BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Ballingskap. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Ballingskap. Wys alle plasings

Dinsdag 14 Maart 2023

GOD SE BUITENGEWONE BRIEF VAN BEMOEDIGING (2)

 -  Hy het 'n plan van voorspoed en 'n nuwe toekoms!

Ons is nog besig met die besondere brief van bemoediging wat God via sy profeet Jeremia aan die ballinge in Babel gestuur het. (Vir eerste aflewering kliek op BRIEF AAN BALLINGE) .

Jy sal weet - Goeie nuus en ‘n positiewe boodskap maak ‘n heerlike verskil. Goeie nuus laat mens goed voel.   Maar daar is iets soos  ware goeie nuus en valse goeie nuus.  As jy valse goeie nuus glo, gaan dit jou net vir ‘n tydjie gelukkig laat voel, maar daarna ernstig teleurstel en jou in ellende dompel. God het wel ‘n heerlike positiewe boodskap vir die ballinge, maar nie ‘n valse positiewe boodskap soos die vals profete nie. Vergelyk Jeremia 29:8 met 28:2,3 Hier lees ons van Ganaja. Hy was 'n valse profeet wat ook in die naam van die Here opgetree het. Gananja het ‘n tipiese goedvoelboodskap gebring – dit moes die mense laat beter voel en vir homself populariteit besorg. Hy het die mense valslik getroos deur te verkondig dat die ballingskap  nog net twee jaar sou duur. Mense wil mos maar altyd graag hoor dat dit gou beter sal gaan. Die probleem was net dat sy boodskap nie van God gekom het nie, en dus nie waar was nie. God beloof wel deur sy ware profeet ‘n realistiese heerlike toekoms. Dit verskil van Gananja se kortpad na geluk boodskap. 

Die Here se boodskap is baie duidelik. Die Here sê 70 jaar – geen kortpad nie. Die ballingskap sal sewentig jaar duur. ‘n  Hele geslag lank! (10) Onthou dis God self wat die ellende oor hulle gebring het (4) God straf en tugtig – sy eie mense, maar God skep ook ‘n nuwe toekoms van hoop! (11) 




Baie keer uit konteks aangehaal.  Dit gaan hier oor God se langtermyn doelwit vir sy volk! Dis nie ‘n belofte van persoonlike korttermyn welvaart nie! Maar hoe gaan dit prakties gebeur?  




Verse 12,13
  Ons mag nie vers 11 in isolasie lees nie – hier vind ons die praktiese manier waarop die belofte in vers 11 uiteindelik vervul en uitgewerk sal word.  Ek wil graag hierop fokus. Hier is ‘n kosbare belofte wat direk op ons elkeen van toepassing is.

Soek die Here is die hoofgedagte. Wat beteken dit? Kom ons kyk na ’n paar aspekte:

Ons moet sy Naam aanroep in gebed.  


Romeine 10:13 As jy na God verlang, as jy sy genade wil beleef, as jy Sy teenwoordigheid in jou lewe begeer is ware hartsgebed, opregte gebed – die beginpunt. Roep tot Jesus met alles binne in jou. Dink aan blinde Bartimeus se roep toe hy hoor Jesus gaan verby. Onthou die rower aan die kruis wat met sy laaste bietjie krag geroep het : “Here dink aan my, wanneer U in u koninkryk kom.”

Ons moet dit met ons hele hart doen. “Here, op U alleen is my hoop, U alleen wil ek ken.” Moenie agterdeure ophou – ek sal maar die Here probeer, maar as Hy nie wil hoor nie – hou ek vir my ander opsies oop. Jesus is nie een van baie opsies nie, Hy is die enigste opsie. Dis of Jesus of ewige dood en ellende!

Dis ‘n kans wat benut moet word,  NOU! – Jesaja 55:6  


Soek en roep weer saam. Die geleentheid om die Here te soek kan verbygaan!  Moenie uitstel vir ‘n tyd wanneer dinge rustiger gaan nie…. Daardie tyd kom nooit nie. Moenie die fout maak om te dink ek sal maar wag tot ek eendag in die hospitaal beland nie... Die enigste regte tyd is NOU!

Jesaja 55 gee ons ook ‘n verdere perspektief op “soek”  - vers 7! 



Om die Here te soek sluit bekering in!  My denke en dade moet verander   


Ps. 119:10 Maak erns daarmee wat jy reeds weet wat God se wil is! Hou vas aan sy bevele! Kies teen die sonde waarvan jy nou weet… Bring dit in berou na Hom. Aanvaar sy vergifnis in Jesus!

Die opregte soeke na God in gebed en gehoorsaamheid word direk gekoppel aan die voorspoed van die nuwe toekoms!

Maar wat is die voorspoed wat God hier beloof? Vir hierdie eerste lesers was dit ‘n terugkeer na hulle land en ‘n rustige en voorspoedige lewe.  (Maar onthou : dis 'n langtermyn saak! – 70jaar – die meeste sou nie meer leef nie, hulle kinders sou dit eers sien. Dit gaan dus nie oor eie persoonlike voordeel nie, maar oor die groter prentjie van God se genade! ) Die land Kanaän  was hulle erfdeel van God af, en die belofte is dit hulle weer dit sal besit.  Wat is ons erfdeel as kinders van God in die bedeling van die Nuwe Testament? Ons  erfenis (die hemelse heerlikheid) word so pragtig beskryf in 1 Petrus 1:3-5. Hierdie erfenis is onaantasbaar veilig!

En ons reaksie? – 1 Petrus 1:6!  "Verheug julle hieroor...!"

Wat ‘n heerlike belofte is Jeremia 29:11. Vanuit die Nuwe Testamentiese konteks is dit duidelik - Ons mag nie hierdie teks misbruik om vir ons aardse voorspoed op te eis nie.  

Die betekenis is eerder : Soek die Here met jou hele hart en wees verseker van ‘n ewige erfenis! 

Is dit jou erns om die Here te soek? Is jy tevrede met oppervlakkige godsdienstigheid of delf jy dieper om God waarlik te ken? Is jy al seker en jubelend bly oor jou ewige erfenis?  As ons die waarhede van Jeremia en 1 Petrus ernstig neem kan ons BLYDSKAP BINNE IN ONS BALLINGSKAP beleef! (Jou ballingskap is dalk joiu moeilike huwelik, opstandige kinders of onhoudbare werksomstandighede)

Pasop vir valse kitsoplossings en blitsresepte, verbly jou eerder in God se langtermyn plan en beloftes vir sy kerk!

 


Dinsdag 07 Maart 2023

GOD SE BUITENGEWONE BRIEF VAN BEMOEDIGING (1)

- wat ek en jy nou baie nodig het!

Negatiwiteit, pessimisme en selfbejammering kom so maklik. Daar is so baie dinge wat ons sien, hoor en aan ons eie lyf voel, wat ons soms kan laat wonder, is alles nog die moeite werd? (Dink ESKOM, oorlog, grootskaalse armoede....)  Kyk al die korrupsie en onreg en onbevoegdheid…Is daar nog ‘n toekoms op hierdie aarde, maak dit nog sin om te werk, te gaan studeer,  loopbane te bou, kinders te hê, met vreugde te lewe? Is ons aardse lewe nog enigsins, hoegenaamd sinvol?  Weet julle ons is nie die eerste mense wat hierdie tipe vrae vra nie. Die profeet Jeremia het juis ‘n brief vir so ‘n groep mense geskryf. Die ballinge in Babel…(dis die Israelite wat uit hulle land ontvoer is en na die verre Babel gebring is) Dis ‘n brief vol verrassings en hoop!  Lees  gerus Jeremia 29:1-14

Kom ons kyk net kortliks na ‘n paar feite uit hierdie brief. (Dit gaan nie oor 'n volledige verklaring van die hele brief nie) Ons kry ook hier vaste altyd geldende beginsels wat vir ons insig en hoop kan bring. Vandag kyk na twee opvallende groot verrassings in hierdie brief:


Hier in vers 4 verwys God na Homself as die "Heerser oor alle magte" – Ons moet altyd onthou, God is in beheer van die geskiedenis. "Heerser oor alle magte." Dis nie die wêreldleiers, geheime organisasies, bose geeste of Satan self wat die finale sê het nie. Ook nie die sogenaamde noodlot nie. God het die laaste sê! Dit word baie treffend en verrassend hier gestel! Let op :  “aan al die ballinge wat EK uit Jerusalem na Babel in ballingskap weggevoer het.” Die ballingskap was ‘n groot en wrede tragedie. Mense is met geweld weggevoer na ‘n ver en vreemde land – weg van hulle geliefdes, weg van hulle besittings, in die verre eensaamheid – hulle toekoms en ideale het aan skerwe gelê. Ons weet die koning van Babel, Nebukadnesar het dit gedoen. Maar nou die opvallende – die Here sê : "Ek het dit gedoen." Wat gebeur hier? God is in beheer van die geskiedenis en Hy het Nebukadnesar gebruik om sy eie volk te straf, sodat hulle weer gehoorsaam kan word en na Hom sou terugkeer! God kan enige bose organisasie, mag of persoon gebruik om Sy doelwitte te bereik! Laat ons dit maar onthou as ons so maklik kla… Kyk verby die ellendes en sien God raak!


Lees weer vers 5-7 Wat sê God hier? "Bou huise, plant tuine, trou en vermeerder!" \met ander woorde - "Aanvaar julle situasie waarin Ek julle gebring het en maak die beste daarvan." Hoe maklik sou hierdie ballinge in die verre Babel kon verval in negatiwiteit en passiewe selfbejammering. 


God het geen simpatie met selfbejammering en niksdoen nie! 

Nee, Hy beveel hierdie volk om positief die lewe aan te pak met geesdrif! Wees entrepreneurs – werk met dit wat julle het! Bou julle huisgesinne en word meer! Lewer ‘n positiewe bydra tot die gemeenskap waarin julle julle bevind! Neem positief deel aan die aktiwiteite daar waar julle woon. En dis nog nie al nie – bid vir die plek waar julle woon. (Ja, hulle vyande) Onthou dis tot julle eie voordeel as dit goed gaan met die plek waar julle nou bly, al is dit julle vyande, al is dit die mense wat julle soveel leed en onreg aangedoen het. Kan ons sien, God het geen plek vir ‘n negatiewe, wraaksugtige, passiewe houding nie.



God se duidelike boodskap vir sy mense in nood is dus : "Wees positief en doen wat Ek sê en moenie julle ore uitleen vir die boodskap van die valse profete nie." (Ons sal volgende keer hierop ingaan, maar die valse profete het gesê die ballingskap sal gou verby wees. Hulle was verkeerd, die ballingskap sou lank duur en daarom moes die ballinge positief besig wees en betrokke wees by hulle omgewing)

Hoe raak hierdie positiewe boodskap ons as volgelinge van Jesus?  Die Nuwe Testamentiese parallel is die 1 Petrus brief. Dis geskryf aan die vreemdelinge in die diaspora (verstrooiing), God se kinders wat as vreemdelinge dwarsoor die wêreld leef. Ons as God se kinders is eintlik ook maar ballinge in ‘n vreemde land. Ons burgerskap is nie van hierdie wêreld nie. Ons pas nie in hierdie wêreld nie. Petrus lê baie klem daarop. (2:11)  



Ons gewoontes, leefstyl, visie, gedrag en selfs kleredrag… is anders (en behoort anders te wees)  as die goddelose wêreld rondom ons. En wat beveel Petrus dan aan vir God se kinders in so ‘n situasie? Gaan lees gerus  1 Petrus 2:12-17  Die kernboodskap is : "Wees goeie burgers, wat deur julle onkreukbare, voorbeeldige en eerlike leefstyl ander se respek sal afdwing en op so ‘n manier hulle ook daartoe sal beweeg om te erken dat God die ware God is!"

GEEN PLEK VIR NEGATIWITEIT NIE!

Pasop om te verval in ‘n negatiewe gemor – "Ag, die wêreld is so sleg, die regering is so korrup…ek gaan nou maar in ‘n hoekie sit, myself jammer kry en wag vir die dood of die wederkoms." NEE! Leef elke dag positief as kind van God. Gaan aan met jou daaglikse pligte en werk, bou positief aan huisgesinne wat God eer en bid vir alle mense!  Wees ‘n voorbidder! God plaas ons met ‘n doel in moeilike situasies en plekke, ons moet dit gebruik om positief gehoorsaamheid te leer. Ons ellendes is nie maar toevallig nie – God laat dit toe in ons lewens om sy doelwitte te bereik. Hou op kla en Benut jou huidige omstandighede positief om sinvol en heilig te leef tot God se eer! 

Die groot punt is : As jy aan Jesus behoort het jy altyd rede om positief voluit te leef maak nie saak waar of in watter omstandighede nie. God het vir jou ‘n positiewe getuienistaak daar waar jy is, terwyl jy op pad is en uitsien na jou finale tuiste!

LUISTER na hierdie boodskap op YouTube, kliek op BID, BOU EN TROU!

                                                                                                                                                                                            

Vrydag 18 Januarie 2019

TROOS, TROOS!

- God gee die enigste ware troos wat ons nodig het. 


“Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes."  Jesaja 40:1 (OAV) 

Watter heerlike woorde! Troos, die uitkoms is hier!* 

Ons is almal mense wat troos en bemoediging nodig het. Ons is stukkende mense in ‘n stukkende wêreld. Sonde, siekte, swaarkry...die sterflikheid wat soos 'n swaard oor ons koppe hang! Hier word troos juis vir ons aangekondig. En as ons troos ontvang het, het ek en jy die opdrag om aan ander troos en bemoediging te bring. (meer daaroor volgende week) Jesaja hoofstukke 40-55 is ‘n besondere troosboek. Hierdie gedeelte, 40:1-11 is die inleiding – die temas wat hier aangeroer word, word vorentoe verder uitgewerk in die res van die hoofstukke. 

Agtergrond en konteks. Die volk Israel sit in ballingskap in verre Babilonië. Dis ‘n hartseer ellendige situasie. Ver van hulle land en mense. Jerusalem is ‘n puinhoop. Die tempel is afgebreek. ‘n Verwoeste stad, verwoeste lewens, uitsiglose toekoms! (Dis dalk hoe jy nou voel?) Maar juis in hierdie situasie kom God met ‘n aangrypende en verreikende troosboodskap! Hoor mooi! 

Hierdie troos is iets konkreets. God se troos is iets baie meer as net medelye betoon, meer as net mooi woordjies of ‘n whatsapp met ‘n prentjie van blomme, gesiggies of vissies! Dis nie leë trooswoordjies soos : “Ag, dis nie so erg nie! Ag, jy sal een van die dae beter voel” nie. Dis die vaste versekering dat God ‘n einde aan die ballingskap sou maak en dat daar vir God se volk ‘n nuwe begin gaan kom. Dit gaan ‘n nuwe eksodus/bevryding wees. Daar gaan ‘n nuwe pad deur die woestyn gemaak word. (3) Letterlik ook in die sin dat net soos daar ‘n woestyn was tussen Egipte en Kanaän, daar ook ‘n woestyn was tussen Babel en die land. As God is troos is dit meer as net woorde. Dis ‘n nuwe begin! 

Hierdie troos is vir mense wat erg gesondig het. Die volk het juis weens sonde en God se oordele daaroor in soveel ellende beland. Hy het gestraf. Maar nou bring God uitkoms. Die straf is nou verby! (2) Die troosboek maak dit verder duidelik dat God self iets aan die sondeprobleem gedoen het. “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.” (44:22) Goddelike troos vind plaas wanneer ons sondeprobleem aangespreek word, want dis juis die kern van al ons probleme! God het die vergifnis bewerk en daarom vra Hy bekering in reaksie daarop. In die res van die hoofstukke is daar duidelike oproepe tot bekering. Sonder bekering kan jy nie troos en vrede verwag nie. “Maar vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê die Here.” (48:22) “Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.” (55:7) Onthou net : Troos en vergifnis is nie goedkeuring van sonde nie. Dink maar aan Jesus se hantering van die owerspelige vrou in Johannes 8. Hy veroordeel haar nie. Hy skenk vryspraak en kwytskelding, maar met ‘n duidelike opdrag om nie verder te sondig nie! 

Hierdie troos is vir verganklike mense. In hierdie gedeelte hoor ons ‘n moedelose skeptiese stem. Iemand sê: "Roep!" En ek vra: "Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ‘n veldblom: die gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai." Dit ís so, die volk is soos gras. (6,7) Hier hoor ons twyfel. Hoe kan hierdie wonderlike beloftes waar word, ons is so nietig? Maar hoor die heerlike versekering… “Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig.” (8) Die mens is nietig maar God se Woord, God se beloftes staan onvernietigbaar, onveranderlik vas tot in ewigheid! God se Woord is effektief! Dit waarborg resultate! “Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.” (55:10,11) 

Hierdie troos is ‘n Godgewerkte en Godgewaarborgde troos. Dis God self wat ingryp omdat Hy getrou is aan sy Verbond “Vir my volk sê” (1) is ‘n sinspeling op die verbond. Dit word later eksplisiet gesê. “Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep.” (Jes 42:6a) God bewerk en waarborg die verlossing, want Hy is die almagtige! (5) As God besluit om iets te doen kan niemand dit keer nie! “Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie. Ék het die redding aangekondig, Ék het gered en dit laat verkondig, Ek, nie ‘n ander god onder julle nie. Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God. Ook hierna is Ek nog God. Uit my mag kan niemand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie.” (43:11-13) 

Hierdie troos is ‘n evangeliese troos, die troos in Jesus! Dit gaan ooglopend oor veel meer as die einde van die fisiese ballingskap. Dit gaan oor die bevryding wat Jesus sou bring. Daar is baie aanduidings hiervan in hierdie hoofstukke self. Die belofte van die wegbereider in Jesaja 40:3,4 is deur die koms van Johannes die Doper vervul. “In daardie tyd het Johannes die Doper in die woestyn van Judea begin preek en gesê: "Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom." Hy is die een wat die profeet Jesaja bedoel het toe hy gesê het: "Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit." (Matteus 3:1-3) Die sentrale figuur in Jesaja 40-55 is die Lydende Kneg van die Here, Jesus Christus. Die kern van hierdie troos kry ons so pragtig beskryf in 53:5,6. “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.” Jesus se plaasvervangende sterwe. Hy wat sy lewe vir sy skape gegee het. Jesus self is die Goeie Herder, wat juis ook vir die swakkes omgee en hulle versorg. 

"Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie." (11) 

Die enigste ware troos is die troos wat Jesus se kruisiging en opstanding vir ons bring! Dis die troos van die evangelie wat sê : Jou enorme skuld is klaar betaal, Ek het jou skande en verleentheid uitgewis! Ek maak ‘n nuwe begin met jou! Hierdie troos is so oneindig ryk! Dis meer as net vergifnis. 

Ons Verlosser sê ook : 

Ek gee jou krag! “Hy gee die vermoeides krag, Hy versterk dié wat nie meer kan nie. Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” (40:29-30) 

Jy hoef nie bang te wees nie. “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou” (41:10) 

Ek sal jou nooit vergeet nie. “Kan ‘n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie." (49:15) 

Ek is nie meer vir jou kwaad nie. “Net ‘n oomblik het Ek jou verstoot, in my groot liefde vat Ek jou terug. In ‘n opwelling van toorn wou Ek ‘n kort tydjie niks met jou te doen hê nie, maar Ek ontferm My oor jou met ‘n liefde wat nooit vergaan nie, sê die Here, jou Verlosser.” (54:7,8) 

BELANGRIKE VRAAG 

Wat kos die troos? Hoe kry ekself dit? Die antwoord is duidelik : Kom, kom kry die troos en versadiging alles verniet! “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.” (55:1) Dis ‘n uitnodiging wat in die geloof aangeneem moet word. Dis ‘n uitnodiging van Jesus self. (vgl. Matteus 11:28-30) 

KOM KRY DIE TROOS,NOU!

Hierdie Goddelike troos moet in ons gebroke wêreld verkondig word. Ons moet dit self glo en hierdie troos ook aan ander bedien. (9) 

Ek wil jou graag aanmoedig. Doen jouself ‘n reuse guns en gaan lees biddend Jesaja hoofstukke 40-55! 

*Jesaja 40:1-11 (NAB) 

. 1 Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê. 

· 2 Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby, hy het geboet vir sy sonde, hy het van die Here die volle straf ontvang vir al sy sondes. 

· 3 Iemand roep: "Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ‘n grootpad vir ons God! 

· 4 Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant moet gelykgrond word. Elke bult moet ‘n gelykte word en elke koppie ‘n vlakte. 

· 5 Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien. Die Here self het dit gesê." 

· 6 Iemand sê: "Roep!" En ek vra: "Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos ‘n veldblom: 

· 7 gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai." Dit ís so, die volk is soos gras. 

· 8 Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig. 

· 9 Klim op ‘n hoë berg en roep hard, Sion, jy wat die goeie tyding moet bring; roep hard, Jerusalem, jy wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: "Julle God is hier! 

· 10 Die Here God kom, Hy is die Magtige, Hy regeer. Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het, dié wat aan Hom behoort, is by Hom. 

· 11 Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.

"...strome op die droë grond" (Jesaja 40:3)

Vrydag 13 Januarie 2017

REISGIDS VIR GOD SE VOLK

[ ‘n Bybelstudie reeks oor die 1 Petrusbrief]

No1 Seënwense vir God se ware volk op hulle pelgrimstog

Van Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus. Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië.

Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees! (1 Petrus 1:1-2)


Ons leef in ‘n wêreld waar toerisme al ‘n al hoe groter bedryf word. Mense hou van toer en rondreis. Om ‘n vreemde land te besoek en by al die regte bestemmings aan te kom het mens inligting nodig. Hierdie inligting kry mens o.a. in reisgidse. Reisgidse oor allerhande eksotiese lande is baie volop. 1 Petrus kan beskryf word as ‘n reisgids vir God se pelgrimsvolk. Dis dus nodeloos om te sê dat al God se kinders hierdie brief se boodskap as ‘n saak van heerlike, maar ook dringende belangrikheid behoort te bestudeer.

Ja, God het ‘n volk in hierdie wêreld. Dis mense wat God se mense is. Wat ‘n heerlike gedagte - daar is mense wat God se eie mense is. Tussen die gewemel en gewoel op ’n besige straat in ‘n metropool...op ’n groot passasiersboot, in ’n oerwouddorpie...Wie is hulle en waar kom hulle vandaan? Wat word van hulle verwag en waarheen is hulle op pad? En wat van nou? - kyk wat se onaangename dinge gebeur met hulle - hoe moet hulle dit verstaan en hanteer? Wat is belangrik om in ag te neem as ons veilig by ons heerlike bestemming wil aankom, hoe moet ons optree in en teenoor ‘n vyandige wêreld ?

Reeds hier in die aanhef en groete van Petrus se brief kry ons al basiese antwoorde op hierdie vrae. In res van die brief word dit natuurlik al duideliker uitgespel. Die manier waarop Petrus sy geadresseerdes aanspreek en die dinge wat hy van hulle sê gee vir ons alreeds ‘n baie goeie aanduiding wie en wat God se volk is.

Petrus skryf vir die uitverkorenes, dit wil sê die kerk van Jesus in die genoemde gebiede. Dis duidelik nie net Joodse Christene nie, maar die kerk bestaande uit alle groepe, spesifiek ook heidene - mense wat voorheen geen volk was nie, maar nou die volk van God is. (vgl. 2:10) “Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.”


Hier reg aan die begin gebruik Petrus twee insiggewende terme in verband met die uitverkorenes nl. vreemdelinge en verstrooiing.

Die woord vir verstrooiing is diaspora. Hierdie term is gebruik vir die Jode wat oor die wêreld nadat hulle in 587vC in Ballingskap weggevoer is. Ook het baie vrywillig geëmigreer oor hele wêreld. (orals het mens Jode gekry –dis eintlik vandag nog so.) Werklik ‘n verstrooide volk. Omdat Petrus hier met die kerk as geheel praat sluit hy egter sy heidenlesers in by hierdie term. Alle Christene is as God se volk in die diaspora - verstrooi oor die wêreld heen. Ja, iewers in elke land op aarde is daar van God se kinders te vinde! Al is hierdie mense oor die wêreld heen versprei is hulle deel van God se kudde. Ons as Christene is nie versamel in een land of stad nie, ons is versprei, rondgestrooi oor die lengte en breedte van die ganse aardbol. Natuurlik seker met ’n doel...

Hierdie gedagte sluit baie nou aan by die ander term wat Petrus gebruik. Hy noem die Christene - vreemdelinge. Dit lyk op oog af teenstrydig met die term uitverkore – uitverkore het die konnotasie van spesiaal begunstigde, maar ’n vreemdeling daarteenoor het die konnotasie van asielsoeker, ‘n tydelike gas in ’n vreemde land. (Dink maar aan die Siriese vlugtelinge in Europa) Vreemdelingskap is ‘n deurlopende tema in die brief. (vgl. 2:11) “Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net ‘n mens se lewe.” Die gedagte hier is van ‘n vreemdeling wat net tydelik op ‘n plek bly, hy is op pad iewers heen, ‘n persoon in transito. Reisigers. Christene is op pad na hulle nuwe vaderland. Hierdie twee woorde in vers 1 is dus ‘n uiters raak en veelseggende beskrywing van ons as Christene se plek in die wêreld en verhouding tot die wêreld. Ten opsigte van hulle ware tuiste bevind Christene hulle in ‘n diaspora, ten opsigte van ons huidige tydelike woonplek is ons vreemdelinge. Maar ten opsigte van ons verhouding met God - uitverkorenes! 

Ons as God se kinders is (tydelike) inwoners van hierdie wêreld maar ons is draers van ‘n vreemde paspoort - die van ons ewige Vaderland.

Dis belangrik dat ons sal sien dat Petrus nie hier iets nuuts sê as hy na God se volk as vreemdelinge, verstrooides en by implikasie pelgrims verwys nie. Die hele Ou Testamentiese heilsgeskiedenis onderstreep al hierdie feit. 

God het Abram geroep tot ‘n pelgrimslewe van vreemdelingskap. As vreemdeling het hy in Kanaän rondgetrek. (Hy moes om sy vrou te begrawe, maar ‘n stukkie grond koop!) 

Eweneens in Egipte was die volk Israel onaanvaarbare vreemdelinge, wat uitgebuit en verdruk is. Persona non grata. Vreemdelinge in ‘n vreemde land!

Nadat God hulle verlos het uit Egipte - word Israel geroep om as ‘n pelgrimsvolk deur die wildernis te trek. Hulle woestyn ervaring dien as model vir ons om ons pelgrimslewe as verlostes te verstaan. God het sy volk in die woestyn versorg, getoets en beproef totdat hulle hulle bestemming sou bereik. 

Ons pad na die volmaakte bedeling is ‘n pelgrimspad, ‘n wildernispad van teenstand en beproewing, maar ook ‘n pad waartydens ons die Here se genadige bewaring en versorging ondervind.

Ook in die verdere Ou Testamentiese geskiedenis kom hierdie beginsel ter sprake. Nadat Israel se sonde weer God se oordeel oor hulle gebring het, het die profete in hulle boodskap van destyds weer by die Eksodus en vreemdelingskap temas aangesluit. Israel was nou weer vreemdelinge in ‘n vreemde land (in ballingskap in Babilonië), maar die profete het aangekondig dat God hulle weer sou verlos soos Hy hulle destyds uit Egipte verlos het. (vgl. Jeremia 23:7,8) God sou weer sy kinders uit ballingskap lei na hulle beloofde land. Hierdie tema kom weer baie duidelik na vore in die aankondiging van Johannes die Doper se bediening in Jesaja 40:3-5. Die belofte van God wat Sy volk na vryheid en ‘n nuwe land lei vind vervulling in Jesus. Hyself is die pad van verlossing. Hy bring ons na ons ewige bestemming. Daarom is dit uiters veelseggend as Jesus juis in die konteks van ons ‘n verwysing na ons ewige tuiste vir Sy dissipels sê : “Ek is die weg, die waarheid en die lewe.” (Johannes 14:1-6) Christene is dus mense wat Jesus in hierdie vyandige wêreld volg na die ewige tuiste wat Hy vir ons deur sy dood aan die kruis berei het. Ons volg Jesus as pelgrims op pad na ewige Vaderland. Ons volg Hom omdat ons deur God in Hom uitgekies is.

Reeds in die aanhef van die brief word die voorreg sowel as die problematiek van die Christene vir wie Petrus skryf aangedui. Hierdie voorreg is die voorreg van elke Christen, maar hierdie probleem is ook die probleem van elke Christen. Dis 'n ongelooflike voorreg om uitverkorene te wees oppad na ’n hemelse erfenis, maar ons beleef ook swaarkry, krisisse, stryd en verguising as vreemdelinge in hierdie bose wêreld waarin ons nie pas nie.

Bevoorregtes wat nou verontregting beleef!

Permanente burgers van die Koninkryk wat nou as pelgrims ‘n tydelike vreemdelingbestaan voer!

Wanneer die Bybel oor God se volk praat - kom die term uitverkore altyd onvermydelik ter sprake. Die wat God se volk is, is God se volk primêr vanweë God se genadige verkiesing. (byv. Abram) Uitverkiesing is nie ’n spekulasiewoord nie, maar genadewoord; dit dui op onverdiende guns. Dis ’n Woord wat eer bring aan God!

Christene is vreemdelinge, tydelike reisigers in hierdie wêreld. Dis nie maar toevallig so nie, en dis ook nie maar net waar van sommige Christene in sommige gevalle nie. God se mense kan nie anders as om vreemdelinge te wees in ‘n wêreld wat in rebellie teen God is nie! Hoekom God se kinders is ’n nuwe skepping Dis noodwendig en onvermydelik dat elke kind van God ‘n vreemdeling sal wees, ‘n reisiger wat nie pas en tuis is in hierdie wêreld nie. As jy altyd welkom is in die wêreld, altyd deel voel en hulle ambisies en sentimente deel, kom dit daarop neer dat jyself heel waarskynlik maar nog ‘n rebel teen God is ten spyte van jou sogenaamde Christenskap...

Sondag 01 Desember 2013

WATTER JESUS?

- onthou Jesus werk nie vir die United Nations nie!

Jesus se identiteit is in gedrang. Daar word baie oor Hom gepraat en gesing, maar WIE is Hy werklik? Vir party teoloë (wie se verderflike invloed op ons teologiese fakulteite ‘n bose merk gelaat het) was Hy bloot ‘n Mediterreense Jood wat sonder ‘n pa groot geword het.* Hulle maak ‘n radikale onderskeid tussen die historiese Jesus wat werklik geleef het en die verkondigde Jesus van wie ons in die evangelies lees. (Ten spyte van alle mooi verduidelikings kom dit daarop neer dat die evangelieskrywers onbetroubaar was en ‘n Jesus figuur opgemaak het volgens hulle teologiese sienings! Tog net snaaks dat enige mens iemand sou wou uitdink, wat vir jou net probleme en vervolging sou skep...) Nie almal se idees rondom Jesus is so vreemd nie, maar tog is daar ook baie ander onbybelse sienings oor Jesus in omloop, ook onder kerkmense. Baie hou van die naam Jesus, maar elkeen wil Hom inspan vir sy eie behoeftes.