BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag, 08 Februarie 2018

SAUL SE SPIEËL

- disseksie van ‘n sluwe sondaarshart! 



Het jy al ‘n nuwe hart gekry? ‘n Rein hart? Dis allesoortreffend belangrik. Hoekom? Daar is ‘n kragtige belofte in Matteus 5:8! “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” ‘n Christen is iemand wat ‘n nuwe/rein hart gekry het! En net so iemand sal God beleef, nou en eendag. 



In Dawid se passievolle gebed van berou na sy groot sonde, pleit hy : “Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees.” (Psalm 51:12) Ons probleem lê nie by ons ouers, onderwysers, regering... nie, maar in ons onrein, bose harte! 



Dis ‘n groter saak as wat ons dink. Die probleem is meer akuut as wat ons sou wou erken. Ons harte is baie meer verdorwe en boos as wat enigeen van ons dalk besef. “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9) Ons erken baie ligtelik, “ag, ons is maar almal sondaars.” Ons besef egter nie die omvang en die grusame aakligheid van die probleem nie, 



Vir vergifnis, genesing, verlossing, bevryding is belangrik dat mens jou eie hart ontdek. Dis onontbeerlik belangrik. Die Heidelbergse Kategismus leer op die voetspoor van die Romeine brief dat drie dinge noodsaaklik is as ons salig wil lewe en sterwe : Ons moet besef hoe groot ons sonde is, ons moet weet hoe om daarvan verlos te word, ons moet dankbaar wees vir die verlossing! Sonde, Verlossing, Dankbaarheid. Hoe ontdek ons die omvang en die erns van ons sonde? Die Gees wys jouself vir jou en Hy gebruik die Woord. 

Hierdie ontbloting van mens se eie hart is gewoonlik ‘n voor bekeringswerk van die Heilige Gees voordat mens na Jesus kom. Dis juis die besef van die boosheid, en die gevaar van die boosheid van jou eie hart wat jou na Jesus toe dryf. Maar ook mense wat reeds God se kinders is ervaar dat die Here opnuut en voortdurend die boosheid van jou hart aan jou openbaar, met die oog op groter afhanklikheid van Jesus en ‘n dieper werk van heiligmaking. Baie keer besef mens eers die diepte van sonde na jou aanvanklike bekering! Dis juis ook vir die kind van God nodig om selfondersoek te doen, sodat ek stywer kan vashou aan die genade van Jesus. Dus aktueel vir almal. 

Die tragiese geskiedenis van Saul is ‘n treffende voorbeeld van die sluwe subtiele boosheid van die menslike hart. 'n Handboekvoorbeeld van totale verdorwenheid! Wees gewaarsku jy gaan jouself hierin sien! En dis nie ‘n mooi prentjie nie... Kom ons blaai saam deur 1 Samuel 15:1-35. 

1 Sam 15:1-3 “Samuel het vir Saul gesê: "Dit is vir my wat die Here gestuur het om jou tot koning oor sy volk Israel te salf. Luister nou na die woorde van die Here. 
So het die Here die Almagtige gesê: Ek het nie vergeet wat Amalek Israel aangedoen het nie, hoe hy Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte getrek het. 
Gaan verslaan nou vir Amalek. Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring. Jy mag jou oor hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigling, bees en skaap, kameel en donkie." Hier vind ons die agtergrond van die skokkende gebeure hierna : Saul kry die opdrag van God om die Amelekiete totaal uit te wis.  (En terloops, ons moet nou nie hierdie opdrag van God meet aan ons humanistiese postmoderne waardesisteme van vandag nie. Amalek was God se vyand, wat God se bedoelings probeer darsboom het en daarom was hulle 'n voorwerp van God se toorn en waraak...)

Wat doen Saul toe? 

“Saul het daarna die Amalekiete verslaan van Gawila af tot waar ‘n mens kom by Sur teenoor Egipte. 
Hy het koning Agag van Amalek lewend gevang, maar die hele volk om die lewe gebring. 
Saul en die manskappe het Agag gespaar en ook die mooiste kleinvee en beeste, die vetstes, en die lammers en alles wat mooi was. Saul-hulle wou dit alles nie om die lewe bring nie. Al die vee wat swak en waardeloos was, het hulle wel van kant gemaak.” (7-9) Hy is ONGEHOORSAAM! Die kern van alles sonde. Wat gebeur nou verder? 

God word toe baie bedroef oor hierdie ongehoorsaamheid. Ook Samuel wat Saul tot koning gesalf het, was uiters ontsteld. “Toe het die woord van die Here tot Samuel gekom: "Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie. Samuel was ontsteld en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek.” (10-11) 

DISSEKSIE

Ons kry nou verdere insae in verskeie aspekte van Saul se sluwe sondaarshart: 

HOOGMOED in plaas van berou. “Die oggend het Samuel hom vroeg klaargemaak om Saul te ontmoet. Iemand het vir Samuel vertel: "Saul het by Karmel gekom en nogal vir homself ‘n gedenkteken opgerig. Daarna het hy omgedraai en is hy verby na Gilgal toe." (12) Kan jy nou meer, die ongehoorsame Saul bou 'n monument vir homself! Die arrogansie van die gevalle mens darem! Die sondaarhart is totaal ongevoelig en verblind deur ‘n grootheidswaan en eie gevoel van belangrikheid. Geestelik heeltemal blind en afgestomp. 

SAUL HET GEEN LIEFDE EN RESPEK VIR GOD NIE, GEEN LIEFDE VIR SY MEDEMENS NIE, ALLES DRAAI RONDOM HOMSELF!

Saul is LEUENAGTIG EN VALS en MISBRUIK die Here se naam. “Samuel het toe by Saul gekom, en Saul het vir hom gesê: "Mag die Here u seën! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer." (13) Onbekeerdes gebruik die mooiste Christelike frases! Die Here is so goed vir my, die Here het my geseën, die Here het vir ons wonderlike reën gegee! 

‘n Totale gebrek aan opregte BEROU. “"Hulle het dit van die Amalekiete af gebring," antwoord Saul. "Dit is die goed wat deur die manskappe gespaar is, die mooiste kleinvee en grootvee om aan die Here u God te offer. Die res het ons van kant gemaak." (14,15) Saul wil nie sy skuld erken nie, maar BLAMEER ander. Let op - “hulle”, “deur die manskappe” gespaar om te offer. So tipies...Adam! Kyk die valse vroomheid.  Dis mos vir ‘n GOEIE DOEL! – “offer” (ou verskoning!) 

TOTALE ONTKENNING en HARDKOPPIGHEID. “Saul antwoord toe vir Samuel: "Maar ek hét na die bevel van die Here geluister! Ek het gegaan om te doen waarvoor die Here my gestuur het, ek het vir koning Agag van Amalek hierheen gebring, maar die Amalekiete het ek om die lewe gebring. 
Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste gevat, die beste van dié wat van kant gemaak moes word, om aan die Here u God in Gilgal te offer." (20-21) Hy sien nog steeds nie sy eie skuld raak nie! (hier is die groot verskil met Dawid toe Natan met hom gepraat het – Kliek op SMS SWANGER) Saul is vol VROOMKLINKENDE VERSKONINGS. (“aan die Here te offer”) 

Let op – dis weer die “manskappe” se skuld. Hy WEIER OM VERANTWOORDELIKHEID vir sy eie dade te vat. Dis die verharde sondaar se houding - my dronkenskap, my egskeiding, my kwaaivriendskappe, my swak kerkbywoning... dis altyd ander mense se skuld!

Saul was so slu, glibberig en glad met die bek soos Zuma homselwers, maar hy het nie rekening gehou met 'n ware man van God nie...

SAMUEL TRAP SAUL SE TJANK AF!

Samuel is ‘n man van God en Saul se sluwe vroom praatjies beïndruk hom glad nie! 

 “Maar Samuel antwoord: "Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. 
Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp." (22-23) Skrikwekkende woorde! Wat maak ek en jy met God se Woord? 

In Saul se reaksie op Samuel se woorde vind ons nog ‘n kenmerk van die sondaarhart : MENSEVREES! “Saul sê toe vir Samuel: "Ek het gesondig, want ek het die bevel van die Here en u opdrag oortree omdat ek vir die manskappe bang was en na hulle versoek geluister het."Vergewe tog nou my sonde en kom saam met my sodat ek tot die Here kan bid." (24,25) Dis die sondaar se houding : Ek is meer gesteld op wat mense dink as wat ek respek het vir God se wense, ek is banger vir mense se opinie as vir God se Woord en opdragte! Gee meer om vir wat mense dink as vir God se bevele. 

Nou klink dit wel of Saul berou het, maar dis VALSE BEROU! “Ek het gesondig," sê Saul toe. "Eer my tog net voor die leiers van die volk en voor Israel deur saam met my te kom sodat ek die Here u God kan aanbid." (30) Hoekom is sy berou oneg? As jy bietjie dieper kyk sien jy dit gaan vir hom meer oor sy "image" voor die manskappe as oor ware berou voor God. 

Ek en jy?

Wie eerlik in die spieël van Saul kyk na jou eie hart kry slegte nuus, maar as jy nie daar stop nie en ook na Golgota kyk is daar beslis baie goeie nuus! 

Die slegte nuus is : Die boosheid en sluheid van ons harte is baie groter en meer subtiel as wat ons besef. 

Die goeie nuus is : Jesus se offer van Homself aan die kruis weeg swaarder as die ergste sonde. Jesus se sterwe was genoegsame betaling vir AL ons sonde. Die bloed van Jesus reinig ons van alle sonde, maar dan moet ons eerlik wees oor die toestand van ons harte! 

Naskrif : Saul het nooit eerlik die boosheid van sy eie hart besef nie, en uiteindelik as ‘n Godverlatene gesterf op Gilboa. Vir my en jou is daar nog kans en hoop- Kliek op Gilboa en Golgota.

Vrydag, 02 Februarie 2018

Brood en BROOD

- Dis 'n heerlike troos, maar pasop vir 'n misverstand!


Dis nie meer ‘n geheim nie – ons gaan moeilike tye tegemoet op finansiële en ekonomiese gebied. Al hoe meer mense kry dit swaar om kos op die tafel te sit. (En party gaan dalk selfs nie eers meer water in die krane as vanselfsprekend kan aanvaar nie...Ai, Kaapstad!) Mens kan sê daar is in sommige gevalle al broodsgebrek. Die wonder van die vermeerdering van die brode (Lees dit in Johannes hoofstuk 6) behoort vir ons ‘n groot troos te wees. Dis ‘n uiters belangrike wonderwerk wat Jesus gedoen het. (Terloops, hierdie is enigste wonderwerk wat deur al vier evangelies beskryf word.)

HY KAN SORG!

Dis ‘n groot gerusstelling om te weet dat die lewende Jesus in staat is om vir meer as vyfduisend mense kos te gee met net vyf broodjies en twee vissies. Hy kan die bietjie wat ons het en tot sy beskikking stel, baie maak. Hy voorsien in oorvloed. Almal het genoeg geëet, so veel as wat hulle wou hê! Merkwaardig, toe hulle die brokstukke op tel, was daar meer oor as waarmee hulle begin het. Twaalf mandjies vol! “Hulle het dit toe bymekaargemaak. Daar was twaalf mandjies vol met die stukke wat van die vyf garsbrode oorgebly het nadat die mense klaar geëet het." (13) Die twaalf is natuurlik nie toevallig nie. Dis ‘n teken dat God deur Jesus vir sy volk kan sorg, die twaalf stamme van die volk Israel. Jesus sorg vir ons wat deur die geloof kinders van Abram geword het! Dis ‘n heerlike realiteit.

MISPLAASTE REAKSIE

Hoe reageer die mense toe op hierdie wonder? Hulle besef Jesus is die profeet, waarvan Moses al gepraat het, maar hulle verstaan nie regtig wat sy sending en doel is nie. Hulle wil Hom sommer met geweld koning maak, want hulle reken Hy sal materiële verligting en aardse bevryding (van die Romeine heerskappy) bring. Jesus laat Hom egter nie misbruik nie. Hy val nie vir ‘n valse vleiery nie. “Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.” (15) Dis egter nog nie die einde van die storie nie…

ONS WERKLIKE NOOD EN DIE WARE OPLOSSING!

Die wonder van die vermeerdering van die brood het ‘n baie belangrike nadraai en betekenis soos Johannes dit beskryf. Jesus het die skare verlaat en oor die see vertrek. Later in Kapernaum* praat Hy met die skare oor die betekenis van hierdie wonder. Jesus maak dan hierdie skerp uitspraak : “Jesus antwoord hulle: "Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen." (26,27). 

Wat bedoel Hy? Natuurlik bedoel Hy nie dat mens nie moet werk nie. Die hele Bybel is duidelik dat ons moet werk vir ons kos. Paulus stel dit selfs so dat die wat nie wil werk nie, moet ook nie eet nie!** Nee, Jesus bestraf hulle oor hulle materialistiese siening van die Koninkryk van God! Hulle dink dat Jesus gekom het om die lewe vir hulle gemaklik en gerieflik te maak. Hulle het gedink Jesus gaan vir ons van kos voorsien en ons van die Romeinse oorheersing bevry. ‘n Misplaaste en selfgesentreerde verwagting van die Koninkryk. Die mense is opgewonde oor iemand wat brood kan verskaf, maar hulle besef nie dat hulle ‘n groter nood het nie!

Dis presies vandag die probleem. Mense klink dikwels opgewonde oor Jesus, maar hoekom? Jesus moet vir ons reën gee (en sommer Kaapstad se waterprobleme ook oplos), Jesus moet my gesond maak, Jesus moet al my finansiële probleme aanspreek…as Hy dit nie doen nie, is ons baie teleurgesteld. Hoor weer… “Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee."  (27) Ons diepste nood is die voedsel wat nie vergaan nie, wat die ewige lewe gee. Ons diepste behoefte is om met God versoen te word! 

Die grootste gevaar is nie hongersnood nie, maar helse straf!


DIE BELANGRIKSTE VRAAG

Nadat Jesus hulle tereggewys het en vir hulle laat verstaan het dat hulle fokus en verwagtinge verkeerd is, vra hulle dan… "Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?" (28) Hulle verstaan nog nie eintlik waaroor dit gaan nie. Sonder dat hulle dit besef het is dit die grootste vraag van die mens, dis die grootste dilemma van die sondaar. Wat kan ek as sondige mens doen dit God tevrede met my sal wees? Hoe kan ek God tevrede stel? Hoe kan ek weet dat ek as regverdige die ewige lewe het? Dan kry ons die wonderlike en veelseggende antwoord van Jesus. “En Jesus antwoord hulle: "Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het." (29) Wat God van jou vra is nie een of ander prestasie nie, maar eenvoudige geloof in Jesus! Dis genoeg. Dis die wil van God. Dis die enigste vereiste om deel te hê aan sy ewige koninkryk. 

Dit wat Jesus hier leer stem presies ooreen met Paulus se lering. “Ons betoog is tog dat ‘n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie.” (Romeine 3:28) “God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.” (Romeine 5:1)

HY IS DIE WARE MANNA

Jesus self is die oplossing vir ons diepste nood, ons sonde nood. Jesus is groter as Moses. Jesus self is die finale Manna uit die hemel, Hyself is God se BROOD aan ons wat die lewe gee te midde van ‘n geestelike woestyn. Baie mense probeer Jesus misbruik. Baie verstaan nie waarom Hy gekom het nie. Baie het verkeerde verwagtinge oor Hom. Hulle verstaan nie hulle ware nood nie. Ons het ‘n groter behoefte aan BROOD as aan brood. Die wêreld se nood, (ryk en arm) is ‘n sonde nood, wat net deur Jesus aangespreek kan word. My en jou probleem is ‘n sonde probleem. Dis ‘n ewigheidsbedreigende probleem, want sonde versteur ons gemeenskap met God en met mekaar. Sonde bring skeiding en verwydering tussen mens en God en mens en mens. Sonde lei uiteindelik tot ewige dood en skeiding.

Ja, ons leef in moeilike tye! Ook in hierdie tye kan ons weet dat ons Here deur sy Gees by ons is en ons sal versorg. Jesus self het ons immers leer bid : ”Gee ons ons daaglikse brood” Maar onthou net altyd, Jesus het gekom om iets groter as kos, gesondheid, geld en gerief te gee – Hy het gekom om vir ons LEWE te gee. Ewige lewe. En wat is ewige lewe? “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” (Johannes 17:3)

KEN JY HOM? Het jy al BROOD gekry?

* In die sinagoge van Kapernaum het, waar baie mense aanwesig was wat die wonder beleef het, het Jesus verdere lering gegee. (59) Presies waar die sinagoge gesprek begin is nie duidelik nie. Volgens Carson kan dit al by vers 27 wees. Sien Don Carson se “The Gospel According to John”, p283

** 2 Tessalonisense 3:10 “Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: "As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie."

En Kaapstad? Mag die mense van Kaapstad besef, Jesus is ook self die Lewende Water en dat hulle Hom selfs nog meer nodig het as die water in die krane... Miskien wil Hy vir ons almal iets leer deur hierdie vreeslike krisis...

Donderdag, 25 Januarie 2018

SKAAP OF VARK?

VALS EN WARE CHRISTENSKAP : Hoe kan dit onderskei word?



Wat is die verskil tussen ware en valse Christenskap? Dis baie belangrik en uiters noodsaaklik om dit te kan onderskei. Hoekom? 

Daar is baie mense wat ‘n valse sekerheid het. Hulle glo vas dat hulle kinders van God is, dat hulle deelgenote aan die ewige lewe is, maar hulle is nie. Hulle mislei hulleself. Wat ‘n aaklige verrassing wag daar eendag op diesulkes! 

Aan die anderkant is daar weer mense wat opregte kinders van God is, maar nog geteister word deur twyfel en onsekerheid. "Kyk, ek sondig nog, hoe kan ek dan 'n kind van God wees?" is die vretende bekommernis in hulle onrustige binneste.

Die 1 Johannes brief kan ons help om die onderskeid te kan tref. Die doel van die brief is juis ook om sekerheid aan God se kinders te gee:

"Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo." (5:13)

HOUDING OOR SONDE

Een duidelike verskil tussen vals en ware Christenskap kom na vore in ‘n persoon se houding teenoor sonde. Johannes verduidelik die duidelike verskil tussen valse en ware Christene aan die hand van die verskillende benaderings teenoor sonde. Ons gaan kyk na 1 Johannes 1:5-2:2 

Met betrekking tot die houding oor sonde is daar ‘n duidelike kontras tussen die vals en ware Christen. 

GOD IS LIG!

Johannes se vertrekpunt is baie duidelik : "God is lig en daar is geen duisternis in Hom nie." (1 Johannes 1:5) God self is nie neutraal teenoor sonde nie, God kan nie kompromie maak met sonde nie, God is met ander woorde nie ‘n post moderne relativis vir wie als maar reg is nie. God hou van party dinge en God haat party dinge! Onthou dit as ‘n basiese waarheid en fondasie. 

DUISTERNIS OF LIG?

Die valse Christen leef in duisternis en in ontkenning van sy sonde. Dis die een wat rustig voort leef in sonde. Hy is gemaklik en ongeërg oor sonde. So iemand leef in ‘n leuen. “As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie.” (6) Let mooi op – dit gaan nie hier oor mense wat openlik vir God of Jesus verwerp nie, nee hulle beweer dat hulle deel het aan God, maar dis vals en leuenagtig. Daar is nog ‘n verder kenmerk van valse Christenskap. Daar is geen eerlike erkenning van sonde nie. Daarom ook geen berou en opregte belydenis nie. “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.” (8) Daar is by die valse Christen geen sensitiwiteit oor sonde nie, sonde word ontken, afgemaak as iets ligtelik. Ja, natuurlik sal almal (dikwels met ‘n glimlag) erken : “ons is sondaars”, maar dit word sommer so op ‘n lighartige manier gesê. Dit word eintlik as ‘n verskoning bedoel. Valse Christene versag sonde met allerhande eufemismes. Ek word nooit dronk nie, maar ek het net “bietjie te veel gekuier”. Nee, ek is glad nie ‘n hoereerder nie, maar “ek knyp net die kat so af en toe in die donker.”

Die ware Christen se lewe word gekenmerk deur lig, maar juis ook 'n bewustheid van sonde. ‘n Lewe van gehoorsaamheid aan God. Dis die algemene koers, rigting en benadering van egte ware Christenskap. Geloof maak ‘n praktiese verskil in jou leefstyl. Beteken dit nou dit die ware Christen nooit sondig nie? Nee, die ware Christen is juis die een wat voortdurend bewus is van sy sonde, sensitief en jammer is daaroor en dit bely! Die ware Christen kan in sonde val, maar kan nooit daarmee gelukkig volhard nie. 



Dis soos die verskil tussen ‘n skaap en ‘n vark. ‘n Skaap kan ook met modder besmeer raak, maar anders as ‘n vark is hy nie ‘n dier wat van modder hou nie.

Ons kan dit so stel : 

Ware Christenskap word nie gekenmerk deur die totale afwesigheid van sonde nie, maar deur die voortdurende aanwesigheid van berou, belydenis en bekering. 


HEERLIKE BELOFTE

Dis juis die ware Christen wat troos vind in een van die wonderlikste beloftes in die Bybel. “Maar as ons ons sondes bely -Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (9) Dis ‘n belofte wat ons nooit moet vergeet nie. Die idee dat bekering en die belydenis van sonde net ‘n eenmalige stap is wat by die begin van jou Christelike lewe plaasvind is verkeerd. Johannes skryf sy brief juis aan mense wat alreeds kinders van God is, mens wat reeds deur die geloof en bekering deel het aan Jesus en die ewige lewe. Ons moet onderskei tussen aanvanklike bekering (conversion) en voortdurende berou en bekering (repentance)! Luther het die saak van bekering in die eerste van sy beroemde 95 stellings so gestel: “Ons Here en Meester, Jesus Christus het beveel: “Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemele het naby gekom” (Matteus 4:17). Die hele lewe van ‘n gelowige, moet een wees van bekering.”* 

Voortdurende berou en bekering is deel van die kind van God se daaglikse belewenis!

Dis ‘n belangrike waarheid. Daar is opregte kinders van God wat twyfel oor hulle Christenskap, want hulle val in sonde of hulle het ‘n stryd teen sonde en versoekings. Wees verseker, die Bybel is realisties en weet dat kinders van God nog steeds kan sondig. Ook Jesus self het dit geweet. Daarom is daar die vierde bede in die Onse Vader gebed. “Vergewe ons ons skulde soos ons ook ons skuldenaars vergewe.”

Kinders van God kan nog steeds in sonde val. Ons mag nie sondig nie, ons behoort nie te sondig nie, en tog is dit die hartseer en harde realiteit. Kinders van God se houding teenoor hierdie sonde verskil egter drasties van die houding van die wêreldling of valse Christen. Luister mooi (en dalk gaan dit jou skok) – dis moontlik dat pary onbekeerde mense se lewens minder sonde vertoon op die oppervlak as sommige ware Christen s’n. Kru gestel, party mense wat op pad hel toe is het oënskynlik mooier lewens as sommige wat op pad is hemel toe. Want onthou Christenskap word nie bepaal deur hoe baie of min sonde ek doen nie, maar of ek ‘n Middelaar het! Dit bring ons by die baie belangrike 1 Johannes 2:1! “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig -ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” 

Hier kry ons die pragtige suiwer Bybelse balans:

-Sonde is ‘n baie ernstige saak. Ons moet dit ten alle koste vermy. Ons moet selfs ten bloede toe daarteen weerstand bied soos ons in Hebreërs lees.** Sonde mag nooit ‘n ligtelike saak wees nie. Dis nie humoristies nie, dis nooit iets waaroor ons durf grappe maak nie. Nee, want dit pas nie by die lig nie, dit bring oneer aan God, dit bedroef die Heilige Gees. Dit versteur die gemeenskap met God en met mekaar. Daar’s niks positief aan sonde nie, aan geen sonde nie!

-Aan die anderkant is Johannes baie realisties. ‘n Kind van God kan wel nog sondig. “En as…” ‘n Kind van God kan val, maar dis nie dan die einde nie! Dit beteken nie ek behoort dan nie meer aan Jesus nie. Nee, as ons sondig kan ons weer net opnuut met berou en belydenis ons hoop stel op Jesus Christus ons voorspraak, ons advokaat, ons middelaar! Dis juis die kern verskil tussen die verlorene en die geredde mens : Die geredde mens maak nie staat nie op homself nie, maar op sy Middelaar en advokaat, Jesus Christus! Die ongeredde persoon dink hy is darem oraait genoeg om God tevrede te stel met sy eie pogings.

Om op te som:

  • Ware Christenskap maak altyd erns met die probleem van sonde. 
  • Valse Christenskap vat sonde ligtelik op.

  • Ware Christenskap word gekenmerk deur voortdurende opregte berou en bekering. 
  • Valse Christenskap maak verskonings en skram weg van berou en bekering.

Ware Christenskap soos iemand dit gestel het, is “not about perfection, its about direction.” Ons is nie perfek en volmaak nie, maar ons beur weg van die sonde met alle mag en groot ontsteltenis, terwyl ons verlangend uitreik na die arms en die vergifnis van Jesus! 


Notas
*In die Duits het hy dit so gestel : “ Da unser Herr und Meister Jesus Christus spricht „Tut Buße“ u.s.w. (Matth. 4,17), hat er gewollt, dass das ganze Leben der Gläubigen Buße sein soll.”

**Hebreërs 12:4 “Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.”

Vrydag, 19 Januarie 2018

KYK, WAT HET HY GEDOEN!

BEVRY VAN VREES, KAN EK NOU WEER ‘N NUWE  LIED SING!



Is jou Christenskap besig om jou moeg te maak? Voel dit vir jou dis iets wat jy nie regkry nie? Is jou Christenskap besig om jou bang te maak? Jy voel altyd vol vrees en onsekerheid of jy goed genoeg is? Jy wonder : “Is my bekering eg genoeg, is my berou diep genoeg, is my geloof opreg genoeg?” Maak jou Christenskap jou dalk negatief? Dis vir jou ‘n bitterlik sware plig om kerk toe te kom of te bid, en as jy kans kry om dit nie te hoef doen nie, is jy maar net te bly!


Daar kan baie redes wees vir hierdie toestand, maar een van die grootste redes is dat jy die evangelie nog nooit verstaan of aanvaar het nie. Jy dink verkeerdelik dat die evangelie ‘n swaar plig is, dat Christenskap ‘n buitengewone harde lewenstaak is of dat daar ‘n groot prestasie van jou verwag word om kind van God te word of te bly. Jy het al soveel keer probeer om ‘n goeie mens te wees, maar telkens misluk… Eintlik, het jy miskien al moed opgegee...

Die heerlike stuk heilsgeskiedenis van die Israeliete se deurtog deur die Rooi See is ‘n besondere duidelike illustrasie van hoe God werk en wat ons reaksie daarop moet wees. (Lees gerus eers Eksodus 14:15-31; 15:1-3) Dis niks anders as die evangelie reeds in die Ou Testament nie! (Terloops, dit illustreer sommer ook vir ons die belangrikheid van die Ou Testament om die werk van Jesus dieper te verstaan.) 

Dit gaan oor Gód se reddingswerk en mense se vreugdevolle en dankbare reaksie daarop. 

GROOT MOEILIKHEID!

God het die volk Israel onder leiding van Moses uit die slawebestaan in Egipte bevry. Ons ken die dramatiese gebeure wat reeds plaasgevind het… Die hardkoppigheid van die farao, die wondertekens en plae... Die feit dat Israel tot hier gekom het, was geensins weens hulle eie prestasies nie… Inteendeel… Maar nou bevind hulle hulself weer in baie groot moeilikheid. Voor hulle is die Rooi See, ‘n verdinkingsdood wat wag! Agter hulle is ‘n oprukkende en wraaksugtige Farao en sy Egiptiese krygsmanne, ‘n dood deur swaard en spies! Groot benoudheid, ‘n benarde situasie, geen uitkomkans! Letterlik tussen die duiwel en die diepblou see!

Elke mens is geestelik ook in hierdie haglike situasie. Die wet is duidelik: “die siel wat sondig moet sterwe!” En dis duidelik dat almal van ons leuenaars, diewe en lasteraars... is, want ons het elke gebod wat daar is reeds in daad of gedagte oortree. Party probeer hierdie feite ignoreer, party maak planne… “Ek hoop maar ek doen meer goeie dinge as slegte dinge, dat my goeie dade die slegtes sal uitkanselleer...” (Dis natuurlike naïewe dwaasheid; probeer bietjie so ‘n tipe argument in ‘n hof…"Ja, edelagbare ek is inderdaad skuldig aan moord en verkragting, maar asseblief onthou net ek skenk gereeld geld vir die kankervereniging en die DBV!") God se geregtigheid soos uitgedruk in sy wet keer ons vas van voor en agter. Daar is geen uitkomkans nie, ons is skuldig, die oordeel hang soos ‘n swaard oor ons… WAT NOU?

Eers, terug by die verskrikte en beangste Israeliete. Moses praat hulle moed in. “Maar Moses het die volk geantwoord: "Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg." (13,14) 

GOD DOEN IETS!

En wat gebeur toe? God bewerk ‘n kragtige verlossing deur middel van sy kneg Moses! Dis Hy wat die verlossing bewerk! Net Hy alleen! Wat sou ongewapende mans, vroue en kinders buitendien teen die magtige Egiptiese leër kon uitrig? Wat sou hulle kon doen om sonder skepe oor die Rooi See te vaar? Niks! Totaal magteloos! Net God kon ‘n reddingswonder doen, net God kon ‘n ramp afweer en uitkoms gee. En Hy het! “Die Here het Israel daardie dag gered van Egipte, en die Israeliete het die Egiptenaars dood op die strand sien lê.” (30)

ONS REAGEER GELOWIG DANKBAAR

En waar kom die Israeliete nou in die prentjie? Wat was hulle reaksie? “Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar.” (31) Hulle besef die ontsagwekkende grootheid van God en hulle glo! Bekering en geloof! God het ingegryp en hulle redding bewerk, daarom glo hulle, vertrou hulle. 

Dis nie ons geloof opsigself wat redding bewerk nie, dis nie die kwaliteit van ons geloof wat die verlossing verseker nie. Nee, ons geloof neem net vertrouend en dankbaar kennis van die redding wat GOD bewerk het!

En wat bly oor? Waartoe lei hierdie heerlike verlossing wat God bewerk het? Net meer DANKBAARHEID en BLYDSKAP! Hulle sing nou dankbaar ‘n verlossingslied. 

“Toe het Moses en die Israeliete die volgende lied tot eer van die Here gesing: "Ek wil tot eer van die Here sing omdat Hy hoog verhewe is. Perd en strydwa het Hy in die see geslinger.
Die Here is my krag en my beskerming. Hy het tot my redding gekom. Hy is my God, Hom roem ek, die God van my voorvaders, Hom prys ek.
Die Here is oorwinnaar in die stryd, sy Naam is ‘die Here’! ...(15:1-3ev)

Die evangelie gaan oor God wat deur sy eie Seun, Jesus Christus ‘n magtige verlossingswerk aan die kruis gedoen het. Die duiwel is verslaan. Die vyand is vernietig! By die kruis is ons redding bewerk. Dit gaan nie oor wat ons doen nie, dit gaan oor wat HY gedoen HET! Ja, ons reageer gelowige en dankbaar. Ons buig in nederige dankbaarheid voor die ontsagwekkende almag en heerlikheid van God. Ons word geïnspireer tot lofprysing. Lofprysing met ons mond, hart en lewe!

Die lied wat die bevrydes hier gesing het vind weerklank tot in die laaste boek van die Bybel. In Openbaring 15:3 lees ons hiervan. “Hulle sing die lied van Moses, die dienaar van God. Dit is ook die lied van die Lam: "Groot en wonderbaarlik is u dade, Here God, Almagtige. Reg en betroubaar is u optrede, Koning van die nasies.” Alle gereddes, alle verlostes gaan eendag die lied van Moses sing. Dis die evangeliese lied wat erkenning gee aan die Lam wat ons deur sy bloed vrygekoop het, die lied wat alle eer aan God gee!

Ware Christenskap is nie om een of ander harde werk te doen om God te beïndruk of jouself te red nie. Dit gaan in die eerste plek om vertroue op God, spesifiek geloof in Jesus oor dit wat HY gedoen en afgehandel het aan die kruis. Anders gestel. Die evangelie is nie doen, doen, doen, nie! Die evangelie is, dit is gedoen, dit is gedoen, dit is gedoen!  Ja, klaar gedoen aan die kruis! Wie dit glo en raaksien kan nie anders nie as om ‘n lewe van lof en dank te lei nie. Ja ‘n lewe van lof en dank vereis al ons oorgawe en toewyding, maar dit gaan nie oor prestasie nie, maar oor dankbaarheid! 

CHRISTENWEES IS NIE 'N DIY JOB NIE!

CHRISTENSKAP GAAN DAAROOR DAT ONS DANKBAAR FOKUS OP DIE VERLOSSING WAT GOD SELF REEDS DEUR JESUS BEWERK HET!


Het jy al gelowig die groot verlossing wat God deur Jesus op Golgota bewerk het aanskou? Besef jy dat Hy vir elke sonde, ja, elkeen die volle straf gedra het? Besef jy dat Hy jou bevry het van sonde, satan, dood en hel? Raak dit jou, reageer jy? Gaan jy saam met die groot koor verlostes tot in ewigheid ‘n dankbare verlossingslied sing? God se kinders sing dit nou reeds en gaan nooit ophou nie! 

Sing jy al?

Sondag, 14 Januarie 2018

Paul Washer

vra vir jou 'n indringende vraag!

Is jy al 'n nuwe mens? Wat vertel jou sosiale media van jouself?


Maak drie minute tyd om dit eerlik te antwoord!

Kliek op WASHER

Donderdag, 11 Januarie 2018

’n Vaste Afspraak op God se Almanak

waaroor die “lifecoach” en motiveringspreker swyg!



(en sommige dominees en pastore ook)



Ons ken almal ’n almanak. Hier aan die begin van die jaar maak almal seker dat ons almanakke het. By wyse van spreke kan ons ook sê dat God ’n almanak het. Ons kan nie God se almanak sien nie. Ons ken byvoorbeeld nie ons eie persoonlike sterfdatum nie. Ons weet nie wanneer Jesus se wederkoms gaan plaasvind nie. Daar is wel vaste afsprake op God se almanak al ken ons nie die datums nie. Sommige van God se belangrike gebeure op sy almanak is reeds verby. Die skepping, die menswording van Jesus, die kruisiging en opstanding, Sy hemelvaart en die heerlike uitstorting van die Heilige Gees. Daar is wel nóg ’n groot gebeurtenis op God se almanak wat in die toekoms lê – die wederkoms en oordeel. Paulus praat ondubbelsinnig duidelik hieroor. Dis ’n vaste seker punt op God se program vir die toekoms. Ons almal is op pad na daardie afspraak. Dalk wonder jy :”Goed en wel, maar is dit relevant om daaroor te praat?” Wel Paulus het so gedink…

Kom ons kyk bietjie na Handelinge 17:16-34. Paulus bevind homself hier in die groot wêreldstad Athene. ‘n Sentrum van geleerdheid. Baie filosowe en 'n menigte van idees. Ook vol afgodsbeelde en verwarring. Hierdie mense ken nie vir Jesus nie, hulle weet niks van die evangelie nie. Tog is hulle baie godsdienstig. Nog kry Paulus die wonderlike geleentheid om op die beroemde Areopagusheuwel die evangelie te verkondig! Hy moet dit goed en wys benut... 

Areopagusheuwel vandag. (Foto  Wiki)

Paulus sluit aan by hulle kennis en omstandighede... Hy is nie lelik en veroordelend nie, eintlik baie strategies en taktvol. Hy begin by die “onbekende God”... Daar is net een God wat aan alles lewe en asem gee. Paulus praat ‘n taal wat hulle verstaan en haal sommer een van hulle digters ook aan. (28)

Dan kom Paulus by die klimaks van sy toespraak. 

""God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan." (30-31) 

Paulus verkondig die boodskap van bekering. Hoe dan anders? Dit was mos die duidelike opdrag van Jesus aan sy dissipels, kort voor sy hemelvaart. 

“Verder sê Hy vir hulle: "So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan,en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.’” (Lukas 24:46,47) 

God beveel mense deur sy diensknegte om hulle te bekeer. Wat is bekering? Om ’n keuse te maak! Om van gedagte te verander oor God en sy verlossingsplan deur Jesus. Om anders te dink en te doen. ‘n Bekering na God toe en weg van die afgode. Geloof en bekering gaan altyd saam. Om weg te draai van my verkeerde koers, om van gedagte te verander en op Jesus te vertrou. Terloops die boodskap van bekering en geloof was nie net die boodskap van Johannes die Doper* en die apostels nie, maar ook van Jesus self! 

“Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: "Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:14,15)

Waarom is bekering so belangrik? Waarom doen Paulus die moeite om dit met hierdie vreemde Grieke te deel?

Daar is ’n oordeel wat kom. God gaan die wêreld oordeel volgens Sý standaard en norm. Sý wet! (Terloops, die opinie van Die Huisgenoot of Oprah Winfrey gaan nie tel nie!) God gaan mense tot verantwoording roep. Mense sal moet verduidelik. Hierdie waarheid vind post-moderne mense afstootlik, want ons redeneer mos : “Ek kan maak soos ek wil. Daar is nie reg en verkeerd nie, elkeen moet vir homself besluit.” Nee, die Bybel leer anders. “Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.” (Romeine 2:16) 

Die mens staan verantwoordelik voor God, want God is ons Maker. 

Of mense in God glo of nie- elke mens gaan verantwoording doen voor God van sy lewe hier op aarde. (Sien Openbaring 20:11-21)

Hierdie naderende oordeel op God se kalender is nie bangmaak stories nie. Die bewys dat God dit regtig gaan doen is die opstanding van Jesus uit die dood. Deur die opstanding het God onteenseglik onomstootlik bewys dat Jesus wel die Seun van God is. 

God gaan die wêreld oordeel. Deur ‘n Man. Jesus Christus. Daar’s baie verkeerde opvattings oor Jesus. Jesus is nie ‘n lewensafrigter of leefstylkonsultant om van ons suksesvolle en gemaklike mense te maak nie. Hy is ‘n Redder van sonde. ‘n Genadige Redder! Maar as Jesus weer kom, kom Hy oordeel. Dan is die genadetyd verby. Nou is Hy nog hier as die Redder van sondaars, maar as Hy weer kom, kom Hy nie as Redder nie, maar as Regter!

Wat ‘n geweldige boodskap van die apostel Paulus. So baie- selfs kerkmense glo nie hierdie boodskap van oordeel en bekering nie. Dis al afleiding wat mens kan maak, as mense houtgerus voortleef en op hulle ou paaie van sonde en onverskilligheid volhard. As daar vir als tyd is behalwe vir God se Woord…

Hierdie gedeelte is so belangrik as ons weer wil besef waaroor die eintlike boodskap van die Bybel gaan. Soos ons gesien het gaan Paulus baie slim, ordentlik en diplomaties te werk met sy gehoor. Maar hy bly eerlik. Hy praat oor dit wat waar en relevant is, oor die mens se basiese behoefte. Die noodsaak om betyds vrede met God te vind. Hy vertel NIE vir die Atheners hoe hulle suksesvolle, welaf en gesonde lewens kan kry nie. Nee, hy vertel hulle eerlik van God se naderende oordeel en hoe hulle gered kan word van daardie oordeel! Onverskrokke bring Paulus sy boodskap van waarheid aan die heidense en kritiese Atheners! 

Wat sou die reaksie wees? “Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: "Ons sal jou weer hieroor wil hoor." So het Paulus van hulle af weggegaan.‘n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ‘n lid van die Areopagus, en ‘n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.” (32-34) 

Die waarheidsevangelie bring altyd skeiding. Sommige verwerp dit en lag daaroor**, ander glo. Hier gebeur dit ook weer.

Die Bybelse metode van evangelie verkondiging sluit ook die waarskuwing oor die naderende oordeel in, as ons dit verswyg is ons oneerlik… Moenie die jaar ingaan as ‘n onbekeerde nie. Dit sou dwaas wees! Sorg dat jy die Man wat gaan oordeel, Jesus, ken, dan is jy veilig! AMEN!

*Sien hoe Johannes die Doper bekering baie prakties verduidelik. (Lukas 3:7-14)

**Uit hierdie gemengde reaksie is dit duidelik dat baie mense destyds ook nie in Jesus se opstanding kon glo nie. Geleerdes wat wil maak of geloof in die opstanding sommer net iets is wat algemeen in destyds se “primitiewe” kultuur was, maar slegs in ons tyd nie meer geglo kan word nie, praat dus nie die waarheid nie. Vir die ongelowiges van destyds was die opstanding ook iets belaglik. Om dieper op die sekerheid van die opstanding in te gaan kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE

Donderdag, 04 Januarie 2018

MY PLANNE WERK NIE UIT NIE...

WAT NOU? 



AS GOD ANDERS BESLUIT, KAN EK TEVREDE WEES DAT HY WEET WAT HY DOEN!

Ons kry soms van die kosbaarste boodskappe sommer so uit minder opvallende gedeeltes van die Bybel. Hier aan die einde van die beroemde Romeine brief nadat Paulus klaar die groot teologiese waarhede van sonde, verlossing en dankbaarheid uitgelê het , skryf hy oor sy reisplanne. (Sien ROMEINE 15:23-33) En juis hier as ons die hele konteks van die Nuwe Testament in ag neem kry ons ‘n baie belangrike en troosvolle boodskap!

Paulus vertel aan die gemeente in Rome van sy planne en begeerte om na Spanje* te reis. 

“As ek daarmee klaar is en die volle bedrag wat ingesamel is, veilig aan hulle besorg het, sal ek by julle langs na Spanje toe reis.” (Romeine 1:28)

Dit sou beteken dat hy deur Rome moes reis en dan sou hy ook uiteindelik die geleentheid kry om die kerk daar te besoek. Heel moontlik was sy gedagte ook dat Rome dan sommer as basis kon dien vir sy verdere uitreik na die weste. Voor dit was daar egter eers ‘n baie ‘n belangrike taak wat hy moes afhandel. Hy moes ‘n kollekte van die heiden Christen gemeentes wat hy ingesamel het afbring na die Joodse Christene in Jerusalem. Dit was ‘n barmhartigheidstaak en Paulus het dit as baie belangrik beskou en hy het dit dan ook gedoen… Dit het heel waarskynlik ook vir Paulus om meer as bloot liefdadigheid gegaan, dit was ‘n handeling wat die diepgaande eenheid van die kerk sigbaar sou demonstreer – die feit dat God se kerk, die ware Israel uit gelowiges van beide Joodse en heiden afkoms bestaan. 

Sommige sien in hierdie daad van Paulus die simboliese vervulling van ‘n profetiese teksgedeelte soos Jesaja 66:20. “Hulle (die heidene) sal al julle volksgenote uit al die nasies as ‘n geskenk vir die Here saambring op perde, op waens, op drastoele, op muile en op kamele. Hulle sal hulle bring na my heilige berg toe, na Jerusalem toe, sê die Here. Hulle sal hulle bring soos die Israeliete die graanoffers in rein skottels na die huis van die Here toe bring.” 

Die heidennasies se bydrae is ‘n simboliese verteenwoordiging van hulleself as offer aan God. Hierdie offer afkomstig van heiden christene sou ook ‘n bevestiging van Paulus se apostelskap wees, spesifiek van hom as apostel wat geroep was na die heidennasies. Hoe dit ook al sy, hierdie reis was vir Paulus van uiterste belang…

God besluit toe anders...

Die volle verhaal van Paulus se reis na Jerusalem word in Handelinge vertel. In Jerusalem het daar egter dramatiese verwikkelinge gekom. Paulus is gearresteer. Handelinge vertel al hierdie gebeure in detail – hoe Paulus voor die Joodse raad en daarna voor goewerneur Feliks, en daarna voor sy opvolger Festus en ook voor koning Agrippa verskyn en getuig het. So het meer as twee jaar verbygegaan. (Hand 24:27) Toe het Paulus hom einde ten laaste op die keiser beroep en daar is besluit dat hy na Rome gestuur moet word om voor die keiser te verskyn. En eers na ‘n baie lang en gevaarlike seereis, wat ‘n skipbreuk op die eiland Malta ingesluit het, het Paulus in Rome aangekom. Hy bereik Rome ja, maar nie as ‘n reisende sendeling op pad na Spanje nie, maar as ‘n gevangene van die keiser! 

Die mens wik, maar God beskik! Ja, God bereik sy doel dikwels met ‘n lang en moeisame ompad en nie sommer met maklike kortpaaie nie!

Het die verandering van planne vir Paulus ondergekry? Het hy tou opgegooi? Het hy vertroue in God se beskerming verloor? Nee! Hoekom nie? Hy het ‘n duidelike doel gehad, wat groter was as sy eie ambisie en begeertes. Reeds op reis na Jerusalem het dit begin duidelik word dat vervolging daar op hom wag in Jerusalem. 

Ons lees daarvan in sy afskeidswoorde aan die ouderlinge van Efese. 

“En nou gaan ek Jerusalem toe, daartoe gedring deur die Gees. Wat dáár met my sal gebeur, weet ek nie.
Ek weet dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging op my wag.
Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig.” (Handelinge 20:22-24.) 



Hoe kon Paulus ten spyte van terugslae en teleurstellings met BLYDSKAP volhard? Jy sien, Paulus se reisplanne en toekomsvisie het nooit oor sy eie eer of eie plesier of eie avontuurlus gegaan nie. Dit het gegaan oor sy gehoorsaamheid aan die opdrag en roeping wat die Here hom gegee het. En toe die Here dus sy reisplanne wysig en bepaal dat dit lyding en tronkstraf moet insluit het hy met blydskap daarby ingeval! Mens sien hierdie selfde gesindheid van oorgawe aan God se besluite en vergenoegdheid in alle omstandighede ook baie treffend in die Filippense brief. Daarin verklaar hy : “Of ek lewe en sterwe maak nie saak nie, solank ek net Christus verheerlik!” (Filippense 1:20,21) 

PRAKTIESE OPMERKINGS: 

  • Ons planne werk nie altyd uit nie, selfs al is ons getroue kinders van die Here, selfs al het ons die beste bedoelings, selfs al bid ons baie oor die planne. Ons moet dus nie moed verloor as als nie verloop soos ons dit voorsien het nie. Dit beteken nie die Here het ons afgeskryf nie. Ons moet net nooit ons passie vir sy eer en sy evangelie verloor nie. Dis wat tel!
  • God is soewerein, sy planne werk altyd uit en Hy bereik altyd sy doel, al is dit op ‘n ander manier as wat ons sou wens of verwag! Niks en niemand kan God keer om sy ewige doelwitte te gebruik nie.
  • Ons moet ons blymoedig onderwerp aan God se planne al behels dit ‘n ander opsie as wat ons vir onsself sou kies. Jy wou dalk graag ‘n reisende sendeling word, maar God het beskik dat jy ‘n siek familielid moet versorg of na jou klein kindertjies by die huis omsien. Of andersom, jy wou dalk graag ‘n ma van klein kindertjies wees, maar nou het God beskik dat jy enkellopend moet wees sodat jy vry is om ander mense te bereik. Jy wil dalk nou iets groots vir die Here doen,maar HY plaas jou eerste deur ‘n toets van lyding, siekte of opleiding. Jy het dalk beplan om die wêreld vol reis vir die evangelie, maar helaas nou is jy op ‘n siekbed... 
Wees geduldig, God het Sy tyd en Sy manier! 

Onthou : Paulus se belofte in Romeine 15:29** het waar geword, maar op ‘n ander manier as wat hy beplan het of seker graag sou wou sien... En beslis op ‘n ander datum as wat hy oorspronklik voorsien en gedink het. Hou dit ook in gedagte as jou planne vir 2018 ook nie altyd gaan uitwerk soos jy dit wou gehad het nie.

Die besondere verhaal van ds. A.A. Louw die pioniersendeling van Masjonaland (Zimbabwe/Rhodesië) is ‘n baie bemoedigende bevestiging van hierdie waarheid dat God SY TYD en SY PLAN het wat die beste is! (Kliek LOUW)


Andrew Louw en sy vrou Cinie

*Het Paulus ooit toe by Spanje uitgekom? Daar is interessante inligting wat moontlik daarop kan dui soos ‘n verwysing van Clemens in die eerste eeu en ook in die Muratoriese kanon. Daar is egter geen duidelike bewyse nie. Sien Morris, Epistle to the Romans, p518 voetnota 119.

** “Ek weet dat as ek na julle toe kom, dit met die volle seën van Christus sal wees.” Romeine 15:29

Maandag, 01 Januarie 2018

‘N NUWE TOEKOMS IN 2018!

- Die sleutel is vertroue op die Woord.

Die hele nag het hulle hard gewerk, maar nie een vis gevang nie! ‘n Algehele mislukking. Onthou net Petrus en sy makkers was nie hengelaars wat vir ontspanning vis gevang het nie, dit was hulle brood en botter, hulle hele bestaan het van die sukses van hulle vangste afgehang. Ons lees van hierdie gebeurtenis in LUKAS 5:1-11. Petrus moes baie mismoedig gewees het, maar toe maak hy ‘n keuse, ‘n keuse om Jesus op sy woord te vat. ‘n Keuse om Jesus se woord te glo al maak dit nie sin nie en al druis dit teen sy logika in... en toe verander als. Dit lei nie net tot ‘n wondervangs nie, maar ook tot ‘n wonderlike toekoms!

God praat met mense. Hy hou Hom nie maar net stil eenkant en onbetrokke nie. Hy maak bemoeienis met mense. Hoe? Hy doen dit deur sy Woord. Sy beloftes. Wanneer ons God se Woord glo, gebeur daar heerlike en kragtige dinge. Die krag van God se Woord word besonderlik bewys in hierdie gebeurtenis. Die belangrikheid van God se Woord en beloftes is ‘n deurlopende tema in hierdie verhaal. Reg aan die begin hoor ons dat die skare gretig vorentoe beur om God se Woord te hoor. “Op ‘n dag toe Jesus langs die Gennesaretmeer staan en die skare vorentoe beur om die woord van God te hoor,” (1) 

PERSOONLIKE KEUSE OM DIE WOORD TE GEHOORSAAM

Jesus bring die Woord aan almal wat maar wil luister. Maar dan kom God se Woord baie persoonlik na Petrus. (4) "Vaar uit na die diep water toe en gooi julle nette uit om te vang." Dit het nie vir Petrus na ‘n logiese opdrag gelyk nie. Hy was ‘n visser van beroep, hy het die water geken, hy het geweet daar’s niks... Jesus was nie ‘n visserman nie, hy het in ‘n timmermans besigheid grootgeword. Maar Petrus neem ‘n geloofsbesluit! "Meneer," antwoord Simon, "ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi." (5) – met ander woorde - “Ek sal gehoorsaam en vertrou al maak dit nie vir my sin nie! Net omdat U so gesê het sal ek dit doen! Dit klink nie vir my reg nie, dit lyk nie vir my reg nie, dit voel nie vir my reg nie, maar net omdat U so gesê het sal ek dit doen.”

Dis op hierdie punt (in ‘n sekere sin) waar Christenskap begin. Dis die draaipunt. Wanneer ek ‘n keuse maak om God op sy Woord te vat, maak nie saak wat die feite en omstandighede is nie. Ek moet doelbewus reageer op God se beloftes. As Petrus Jesus se opdrag gehoor het, maar vol verduidelikings, verskonings en ekskuse gebly het, sou hy ‘n wonderwerk gemis het.

DIE WONDERWERK IN PETRUS SE HART

Die wonderwerk wat Petrus beleef het was natuurlik baie meer as net ‘n groot vangs van visse. Daar gebeur ‘n groter wonder in sy hart as in die skuit. "Toe Simon Petrus dit sien, val hy voor Jesus se knieë neer en sê: "Gaan weg van my af, Here, want ek is ‘n sondige mens."(8) Hy besef sy eie sonde. Hy kom onder sonde oortuiging. Dis inderdaad ‘n groot wonderwerk en teken van God se genade as mens jou ware sonde toestand voor die Here besef, want eintlik dink elke mens ek is goed genoeg of darem ten minste beter as ander mense. Petrus word bang toe hy sy sonde besef... Soos die profeet Jesaja in Jesaja 6...

DIE WOORD BRING TROOS EN HOOP

Maar weer kom die Woord na Petrus (soos destyds ook na Jesaja). “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang.” (10) Dis ‘n kosbare woord van uitnodiging, liefde, vergifnis, hoop... En wat maak Petrus? Hy kies weer om Jesus se woorde te glo en maak so ‘n keuse om Jesus te volg. Belofte. Geloof. Bekering.

God se Woord, God se Beloftes kom na jou toe. Sy beloftes van vergifnis, van kindskap, van die ewige lewe...

Wanneer ek hierdie beloftes glo en daarop reageer, kry ek vergifnis en sluit dit ‘n nuwe lewe en toekoms vir my oop. Ek moet hierdie beloftes glo ongeag my toestand van mislukking en sonde. Ja, dis waar ek het al hoeveel keer misluk, ja dis waar my sonde is baie se groot. Ja dis waar ek voel moedeloos en bang. Maar onthou, God se beloftes bly waar in alle omstandighede. God se beloftes tel meer as my gevoelens en die sigbare feite (dank maar weer aan die geskiedenis van Abram).

Hoor weer opnuut die beloftes van God... Wat gaan jy daarmee maak? Jy het vandag dit gehoor en jy het dit al baie keer gehoor, het jy gereageer?

Maak soos Petrus, kies om Jesus se Woorde te glo. Maak nie saak wat my sonde is nie, maak nie saak hoe baie my mislukkings is nie, maak nie saak wat ander mense gaan dink nie... “op U woord sal ek...” Onthou, as als misluk het, as als verkeerd gegaan het, as als donker lyk, dan is God se Woord, God se beloftes daar vir ons...

Miskien was 2017 dalk vol mislukkings... veral dalk op geestelike gebied... Onthou net, nie jou mislukkings nie en ook nie jou suksesse nie, maar vertroue op die Woord is bepalend vir jou toekoms. Vertroue op die Woord gaan bepaal of jy die roeping wat die Here vir jou in 2018 het gaan volvoer. Vertroue op die Woord gaan jou ewigheidstoekoms bepaal.

2018 lê voor ons. Ons weet nie wat wag nie, maar of ons dit maklik of moeilik gaan hê, of ons gaan lewe of sterwe, net een ding maak saak : Vertroue op God se Woord met ander woorde op God se beloftes, die beloftes wat Hy in Jesus Christus aan ons maak!

Mag 2018 vir jou die jaar van die Woord wees!


Goeie wense van ons hier op Tsumeb!

Donderdag, 21 Desember 2017

Nie Ikabod nie,

maar Immanuel!



Name speel ‘n baie belangrike rol in die Bybelse geskiedenis en boodskap en hier tydens die Kersgety word dit weer pragtig onderstreep. Soveel so dat ons die hele boodskap van Kersfees (Jesus se vleeswording) in een naam kan opsom : IMMANUEL!

“Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem." Die naam beteken God by ons.” (Matteus 1:23)


Kom ons gaan eers ver terug in die geskiedenis, eeue voor Jesus se geboorte…‘n Sterwende vrou wat so pas geboorte geskenk het, gee aan haar seuntjie ‘n buitengewoon dramatiese naam : Ikabod. Ons ken die agtergrond… Weens die goddeloosheid van Eli se seuns het God sy oordele oor Israel gebring en hulle verloor teen die Filistyne in ‘n geveg. Toe dink die volk Israel hulle kan God dwing om hulle in die oorlog te help en hulle vat die verbondsark na die slagveld. Hulle het gedink hulle kon God manipuleer. Dit misluk en lei tot ‘n verdere vernietigende neerlaag en ramp vir Israel. Dis as’t ware ‘n donker uur van Godsverlatenheid en oordeel. Israel se geskiedenis is op ‘n laagtepunt van hopeloosheid en ellende. ‘n Boodskapper kom toe na Eli met die vreeslike nuus van Israel se nederlaag op die slagveld, die dood van Eli se seuns (een van hulle was die barende vrou se man) en die ergste van als - dat die verbondsark self in die hande van die Filistyne geval het… Ons lees hiervan in die hartseer geskiedenis van 1 Samuel 4:17-22. Te midde van hierdie smart en ellende noem die jong ma haar seuntjie, “Ikabod.” Dit beteken : ”Waar is die eer?” Dis ‘n uitroep van wanhoop, van Godverlatenheid, van neerlaag en mislukking. Dit weerspieël ‘n gevoel dat God ver weg is, dat God nie meer by Sy mense is nie, maar hulle afgeskryf het!

In Matteus lees ons weer van die geboorte van ‘n seuntjie : Immanuel. Ook hierdie naam is vol betekenis. Die agtergrond is die voorspelling deur die profeet Jesaja. (Jesaja 7:14) God het sy heerlike belofte van redding en uitkoms waar gemaak!

Ikabod, Immanuel - daar is geen groter kontras moontlik, as die kontras tussen hierdie twee name en waarvoor dit staan nie!

As ons na die wêreld rondom ons kyk, as ons eerlik is oor wat in ons eie lewens en ons eie huisgesinne gebeur wil ons ook miskien uitroep : “Ikabod!”– alles is hopeloos en God is ver! Miskien is jy dalk op hierdie einste oomblik, by Ikabod in jou lewe?

Maar daar is ‘n groter werklikheid. Die evangelie van Jesus Christus. Die evangelie is die waarheid van Immanuel – God is by ons, met ons!

Die twee name is as’t ware twee vensters van waaruit ons kan kyk… Beide vensters is baie realisties en hou rekening met ‘n stukkende wêreld van sonde en oordeel. Maar daar is 'n reuse verskil:

Ikabod is die venster van wanhoop, moedeloosheid, uitsigloosheid, oordeel....

Die ander venster is die venster van Immanuel.  Dis die hoopbringende venster van die evangelie, wat die lig van God se genade binnelaat tot in die donkerste dieptes van verlorenheid. God kom na ons juis in ‘n stukkende wêreld. Die skrywer van die Matteus evangelie was deeglik bewus van die gebroke werklikheid van hierdie wêreld. (Kyk maar sy geslagsregister wat opmerklik vroue soos Tamar, Ragab, Rut en Uria se vrou insluit...) Stukkend, sondig, gebroke... Maar wat wonderlik is, in hierdie bose en gebroke wêreld is God by ons. God kom staan in ons skoene. Hy vereenselwig Homself ten volle met die mens, soveel so dat Hyself mens word. Nie ‘n super mens of super held nie, maar ‘n gewone mens. Hy het self nie sonde nie, maar Hy kom woon tussen sondaars, Hy identifiseer met sondaars. Hy word versoek soos sondaars, word honger, word moeg en ly en sterwe soos gewone sondige mense. Ja, Hy weet dis ‘n sondige wêreld en Hy ken en verstaan ons hulpeloosheid en verslawing en daarom is daar ook ‘n ander naam wat vol betekenis is, Jesus! Verlosser! “Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos." (Matteus 1:21) Hy word juis ‘n mens van vlees en bloed om die doodstraf op Golgota in ons plek te ondergaan sodat elkeen wat in Hom glo, gered kan word.

Ikabod word met Kersfees (dink : evangelie) uitgekanselleer en vervang deur Immanuel! 

Ons hoef nie langer in wanhoop en ellende vas te haak by Ikabod nie, maar ons kan glo in Immanuel en ons elkeen kan die Naam van Jesus aanroep met die heerlike wete dat God met ons is en dat die belofte geld : “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word!” (Romeine 10:13)

Stukkende mens in ‘n stukkende wêreld, dis vandag dalk vir jou tyd om van Ikabod aan te beweeg na Immanuel!



Die kenner van die Hai//om taal en kultuur, oom Reinhard Friederich vertel ons hoe die Boesmans hierdie plant se gif aanwend.


Boesmangif (Adenium boehmianum)


Tambotiewoud