BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 30 Maart 2015

ONDER NUWE BEHEER EN INVLOED

- sleutel vir ‘n gelukkige en Godverheerlikende huwelik.

Hier in EFESIËRS 5:22-33*  word radikale dinge gesê, soveel so dat die moderne mens in opstand kom daarteen! Van die vrou word immers geëis - Absolute onderdanigheid! (SOOS die gemeente aan Christus onderdanig is!) En van die man? Absolute selfopofferende liefde! (SOOS Christus die gemeente liefgehad en sy LEWE vir hulle opgeoffer het!) Terloops, beide opdragte is dus uiters radikaal en moeilik, nie net die één aan die vrou nie! Die hedendaagse mens is vol besware teen hierdie Skrifgedeelte : “Nee, dis darem te erg, dis outyds, dit kom uit ‘n patriargale tyd, ons kan dit nie meer aanvaar nie...” Wel vriende, hierdie is God se opdragte, vat dit of los dit... ek wil nie met jou daaroor stry nie. Die Christen neem dit wel ernstig op omdat dit God se Woord is. Die vraag waaroor die Christen wel besin is : Is hierdie opdragte realisties moontlik?

Nou as beide man en vrou aan hulle onderskeie opdragte gehoorsaam sou wees, dan word dit natuurlik ook vir beide makliker en ‘n groot plesier om dit te gehoorsaam. Dink net bietjie... Hoe meer lojaal en onderdanig die vrou is, hoe makliker en lekkerder is dit vir die man om sy vrou met opoffering en toewyding lief te hê. Hoe meer radikaal die man sy vrou lief het met opoffering en selfverloëning, hoe makliker en lekkerder is dit vir die vrou om haar man onderdanig te wees... Maar nou weet ons in ons stukkende wêreld werk dit nie so nie. In die praktyk kry ons dit daagliks, dat ‘n vrou sê : “Ek sukkel, ja ek weier om my man te respekteer , want hy gedra hom soos ‘n vark, hy het my nie lief nie...laat hy eers bietjie regkom dan kan ons weer praat...” En die man : “Ek sukkel, ja ek weier om my vrou lief te hê en vir haar enigsins opofferings te maak, want sy het geen respek vir my nie en wil altyd baasspeel... as sy eers geleer het wat respek is, wel dan sal ek weer probeer...” Doodloopstraat...

Hoe nou? Gaan ons enigsins dit kan regkry om by hierdie Goddelike standaard van die huwelik uit te kom of is dit maar net mooi ideale?

DIE GOUE SLEUTEL
Die sleutel tot al die opdragte in Efesiërs 5 (ook aan ouers en kinders en werkgewers en werknemers) kry ons in Efesiërs 5:18. “Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul,” 

Dronkenskap word teenoor Geesvervuldheid gestel. Dit gaan duidelik nie hier in die eerste plek oor ‘n preek teen dronkenskap nie (hoewel dit ook van tyd tot tyd nodig is...) , maar oor ‘n beginsel wat Paulus stel. Wat bedoel hy? Kom ons bedink die saak ‘n bietjie... ‘n dronk mens tree anders as normaalweg op omdat hy onder die invloed en beheer van alkohol is. Hy is onder ‘n groter en sterker invloed, ‘n groter krag as homself. (Jy sien dit mos in sy oë – hierdie ou is nie meer in beheer van homself nie... hy is onder beheer van die alkohol en eintlik onder beheer van die duiwel...) Deur hierdie kontras wil Paulus sê dat die Christen nooit onder beheer van alkohol moet wees nie, maar onder die beheer van die Heilige Gees. Soos die dronk persoon se gedrag verander word deur alkohol, moet die Christen se gedrag nou bepaal word deur ‘n ander heerlike heilige invloed, naamlik die Heilige Gees van God wat in ons woon! 

En belangrik, die Heilige Gees doen die teenoorgestelde as alkohol. Alkohol breek af en maak stukkend – nie net glase, borde en motors nie, maar veral verhoudings! Die Heilige Gees maak heel, mense verhoudings word herstel en vrede keer terug. Alkoholmisbruik het losbandigheid, roekeloosheid, onsedelikheid en ontrouheid tot gevolg. Waar die Heilige Gees in beheer is, is daar soberheid, rustigheid, reinheid, getrouheid...

Hoe gaan ons dit dus regkry om God se opdragte oor die huwelik te gehoorsaam? Deur die krag van die Heilige Gees wat in ons woon. Hy is ‘n werklikheid, ‘n Goddelike Persoon, deel van die Drie-eenheid. Daar is Iemand in die kind van God wat nie in ander mense is nie, en HY maak die verskil! Maar dit beteken nooit dat die Christen nou passief agteroor kan sit nie. Ons moet ons daagliks doelbewus aan die leiding van die Heilige Gees onderwerp, wat reeds in my woon!. (Ons het immers hier met ‘n opdrag in vers 18 te make) ‘n Voortdurende wilsbesluit! Kies om onder die invloed van die Gees te wees! Dit beteken dat ons sal buig voor die opdragte in God se Woord, al gaan dit teen ons eie gevoelens in. Dit beteken prakties eintlik dat ons aan Jesus onderdanig sal wees en sy wense sal uitvoer, want die Heilige Gees is die Gees van Christus. “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” (21) Dit beteken dat ek teen myself kies en kies om Jesus te gehoorsaam, want ek respekteer Hom. My eerbied vir Jesus moet vir my swaarder weeg en meer tel as my persoonlike gevoelens van verontregting of vergelding. Daarom respekteer ek my huweliksmaat en medemens ter wille van my respek vir Jesus!

Prakties sal dit beteken dat die vrou onder beheer van die Gees sal redeneer : “Ja, my man was vandag lelik met my, maar ek kies steeds om hom te respekteer, omdat dit is wat Jesus van my verwag!” Die man onder beheer van die Gees sal redeneer :”Ja, my vrou het my vandag nie gerespekteer nie, maar ek kies steeds om haar lief te hê, (prakties liefde te bewys), want dit is wat die Here Jesus van my verwag.”

Ten slotte:

Hierdie opdragte bots teen ons sondige natuur en hardkoppige eiesinnigheid. Ons gaan dit nie sommer vanself en outomaties regkry nie – om sommer net ‘n huwelikskursus of berading te ondergaan gaan ook nie sukses waarborg nie.

Hierdie opdragte is net moontlik wanneer ons gehoorsaam onder die beheer van die Heilige Gees staan. Dis net wedergebore mense wat die Gees het, so hierdie opdragte is net moontlik vir mense wat waarlik Jesus as Verlosser leer ken het. Sonder Jesus as my Verlosser gaan ek misluk, al is ek dalk ‘n goeie kerkmens...

Al is ek ‘n kind van God, vereis hierdie opdragte ‘n daaglikse onderwerping aan die stem van die Heilige Gees wat in my woon. Ek moet nie dink ek gaan sommer as Christen altyd outomaties reg optree teenoor my man of vrou nie. Dis ‘n voortdurende keuse om my onder beheer van die Gees te stel, wat in praktyk beteken ‘n keuse om God se Woord te gehoorsaam, maak nie saak hoe verontreg of opstandig ek voel nie!

ONDER WIE SE BEHEER IS JY?


*21 Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.

22 Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is.

23 Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk.

24 Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.

25 Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.

26 Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het,

27 sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.

28 Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief,

29 want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen

30 omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is.

31 Daar staan in die Skrif: "Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees."

32 Hierin lê daar ‘n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk.

33 Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en ‘n vrou moet aan haar man eerbied betoon.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.