BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 06 Maart 2015

BLY BY DIE BYBEL

- en hou koers in moeilike tye!


Ons almal het al moeilike of swaar tye beleef. Ons beleef nou weer ‘n moeilike tyd met ‘n groot droogte. (kliek op DROOGTE) Natuurlik het elkeen sy eie idee wat moeilike tye behels... As daar finansiële druk is, as daar spanning by die werk is, vir sommige as dit eksamen tyd is, of as die meisie in wie jy belangstel, nie in jou belangstel nie... Paulus skryf ‘n brief aan die jongman Timoteus. Hy waarsku hom teen swaar tye, moeilike tye... Waaroor het hierdie moeilike tye gegaan? Wat was so swaar en sleg? Ons lees daarvan in 2 Timoteus 3:1ev “Dít moet jy weet: in die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig; hulle sal liefdeloos en onversoenlik wees, kwaadpraters, bandeloos en wreed, sonder liefde vir die goeie;hulle sal verraaiers wees, roekeloos en hooghartig. Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie. Bly weg van sulke mense af.” (2 Timoteus 3:1-5)

Dit kom daarop neer, mense sal al meer goddeloos en vals wees! ‘n Totaal verkeerde waardesisteem wat eerder op genot as God fokus! Mense sal nog lyk en praat soos Christene (deel wees van die kerk), maar daar sal geen krag in hulle lewens wees nie. Geen krag om heilig te lewe en sonde te oorwin nie.

Hierdie moeilike tye sal gevaarlik wees vir God se kinders. Hoekom?

Dis ‘n tyd van vervolging. “Watter vervolging moes ek nie alles verduur nie! Maar die Here het my uit almal gered. Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word.” (11,12)

Dis ‘n tyd van valse lering, misleiding en afdwaling. “Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger. Hulle mislei ander en word self mislei.” (13) Ander mense sal self die pad byster raak maar ook ons probeer wegtrek van God se pad af en vir ons valse dinge in ons koppe inprent.(Kliek op ABEL)

Die moeilike tye beteken dat ons die gevaar loop om die hemelse prys mis te loop. Dit dreig om ons geestelik te laat verdwaal en koers te laat verloor. 

Nou gee Paulus praktiese raad aan Timoteus (en aan ons) hoe om seker te maak dat ons nie koers sal verloor nie. Advies oor hoe om veilig ons hemelse bestemming te bereik. Hy sê vir Timoteus, jy moet hou by wat jy geleer het, want jy weet mos by wie jy dit geleer het! Maar dan gaan Paulus verder. En sy groot raad is : Bly by die Bybel, wat jy al van kleins af ken! (Terloops ouers, hier is vir julle ‘n belangrike boodskap... Die fondasie van verlossing word reeds van jongs af gelê by jou kinders. Gereelde huisgodsdiens! Wee, die arme kinders wat dit moet ontbeer...)

Kom ons kyk vinnig na 2 Timoteus 3:14-17.

“Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.
Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

Hoekom is die Bybel so belangrik? 

Opsommend kan ons sê : Die Bybel gee vir ons die regte kennis/inligting, sodat ons in Jesus kan glo, sodat ons gered kan word. Die Bybel vertel van Jesus en net Hy kan ons verlos. Belangrik, die Bybel self red ons nie, maar vertel ons hoe ons deur Jesus gered kan word. (‘n Bybel op jou bedkassie gaan jou dus nie in die hemel bring nie.) Die groot punt wat Paulus maak is dat ons maar die Bybel kan glo, want dis deur God geïnspireer. God self het deur sy Gees in die harte van die Bybelskrywers gewerk sodat hulle vir ons die ware en suiwere boodskap oor Jesus kon neerskryf.* Hy onderstreep die kosbaarheid, belangrikheid en onmisbaarheid van die Woord – om dit te ken en natuurlik te gehoorsaam.

PRAKTIES

Dan raak Paulus baie prakties en verduidelik mooi waarmee die Bybel ons help.

Die Bybel onderrig (leer) ons die waarheid. Die Bybel is soos ‘n padteken of ‘n GPS. Die waarheid is die waarheid van Jesus. Oor sy kruis en sy opstanding en dat ons net deur Hom gered word en deur niemand anders nie.

Die Bybel bestry dwaling. Dwaling is al die valse leringe, al die misleiding wat ons hoor. Dis soos ‘n siekte. Paulus beskryf dwaling as ‘n vretende kanker! (2 Timoteus 2:17) Die Bybel is die regte medisyne, die regte inspuiting vir die siekte van valse lering. As jy moedeloos en deurmekaar raak deur mense se stories en leuens, gaan terug met ‘n kinderlike gemoed en verwagting na die Bybel en jy sal weer geestelik gesond word.

Die Bybel help ons om verkeerdhede reg stel. Die Bybel is soos ‘n stel "spanners" wat my geloofskarretjie weer aan die loop kry! Dit help ons om weer reg te dink, waar ons begin verkeerd dink het. Om weer opreg te glo en te volhard.

Die Bybel kweek by ons die regte lewenswyse. Die Bybel is soos ‘n “gym” waar ons geoefen word om gesond en reg te leef. Die Bybel oefen my om die regte leefstyl te hê, die regte keuse en besluite te maak. Die Bybel maak my sterk om die regte lewe te leef al sien en hoor ek elke dag ‘n klomp verkeerde dinge.

Die Bybel oefen ons om reg te dink en reg te doen! Leer en lewe!

Sonder die Bybel sal ons nie die moeilike tye van dwaling, afvalligheid en valsheid kan oorleef nie. Sonder die Bybel sal ons wegdwaal van God se pad en nie by ons hemelse bestemming aankom nie.

Positief gestel, die Bybel berei ons voor om ‘n lewe te leef wat God gelukkig maak. (17) Is jy ernstig om vir God te leef? Wel dan sal jy erns met die Bybel maak. Jy sal erns maak met kerk toe gaan, erns maak met stiltetyd, erns maak met gehoorsaamheid. Ons leef in moeilike tye, moenie moed verloor nie, maak net erns met die Woord van God!

BLY WEG VAN VERKEERDE MENSE EN BLY BY DIE BYBEL!

*Dis baie eenvoudig gestel, maar hierdie is nie die plek om ingewikkelde inspirasie teorieë te bespreek nie.


VRAAG : HOE MOET ONS DIE BYBEL LEES? DIE KORT ANTWOORD IS : MET JESUS AS VERTEKPUNT IN SY GEHEELKONTEKS. (Kliek op KONTEKS en ook op LUGFOTO)

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.