BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Parke gemeente (Kraaifontein). Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Parke gemeente (Kraaifontein). Wys alle plasings

Maandag 11 Maart 2019

EK HUIL OOR DIE NG KERK

[Dis onder hierdie opskrif dat ek verlede week ‘n brief van mevrou Louisa Louw uit die Kaap ontvang het. Ek het haar toestemming om ‘n uittreksel uit die brief te plaas. Sy is die weduwee van ds. Willem Louw wat ook vir ‘n aantal jare in Suidwes (Namibië) werksaam was onder andere by die Weskus Sending in Walvisbaai onder die Topnaars en ook as predikant van die NG Kerk Gochas. Ek plaas ‘n uittreksel van haar brief omdat dit so ‘n aangrypend raak verwoording is van die hartseer en worsteling van baie NG lidmate en voormalige NG lidmate.] 

Liewe Johannes, 

Ek lees gereeld jou blog en wou al meermale kommentaar gelewer het, maar my elektroniese vermoëns laat my in die steek! .... Maar dit daar gelaat. Ek skryf nou maar aan jou privaat-e-posadres. 

Ek kan net sê ek is hewig ontsteld oor die gebeure by Kraaifontein en nou die hooggeregshof se uitspraak. Ek is in my persoonlike Bybelstudie besig met Jeremia en ek sidder as ek sien waarmee Jeremia te kampe gehad het en die boodskappe wat God vir hom gegee het. Ek herken soveel van die situasies in sy tyd ook in ons tyd in SA – en elders. Ek sien dat God op ‘n stadium vir Jeremia verbied het om vir sy mense te bid. Ek weet net dat daar grense is en daar kan ‘n tyd kom dat genoeg genoeg is! Maar wat my die meeste ontstel, is dat so baie van ons goeie, lojale NG lidmate nie ‘n idee het wat aangaan nie en dit raak hulle nie. Apatie bring geestelike verlamming mee. 

Dan is daar lidmate wat wel ontsteld is en nie langer in die NG Kerk wil bly nie, maar waarheen moet hulle gaan? Die wat wel uit die kerk gaan, spat in alle rigtings. Oom Willem was al oor baie jare heen diep besorg oor die rigting wat die Kerk inslaan en ons het heelwat rondgeloop en gesoek na ‘n geestelike tuiste, want in .....gemeente waar ons was, het ons die afgelope jare al hoe meer geestelik ontuis gevoel. Oom Willem het briewe geskrywe, gesprekke gehad, maar hy en die leier-predikant het net by mekaar verbygepraat. Aan die begin van 2015 het hy gesê dat indien die sinode aan die einde van daardie jaar die besluit neem (wat hy toe wel geneem het), is hy uit die NG Kerk. Ek het gesê ek is saam met hom uit. Op 25 Junie 2015 het die Here hom toe kom haal en ek het na worsteling en baie trane in die loop van 2016 by .....gemeente bedank en aangesluit by een van die kerke van REACH; “Reformed Evangelical Anglican Church in South Africa”, ‘n kerk wat ek en oom Willem meermale besoek het. Ek sou in my lewe nooit kon droom dat ek by ‘n Engelse kerk sou aansluit nie, maar die evangelie wat ek daar hoor en die Here Jesus wat verkondig word, laat vir my baie dae nie eers meer die Engels hoor nie; die Skrif word so oopgebreek en God word verheerlik! Daar is baie Afrikaanse mense en ekself is in ‘n Afrikaanse omgeegroep. Ek kan eerlik sê dat ek geestelik tuisgekom het. 

Tog is daar diep in my hart nog ‘n liefde vir die NG Kerk wat ek geken het en my wortels lê daar. En ek bid nog vir die NG Kerk. Ek dank die Here vir die enkele gemeentes en predikante wat die Here en Sy Woord liefhet en ek bid dat hulle ook die moed aan die dag sal lê om te sê waar hulle staan. Ek wil vir jou en ander predikante soos jy bemoedig en bid dat julle sterk sal staan ter wille van Christus en Sy gemeente. Ek is veral belas vir die gewone lidmate wat soos skape sonder herders is. Hulle is baie verward en baie keer so oningelig. 

.............................. 

Seënwense vir jou en jou gesin, 

Tannie Louisa Louw



[Sendelinge in die destydse Suidwes. Ds. Willem Louw is in die voorste ry tweede links.]

Die hartseer, worsteling en verslaentheid van duisende NG lidmate word nie gehoor nie. (En dit terwyl DIE KERKBODE ‘n luide spreekbuis vir die gay aktiviste geword het!) Dit gaan natuurlik oor baie meer as oor die gay saak... Dit gaan oor ‘n kerkverband wat haar evangeliese koers verloor het... Oor teologie dosente wat nie meer aan die Bybel en die opstanding van Jesus glo nie... Oor kwynende getalle en leiers wat nie die moed het om profete te wees nie... En ja, ons is almal skuldig...


Ons treur saam met Jeremia. 

“My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk,....” (Klaagliedere 2:11)

Donderdag 07 Maart 2019

BRIEF UIT TAFELBERG


Gelukkig is alle NG Kerke in die Kaap nog nie saam met NG Kerk Parke op 'n duistere dwaalpad nie. Die leraar van die NG Kerk Tafelberg het 'n duidelike brief  van beswaar en vermaning aan die NG Kerk Parke en die Ring van Durbanville gestuur. Dankie dr. Chris Saayman!


Van: Dr C Saayman
Leraar: Tafelberg NG Kerk

Aan: Die Voorsitter van die Kerkraad
NG Kerk Parke >> kantoor@parke.co.za

Aan: Die Voorsitter van die Ringskommissie
Ring van Durbanville >> carika@sonstraal.org.za

6 Maart 2019

Geagte kollegas

BEROEP EN BEVESTIGING VAN DS L VAN DER RIET

Met groot ontsteltenis het ek daarvan kennis geneem dat ‘n praktiserende homoseksuele persoon in NG Parke as leraar bevestig is aangesien dit strydig is met die Skrif asook die besluit van AS 2016.

Uit ‘n onlangse media-onderhoud met die leraar, blyk dit dat daar geen vooraf onderneming tot selibaatskap van hom vereis was nie. Hy verklaar naamlik - volgens Netwerk 24 - dat hy (sonder enige berou) voorheen in ‘n homoseksuele verhouding met ‘n priester van die VSA betrokke was en dat hy - indien die geleentheid hom voordoen - weer in ‘n verhouding betrokke sal raak en ook met ‘n man sal trou in dieselfde gemeente waar hy tans predikant is. Hy is immers “nie net homoseksueel van sy middellyf af boontoe” nie.

Dit kom dus voor asof AS 2016 eenvoudig onder die mat ingevee is. Wat nog te sê die heldere en duidelike getuienis van die Skrif.

My vrees is dat nie net die kerkraad nie, maar ook die Ring wat instemming verleen het, skuldig is aan iets wat indruis teen God se Woord. Dit sluit die Moderator van die NG Kerk in - wat namens die kerk verklaar het dat die kerk “oneindig trots” is op Ds vd Riet. Hier is diepe inkeer en bekering nodig.

Het die kerk se skande dan nou sy trots geword? Is dit nie tragies dat kerkleiers so maklik kapituleer voor die aanslag van die wêreld se “gay-agenda” en liberale Bybelloënende progressiewe denke nie?

Hierdie aangeleentheid gaan die NG Kerk onberekenbare skade berokken. Daarom my afkeur en beswaar teen hierdie toedrag van sake.

Ek dink die kerkraad en Ring is aan die NG Kerk as geheel ‘n verduideliking & apologie verskuldig.

Daarbenewens behoort daar onmiddelik van die betrokke leraar ‘n skriftelike onderneming tot selibaatskap vereis te word.


Die uwe

Dr Chris Saayman - Leraar: Tafelberg Gemeente 





Woensdag 06 Maart 2019

KRAAIFONTEIN (PARKE GEMEENTE)

BEKEER JULLE!



Ons weet teen die tyd seker almal dat die NGK Parke gemeente (in Kraaifontein) in die Kaap ‘n openlik homoseksuele predikant aangestel het. Dit veroorsaak natuurlik (tereg) groot bohaai en ontsteltenis by God se kinders in alle kerkverbande. 



In my persoonlike hoedanigheid as leraar van die NG Kerk Tsumeb wil ek myself net kortliks hieroor uitspreek ter wille van duidelikheid en vir die rekord : 



1.Die aanstelling van ‘n openlike homoseksueel as leraar by die NGK Parke gemeente vervul my met afgryse, skok en hartseer. 



2.Ek wil in nederigheid op grond van die Heilige Skrif, NGK Parke gemeente oproep tot bekering! 


3.Ek wil weer onder almal se aandag bring dat die NGK Tsumeb se uitvoerige en gebalanseerde standpunt oor homoseksualiteit gevind kan word by TSUMEB SE STANDPUNT (Kyk spesifiek na Bylaag A) 

4.Ek wil graag alle broers en susters daaraan herinner dat die plaaslike kerk, selfstandig kerk is. (ecclesia completa) Die NG Kerk Tsumeb is dus ‘n selfstandige kerk van Jesus Christus onder Sy gesag onder leiding van die ampte met die Woord, gebruik deur die Gees as norm. (Dit beteken natuurlik nie dat ons volmaak is nie, maar wel dat ons ons Here in gehoorsaamheid probeer volg te midde van ons gebrokenheid.) As ander NG Kerke dwaal beteken dit nie dat alle NG Kerke dwaal nie! Dis wel baie hartseer as ander kerke in dieselfde verband of ander verbande die smal pad byster raak en dis ons plig om hulle dan op te roep tot bekering. 

5. Ek wil my dank betuig teenoor ds. Hector Jooste van NGK Otjiwarongo wat hom ook baie sterk uitgespreek het teen hierdie vreeslike daad van afvalligheid. Ek doen 'n nederige beroep op ander kerke en leraars om ook onbeskaamd standpunt in te neem teen alle dwaling en verval.

In Sy diens
Johannes de Koning

Naskrif : Lees gerus die reguit brief van Dr. Chris Saayman van NGK Tafelberg aan NGK Parke gemeente en die Ring van Durbanville. (Kliek op BRIEF)