BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 18 Augustus 2018

GEEN KORTPAD

- Vergeet maar van kitsoplossings en maklike resepte vir heiligmaking en geestelike volwassenheid!



Ons mos hou almal maar van kortpaaie en kitsoplossings. Skoolkinders wens hulle kon net hulle handboeke onder die kopkussing sit en siedaar! Gierige grootmense val na al die jare nog steeds vir gou-ryk-word skemas... Hierdie drang na kortpaaie kry mens ook by ons as Christene ten opsigte van ons geestelike lewens. Ons soek na kitsoplossings vir ons stryd teen sonde en onvolmaaktheid, ons soek na kitsantwoorde vir sukses in evangelisasie, ons soek na suksesresepte vir gebed en maklike wenresepte vir kerkgroei. En daarom gebeur dit so dikwels dat net soos gierige mense maklik gevang word deur kitsrykword skemas ons as Christene maklik kan val vir allerhande geestelike resepte en foefies wat maklike vinnige oplossings bied. Maar, helaas...die einde is groot teleurstellings, skade en verwarring. (Al die mense wat by ‘n spesiale diensreeks “omgeval" het, se lewens daarna getuig nie juis van die vrugte van die Gees nie...) Veral as iets gewerk het vir ’n ander persoon of ’n ander gemeente dan wil ons dit sommer ook net vinnig by ons toepas. God werk egter anders - Ja, Hy werk kragtig en radikaal - maar nie met eenvormige kitsoplossings nie. Ja, Hy gee sommige mense wonderlike ervarings wat binne ’n oomblik ’n reuse verskil maak, maar selfs ’n besondere keerpunt ervaring is slegs maar net ’n deel van die pad wat God met sy kinders stap. God stap ’n pad met elkeen van ons. God gaan geduldig op weg met sy kerk. Hy werk deur langsame prosesse. Dis ’n feit - daar is baie bewyse vir hierdie beginsel. Mense word nie onmiddellik na hulle bekering hemel toe oorgeplaas nie. Die baie Nuwe Testamentiese vermanings oor sonde en stryd wys dat dit “normaal” is vir ’n Christen om te stry teen sondes en om met probleme te kampe te hê. 


God se werkinge met sy volk in die Ou Testament is ’n verdere bewys dat Hy tyd en prosesse gebruik om sy doelwitte te bereik.

Die verlossing uit Egipte en die daaropvolgende woestyntog en verowering van Kanaän is uitstekende voorbeelde. Daar is immers duidelike parallelle tussen ons verlossing en die redding uit Egipte, tussen ons heiligmaking en die woestyntog ens.

Deuteronomium 8:1-5 is ‘n uitstekende voorbeeld van Ou-Testamentiese lering wat vir ons wonderlike insig gee in God se werking met ons op die pad van heiligmaking. 

1."Jy moet elke gebod wat ek jou vandag gee, gehoorsaam en daarvolgens lewe. Dan sal jy bly lewe, baie word, die land ingaan en dit in besit neem soos die Here met ‘n eed aan jou voorvaders beloof het.

2."Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het. Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie.

3. Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nóg jy nóg jou voorvaders bekend was. Hy het dit gedoen om jou te leer dat ‘n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.

4. Jou klere het in die veertig jaar nie verslyt nie, en jou voete het nie geswel nie.

5. Jy moet diep in jou hart weet: soos ‘n man dissipline by sy seun kweek, so het die Here jou God vir jou dissipline geleer.

Moses is hier aan die woord. Hy spreek die volk toe in die woestynvlakte oos van die Jordaan.* Die oos Jordaangebied is nou reeds verower en nou moes hulle nog die Jordaan oorsteek om Kanaän te verower. In die eerste gedeelte van Deuteronomium gaan Moses se preke oor dit wat God gedoen het en nog sal doen. Spesifiek in hfst. 7-11 gaan dit oor lesse wat tydens die woestyntog geleer is. Die volk Israel het 40 jaar lank in die woestyn rondgeswerf. Dit kom rofweg daarop neer dat Israel veertig jaar geneem het om ’n tog te voltooi wat eintlik maar 11 dae sou kon duur.** Die rede vir die rondswerf was hulle ongeloof en ongehoorsaamheid.....(behalwe natuurlik in die geval van Josua en Kaleb) Hier in 8:2-5 kry ons ’n opsomming van dit wat die Here vir hulle geleer het gedurende die lief en leed van veertig jaar:

1) God het hierdie pad gebruik om vir hulle nederigheid (2) te leer. (OAV - verootmoediging). Israel se hoogmoed en trots moes afgebreek word. Hulle moes leer dat hulle niks sonder God is of kan nie. (Vgl. 1:41-46)***   As kinders van God moet ons ons plek voor Hom ken - in nederigheid en gebrokenheid. Christene het gedurig nodig om dit te leer - ons het dit nie sommer vanself nie. Ons vroomheid is dikwels deurspek met hoogmoed en ’n hoe dunk van onsself. “Ek is gered en nou gaan ek die wêreld omkeer.” Ons moet onthou - God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. God gebruik baie metodes om ons nederigheid te leer, selfs ons sonde, mislukkings en foute. Die selfversekerde Petrus moes eers deur ‘n baie diep mislukking en teleurstelling gaan. Hy kan ook ander ellende en beproewinge gebruik. Soos die doring in die vlees” in Paulus se geval... Kind van God - God gaan vir my en jou nederigheid leer al kos dit wat! Ja, ons kry die opdrag om onsself te verneder onder sy hand, maar ons gehoorsaam dit nie juis dikwels nie en daarom gebruik Hy die toetse en beproewings op die harde “woestyn pad” van die geloof.

2) In tye van swaarkry en moeilikhede, en teleurstellings word, is Israel se gehoorsaamheid getoets.(2b) Ons werklike gesindheid teenoor God se wet en wil word geopenbaar as ons onder druk kom. Ons weet ons moet geduld hê as een van die vrugte van die Heilige Gees. Maar hoe sal ek ooit weet of ek geduldig is voordat ek vir ure in ’n ry moet staan en wag om dan nog verder te wag terwyl ‘n onbeholpe amptenaar ongewillig of onbevoeg is om my vinnig te help? God verwag vriendelikheid. Om tussen vriendelike mense se vertoef sal nooit ’n toets wees of ek vriendelikheid het nie - daarom het die Here jou dalk in ’n kantoor vol onvriendelike mense geplaas. Die groot eis van die wet is liefde - om te weet of daar liefde in jou hart is plaas die Here jou in ’n huis saam met ’n moeilike eggenoot of kinders. Op die moeilike woestynpad van die geloof word ons gelouter, word die verborge sondige geneigdheid van ons harte aan die lig gebring en ons gehoorsaamheid word deeglik getoets.

3) Tydens die woestyntog moes Israel afhanklikheid van en vertroue op God en sy beloftes te leer ken. (3) God het vir sy volk in ’n woestyn gesorg. Gevoed en geklee en beskerm. In ’n woestyn waar daar nie kos is nie het Hy vir hulle kos gegee. Hy het hulle van brood voorsien en van vleis voorsien. (Vgl. 2:7) Geloof in God en afhanklikheid van God is iets wat ons nie in boeke kan leer nie. Geloof in die lewende God word net deel van ons in die harde woestyn wêreld van krisisse, finansiële nood, die magteloosheid van ’n siekbed... Die ware aard van ons geloof kom aan die lig - is dit net mooi woorde en fyn uitgewerkte teorie? In die woestyn omstandighede waar mense nie meer kan help nie word ons gedwing om ons ten volle op God en sy beloftes te verlaat. “Niemand kan nou iets meer doen nie, Here net U alleen.” Ons moet ook leer dat alles eintlik om God self gaan, sy Woord en sy karakter en nie dit wat Hy vir ons gee nie! Hy is baie meer wonderlik en heerlik as dit wat HY vir ons gee. Ons moet Hom aanbid vir wie Hy is!

4) Israel is in die woestyn onderwerp aan onderrig en dissipline. (5) die woestyntog was ’n leerskool van vaderlike dissipline. Die lewe wat God van hulle verwag moes ingeoefen word. Hulle moes op die harde manier leer om sy wet te gehoorsaam en sy wil te doen. Op die harde manier moes hulle die gevolge van ongehoorsaamheid leer ken - dink maar aan die verhaal van die giftige slange. Hulle moes leer om God se opdragte ernstig op te neem, want hulle sou dit baie nodig kry in die verowering van Kanaän. As kinders van God moet ons dikwels op die harde manier leer om sy Woord en wil te gehoorsaam. Het dit al gebeur dat jy ’n ding doen of na ’n plek gaan en jy beleef so ‘n vae onrus? Jy weet dis verkeerd, maar dan doen jy dit steeds. En wat gebeur dan dikwels? Dit loop dit uit op ’n groot mislukking, hartseer of selfs skade! Dan besef mens die Here het die hele tyd deur sy Gees met my gepraat, maar ek wou nie hoor nie. Nou moet ek voel. Dis nie lekker nie, maar dit sal my leer om volgende keer meer sensitief te wees vir sy stem.

Elke kind van God is in ’n proses van voorbereiding. 

Voorbereiding vir die beloofde land, voorbereiding tot diensbaarheid. Partykeer verloop baie jare voordat Hy jou vir ‘n groot lewenstaak gebruik of wanneer Hy dink HY het jou nou genoeg aan ‘n bepaalde les laat leer. Dink maar aan die geskiedenis van Moses, Paulus , Jesus...

Kom ons aanvaar met opgewondenheid dat Hy besig is met ons, met my, jou in die spesifieke krisisse wat ons dalk nou mag beleef. 

Kom ons onderwerp ons met blymoedigheid aan sy dissipline. 

Kom ons wees wakker om te verstaan, wat Hy vir ons wil leer en wat Hy in ons wil verander. 

Kom ons sien sy liefde in alles raak. Wat jy dalk NOU beleef is nie lekker nie, maar weet dit is ‘n Liefdevolle Vader wat besig is met opvoeding!

*“In hierdie boek word die woorde van Moses weergegee. Hy het al die Israeliete toegespreek in die woestynvlakte oos van die Jordaan, oorkant Suf, in die omgewing van Paran, Tofel, Laban, Gaserot en Di-Sahab.” (Deuteronomium 1:1)

**“Dit vat elf dae om met die Seïrbergpad van Horeb af by Kades-Barnea te kom.” (Deuteronomium 1:2)

*** Dit gaan hier oor die rampspoedige veldtog teen die Amoriete toe Israel teen hulle gaan veg het sonder dat die Here by hulle was! Israel moes die onderspit delf.


Oom Willie de Bruijne is die afgelope week oorlede... ook hy het 'n lang en harde pad gestap!

Donderdag 09 Augustus 2018

HUIL JESUS OOR JOU?

BENUT BETYDS DIE GENADE, WANT GENADETYD KAN VERBYGAAN! 


Jesus huil. Die Seun van God is in trane. Waarom? Ons vind hierdie gebeurtenis in Lukas 19:41-45. Ons is hier by die intog van Jesus in Jerusalem m.a.w. kort voor sy gevangeneming en kruisiging. Huil Jesus oor die pyn en dood wat vir Hom wag? Is Jesus hartseer oor die afskeid wat Hy moet neem van sy moeder, sy dissipels? Nee, Jesus huil oor die goddelose stad Jerusalem. Wie is hulle? Afgodsdienaars, rowers, heidene? NEE! Verbondsmense, tempelgangers en Skrifkenners aan wie die beloftes van genade behoort. 

“Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: "As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor.” (41,42) Jesus is bitterlik bedroef, want hulle het die tyd van genade, die geleentheid tot redding by hulle laat verbygaan. Hulle was blind vir die genadekans wat na hulle kant toe gekom het. 

GENADE ONBESKRYFLIK GROOT SOOS BELOOF IN DIE VERBOND 

Wat ’n heerlike ding is genade tog nie! Genade beteken God kom besoek ons met onverdiende guns alleen. “En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.” (44 OAV) Hy besoek ons om ons te red. God besoek vir Jerusalem en ons om redding te bring. Jerusalem het hierdie kans laat verbygaan. God het genade beloof in die verbond met Abraham, Isak en Jakob. Dis hierdie genadeverbond wat God tot aksie laat oorgaan het om die volk destyds uit Egipte te red. “Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan. God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.” (Eksodus 2:23-25) 

As ons die lofsang van Maria lees dan sien ons, God se verbondsbeloftes is ook die rede hoekom Jesus deur God gestuur is! “Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid." (Lukas 1:54,55) 

Jesus se koms na hierdie wêreld, sy menswording, maar ook sy kruis en opstanding is ‘n vervulling van die verbondsbeloftes aan Abram. 

God besoek ons ook in genade deur Jesus. Hy sê vandag vir jou: “My Seun het al julle sonde op Hom geneem. Hy het die straf gedra. Hy het alles volbring. Hy het alles gedoen wat nodig was om vergifnis te bewerk. Hy het die volle prys betaal.” Hierdie genade maak ‘n appèl op elkeen wat hoor... 

Genade nooi ons : “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.” (Matteus 11:28) 

Genade verseker ons : “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Johannes 6:37) 

God se genade is volledig en heerlik. Die slegste mens wat bestaan kan dit nou op hierdie oomblik ondervind. Miskien is jy tans betrokke in ‘n buite egtelike verhouding, besig met bedrog, vol haat en bitterheid of dalk net ’n klipharde onbekeerde vorm godsdienstige.... Genade is nommerpas vir jou! As jy God se geskenk in Jesus aanvaar en Hom dank vir sy dood, staan jy op van jou rekenaarskerm of selfoon as ’n mens wat in God se oë nog nooit gesondig het nie! Doen moeite en gaan lees Hebreërs 8:12

Genade skenk volkome vergifnis en maak van rebelle kinders van God! 

Dis hierdie genade wat die vuil besetene van Gadara wat tussen die grafte gewoon het nuut gemaak het. 

Dis deur God se genade dat die Samaritaanse vrou met haar vyf mans van die verlede en sondige saamblyverhouding, lewende water by Jesus gekry het 

Dis deur genade dat die skelm Saggeus ‘n kind van Abram geword het. 

Genade is oneindig in omvang! Kom ons sê dit weer - vir die ergste sondaar op aarde kan ek nou verseker : “Glo in Jesus en jy sal gered word!” 

GENADE KAN MISGELOOP WORD 

Die genade aanbod is egter beperk in tydsduur - Dit kan onbenut verbygaan, misgeloop word, verpas word! Jesus self wou so graag dat Jerusalem se mense God se genade ontvang. Hy het ‘n hart vir hierdie stad gehad. Hoor die versugting van sy hart... "Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke, maar julle wou nie!" (Lukas 13:34) 

God se genadetyd kan tot ‘n einde kom en dan begin sy onafwendbare oordele. Baie mense glo dit nie – “God is mos liefde.” Die Bybel leer duidelik dat diegene wat sy genade aanhou verwerp onder sy oordele gaan deurloop. 

Dit was letterlik die geval met Jerusalem - Jesus kondig Jerusalem se oordeel aan : “Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër. Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie." ( 43,44) Dit het toe gebeur...

Die verbondsteken aan hulle liggame het nie die Romeine se swaarde gekeer nie! Hulle bevoorregte status het nie God se oordele afgeweer nie! 

Deur die eeue heen het dit gebeur dat God se genadetyd verbygaan en dan kom sy oordele. Dit het gebeur tydens die sondvloed, dit het gebeur met Sodom en Gomorra, met Israel en met Juda .... menseslagtings, ballingskap... Ja, Jesus se oordeelswoorde oor Jerusalem is letterlik vervul in 70nC. Dit was 'n afgryslike slagting en ongekende verwoesting...

Die punt is : Daar kom ‘n tyd wanneer God sê : “Genoeg is genoeg!” Al die oordele, oordele, rampe in die geskiedenis wys heen na die werklikheid van Goddelike oordeel. Dis als ’n voorfilm vir die groot finale oordeel. 

Genadetyd kan verbygaan! Ons moet mense ook hierteen waarsku, maar ons moet dit nie met ’n harde selfgeregtigheid doen nie, maar met bewoënheid soos Jesus. 

KLIM OP! 

Geliefdes ons bly geestelik gesproke in ’n beleërde stad. Die stad se naam is hierdie sondige wêreld. God se skrikwekkende toorn het die stad reeds omsingel. Hy staan gereed om die goddelose wêreld finaal te oordeel en vir ewig te straf. Maar op hierdie oomblik staan ’n trein gereed. Dis ‘n GENADETREIN! Dis die trein van God se verbondsbeloftes. Dis die laaste en enigste ontvlugting uit hierdie verdoemde stad. Die trein se naam is eintlik JESUS. Het jy al opgeklim? Voor Hom gebuig? Sy beloftes geglo en toegeëien? Talm jy? Huiwer jy nog? Waarom langer wag? Die trein kan enige oomblik vertrek. Dan is die laaste kans vir ewige verby... Dan kan die verbondsbeloftes nie meer troos bring nie..

KLIM JY?


Sondag 05 Augustus 2018

SATERDAG OP TSINTSABIS

- trane en evangelie toe 'n getroue Boesmanbroer begrawe is.

Dit was 'n emosionele terugkyk, tuiskoms en evangelie geleentheid. Toti Tsam een van die eerste Boesmanbekeerlinge wat deur my oorlede pa, Johan de Koning se bediening op die plase in die Tsumeb omgewing die Here gevind het, is verlede Saterdag begrawe op Tsintsabis. Dis 'n nedersetting so ongeveer 60 km noord van Tsumeb. Toti was destyds 'n plaaswerker op Paul Smith se plaas Driehoek, oos van Tsintsabis. Daar onder 'n groot wildevye boom wat skuins groei het Toti die saak met sy Verlosser uitgemaak. Oom Reinhard Friederich een van die baie bekende Duitse boere in die omgewing, 'n sendingvriend en kenner van die Hai//om Boesmans en hulle taal het aan die groot groep mense vertel hoe opgewonde my pa was oor Toti en sy broer Atrabe se bekering. Dit was die jaar 1972. Dit was ook lekker dat Rudolf, oom Reinhard se seun wat ook 'n hart het vir hierdie mense, saam was by die begrafnis.

Toti en 'n ander Boesman bekeerling, Markus is later op 'n keer deur my pa saamgeneem na die verjaarsdag geleentheid van die Dorothea Sending noord van Pretoria om te gaan getuig van wat die Here vir hulle gedoen het. Maar ook hier in die omgewing is mense wat nog vertel hoe Toti hulle na die Here gebring het. Een van hulle is 'n tuinwerker van my vriend Andries Gous.  Andries, wat self nou 'n kosbare bediening onder die Boesmans op die Oerwoud nedersetting het, was ook by die begrafnis.

Vir ons haastige westerse mense was dit 'n lang (en luide!) begrafnis, maar die hoofsaak is die evangelie van hoop kon uitgedra word. Die dood is 'n vyand wat oorwin is deur ons Here Jesus. Ja, die dood is soos 'n aaklige skerpioen, maar sy angel is nou af! Daarom hoef ons nie te treur soos mense sonder hoop nie. Dit was vir my 'n reuse voorreg om aan so 'n groot klomp mense die kernwaarhede van die evangelie uit te spel soos ons dit saamgevat kry in 1 Korintiërs 15. "Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;
Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte."

Die groot skare mense wat geluister het, van wie baie deesdae aan elke denkbare vorm van dwaalleer blootgestel word, moet ons tog met groter erns laat bid dat die Here van die oes arbeiders in sy oesland sal stuur. Miskien is jy wat hier lees dalk deel van die antwoord van hierdie gebed...

Almal staan tou om eers die oorskot te besigtig.

Op sy laaste aardse reis.


Vrydag 03 Augustus 2018

RENTMEESTERSKAP

- Leef met vreugde voluit en verantwoordelik! 



Is geld en goed gevaarlik? Ons het al gekyk na die dwaasheid van hebsug (Kliek op DWAAS), maar nou moet ons positief vra, wat nou? Miskien is jy bekommerd oor jou selfgesentreerde en geldgedrewe leefstyl en wil jy graag leef soos God wil hê. Nou wonder jy : “Wat moet ek maak met geld en besittings, maar ook al my ander bates soos gesondheid, verstand en geleenthede? Hoe moet ek my plaas benut of my besigheid bestuur? En veral tyd wat seker die kosbaarste bate is, hoe moet ek dit aanwend?” Die gelykenis van die TIEN MUNTSTUKKE in Lukas 19:11-27 is fundamenteel belangrik om reg te lewe as kind van God. 

ONS TYD OP HIERDIE AARDE 

Die agtergrond van die gelykenis is baie belangrik. “Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog ‘n gelykenis vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom.” (11) Die dissipels het gedink die Koninkryk van God gaan sommer nou dadelik aanbreek in Jerusalem. Hierdie gelykenis maak dit duidelik dat daar nog ’n tydsverloop sal wees tot by die finale koms van die Koninkryk eers by Jesus se wederkoms. Kinders van God gaan nie dadelik hemel toe nie... Die nuwe hemel en nuwe aarde lê nog in die toekoms. Nou wag daar eers werk vir ons... 

Die gelykenis sê vir ons hoe ons hierdie tyd moet benut tot by die wederkoms. 

Hierdie tyd op aarde voor die wederkoms is baie belangrik, ons moet dit reg gebruik. Ons sal rekenskap hieroor gee. As jy ‘n kind van God geword het, het jy ‘n baie spesifiek taak en roeping hier en nou op aarde. Hierdie taak en roeping kan mens saamvat met die term RENTMEESTERSKAP. Hierdie begrip word mooi in die gelykenis duidelik gemaak! 

Sommige mense is teen Jesus se koningskap gekant, die onbekeerdes. Dis hulle wat die koningskap van Jesus doelbewus verwerp! “Sy landgenote het hom egter gehaat en ‘n afvaardiging agterna gestuur om te sê: ‘Ons wil nie hierdie man as koning hê nie.’ Maar hy het tog die koningskap ontvang.” (14) Hulle sal by die wederkoms gestraf word. “En daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek hulle koning moet wees nie, bring hulle en maak hulle hier voor my dood!" (27) Ons moet sommer nou al besef - Die regte gebruik van geld en alle ander bates begin by bekering tot Christus. Die regte leef van die lewe begin wanneer ek regtig Jesus se koningskap aanvaar! As ek Jesus as my Verlosserkoning aanvaar word ek vertrou en bemagtig met sekere gawes en goedere. Terloops : Het jy al voor Hom gebuig? 

Die klem van dié gelykenis lê egter op die geleenthede en verpligtinge van die diensknegte van Jesus (God se kinders) in hierdie tyd voor die wederkoms. Elke kind van God word as ’n rentmeester aangestel. “Hy het gesê: "‘n Man van adellike afkoms het na ‘n ver land toe op reis gegaan om as koning aangestel te word en dan terug te kom. 
Vooraf het hy tien van sy slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.’ (12,13) 

Dit beteken prakties dat die Here geleenthede, mense, werk, bates ens. aan jou spesifiek toevertrou het tot by sy wederkoms en dan sal jy rekenskap moet gee van wat jy hiermee gedoen het. 

BESITTINGS 

Terloops ons besit niks nie! (Hoor ons mooi?) Dis ‘n totale illusie as jy dink iets is regtig joune! 

God is die enigste Besitter in die heelal. 

Alles wat ons het is net vir ons geleen. Dit behoort aan God, Hy gee dit soos Hy wil en Hy kan dit vat wanneer Hy wil. Toets dit maar – jy het geen waarborg dat jy more oggend eiendom, gesondheid of verstand gaan hê nie! Ook nie eens vrou of kinders nie! Ons het nie besittings nie, maar wel verantwoordelikhede! As rentmeesters van dit wat aan ons toevertrou is moet ons verantwoording doen aan die Eienaar. 

Dink ‘n slag ernstig oor die verantwoordelikhede wat God aan jou gegee het in jou posisie as : kind van God in ’n gemeente (heel eerste moet ek God met my alles eer en liefhê, maar ook my broers en susters), man van ’n vrou, pa/ma van kinders, bestuurder van eiendom, geld, bates, ‘n werkgewer/werknemer. En moenie vergeet nie, elke kind van God is geroep as dissipelmaker! In jou kring en jou omgewing. Wees eerlik, praat jy met mense oor Jesus?

Wend jy jou geld, kragte, tyd en geleenthede aan op 'n manier wat wys dat jy God en jou naaste liefhet, of gaan alles oor jou eie gerief en roem?

Onthou al hierdie posisies of gawes is net deur God aan jou tydelik geleen, dis nie regtig joune nie, dis soos die muntstukke wat aan die diensknegte toevertrou word om iets mee te doen. 

Alles wat ons het (of is) moet benut, bestuur en versorg word in belang van God en sy Koninkryk! 

Doen ek dit? Dink ’n bietjie na. Van ons word inisiatief gevra op grond van ons liefde vir ons Here en Verlosser. Die tyd wat ek nou nog op aarde het moet tot die Here se eer en voordeel gebruik word. Dit was die probleem met die ryk dwaas in Lukas 12. Sy entrepreneurskap was nie die probleem nie, sy selfgesentreerdheid was sy sonde. Hy het vir homself geleef, want hy het God nie geken nie! 

BELONING 

Vir die wat hulle geleenthede benut het en hulle verantwoordelikhede nagekom het wag daar heerlike lof en beloning. 

“Nadat hy teruggekom het, het hy die slawe aan wie hy die geld gegee het, na hom toe laat roep, sodat hy kon verneem wat hulle met die handeldryf verdien het. 
Die eerste het vorentoe gekom en gesê: ‘Meneer, u muntstuk het tien muntstukke opgelewer.’ 
Daarop antwoord hy: ‘Mooi so, jy is ‘n goeie slaaf. Omdat jy in ‘n saak van min belang getrou was, kry jy nou die bestuur oor tien stede.’ 
"Toe kom die tweede slaaf en sê: ‘Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.’ 
Aan hierdie een sê hy: ‘En jy kry die bestuur oor vyf stede.’ 
(15-19) 

Interessant! Die koning het nie hulle winste juis nodig gehad nie, Hy het net hulle getrouheid en liefde getoets! Hy het hulle ‘n geleentheid gegee om die vreugde van betrokkenheid by sy koninkryk te ervaar! 

DIE GEVAAR AN PASSIWITEIT 

Vir die ontroue dienskneg wag daar ’n vreeslike lot. 

"Nog ‘n ander het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is u muntstuk. Ek het dit in ‘n doek gebêre. 
Ek was bang vir u, want u is ‘n harde man. U eis op wat u nie belê het nie, en oes wat u nie gesaai het nie.’ 
Toe sê hy vir hom: ‘Met jou eie woorde sal ek jou veroordeel. Jy is ‘n slegte slaaf! As jy geweet het ek is ‘n harde man wat opeis wat ek nie belê het nie, en oes wat ek nie gesaai het nie, waarom het jy dan nie my geld in die bank gesit nie? Dan sou ek dit by my terugkoms darem met rente kon getrek het.’ 
Daarop sê hy vir dié wat daar staan: ‘Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit vir die een wat die tien muntstukke het.’ (20-24) Vergelyk ook Matteus 25:29,30.* Ontrouheid in rentmeesterskap is ‘n ernstige saak. Dis afvalligheid, dis ongehoorsaamheid, rebellie, sonde! Dit wek God se wraak op! 

Opvallend : die ontroue dienskneg het nie juis iets verkeerds gedoen nie, hy het net niks gedoen nie! Pasop dat al jou Godgegewe kanse en verantwoordelikhede by jou verbygaan en jy doen net niks daaraan nie. (Anders gestel – wat moet ‘n mens doen om veroordeel te staan? Niks !) Hou maar net aan om vir jouself te leef ! 

Interessant : vrees was die oorsaak dat die nuttelose dienskneg niks gedoen het nie! (21) Dis ’n valse selfsugtige vrees, dis skynvroomheid, want wie werklik ontsag vir die Here het sal juis waag en inisiatief neem om dinge aan te pak. Dis juis die feit van genade wat my bevry van vrees, sodat ek (al is ek bewus van my swakheid) ten volle kan leef, gee en werk in diens aan God. Die volledige vergifnis en vryspraak wat ons as sondaars kry die oomblik wanneer ek my volkome vertroue op Jesus alleen stel, skep vir my die ruimte om voluit vir my Verlosser te leef in al die geleenthede wat hy my bied. Die geleenthede en kanse wat ek kry as lidmaat, in huwelik en gesinsverband, as eienaar en bestuurder van bates, as medemens in die algemeen. 

Kind van God, daar is werk om te doen! Jy het iets beter en belangrikers om aan te werk as net jou eie aftreeplanne!

Onthou jy het ‘n roeping! Dis elke kind van God se roeping : WEES GETROU IN JOU RENTMEESTERSKAP! 

*Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word. 
En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners." (Matteus 25:29,30)


Het jy al so 'n enkele laaaang wors gesien!

Woensdag 01 Augustus 2018

DIEFSTAL NOU WETTIG?

- Die skokbesluit van die ANC moet ons weer laat nadink oor God se wet in geheel.



Dwarsoor die wêreld word God se wette geminag. Dit gebeur natuurlik orals en daagliks sedert die sondeval in elke land en onder elke volk en nasie. Ja, ook elkeen van ons is skuldig...  Ons het dit eintlik al so gewoond geraak, ons kom dit skaars agter en dis natuurlik ‘n groot en gevaarlike fout! As 'n land se grondwet egter amptelik goedkeuring gee aan die oortreding van God se wet, raak dit bitterlik ernstig...


Die jongste aankondiging van Cyril Ramaphosa* dat die ANC die voorgestelde wysiging van die Suid-Afrikaanse grondwet gaan steun om onteiening sonder vergoeding te wettig, bewys net weer die roekelose ruggraatloosheid en onverantwoordelikheid van hierdie organisasie. (Hulle is tog so bang om stemme aan die EFF af te staan) Dis niks anders as die wettiging van diefstal nie! Dis die minagting van die agste gebod. God is goed en sy gebooie is goed en is onder andere bedoel om die mens te beskerm. Die agtste gebod gaan oor die beskerming van die mens se eiendom. Laat die ANC gewaarsku wees, hierdie stap gaan net tot groter armoede en ellende lei in ‘n land wat reeds bankrot gesteel is!** Diefstal kan nie op die lange duur welvaart en stabiliteit skep nie. Vra vir Zimbabwe... Dit sou wel ‘n paar skelms op die kort termyn kon bevoordeel.

Baie mense sal ontsteld wees oor hierdie verwikkelinge. Maar nou moet ons pasop dat ons nie hier skynheilig raak nie. Daar is ook lankal reeds ander gebooie van God wat amptelik deur die grondwet van ons suidelike bure geminag word. 

Deur aborsie op aanvraag toe te laat word die sesde gebod vertrap! Deur gay huwelike te sanksioneer word die sewende gebod geminag! 

Is ons net so ontsteld oor hierdie vertrappings van God se wil of gaan ons net skree oor die nuutste vergrype omdat dit ons sakke raak? Laat ons eerlik wees en onsself toets oor ons erns met betrekking tot God se wil en wet in geheel! Kyk maar hoe het die instelling van die huwelik onder ons eie blanke Afrikaners verval… Kom ons treur ook daaroor. Laat ons onsself afvra of ons regtig ‘n passie het vir God se eer!

PASOP VIR OORVEREENVOUDIGING VAN DIE GESKIEDENIS!

Maar terug by die planne vir onteiening sonder vergoeding. Daar is diegene wat dit sou kon goed praat deur aan te voer dat hierdie voorgestelde onteiening net ‘n regstelling is van onregte van die verlede. "Kolonialisasie het meegebring dat mense hulle grond en eiendom verloor het, nou met hierdie mense hulle grond terugkry." Dis die simplistiese redenasie van die populiste. Kom ons wees eerlik: Beslis het daar onregte in die verlede plaasgevind! Een voorbeeld wat mens na aan die hart lê is die verdrywing van die Boesmans uit baie gebiede in die Kaapprovinsie! Dis ‘n hartseer deel van ons geskiedenis wat vir jare grootliks verswyg is!*** Ons mag dit nooit ontken nie. Baie ander voorbeelde sou seker ook genoem kon word. Maar natuurlik is die geskiedenis baie meer kompleks as wat die aanhitsers en populiste van ons tyd wil erken. Dis nie net Europese setlaars wat andere se grond afgevat het nie. Dit was algemene praktyk onder al die inheemse volkere. Swart stamme het die oorspronklike Boesman inwoners verdryf of onderdruk. Swart volkere het mekaar uitgeroei en verdryf. Dink maar aan Shaka, Silkaats en die Mfecane (Difaqane)! Ons voorgeslagte het ook oor die algemeen nie net sommer grond gesteel en verower nie, maar het onbewoonde grond beset of daaroor onderhandel en dit op wettige wyse bekom. Suid-Afrika was destyds baie yl bevolk met groot oop ruimtes, daar was nie die miljoene inwoners van vandag nie. Ons kan nie sommer hedendaagse toestande terugprojekteer op ‘n totaal ander tyd en omstandighede nie. Onthou daar was nie iets soos kaart en transport in ongetemde Afrika nie!

Om Jan van Riebeeck skuld te gee vir al die huidige ellende is eenvoudig nie histories verdedigbaar nie.

Ons weet ook almal dat die armoede probleem en stadige pas van grondhervorming nie bloot deur veranderinge aan die grondwet opgelos gaan word nie. Die probleem is nie die grondwet nie, maar onbevoegdheid en veral roekelose diefstal van die ANC elite en hulle trawante! Die voorgestelde verandering van die grondwet is ‘n rookskerm en reklamefoefie om die massale diefstal en vernietiging van die Suid-Afrikaanse ekonomie deur hierdie boosdoeners weg te steek en so die onkundige kiesers om die bos te lei.

Inderdaad is grond ‘n emosionele kwessie en die belangrikheid van ekonomiese volhoubare en regverdige grondhervorming kan nie gesystap word nie! As nugtere denke en basiese regsbeginsels nie die maatstaf gaan wees nie, gaan dit egter tot ongekende chaos en ellende lei! Korrupsie en goedkoop populisme is ‘n waarborg vir ontsporing en ontnugtering.

WAT NOU?

Hoe moet die Christen nou reageer as God se wette in ‘n land geminag word?

  • Ons mag dit nooit goedkeur nie! Ons mag ook nie stilbly ter wille van politieke korrektheid nie. Onreg van die verlede (hoe min of baie ook al) kan nie deur nog onreg te pleeg reggestel word nie. Maar onthou ons moet ook standpunt inneem vir AL God se gebooie, al maak dit ons ongewild ook tussen ons eie mense!
  • Ons moet deernis, begrip en medelye hê met armoede. Hier moet ons versigtig wees. Om net uit te deel gaan nie help nie. Die mens se diepste probleem is sy sonde probleem en daarom bly evangelieverkondiging die eerste prioriteit vir die kerk van Jesus. Saam met die uitdra van die evangelie sal ons wel ook op tasbare wyse menslike nood moet help verlig. Dit sluit in dat gelowiges kreatief betrokke moet raak by prosesse en projekte wat regverdig en ekonomies volhoubaar is. Dis uiteindelik tot almal se voordeel. 'n Christelike werksetiek sal gevestig moet word. Armoede sal nie verlig kan word sonder eerlike harde werk nie! Om te staak en af te brand gaan nie 'n land vorentoe vat nie!
  • Ons moet hand in eie boesem steek en selfondersoek doen. Hoe dikwels is ons wat onsself kinders van God noem skuldig aan oneerlikheid (daai belastingvorm!) diefstal en gierigheid. Hierdie sondes is nie net beperk tot die Guptas en Zumas nie! Die hebsug van die hede en verlede moet bely word.
  • Ons moet as kinders van God wat onverdiende genade en vergifnis ontvang het, waak dat ons harte nooit deur bitterheid en haat besmet word nie. Juis ook nie wanneer ons ly onder onregverdige optrede van goddelose leiers en hulle volgelinge nie. Wraak is God se prerogatief!
  • Ons moet bid! Vir Christene vandag in Suider-Afrika is Paulus se dringende versoek in 1 Timoteus 2:1,2 meer relevant as ooit tevore! “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense,vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid.”
VOETNOTAS
* RSG nuusbulletin 31 Augustus om 8:00 - "...Ramaphosa sê die ANC sal wysgigings aan artikel 25 van die grondwet en die onteinening van grond sonder vergoeding onomwonde steun."
** Na Ramaphosa se dwase aankondiging het die Rand dadelik drasties verswak!
*** Sien die goed gedokumenteerde boek van Sandy Gall, "Slaughter of the Innocent". Dit handel oor die tragiese verdrukking van die San (Boesman) deur wit en swart in Suidelike Afrika.

Lees gerus ook die bering in (kliek)  MAROELAMEDIA