BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Saterdag 16 Februarie 2019

SAAMTREK?

Nee, want jy is afgesonder vir die heilige God! 



Ons leef in ‘n tyd waarin geen onderskeid tussen lig en duisternis nie. “Alles is maar sommer reg!”, in baie se oë. Paulus praat nou reguit oor hierdie vermeninging van goed en sleg in 2 Korintiërs 6:14 - 7:1. Met een duidelike beeld stel hy die Bybelse standaard : “Moenie saamtrek in die selfde juk as die ongelowiges nie.” 






Heel waarskynlik is dit die boodskap van Deuteronomium 22:10 wat Paulus hier geestelik van toepassing maak. “Jy mag nie met ‘n os en ‘n esel gelyk ploeg nie”. Dit gaan in daardie konteks oor allerhande verbode samevoegings. 

Paulus gebruik hierdie metafoor ook om kinders van God te waarsku teen verbode verbintenisse, vriendskappe en venootskappe. 

Die vraag is : in watter opsig en tot watter mate waarsku Paulus teen kontak en verbintenisse met ongelowiges? 

Wel, eerstens moet ons sê dat hy definitief nie propageer dat Christene alle kontak met ongelowiges en die heiden wêreld moet vermy nie. Hy self erken dat dit nie moontlik is nie. “In die vorige brief het ek aan julle geskryf om nie met mense om te gaan wat in onsedelikheid leef nie. Daarmee het ek glad nie die onsedelikes of die geldgieriges, bedrieërs of afgodsdienaars van hierdie wêreld bedoel nie, want om hulle te vermy, sou julle uit die wêreld moes padgee.” (1 Kor. 5:9,10 ) Dit gaan in daardie gedeelte oor die suiwerheid van die kerk en dissipline en tug binne die kerk self. Die kerk moet juis suiwer wees tot eer van God en om ‘n geloofwaardige getuie te wees. As alle kontak met ongelowiges vermy sou word, sal ons geen geleentheid hê om te getuig nie. 

Waaroor gaan dit dan? Enige aksie of verbintenis wat sou kon veroorsaak dat gelowiges in daad of gedagte betrokke sou raak by die sonde van die wêreld moet vermy word. 

Enige verbintenis of vriendskap wat tot kompromie met sonde kan lei is ongewens vir ‘n Christen. 

Konkrete voorbeelde wat Paulus in gedagte gehad het, was ‘n gemengde huwelik tussen gelowige en ongelowige (1 Kor. 7), die eet van afgodsoffers ( 1Kor.10), die bring van geskille na heidense howe (1 Kor.6) Die metafoor van ‘n juk skep die indruk dat dit oor noue verbintenisse gaan, waarbinne dit moeilik is om konsekwent ‘n Christelike lewenswyse en waardes te handhaaf. Ons vriendskappe en venootskappe met onbekeerde mense moet nie van so ‘n aard wees dat ons tot sonde verlei word nie! 

Na hierdie “sweeping statement” gaan Paulus nou voort om deur vyf teenstellings die noodsaaklikheid om enige assosiasie met boosheid te vermy verder te onderstreep: Dis retoriese vrae, die antwoord word veronderstel - geen, hoegenaamd niks! Paulus gee hier ‘n duidelike grondslag vir die verskil tussen gelowige on ongelowige: 

"Hoe kan daar ’n venootskap wees tussen reg en onreg?" Heiligheid en ongeregtigheid het niks in gemeen nie. Die een is reg en die ander is verkeerd. Daar is geen raakpunte nie. 

"Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?"  Hulle is onversoenbaar. Moenie probeer pas wat nie kan pas nie! En meng wat nie mengbaar is nie. Lig en duisternis is twee programme wat “incompatible” is! 

"Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial?" (hierdie term vir die Satan kom nie direk uit die OT nie, maar waarskynlik uit latere Joodse literatuur) Dink bietjie, watter harmonie en samewerking kan daar tussen Christus en die Satan wees? Dis ondenkbaar dat daar enige samehorigheid tussen hulle kan wees. Het Christus en die Satan iets vir mekaar te sê, sal hulle samesprekings voer of samewerking nastreef? Belaglik en ondenkbaar! Hoe kan Christene wat aan Christus behoort dan nou verbintenisse aanknoop met mense wat deur Satan beheer word? 

"Hoe kan ’n gelowige dieselfde belange hê as ‘n ongelowige?" Daar is mos ’n absolute kontras tussen gelowige en ongelowige. Ons het verskillende lojaliteite, belange en belangstellings. ’n Gelowige is iemand wat honger en dors na geregtigheid, wat verlang daarna om God se wil te doen. ’n Ongelowige is presies die teenoorgestelde (Efesiërs 4:17,18) 

"Hoe kan daar ’n ooreenkoms wees tussen die tempel van God en die afgode?" Paulus redeneer soos volg : Die tempel van God is ’n ontsagwekkende heilige plek, geen afgod pas en hoort daar nie. Wat waar was van die fisiese tempel in Jerusalem, geld ook vir die geestelike tempel van gelowiges. Net soos die inbring van enige afgod in die tempel dit sou ontreinig en ongeskik maak vir aanbidding van God, net so sal besoedeling met die afgode ons ongeskik maak om God te aanbid. 

CHRISTENE IS DIE LEWENDE GOD SE TEMPEL!

Nou sluit Paulus aan by sy beeld van die tempel en maak ‘n heerlike en betekenisvolle stelling: 

“Ons is immers die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het: "Ek sal onder hulle woon en wandel, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees." (2 Kor 6:16) 

Paulus beklemtoon 2 implikasies van die feit dat gelowiges God se tempel is. (En terloops dis die bekende verbondsformule wat hy hier aanhaal) : 

· Dis ’n vreugdevolle realiteit dat God in ons woon. Ons kan sy liefde en nabyheid op ’n besondere manier beleef! 

· Dis terselfdertyd ‘n saak van geweldige groot erns en verantwoordelikheid dat ons God se woonplek is. Ons as tempel is ’n heilige, afgesonderde, spesiale plek. Ons durf niks wat vuil is toe te laat in ons lewens nie, juis nie venootskappe en vriendskappe wat ons gaan besoedel nie. 

DIREKTE UITDAGING! 

Paulus rig nou ’n kragtige uitdaging en besondere belofte aan sy lesers. Daarom: "Gaan van hulle af weg en sonder julle af," sê die Here, "en moenie wat onrein is, aanraak nie." "Dan sal Ek julle aanneem en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees," sê die Here, die Almagtige. (17) Omdat God nou woon onder sy volk in terme van sy belofte van die Nuwe Verbond is dit vir ons ‘n kragtige aansporing tot ‘n heilige lewe. Afgesonder en toegewy aan God. Hy verwys na Jesaja 52:11. Dit gaan oor die verlossing uit Babel. Die volk Israel moes Babel verlaat , hulle moes die heidense stad vaarwel roep, want hulle was ‘n priesterlike gemeenskap, draers van die heilige voorwerpe van God. Hoeveel te meer geld dit nie van die nuwe volk van God nie. Ons is nou mos ‘n heilige priesterdom. Ons is verlos uit die ballingskap en slawerny van sonde... 

Ons moet sigbaar en moreel anders wees as die res van die mensdom. Lyk en doen jy anders? Waar daar nie meer hierdie andersheid is nie, is ons nie meer God se afgesonderde priestervolk nie. Die klem val op etiese en nie fisiese afskeiding nie. Die opdrag beteken nie om eenkant in klooster te gaan woon nie, maar anders te wees, anders te leef! 

En moenie die heerlike BELOFTE vergeet nie: “en ek sal julle aanneem...” God self gaan in ‘n besondere naby innige verhouding met julle staan as heilige mense wat anders leef! 

Paulus verwys nou in 7:1 na die beloftes van 6:17. “Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy.” ( 2 Kor. 7:1) Hierdie beloftes raak ons direk. Ja, sy eerste lesers, maar ook ek en jy! Hy raak nou prakties en wil sê : “Julle is die tempel van God, God woon onder julle, maar kyk julle moet besef as God onder julle woon dan moet sy woonplek (julle) skoon wees! Moenie die fout maak om te dink dat God saam met die afgode woon nie! 

Die heilige God woon nie in ‘n morsige hool van onreinheid nie! 

Miskien moet ek of jy hoor : "Daardie YouTubeclips wat jy kyk pas nie by God se woonplek nie...” Paulus gebruik dus hierdie beloftes van God om sy lesers kragtig aan te spoor tot ‘n heilige lewe. Om dit na te streef moet ons alle oorsake en geleenthede van besoedeling van ons af verwyder. Deur term “liggaam en gees” sluit hy die hele spektrum van alle moontlike bronne van besoedeling in.. In respek en eerbied vir God se ontsagwekkende heiligheid moet ons gehoorsaamheid en heiligheid nastreef. 

VAT SAAM 

God se genade beteken nie dat die onderskeid tussen heilig en onheilig uitgewis is nie. Ons word immers nie vrygespreek omdat God nou tot die slotsom gekom het dat sonde nie iets ernstigs is nie. Ons word vergewe omdat Christus met Sy lewe betaal het vir ons skuld. Pasop dus om valse gevolgtrekkings vanuit die vergifnis te maak. Vergifnis is geen vrypas om ons sondige aard uit te leef in kompromie met die wêreld nie. 



Paulus pleit hier vir die verbreking van alle bande en verbintenisse met ongelowiges wat ons geestelik skade kan berokken en tot kompromieë lei.  In vandag se taal:


PASOP WIE IS JOU FACEBOOK VRIENDE, JOU WHATSAPP KONTAKTE EN JOU INSTAGRAM BELANGSTELLINGS!


As ons hierdie opdrag nalaat versmoor ons God se beloftes. Dit beteken dat ons die vreugde van ‘n heilige lewe verbeur en ontbeer. Ja, dis ‘n Bybelse waarheid, hoe meer heilig hoe meer blydskap! Hoe meer heilig hoe meer beleef ons die vreugde van God wat deur sy Gees in ons woon! 

Om heiligheid na te streef met die regte motief moet ons altyd onthou wie ons is. Elkeen wat aan Christus behoort is die tempel (woonplek) van die heilige God. Wie erns maak met hierdie feit sal onmoontlik met die ou lewe van sonde en kompromie kan voortgaan.

(vlnr) Jané Redelinghuys, Mario Nel, ds. Johannes, Teri-Dona Davids, Ferdinand  Gerd Kronsbein, Marco Nel, Demi Louw, Stephanus Johannes van der Merwe, Stephné Jo Voigts, Hermanus Bothma Keyser, Christin Opperman, Johannes Andries Steenkamp.

Mag julle elkeen volhard in die geloof en julle belydenisaflegging van vandag nooit vergeet nie!







Vrydag 08 Februarie 2019

VERWARRING

AS DIE ONDERSKEID TUSSEN LIG EN DUSTERNIS VERDWYN! 



Niks is so erg soos verwarring nie. Dink nou maar aan die frustrasie as ‘n skeidsregter nie konsekwent is in die toepassing van reëls nie of nog erger as daar glad nie meer reëls is nie! Hoe sal ‘n rugbywedstryd lyk sonder reëls? As niks verkeerd is nie… As jy maar ‘n drie onder jou eie pale ook mag druk? Chaos! En dis presies wat op geestelike gebied in die wêreld aan die gang is. Erger nog, dis wat in die kerk aan die gang is… Onder mense wat hulleself Christene noem. Daar is nie meer onderskeid tussen reg en verkeerd nie! 



Hier in Jesaja 5:8-25 vind ons ‘n hele lys van dinge wat God kwaad maak en wat tot die tragedie van die ballingskap sou lei. God waarsku onomwonde : “Ellende wag vir julle...” Ja, en vir sommige is dit dalk nuus, maar daar is inderdaad dinge waarvan God nie hou nie en wat sy toorn opwek. Een van die sake wat die profeet noem wat God kwaad maak en wat sy oordele oor die volk gebring het, word in vers 20 genoem. 



“Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis, wat bitter soet noem en soet bitter.” 



Die sonde van geen onderskeid. Van verdraaiing en vermenging. Van hiperverdraagsaamheid teenoor als wat afwyk van God se Woord. Ek gaan hierop fokus want dit is ‘n uitstaande kenmerk van ons postmoderne tyd! In ons huidige tydsgewrig is als mos reg. Elkeen maak soos hy voel. “Ek voel dis reg...” 

WAAR KOM DIE VERWARRING VANDAAN? 

Natuurlik van die Satan. Die vader van alle leuens. Reeds in die tuin het hy verwarring gesaai. “Het God regtig gesê?” Maar as ons spesifiek na hierdie gedeelte in Jesaja kyk, kom nog ‘n skokkende feit na vore. Die groot bron van verwarring is nie die bose wêreld daarbuite nie, maar mense wat veronderstel is om God se mense te wees. (Onthou met wie hier gepraat word – nie die heidense Egiptenaars of Babiloniërs nie, maar God se Verbondsvolk!) 

Christene wat nie meer wil onderskei tussen reg en verkeerd nie, is vandag die groot bron van verwarring en morele chaos! Dis hoekom ‘n “uitgesproke Christenmeisie” haarself halfkaal in ‘n manstydskrif kan uitstal! *

Die probleem van verwarring kom as Christelike kerke nie meer die moed het om te sê : Dis reg en dis verkeerd nie! (Die kerk is mos selfs bang om te sê wat ‘n huwelik is). As Christelike skole maar alles goedpraat en eintlik niks verskil van ander skole nie. (Dobbelary word gebruik om fondse in te samel!) As Christelike huise nie meer leiding gee aan kinders wat reg en verkeerd is nie. As “Christelike tydskrifte” (soos Finesse) in wese niks verskil van enige ander tydskrif nie! Sogenaamde Christen sangers en filmsterre, sporthelde en politici lewe openlik teen God se reëls, maar hulle verklaar dat hulle gelowiges is en word toegejuig deur almal wat net so min onderskeid het as hulleself! Hierdie vermenging en verdraaiing skreeu ten hemele.

'n Ongetroude paartjie leef saam as man en vrou en vertel ewe vroom dat hulle saambid en saam die Bybel lees. Mens wonder watse Bybel? Vertel hulle Bybel hulle niks van bekering en breek met 'n sondige leefstyl nie? Iemand is besig met 'n skelm onder die tafel deur transaksie en sal ewe vroom vertel van God se voorsiening in moeilike tye! Watter God is dit wat oneerlikheid goedkeur? Dis die probleem : Goed word sleg genoem en sleg word goed genoem! 

GOD MAAK DUIDELIKE ONDERSKEID 

Nou wat leer die Woord ons? God maak deurgaans ‘n duidelike onderskeid tussen goed en sleg, lig en duisternis, soet en bitter! Ons durf nie sy reëls probeer verander nie. Blaai so vinnig deur die Skrif, 

Skepping. ‘n Duidelike onderskeid tussen lig en duisternis. God is lig!

Adam en Eva. Daar was ‘n duidelike reël. Oortree dit en julle sal sterwe! Geen vaagheid. 

Noag. Hierdie geskiedenis wys God maak weereens ‘n duidelike onderskeid. Sommige word gered, ander (die groot meerderheid word gestraf). Slegs binne die ark is redding te vind, daarbuite net oordeel en vernietiging. 

Dwarsdeur die geskiedenis sien ons duidelike skeidslyne. God maak die reëls en Hy is ernstig daarmee. Dink maar aan die voorbeelde van Akan (wat die bangoed gaan begrawe het) en Ussa (wat aan die verbondsark gevat het). Beide het God se opdragte nie ernstig opgevat nie! Beide het die vreeslike wraak van die heilige God gevoel! 

EN JESUS? 

“Ja, maar dis die Ou Testament. In die Nuwe Testament is Jesus mos nie so ernstig nie!”, sal mense beweer. Dis ‘n groot fout,, my vriend. Jesus het die lyne tussen reg en verkeerd net baie dieper getrek. Hy kyk verby die uiterlike na die diepste bedoeling van die hart. Dink aan sy verklaring van die sesde en sewende gebod. Jy is al skuldig aan moord as jy iemand uitskel, jy is skuldig aan egbreuk as jy net die eerste stap tot seksuele onreinheid oorweeg. (Matteus 5) Dis alles behalwe ‘n verslapping van die onderskeid tussen reg en verkeerd. Alles behalwe 'n relativering van morele waardes. 

Jesus se radikale lering oor die twee weë, maak dit duidelik dat daar nie ‘n derde middelpad is nie. 

Daar is ‘n duidelike onderskeid tussen die smal pad en die breë pad! Ja, Jesus het radikale vergifnis aan die grootste sondaar gegee, maar sy opdragte aan hierdie sondaars was eweneens duidelik : Moenie aangaan op die verkeerde pad nie! (Dink aan die vrou in Johannes 8) Maar is hierdie boodskap van ellende, darem nie tog te negatief nie? Pas dit by Jesus en sy mense? Ja, Jesus self het oor seën én ellende gepraat. (Vgl. die veldrede in Lukas 6) 

Die duidelikste bewys dat God onderskeid maak tussen reg en verkeerd, tussen lig en duisternis kry ons by die kruis. As alles maar reg was, waarom moes Jesus so bitterlik ly? As alle mense in elk geval die straf sal vryspring en daar nie ‘n hel is nie, waarom het God dit nodig gevind dat Jesus helse straf deurgaan? 

In 1 Johannes 1:5ev word hierdie saak van verwarring tussen reg en verkeerd ook aangespreek. 

“Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. 
As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 
Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde. 
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. 
Maar as ons ons sondes bely- Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. 
As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie. God maak nie kompromie met duisternis nie. Hy maak ‘n duidelike onderskeid.” 

Moenie God se reëls, bepalings, ordes en norme probeer verander, verdraai en omseil nie. Moenie verskonings uitdink nie. Nee, erken eerder dat jy verkeerd is, dat jy sy heilige wil en gebooie oortree het, kom in berou en belydenis na Jesus Christus, dan is daar beslis vergifnis en reiniging! 
Mag God ons help om in 'n wêreld van verwarring, duidelike onderskeid te maak tussen lig en duisternis!

* Vir 'n bespreking en voorbeelde van skokkende mengelgodsdiens kliek op MELINDA


                                                          Die lig verdryf die duisternis....