BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 11 Januarie 2012

LUGFOTO VAN DIE BYBEL Deel 1


Wat is die groot deurlopende tema van die Bybel? Wat is die groot Bybelse storielyn? Die geheelprentjie? Dis baie belangrik, want dit beïnvloed wat jy glo en hoe jy leef.  Wie dit verstaan het die regte fokus op Jesus ons Verlosser tot eer van God!

Iewers het ek die volgende getuienis raakgeloop :

"I found it so moving when I started to discover how the Old Testament is basically one long record of failure—the failure of God’s people time and time again to live rightly, to rescue themselves—and that the stories in the Old Testament are all getting us ready for the One who is coming. They are all signposts to the True Hero, the True King, the True Prince, the True Servant, the greater David, the greater Daniel. The Rescuer.

As a child, I thought the Bible was packed with rules you had to keep (or God wouldn’t love you) and heroes setting examples you had to follow (or God wouldn’t love you). I thought, in short, that the Bible was all about me and what I should (or shouldn’t) be doing. Until I read a Story.

It’s the Story running like a golden stream underneath all the other stories in the Bible: the story of how God loves his children and comes to rescue them. Suddenly, I realized the Bible wasn’t about me and what I should be doing at all. It was about God and what he had done. And it changed everything."

So kom ons kyk na die groot Bybelse storielyn. Wat is die storie en wat is die hooftema? Wat is die groot saak waarmee God besig is? Wie is God en wat het Hy gedoen? Waarnatoe is God oppad? 

Hoe kan ons hierdie vrae antwoord?  Die beste plek om te begin is sekerlik Jesus Christus self. In Hom vind ons immers die finale openbaring en spreke van God. (Hebreërs 1:1-3) As ons na Jesus (en Johannes die Doper) se prediking kyk is daar een groot tema wat uitstaan :

DIE KONINKRYK VAN GOD.

Lees nou : Matteus 3:1,2; Matteus 4:23; Matteus 13 (Koninkryksgelykenisse); Markus 1:14,15 en onthou sommer weer die Onse Vader gebed wat sê: "Laat U Koninkryk kom"

Jesus sluit in sy prediking aan by ’n konsep wat reeds bestaan vanuit die mense se kennis van die Ou Testament! Die groot storie is die storie van God wat sy Koninkryk vestig!


Wat beteken die begrip Koninkryk?

Minstens 4 elemente is nodig voor mens van ’n Koninkryk kan praat. Daar is nodig :
’n Koning,
'n Onderdane/Volk,
'n Land, 
’n Wet/Grondwet/Struktuur wat die relasie tussen koning en onderdaan bepaal. Presies dieselfde 4 elemente is ter sprake by God se Koninkryk.


Belangrik : Hierdie vier temas vind ons deurlopend in die Ou  sowel as Nuwe Testament. Dit word telkens herhaal, maar net met groter en ryker betekenis.

Reeds in Genesis 1 en 2 sien ons die grondstruktuur en basiese elemente van God se Koninkryk

Die Koning is God,
Die volk is die mens (Adam en Eva),
Die land is die paradys (tuin van Eden),
Die wetstruktuur : God praat met hulle (Woord) of mens sou ook reeds kon praat van ’n verbondsverhouding vanweë die feit dat God die Skepper van alles is.

Belangrik : Voor die sondeval was al hierdie persone en elemente in ’n volkome harmonie met mekaar!

God gesels met die mens, tussen mense is daar geen konflik nie, tussen mens en natuur is daar geen wrywing nie ens.

God se Koninkryk is dus : Daar waar God regeer oor sy mense op sy plek deur sy Woord in ’n situasie van volkome harmonie en geluk!

Die SONDEVAL verander alles!

Genesis 3 is uiters belangrik. Die mens rebelleer, verwerp God se koningskap (verklaar homself onafhanklik) en alle verhoudings word gevolglik versteur :

Die mens is nou bang vir God. (Hy kruip weg en die ongeredde mens doen dit natuurlik vandag nog steeds!)

Mens en mens is in konflik. (Adam beskuldig vir Eva, die konflik word so erg dat die heel eerste gesin ’n gesinsmoord beleef toe Kain vir Abel vermoor. Hierdie lewe van onderlinge konflik is steeds die kenmerk van menslike bestaan in huwelik, gesin en maatskappy.)

Die mens en die land is ook nie meer in harmonie nie. (Die mens word weggejaag uit die paradys, die aarde word vervloek, dorings en distels verskyn, pyn en dood word deel van die aardse bestaan) Ons is maar te bewus van hierdie konflik : besoedeling, uitwissing van spesies, oorbenutting, rampe...

Natuurlik is die mens nie regtig onafhanklik nie, maar ’n slaaf en onderdaan van Satan. Sonde is die instrument (kettings) van slawerny in die hand van die duiwel.

 

God se Koninkryk is dus geskend, want daar is nie meer volkome harmonie nie. God is egter nog steeds die almagtige Skepper en Koning van die heelal en sal nie sy Koninkryk laat vaar nie. Deurdat die mens aan Satan toegegee het, is die Satan nou die vors van hierdie wêreld, maar hy is nie in beheer van die heelal en die voortgang van die geskiedenis nie, God is! Niemand, ook nie Satan kan sy planne stuit om sy Koninkryk weer op te rig nie.

Die Bybelse geskiedenis is dus ’n geskiedenis van God se HERSTEL van sy Koninkryk wat uiteindelik uitloop op die VOLEINDING by die wederkoms van Jesus en die skepping van ’n nuwe hemel en nuwe aarde. Die elemente van die Koninkryk is sigbaar in die verskillende fases van die heilsgeskiedenis (die verlossingsgebeure).

Jesus het gekom om die Koninkryk te herstel! Met sy koms het die Koninkryk dus naby gekom. Die betekenis van sy koms en sy oproep tot bekering kan net verstaan word in hierdie breë raamwerk van die herstel van die Koninkryk. Die Ou Testamentiese geskiedenis vorm die agtergrond en die voorbereiding daarvoor... Na hierdie geskiedenis sal ons volgende keer verder kyk!

Om deel 2 te lees kliek op LUGFOTO 2

(Met erkenning aan Graeme Goldsworthy, ACCORDING TO PLAN)


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.