BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 01 Desember 2022

GOD WORD ‘N BABA!

 - en bring daarom hoop vir alle mense, ook babas!

 [ Lees gerus tog weer die bekende verhaal van die herders van Betlehem in Lukas 2:8-20]

Ons kan so liries raak oor al die byspelers in die Kersdrama dat ons die Persoon in die hoofrol vergeet. Ek bedoel ons raak meegevoer deur die engelekoor, die nederige herders,  wyse manne, Josef en Maria, maar eintlik gaan alles oor die Kindjie in die krip – GOD wat ‘n Baba geword het! Baba! Ja jy het reg gelees. Probber bietjie dink aan die implikasies...

God word mens in Jesus Christus. Regte mens! "Vleis" soos die Johannes evangelie ons leer. (Johannes 1:14) Hierdie God-mens bring hoop en ‘n nuwe toekoms. Die engele beskryf hierdie hoop so in Lukas 2 vers 14 :




Hoe pragtig kom hemel en aarde saam in hierdie oorbekende teks!  Godwees en doodgewone menswees. Die ewige, maar ook die tydelike! Jesus se koms na die aarde bring juis eer aan God in die hemel! Hier is dus nie ‘n botsing tussen hemel en aarde nie, maar ‘n heerlike harmonie! 

Ons menswees op aarde in al sy stadiums en fasette is BELANGRIK!

Die feit van Jesus se babawees onderstreep dit so mooi. Jesus kom nie as ‘n superwese, gees of  simbool na hierdie aarde nie. Maar as mens.  Regte mens. Hy kom soos alle regte mense in die wêreld in, as hulpelose baba!  'n Baba wat aan sy moeder sou moes drink. Maar Jesus is ook regtig God. Hy bring God se boodskap en Hy leef God se waardes uit, Hy wys God se heerlikheid (genade en waarheid), maar Hy doen dit hier op aarde binne in die gewone alledaagse lewe. Hy woon soos ander gewone mense ‘n troue by en dan maak Hy nog wyn ook. In die proses bring Hy die boodskap van ‘n nuwe bedeling die oorvloed van die nuwe verbond. Hy word ook diep geraak as hy voor die graf van sy vriend Lasarus staan en huil. Maar dit bly nie net by huil nie... Hy bring Goddelike hoop in die donker aardse  situasie van dood deur die opwekkingswonder. Na sy eie opstanding uit die dood (geen groter bewys van sy Godheid as dit nie!) doen Hy ook iets heeltemal alledaags, hy braai vis vir sy dissipels, maar dis ook sommer die geleentheid waar Hy openbare vergifnis aan Petrus skenk. (Johannes 21) Vir Jesus is daar nie ‘n spanning tussen hemel en aarde nie. Hy is mens, tussen die mense en as mens leef Hy volgens die wil van Sy Vader. Hy werk in ‘n timmermans werkswinkel, Hy betaal belasting, maar Hy verkondig die geheime van God se koninkryk en bewandel ’n intieme gebedspad met sy Vader. 

Terloops, Heiligheid beteken nie om op te hou mens wees nie, maar om mens te wees volgens God se wil!

Dis die punt - Die geboorte van Jesus, ja die hele evangelie van Jesus raak ons en verander ons terwyl ons hier op aarde as mense leef! Die evangelie maak nie van ons hemelwesens, wolkbewoners of verbandlose indiwidue  nie. Maar nuwe mense in die harde werklikheid van ‘n aardse bestaan. Die evangelie pad is daarom nie ‘n pad wat menslike aardse familiebande ignoreer nie.  Vrede op aarde raak ook gesinne op aarde. Doodgewone huisgesinne! En hierdie gesinne sluit alle ouderdomme ook  die babas van die gesinne in. Jesus se verlossingswerk raak alle ouderdomme... ook babas


Irenaeus die bekende kerkvader en biskop van Lyons het dit so treffend gestel : "For he (Christ) came to save all through means of himself; all I say, who through him are born again to God; infants and children, boys, youths, old men. He therefore passed through every age becoming an infant for infants, thus sanctifying infants; a child for children, thus sanctifying those who are of this age, being at the same time made to them an example of piety, righteousness, and submission; a youth for youths becoming an example to youths, and thus sanctifying them for the Lord. So likewise, He was an old man for old men, that he might be a perfect master for all, not merely as respects the setting forth of the truth, but also as regards that age, sanctifying at the same time the aged also and becoming likewise an example to them. Then, at the last, He came unto death itself, that he might be the firstborn of the dead, that in all things he might have the preeminence, “the Prince of Life,” existing before all and going before all."

Die vraag is nou presies hoe word ons as gesinne geraak?  Hier is ‘n fyn balans. 'n Positiewe boodskap. Maar ook ‘n spanningslyn. 

Die gesinsband word nie geignoreer nie, maar wel gerelativeer deur die Kersboodskap.

Kom ons kyk eers na die eerste fasset. Jesus bring vrede na hele gesinne. Dink maar aan Saggeus se bekering in Lukas 10. Aangrypend en veelseggend is Jesus se uitspraak na dat Saggeus tot bekering gekom het : 



"Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom..."  Die bekende  Handelinge 16:31 (die tronkbewaarder van Filippi se bekering) onderstreep ook die belangrikheid van 'n huisgesin in die konteks van verlossing. 



Waar die gesinshoof tot bekering kom, word die hele huis positief geraak. Dis duidelike verbondstaal wat hier gebruik word. Die gesin word nou ingesluit in God se verbondsgenade, net soos in die Ou Testament die geval was.

VERDEELDHEID EN KONFLIK

Maar daar is ook ‘n anderkant. Gesinne en families word juis ook verdeel deur Jesus. Hartseer, maar ons mag dit ook nie verswyg nie!  Gaan lees maar die skerp uitsprake van Jesus in Matteus 10:32-36. Jesus veroorsaak konflik binne in huise!



Op die ou end is dit belangriker om aan die huisgesin van God (sy verloste kerk) te behoort as aan ‘n aardse gesin. Jesus het dit self op dramatiese wyse gestel. Matteus 12:46-50 laat geen onduidelikheid nie.



HY IS KONING!

Hoekom hierdie teenstrydigheid? Hoekom hierdie skerp verdelingslyn?  Hoekom is vrede dan so skaars in die wêreld? Nie net in oorlogsones nie, maar juis ook in baie huwelike en gesinne?  Ons moet verstaan wie hierdie Baba is. Die baba in die krip, Jesus Christus die Godmens is ‘n omstrede kontroversiële figuur. Hy bring vrede sowel as verdeelheid. Juis omdat nie almal Hom wil aanvaar en voor Hom wil buig nie. Soos die apostel Paulus dit sou stel vir sommige is die evangelie van Jesus ‘n lieflike geur, vir ander is dieselfde evangelie ‘n doodsreuk. Hoekom? Die Baba in die krip is die Verlosser koning. Hy is die finale koning van die Dawidsdinastie. Juis daarom word beklemtoon dat die baba in Betlehem die stad van Dawid gebore is. Teenoor ‘n Koning kan jy nie neutraal wees nie. Jy onderwerp jou aan sy koningskap of jy verwerp sy koningskap. Kersfees is ‘n fees van blydskap, maar dis juis ook ‘n konfronterende fees. Ons word gekonfronteer met die Babakoning in die krip. Geen draadsittery is moontlik nie. Wat jy oor Hom besluit raak jou lewe nou op aarde en natuurlik het dit implikasies tot in alle ewigheid.  As jy niks besluit nie, is jy teen Hom. 

Gaan jy eenkant staan of gaan jy soos die herders jou haas om Hom, die Baba van Betlehem te ontmoet?

Saterdag 26 November 2022

Die Antichris loer vir jou..

 - Ja, baie beslis deur jou televisieskerm en slimfoon... maar dikwels ook in sinodesale en vanaf kansels!

[Ly jy aan Antichris-angs, eindtyd-verskrikking of laaste dae-luiheid? Lees hier oor die Antichris en hoe om sy aanslag te oorleef!]



Paulus gee uiters belangrike en aktuele inligting oor die Antichris en die wederkoms in 
2 Tessalonisense 2:1-12 … (lees dit deur asseblief)  Die belangrike vraag is wat is sy doel met hierdie inligting? En spesifiek die inligting wat hy hier in hoofstuk 2 gee?  Sy doel sou logies ook die kernboodskap vir ons wees. So waarom skryf Paulus oor hierdie dinge?


Paulus het reeds in hfst. 1 aandag gegee aan die feit van die wederkoms. Daar gaan dit oor bemoediging  en  versterking vir die kinders van God wat verdruk word.  (1:6-10) As Jesus kom sal die bordjies verhang word en die verdrukkers van God se kinders sal hulle straf ontvang en God se getroue kinders sal in heerlikheid ingaan!



Hier in hfst. 2 is sy doel anders.  

Dit gaan daaroor om  Christene wat hulle kop verloor het en paniekerig geraak het deur allerhande bespiegelings oor die wederkoms, te kalmeer en praktiese leiding vir hulle te gee oor hoe hulle moes optree in die lig van die naderende koms van Jesus. 


Daar was mense wat angstig geraak het oor die nabyheid van die wederkoms en hulle is so meegevoer deur die dinge wat hulle gehoor het dat sommige gereken het, hulle hoef nie meer met hulle normale dagtaak aan te gaan nie. Hulle het so histeries en onordelik te kere gegaan dat party nie eens wou werk nie. (3:11) Hulle het passief geraak en hulle normale verpligtinge as Christene verwaarloos. Paulus wil nou weer vir hulle 'n nugtere perspektief gee.

 Mens kon Paulus se boodskap oor die wederkoms in  2 Tess so saamvat : die doel van hfst 1 is standvastigheid in lyding en swaarkry, die doel van hfst 2 is standvastigheid in die doen van goeie werke en normale lewenstake soos om jou brood te verdien. (John Piper)  

Maar so terloops kom ‘n uiters belangrike saak ter sprake soos ons verder sal sien...

AFVAL EN DIE ANTICHRIS

So hoe kalmeer Paulus nou hierdie beangste en histeriese Christene?  Paulus gee detail inligting oor twee sake: die afval (apostasia) en die mens van wetteloosheid. Twee aspekte  is ook opvallend. Hy gee baie detail oor die afval en die mens van sonde. Een of twee sinne sou mos genoeg wees?  Dink net, al hierdie detail om net op die ou end daarmee te sê, gaan rustig aan met julle normale take, want die wederkoms is nog nie hier nie. Aan die anderkant, tsv die detail is daar ‘n klomp onbeantwoorde vrae

Wat presies is die afval? 

Wie presies is die mens van wetteloosheid?  

Watter tempel van God is hier ter sprake? 

Wat is dit wat die koms van die mens van wetteloosheid verhinder/terughou? 

Dit lyk asof Paulus in sy tyd detail lering aan die Christene in Tessalonika gegee het oor hierdie sake en hulle nou net weer wil herinner. Maar ons wat nie daar was nie, ons  ken nie al die feite nie! Ons kan aflei dat die mens van wetteloosheid die Antichris is, maar wat betref dit wat hom  terughou is daar net raaiskote byv. die werking van die Heilige Gees, die invloed van die kerk, die Romeinse regstelsel (wat 'n teenwig was teen absolute chaos en anargie) of dalk die regstelsel in die algemeen.  Ons weet nie en dit lyk asof God dit in sy wysheid so bepaal het.... juis sodat ons nie dalk allerhande berekenings moet maak nie. 

Met ons beperkings in gedagte, kom ons kyk spesifiek na die twee hoofsake : die rebellie (afval) en die mens van wetteloosheid


Die afvalligheid. Dis nie die die "normale afvalligheid" of dwalings wat mens maar oral deur die geskiedenis in die kerk gekry het nie. Dit behels iets ongekend, buitengewoon boos en sigbaar opvallend! ‘n Ongekende direkte rebellie teen God en sy wette! Dit herinner sterk aan Jesus se woorde in Matteus 24:10-12.




Mens van wetteloosheid.  Net so 'n paar feite oor hierdie persoon, die Antichris. Dis ‘n mens, nie ‘n demoon of 'n "alien" van 'n ander planeet nie.  Hy is in sy wese wetteloos en sal aan geen wet of wetgewer onderworpe wees nie. Hy sal absoluut arrogant wees en maak soos hy wil. Aangesien net Een naamlik God bo alle wette is, volg dit logies dat hierdie persoon homself as God sal beskou – hy sal alle instellings, reëls en wette verander soos hy wil! Hy word genoem die seun van verderf – hy is dus gebore en bestem tot vernietiging en sal dus nooit tot bekering en verlossing kom nie. Opvallend – hierdie term word ook vir Judas Iskariot gebruik (Joh 17:12) – Judas was eintlik sy voorloper – soos Judas is daar vir hom geen hoop nie, net die ewige verdoemenis wat vir hom wag! 


Veral belangrik. Die krag van Satan sal op ‘n besondere manier deur hom werk – hy is ‘n spesiale Gesant van die duiwel. (2:9) 




Dit stel hom instaat tot bedrieglike tekens en wonders! Dis die groot gevaar : Mense gaan val vir hom omdat hy buitengewone goed sal doen! Hy sal regtige wonders doen, maar dit sal nie van God kom nie. Dis waarteen God al sy mense in Deut 13:1-3 gewaarsku het. Juis as gevolg van hierdie superkrag sal hy ‘n buitengewone vermoë hê om mense te mislei. (10) Hy sal ongeregtigheid – dit wat verkeerd is, as groot plesier en vooruitgang aan mense opdis en bemark! 


Weereens is daar groot ooreenkomste tuusen Paulus se lering hier en die woord van Jesus - Matteus 24:23-24.




Aan die einde van hierdie vreeslike tyd van wetteloosheid en misleiding sal Jesus skielik kom!


Waar die Antichris letterlik gaan verskyn is nie so belangrik nie... Jerusalem, Rome, Brussels of New York? (Die term "die tempel van God" het verskeie betekenismoontlikhede - dalk gaan hy buitengewone invloed binne die sigbare kerk uitoefen?) Luister dus maar fyn vir sy stem in kerkvergaderings en selfs van die preekstoel... Onthou dis opmerklik dat hy alle Goddelike ordes en instellings en waardes sal omkeer...





Die groot afvalligheid en die werking van die Antichris gaan saam.  Dis reeds besig om te gebeur (dit was al in Paulus se tyd 'n faktor) – die skeppingsorde van die huwelik, die basiese waarheid dat God die mens as man en vrou geskape het, die basiese waarheid dat daar ‘n onderskeid tussen God en mens is, onderskeid  tussen waarheid en leuen... al hierdie fundamentele waarhede word al hoe meer openlik bespot en geminag... Maak net oop jou oë!


Belangrike vraag : Waarom fokus Paulus op die groot afval en die mens van wetteloosheid net om daarna weer te sê gaan aan met julle lewe as Christene? 


PASOP VIR MISLEIDING


Die groot gevaar is misleiding! Om te val vir die plesier van ongeregtigheid en wetteloosheid. Vers 12 ("hulle vind behae in ongeregtigheid") En dis presies wat gebeur – mense hou van “songs” en sepies wat sonde uitbeeld! Dis so lekker om na sonde te luister en te kyk!  Die vermaaklikheidswêreld is die groot vanghok en slagyster van die Antichris. Dit maak ons sag vir sonde.... dit klink nie meer so erg nie...


Wat is die oplossing? Hoe kan ons beskerm word teen afvalligheid en misleiding? Mense gaan val vir die leuens van die Antichris, omdat hulle nie lief is vir die waarheid nie. Meer nog - oorlewering aan die Antichris se misleiding is eintlik God se straf vir mense wat nie wil erns maak met sy Woord nie!  Die oplossing en antwoord vir ons in hierdie deurmekaar tye is dus om lief te word vir die waarheid – lief te word vir die Woord, ja vir Jesus self wat die waarheid is! As jou sepies vir jou kosbaarder is as die Sondag erediens is jy klaar ‘n sucker vir die Antichris al sit jy allerhande vroom boodskappies op jou slimfoon!


Die Antichris is nie net daar ver nie, hy probeer jou kop swaai, jou hart wen en jou lewe steel - binne in jou eie huis!

Wat is die kernboodskap van Paulus aan ons? Gaan rustig, gelowig en gehoorsaam aan met julle lewens en moenie angstig en onstabiel raak weens allerhande gerugte nie – doen julle normale dagtake met heiligheid en integriteit soos dit by God se kinders hoort en hou by die waarheid van die Woord! Dan sal julle nie moislei word nie en gereed wees vir die wederkoms!  Vind jou vreugde in die doen van geregtigheid en nie in die sonde nie. Dan sal julle nie ‘n prooi van die Antichris word nie!

Dinsdag 22 November 2022

EK KAN NIE ANDERS NIE...


Ek was deel van die Matteus 18 Taakspan wat die besluit van die NGKN sinode in Maart 2022 om af te skei van die Algemene Sinode indien daar nie bekering binne ses maande sigbaar is nie, uit te voer. Die Taakspan se finale verslag sal sekerlik binnekort in die openbaar beskikbaar wees. Aangesien die Namibiese moderamen die verslag met sy aanbevelings aanvaar het, wil ek myself nou reeds duidelik daarvan distansieer. (Die besluit sal later in detail gekomminikeer word en daarom wil ek niks nou verder daaroor sê voor dit nie via amptelike kanale bekend gemaak word nie) Ek het my standpunt aan die Moderamen voorgelê in die vorm van 'n minderheidsopinie wat slegs as 'n Addendum in die Matteus-18 Taakspan se verslag opgeneem is. (Dit is dus nie afsonderlik in die vergadering gedebatteer nie.) Ek plaas dit hieronder:


 

 

VERSLAG VAN DIE MATTEUS-18 TAAKSPAN

(minderheidsopinie)

In opdrag van die sinode van die NGKN van Maart 2022

 

 

My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk, omdat kind en suigling op die pleine van die stad versmag,

Klaagliedere 2:11 33/53-Vert.

Jou profete se visioene is vir jou nutteloos en niksseggend. Hulle het nie jou skuld ontbloot om jou ballingskap te verhoed nie. Die visioene wat hulle aan jou oorgedra het, was nutteloos en misleidend.

Klaagliedere 2:14 2020-Vert.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

MINDERHEIDSOPINIE VAN DIE MATTEUS-18 TAAKSPAN

VOORAFOPMERKINGS EN INHOUD

Die Matteus-18 Taakspan (voortaan net die “Taakspan”) het sy taak ernstig opgeneem en met integriteit probeer uitvoer. Hierdie is ‘n minderheidsverslag wat beteken dat dit nie deur die Taakspan amptelik as standpunt aanvaar is nie. Die saak waaroor dit gaan is egter van sodanige belang dat die minderheidstem ook gehoor moet word. Dit gaan oor die grootsheid van die saak en wil nie die bona fides van die meerderheid in twyfel trek nie, maar net die saak eerlik volgens feite en gewetensoortuiging stel. Hierdie dokument wil ook nie probeer om ‘n herhaling te wees van die meerderheidsopinie en daarom sal alle tegniese en formele aspekte wat in die ander verslag gemeld word nie noodwendig hierin voorkom nie. Die klem sal val op belangrike verskilpunte. Dit word soos volg aangebied:

1.Konteks en aanloop

2.Opdrag en fokus

3.Oorsig van die werksaamhede van die Taakspan

4.Gesprek met ander sinodes

5.Pad met gemeentes

6.Die kernvraag : “Hartgrondige bekering?”

7.Artikel 37 toeligting

8.Nou of nooit – die erns van die saak

9.Aanbeveling aan die moderamen

 

1.Konteks en aanloop

‘n Voorstel vir losmaking van die AS het op die Namibiese sinode 2022 gedien. Die debat was robuus met sterk standpunte van beide kante, maar geleidelik het dit al hoe meer gelyk asof die voorstel (vanuit die beskrywingspunt van Kalkrand) ’n baie goeie kans gehad het om goedgekeur te word. Tog sou dit waarskynlik nie met ’n groot meerderheid wees nie en verdeeldheid bevorder het. Op die nippertjie is ’n kompromis voorstel ingedien wat die wese van die oorspronklike voorstel bevat het met veral twee belangrike nuwe komponente, naamlik die stap van ’n Matteus 18 Jesuspad en ’n tydsbeperking van ses maande. Die eerste komponent het vir sommige die gerustheid gegee dat hier nie oorhaastig en onverantwoordelik opgetree sou word nie, die tweede komponent het vir ander weer die gerustheid gegee dat hierdie nuwe voorstel nie maar net ’n slim set was om uitvoering van die besluit aanhoudend en onbepaald uit te stel nie. Dis om hierdie rede dat die nuwe kompromisvoorstel met ’n oorweldigende meerderheid van 70-14 goedgekeur is. Die verwagting was baie duidelik dat daar wel met die AS (gevolmagtigdes) gepraat gaan word, maar daar gaan nie net aanhou praat word nie, daar gaan daadwerklike optrede kom na ses maande. Hierdie verwagting en spesifiek soos dit in gewone taal deur die sinode se persverklaring oorgedra is, het hoop by ons hartseer en moedelose lidmate geskep. Dit mag ook nie uit die oog verloor word dat die besluit wat by die sinode geneem is, die kulminasie was van ’n lang proses van getuienis en ywer vir die waarheid (terwyl baie ander geswyg het) deur ’n groot groep behoudende leraars en lidmate binne Namibië wat daardeur vir hulleself verwerping en gramskap op die hals gehaal het nie. Indien die sinode nou die bal sou laat val deur nie haar besluit deur te voer nie, gaan dit intense ontnugtering by ons lidmate en skade aan die beeld van ons kerk veroorsaak.

2.Opdrag en fokus

2.1 Die Taakspan se opdrag was duidelik en eenvoudig stap die Matteus 18 pad van teregwysing en bekeringsoproep vir ‘n tydperk van ses maande met die AS (de facto die ASM) methartgrondige bekering” as doelwit. (Sien sinodebesluit van Maart 2022) Sou dit nie gebeur nie, het die Namibiese sinode in beginsel reeds besluit op afskeiding van die AS. Die ander opdragte soos inligting aan gemeentes, toenadering tot en samewerking met ander sinodes en die uitklaring van regsaspekte rakende artikel 37 is ondersteunend tot die hooftaak. Die persverklaring1. wat ‘n eenvoudige verduideliking van die besluit is en ook amptelik deur die sinode goedgekeur is, stel dit ondubbelsinnig duidelik : Indien die pad van tug en dissipline nie binne die volgende ses maande uitloop op ‘n vaste voorneme om bepaalde besluite te herroep nie, sal  die Namibiese Sinode haar band met die Algemene Sinode losmaak ingevolge Artikel 37 wat dit soos volg in die kerkorde verwoord. “Dit staan samestellende kerke [sinodes] vry om met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam ensovoorts uit die Algemene sinodale verband te tree wanneer hulle so ‘n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig.”

2.2 Baie debat is gevoer oor die Namibiese besluit en aspekte daarvan. Die groot punt om te verstaan is : Dit nie op die weg van die Taakspan om die Namibiese besluit te evalueer of te amendeer nie, slegs om die besluit uit te voer! Art. 23.1 van die kerkorde stel dit duidelik: Die besluite van vergaderinge of hulle gevolmagtigdes is bindend, in soverre dit nie in stryd is met die Woord van God, die belydenis van die kerk en die Kerkorde nie (sien ook Artikel 2). Die wyse waarop die besluit geneem is op die Namibiese sinode het getuig van ’n diepe luister na mekaar, geen manipulering om tot ’n spesifieke besluit te kom nie en genoegsame tyd vir gebed en refleksie.

2.3 Neem kennis - Kragtens die besluit is dit nie die plig of opdrag van die Taakspan om vas te stel of die NGKN haar voorgenome afskeiding van die AS in terme van Artikel 37 voor God en in die lig van die Woord kan verantwoord nie. Dis in beginsel reeds in die Namibiese sinodebesluit verdiskonteer.

3. Oorsig van die werksaamhede van die Taakspan

3.1. Die Taakspan het erns gemaak met hierdie Matteus 18 pad deur ruim tyd in bespreking van en nadenke oor Matteus 18 te spandeer.

3.2. Die Taakspan het gereeld vergader via Zoom, maar ook heelwat ure in persoon met mekaar deurgebring in ’n ernstige poging om mekaar se harte te hoor.

3.3. Die Taakspan het ook intens met die ASM gekommunikeer deur briefwisseling en in-persoon gesprekke. (Die briefwisseling is vir almal ter insae beskikbaar.) Die in-persoon gesprekke met die ASM, ASM dagbestuur en verteenwoordigers van die ASM verdien spesiale vermelding:

3.3.1 Die Taakspan het die ASM se dagbestuur (met ’n aantal ekstra belanghebbendes) gaan toespreek en was 15 uur in gesprek. (16 en 17 Mei 2022) Die gesprek het primêr, maar nie uitsluitlik, gedraai rondom die Taakspan se pleidooi – en die redevoering vir die pleidooi – om die onskriftuurlikheid, onsamehangendheid en dus onuitvoerbaarheid van die AS 2019 SGV besluit te erken en deur die bevoegdhede van die ASM ’n moratorium op die besluit te plaas of ’n spesiale sitting te roep om te herbesin oor die besluit – laasgenoemde wat volgens die KO die ASM se prerogatief is. Die verskeie punte van die Taakspan se pleidooi en ook die ander punte van ongelukkigheid wat deur die Namibiese sinode uitgespreek is, is deur die ASM dagbestuur aan die ASM vergadering voorgehou.

3.3.2. Die uiteinde van hierdie besoek was dat die Taakspan meen die Namibiese sinode is deeglik gehoor, maar dat daar geen amptelike skuif/bekering, of teken van berou, of toewyding tot aksie (t.o.v. die kern versoek wat deur die Taakspan gemaak is), deur die ASM gekom het nie – buiten die amptelike bevestiging van die ASM dat hul saam met die Namibiese sinode toegewyd is tot ’n “verdere pad van geloofsonderskeiding.”

3.3.3. Dit was wel die onomwonde standpunt van die ASM dat die AS 2019 SGV besluit ’n proses besluit was wat geen prinsipiële skuiwe veroorsaak het nie – hierdie erkenning het die vergadering wel genoop om (nou skielik na 3 jaar) die besluit om ’n formulier op te stel vir selfdegeslag verbintenisse op te skort, met die redevoering dat so ’n besluit onuitvoerbaar is t.o.v. ’n proses-besluit. (Intussen het die beoogde opskorting ook weer die wind van voorgekry en heers daar nou verwarring oor die aangeleentheid.)

3.3.4. Nelis van Rensburg (AS Moderator) en Dėwyk Ungerer (ATR voorsitter) het die Taakspan kom besoek voor die predikantebyeenkoms in Otjiwarongo. Hul kern aanslag met die gesprek was om die “proses-besluit” status van 2019 te herbevestig en daardeur die onskuld van die AS te verdedig in die huidige staat van polarisering en om die vermeende teologiese degradasie waarin die NGK haarself bevind te ontken – soos ook in die gesprek met die ASM dagbestuur.

3.3.5. Die enigste moontlike gevolgtrekking wat vanuit hierdie in-persoon gesprekke met die ASM en hul verteenwoordigers, die gesprekke met die sinodes en die ander skriftelike korrespondensie gemaak kan word, is dat ons in die NG kerk met (minstens 2) uiteenlopende en onversoenbare hermeneutieke te doen het wat (minstens 2) uiteenlopende en onversoenbare teologiese- en dus ekklesiologiese paradigmas tot gevolg het, wat absolute afbreek maak aan enige verstaan of belydenis van kerkverband en ’n onversoenbare dubbel-getuienis na buite straal.

4.Gesprek met ander sinodes

Die meeste streeksinodes het nie regtig positief gereageer nie. Die belangrikste is dat ander sinodes gekontak is en wel die geleentheid gegun is om deel te neem aan die Matteus 18 pad om die AS op te roep tot bekering. Daar was wel stemme dat die NGKN haar nie self moet isoleer nie, maar steeds deelneem aan prosesse. Geen sinode het egter besluit om formeel aan te sluit by die Namibiese oproep tot bekering tot die AS nie. Die algemene indruk is dat daar nie meer veel energie in die NGK as geheel oor is vir hierdie uitmergelende debatte wat nou al ten minste vanaf 2015 duur nie en dat ook behoudenes nou vuisvoos is. As daar iets gaan gebeur, sal dit in Namibië moet gebeur.

5.Pad met gemeentes

Op hierdie punt was die taakspan se opdrag moeilik uitvoerbaar. Die tyd was inderdaad min. Daar is wel inligting gedeel oor die vordering van die Taakspan se werksaamhede op sosiale media en by die Otjiwarongo predikante konferensie. Dis net ook belangrik om te onthou dat alle gemeentes (wat wou) teenwoordig was toe die Namibiese sinode die besluit met ’n groot meerderheid geneem het.

6.Die kernvraag : “Hartgrondige bekering?”

6.1. Dis belangrik om te verstaan dat die Taakspan uiteindelik een groot kernvraag eerlik moet antwoord: Was daar “hartgrondige bekering” of dan enige tekens of voornemens daartoe te bespeur by die AS (ASM)?

6.2. Die Algemene Sinode was nie die afgelope ses maande in sitting nie. Voor die vraag oor bekering beantwoord sou kon word, sal daar dus eers aandag gegee moet word aan een algemene beswaar wat waarskynlik geopper gaan word. Streng gesproke was die AS self nie in vergadering die afgelope ses maande nie en kon dus nie haar besluite herroep nie. Dit is egter nie ‘n geldige beswaar om in te bring nie. Ons Namibiese sinode was deeglik bewus van die implikasies van ons besluit. Die feit is ook dat as die leierskap van die NGK (ASM) hoegenaamd ernstig was oor die eenheid en heiligheid van die kerk, hulle alles in hulle vermoë sou doen om ‘n Buitengewone Algemene Sinode saam te roep. Hulle het die mag daartoe. Punt. As daar by die ASM ‘n teken van berou was, of by die moderature van die samestellende kerke waarmee die taakspan in gesprek getree het, sou hulle dit kon kommunikeer en ten minste hulle positiewe wens kon uitspreek vir ‘n radikale ommekeer. Dit het ook nie gebeur nie. Inteendeel, die huidige koers van die AS is verdedig.

6.3. Die Taakspan kan dus net een eerlike antwoord gee op hierdie duidelike vraag betreffendehartgrondige bekering”:

6.3.1 Daar was ten spyte van uitvoerige korrespondensie en vriendelike gesprekke geen daadwerklike bekering, konkrete teken van berou, aanduiding van skulderkenning of vaste voorneme om ‘n nuwe koers  in te slaan, te bespeur by die ASM nie.

6.3.2 Die 2019 SGV besluit staan steeds en word deur die leierskap verdedig!  Die erkenning dat dit wel “verdeeldheid” veroorsaak het, moet verwelkom word, maar dit kan kwalik as bekering beskou word.2.

6.3.3. Ten spyte van nuwe denke en planne oor herstrukturering van teologiese opleiding is daar ook geen grondige bekering weg van dwaalteologie of openbare skuldbelydenis van die skade wat onbybelse teologiese opleiding aan die kerk aanrig nie. Inteendeel! Ten spyte van die baie getuienis oor die openlike propagering van dwaling by teologiese instellings (dink maar net aan die “queer teologie”) verklaar die ASM dagbestuur soos volg : As kerk is ons dankbaar vir die deeglike teologiese opleiding van ons voornemende predikante in vennootskap met geakkrediteerde akademiese instellings waarby ons oop deure het.” Dit klink nie na berou of bekering nie? Vooraanstaande rolspelers ten gunste van die kerklike goedkeuring van selfdegeslagverbintenisse is steeds betrokke by die vorming en opleiding van ons teologiese studente. Dis rampspoedig!

6.3.4. Die gebrekkige leierskap in ons kerk, wat wantroue by lidmate veroorsaak duur  steeds voort soos die gebrek aan aksie, openbare berou en skuldbelydenis asook ’n terugroep van die kerk na die vaste waarhede van die Woord bewys.3. Die openbare verklaring van die ASM dagbestuur van 12 Augustus 2022 het alle hoop op ‘n moontlike gesindheid van berou en bekering finaal die nek ingeslaan.4.  Hierin word teruggeval op geykte selfregverdiging en vae verdagmakery.

7.Artikel 37 toeligting

7.1. Die Taakspan is gekonfronteer met die moontlikheid dat Artikel 37 nie so eenvoudig is as wat dit op die oog af mag lyk nie.  Ons moet hiervan kennis neem en dit eerlik aan ons sinode stel.

7.2. Die probleem rondom Artikel 37 is dat daar geen eenstemmige interpretasie van die detail is nie. Dis nog nooit in ‘n hof getoets nie.

7.3. Volgens sommige se opinie is daar interpretasie probleme insake  praktiese konsekwensies soos wettigheid van afskeiding (watter meerderheid is ter sprake?), erkenning van opleiding, legitimasie of lidmaatskap. Vir ander is die interpretasie nie so onduidelik nie.5. Buitendien is dit sake wat alles opgeklaar sou kon word tussen ‘n onafhanklike Namibiese kerk en ander NG kerkverbande via eerlike gesprek en onderhandeling.

 

7.4. Meer ernstig van aard is die (verstaanbare) wesentlike bekommernis oor die teologies prinsipiële verantwoording van losmaking van die AS. Sou dit byvoorbeeld die afkondiging van ’n status confessionis vereis? Afstigting, wegbreek en skeuring is tereg woorde waarvoor ons skrikkerig is. Alhoewel dit streng gesproke nie die Taakspan se funksie was om die Namibiese besluit prinsipieel te motiveer nie, sou ‘n paar opmerkings in hierdie verband tog sinvol kon wees :

7.4.1. Die Namibiese sinode het in beginsel reeds die besluit geneem tot losmaking (weereens dis nie die Taakspan se opdrag om daardie besluit te evalueer nie) daarom is daar ‘n tydsbeperking geplaas van 6 maande om die Matteus 18 pad te stap as ‘n finale oproep tot bekering.

7.4.2. Die breuk met die AS het reeds in beginsel in 2016 gekom met Namibië se besluit wat onversoenbaar met die AS standpunt is. Dis Skriftuurlik onversoenbaar, maar ook kerkordelik inkonsekwent ‘n ampsdraer wat nou in een deelnemende kerk onder tug sou kon wees sou met kerklike seën in ‘n ander deelnemende kerk bevestig kon word. Paartjies wat in een sinodale gebied onder tug sou kon kom, sou in ‘n ander sinodale gebied met seën in ‘nhuwelik” bevestig kon word. Dit wat nou in een sinode ’n sonde is, is in ’n ander sinode ’n seën. Dit maak ‘n bespotting van die begrip kerkverband as sodanig.

7.4.3. Die AS is nie die kerk nie, maar ‘n beleidmakende liggaam van deelnemende kerke. (“Kerkskeuring” is dus nie heeltemal die korrekte woord om ons voorgenome aksie te beskryf nie.) ‘n Liggaam wat vir ons ‘n verleentheid geword het en ons op ‘n dwaalweg lei. Om ons los te maak van so ‘n struktuur beteken nie dat ons alle kerke wat aan daardie struktuur behoort noodwendig as vals kerke tipeer nie. Ons behoort tog ook nie aan dieselfde beleidmakende struktuur as die Geref. Kerke of die AGS nie, maar dit beteken nie dat ons hulle noodwendig as vals kerke/kerkverbande beskou nie.

7.4.4. Indien ons van die AS afskei beteken dit nie dat bande met ander deelnemende kerkverbande wat aan die AS behoort noodwendig verbreek word nie. Oor alle bande kan weer nuut en vars besin word en dit sou heelwat moontlikhede vir getuienis en samewerking kon bied met ander kerke vir wie die waarheid van die Woord ononderhandelbaar is.   Dit sou heel moontlik kon gebeur dat bande met een samestellende kerk nouer sou kon ontwikkel as die bande met ‘n ander samestellende kerkverband.

7.4.5. As daar sprake van skeurmakery is dan is die AS en die gebrek aan leierskap een honderd persent daarvoor te blameer. Dis die AS wat met sy besluite de facto reeds skeuring veroorsaak het! Die geykte verskonings, kleitrappery oor wat besluit is (was dit nou ‘n prinsipiële of prosesbesluit, gaan daar ‘n formulier opgestel word vir die bevestiging van selfdegeslagverbintenisse of nie?) en die onwilligheid en onvermoë om hulleself duidelik uit te spreek, getuig nie van leierskap wat die eenheid binne die waarheid nastreef nie.

7.4.6. Wat van die praktiese impak van losmaking? As die NGKN soos reeds in beginsel besluit is, ons losmaak van die AS gaan ons ons broers en susters oorkant die Oranje wat veg vir die behoud van die waarheid enorm baie bemoedig! Dis ons helderste en geloofwaardigste profetiese getuienis op hierdie stadium. En dit gaan rigtinggewende effek op ons nageslag! Afskeiding/losmaking sou die kragtigste profetiese handeling denkbaar kon wees, wat vir die wêreld sou kon wys ons neem die Woord van God ernstig op en vir die moedelose kinders van God weer hoop gee dat daar ‘n kerk is wat bereid is om op te staan teen die tydsgees en morele sowel as teologiese verval van ons dag.

8.Nou of nooit

8.1. Hierdie verslag stel die oortuiging dat ons as Namibiese kerk ons op ’n beslissende oomblik in die geskiedenis bevind. Ons het nou die geleentheid om ons los te maak van ’n liggaam wat ons reeds oneindige skade en verleentheid veroorsaak het. Daar is nou nog ’n kans om iets van ons verlore integriteit terug te kry. Ons gaan dalk nooit weer die geleentheid kry nie, want die vertroue in die kerkstrukture gaan net verder verbrokkel as daar nie nou daadwerklik opgetree word nie. As ons nou huiwer gaan ons ter wille van ’n skyneenheid met die AS die interne eenheid binne die NGKN onherstelbaar skade aandoen.

8.2. Ons moet tog net nie val vir die algemene versoeking sodra die kerk bang is om ’n dapper besluit te neem nie – dit is – stel nog ’n taakspan aan. Reeds in 2016 is daar ’n taakspan aangestel om die band met die AS te ondersoek. Daarvan het niks gekom nie. Dieselfde fout mag nie herhaal word nie. Dit sou verraad wees teenoor ons lidmate om maar net soos voorheen aan te gaan en nog meer taakspanne in die lewe te roep. Daar moet nou dapper opgetree word deur ons sinodebesluit uit te voer!

9.Aanbeveling aan die moderamen

9.1 Daar was geen bekering by die AS (ASM) nie en daarom is die Namibiese sinode moreel en prinsipieel gebonde om in terme van sy Maart 2022 besluit, haar bande met die AS formeel so gou doenlik los te maak ongeag sekere vrae wat nog nie deeglik uitgeklaar is nie. (Dit sou die moderamen dus vrystaan om ‘n objektiewe regsopinie te kry oor die interpretasie van Artikel 37.)

9.2. Daarom die volgende aanbeveling aan die moderamen:

9.2.1        Die moderamen neem met leedwese kennis dat daar geen oortuigende bewyse van hartgrondige bekering by die Algemene Sinode of die Algemene Sinodale Moderamen ten opsigte van die sake wat deur die Sinode van die NGKN geopper is, waarneembaar was nie.

9.2.2.      Die moderamen stel ‘n datum vas vir ’n buitengewone Namibiese sinode in 2023.

9.2.3.      Die moderamen maak ‘n aanbeveling aan die sinode om in die lig van die afwesigheid van hartgrondige bekering by die Algemene Sinode haarself los te maak van die Algemene Sinode kragtens Artikel 37 van die Kerkorde met onmiddellike effek.


TJ de Koning

Lid van die Matteus18 Taakspan

 

VOETNOTAS

1.Natuurlik is die Taakspan se werk geskoei op die volledige besluit en nie die persverklaring nie. Die persverklaring is wel uiters belangrik in die sin dat dit die amptelike sinodale vertolking na buite was, vir gewone mense om te verstaan.

 

2.Daar was wel ’n skriftelike erkenning dat die “2019 SVG besluit verdeeldheid” veroorsaak het in ’n  formele brief van 15 Augustus 2022 van die ASM-dagbestuur. Daar is egter geen berou hieroor getoon of enige begeerte of voorneme om hierdie besluit te laat omkeer nie.

 

3.So skryf Düring Cornelius van Kalkrand in ’n brief aan Die Kerkbode (17 Oktober 2022) : “Ook die Namibiese Sinode se ernstige oproep tot bekering en sondebelydenis, om teen November 2022 gedoen te wees, lê steeds sonder sigbare vrug op die AS-leierskap se tafel.”

 

4.Verklaring van ASM

 

Verklaring van die dagbestuur van die NG Kerk (Algemene Sinode)

 

Ons, die lede van die dagbestuur van die NG Kerk se Algemene Sinode Moderamen, is opgewonde en dankbaar oor die toewyding en dankbaarheid waarmee die NG Kerk in al sy gestaltes die Here dien. Op talle terreine maak die kerk ’n lewegewende verskil en word miljoene se lewe daardeur geraak. Ons is ook dankbaar oor bedieninge en versorging wat dwarsdeur die Covid-pandemie volgehou is en nou ’n nuwe seisoen ingaan. Ons wil dankie sê aan leraars, kerkrade en lidmate wat hul roeping gehoorsaam bly vervul.

 

Die kerk het egter ook oor die afgelope jare interne verdeeldheid beleef. ’n Vreemde taal van verdagmaking en dreigemente het in die kerk opgeklink en die versoeningsboodskap wat Christus aan ons opgedra het in gedrang gebring. In die proses is talle valse beweringe gemaak, soos dat die NG Kerk haar belydenis oor die Persoon, werk en opstanding van Christus versaak; dat ons nie meer ernstig is oor die Bybel as Woord van God nie; die realiteit van die Bose en boosheid in en rondom ons ontken; dat ons die ingrypende aard van sonde en gebrokenheid en daarom ook ons nood aan verlossing geringskat.

 

Wanvoorstellings is ook gemaak oor die besluite van die Algemene Sinode oor selfdegeslag verhoudings. Die waarheid is dat die Algemene Sinode nie in 2019 ’n beginselbesluit geneem het ten gunste of teen selfdegeslagverhoudings nie. Die prosesbesluit wat geneem is, het die gereformeerde beginsel gehandhaaf dat gemeentes selfstandig besluite kan neem oor etiese sake, in hierdie geval oor selfdegeslag verhoudings. Gemeentes het trouens nog altyd besluit oor wie in hulle ampte dien en hoe lidmate pastoraal versorg, begelei en bedien word.

 

Die Moderamen het sedert 2019 by verskeie geleenthede met sinodes in gesprek getree wanneer hulle dit versoek het. Die gesprekke was telkens met deernis gevoer en het gelei tot verheldering. Die Algemene Sinode Moderamen het desondanks die feit dat ons Kerkorde nie voorsiening maak vir drukgroepe nie, ook welwillend uitgereik na die Kairos Netwerk wat op ’n nie-kerkordelike wyse die kerk as gemeenskap van gelowiges se integriteit met verdagmaking en drukgroepvorming ernstig aangetas het. Dit het stelselmatig geblyk dat hulle besware veel verder strek as die 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings. Hulle skaar hulle daarom tans by kerke en groeperinge wat oor talle kwessies wat vir die NG Kerk prinsipieel belangrik is, totaal anders dink.

Die NG Kerk se verbintenis aan God se Woord spreek uit hoe dit Sondag vir Sondag in gemeentes bedien word. Dit spreek óók uit hoe die kerk sover terug as die 1980’s haar ontworstel het aan ’n apartheidsteologie, rassisme as sonde bely het, die gelykwaardigheid van alle mense voor God erken het, vroue tot alle ampte in die kerk en dooplidmate by die Nagmaalstafel toegelaat het. Hierdie standpunte van die sinode het deel geword van ons getuienis en identiteit en kan nie sommer net goedskiks prysgegee word nie. Die NG Kerk is immers daartoe verbind om in ‘n uitdagende tyd en ontwikkelende wêreld gehoorsaam te wees aan Christus, die Here, en nie weg te skram van moeilike vraagstukke en omstandighede wat onreg en lyding veroorsaak nie.

 

As kerk is ons dankbaar vir die deeglike teologiese opleiding van ons voornemende predikante in vennootskap met geakkrediteerde akademiese instellings waarby ons oop deure het. Die onderskeie kuratoria is in openhartige gesprek met sinodes en belanghebbendes hieroor en is verbind tot deursigtigheid en leerbaarheid.

Ons het met dankbaarheid kennis geneem van die moeite wat die tien sinodes, ringe en gemeentes doen om in hierdie tyd almal te help om Christus se wil vir sy kerk te onderskei en die talle geleenthede en ruimtes wat ons kerkorde bied, te benut om saam kerk van Christus te wees. Die antwoord vir ons verskille lê nie in kortsigtige kerkregtelike afwykings van die Kerkorde en die kerkbegrip wat dit verteenwoordig nie. Dit lê in verdraagsaamheid en eensgesindheid.

 

Ons is oortuig dat daar binne die verband van die NG Kerk genoegsame ruimte is om opreg met mekaar te kan praat, in die hart van ons belydenis mekaar te vind en waar daar verskille is, met respek en deernis op weg te gaan. Vir skeurmakery is daar egter nie in die Kerk van Christus plek nie. Vandaar ons oproep om na mekaar te bly luister en te leer, om saam te bid en te werk sodat ons heling mag vind en God saam sal verheerlik.

 

Gustav Claassen

 

namens die Dagbestuur van die Moderamen


Nederduitse Gereformeerde Kerk

 

 

 

 

 

 

5.Johan Ernst (voormalige aktuarius AS) se opinie :

  1. Die uittrede van ‘n samestellende kerk uit verband met die Algemene Sinode geskied met ‘n gewone meerderheid. Slegs Artikels 44.1 tot 4.3 van die Kerkorde is met ‘n tweederdemeerderheid verskans.
  2. Dit is nie gemeentes wat in vergadering van die besluit oor die toepassing van Artikel 37 nie, maar die afgevaardigdes van gemeentes na die vergadering van sinode wat as sinode besluit om ingevolge Artikel 37 uit verband van die Algemene Sinode te tree. Die Algemene Sinode is ‘n sinode van sinodes en nie ‘n vergadering van gemeentes of ringe nie.
  3. Die regverdiging vir uittrede uit verband met die Algemene Sinode is ‘n “stap voor God in die lig van sy Woord” en niks anders nie. Dus behoort die besinning wat die besluit daartoe voorafgaan slegs te gaan oor die Woord en niks anders of niks meer nie. Om een of ander tegniese saak of praktiese implikasie te opper hoort nie tot die besinning nie en kan ook nie ‘n stap voor God in die lig van sy Woord kompromitteer nie. Hier gaan dit dus oor die Woord van God en die Woord alleen (sola scriptura).
  4. Soos kerkvergaderinge hulle besluite in die lig van die Woord neem en daaroor stem, so moet hierdie besluit ook geneem word, nadat daaroor gestem is.
  5. Iemand wat in die minderheid gestem het, moet hom of haar ingevolge Artikel 23 berus by die besluit geneem, op voorwaarde dat daardie besluit nie in stryd is met die Woord van God, die belydenis van die Kerk en die Kerkorde nie. Slegs indien die besluit na die oordeel van ‘n beswaarde in stryd met die Woord, belydenis en Kerkorde wees, kan daarteen geappelleer word.
  6. In die geval van die onmiddellike toepassing van Artikel 37 sal daar nie meer na die Algemene Sinode geappelleer word nie en sal die appèl intern deur die Sinode self hanteer moet word, tensy uittrede volgens besluit eers op ‘n later datum geskied.