe begin! Wys dan jou danbaarheid deur ‘n lewe van radikale liefde en gehoorsaamheid!


Woensdag 22 Februarie 2012

POT EN DEKSEL

 - hoe weet ek dit is die REGTE EEN?

Dis seker een van die vrae waaroor jongmense die meeste dink en wonder! Dis inderdaad nie so eenvoudig nie, want ons het hier te make met die geheimenis van die spesiale liefde tussen ’n man en vrou en selfs in SPREUKE word erken dat dit iets bo ons begrip is! (Spreuke 30:18,19)

Gelukkig gee God se Woord wel vir ons kosbare insig in hierdie saak. Ons kan maar gerus die Bybel nadertrek. Dis so belangrik om ook wat ons verhoudings (voor en in die huwelik) betref gehoorsame erns met die Woord van God te maak. Mense kan hulleself soveel hartseer en verwoesting spaar deur gehoor te gee aan God se wil. As vertrekpunt wil ek aanvaar dat jy ’n kind van God is... anders sal dit wat volg in elk geval vir jou belaglik klink.

(Indien jy nie seker is dat jy God se kind is nie, lees gerus DIE BOK WAT ‘N LEEU WOU WORD)

Ons gaan oor twee aspekte nadink: die WIE? en die HOE?


WIE is die regte huweliksmaat vir my?

Die een uitstaande saak waaroor die Bybel baie duidelik is, is dat hy/sy ’n ware gelowige moet wees! (Vgl. 1 Korintiërs 7:39) Die verontagsaming van hierdie basiese vereiste is seker die grootste enkele oorsaak van oneindige hartseer en konflik in baie huwelike! Maak dus seker van die ander persoon se verhouding met die Here voordat jy eers daaraan dink om ’n verhouding aan te knoop. Anders gesê : iemand wat nie deur woord en lewe wys dat hy/sy ’n volgeling van Jesus is nie, moet hoegenaamd nie eers op jou lysie van moontlike huweliksmaats wees nie. En moet asseblief nooit die dwase redenasie glo wat beweer dat jy maar met iemand kan uitgaan of selfs trou en daardie persoon ’n Christen sal maak nie. Niemand van ons kan iemand anders ’n kind van God maak nie. Dis alleen ’n bonatuurlike wonderwerk van God self wat dit kan bewerkstellig en jy het geen waarborg dat God dit sal doen nie!

Dit beteken egter nie dat alle Christene van die teenoorgestelde geslag by jou sal pas en noodwendig ’n goeie huweliksmaat sal wees nie. Soos met alle lewensbesluite het ons wysheid nodig. Prakties beteken wysheid dat ons die beginsels van die Woord in al ons lewensomstandighede moet toepas. Dit sal beteken dat ons moet bid vir wysheid (Jakobus 1:5) maar ook nugter moet dink en navorsing moet doen! (Jy sal nou dadelik wonder : Wat dan van daardie spesiale gevoel? Ja, daar is iets soos ’n “gevoel”, dis wat mens verliefdheid noem, maar dit opsigself alleen is nie voldoende gronde vir ’n goeie huwelik nie!)

So waar is ons nou? As ek vasgestel het dat die maat wat ek in die oog het ’n Christen is, moet ek probeer vasstel of daardie persoon ’n geskikte maat sal wees wat by my pas. Hier moet ons seker maak dat ons denke en manier van beoordeling nie deur die sondige wêreld se norme skeefgetrek word nie. Vir die wêreld val die klem hoofsaaklik net op die uiterlike, maar ons sal wys wees as ons die beginsel in Spreuke 31:30 ernstig opvat. (lees) ’n Mooi lyfie alleen maak nie ’n goeie vrou nie! Spreuke 31:10-31 gaan oor die knap vrou wat haar man kan aanvul en ondersteun... ’n Dametjie wat net heeldag wil naels verf en boeklees, maar nie bereid is om eers ’n eier te bak of haar hande in water wil steek nie... mag dalk asemrowend mooi wees, maar dit spel moeilikheid ... Net so....iemand met ‘n dik beursie of ‘n groot borskas is nie altyd ’n goeie man nie! Goeie leierseienskappe en vaste beginsels is baie belangriker! Ek moet op ’n nugtere manier vasstel of ’n persoon geskik en volwasse genoeg is om die hoë eise van die huwelik te kan hanteer. (Meer hieroor onder die HOE)

Net ’n woord van waarskuwing : Natuurlik is daar nêrens ’n meneer en mejuffrou Volmaak nie! Hier is balans nodig... Ons moet leer om geduldig te wees met ander se foute, wetende dat onsself ook baie het.

En nou (dalk) ’n skok :

Ons lê eintlik te veel klem op die met WIE moet ek trou, maar te min op die HOE van die aanloop tot die huwelik en die huweliksverhouding self.

Daar is heel waarskynlik baie meer as een Christen persoon met wie jy ’n suksesvolle huwelik kan sluit. So wees getroos en ontspan : Daar is nie net een spesiale iemand wat op hierdie aarde rondloop met wie ek kan trou nie!

’n Liefdesteleurstelling is dus nie die einde van die wêreld nie! Glo my asseblief!

Hoekom sê ek die HOE is so belangrik? Die belangrikste faktor vir jou huweliksgeluk is dat jy ’n kind van God sal wees en in die hofmaakproses vooraf (en natuurlik in die huwelik self) volgens die beginsels van die Woord sal optree.


Kom ons kyk na ’n paar praktiese beginsels (hierdie punte maak net sin as jy ’n Christen is) :


Besef dat HEILIGMAKING die eerste punt op God se agenda vir jou is! As jy aan Jesus behoort is God se eerste ideaal vir jou om al hoe meer gelykvormig te raak aan die beeld van sy Seun. (Romeine 8:28-30) God weet wat is vir jou die beste en wat het jy nodig, maar eerste op sy lysie is nie ’n huweliksmaat nie! Hierdie wete moet ook balans in ons gebedslewe bring. As ek aand vir aand net by die Here kerm dat Hy tog vir my die regte persoon moet gee, wys dit dalk dat ek onsensitief is vir sy wil en dalk ander heerlike dinge wat Hy vir my wil doen so gaan misloop.

Aan die anderkant kant ek glo dat as God my Vader is, Hy nie net oor my siel besorg is nie! Soos ’n Vader sorg Hy omvattend vir sy kinders. (Psalm 103 :13-15) Hy weet ons is mense en Hy ken ons diepste behoeftes. My hele lewe is vir God belangrik en ek kan al my behoeftes, begeertes en bekommernisse (Filippense 4:6), ook ten opsigte van ’n huweliksmaat met Hom deel!* Kind van God, jy mag maar jou hart voor God uitstort! Hy is ’n Hoorder van GEBED!

Leef jou huidige lewe as enkellopende VOLUIT en  MOENIE OBSESSIEF raak om ’n huweliksmaat te vind nie. Psalm 37:4 is so belangrik! Vind jou vreugde in God self. Leef vir God en vir ander mense en Hy sal die regte persoon op die regte tyd oor jou pad bring. Byvoorbeeld as ek by ’n groep aansluit - ’n staptoer, Bybelstudiegroep, kerkkamp of iets dergliks, moet ek nie obsessief almal saam  met my gedurig beoordeel in terme van geskiktheid vir ’n huwelik nie. Vra jouself eerder hoe kan ek God eer in hierdie groep en ander mense dien.

Dis nie verkeerd om ’n huweliksmaat te soek nie, maar SOEK OP DIE REGTE PLEKKE. Dis plekke en geleenthede waar God se kinders sal tuisvoel. Daar is ’n duidelike onderskeid tussen die Christen en die wêreldling se “habitat”. Die kanse dat jy ’n Godvresende man of vrou op die dansbaan of in die drinkplek gaan raakloop is uiters skraal. ’n Mens vind oor die algemeen nie ysbere in die Namib of gemsbokke op die Noordpool nie!

Wees uiters versigtig om die Bybelse vereistes vir SEKSUELE REINHEID te handhaaf. Kortweg kom dit neer op geen seksuele kontak behalwe binne die beskerming van die huwelik nie! (En ’n verlowing is nog nie ’n huwelik nie!) Vir God is hierdie saak ononderhandelbaar belangrik. (1 Tessalonisense 4:3-8) In ons seksbehepte wêreld is dit glad nie so maklik nie. Jy sal drastiese maatreëls moet tref ten opsigte van sake soos : TV programme, films, Internetgebruik, kleredrag, tipes ontspanning (dans?) ens. Onthou, ons is almal baie swakker as wat ons dink! Onthou ook, dit gaan nie net oor ons dade nie, maar ook oor ons gedagtes. Ons struikel in gedagtes lank voor ons tot verkeerde dade oorgaan. Pasop vir vinnige verhoudings, vakansieromanse en “vry in die bondel”. Die bose saad van latere huweliksontrou of wantroue word lank voor die huwelik reeds gesaai as ons onsself nie op seksuele gebied kan beheers nie. As my maat voor die huwelik nie by God se reëls kan hou nie, hoe sal hy/sy dit na die huweliksluiting regkry?

As God se beginsels van reinheid nou voor die huwelik nie vir my belangrik is nie, gaan ek nie skielik na die huwelik God se reëls respekteer nie!

As ek met iemand in ’n vaste verhouding betrokke is, moet ons konsentreer op KOMMUNIKASIE! Hierdie is die tyd om die ander persoon se sterk en swak punte te leer ken. Dis belangrik om te weet hoe my maat oor sake soos God, kerkwees, kinders, geld, morele kwessies, die verhouding met ouers en skoonouers, ontspanning ens. voel. Huwelike ly skipbreuk weens gebrekkige kommunikasie! Dit kan heel moontlik wees omdat verliefdes te veel tyd aan vry afstaan en te min tyd om deeglik en intelligent met mekaar te gesels! Bid saam! Leer nou reeds om konflikte reg op te los! Kan ek en my maat vir mekaar sê dat ons jammer is en mekaar vergewe?

En as ek nog nie iemand ontmoet het nie? WERK AAN JOUSELF! Miskien het jy gewoontes of maniere wat andere afstoot. Miskien moet jy werk aan jou volwassenheid en optrede. Verskuif die vraag van : “Hoe lyk ’n gepaste huweliksmaat?” na : “Sal ek ’n goeie huweliksmaat vir iemand anders wees?” Wees eerlik voor die Here en met jouself. Kyk weer na die fondasies van jou geluk en lewensvreugde. As jy nou ’n diep ongelukkige, ontevrede mens is, gaan jy waarskynlik ook ’n ongelukkige mens wees al het jy die wonderlikste huweliksmaat. As jy emosioneel onvolwasse is (iemand wat gereeld sy speelgod uit sy "cot" gooi) durf jy jouself nog nie in ’n huwelik begewe nie.

Pasop vir mense wat jou eensaamheid of teleurstellings wil uitbuit. WEES VERSIGTIG en moenie haastig jouself aan iemand verbind nie! Dis veral ’n groot gevaar as mens nog teleurgesteld en seer is oor ’n vorige mislukte verhouding. En pasop veral vir “super Christelike” mense wat na jou kom met die woorde : “Die Here het vir my gesê of in ’n droom gewys dat ons twee moet trou.” Moenie blindelings op sulke “profetiese uitsprake” handel nie. God sal self jou op die regte pad lei deur die beginsels van Sy Woord.

En as ek na alles nog steeds nie ’n maat gevind het nie? Miskien het jy ’n besondere persoon ontmoet, baie verlief geraak, groot verwagtings gekoester.... en toe loop alles skeef? Ons moet altyd realisties REKENING HOU met die GEBROKE WERKLIKHEID van hierdie aardse bestaan. Teleurstellings, valse beloftes, hartseer en sonde sal altyd deel van hierdie wêreld wees tot by die wederkoms van Jesus. Tot dan is Christene ook aan hierdie dinge blootgestel. Daar is mense wat weens een of ander rede (hetsy hul eie of iemand anders se skuld of gebeure buite hulle beheer) nooit ’n maat vind nie! Dis hartseer en sulke mense het ons diepste simpatie en ondersteuning nodig. Vir God se kinders is daar gelukkig nie iets soos ’n uitsiglose toekoms of ’n doodloopstraat nie! Sy genade is in alle omstandighede vir ons genoeg. (2 Korintiërs 12:9) Hy sal ons dra in alle situasies. Deur die eeue het baie ongetroudes heerlike lewensgeluk ervaar! Die geskiedenis lewer bewys van enkellopendes wat vol nuttige lewens gehad het. (Dis natuurlik ’n vals mite dat ’n huwelik noodwendig geluk in ’n mens se lewe bring. Dis dikwels andersom!) Daar gebeur dikwels onverstaanbare dinge in ons lewens wat nie lekker is nie, maar die kind van God kan altyd weet dat Hy dit positief sal gebruik om ons al meer te verander om soos Jesus te word! (Dit bring ons weer by Romeine 8:28-30)

Laastens, maar nie die minste nie! Almal van ons het al in gedagtes of dade op hierdie gebied gefouteer of gesondig. Satan saai pynlike verwoesting op die gebied van seksualiteit, verhudings en huwelik! Dis ernstig en het ernstige gevolge, maar as ons God se Woord glo hoef ons nie onsself af te skryf nie. Daar is immers iets soos VERGIFNIS! Psalm 130 se boodskap bring hoop vir dié wat diep geval het. Staan soos die verlore seun op uit die varkhok en gaan terug na jou hemelse Vader, wat jou sonder verwyt terug sal ontvang. Ontvang sy vergifnis en beywer jou vir 'n heilige lewe saam met ander kinders van God! (2 Timoteus 2:22)  Sterkte!

* Sien die verhaal van A.A. Louw in GODDELIKE OORWINNING OP MUGABE SE BERG