BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Sondag 22 Februarie 2015

DROOGTE

- die mees gevreesde woord in die land waar ek woon.

Jy wil dit nie weet nie, maar tog weet jy dit kom, want die westewind (“Bankrotwind”) waai aanhoudend, die satelietfoto’s wys al die wolke is bymekaar in die Mosambiek kanaal en oor Madagaskar... Die kere wat daar wel reën val is dit plek-plek en kol-kol. Enkele gelukkiges praat van ‘n lekker bui terwyl die ander met onrus (en seker ook maar ‘n tikkie jaloesie) luister. Ja, dis droog en selfs die swarthake se blare word hier in Februarie al geel...

Watter invloed het droogtes op mense, wat is die oorsaak van droogtes en hoe moet ons, spesifiek as Christene dit hanteer?

Reg aan die begin moet ons sê dat die belewenis van droogte nie iets is waarteen God se geseëndes vrywaar nie. Gelowiges gaan ook deur die pyn van droogte! Kort nadat God Abram geroep en geseën het, kom hy voor ‘n hongersnood te staan in die einste beloofde land. Droogte in die beloofde land! Dus moes die aartsvader noodgedwonge na Egipte trek... (Genesis 12:10) As God droogte stuur in Kanaän om Agab se booshede te straf, ly Elia en die seweduisend wat nie voor Baal gebuig het nie ook daaronder.

HOE VERWERK ONS DIT?

Hoe verwerk mense (ook Christene) die bitter omstandighede van ‘n verwoestende en uitmergelende droogte? Die hantering van ‘n droogte herinner baie aan die manier hoe mense ander slegte nuus soos byvoorbeeld die nuus oor ‘n terminale siekte verwerk. Daar word deur ‘n reeks fases geworstel. 

Die eerste fase in droogte verwerking is gewoonlik ontkenning.* As die reën laat kom, dan veg ons (veral die optimiste) teen die gedagte van ‘n moontlike droogte... “Nee, wat dis nog nie so erg nie, ons goeie reën begin in elk geval eers in die helfte van Januarie. Julle moet net positief wees manne!” As Januarie reënloos en snikkend warm verbygaan... “Daar’s nog hoop, Februarie is mos die eintlike reënmaand.” Aan die einde van Februarie** wanneer die hemel steeds wolkloos gebly het en slegs hier en daar ‘n verdwaalde los bui geval het, hoor jy : “Vorige jare het ons al baie goeie reën in Maart gekry...” Later : “ Onthou julle daardie een jaar toe dit so vreeslik in April gereën het?” Dikwels is daar ook humor as ‘n manier van ontkenning en verwerking : “Ja, by my het 60 geval... sestig druppels. Ek het 50mm gekry, die druppels was 50mm van mekaar af. Lyk my as ek hierdie jaar kommandowurms gaan kry sal ek vir hulle veld moet huur.” Daar is ook diegene wat probeer troos, perspektief en hoop skep. “Onthou ons het darem verlede jaar buitengewone goeie reën gehad, dit kan darem nou ook nie elke jaar so goed reën nie. Ek het gister die bloukop teen ‘n paal sien sit, dit wys die reën is naby, die miere raak die afgelope tyd baie bedrywig...” Gaandeweg sak die bitter wete egter dieper in, hierdie jaar gaan die algemene reën nie kom nie...

Soos die dorre werklikheid meer sigbaar en voelbaar word ontwikkel daar woede, wanhoop en depressie. Soos die hitte meer word en die seisoen reënloos aanstap begin daar opstand en verwyt groei in die harte. Ook teen God! “Here wat help my gebede? Gee U dan nie om nie? Sien U nie die lyding van mens en dier nie...” By sommige gaan die woede gou oor in depressie... “Dit help nie om te boer nie. Elke paar jaar verloor mens maar weer alles...”

Onderhandeling en dalk angs. Hieroor word nie baie gepraat nie. “Here, ek sal hierdie jaar twee beeste vir die basaar gee, as ek maar net soveel of soveel reën kan kry. Party ouens het ‘n langtermyn “kontrak” met die Here. “Vir elke 10mm gee ek soveel vir U....” Daar word rondgerol in laaang slapelose warm nagte... “Hoe gaan die kinders se skoolgeld betaal word, die voerrekening raak nou roekeloos hoog, die beespryse is nou so sleg, dit help nie om te verkoop nie...”

Uiteindelik as daar genoeg gespartel is kom daar wel by die meeste ‘n gelate aanvaarding en berusting. As die oes klaar misluk het, die groeityd van die gras verby is, dan weet ons ons moet hier deur kom en ons sal ook, volgende jaar is daar weer ‘n reënseisoen. Dis nie die eerste droogte nie en seker ook nie die laaste nie. Nou moet ons maar plan maak vir oorlewing. Vee verminder, weiding gaan soek, kyk na ‘n ander bron van inkomste... Uiteindelik vind God se kinders rus by Hom en sy beloftes. Na alles getuig sy kinders aan die einde van ‘n droogte dat Hy wel voorsien het en op een of ander manier uitkoms gebring het... 

En tog bly daar ook maar vrae spook, soos wie se skuld is die droogte, waar kom dit vandaan, hoekom moet sulke slegte dinge gebeur?

Soos die meeste ander rampe dink ek kan mens rofweg drie verklarings van oorsprong vir ‘n droogte gee. 

Droogte is ‘n natuurlike verskynsel. Daar is van menseheugenis af, droë en nat jare. Droë siklusse en nat siklusse. Dis ‘n werklikheid waarmee saamgeleef moet word. Dis deel van ‘n vervloekte aarde, deel van die harde geswoeg in die sweet van ons aanskyn... Dis iets waarteen die mens grootliks magteloos staan... 

Ongetwyfeld is daar ook mensgemaakte droogtes. ‘n Lat wat mense deur onoordeelkundige gebruik van grond en hulpbronne vir hulleself gepluk het. Dikwels is die dryfveer gierigheid, maar soms ook blote onkunde en swak bestuur. Oorbeweiding of die omploeg van grond wat nooit geskik was vir akkerbou nie. Of dalk die jare lange oorbenutting van waterbronne... In sommige lande is dit oorlogstoestande en anargie wat agter die ellende sit maar dan word daar gepraat van droogte. Hoe dikwels kry die Here die skuld vir ‘n droogte as die ware oorsaak mense se swak besluitneming is? In sulke gevalle is die baie skerp waarneming van Spreuke 19:3 seker van toepassing : “Sy eie dwaasheid bring ‘n mens op die verkeerde pad en dan is hy kwaad vir die Here.”

Die gelowige hou egter ook rekening met God se rol. Ons besef inderdaad die realiteit van die vorige twee verklarings, maar ons sien ook God se hand agter alles. Die God wat ons aanbid is immers die Skepper en Onderhouer van sy skepping. Hy is ook die God wat ten nouste bemoeienis maak met die mens en als wat met ons as mense gebeur. Reg van die begin af moet ons sê dat God se rol in droogtes (en ander rampe) nooit ons verantwoordelikheid van ons wegneem om rekening te hou met reën siklusse nie. Nog minder vat dit ons verantwoordelikheid weg om al die hulpbronne tot ons beskikking met sorg en kundigheid te bestuur nie.

God gebruik en stuur inderdaad ook droogtes om sy doelwitte te bereik en ook dinge vir ons te sê. (selfs al sou ons ‘n natuurlike oorsaak kon aandui. Hy is immers die Een wat die natuur bestuur) Niemand wil dit seker graag hoor nie, maar dis duidelik dat Hy droogte kan gebruik as middel om sy mense te tugtig weens hulle sonde. Positief gestel, soos in die geval van alle goeie gawes is dit God wat reën gee! Hy is ten volle in beheer van die reën! Oor waar elke bui en elke druppel val! "Ek het die reën drie maande voor oestyd van julle af weggehou; Ek het laat reën oor een stad en oor ‘n ander die reën laat wegbly; die een stuk grond het goed reën gekry en die ander waar dit nie gereën het nie, het uitgedroog."  (Amos 4:7) Dit klink so bekend... Ja, ons moet oppas vir vinnige gevolgtrekkings en veralgemenings, maar droogte is inderdaad ‘n manier hoe God sy eie mense tot besinning bring en tot bekering oproep! Die profeet Elia moes selfs vir droogte bid (kan jy jou indink wat sou gebeur as ‘n predikant dit vandag sou waag...? ) Eers baie later moes hy vir reën bid, ook in direkte opdrag van God! Die mens en sy sondes is dus nie vry te spreek van ten minste sommige droogtes nie... Sal ons dit kan vat as die profeet van die Here vir ons sou moet sê? : “Dit is oor julle dat die hemel sy reën en die aarde sy opbrengs teruggehou het.” (Haggai 1:10) 

Ons moet baie versigtig wees om te bespiegel oor die oorsake al dan nie van droogtes. Ja, al kan ons dit wetenskaplik weerkundig verduidelik (El Nino, kweekhuis effek en baie ander faktore...), is God in die finale sin die bestuurder van sy skepping en het Hy die laaste sê oor waar en wanneer dit sal reën of nie. God gebruik als volgens sy voorsienigheid om sy raadsplanne tot uitvoering te bring!

Dis belangrik dat Christene verder sal vorder as maar net ‘n gelate aanvaarding van droogte... kom ons dink bietjie dieper...

DEUR ‘N DROOGTE MET GEJUIG!

DROOGTE is positief ‘n geleentheid vir :

Verootmoediging en gebed. God dwing ons as’t ware hiertoe, want ons vergeet Hom mos maar maklik in die goeie tye! Dis ‘n manier hoe God ons van sondes bewus maak en opnuut weer leer om Hom te behaag. Veral lê Hy dalk die vinger op ons sondes van selfgeregtigheid, hoogmoed en materialisme... Soos iemand gesê het : “Een plaas, een bees vir die kerk, twee plase, een bees, drie plase, een bees, vier....” Is ons bereid om ons van hierdie dinge te bekeer? Die uitdaging in Maleagi 3:10 laat ons dalk ongemaklik voel, maar dit staan in die Woord! “Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.”

Groei en openbaring. Dis ‘n tyd wanneer ons getoets word, soos Abram. ‘n Tyd wanneer ons eie harte ontdek en weer moet terugkeer na ‘n besef van hoe afhanklik ons werklik van God is. Dis 'n tyd waarin ons gedwing word om ons plek weer te ken en te besef GOD IS GOD en ons is nietige mense! Dalk ook ‘n tyd wat ons ons selfsug aan die lig bring en ons weer gedwing word om mekaar te ondersteun en ‘n buurman in die oë te kyk. 

Lof en aanbidding. Dit klink dalk vreemd. Maar ons kry as Christene die opdrag om ALTYD bly te wees in die Here, ook in ‘n droogtejaar! “Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar," (1 Tessalonisense 5:16-18) Die gelowige is in staat tot iets meer as maar net gedweë aanvaarding! Dis die duidelike boodskap en uitdaging van Habakuk. “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie-- nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.” (Habakuk 3:17,18) 

Gaan deur die droogte met gejuig! Dit klink na malligheid vir almal, behalwe God se kinders! Ons dien ‘n bonatuurlike God wat sy kinders in staat stel tot menslik gesproke onmoontlike dinge!

Die kind van God gaan ‘n stappie verder, verder as net verduur en oorleef....

BID VIR REËN? JA, MAAR DIT GAAN OOR BAIE MEER... 

Ons lees in Sagaria 10:1 ‘n wonderlike belofte : “Vra vir die Here reën in die tyd wanneer die laat reëns moet kom. Hy maak die reënwolke en laat die stortreëns val, Hy gee vir die mense die groen plante in die veld.”

Wat wil hierdie teks vir ons sê? Kan ons as Christene die Here bid vir reën? Ja beslis, in die “Onse Vader” moedig Jesus ons aan om ons daaglikse behoeftes aan ons Hemelse Vader bekend te maak en op sy sorg te vertrou. Dit sluit beslis reën as ‘n baie basiese middel in. As God en sy koninkryk ons fokus en verwagting is kan ons alle fisiese en materiële behoeftes na ons Vader bring! Bid vir reën is egter ‘n groter saak as om vir ‘n kort rukkie ‘n spesiale biddag of geleentheid te hou... Dink maar aan Elia se worsteling... Is ons hart en siel in die saak, staan ons in ‘n verhouding met God, is daar egte toewyding of is als net “windowdressing”... is daar nog geloof onder ons? Vir Israel was verootmoediging, gebed, bekering en reën, sake wat saamgegaan het. Salomo se rede by die inwyding van die tempel is tog duidelik. "Wanneer die hemele toegesluit bly en daar nie reën is nie omdat hulle teen U sondig, en hulle bid na hierdie plek toe en bely u Naam terwyl hulle hulle van hulle sonde bekeer en vra dat U hulle gebed sal verhoor, luister tog uit die hemel en vergeef u dienaars en u volk Israel se sonde en gee reën op u land wat U aan u volk as besitting gegee het. So leer U hulle die goeie weg wat hulle moet bewandel.” (2 Kronieke 6:26,27)

Na alles kan en moet ons bely :

Ons Vader sorg vir sy kinders, ook binne in ‘n droogte!

As ons egter eerlik na die konteks van die belofte in Sagaria kyk, moet ons besef dat dit oor iets baie dieper gaan as oorvloedige reën, baie weiding en goeie oeste. Dit gaan hier oor die bemoediging van die moedelose bannelinge wat teruggekeer het na hulle land, maar met wie dit alles behalwe voorspoedig gegaan het. Hulle kry nou ‘n profetiese boodskap van die heerlike verlossing wat God vir sy volk sal bewerk. “Die Here hulle God sal daardie dag sy volk, sy kudde, red. Hulle sal in sy land vonkel soos die edelstene in ‘n kroon.” (Sagaria 9:16) Ons weet vanuit die Nuwe Testament dat dit gaan oor die verlossing wat Jesus bring, want Sagaria se profesie wys ten diepste op Jesus self. Net ‘n bietjie terug lees ons die bekende profesie wat sê : “Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie.” (Sagaria 9:9) Ons weet mos wie Hy is... Dit gaan dus hier in Sagaria oor die omvattende verlossing en nuwe bedeling wat die Messias tot stand sal bring. Hierdie verlossing en heerlike bedeling word beskryf in terme wat vir ‘n landbouvolk in ‘n droë streek soos Israel sin maak, naamlik stortreëns en groen plante! Hierdie gebed in Sagaria gaan dus oor ‘n vertroue op God en ‘n gebed tot Hom dat Hy die nuwe bedeling waar sal maak. Dis ook waarvoor Christene in die eerste plek moet en sal bid. Die koms van die Koninkryk van God! (weer terug by die fokus van die “Onse Vader”, nê?)

Ja, ons mag bid vir reën en enige fisiese behoefte, maar dit moet altyd ‘n onderdeel wees van ons groot versugting vir die koms van die Koninkryk. Verlang ons werklik na die uitbreiding van God se heerskappy soos ons verlang na reën? Is ons net so desperaat en geskok oor die geestelike dorheid in die hart van die kerk as die droogte op ons velde? Is ons gebede, ook in hierdie tyd van droogte en nood nie baie keer uiters kortsigtig en deurspek met selfsug nie?

Die grootste gevaar in die tyd van droogte is dat ons op ons fisiese nood sal fokus en die ramp geestelike droogte as minder belangrik beskou! Droogte en hitte veroorsaak intense ongemak, maar ons geestelike nood is (onbewustelik) baie erger!

Mag God genadiglik vir ons uitkoms gee in ons geestelike en fisiese nood, soos wat Hy goed dink! Mag ons Hom nog loof vir fisiese en geestelike verkwikking en oorvloed!

Psalm 68:10 "U het oorvloedige reëns laat uitsak, o God, U het u verdorde land weer lewe gegee.” 

DROOGTE IS DEEL VAN GOD SE PAD MET ONS, GELUKKIG REËN EN SEËN OOK!



MY HARTSBEGEERTE IS DAT HY VIR ONS SPOEDIG UITKOMS SAL GEE...

*Dis bietjie anders as by die aanhoor van nuus oor ‘n terminale siekte. Dan is die eerste fase gewoonlik skok. Omdat droogte geleidelik ontvou is daar nie so ‘n skielike skok nie, maar die ander fases verloop min of meer dieselfde.

** Die totale reënval wat ek vir Februarie hier by die pastorie op Tsumeb gemeet het was minder as 'n skamele 6mm. Dis skrikwekkend droog! Verlede seisoen het ek 206mm vir Februarie gemeet.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.