Wat 'n voorreg om die kosbare Woord van God hier in ons pragtige dorp Tsumeb te verkondig. Tsumeb word geassosieer met minerale rykdom. Mag die Heilige Gees die prediking van die Skrif gebruik om die (onuitputlike) Woord-Skatte van Waarheid te ontsluit vir elkeen wat wil luister. So beleef ons die rykdom van God se genade as Hy aan ons redding uit vrye guns skenk deur vertroue op Jesus. Hiervoor moet God alleen die eer kry!
Bladsye
BAIE WELKOM!
Donderdag 04 Junie 2026
Wat is 'n piesangrepubliek
Maandag 11 Mei 2026
David Attenborough - 100 jaar!
Almal ken hom, dis immers hy wat seker meer as
enige ander persoon gedoen het om die asemrowende wonders in die natuur tot in
ons huise te bring. Dwarsoor die wêreld.
Sy unieke stemtoon, sy rustigheid, sy detail kennis wat op maklik
verteerbare manier aangebied word en die gepaardgaande uitstekende fotografie
het baie bewonderaars uit ‘n groot verskeidenheid van oorde gewen.
As Christene kan ons God dank vir die algemene
genade en wonderlike talente van insig en kommunikasie waarmee Attenborough
geseën is. Maar dis juis hier waar die hartseer probleem ook sigbaar word. Sir
David homself erken dit nie. Hy besef nie die goedheid van God in sy eie lewe
nie, hy is ook tragies blind vir die Skepper agter die wonderlike skepping wat hy so op ‘n
bekwame manier aan ons bekendstel.
Hier het ons nie net te maak met ‘n stuk
ongelukkige onkunde nie, maar met die wortel van alle sonde. Romeine 1:18ev
verduidelik dit baie mooi. God se werke as Skepper in die skepping is duidelik
waarneembaar. En tog weier mense om die Skepper te eer en verheerlik eerder die
skepsels. En weens hierdie vreeslike rebelsheid gee God self die mens se hart
oor aan bose dade en gesindhede.
Attenborough beskryf homself nie as ‘n ateïs
nie, maar eerder ‘n agnostikus. Hy besef tot ‘n mate Iemand moet agter als
wees, maar Hy aanvaar nie God se openbaring in sy Woord dat God die goeie
Skepper is nie. Een rede wat hy noem is die probleem van lyding. Hy meld van
die parasiet wat net kan bestaan as hy die oogbal van ‘n mens binnedring – en dit
veroorsaak natuurlik blindheid. Die vraag is hoe kon ‘n goeie liefdevolle God
so iets geskep het? Dis natuurlik hier waar Attenborough se geestelike blindheid
sterk na vore kom. As hy maar net Genesis wou lees, sou hy besef dat hierdie
aarde weens die mens se eie rebellie en opstand ‘n vervloekte aarde geword het, vol
ellende, smart, siekte en dood. Die goeie skepping is nie meer goed nie. Maar
dis juis ook hier waar God se kinders so anders hoopvol mag wees – die hele
skepping gaan nuut gemaak word! Jesus is die Herskepper! Romeine 8 beskryf dit op treffende manier. Ons
wat aan Jesus behoort en reeds vergifnis ontvang het, weet ook dat ons gebroke
sterflike liggame gaan verander om soos Jesus se verheerlikte liggaam (Filippense 3:21) te wees, maar dis nie al
nie – die hele skepping gaan vernuwe word en volmaak wees – geen siekte, pyn,
smart en dood nie! Mag iemand tog vir Attenborough hiervan vertel...
Vrydag 27 Februarie 2026
SLANG, SATAN EN SONDEVAL
- Was die slang van Genesis 3 die duiwel?
Genesis 3 is ‘n sleutel
belangrike hoofstuk vir die verstaan van God se pad met die mens, en ook die kern
moment daarvan, naamlik die oorwinning van Jesus oor die Satan deur sy kruis en
opstanding. As die betekenis van Genesis 3 in twyfel getrek word, lei dit
daartoe (of dit nou die bedoeling is of nie) dat die evangelie – die goeie nuus
van Jesus wat sondaars verlos en van die mag van Satan bevry, afgewater of
selfs heeltemal in diskrediet gebring word.
Ek kan die Bybel nie anders lees as ‘n Christen nie. Ek lees daarom ook Genesis 3 as iemand wat my verlossing op Jesus alleen bou. My hoop is op Hom om my te red van die skuld en die mag van sonde. My verwagting is dat Jesus my ook sal red van die komende oordeel van God, wanneer die mensdom verantwoording sal moet doen van ons lewe hier op aarde.
VERTREKPUNTE EN HOEKPENNE
Wanneer ons as gelowiges die Bybel lees en veral probeer om moeilike gedeeltes te verstaan, is daarbenewens ons afhanklikheid van die Heilige Gees twee ander basiese vertrekpunte wat ek net wil uitlig :
Ons lees die Bybel eintlik van agter af. Ek bedoel dat ons spesifiek ook die Ou Testament lees vanuit die finale openbaring deur Jesus. Hyself is God se finale Woord aan ons. “In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun...” (Hebreërs 1:1,2) Ons kan die Skrif nie los verstaan van Jesus se woorde en dade nie. Jesus self staan sentraal. Wat in die Ou Testament moontlik vaag en voorlopig is, word deur Jesus helder en duidelik.
Ons lees die Bybel saam met die kerk van alle eeue. Juis omdat ons bely “Ek glo in ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.”, mag ‘n 21ste eeuse leser nie Genesis 3 lees asof die Heilige Gees nie die kerk alreeds duidelik gelei het in die verstaan van hierdie hoofstuk nie.
DIE SLANG
Natuurlik identifiseer Genesis 3 nie die slang as die duiwel nie. Inderdaad is die hele Ou Testament, baie skaars en geheimsinnig rakende hierdie figuur. Jesus en sy apostels is egter uitgesproke en duidelik oor die Satan/duiwel. Dis asof Jesus as die Seun van God se koms na hierdie wêreld, allerlei buitengewone demoniese aktiwiteit na vore gebring het en op die spits gedryf het. Die duiwel is gedwing om nou sy kop duidelik uit te steek... Die Satan het immers self in Judas ingevaar om Jesus te gaan verraai.
Twee gedeeltes in Openbaring bring die slang van Genesis 3 en die duiwel/satan wel duidelik met mekaar in verband.
“Die groot draak, die slang van weleer, wat Duiwel en Satan genoem word, die verleier van die hele bewoonde wêreld, is toe uitgegooi. Hy is op die aarde neergegooi, en saam met hom ook sy engele.” (Openbaring 12:9)
“En hy het die draak, die
slang van weleer, wat Duiwel en Satan is, gegryp en hom vasgeketting vir 'n
duisend jaar lank.” (Openbaring 20:2)
ByTop of Form
B
1. Justinus Martelaar
(ca. 100–165)
In Dialoog met Trypho identifiseer Justinus die slang wat Eva mislei het met Satan, en voer aan dat die sondeval die werk was van ’n persoonlike bose mag wat teen God gekant was.
2. Irenaeus (ca. 130–202)
In Teen die Ketteryë (Boek V) stel Irenaeus uitdruklik die slang gelyk aan die duiwel en noem hom “die afvallige engel” wat die mens beny het en Adam en Eva tot ongehoorsaamheid verlei het.
3. Tertullianus (ca.
155–220)
Tertullianus verwys gereeld na die slang as die duiwel, veral in Oor die Vlees van Christus en Teen Marcion, waar hy Genesis 3 as Satan se misleiding interpreteer.
4. Origenes (ca. 185–253)
Origenes leer dat die slang ’n instrument van Satan of ’n manifestasie van hom was. In Oor die Eerste Beginsels bevestig hy dat ’n vyandige geestelike mag deur die slang gepraat het.
5. Cyprianus van Kartago
(ca. 210–258)
Cyprianus skryf die versoeking van Eva direk aan die duiwel toe en identifiseer die slang as Satan in sy morele en pastorale geskrifte.
6. Athanasius van
Alexandrië (ca. 296–373)
In Oor die Menswording verwys Athanasius na die duiwel as die een wat die mens in die begin mislei het, en verbind hom duidelik met die slang verhaal.
7. Johannes Chrysostomos
(ca. 347–407)
In sy Homilieë oor Genesis leer Chrysostomos dat die duiwel deur die slang as sy instrument gewerk het.
8. Augustinus van Hippo
(354–430)
In Die Stad van God
(Boek XIV) en Letterlike Kommentaar op Genesis identifiseer Augustinus
uitdruklik die slang met die duiwel en voer aan dat Satan die dier gebruik het
om Eva te mislei.
Die Rooms Katolieke Kerk leer amptelik dat die sondeval ’n werklike gebeurtenis was en dat daar ’n persoonlike gevalle engel (Satan) is, wat ‘n rol in die versoeking gespeel het. Die Kategismus van die Katolieke Kerk (§391–395) leer dat agter die keuse van ons eerste ouers ’n “verleidende stem” was wat teen God opgestaan het — ’n gevalle engel.
Die Oosters-Ortodokse Kerk glo ook dat die slang met Satan verbind word. Volgens hulle was daar ’n werklike demoniese versoeking. Die sondeval was’n werklike gebeurtenis in die vroeë geskiedenis van die mens. Die Ortodokse teologie beklemtoon minder juridiese skuld (soos in die Westerse tradisie) en meer die idee van dood en korrupsie wat deur die duiwel se misleiding in die wêreld ingekom het. Maar die identifikasie van die slang met Satan is standaard in die liturgie en vaders.
Calvyn (Gereformeerde tradisie) in sy kommentaar op Genesis stel dit duidelik dat Satan homself van die slang bedien as instrument. Die duiwel is die eintlike verleier, maar werk deur ’n geskape middel. Calvyn verwerp die idee dat dit bloot ’n mite of allegorie is. Hy meen Moses beskryf ’n werklike historiese gebeurtenis. Tog waarsku hy teen spekulasie oor hoe presies Satan deur die slang gewerk het. (En ons moet inderdaad nie die spoor wil byster raak met allerhande nietige vrae wat die Skrif self nie beantwoord nie.)
Belangrik: Vir Calvyn is die sondeval histories noodsaaklik
vir die verstaan van erfsonde, totale verdorwenheid en die noodsaaklikheid van
Christus se verlossing. Miskien is dit juis hierdie aspekte wat die klippie in
die skoen is van die sogenaamde Nuwe Hervormers en hulle postmoderne dissipels –
die mens se sonde en totale verdorwenheid is nie gewilde temas in ons dag nie.
Dit ontstel die mens se hoogmoed, selfgeregtigheid en eiewaan. Daarom sal hulle
Genesis 3, maar ook eintlik maar die hele Bybel afskryf as mites, wat
uiteindellik vir ons net mooi sedelessies bevat. Selfs die opstanding van Jesus
word dan ook as ‘n mite beskryf! En dis die probleem, as ons alles wat
bonatuurlik en vergesog vir ons klink uit die Skrif verwyder, wat bly oor? Wie
die sondeval bevraagteken, gaan uiteindellik ook die verlossing van sonde
bevraagtken! Wie die bestaan van ‘n
bonatuurlike duiwel betwyfel, gaan ook die unieke Seun van God, gebore uit ‘n
maagd, waarlik God en waarlik mens in twyfel trek en met ongeloof skepties aankyk. As
die sonde van die eerste Adam afgewater word (tot 'n tipe "mondigwording"), sal die verlossing deur die Tweede
Adam maar min vreugde en opgewondenheid en aanbidding by ons opwek. (Romeine
5)
[Daar is gebruik gemaak van KI in hierdie stuk]
Donderdag 25 September 2025
Danie Botha het "misgevat"
As Danie tog maar net die Bybel in konteks wou lees sou hy uit die staanspoor nie 'n dwase voorspelling gemaak het nie, want die Bybel leer nie twee wederkomste nie. Dit waarvan 1 Tessalonisense 4 en ook 1 Korintiërs 15 praat wat (LW) by die "laaste basuin" gaan gebeur is die opstanding van die reeds gestorwe kinders van God, wat saam met die lewende Christene ons Here Jesus as Koning gaan verwelkom! Die sg. wegraping is 'n onlangse ontwikkeling.
Wie nou maar byvoorbeeld net erns wil maak met Jesus se eie lering in Markus 13, sal sien dat Jesus ons nooit aanmoedig om tye te bereken nie! Hy maan ons juis teen misleiers*, Hy roep ons op tot waaksaamheid en volharding!
Danie se tragiese misvatting wys ons net weer op die dwaasheid om menslike indrukke "Die Here het vir my gesê" en allerhande visioene bo die onfeilbare Woord van God te glo! Die geskiedenis wemel van vals visioene - dink maar aan Mohammed, Ellen White... tot nou weer in ons dag!
Kliek op IS DANIE BOTHA REG?
* Jesus het hulle toe geantwoord: “Pasop dat niemand julle mislei nie. (Markus 13:5)
Donderdag 17 Julie 2025
OUDERLINGE WORD VERMOOR EN ‘N OUDERLING PLEEG MOORD
- Leiding uit die lyding van die verlede (toe die helfte van 'n kerkraad in geweld sterf)
Plaasmoorde, geweld en verwoesting is algemene nuus. Maar dis nie iets nuuts nie. Dit bring ons as kinders van God sommer by ‘n aktuele vraag - HOE STERF ‘N OUDERLING?
Ek deel graag met jou ietsie van hierdie gebeure soos veral opgeteken deur dr Thijs Nieuwoudt. (terloops eens op ‘n tyd ook leraar op Tsumeb) Vier van Gibeon se agt kerkraadslede is destyds vermoor – ouderlinge Smeer en Smit en diakens Booysen en Mähler.*
Dit was die veelbewoë
jaar 1904 – die tyd van bloedige opstande teen die Duitse koloniale bewind.
Reeds in 1903 was daar ‘n opstand onder die Bondelswart stam by Warmbad in die
suide wat redelik gou tot ‘n einde gebring word. Maar toe kom die groot
moeilikheid nog. Met die meeste Duitse soldate in die verre die suide, breek
die Herero opstand onder Samuel Maharero in die sentrale noorde uit. Dit sou
uiteindelik bloedig onderdruk word en tot die tragiese uitwissing van ‘n groot
deel van die Herero bevolking lei. Die omstrede Vernichtungsbefehl (uitwissingsbevel)
van Lothar von Trotha weerklink
vandag nog in die psige van die Namibiese nasie.
Maar toe kom die derde fase. Hendrik Witbooi een van die groot Nama leiers het aanvanklik sy gewig by die Duitsers ingegooi teen die Herero’s. Na die Slag van Waterberg keer hy en sy manskappe terug. Nou terwyl die Duitsers nog in die Noorde besig is, sien hy sy kans om sy eie ideale te verwesentlik. Sy wrede plan en verwarde visie om ‘n Messiaanse Vrederyk** te verkry behels dat alle blanke manlike persone klein en groot summier vermoor moet word en die vroue en dogters uit die land gejaag moes word. (Blykbaar was sy beplande hoofaanslag nie teen die Boere nie, maar wel teen die Duitsers. In die hitte van 'n stryd loop dinge egter lelik skeef en word daar nie altyd by doelwitte gehou nie.) Soos dikwels in die geskiedenis kry bose planne ‘n christelike sousie deurdat sy profeet Baäl Stuurman uit die boek Jesaja aangevoer het dat die Namas en Basters die uitverkorenes was en die Blankes indringers.
Oudl. Frans de Villiers Smeer, sy vrou en hulle aangenome
seuntjie Jannie was per ossewa vanaf ‘n kerkgeleentheid by Kub op pad na hulle opstal
op die plaas Marienthal*** wat hulle gehuur het. Volgens ‘n vertelling van mevrou
Smeer het hy die oggend baie uit sy Bybel gelees en naby die huis met Psalm 42
afgesluit. Hy het ook ‘n gebed gedoen en blykbaar ook gesê : "So Bybel, nou is ek met
jou klaar.” By die huis aangekom is hy deur Namas oorrompel en is ‘n osriem om
sy nek vasgemaak, Mev. Smeer is ook van die wa afgeruk met ‘n riem om die
nek. Hulle word na die polisie gebou op
die plaas gelei, die polisie is reeds die vorige dag vermoor. Smeer pleit tevergeefs vir hulle lewens. Hy
versoek toe om die geleentheid te kry vir ‘n gebed. Dit word toegestaan. Hy bid
hardop – ook vir sy voornemende moordenaars. Een van die Namas het begin huil
en vir sy lewe gepleit, maar die leier het beveel dat hy geskiet moes word. Hy
word weggelei en geskiet. Mevrou Smeer kon hom nie eens groet nie. Sy word na
haar huis terug gelei en beveel om op die traporreltjie te speel sodat die
Namas kon dans. Ja -Sy speel geestelike liedere maar dit keer hulle nie om te
dans nie.
Hoe sterf ‘n kind van die Here in sulke omstandighede? Biddend. Ook biddend vir sy vyande. Net soos Jesus aan die kruis en Stefanus in Handelinge. (Handelinge 7:60) Daar kan nog wrede verhale uit hierdie tydperk vertel word. Veral die grusame gebeure op die plaas Swartmodder van ouderling Hendrik Smit. Hier is ‘n massaslagting aangerig, ook onder kinders. Merkwaardig is die ontkoming van klein Dirkie Smit wat oorleef het omdat hy soos ‘n dogtertjie aangetrek was en ‘n sewejarige seuntjie wat net deur sy armpies geskiet is. Ek gaan nie hieroor uitwei nie. My punt wat ek wil maak is nie ‘n fokus op die wreedheid en barbarisme nie, maar die belangrikheid van getrouheid aan ons Verlosser in woord en daad, juis ook in die manier hoe ons teen ons vyande optree. Geweld en oorlog is nooit goed nie, vir niemand nie – Op die ou end was dit juis die Nama volk self wat die swaarste gely het as nagevolg van Duitse weerwraak! Baie sterf. Sommiges moes uiterste weerstoestande op Shark eiland by Luderitz verduur waar hulle aangehoudenes was. Witbooi sterf self ook by Vaalgras naby Keetmanshoop op 29 Oktober 1905.
Geskiedenis, ook
van ons kerk in Namibië herinner ons aan baie donker dae van die verlede, maar
dit onderstreep ook juis die boodskap van hoop in ‘n stukkende somber sonde
geteisterde wêreld. Hierdie helder hoop is
moontlik deur die helder lig van die evangelie van genade en vergifnis .
Hoe wreed en sinloos
‘n oorlog kan word, blyk ook uit die moord op die Duitse sendeling eerwaarde
Holzapfel.**** ‘n Wa met vroue en kinders onder geleide van Nama vegters het
naby Rietmond die wa van die Holzapfel gesin teegekom. Pastoor Holzapfel wou
nog die mense troos, maar word afgekeer en deur ses gewapende Namas geskiet; en
skrikwekkend - een van hulle was ‘n ouderling in sy gemeente. Ouderlingskap is
nie 'n waarborg vir heiligheid nie! Die Bose is ook werksaam binne die kerk.
Mag ons altyd waaksaam wees teen die listige planne van die Satan wat kan
probeer om enigeen van ons ook te verlei!
Sy teks was Openbaring 7:14 “Deze zijn het, die uit de groote verdrukking komen: en zij hebben hunne lange kleederen wit gemaakt in het bloed des Lams.”
“Dit is
die mense wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle lang stolas gewas,
en wit gemaak in die bloed van die Lam.” (2020 Vert,)
Ons leef vandag nog
steeds in die tyd van die groot verdrukking, watter vorme dit nog kan aanneem
weet ons nie, maar mag ons gereed wees, gewas in die bloed van Jesus! Mag ons
die genade ontvang om altyd die gesindheid van Jesus te vertoon.
*Nieuwoudt, M.M; Die Nederduitse Gereformeerde
Kerk in Suidwes-Afrika, 1979, p125
** Buys, GL en Kritzinger, JJ, Salig die
vredemakers, 1989, p89ev
***Die bronne verskil oor die plaas waar Smeer vermoor is. Wat dit sy eie plaas Enkelekameelboom of 'n huurplaas Marienthal? Dit sal seker maklik vasgestel kan word deur 'n ter plaatse ondersoek, want naby die opstal waar hy vermoor is, was 'n Duitse polisiepos. As jy hiermee kan help.laat weet my asseblief.
**** Nieuwoudt, M.M; Bakermat van ‘n
kerkverband – Mariental, ‘n eeufees, 1998, p100
Naskrif 1 In hierdie tyd waar ek aan my video werk oor die Smeer geskiedenis, trou my dogter Marisja in Windhoek. En wie ontmoet ek by die troue? Vir Hennie Smeer 'n nasaat van die aangenome seuntjie Jannie! Dit kan sekerlik nie toevallig wees nie!
Saterdag 01 Februarie 2025
MAAK DIE MAAGDELIKE GEBOORTE REGTIG SAAK?
In ‘n onlangse woordewisseling tussen predikante van die NGK in Namibië op ‘n Whatsapp groep het hierdie saak weer ter sprake gekom. Daarom die belangrike vraag wat elke gelowige en spesifiek ook elke bedienaar van die Woord in selfondersoek moet vra : Glo ek in die maagdelike geboorte van Jesus ons Verlosser? Moet ek glo in Jesus se geboorte uit die maagd Maria, ‘n jong meisie wat nie geslagsgemeenskap gehad het nie? Ja, beslis! Dis deel van die kern belydenis van die historiese Christelike kerk van die vroegste tye af. Dit word immers duidelik verwoord in die bekende Apostoliese Geloofsbelydenis (Twaalf Artikels)
“Ek glo in Jesus Christus sy eniggebore Seun, wat
ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria...”
Nou waarom is hierdie ‘n ononderhandelbare
deel van die Christelike belydenis?
Ons hoef nie hieroor te spekuleer nie, die
Heidelbergse kategismus is glashelder oor hierdie leerstelling.
SONDAG: 14 - VRAAG EN ANTWOORD: 35
Vraag: Wat beteken: wat ontvang is van die
Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria?
Antwoord: Dat die ewige Seun van God, wat ware
en ewige God is en bly , die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van
die maagd Maria deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het . So is Hy
tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid , in alles aan sy broers gelyk,
behalwe die sonde .
SONDAG: 14 - VRAAG EN ANTWOORD: 36
Vraag: Watter nut verkry jy uit die heilige
ontvangenis en geboorte van Christus?
Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is, en met sy
onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God
bedek.
Kortliks kom dit daarop neer dat Jesus se
verwekking sonder menslike toedoen en sy geboorte uit ‘n maagd die heerlike
implikasie het, dat Hy waarlik God is, maar ook waarlik mens en tog sonder
sonde. So kwalifiseer Jesus op unieke wyse om ons enigste Middelaar en volkome
Redder te wees!
Net baie belangrik – natuurlik is Jesus se
maagdelike geboorte nie gegrond op kerklike tradisie en belydenisse nie – dis die
direkte lering van die Skrif.
Kom ons kyk net weer na ‘n uittreksel uit die aangrypende
gebeure in Lukas 1 en 2. (Ons vind dit natuurlik ook in die Matteus geboorte
geskiedenis waar dit vanuit die Ou Testament bevestig word) Die engel Gabriël
kom na die niksvermoedende jongmeisie Maria en maak die aankondiging oor die
geboorte van seun van die Allerhoogste God! Natuurlik is Maria totaal onkant
gevang en verstom.
Lukas 1:34,35
34. Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan
so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met 'n man het nie?”
35. Die engel het haar geantwoord:
“Die Heilige Gees sal oor jou kom
en die krag van die Allerhoogste
sal jou oorskadu.
Daarom sal die Kind wat gebore
word, heilig wees;
Hy sal Seun van God genoem word.
Die verloofde meisie Maria weet genoeg van
biologie om te besef dat sy nie swanger kan wees nie. (Daar was nog destyds
meer respek vir die uniekheid van die huwelik as in vandag se houvrou/saambly
kultuur) Die engel gee vir haar die antwoord
en oplossing van die raaisel.
Opvallend dat die heilige Drie – eenheid hier
so treffend ter sprake kom. “Heilige Gees, krag van die Allerhoogste, Seun van
God”
Dis skokkend dat sekere teoloë en predikante
selfs binne die NGK nie meer hierdie waarheid glo nie. Hulle afgryslike suggestie (deur woorde of
deur implisering) is dat Maria maar ‘n “stout Joodse meisie” was wat oor die tou
getrap het. Dis natuurlik ‘n baie ou aanval op Jesus self. Hierdie denkwyse binne ‘n kerkverband wat nie
meer aan die Skrif getrou is nie en onbeholpe voorkom as dit kom by sake soos
geslag, huwelik en seksualiteit behoort ons nie te verbaas nie. Die oorsprong
van hierdie betwyfeling van God se Woord is die Satan self. Die slang wat vir
Eva aan God se Woord wou laat twyfel werk hard om mense selfs binne die kerk,
die maagdelike geboorte en liggaamlike opstanding van Jesus te laat bevraagteken.
As iemand die maagdelike geboorte van Jesus
verwerp, verwerp hy ook die uniekheid van Jesus as Seun van God – hoe so ‘n
persoon dan nog kan beweer dat hy in die histories liggaamlike opstanding sou
kon glo is moeilik te verduidelik. Dan kom die hele evangelie en ons verlossing
in gedrang.
Bevraagtekening van kern Christelike
leerstellings moet ons verontrus en verontwaardig maak. Dit kom neer op
lastering teen die Heilige Maagd. Sy is ‘n besonder begenadigde, sy speel ‘n
baie belangrike rol in ons geloofslewe soos die belofte van die engel aan haar
dit bevestig het. (Terloops, dis nie om dowe neute dat die antieke kerk, Maria,
die Ark van die Nuwe Verbond (kliek) genoem het
nie. Dis nie uit die duim gesuig nie, maar het ‘n sterk eksegetiese basis.)
Maar dit gaan nog verder, wie Maria laster, laster ook haar Seun en verwerp die
verlossing wat Hy vir sondaars gebring het!
Teoloë en predikante wat die maagdelike
geboorte van Jesus verwerp, behoort die eerbare weg te volg en summier te
bedank uit die kerk.
Woensdag 01 Januarie 2025
‘n Rowwe roete wat ek nog nooit gery het nie!
Die NUWE JAAR maak jou miskien baie opgewonde, maar dalk ook bang en vreesbevange....daar wag moontlik moeilike bulte, skerp draaie, vurk paaie wat my laat twyfel oor die regte rigting, vreugdes, verrassings, gevare, vol riviere van hartseer of teleurstellings, eensame vlaktes van worsteling en verlatenheid, maar gelukkig tog ook heerlike rusplekke en die aanmoediging van medereisigers... Maar bo alles, dis op hierdie pad wat die kind van God, uitroep – “Here, as U nie saamgaan nie, kan ek nie verder gaan nie!”
Dit was natuurlik ook die hartskreet en versugting van Moses destyds op die trekpad na die beloofde land Kanaän geuiter het. (Eksodus 33:15 - jy kan gerus hierdie aangrypende hoofstuk biddend deurlees!)
Vir Moses het dit egter oor baie meer gegaan dat God maar net ‘n veilige reis moes waarborg – Dit het gegaan oor die sin van die lewe self, die wese van ons bestaan as mense. Hoor wat sê Moses in vers 13 : “Daarom, as ek wel guns gevind het in u oë, maak tog aan my u paaie bekend, dat ek U kan ken, sodat ek guns bly vind in u oë, besef tog dat hierdie nasie u volk is.”
Miskien moet ons net vinnig terug gaan na die agtergrond van Moses se hartstogtelike gebed tot God. Op hierdie stadium het God reeds sy volk met ‘n kragtige hand uit die slawerny van Egipte verlos, die volk het reeds die wonders van God se beskerming en versorging ervaar... manna en kwartels. Hulle was nou by die berg Sinai waar God sy wet aan Moses bekend gemaak het- als so heerlik en wonderlik – maar daar is ook ‘n afgryslike donker kant – die volk met die kort geheue en die bose harte het ‘n goue kalf gemaak en afvallig geword. Ondankbaar, ongelowig, hardnekkig...
Dit het God se toorn laat ontbrand, soveel so dat Hy die volk wou vernietig en ‘n nuwe volk uit Moses begin. (Eksodus 32:9,10)
Dit het Moses diep ontstel en hy het vurig by God gepleit op grond van God se beloftes aan Abram, Isak en Jakob. En ja, God is ‘n Hoorder van gebed. Hy verhoor Moses se gebed en dan lees ons iets verbysterend – 32:14. Gebed het God se hart gedraai – moenie vir my vra om dit te probeer verduidelik nie, maar dis presies wat gebeur het! God besluit om nie meer die volk te vernietig nie! – in antwoord op gebed!
Moet nooit ophou bid en smeek nie!
Maar dis nog nie
die einde van die storie nie, God het wel besluit om nie die volk te vernietig
nie – al het Hy hulle inderdaad swaar gestraf, maar Hy het gesê Hy gaan nie
meer saam met hulle trek nie, Hy sal net ‘n engel saamstuur. En die rede waarom
God nie saam met hulle wou trek nie, was
juis dat sy heiligheid hulle sou vernietig, want hulle was ‘n hardnekkige
onheilige volk! En dis hier waar Moses opnuut weer by God gepleit het. (15)
Moses weet dat hulle dit nie durf waag om verder te gaan as God se teenwoordigheid
nie met hulle is nie!
Vriende, ek en jy kan nie, ons durf nie waag om sonder God ons lewensreis voltooi nie, ook nie die skof van hierdie jaar nie! En dit gaan nie bloot oor die Here se hulp en versorging in hierdie jaar nie – dit gaan oor die kern doel en sin van ons bestaan! Wat maak hierdie onbekende jaar sinvol en die moeite werd? Waaroor gaan ons lewe hier op aarde??
Om God te ken! Dis die sin van my aardse bestaan! Als gaan oor Hom!
Dit gaan daaroor om sy heerlikheid raak te sien. Dis die passievolle hartsbegeerte van Moses. (18!) Onthou, God alleen is oneindig, onuitputlik heerlik!
NUWEJAARSVOORNEMS? Jy weet, hier aan
die begin van die jaar kan ons baie mooi doelwitte en ideale hê. Party is
realisties, ander dalk naïef...maar daar is baie goeie dinge en doelwitte
waarna mens kan streef. Ons het egter een, net een doelwit hier op aarde wat
bo-alles belangrik is – om God te ken. Dis waarvoor ons op aarde geplaas
is. Om God te ken en Hom te bewonder en ons in Hom te verlustig, ons vreugde en
vrede in Hom te vind. Hy kan en sal jou nooit verveel nie... tot in alle
ewigheid.
Dalk wonder jy nou- hoe kan ek God leer ken, hoe kan ek sy heerlikheid sien? Dit was ook vir Moses ‘n probleem. (20)
Hierdie dilemma bring ons by die evangelie van ons Here Jesus Christus. Johannes skryf in sy proloog oor Jesus – die Woord wat mens (vleis) geword het – 14, 18!
Moses moes na die tent van samekoms gaan (sien Eksodus 33:7-11) om die heerlikheid van die Here te ervaar en Hom te raadpleeg. Jesus, die Woord wat vlees geword het het onder ons kom woon, skryf Johannes. Die Griekse woord wat ons met "woon" vertaal beteken letterlik, "tent opslaan." Heerlik nê?
Die heerlikheid van God word nou in Jesus openbaar! As ek Jesus as my Here aanvaar het, begin ek die
heerlikheid van God ken en sien. In Jesus se wonders en optredes begin ek leer
wie God is en hoe God is – ek leer ken sy waarheid en genade persoonlik. Dis
veral wanneer die kruis gebeure vir my sin begin maak dat ek begin besef
– hoe oneindig heilig God is, maar ook hoe oneindig genadig en barmhartig is.
Saam met hierdie wonderlike God sien ek kans vir die nuwe jaar met al sy bulte
en draaie. Saan met Hom is dit ‘n avontuur. Saam met Hom is dit nog steeds
nie altyd maklik nie, want Hy plaas ons in ‘n leerskool – dikwels ‘n baie harde
leerskool net soos die woestyn reis van die Israeliete, maar saam met Hom weet
ek, ek is vir seker op pad na my ewige Vaderland, waar ek vir altyd my sal
verlustig in die heerlikheid van God. Waar ek vir altyd Hom wat op die troon is
en die Lam sal aanbid!
Mag ek en jy in
gehoorsaamheid aan Jesus, God ons Vader baie diep leer ken in hierdie jaar! Kom
ons weet God gaan saam met ons. Hy gaan saam met ons nie omdat ons so oulik is
nie, maar omdat Jesus ons Middelaar vir ons pleit. Moses het vir die volk
gepleit en God het gehoor. Jesus pleit vir ons by die Vader!
Kliek : JESUS PLEIT VIR ONS BY DIE VADER
Donderdag 25 Julie 2024
ERNSTIG - DIS 'N HALSMISDAAD
IN GOD SE KONINKRYK!
Baie mense loop met ‘n skewe
idee rond – dis die idee dat God in die Ou Testament baie heilig en streng was,
maar in die Nuwe Testament vandat Jesus gekom het, is God nie so streng en
heilig nie, God is nou net liefde; so ons hoef nou nie meer so erg heilig te
wees nie. En verder, so word geredeneer...Paulus
stel dit mos duidelik dat ons nie meer onder die wet is nie, maar onder die
genade – so ons hoef die opdragte in die Bybel nie meer so ernstig op te vat
nie, want Jesus sal mos maar net verstaan as ek nie vrede wil maak met my
buurman nie, Jesus sal verstaan as ek maar so af en toe vir ’n ander vrou loer en die kat in die donker
knyp... (veral by geleenthede soos die Visfees, Wildsfees of agter die skuur na
die onskuldige boeredans...)
Maar wat sê Jesus self? In die Bergrede (Matteus 5-7) vertel Jesus aan mense hoe om toegang te verkry tot die Koninkryk van God. Die grondbeginsels het Hy nou reeds neergelê in die Saligsprekinge (5:3-12) Die basiese lering daarin is – “Julle moet besef julle kwalifiseer nie vir die Koninkryk nie...treur daaroor! Julle het ’n groter geregtigheid, rein harte nodig wat net Jesus vir julle kan gee. Alles draai om Jesus en julle sal weet julle behoort aan Hom as die mense julle vervolg en beledig ter wille van Hom! Nou werk Jesus die praktiese implikasies van die saligsprekinge verder uit.
Jesus het dit reeds duidelik gestel dat ’n groter geregtigheid as die van die Fariseërs vereis word om in te gaan in die Koninkryk. (20)
"Want Ek sê vir julle, as julle geregtigheid nie aansienlik meer is as dié van die skrifkenners en die Fariseërs nie, sal julle beslis nie die koninkryk van die hemele binnegaan nie."
Wat bedoel Jesus? Iets meer as net wetsgehoorsaamheid i.t.v. die Ou Verbond is
nodig vir die nuwe bedeling van die Koninkryk. Die fariseers het nog net gebly
by die letter van die Ou Verbond m.a.w. hulle was tevrede dat as ek nie iemand
doodgemaak het nie, dan was ek gehoorsaam aan die sesde gebod – “Jy mag nie
moord pleeg nie” of as ek darem nou nog nie fisies egbreuk of owerspel gepleeg
het nie, dan was ek gelukkig darem nie skuldig aan die sewende gevod van “Jy
mag nie egbreuk pleeg” nie. So as ek by die tegniese reëls van die tien gebooie
en ander wette gehou het, was ek eintlik oraait en het God van my gehou.
Jesus gooi nou die appelkar om en skok almal. Hy stel nou sy leringe teenoor die Wet van Moses. Die Fariseërs se gebooie was nog net die gebooie van die Ou Verbond - Jesus bring die Nuwe Verbond tot stand en die standaarde daarvan gaan verder as die wet van Moses. Hy verwerp dit nie, Hy gaan net verder en dieper! Jesus stel ’n duidelike kontras...“Julle het gehoor...... maar ek sê vir julle” (Terloops - Jesus sê : “Julle het gehoor” , want onthou die meerderheid van die skare wat hier na Jesus luister, het nie die wet gelees nie, maar dit gehoor het in die voorlesings in die sinagoges.)
Kom ons kyk nou na Matteus 5:21-26 :
“En wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe.
“Los 'n geskil met jou teenstander gou op, terwyl jy nog saam met hom op pad is, sodat die teenstander jou nie aan die regter oorlewer en die regter jou aan die hofdienaar oorlewer en jy in die tronk gegooi word nie. Amen, Ek sê vir jou: Jy sal beslis nie daar uitkom voordat jy die laaste kwadrant betaal het nie.
Die eerste voorbeeld van Jesus se hoër standaard kry ons
in sy hantering van die sesde gebod “Jy mag nie moord pleeg nie” Hierdie
gebod impliseer dus duidelik dat ’n moordenaar skuldig staan. Die wet het iemand
wat moord pleeg onontkombaar en regmatig tot veroordeling en straf verdoem.
Nou kom Jesus – “Ek sê vir julle.” Jesus stel sy uitspraak op die selfde vlak as God se uitspraak in die sesde gebod. (Hy kan dit doen want as die nuwe Moses, ja groter as Moses, as die Seun van God, het Hy Goddelike volmag!) Op skokkende wyse verklaar Jesus elkeen skuldig wat boos optree teenoor sy broer. In hierdie konteks gaan dit oor elke mede Israeliet. Jesus praat met die skare uit Israel. In ons konteks gaan dit in die eerste plek oor onmin tussen gemeentelede – die volk van God in die Nuwe Verbond.
Jesus lê sy vinger op alle konflik, kwaaivriendskap, onmin, aggressie, beledigings en woede. Woede as sodanig is nie deur die wet van Moses veroordeel nie, maar volgens Jesus se hoër standaard is sulke woede ’n ernstige oortreding. Moord het in die Ou Testament doodstraf verdien, Jesus verklaar onregverdige woede tot ’n halsmisdaad in die Koninkryk van God. Die beledigings “Raka” (nikswerd/gek, "jou stupid") en “dwaas” moet nie te sterk teenoor mekaar afgespeel word nie (die betekenis is maar min of meer gelykwaardig) – dis waarskynlik gekies vir woordvariasie.
Die punt is - Volgens Jesus is ’n
slegte beledigende woord teenoor jou broer al ’n saak vir die hoogste regbank en verdien
dit ’n vonnis wat verder gaan as die
hoogste straf op aarde naamlik die helse vuur . Gehenna verwys na die stinkende
en smeulende ashoop in die Himnon dal wat ‘n kragtige en afgryslike metafoor
vir die hel is.
Deur die erns van broederlike onmin so sterk te stel beklemtoon Jesus maar net weer wat Hy reeds in die Saligsprekinge gesê het oor die sagmoediges en die vredemakers!
Besef ek en jy die erns van Jesus se
lering hier? En wat gaan ons hieraan doen? Jesus gaan nou voort en gee ’n positiewe
opdrag wat voortvloei uit hierdie besondere hoë standaard van die Koninkryk
waar dit gaan oor menseverhoudings. Dis so ’n ernstige saak - wel, “Gaan
versoen jou met jou broer!” Dis ‘n Goddelike opdrag! God duld nie ’n bose
gesindheid teenoor mekaar nie! Die oplossing is : spoedige versoening!
Versoening weeg vir God so swaar, dis selfs belangriker as ’n offer! Hierdie
moes ’n skokkende uitspraak gewees het vir ’n skare wat gewoond was aan offers en geweldig onder die
indruk was van die heiligheid en gewigtigheid van ’n offer. Die gedagte dat ’n
offerhandeling eers onderbreek moet word om met ’n broer te gaan versoen sou na
heiligskennis/lastering klink. Jesus wil
hulle dus goed laat verstaan, dat om onversoen te bly met ’n broer in God se oë
nog ’n groter heiligskennis/lastering, ’n groter euwel is! Kon Jesus dit nog
ernstiger gestel het? Gaan ons hoor wat Hy vir ons wil sê?
Nog ‘n keer beklemtoon Jesus die dringende noodsaaklikheid van onderlinge versoening in die praktiese beeld van 25-26. Die noodsaaklikheid van versoening word beskryf in die lig van dreigende straf. Wees goedgesind, welwillend, maak vrede, word weer vriendelik teenoor jou teenstander, opponent. Doen dit haastig sonder versuim (net soos in die voorbeeld van iemand wat gaan offer). Jesus verduidelik die saak met ’n alledaagse praktiese beeld van teenstanders wat op pad is na ’n regter om tussen hulle te beslis. Die punt is - ’n Spoedige tydige skikking is in jou belang! Onversoendheid laat ’n mens vir ewig skuldig staan voor God!
Versoening met mekaar is nie ’n ekstra of ’n luukse nie. Dis ’n allernoodsaaklikheid.
Daar is geen toegang tot die Vader sonder versoening met die broer nie!











