BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 26 September 2013

SJUUT! DIE KINDERS MOENIE HOOR NIE!

- die ongewilde waarheid van Goddelike wraak.

“Nie voor die kinders nie!” Dis seker ’n frase wat nie meer baie vandag gehoor word nie, want kinders is deesdae alles gewoond en daar is eintlik nog maar min taboe onderwerpe. Tog is daar ten minste een saak waaroor mense baie sku geword het om te praat...
en dit is God se oordeel, wraak en hel. Al hoe minder mense glo in God se toorn en dat daar ’n plek soos ’n hel is. Ons moet egter kennis neem van die volle boodskap van die Skrif, en deel van daardie boodskap is dat God ’n God is wat wraak uitoefen op sy vyande. Dis trouens orals in die Skrif te vind van Genesis tot Openbaring! (As rammetjie-uitnek-teoloë verklaar dat daar geen hel is nie, kanselleer dit nie die onfeilbare Woord van God se uitsprake nie. God laat Hom immers nie deur mense voorskryf nie.)

Soos ook met ander sake kan mens met betrekking tot die toorn van God natuurlik ook na twee kante fouteer :
~ sommige praat oor God se oordeel en die hel op ’n ongevoelige, oorgemaklike manier en verwys sommer mense haastig na die hel. Dit pas nie! Die onderwerp van God se oordeel laat eerder mens se verstand uitsny! Dit vervul mens met ontsag en dwing mens tot selfondersoek. Dit mag nooit ‘n instrument van emosionele manipulasie of ‘n goedkoop verkoopsfoefie vir die evangelie word nie. As ons oor die hel praat moet dit met diep ontsag en bewoënheid wees.
~ aan die anderkant is dit net so ’n groot fout om God se oordele te verswyg. Dis meer as net ‘n fout, dis wreed, want dit laat sondaars voortsluimer in ‘n illusie van valse gerustheid.

Die Bybelse feit is egter baie klinkklaar: 

God is ’n God wat Hom wreek op sy vyande. 

Een boek wat baie duidelik hieroor handel is die profeet Nahum se profesie oor Nineve. Goddelike wraak is natuurlik nie dieselfde as menslike vergeldingswaansin nie. God se wraak vloei nie voort en word nie aangevuur deur sondigheid of wispelturigheid nie. Nee, dis juis ’n uiting van sy heiligheid en regverdigheid. Hy neem wraak omdat Hy regverdig is en ’n onderskeid maak tussen reg en verkeerd. Let wel – “onderskeid” Alles wat mense doen is maar nie net sommer reg nie! Daar is dinge wat God goedkeur en van hou, daar is dinge wat Hy haat! Alles wat op die TV gedoen en gewys word, is nie noodwendig toelaatbaar nie. Die meerderheid se siening strook nie noodwendig met God se wil en bepalings nie... As die samelewing en algemene opinie iets geoorloof verklaar, is dit nog nie te sê God keur dit goed nie! (Dink aan saambly, Lotto speel..., maar ook “onskuldige” dinge soos skinder, die najaging van plesier en geld...) Die openbare mening of Die Huisgenoot is nie ons norm nie, God se Woord is die enigste standaard. En God sê duidelik in sy Woord wat is reg en verkeerd!

GOD NEEM WRAAK! Nou hoor mens al die beswaar : “Ja, maar dis in die Ou Testament. In die Ou Testament is God mos streng en neem Hy wraak, maar in die Nuwe Testament lees ons net van God se liefde.” Dit geliefdes is ‘n Sataniese leuen! Om mee te begin : God is dieselfde God in die Ou en Nuwe Testament, die Vader van ons Here Jesus Christus. Maar benewens dit praat die Nuwe Testament net so duidelik oor God se toorn en wraak. Om net enkele voorbeelde te noem:
~ Jesus self het baie dikwels na die hel* verwys en gewaarsku oor God se straf. Dink maar aan die talle gelykenisse wat hieroor handel.
~ Ook Paulus in 2 Tessalonisense 1:3-10 “Ons moet God altyd oor julle dank, broeders, soos dit billik is, omdat julle geloof grootliks toeneem en die wederkerige liefde van elkeen van julle almal groter word, 
sodat ons self in die gemeentes van God oor julle roem vanweë jul volharding en geloof onder al julle vervolginge en die verdrukkinge wat julle verduur-- 'n teken van die regverdige oordeel van God, dat julle die koninkryk van God waardig geag mag word, waarvoor julle ook ly; aangesien dit reg is by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergelde, 
en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. 
Hulle sal as straf ondergaan 'n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte, 
wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo, in daardie dag; want ons getuienis het by julle geloof gevind. (Let op dieselfde gedagtegang as in Nahum - God straf sy vyande wat sy mense die Christene laat ly.)
~ Die onbekende skrywer van Hebreërs 10:28-31 “As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie, hy word doodgemaak.
Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het?
Ons weet tog wie Hy is wat gesê het: "Dit is my reg om te straf; Ek sal vergeld;" en verder: "Die Here sal oor sy volk oordeel." Dit is verskriklik om in die hande van die lewende God te val.”
~ Die apostel Johannes in Openbaring 19:11-15 "Toe het ek gesien die hemel is oop. Daar was ‘n wit perd. Sy Ruiter word die Getroue en die Betroubare genoem. Met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog.
Sy oë het soos vuur gevlam, en op sy kop was daar baie heerserskrone. Daar was ‘n Naam op Hom geskrywe wat niemand anders ken nie, net Hy self.
Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: "Die Woord van God."
Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad.
Uit sy mond het daar ‘n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met ‘n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige.” Op grafiese manier word die oordele van God wat deur Jesus voltrek word hier uitgebeeld. Dis soos druiwekorrels wat in ‘n parskuip vermorsel word...

Goed ek hoor wat die Woord sê, maar hoe pas wraak en oordeel by ‘n God van liefde...? Kyk na ’n paar duidelike logiese redes waarom ons moet (kan) glo in ’n oordeel en ewige straf van ‘n liefdevolle God.

1) God se heiligheid en geregtigheid vereis dit. God neem wraak juis omdat Hy goed is en onderskeid maak tussen goed en sleg, reg en verkeerd. God se sin vir regverdigheid en billikheid bring Hom tot vergelding. Uit Nahum, 2 Tessalonisense en Openbaring is dit baie duidelik dat ten minste een motief vir sy wraak juis is om diegene wat sy mense verdruk en vervolg het te vergeld met hulle verdiende straf. Hierdie feit is ‘n groot troos vir God se verdrukte en mishandelde kinders van alle eeue. God is nie blind vir onreg nie (al voel dit soms vir ons so), Hy gaan dit baie beslis straf, op sy tyd wanneer Hy dit goed dink.

Maar God straf nie net verre vreemdes nie, sy oordele raak ook sy eie volk. Hiervan is daar natuurlik baie voorbeelde in die Ou Testament, maar ook die kerk in die Nuwe Testament word sterk hieroor gewaarsku. (Hebr 10:30) Diegene wat sy genade minag en in afvalligheid volhard kry met sy wraak te doen. (dink maar aan Ananias en Safira, lidmate van die eerste gemeente in Jerusalem) 

2) Ons eie sin van geregtigheid , selfs al is dit hoe verdorwe en gebrekkig laat ons besef daar moet iets soos ’n oordeel wees en dat alle mense nie hemel toe gaan nie. As iemand glo dat alle mense gered word (Postmoderne mense nie glo dikwels nie in iets soos skuld en sonde nie),vra net vir hom of hy gelukkig sal voel as hy in die hemel kom en ’n onberouvolle glimlaggende Hitler**, Stalin of Mugabe verwelkom hom! Hulle wat verantwoordelik was dat miljoene op wrede wyse gesterf het! 

3) Sonder ’n God wat wraak uitoefen verdwyn die noodsaak van Jesus se lyding en verloor die kruis betekenis. As God in elk geval nie van plan is om goddelose mense te straf nie, waarom moes Jesus sulke intense lyding deurmaak? Waarom moes Jesus dan gestraf word aan die kruis? As ons sondes opsigself nie die hel verdien nie, dan is dit mos onverstaanbaar en onregverdig dat Jesus helse smart en Godverlatenheid aan die kruis moes beleef. God se liefde word gewys aan die kruis as Hy weens sy liefde vir ons sy oordele op sy Seun uitgiet in ons plek! Regverdige oordeel en liefde kan nie geskei word nie, die een gee juis inhoud aan die ander.

NAHUM

Terug by Nahum hoofstuk 1:

vers 2 Die Here is ‘n God wat baie begaan is oor sy volk, ‘n God wat Hom wreek. Die Here wreek Hom in sy gloeiende toorn, die Here wreek Hom op sy teëstanders, sy toorn ontvlam teen sy vyande.

vers 3 Die Here is lankmoedig, maar sy krag is groot: Hy laat geen skuldige ongestraf nie. Hy kom in rukwind en storm, wolke is die stof onder sy voete.

vers 4 Hy spreek die see aan en laat dit droog word, Hy laat al die riviere opdroog. Basan en Karmel verdor, die groenigheid op die Libanon verwelk.

vers 5 Berge bewe voor Hom, heuwels wankel; die aarde, die wêreld en almal wat daarin woon, deins terug wanneer Hy verskyn.

vers 6 Wie kan bly staan voor sy woede? Wie kan sy gloeiende toorn weerstaan? Sy gramskap breek deur soos ‘n veldbrand. Rotse word voor Hom uit uitmekaar gebreek.

vers 7 Die Here is goed, Hy is ‘n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir dié wat by Hom skuil.

vers 8 Maar met ‘n vloed wat alles meesleur, vee Hy die plek weg waar Nineve lê, jaag Hy sy vyande die duisternis in.

vers 9 Wat julle ook al teen die Here bedink, Hy maak dit tot niet. Daar sal nie weer verdrukking wees nie.

vers 10 Al is julle inmekaargevleg soos dorings, en al is julle deurweek van drank, julle sal soos kurkdroë stoppels verbrand word.

vers 11 Daar het een uit jou gekom, Nineve, wat kwaad bedink teen die Here, planne wat nie sal slaag nie.

vers 12 So sê die Here: Al is hulle hoe sterk, hoe baie, hulle sal afgemaai word en tot niet gaan. Ek het jou verneder, my volk, maar Ek sal jou nie weer verneder nie.

vers 13 Ek breek nou die juk wat op jou is, Ek vernietig die bande wat jou bind.

vers 14 Maar oor jou, Nineve, beveel die Here: "Jou naam sal nie meer genoem word nie!" Ek vernietig die beelde in jou tempels, Ek grawe jou graf, want dit is klaar met jou.

vers 15 Kyk daar, oor die berge kom ‘n boodskapper aangehardloop wat goeie nuus aankondig: Vier jou feeste, Juda, betaal jou geloftes! Die verdrukker sal nie weer deur jou land trek nie, hy is verslaan, vernietig.

Nahum praat onverbloemd oor God se wraak, maar gelukkig is dit nie al nie. Dit gaan oor meer. Hy gee vir ons ’n gebalanseerde beeld van God. God is begaan oor sy volk, Hy gee om vir sy mense! (2) God is ook baie geduldig. (3) Hy is nie ‘n onbeheerste wreedaard nie, maar sy geduld moet nie verkeerd verstaan word nie, dit beteken nie Hy is swak nie. God is goed en daarom bied hy skuiling vir mense in nood. (7) God se regverdige oordeel oor sy vyande en vernietiging van die verdrukker is goeie nuus vir die volk. (15) God maak ’n duidelike onderskeid tussen sy volk en sy vyande. Trouens God wreek Hom op sy vyande juis omdat Hy so begaan is oor sy volk. Sy liefde vir sy mense is nog groter as sy wraak oor sy vyande. 

DIE BELANGRIKE VRAAG

Ons het gesien hoe die profeet en ook andere die felheid van God se toorn beskryf. Dit bring ons by die vraag :“Wie kan bly staan voor sy woede? Wie kan sy gloeiende toorn weerstaan?” (6) Dis ’n vraag waarop elkeen van ons ’n antwoord moet kry. Dit bring ons weer by die kruis uit. By die kruis op Golgota word al ons antwoorde verskaf. By die kruis sien ons ’n praktiese demonstrasie, meer nog ‘n konkrete uitoefening van Goddelike wraak oor sonde. Maar juis by die kruis maak God van sy vyande vriende. “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

BY DIE KRUIS MAAK GOD VAN VYANDE, VRIENDE!

Hierdie is die heerlike versekering wat elke gelowige mag aangryp! "Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word.
Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word.” (Romeine 5:8-10) God straf sy vyande en die vyande van sy volk, maar Hy maak juis ook van vyande kinders! Hoe is dit moontlik? Hy het sy vyande met homself versoen deur Jesus Christus se dood aan die kruis. Hierdie versoening is nie vir almal nie, maar is vir almal wat glo in Jesus Christus en hulle tot Hom bekeer. Diegene wat hierdie versoening verwerp bly onder God se toorn en sal ’n ewige straf ondergaan.

Weereens : God se oordele is skrikwekkend en ons moet met ontsag altyd in gedagte hou dat God sonde haat en straf. Die wat die evangelie glo kry egter ’n heerlike versekering. “God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word.
Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe.
Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.” (1 Tessalonisense 5:9-11!) Let op : Die grond van hierdie versekering is Jesus se kruisdood in ons plek “wat vir ons gesterf het”!

Geliefdes VLUG vir God se toorn. Vlug na die enigste veiligheid , die middelaar Jesus Christus. Skuil by Hom. Vlug na Jesus NOU en moenie as dit te laat is na grotte en spelonke vlug nie!

Voetnotas

*In sy verwysing na dit wat ons hel noem (dis ‘n woord van Germaanse oorsprong) het Jesus dikwels van die Griekse woord “Gehenna” gebruik gemaak. Dis ‘n transliterasie van die Aramese vorm van die Hebreeuse ge-ben-hinnom, die vallei van die seun van Hinnom. Dis ‘n vallei wes en suidwes van Jerusalem met ‘n veelbewoë geskiedenis. Onder andere het koning Manasse sy seuns hier aan die afgod Molog geoffer. As deel van sy hervormings het koning Josia hierdie plek ontwy. (2 Konings 23:10ev)  Jeremia het ‘n groot slagting van mense hier geprofeteer. “En hulle het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand--iets wat Ek nie beveel het nie en in my hart nie opgekom het nie. 
Daarom, kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat nie meer gesê sal word: Tofet en die dal van die seun van Hinnom nie, maar Moorddal. En hulle sal in Tofet begrawe, omdat daar geen plek sal wees nie.” (Jeremia 7:31,32) 

Ook die profeet Jesaja praat oor hierdie plek. (Jesaja 30:33) "Want 'n Tofet is van gister af gereedgemaak, ook is dit vir die koning berei; diep en wyd het Hy die houtstapel daarvan aangelê met vuur en hout in menigte; die asem van die HERE is soos 'n stroom van swawel wat dit aan die brand steek."  Jesaja 66:24 meld van God se oordele wat buite die stad gesien sou word : “Wanneer hulle uit die stad uitgaan, sal hulle die lyke sien van die mense wat hulle teen My verset het. Die wurms wat aan hulle vreet, sal nie vrek nie, en die vuur waarin hulle brand, sal nie geblus word nie; hulle sal iets afgrysliks wees vir al wat leef.” (merk op die ooreenkoms met Jesus se waarskuwings oor die hel)

‘n Mens hoor dikwels dat Gehenna in die Romeinse tyd ‘n ashoop was wat gedurig gebrand het. Hiervoor is daar blykbaar geen werklike bewyse nie. Die agtergrond soos hierbo gesien in Jesaja en Jeremia wys egter duidelik dat die konnotasie van hierdie plek met God se wraak reeds terug strek tot Ou Testamentiese tye. In die sinoptiese evangelies gebruik Jesus die woord Gehenna 11 keer om die teenoorgestelde van lewe in die Koninkryk van God aan te dui. Dis vir Hom die plek waar God beide siel en liggaam vernietig (Matteus 10:28) en waar daar ‘n onuitbluslike vuur brand (Markus 9:43).

Soos dit die geval is met baie Nuwe Testamentiese begrippe lê die wortels van ewige straf en hel reeds in die Ou Testament.

Die feit dat die spesifieke woord “hel” nie in die Nuwe Testament voorkom nie, verander natuurlik niks aan die werklikheid daarvan nie. Dit gaan nie oor die woord as sodanig nie maar oor die konsep/plek. Dis die plek van ewige straf en Goddelike wraak. Hiervoor het Jesus ‘n reeds bestaande konsep uit die Ou Testament (en ook later Joodse apokaliptiek) gebruik, naamlik Gehenna, en ‘n vollediger betekenis daaraan gegee. Ons almal weet tog dat bestaande woorde met nuwe betekenis gelaai word. Dink maar aan die woord “muis”. In die rekenaar wêreld beteken dit nie meer bloot ‘n harige soogdiertjie nie...

** Ek probeer natuurlik nie om God te speel en Hitler tot die hel te veroordeel nie. Die punt is maar net om te wys dat morele relatiwisme onhoudbaar is en in die mens se gesig ontplof. Vir die grootste sondaar is daar genade mits hy hom in berou tot Jesus gewend het... God se genade beteken egter nie dat alles maar reg is nie!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.