BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 09 Augustus 2012

KYK NA DIE KONTEKS

- baie belangrike beginsel vir Bybellees.

Die Bybel is ‘n boek. Weliswaar ‘n absolute unieke boek, God se Woord. Ons kan sy boodskap net begryp deur die leiding van die Heilige Gees.  En tog is dit steeds ‘n boek met gewone letters, woorde, sinne, paragrawe... Dis eintlik ‘n klein bibliotekie van boeke, wat aanmekaar gebind word deur een storielyn en een Outeur. Maar nietemin, dis ‘n boek wat dus gelees en verstaan moet word. En ja, dan moet dit gehoorsaam word, want dit dra absolute gesag, juis omdat dit God se openbaring is.

So dikwels interpreteer mense die Bybel op ‘n dwase manier en maak onsinnige gevolgtrekkings, omdat basiese leesreëls nie gevolg word nie. Ek wil net dat ons na een so ‘n onmisbaar belangrike reël kyk : 

LEES DIE BYBEL IN  KONTEKS.

Hoekom is dit so uiters belangrik?  In die Bybel sal jy die volgende selfstandige  sinnetjie kry : “daar is geen God nie.” (Psalm 14:1 ) Nou hoe nou? Wil die Bybel ons dan nou aanspoor tot ateïsme? Wie hierdie  uitspraak  geïsoleerd verstaan, kan maklik tot so ‘n dwase gevolgtrekking kom. Maar kyk ons eerlik na die konteks is die boodskap iets heeltemal anders. Dan sien ons dat hierdie woorde uit die mond van ‘n dwaas kom. Dan word die Bybelse boodskap duidelik. Ateïsme is sotlike dwaasheid! 

Die onmiddelike konteks van ‘n Bybelse uitspraak is dus van uiterste belang vir die regte verstaan van die betrokke gedeelte.

Maar ons moet ook verder kyk na die konteks van die bepaalde paragraaf of strekking van die Bybelboek waarin ‘n teksgedeelte voorkom. ‘n Teks wat maklik misbruik kan word om die toelating van die vrou in die lerende amp te regverdig is die uitspraak van Paulus in Galasiërs 3:28 “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie, in Christus Jesus is julle almal een.” Die konteks wys, dit gaan hier oor die kwessie van vryspraak deur die geloof alleen. (Vers 24) Die geheelboodskap van Galasiërs bevestig dat die geloof in Jesus genoegsaam is en dat ons nie meer die wet (besnydenis) hoef te onderhou nie. Paulus se uitspraak hier mag dus nie bygesleep word in ‘n debat oor die vrou in die amp nie. Dis laat nie reg geskied aan die konteks nie. In ander briewe laat Paulus homself wel duidelik uit oor hierdie vraagstuk.

Deur na die konteks van ‘n gedeelte te kyk kan ook baie skynteenstrydighede in die Bybel opgelos word. In 1 Johannes 4:8 lees ons : “God is liefde.” en in Hebreërs 12:29 blykbaar ‘n botsende uitspraak : “ons God is ‘n verterende vuur.” Wie na die onderlinge kontekste kyk behoort glad nie verwar te word nie. In 1 Johannes gaan dit nie oor ‘n allesomvattende beskrywing van God nie, maar oor die noodsaaklikheid dat Christene, God nie kan dien sonder liefde vir mekaar nie. Dis ‘n onmoontlikheid wil Johannes ons laat verstaan, want God self is dan liefde! Net so gee die uitspraak in Hebreërs ook nie ‘n volledige beskrywing van God nie. Wie die konteks nagaan sal sien die skrywer roep met erns sy lesers op om sorgvuldig na God te luister. Ons word geroep in die konteks van die Nuwe Verbond, maar dis ‘n ernstige saak. In die geval van die Ou Verbond by Sinaï het God  Hom bekend gemaak op ‘n angswekkende wyse as ‘n heilige verterende vuur. Hy is dit nog steeds, vir mense wat die Nuwe Verbond in Jesus verwerp. “So, pasop!”, wil die skrywer ons waarsku, "God laat nie met Hom speel nie!." 

Nie net is die omliggende konteks van bepaalde paragrawe of die hoofstrekking van ‘n Bybelboek belangrik nie, maar ook die geheelkonteks en storielyn van die Bybel as geheel. So kan iemand wat eerlik en opreg die Bybel van vooraf lees tot die gevolgtrekking kom dat ons bloedoffers moet bring en die besnydenis moet toepas. As mens egter die Bybelse storielyn in ag neem en raaklees dat die Godsopenbaring ‘n finale hoogtepunt bereik het in Jesus Christus (Hebreërs 1:1-3), dan is dit maklik om te verstaan dat alle bloedoffers en bloedige tekens afgeskaf is, aangesien Jesus se eenmalige offer voldoende versoening was vir elkeen wat Hom as Verlosser aanvaar het. Dieselfde geld vir iets soos die Sabbat. Ongetwyfeld is die Sabbatsgebod van sentrale belang in die Ou Verbond. As mens egter die geheelkonteks van die Bybel verstaan, besef ons dat die Sabbat slegs ‘n tydelike padteken was, wat na Jesus heengewys het. Nou dat Jesus gekom het en vir ons ware rus bring, het die teken sy funksie verloor en mag niemand ons meer hieroor oordeel of voorskryf nie. (Kolossense 2:16,17)

PASOP : Een van die kenmerke van dwaalleraars  is dat hulle graag stringe Bybeltekste uit konteks en verband aanhaal. Dan kan mens natuurlik die Bybel enigiets laat sê wat jy hom wil laat sê.

Om die geheelkonteks en storielyn van die Bybel beter te verstaan, lees gerus LUGFOTO VAN DIE BYBEL. (3 dele)

Erkenning aan : Dr. J. Van Bruggen, HET LEZEN VAN DE BIJBEL

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.