BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.
Wys tans plasings met die etiket Gemeenskap met God en mekaar. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Gemeenskap met God en mekaar. Wys alle plasings

Saterdag 04 Junie 2022

EENSAAM?




Kind van God hier is vir jou 'n baie bevrydende waarheid!

Eensaamheid is ‘n baie ernstige en algemene probleem. Dit raak eintlik maar alle mense – ons dink dalk dadelik aan ongetroudes, maar dit raak baie beslis ook getroudes (dikwels is hulle die eensaamste van almal...), kinders, grootmense, bejaardes… ja, ook kinders van God. Die kind van God is in ‘n sekere sin meer uitgelewer aan alleenheid as ander mense

Ek bedoel, sedert jou bekering (en ek hoop werklik jy het al tot bekering gekom) ondervind jy teenstand van eie familie en naasbestaandes.  Jou vorige vriende  isoleer jou. (hulle wat voorheen saam met jou gedrink en vuil grappe vertel het.... Want jy is mos nou anders, jy neem ongewilde besluite, jy het nuwe belangstellings en jy swem teen die stroom van die wêreld in. Spesifiek na jou kom hierdie troosboodskap : 

Kind van God, jy is nie regtig alleen nie en jy hoef nooit eensaam te wees nie.

Regtig? Wel dis die duidelike implikasie van God se beloftes, maar spesifiek van Jesus se kragtige uitspraak in Johannes 14:23.




Die teenoorgestelde van eensaamheid is gemeenskap. LW- nie net saamwees nie. Gemeenskap (fellowship) ets baie meer as saamwees. ‘n Mens kan steeds eensaam wees tussen ‘n klomp mense, dalk juis… as daar nie ware en egte gemeenskap is nie. Saamwees verhoed nie noodwendig eensaamheid nie. Eensaamheid verdwyn eers as daar ware gemeenskap is. 



Wat is ware egte gemeenskap? Om die heerlikheid en diepte daarvan te begryp moet ons by God begin. Die Drie – enige God! Die diepste en mees verhewe vorm gemeenskap – ‘n diep innige egte verhouding van volmaakte liefde en wedersydse respek vind ons binne in God Drie-enig. Tussen Vader, Seun en Heilige Gees. God is in Homself in ‘n volmaakte gemeenskap. Volmaakte harmonie. Dis ‘n waarheid wat mens nie noodwendig in een teks kry nie, maar iets wat deurlopend in die Johannes evangelie na vore kom. Dit word duidelik geïllustreer deur die werkswyse en woorde van Jesus. Net ‘n paar voorbeelde : 



Jesus se woorde is die woorde van die Vader! Hy het nie sy eie onafhanklike agenda nie! Kyk ook na   Johannes 5:19-23,26-27; 8:54-55; 10:17,18; 11:41,42; 12:48-50; 14:8-10; 16:13-15 

Ons fokus nou op die werk van die Heilige Gees... Die Heilige Gees laat die volheid, die volle liefde en troos van die Vader en die Seun voelbaar/werklikheid word in ons harte. Die Heilige Gees binne ons is die bewys dat God in ons woon! – 1 Johannes 4:13. 



Onthou - Vader, Seun en Heilige Gees is nie in kompetisie met mekaar nie, maar is ‘n diep innige eenheid en SAMEWERKING van ware gemeenskap. Ons sien dit in God se reddingswerk… Die Vader besluit om ons te red en stuur sy Seun, die Seun Jesus bewerk ons verlossing aan die kruis, die Heilige Gees maak dit ‘n werklikheid in ons harte deur geloof en bekering!

En nou is dit so wonderlik – ons as kinders van God word deel gemaak en ingetrek in hierdie binnekring van gemeenskap. God kom woon by ons! Heerliker kan dit nie gestel word nie. God Drie-enig kuier nie net af en toe by jou nie… Hy kom woon by jou! Dis die heerlike en verbysterende waarheid van Johannes 14:23 Beleef ek en jy dit prakties? Of is dit net mooi teorie?

VOORWAARDE

Hoe gaan ons hierdie gemeenskap prakties beleef? Daar is ‘n voorwaarde. Kyk weer na vers 23 – “om Jesus se woorde ter harte te neem” – om Jesus ernstig op te vat m.a.w. gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid bevorder gemeenskap. Ongehoorsaamheid verbreek gemeenskap. (ongehoorsame kinders van God beleef ongelukkigheid en eensaamheid) Gehoorsaamheid en geloof gaan onlosmaaklik saam. Alle sonde is ongehoorsaamheid! Dis hier waar die groot probleem kom – ons is blind, hardkoppig, bang... blind vir die feit van sonde in ons lewens, hardkoppig om afstand te doen daarvan..., bang om te erken en te bely...bang wat mense sal sê...

Dis 'n vaste waarheid - Waar ons erns maak met gehoorsaamheid, beleef ons gemeenskap – met God en met mekaar!


GEMEENSKAP VAN DIE GELOWIGES

Belangrik. Ons word ingetrek in hierdie heilige innige gemeenskap, nie net as enkelinge nie maar saam in gemeenskap en eenheid met ander gelowiges. Dit kom pragtig na vore in Jesus se aangrypende hoëpriesterlike gebed in Johannes hoofstuk 17.  Lees gerus 17:20-24 




Saam in God!!! Hoe gebeur dit prakties? Die Heilige Gees woon in elke kind van God. Dis hoe ons gemeenskap met die Vader en die Seun binne in ons beleef – en ook in ander in wie dieselfde Gees woon. Ja, ten spyte van al die woelinge en teenstand, vervolging, onreg in die wêreld. Dis die heerlike versekering wat elke kind van God kan glo...

Natuurlik is hierdie gemeenskap op aarde nog nie volmaak nie – dit word telkens deur sonde versteur, maar dit word ook weer en weer deur belydenis en vergifnis herstel! Volle gemeenskap met God is beskikbaar! Ons verbreek dit… Ons is verantwoordelik vir ons eie eensaamheid!

Maar eendag sal daar geen sonde en gebrokenheid wees nie. Daar wag nog ‘n volmaakte gemeenskap vir elke kind van God.




Kinders van God sal weens ‘n verskeidenheid van redes alleen voel… maar ons hoef nooit alleen nie en hoef nooit eensaam te wees nie! Hierdie troos vloei voort vanuit die waarheid van die Drie-eenheid van God. Dis trouens die kernwaarheid van die geloof. Ons praat van ‘n Trinitariese geloof. Mag ons groot vreugde en vervulling vind in die gemeenskap met die Drie-enige God saam met medegelowiges. 

Om na die boodskap te luister op YouTube kliek op EENSAAM?

Donderdag 01 September 2016

GEBROKE GEMEENSKAP EN FLOU “FELLOWSHIP”

- kan op net een manier weer herstel word.


Johannes is passievol oortuig dat die boodskap wat hy en die ander apostels verkondig die waarheid is! Dis die boodskap van Jesus, die Seun van God wat ons met God versoen het. Waarom is hy so oortuig? Hyself en die ander apostels het nie net iewers van Jesus gehoor nie, maar hulle het Homself gehoor, gesien en aan Hom gevat. “Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe.” (1 Jn 1:1) Dink maar aan wat gebeur het na Jesus se opstanding toe Hy hulle uitgenooi het om aan Hom te voel, sodat hulle kon besef Hy is nie maar net ‘n spook nie. (kliek op SPOKE EET NIE VIS NIE)

In die evangelie het ons die betroubare woord van ooggetuies. Dis eg, dis waar, dis lewensveranderend!

Waar Jesus se boodskap verkondig en geglo word kom daar GEMEENSKAP tot stand. Anders gesê, slegs deur die aanvaarding van Jesus se boodskap, van Jesus self kan mens deel in die besondere gemeenskapsverhouding met die Vader en die Seun en met ander mense wat ook dieselfde boodskap aanvaar. Gemeenskap is ‘n belangrike herhalende tema/begrip hier in 1 Johannes 1. (Vers 3,6,7)*

GEMAAK VIR GEMEENSKAP

Wat beteken gemeenskap/koinonia/fellowship? Dis ‘n innige betrokkenheid by mekaar, ‘n vreugdevolle saamwees, ‘n geestelike band, ‘n naby verhouding, ‘n diepe kommunikasie met God en met mekaar. God het die mens van die begin af gemaak om met die mens ‘n bewustelike gemeenskap te hê, in ‘n verhouding te staan. Ons is juis daarvoor ontwerp om dit so te stel. God het die mens as vennoot en gespreksgenoot gemaak. God het die mens as sy persoonlike verteenwoordiger aangestel op aarde. Voor die sondeval het God (so lei mens af) vir die mens kom “kuier”. Hierdie gemeenskap is deur die sondeval verbreek. Die sonde het die mens skaam gemaak, vol skuldgevoelens en vrees. Daarom kruip Adam en Eva weg vir God. Maar dis juis waarom Jesus gekom het, om hierdie gemeenskap te herstel. Jesus vat die vyandskap tussen ons en God weg. Elkeen wat aan Jesus behoort is nou ‘n kind van God (3:1) en deel in hierdie gemeenskap met God, maar ook met ander kinders van God!

Johannes skryf vir Christene wat reeds deel aan die gemeenskap. Sy doel is om te verseker dat hulle voortgaan om hierdie gemeenskap te beleef en te geniet. Dit maak hom bly as Christene die volle seëninge van die evangelie beleef. (vers 4) Hy wys dus op twee sake : Dit wat hierdie gemeenskap versteur en belemmer. Hoe die gemeenskap met God en mekaar herstel kan word.

WAT VERSTEUR GEMEENSKAP MET GOD EN MET MEKAAR?

Die antwoord is sonde! Of soos Johannes dit stel duisternis. Duisternis is die probleem, want God is lig en daar is geen duisternis in Hom nie! Sonde druis in teen die wese en karakter van God. God kan nooit nie sonde akkommodeer, goedpraat of maar net onder die mat invee nie. Jy mislei jouself as jy so dink. Jy kan nie met God nie ‘n “deal” probeer maak oor sonde nie! ‘n Lewe in duisternis is onversoenbaar met gemeenskap met God. (incompatible) ‘n Lewe in sonde duisternis, versteur gemeenskap met God en met mekaar. Om te sê dat ons gemeenskap met God ervaar, maar doelbewus in sonde te bly voortleef is om vals te wees en ‘n leuen te leef. Hoe dikwels gebeur dit nie. Ons maak asof als reg is, ons gebruik die regte terme, ons kom nog steeds kerk toe, ons lees nog steeds die Bybel, ons prewel nog sulke afgestompte gebedjies, maar daar is geen ware vreugde en gemeenskap met God nie en ook nie met mekaar nie. Ons het geen ware kontak met God nie en ons saamwees met mekaar is ook net vir die skyn en vals.

Daar is so dikwels oppervlakkige pogings om groter betrokkenheid en gemeenskap in ‘n gemeente te bewerk... meer kuier, meer saambraai, meer funksies... Vurige pleidooie om onbetrokkenes tog net weer betrokke te kry... Dis als goed en wel, maar dikwels vergeet ons wat is die kernoorsaak van ‘n gebrek aan gemeenskap, naamlik sonde, duisternis... Sonde bring skeiding tussen God en mens, skeiding tussen mens en mens. Positief gestel, dis net as ons in die lig leef soos God in die lig is dat daar gemeenskap moontlik is. (vers 7) Om in die lig te lewe is om volgens God se standaarde van heiligheid en liefde te leef, om te doen soos Hy wil hê, om by sy opdragte in te val.

HOE WORD GEMEENSKAP MET GOD EN MEKAAR HERSTEL?

Daar is net een pad en dis die pad van belydenis. Om my sonde voor God te erken en met ware berou om vergifnis te vra. Moenie verskonings maak en verduidelikings probeer opdis nie. Noem sonde by die naam, erken as sonde dit wat God se Woord sonde noem. Vermy verkleinwoorde en versagtings... “Ag, ek kuier af en toe te veel” Nee, bely eerlik : “Here, ek is ‘n dronkaard!” 

Ontkenning van sonde sny jou af van vergifnis en daarom ook van gemeenskap. Belydenis van sonde bring vergifnis en reiniging en herstel weer gemeenskap! 

Glo die heerlike en kragtige belofte in vers 9 en maak gebruik van die voorreg om jou sonde eerlik te bely... Sonde bring skuld voor God, sonde maak ons onrein voor God, maar belydenis bring kwytskelding van skuld, belydenis maak ons weer skoon voor God. Belydenis bring bevryding van die skuld van sonde, maar ook van die mag van sonde. Ons sondeskuld wat ons vervreem van God word uitgewis, maar ons word ook bevry van die oorheersende mag van sonde! Dit alles is moontlik vanweë die bloed van Jesus, Jesus se volkome offer aan die kruis. Dis hierdie waarheid wat ons hoop gee, juis ook as ons geval het en dis waarom die Nagmaal vir ons so ‘n belangrike geleentheid is. Die Nagmaal waarborg hierdie waarhede weer op tasbare en sigbare wyse. AMEN


*1 Johannes 1:1 Van die begin af was Hy daar. Ons het Hom self gehoor; ons het Hom met ons eie oë gesien; ja, ons het Hom gesien en met ons hande aan Hom geraak. Hy is die Woord, die Lewe.

1Jo 1:2 Die Lewe het gekom; ons het Hom gesien en is getuie daarvan, en ons verkondig aan julle die Ewige Lewe wat by die Vader was en aan ons geopenbaar is.

1Jo 1:3 Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

1Jo 1:4 Dit skryf ons sodat ons blydskap volkome kan wees.

1Jo 1:5 Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.

1Jo 1:6 As ons beweer dat ons aan Hom deel het (gemeenskap OAV), en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie.

1Jo 1:7 Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.

1Jo 1:8 As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.

1Jo 1:9 Maar as ons ons sondes bely- Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

1Jo 1:10 As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.