BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 13 Maart 2015

HEEL WORD IN GOD SE HUISGESIN

- waar die genade van God ons verander en herstel.

Ons bly in ‘n stukkende wêreld met stukkende mense. Die plek waar hierdie gebrokenheid die duidelikste gesien word is binne huwelike en huisgesinne. Tussen man en vrou, ouers en kinders.... Reg van die begin af kon die verwoestingswerk van sonde die duidelikste in mensverhoudinge binne gesins en familieverband gesien word. Die heel eerste gesin beleef ‘n broedermoord! Kain slaan sy broer Abel dood. Noag gaan hom te buite aan drank en sy eie seun Gam spot met hom en bring ‘n vloek oor sy nageslag. In Abram se gesin ontstaan ‘n konflik tussen die twee seuns Ismael en Isak wat nou nog voortduur. Onder Isak se seuns gaan dit nog erger. Jakob bedrieg sy tweelingbroer Esau. Byna is daar nog ‘n moord. Die stukkendheid word voortgesit onder Jakob se eie seuns. Josef word voorgetrek en sy broers haat hom so dat hulle hom wou doodmaak, maar uiteindelik as slaaf verkoop. Van die een geslag na die volgende is daar ‘n patroon van leuens, voortrekkery, en broederkonflik voortgedra. Verder aan in die geskiedenis is Dawid se gesin en nageslag ‘n goeie voorbeeld van stukkende verhoudings. Dit begin met sy owerspel met Batseba en die moord om dit te probeer toesmeer. Die gevolge is onder andere bloedskande, broedermoord, opstand en baie ander ellendes... 


Hierdie stukkendheid raak ons almal, maar word oor die algemeen baie goed weggesteek. Dis grootliks onsigbaar. Soos ‘n ysberg. Ons sien op die oppervlakte net almal se mooi en goeie kant. Vriendelike gesigte, kerkklere, mooi maniere en korrekte antwoorde... Maar binne in huise en huwelike is daar groot smart en ellende. Agter geslote deure bloei ons... Die grootste skok is dat hierdie dinge gebeur in die huise van mense wat Christene is. Nie net naamchristene nie, maar mense wat werklik kan getuig, dat hulle die Here as Verlosser leer ken het, maar ‘n klomp van hierdie dinge het oorgebly in ons lewens...

JOU OUERHUIS BLY BY JOU

Die grootste invloed op ‘n mens kom uit die gesin waarin jy grootgeword het. Dit het ‘n effek op mens ook al het jy ‘n Christen geword. (dit beteken nooit ek mag my ouers dieskuld gee vir my sonde nie, maar dat hulle foute en gebreke 'n invloed op my hat is onontkenbaar)

Sommer net ‘n paar voorbeelde of ‘n paar vrae om oor te dink: Was daar voortrekkery en onregverdigheid in die huis waarin ek grootgeword het? Was daar traumatiese gebeure of skandes soos ‘n egskeiding, bankrotskap, aborsie, alkoholisme, molestering, buite egtelike verhoudings, gesinsgeweld? Hoe is dit hanteer? Is dit maar net altyd weggesteek? Dit het ‘n effek op wie jy vandag is, al is jy miskien nie eers bewus daarvan nie. Hoe is sukses en prestasie gedefinieer in jou ouerhuis? Was dit in terme van geld? (Kyk hoe gelukkig is daardie mense want hulle bly in so 'n huis of ry so 'n kar...") Sport? Akademiese prestasie? (Jy is net belangrik in so verre jy presteer) Hoe was die kommunikasie in jou ouerhuis? Is probleme maar net toegesmeer of is dit uitgepraat? Die antwoorde op hierdie vrae raak jou... ook nou miskien na baie jare.

[Die ooglopende fanatieke ywer van sommige ouers dat hulle kinders op sport of akademiese gebied moet presteer en gevolglik tot in die rooi gedruk word, kan dikwels aan hierdie invloede in hulle eie ouerhuise toegeskryf word.]

Dis duidelik, ons ouers en huisgesinne waarin ons grootgeword het, het ‘n blywende invloed op elkeen van ons. Hulle het baie goeie dinge gedoen, maar almal het ook baie foute gemaak wat tot vandag toe nog ‘n invloed op ons het. Stukkende gevolge. As ons nie heel word nie, word dieselfde sondige patrone en ellendes net weer so aan die volgende geslag oorgedra en dit word al erger...

Nou wat nou, is daar hoop, kan ons heel word? 

NUWE GESIN

Ja, vir God se kinders is daar hoop, want ons word in ‘n nuwe huisgesin opgeneem. Dis die dramatiese en gewigtige implikasie van Jesus se woorde in MARKUS 3:30-35. Hoor wat sê Hy : “Hy het die mense aangekyk wat in ‘n kring om Hom sit en gesê: "Hier is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder." (34,35) As ek wedergebore word, kind van God word, dan word ek deel van ‘n nuwe gesin, ‘n nuwe familie. Ja, 'n nuwe begin...  Hierdie familie is ‘n nuwe skepping van God. Hierdie nuwe familie is baie belangrik, dit het prioriteit selfs bo my aardse familie. Dis duidelik wat Jesus impliseer. Die gemeente van Jesus is die huisgesin van God, dis ons nuwe naaste familie! ( Vergelyk 1 Timoteus 3:15)

En dis binne hierdie familie waar die Here ons wil heelmaak. Ons het almal letsels vanuit ons ouerhuise en opvoeding, maar binne in die gemeente as familie van God word ons nou as’t ware heropgevoed. Scazzero praat van “reparenting”.* Dit maak nie saak wat my agtergrond is nie, die kind van God kan heropgevoed word. Hoe gebeur dit? As ons eerlik na onsself kyk in die Woord en saam met ander gelowiges die Woord begin gehoorsaam - dan verander ons en word heel. (eerlikheid is ‘n kernvereiste!!) As ons erns maak met die Bybel (kliek op BLY BY DIE BYBEL ), dan word ons geleer om ou sondige patrone af te lê en te oorwin en nuwe lewenspatrone aan te leer. (Gaan lees gerus Kolossense 3 om te sien wat ons moet los en wat ons moet aanlaar...) So word ons geleidelik verander, so word ons gehoorsaam aan God, so word ons heropgevoed, so word ons heel! Sonde letsels word heel, sondige denkpatrone word verander, sondige gewoontes word oorwin, stukkende verhoudings word herstel... Die Bybel se benaming vir hierdie proses is heiligmaking. Hierdie proses is natuurlik persoonlik, maar dit vind ook juis plaas binne die konteks van my nuwe geestelike familie! Hulle bedien my met die Woord, hulle is geduldig met my, hulle help my op, hulle wys my foute uit met die gesindheid van Jesus, want almal wat deel is van Jesus se familie is maar te bewus van hulle eie geestelike gebrokenheid! Dit kan mos nie anders nie...

Daar is duidelike fasette van Christenskap wat ons moet onderskei:

Vryspraak – volle vergifnis van al my sonde. Niks van my hele verlede word meer teen my gehou nie. Ek staan sonder skuld voor God.

Heiligmaking – die daaglikse proses van verandering volgens God se wil, van heel word in al ons verhoudings.

Moenie moed verloor oor die stukkendheid in jou eie lewe nie!  Laat ons ook geduldig wees met mekaar, want ons almal is deur die sonde geskend! Jesus het juis gekom om heel te maak, wat Satan gebreek het. Hy doen dit deur vryspraak en heiligmaking. Hy doen dit deur Sy Woord en Sy Gees! Hy doen dit binne die huisgesin van God, die gemeente. Hy doen dit sodat ons ‘n lewe kan leef wat God sal eer!

*Scazzero, The Emotionally Healthy Church

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.