BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 27 Februarie 2026

SLANG, SATAN EN SONDEVAL

 - Was die slang van Genesis 3 die duiwel?

 



Genesis 3 is ‘n sleutel belangrike hoofstuk vir die verstaan van God se pad met die mens, en ook die kern moment daarvan, naamlik die oorwinning van Jesus oor die Satan deur sy kruis en opstanding. As die betekenis van Genesis 3 in twyfel getrek word, lei dit daartoe (of dit nou die bedoeling is of nie) dat die evangelie – die goeie nuus van Jesus wat sondaars verlos en van die mag van Satan bevry, afgewater of selfs heeltemal in diskrediet gebring word.

Ek kan die Bybel nie anders lees as ‘n Christen nie. Ek lees daarom ook Genesis 3 as iemand wat  my verlossing op Jesus alleen bou. My hoop is op Hom om my te red van die skuld en die mag van sonde. My verwagting is dat Jesus my ook sal red van die komende oordeel van God, wanneer die mensdom verantwoording sal moet doen van ons lewe hier op aarde.

VERTREKPUNTE EN HOEKPENNE

Wanneer ons as gelowiges die Bybel lees en veral probeer om moeilike gedeeltes te verstaan, is daarbenewens ons afhanklikheid van die Heilige Gees twee ander basiese vertrekpunte wat ek net wil uitlig :

Ons lees die Bybel eintlik van agter af. Ek bedoel dat ons spesifiek ook die Ou Testament lees vanuit die finale openbaring deur Jesus. Hyself is God se finale Woord aan ons.  “In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun...” (Hebreërs 1:1,2) Ons kan die Skrif nie los verstaan van Jesus se woorde en dade nie. Jesus self staan sentraal. Wat in die Ou Testament moontlik vaag en voorlopig is, word deur Jesus helder en duidelik.

Ons lees die Bybel saam met die kerk van alle eeue. Juis omdat ons bely “Ek glo in ‘n heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.”, mag ‘n 21ste eeuse leser nie Genesis 3 lees asof die Heilige Gees nie die kerk alreeds duidelik gelei het in die verstaan van hierdie hoofstuk nie.

 

DIE SLANG

Natuurlik identifiseer Genesis 3 nie die slang as die duiwel nie.  Inderdaad is die hele Ou Testament, baie skaars en geheimsinnig rakende hierdie figuur. Jesus en sy apostels is egter uitgesproke en duidelik oor die Satan/duiwel. Dis asof Jesus as die Seun van God se koms na hierdie wêreld, allerlei buitengewone demoniese aktiwiteit na vore gebring het en op die spits gedryf het. Die duiwel is gedwing om nou sy kop duidelik uit te steek... Die Satan het immers self in Judas ingevaar om Jesus te gaan verraai.

Twee gedeeltes in Openbaring bring die slang van Genesis 3 en die duiwel/satan wel duidelik met mekaar in verband.

“Die groot draak, die slang van weleer, wat Duiwel en Satan genoem word, die verleier van die hele bewoonde wêreld, is toe uitgegooi. Hy is op die aarde neergegooi, en saam met hom ook sy engele.”  (Openbaring 12:9)

“En hy het die draak, die slang van weleer, wat Duiwel en Satan is, gegryp en hom vasgeketting vir 'n duisend jaar lank.” (Openbaring 20:2)

 DIE GETUIENIS VAN DIE KERK OOR DIE EEUE

ByTop of Form

B

 

 By die vroeë kerkvaders vind ons sterk aanduidings dat die slang van Genesis 3 as die duiwel verstaan is.

1. Justinus Martelaar (ca. 100–165)

In Dialoog met Trypho identifiseer Justinus die slang wat Eva mislei het met Satan, en voer aan dat die sondeval die werk was van ’n persoonlike bose mag wat teen God gekant was.

2. Irenaeus (ca. 130–202)

In Teen die Ketteryë (Boek V) stel Irenaeus uitdruklik die slang gelyk aan die duiwel en noem hom “die afvallige engel” wat die mens beny het en Adam en Eva tot ongehoorsaamheid verlei het.

3. Tertullianus (ca. 155–220)

Tertullianus verwys gereeld na die slang as die duiwel, veral in Oor die Vlees van Christus en Teen Marcion, waar hy Genesis 3 as Satan se misleiding interpreteer.

4. Origenes (ca. 185–253)

Origenes leer dat die slang ’n instrument van Satan of ’n manifestasie van hom was. In Oor die Eerste Beginsels bevestig hy dat ’n vyandige geestelike mag deur die slang gepraat het.

5. Cyprianus van Kartago (ca. 210–258)

Cyprianus skryf die versoeking van Eva direk aan die duiwel toe en identifiseer die slang as Satan in sy morele en pastorale geskrifte.

6. Athanasius van Alexandrië (ca. 296–373)

In Oor die Menswording verwys Athanasius na die duiwel as die een wat die mens in die begin mislei het, en verbind hom duidelik met die slang verhaal.

7. Johannes Chrysostomos (ca. 347–407)

In sy Homilieë oor Genesis leer Chrysostomos dat die duiwel deur die slang as sy instrument gewerk het.

8. Augustinus van Hippo (354–430)

In Die Stad van God (Boek XIV) en Letterlike Kommentaar op Genesis identifiseer Augustinus uitdruklik die slang met die duiwel en voer aan dat Satan die dier gebruik het om Eva te mislei.

 Die getuienis van die kerkvaders wys duidelik op ‘n identifisering van die slang met die duiwel, al doen hulle dit nie presies op dieselfde manier nie. Ook die groot tradisies in die kerk van alle eeue sien die slang as die Satan.

Die Rooms Katolieke Kerk leer amptelik dat die sondeval ’n werklike gebeurtenis was en dat daar ’n persoonlike gevalle engel (Satan) is, wat ‘n rol in die versoeking gespeel het. Die Kategismus van die Katolieke Kerk (§391–395) leer dat agter die keuse van ons eerste ouers ’n “verleidende stem” was wat teen God opgestaan het — ’n gevalle engel.

Die Oosters-Ortodokse Kerk glo ook dat die slang met Satan verbind word. Volgens hulle was daar ’n werklike demoniese versoeking. Die sondeval  was’n werklike gebeurtenis in die vroeë geskiedenis van die mens.  Die Ortodokse teologie beklemtoon minder juridiese skuld (soos in die Westerse tradisie) en meer die idee van dood en korrupsie wat deur die duiwel se misleiding in die wêreld ingekom het. Maar die identifikasie van die slang met Satan is standaard in die liturgie en vaders.

Calvyn (Gereformeerde tradisie) in sy kommentaar op Genesis stel dit duidelik dat Satan  homself van die slang bedien as instrument. Die duiwel is die eintlike verleier, maar werk deur ’n geskape middel. Calvyn verwerp die idee dat dit bloot ’n mite of allegorie is. Hy meen Moses beskryf ’n werklike historiese gebeurtenis. Tog waarsku hy teen spekulasie oor hoe presies Satan deur die slang gewerk het. (En ons moet inderdaad nie die spoor wil byster raak met allerhande nietige vrae wat die Skrif self nie beantwoord nie.)

Belangrik: Vir Calvyn  is die sondeval histories noodsaaklik vir die verstaan van erfsonde, totale verdorwenheid en die noodsaaklikheid van Christus se verlossing. Miskien is dit juis hierdie aspekte wat die klippie in die skoen is van die sogenaamde Nuwe Hervormers en hulle postmoderne dissipels – die mens se sonde en totale verdorwenheid is nie gewilde temas in ons dag nie. Dit ontstel die mens se hoogmoed, selfgeregtigheid en eiewaan. Daarom sal hulle Genesis 3, maar ook eintlik maar die hele Bybel afskryf as mites, wat uiteindellik vir ons net mooi sedelessies bevat. Selfs die opstanding van Jesus word dan ook as ‘n mite beskryf! En dis die probleem, as ons alles wat bonatuurlik en vergesog vir ons klink uit die Skrif verwyder, wat bly oor? Wie die sondeval bevraagteken, gaan uiteindellik ook die verlossing van sonde bevraagtken! Wie  die bestaan van ‘n bonatuurlike duiwel betwyfel, gaan ook die unieke Seun van God, gebore uit ‘n maagd, waarlik God en waarlik mens in twyfel trek en met ongeloof skepties aankyk. As die sonde van die eerste Adam afgewater word (tot 'n tipe "mondigwording"), sal die verlossing deur die Tweede Adam maar min vreugde en opgewondenheid en aanbidding by ons opwek. (Romeine 5)


[Daar is gebruik gemaak van KI in hierdie stuk]

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.