BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Moedeloosheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Moedeloosheid. Wys alle plasings

Woensdag 04 Mei 2016

HI, DIS HEMELVAART!

- “En ek was nog nooit regtig opgewonde daaroor nie”



Miskien sou dit jou eerlike opinie kon wees, maar ek vertrou dat dit nou vir altyd gaan verander…

HEMELVAART - ‘N GESKIEDENIS WAT ONS DIREK RAAK

Elke mens op aarde het ‘n persoonlike geskiedenis. ‘n Lewensloop met sekere hoofmomente, sleutelgebeure soos geboorte, huwelik, dood. Jesus is God wat mens geword het en as mens het Hy ook ‘n lewensgeskiedenis van wat hier op aarde met Hom gebeur het. Sy geskiedenis is baie menslik en doodgewoon, maar ook baie uniek en besonders. Baie belangrik, want sy geskiedenis, sy lewensloop raak ons direk. Trouens, Jesus se hele aardse bestaan en handel en wandel was ter wille van ons, tot ons (sy verlostes) se voordeel, nou en ewig!

Kom ons kyk so vinnig na sy geskiedenis, maar veral ook na die hemelvaart en hoe dit ons baie persoonlik raak:

Geboorte. Jesus het ‘n gewone geboorte gehad... maar tog ook uniek. Ons bely dat Hy uit ‘n maagd gebore is en deur die Heilige Gees verwek is. Hieruit volg logies : Jesus is waarlik God, maar ook waarlik mens. Hy beklee dus ‘n unieke posisie. Hy kan identifiseer met ons as mense, ons gevoelens, ons pyne tot selfs met die dood. Maar tog is Hy almagtig God, die Een wat ons waarlik kan red en ‘n Middelaar is tussen God en mens.

Wonderwerke en magtige dade. Die lys is te veel om te noem. Dit was nie skynwonders soos wat ons by vandag se kwaksalwers sien nie...blindes het gesien, lammes het geloop, dooies het weer lewend geword! Water het in wyn verander, op water het Hy geloop... Sy wonderwerke het gewys Hy het mag oor die natuur, mag oor siekte, mag oor demone en mag oor die dood! Hy is waarlik God!

Sterwe. Dis veral Jesus se sterwe wat baie uniek en kosbaar is. Hy sterwe aan ‘n houtkruis tydens Paasfees, as ons Paaslam wat die oordeel afweer!. Sy martelaarsdood is nie net nog ‘n tragedie nie (inderdaad het aie mense al aan kruise gesterf), maar ‘n doelbewuste selfoffering ter wille van ons sonde. Hy dra die vloek oor ons sonde en sterf dus as vervloekte aan ‘n hout, sodat ons die seën kan kry.

Begrafnis. Hy gaan deur hierdie vernedering, wat bewys Hy was werklik dood, dus het Hy werklik die volle straf gedra van ons sonde. Sy dood was nie maar net ‘n skyndood, simboliek, drama of opvoering nie.

Opstanding. Jesus staan na drie dae liggaamlik op en eet brood en vis voor die oë van sy dissipels. Hulle sien Hom, vat aan Hom, praat met Hom. Die opstanding het bewys dat Jesus werklik was wie Hy gesê het Hy was. As daar nie ‘n opstanding was nie, was Jesus maar net nog een van die baie godsdienstige swendelaars. Maar Hy het opgestaan, dit wys dat God sy offer aanvaar het, dat ons sondeskuld inderdaad betaal is en dat ons ook eendag sal opstaan met verheerlikte liggame.

Hemelvaart. Ook hier het ons met ‘n werklike stuk geskiedenis te maak. Lees dit gerus in HANDELINGE 1:9-11. Let op - “terwyl hulle dit sien” - daar was dus ooggetuies! Jesus het liggaamlik opgevaar na die hemel ten aanskoue van ‘n klomp mense.

Hoe raak dit ons? Kan ons ook daaroor opgewonde raak soos oor sy geboorte, sterwe en opstanding? Watter praktiese nut en voordele hou dit vir ons in? Die Heidelbergse Kategismus Vraag 49 spel baie duidelik 3 redes uit:

1.Jesus doen vir ons voorspraak. Hy is ons persoonlike advokaat. Hy pleit vir ons. Luister na 1 Joh 2:1 – “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig -ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” en Rom 8:34 – “Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Glo jy dat Jesus vir jou pleit? Wat ‘n heerlike troos! Ons vra dikwels vir mense om vir ons voorbidding te doen en dit beteken vir ons baie. Maar nou hoor ons Jesus self doen vir ons voorbidding. Kan daar iets meer vertroostend wees? Wanneer jy platgeslaan is, moedeloos is, nie eers krag het om te bid nie, wanneer geen mens daar is om jou te ondersteun of moed in te praat nie, weet daar is Iemand wat vir jou pleit by die almagtige God! (en terloops, dis nie Maria of een of ander heilige nie, dis God se eie Seun) Sal God nie na sy Geliefde Seun luister nie? Verseker sal Hy... Onthou Jesus bid vir jou, as jy magteloos siek lê, as jy in ‘n donker krisis is en nie weet wat om te bid nie, wanneer jy deur versoeking geteister word en juis ook as jy in sonde geval het... Hou vas aan hierdie feit en skep weer moed!

HEMELVAART VERSEKER ONS VAN ‘N PLEITENDE JESUS! KIND VAN GOD, HY PLEIT VIR JOU! GAAN JY DALK NOU OPGEWONDE RAAK?

2.Die feit dat Jesus as mens met sy menslike liggaam en natuur opgeneem is in die hemel is ‘n waarborg, dat Hy ons ook as mense met nuwe liggame na Hom sal neem. “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie." (Joh 14:2) Ons gaan nie swewende spoke wees nie. Ons gaan na ‘n plek wat Jesus vir ons berei het. Ons gaan nuwe liggame kry, soortgelyk aan sy verheerlikte liggaam. Liggame sonder gebreke, sonder smet of sonde! “Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” (Fil. 3:21)

3.Na die hemelvaart het Hy Sy Gees gestuur om by ons te woon en dis ‘n groot voordeel. Jesus verseker sy dissipels : “Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur." (Joh 16:7) Dis die belofte wat op Pinksterdag letterlik waar geword het. Maar dis ‘n waarheid met blywende effek – die Heilige Gees is by elke kind van God en troos ons, leer ons, lei ons, bekragtig ons! Jesus het sy belofte gehou en daarom maak die Heilige Gees ‘n werklike verskil in elke kind van God se lewe.

JESUS IS NOU BY ONS DEUR DIE GEES!

Jesus se hemelvaart is dus net soos sy geboorte, sy wonders, sy kruisdood, sy opstanding goeie nuus vir ons. Goeie nuus om waarlik oor opgewonde te raak en dankbaar voor te wees! Hierdeur waarborg Hy ons redding deur sy voortdurend voorspraak. Hy waarborg ons liggaamlike voortbestaan en ewige heerlikheid by Hom. Hy waarborg dat Hy nou deur die Heilige Gees by ons is, want die Heilige Gees word genoem die Gees van Christus en die Gees van Jesus! Hemelvaart beteken eintlik ons brood is aan beide kante gebotter – Jesus is by die troon van die Vader waar Hy vir ons pleit, maar Jesus is ook deur die Heilige Gees nou by ons!

Vrydag 15 April 2016

AS EK REEDS ALS PROBEER HET...

en niks of niemand kon my help nie, dan is HY nog steeds daar...


Ons het verlede Sondag gekyk na die noodsaaklikheid om na Jesus te kom en so die lewe by Hom te kry. Dis nie genoeg om die Bybel te lees en te ken nie, die Bybel wil ons juis na Jesus lei. (kliek op BLINDE BYBELLESERS) Miskien weet jy dis die enigste oplossing om na Jesus te kom, maar daar is baie dinge wat jou laat terugdeins. Baie dinge het nou al in jou lewe gebeur wat jou moedeloos of bang laat voel om na Jesus te kom. Ek hoop dat jy deur hierdie wonderwerk van Jesus (waarvan ons lees in Matteus 17:14-21) jou sal oortuig dat jy regtig maar kan kom! Dat jy met kinderlike vertroue na Jesus sal kom, vandag nog.

Jesus keer terug van die berg van verheerliking. (1-8) Daar het die stem uit die hemel sy Goddelike majesteit bevestig! “Terwyl hy nog praat, het ‘n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en ‘n stem uit die wolk het gesê: "Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom." (5) Die Goddelike heerlikheid en gesag van Jesus wat so helder geskyn het in die teenwoordigheid van Moses en Elia op die berg word nou getoets en gelukkig bevestig in die harde werklikheid van ‘n stukkende wêreld waar die duiwel verwoesting saai! 

Jesus en sy drie leier dissipels is nou weer terug by die mense en hier kom kniel ‘n man voor Hom. Dis duidelike dat hy ‘n groot nood het, dat hy desperaat is. Waarom is sy nood so groot? Hy het ‘n seun wat geestelik versteurd is en in ‘n toestand van uiterste ellende verkeer. Hierdie is nie maar net ‘n gewone siekte of versteuring nie, maar die direkte werk van ‘n bose gees. ‘n Seun vasgevang in die greep van Satan. (Terloops, alle mense wat aan epilepsie ly of ‘n versteuring het is nie noodwendig van ‘n bose gees beset nie) ‘n Mens kan jou die desperaatheid en die smart van die pa kwalik voorstel. Dit was al ‘n probleem wat ‘n lang pad gekom het. “Jesus het vir die pa gevra: "Hoe lank is dit al dat dit hom oorkom?" "Van kleins af," antwoord hy, "en baiekeer het die gees hom al in vuur en in water gegooi om hom dood te maak.” (Mark 9:21-22) Om alles te vererger het die gees hom stom en doof gemaak (Mark 9:25), so jy kon nie eens met die seun ‘n sinvolle gesprek voer om te probeer vasstel wat die probleem is nie.

Asof alles nie reeds erg genoeg is nie, het hierdie man tevergeefs sy seun na die dissipels gebring, hulle kon hom nie help nie. “Ek het hom al na u dissipels toe gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie." (16) Dink net die geweldige teleurstelling! In effek het hulle hierdie seun tot ‘n ongeneeslike geval verklaar. Wat ‘n ontmoediging! 

"BRING HOM NA MY TOE!"

Maar toe in die diepste donkerte van wanhoop, die helder stem van Jesus : “Bring hom na My toe!” Toe die seun na Jesus self gebring word, moet die duiwel die onderspit delf en die hasepad kies. 

Teen die mag en majesteit van Jesus het die duiwel geen kans nie! 

Twee troosvolle feite kom na vore:

  • Jesus se almag en gewilligheid om mense uit die mag van die duiwel te verlos! 

Jesus bevry hierdie seun van ‘n bose gees en hy word ook genees. Hier is hoop vir sondaars. Alle sondaars is weliswaar nie besete nie, maar alle sondaars is onder die mag van die bose. (Ef 2:1-3) Alle onbekeerdes is maar slawe van satan, of hulle dit besef of nie! Maar Jesus kan en wil sulke slawe bevry! Miskien is jy moedeloos oor jou toestand... jy’t al alles probeer om vergifnis en vrede te kry, maar dit ontwyk jou steeds. Jy het al alles geprobeer om van verkeerde gewoontes en verslawing vry te kom, maar dit teister jou nog steeds. Jy het al hulp en raad gevra by kerkmense, sielkundiges, psigiaters, predikante, pastore en profete en selfs professore, maar niks het gewerk nie... Jy is moedeloos, wanhopig, stukkend, verward... Vriend, hoor Jesus se woorde : Bring hom na My toe!”

WAAROM SOU JY NOG WANHOOP?

Moenie moedeloos wees nie, moenie wanhoop nie. Waarom sal jy moedeloos wees as daar ‘n almagtige God is? Waarom sal jy moedeloos wees terwyl hierdie almagtige God ‘n genadige God is? Waarom sal jy moedeloos wees as Jesus sy liefde vir jou, ‘n liefde tot die dood, reeds aan die kruis bewys het? Waarom sal jy moedeloos wees as Jesus uitgeroep het : “Dis volbring!” Waarom sal jy moedeloos wees terwyl Jesus self stukkendes en moedeloses soos jy uitnooi : ”Kom na my toe almal wat uitgeput en oorlaai is”? (Matteus 11:28) Waarom sou jy langer wanhoop en twyfel aan die krag van Jesus se genade as Jesus ‘n Saggeus, ‘n Petrus, ‘n Paulus, ‘n Maria Magdalena en ontelbare ander reeds gehelp en uit die mag van Satan bevry het?

  • Jesus openbaar sy reddende mag waar daar geloof is, al is die geloof opsigself maar baie swak. 

Geloof is die hand waarmee ons aan Jesus vashou en sy seëninge ontvang, die oog waarmee ons hoopvol na Hom kyk soos die Israeliete na die koperslang op die paal gekyk het en genees is van die gif! Die dissipels kon hierdie seun nie help nie en Jesus raas baie ernstig met hulle. Hy sinspeel met sy woorde in vers 17, “ongelowige en ontaarde geslag” op Deuteronomium 32:5,20 waar dit verwys na die volk Israel se ongeloof en verdorwenheid. Maar juis deur die Here (JHWH) se woorde in sy mond te neem wil Hy hulle laat verstaan dat dit die HERE self is wat nou in Hom (Jesus) na hulle kom. 

Jesus se dissipels het met hulle eie krag en gesag genesing probeer bewerk. Dit was hulle fout... Sonder geloof in Jesus kan ons niks vermag of verwag nie. Geloof is vertroue op Jesus en juis nie op onsself nie. Geloof self is maar gering soos ‘n mostertsaadjie, maar dit is gerig op Jesus en dis wat belangrik is. Dit gaan dus nie oor ‘n klein bietjie geloof nie (geloof kan tog nie gemeet word nie), dit gaan oor geloof in Jesus al lyk dit maar gering! Dit gaan nie oor die krag en kwaliteit van ons geloof nie, dit gaan oor in WIE ons glo. Die pa se houding soos ons dit in Markus kry verduidelik dit mooi. “"Ek glo," roep die seun se pa dadelik uit. "Help my in my ongeloof." (Markus 9:24) Sy eie geloof lyk vir homself maar gering, hy beskryf dit self as “ongeloof”... maar Jesus help hom, want die essensie van geloof is by hom aanwesig – hy kom na Jesus! Dis geloof – om na Jesus te kom, Hom te vertrou, al voel my geloof nie baie sterk nie! Moenie op die grootheid van jou geloof vertrou nie. Geloof kom in aksie wanneer jy met jou sondenood na Jesus kom en Hom vertrou om jou te vergewe en te red! 

Jesus het nie hierdie pa wat erken het dat sy geloof swak is, teleurgestel nie, Hy sal jou ook nie wegwys nie!

Geliefde, weet net dit: 

As al my eie pogings en probeerslae misluk het, as al die raad wat ek gekry het, gefaal het, as al die mense na wie ek opgekyk het, my teleurgestel het, dan is Jesus nog steeds daar, die magtige Verlosser, die Gesalfde van God, die Lam wat vir ons geslag is, die magtige Koning, die Helper van sondaars in nood!




Woensdag 18 Januarie 2012

MOEG EN MOEDELOOS OP MOEDVERLOOR SE VLAKTE?

- wag 'n bietjie, GOD SE WOORD GEE HOOP!



Dis so belangrik om hoop te hê. Sonder hoop kan mens nie aanhou nie. Vat nou maar ’n langafstand atleet... dis die hoop op 'n einde, op erkenning of applous wat hom laat vasbyt.

Kinders van God het ook ’n vaste hoop nodig om te volhard. Ons het hoop nodig om die Christelike wedloop te voltooi en by ons ewige bestemming aan te kom. Dis nie so maklik om hoop te hê nie. Daar is ontsettend baie dinge in hierdie wêreld wat ons ontmoedig, wat wanhoop wek, wat ons knieë lam en ons wiele pap maak.

Kom ons noem 'n paar voorbeelde:

Sonde en skuld. Dis soos ’n berg. Dit maak my moedeloos. Hoe kon ek weer hierdie sonde doen? Wat van daardie vreeslike sonde wat ek nooit weer kan regstel nie? Wat gaan die Groot Regter sê?

Teleurstellings. Mense stel my teleur. Valse beloftes, ydele verwagtings. So baie verlowingsbeloftes, huweliksbeloftes, besigheidsbeloftes... word verbreek. Ekself stel my teleur. Ek het sovele kere misluk, sovele kere dieselfde ou foute gemaak!

Onreg. So veel onregverdigheid. Op die swakkes en armes word getrap. Baie diktators word nooit voor die gereg gebring nie. Baie misdadigers ry nooit aan die pen nie. Onreg in jou huis, samelewing, land... Valse beskuldigings wat my breek en aftakel. Gee niemand dan om nie? Sien God dan nie hierdie dinge raak nie?

Bekommernisse. Nagte van wakkerlê, dae van naelskou. Oor geldsake, gesondheidsprobleme, my kinders, my toekoms...

Verganklikheid. Niemand kan vir die skaduwee van die verganklikheid en dood vlug nie. Ons bestaan op aarde word gestempel deur tydelikheid, ons is maar net ’n rukkie hier. Meedoënloos tik die sekondes, minute, ure van ons lewens af..... tyd staan nie vir ’n oomblik stil nie. Die swaard van verganklikheid hang oor ons elkeen. Ons harte rebelleer daarteen, dis so hartseer, dat alles moet vergaan, dat almal uiteindelik oud word en sterwe... Is alles dan tevergeefs?


In ROMEINE 15:4 sê Paulus vir ons hoe ons vol hoop kan wees. Die Skrif gee ons standvastigheid en bemoediging.

God self is natuurlik die bron van standvastigheid en bemoediging. Hoe dra Hy dit oor aan ons? Deur Sy Woord!

 Die Skrif gee ons hoop en net die Skrif gee ons hoop in ’n onsekere en ellendige wêreld!


Die Skrif gee ons ’n vaste en sekere hoop. Dis 'n heerlke positiewe waarheid. Die beloftes en versekerings van God in sy Woord is onaantasbaar vas en waar! Die Skrif gee hoop aan almal :

~ wat gebuk gaan onder sonde en skuld. Hoe? Deur die beloftes van vergifnis en vryspraak. Die belofte van ’n nuwe begin. Sien Psalm 103, Psalm 130, Hebr 8:12 (“oor hulle ongeregtighede sal ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie”), Miga 7:8! (maak seker jy ken hierdie een!)

~ wat geteister word deur teleurstellings en hartseer. Johannes 16:33 “hou moed ek het die wêreld oorwin”; Romeine 10:11 (“die wat in Hom glo sal nooit teleurgesteld word nie”)

~ wat getreiter en getrap word deur onreg. Hebr 12 :1-2 ; Romeine 12:19 ( "Ek sal vergelde sê die Here")

~ wat uitgemergel word deur bekommernisse. God belowe sy sorg aan diegene wat Hom en Sy Koninkryk eerste stel. Matteus 6:33. Hebreërs 13:5,6 se kragtige versekering is 'n juweel!

~ wat onderworpe is aan verganklikheid. Fil 3:21, 2 Petrus 3:13 (verwagting van ’n nuwe hemel en aarde)



Die teenoorgestelde is net so waar. Alle hoop wat nie op die Woord gebou is nie is wankelbaar, onvas en onseker en dit gaan jou beslis teleurstel.

Mense wat nie hulle hoop op die Woord van God stel nie, stel gewoonlik hulle hoop op twee ander faktore:

~ Hulle stel hulle hoop op die rykdom. My besittings en my belange verskaf vir my sekuriteit. 1 Timoteus 6:17 (Lees) Mense verkies die onsekere hoop op rykdom bo die hoop op God en sy beloftes. Ja, dis so - kyk hoeveel tyd bestee hulle aan die najaag van rykdom en hoe min tyd om God se beloftes te bestudeer.

~ Baie stel hulle hoop op ander mense. Ek moet net sorg dat ek die regte ouens ken en die regte ouens aan my kant het. Ek sal my beginsels prysgee solank ek net die belangrikes en die rykes nie hoef te affronteer nie. Die Bybel waarsku duidelik hierteen. Psalm 146:3,4  (Lees)

Vriend, los die vals fondasies van rykdom en mens vertroue en stel jou hoop op God en sy Woord.

Die Skrif gee vir ons vaste sekere hoop. Hoekom?

God kan nie lieg nie! - Numeri 23:19 ( hierdie teks bevat ’n kosbare waarheid, wat ek altyd moet onthou)

Die kruis en opstanding van Jesus het bevestig dat God se beloftes waar is! ( 2 Kor 1:18-20)

God se Woord is elke dag ’n anker in ’n lewe van storms. God se Woord is die fondament van ons geloof in ’n wankelende wêreld. God se Woord is die waarheid, die enigste waarheid in ’n wêreld van leuen en dwaling! (Johannes 17:17)

Dis ons petrol as ons geloofsenjins wil gaan staan.

God se Woord is ons oorlewingsbron. God se Woord bly waar ongeag omstandighede. Ons kan God se Woord vertrou al sê die sigbare feite nou ook wat. Ons kry ’n pragtige voorbeeld in Lukas 5. Jesus gee die opdrag aan Petrus om na die diep water te vaar en die nette uit te gooi! Dit het onsinnig en dwaas geklink, want hulle het die hele nag probeer en niks gevang nie. Maar dan maak Petrus ’n gehoorsame geloofsuitspraak : “... maar op U woord sal ek die nette uitgooi.” En ons weet wat was die heerlike gevolge! ’n Reuse oorvloedige vangs!


Kan jy uithou en aanhou... en veilig aankom in die Ewige Koninkryk?  Kan jy ontsnap uit die moddermoeras van moedeloosheid? Ja, as jy die beloftes van die Skrif ken en glo!