BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 26 Augustus 2013

BLOMMELAND BLITSBESOEK

- vinnig, vrugbaar en verrykend.



Soms moet mens maar sommer net oë toeknyp en iets mals aanvang, soos in ‘n mini avontuurtjie. Ek het tans langverlof en het besluit om gou vir my oudste dogter Marisja die blomme in Namakwaland te gaan wys. Ekself het dit tot dusver ook nog maar net op prentjies gesien. As kinders het ons ‘n hele paar keer op die N7 na ons familie in die Kaap provinsie gegaan, maar dit het gedurende Desembermaande gebeur en dan is Namakwaland ‘n dorre bakoond waar mens liewers so min tyd as moontlik wil mors op pad see toe.

Ek en Marisja het in ‘n klein igloe tentjie gekamp en redelik Spartaans oor die weg gekom. As ons vooraf rêrig besef het hoe koud en nat dit hierdie tyd van die jaar in die blommestreke kan word, sou ons seker twee keer gedink het. Maar goed dit was op die ou end net drie aande in Suid-Afrika soos ons met ‘n byna blitzkrieg die pragtige blomme wêreld “verower” het. Of is dit dalk nou ons wat verower is? Inderdaad is hierdie kleurespel van verskeidenheid hartsverowerend en maar net weereens ‘n bevestiging van wat ons in Romeine 1 vertel word. God se onsigbare eienskappe soos sy ewigdurende krag en Godwees is duidelik sigbaar in sy skeppingswerke! (Romeine 1:18ev) Dit het natuurlik die implikasie dat geen mens eendag ‘n verskoning sal kan hê hoekom hy nie God as God gedank en aanbid het nie! Die dwase sondeverduisterde mens het egter geen begrip van wat die skeppingswerk (soos die blomme) vir ons wil vertel nie, en aanbid gevolglik die skepsels in plaas van die Skepper. Dit wek uiteraard God se toorn en het verskriklike gevolge...

Nie net verkondig die blomme God se heerlikheid nie, maar ons was ook bevoorreg om in die medemenslikheid van ander iets van Sy sorg en liefde te ervaar. By Kamieskroon het ons kennis gemaak met Peet en Elsa Kruger (oud Namibiërs) wat vir ons werklik goed was en mens ook van waardevolle raad bedien betreffende die beste plekke om blomme te kan sien. As jy in daardie omgewing kom, kan jy gerus hulle koffiewinkeltjie, KUIERVREUGDE gaan opsoek. Dit het ‘n heerlike Afrikaanse en Christelike atmosfeer!

‘n Ander “engel” wat die Here oor ons pad gestuur het (of was ons dalk die gaste wat eintlik engele was? – net ‘n grappie), was Joey Warrington van die WAPAD GASTEHUIS van Nieuwoudtville. Ons het nie enigsins vooraf plek bespreek nie en moes toe uitvind dat alle kampeerplekke beset was. Joey het toe goedgunstiglik toegestem dat ons ons tentjie by haar gastehuis kon opslaan (kosteloos). Dit was ‘n wonderlike uitkoms in hierdie yskoue Nieuwoudtville van die Bokkeveld, want hierdie “bolplant hoofstad” van die wêreld, sou net sowel ook as toevlugsoord vir ysbere beskryf kon word! Joey se vriendelikheid (en warm stort) het ons gered. Nieuwoudtville, saam met Joey se opregte gasvryheid was beslis een van die grootste verrassings op die “trippie”, want die hoogteligging van hierdie streek, maak dat dit radikaal verskil van die dorre aard van die naburige Vanrhynsdorp en Knersvlakte. Byna ‘n weggesteekte Alice se wonderwêreld!

Dit was alles baie vinnig (ons het selfs ook ‘n draai in die Sederberg en die weskus gemaak), maar tog vrugbaar en die moeite werd!

In God se skepping!
















Peet doenig in KUIERVREUGDE








By Lambertsbaai










Langs die Sishen-Saldanha spoorlynpad












Doringbaai










WAPAD GUESTHOUSE
     .... in mis gehul











Waterval, 7 km van Nieuwoudtville








 My ou "Lente blommetjie" (Marisja Lente) tussen die blomme



  
 Helder geel Katsterte

Terug oor die Oranje in ons land! (naby Noordoewer)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.