BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Vryspraak. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Vryspraak. Wys alle plasings

Saterdag 01 Augustus 2020

JI PACKER


EN DIE AANNEMING TOT KINDERS

[JI Packer (1926-2020) is verlede maand oorlede. Hy was ‘n behoudende Anglikaanse teoloog en kampvegter vir die waarheid*. Sy bekendste werk is seker sy blitsverkoper, Knowing God. Ek deel hieronder enkele gedagtes uit die boek oor die heerlike onderwerp van aanneming tot kinders.]

Het jy besef? God neem verloste sondaars aan as sy eie kinders!

 

 “Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;"  (Romeine 8:15,16)

Die vraag “Wat is ‘n Christen?” kan op baie maniere beantwoord word. Die rykste antwoord is : ‘n Christen is iemand wat God as sy eie Vader het.  

Net terloops, nie alle mense is kinders van God in hierdie sin nie. Inteendeel Paulus stel dit duidelik dat ons almal, voor ons redding deur Jesus, kinders van die toorn was. Met ander woorde ons het onder God se oordeel en raak gestaan.  “…en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.” (Efesiërs 2:3) 

Die aanneming tot kinders is ‘n uitsonderlike stuk genade en  die grootste voorreg wat die evangelie ons bring. 

Ja, daar is ook ander voorregte. Soos vryspraak. Ons ken die betekenis….Regverdiging, vryspraak (justification) is ‘n forensiese saak.  Dit gaan oor die wet en oor God as regter. In die vryspraak spreek God ons vry van al ons skuld via ons geloof in Jesus op grond van sy volmaakte skuldoffer en boetedoening aan die kruis. Dit beteken , ek wat glo staan onskuldig, strafloos voor God omdat Jesus my straf gedra het. Dis heerlik.  Genadig! 

Aanneming tot kinders gaan egter nog verder. Dis ‘n familiesaak. Hier gaan dit nie oor die wet nie, maar oor liefde, nie oor God as Regter nie, maar oor God as Vader. Die aanneming tot kinders behels dat God ons in sy eie huisgesin opneem, ons word aangeneem as sy kinders en hanteer as sy erfgename! “Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.” (Galasiërs 4:7) 


Ons hele praktiese Christelike lewe word beheer deur hierdie wonderlike waarheidsfeit. Ek is ‘n kind van God. Ons gaan spesifiek kyk hoe dit in die bergrede uitgespel word in praktiese terme. God se familiekode.

 Kom ons kyk na drie praktiese terreine in ons lewens waar die besef dat God ons Vader is ‘n reuse verskil sal maak:

1. Hierdie feit van kindskap bepaal my gedrag en lewenswandel.

 

Op 3 maniere beïnvloed ons kindskap van die Vader ons gedrag:

 

As kinders is ons nabootsers van die Vader. Jesus leer -"Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerddoen.” (Matt 5:44,45) As kinders moet ons die karaktereienskappe van die Vader vertoon . Terloops, as ons vol van vrees is, as ons dronk word, as ons te lui is om op ‘n Sondag na die Vader se woorde te kom luister... wat vertel dit vir die wêreld van ons Vader? Gaan iemand God eer omdat jy dronk word?

As kinders moet ons die Vader se naam eer aan doen. Anders gestel ons moet Hom verheerlik. As mense na ons gedrag kyk, moet hulle sê : “Kyk watse goeie Pa het hy!”  Hoor Jesus se woorde -  “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik." (Matt 5:16)  Word ander mense na God toe getrek deur jou voorbeeld en gedrag. Of stoot jy hulle weg van God en die evangelie? 

As kinders moet dit ons begeerte wees om ons Vader gelukkig te maak. Dink bietjie mooi – Is jou Hemelse Vader gelukkig ... met jou gedagtes, met jou grappe langs die braaivleisvuur, hoe jy jou geld of tyd bestee? As ons goeie dinge doen moet ons nie na mense se goedkeuring soek nie, maar die Vader se goedkeuring in gedagte hou. Sy beloning is wat tel! "Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.” 6:1 Die implikasie is dat wat God van ons dade dink, dis wat saakmaak! 

2. Hierdie feit van kindskap is die basis van my gebedslewe. 


Ons vrymoedige gebedslewe berus op die voorreg dat ons God ons Vader kan noem. Dis die spesiale voorreg van God se kinders in die Nuwe Verbond om God as Vader aan te spreek as ons bid. Dink maar aan die “Onse Vader” gebed wat Jesus sy dissipels geleer het. (Dit was nie so in die Ou Verbond nie!) Die Vader is altyd toeganklik vir sy kinders. Hy weet wat ons nodig het en wil die beste vir ons gee. Dit impliseer natuurlik nie dat ons altyd kry wat ons wil hê nie, want ons vra dinge wat nie altyd die beste is nie. (Weens onkunde, selfsug, sondige begeertes ens.) En tog, kind van God kan jy seker weet dat die Vader net jou beste belange op die hart dra! Jy hoef nooit daaraan te twyfel nie! “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?” (Matteus 7:11) 

3. Hierdie feit van kindskap bepaal my geloofsvertroue op God om in al my behoeftes te voorsien.


Ons hemelse Vader is ‘n omvattende versorger soos enige goeie Pa, net baie meer. Jesus verseker ons -"Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matteus 6:31-33) 


Miskien moet elkeen van ons weer opnuut gaan dink : Is ek ‘n kind van God deur my vertroue op Jesus en sy offer? As ek daarvan seker is wat is die heerlike implikasies dat ek die Almagtige en liefdevolle God, my eie Vader kan noem? 





*In 2002 toe die sinode van die Anglikaanse diosees van New Westminster in Vancouver goedgekeur het dat sy biskop selfdegeslagverbintenisse mag seën, was Packer een van die sinodegangers wat in protes uitgestap het. Sy rede vir hierdie drastiese optrede was soos volg : 

“Because this decision, taken in its context, falsifies the gospel of Christ, abandons the authority of Scripture, jeopardizes the salvation of fellow human beings, and betrays the church in its God-appointed role as the bastion and bulwark of divine truth.”



 


Donderdag 09 Januarie 2020

NOU!

- DIE KRAG VAN VANDAG 



Jesus is nooit laat nie! (Kliek NOOIT LAAT) Hy is presies betyds vir die wat Hom soek, die wat na Hom roep. En tog gaan baie mense verlore. Anders gestel – dit blyk dat sommige die genade by hulle laat verbygaan, dat hulle geen baat vind by die genade nie al is Jesus altyd betyds. Wat is die rede? Waarom gebeur so ‘n vreeslike tragedie? 



Daar is net een duidelike rede. Hulle weier om die versoening te aanvaar wat God deur Jesus bewerk het. Dalk is jy een van hulle? Die meeste mense se verweer is: “Nee, ek weier nie, ek is darem nie so erg nie, ek stel net nog ‘n bietjie uit om die versoening te aanvaar.” Weier of uitstel (al klink laasgenoemde dalk meer ordentlik) – die gevolg is maar dieselfde skrikwekkende uiteinde… ‘n Christuslose en uitsiglose ewigheid! HEL!


Ons gaan kortliks na twee sake kyk wat Paulus in hierdie verband in 2 Korintiërs 5:20-6:2 aanroer. 

1) Die heerlike vaste feit van die versoening en hoe dit gebeur het. 

2) Die dringende oproep om dit vandag te aanvaar. 

1) DIE VASTE FEIT Paulus vertel hier van die wonderlike verlossingswerk van God. God self het hierdie versoening met ’n vyandige sondige mensdom bewerk. God het ‘n nuwe begin gemaak. Trouens, Hy is besig om deur Jesus ‘n nuwe skepping tot stand te bring. As ek aan Jesus behoort is ek deel van hierdie nuwe skepping. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel (skepping); die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.” (5:17) Paulus is ambassadeur van hierdie besondere boodskap. Nou weet ons uit die res van die brief dat daar teenstand was teen Paulus se boodskap in die gemeente van Korinte. Daar was vals apostels wat twyfel gesaai het oor Paulus se apostelskap en boodskap. Paulus sê : “Kom terug na hierdie boodskap” en “Laat julleself met God versoen”
Hoor die dringende pleitrede : "Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!" (5:20) Hy sê dit hier vir mense wat alreeds deel van die kerk was maar klaarblyklik afvallig of twyfelagtig begin word het. 

Binne die konteks van Paulus se kragtige oproep vind ons ‘n geweldige uitspraak in vers 21. “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.” (NAB) Heel moontlik vind ons hier ‘n tipe van ‘n vroeg Christelike belydenis. Hier kry ons die helder antwoord op vraag : 

Hoe word 'n sondige mens herstel tot guns van God? 

Hoe word ‘n skuldige weer beskou as onskuldig? Hoe word die vuil sondaar deel van God se koninkryk? Hoe werk vergifnis? Kom ons kyk stuk vir stuk na die uitleg.  Die OAV vertaal dit baie letterlik en ons gebruik dit as basis. “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (OAV) 

"Hom wat geen sonde geken het nie" – dis Jesus. Hy was sonder sonde. Die ware volmaakte Israeliet. (Dink aan die subtiele versoekings in die woestyn wat Hy meesterlik geslaag het.) Die vlekkelose Lam van God! 

God het vir Jesus sonde gemaak vir ons – Dit gaan hier oor die straf op sonde. NAB- “as sondaar behandel” God het Hom gestraf as sondaar wat die dood verdien! Dit steun duidelik op uitsprake van die profeet in Jesaja 53:5,6,10.* In Galasiers 3:13 kry ons ook ‘n soortgelyke uitspraak. “Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word” 

Jesus kry die straf en die vloek. Wat kry ons? Wat is die effek op ons wat glo? Ons kry die geregtigheid van God in Hom. Met ander woorde deur ons verbondenheid aan Jesus staan ons in ‘n nuwe verhouding met God. Ons is nou vergewe, vrygespreek. Dit is duidelik dat deur die aksie van God in Jesus daar ‘n nuwe verhouding met God tot stand kom. Al drie hoof terme in die gedeelte : nuwe skepping, versoening, geregtigheid van God saam, beskryf die nuwe verhouding wat tot stand gekom het en radikaal ons verhouding met God en al ons aardse verhoudings beïnvloed. 

Samevattend: 

Dit gaan hier oor ’n ongelooflike wonderbaarlike OMRUILING - die sondelose Christus is as sondaar behandel, Hy word belaai met ons sonde, Hy is veroordeel as sondaar, behandel as ’n vervloekte wetsoortreder. Hy kry die doodstraf. Ons kry die lewe. 

Hy is ons plaasvervanger, Hy het plekke met ons omgeruil. Ons kry die status van sy geregtigheid. As ek in Jesus is staan ek sonder skuld, sonder straf, sonder veroordeling voor God, nie op grond van iets wat ek gedoen het nie, maar van Christus se werk aan die kruis! Daar bestaan geen beter nuus as dit vir helbestemde sondaars nie! Wat maak jy met hierdie nuus? 

2) DIE DRINGENDE OPROEP Paulus waarsku hulle dat hulle nie die genade wat deur Jesus na ons kom deur hulle vingers moet laat glip nie. “As medewerkers van God doen ons ‘n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie.” (6:2) Hy pleit met ander woorde: “Moenie hierdie heerlike verlossing misloop nie! Moenie God se genade in Jesus verwerp nie!” Hy wil as’t ware waarsku : “Die genadeboodskap het dan geen uitwerking op julle nie, pasop dis gevaarlik!” Jy sien, genade moet mos ‘n verskil in jou lewe maak! Ook in ons verhoudings met mekaar. Genade moet mos lei tot groei in heiligheid, liefde vir God, liefde vir mekaar. Genade moet tog die gevolg hê – dat ons begin leef vir die Een wat sy lewe vir ons gegee het. ‘n Lewe vir Hom, nie meer vir geld, aansien en wellus nie! “Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.” (5:14,15) 

Paulus onderstreep die dringendheid met ‘n aanhaling wat kom uit Jesaja 49:8. “Hy sê: "Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp." Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.” (6:2) Met Jesus se koms het die regte tyd, die unieke geleentheid vir redding nou aangebreek! Moenie uitstel nie, moenie laat dit verbygaan nie. Daar sal nooit ‘n beter tyd en geleentheid vir redding wees as nou nie! Moenie nog wag vir ‘n wonderwerk of ‘n teken nie. Die trein het gestop, nou moet jy opklim! Moenie uitstel nie! Hoe lank stel jy al uit om die reddingsgenade van Jesus te aanvaar? Hoe lank haak jy vas by daardie een sonde wat hinder dat jy dankbaar kan wees vir God se genade? Jy besef al vir baie jare daar is gewoontes, gesindhede of verhoudinge in jou lewe wat ‘n gruwel is vir God! Kom vir hulp na Jesus. Kom met erns. Kom met bereidheid om te breek met daardie verkeerde gewoonte of sondige verhouding... Vergeet van alle ander nuwejaarsvoornemens. Hierdie is die een saak bo alles! 

Die tyd van redding is NOU. 

Die verlede is in elk geval onherroeplik verby. Die toekoms, selfs die volgende uur, wat nog te praat van môre is onbekend en buite ons beheer. Jy het net NOU, NOU om die grootste besluit van jou lewe te neem... 

Die veld is groen. Dit het positief gereageer op die genadereën! (Tsintsabis, Januarie 2020)


* Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom. Jesaja 53:5,6

Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly. As hy sy lewe as skuldoffer gee, sal hy ‘n nageslag hê en nog lank lewe, deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik. Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien en hy sal die Here ken. My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra. 

Jeasaja 53:10,11

Donderdag 19 November 2015

NIE ‘N “CELEBRITY” NIE

- Jesus het nie ‘n filmster voorkoms of glansgans persoonlikheid gehad nie, maar net Hy kan jou voorberei vir daardie groot afspraak!


Voorbereiding is absoluut noodsaaklik. Wees voorbereid vir jou eksamen, lisensie uitpasering, om jou rekenings te betaal, vir daardie belangrike werksonderhoud...