BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 16 Januarie 2012

LUGFOTO VAN DIE BYBEL Deel 2



In Deel 1 het ons gesien: God se Koninkryk is geskend deur die sondeval. God is egter nog steeds die almagtige Skepperkoning van die heelal en sal nie sy Koninkryk laat vaar nie. Die Bybelse geskiedenis is dus ’n geskiedenis van God se herstel van sy Koninkryk wat uiteindelik uitloop op die VOLEINDING by die wederkoms van Jesus en die skepping van ’n nuwe hemel en nuwe aarde. Ons kan Jesus se werk net verstaan in die groot konteks van die herstel en aanbreek van God se Koninkryk. Dit help ons ook om te verstaan wat bekering is. Bekering is onderwerping aan Jesus die Verlosser-Koning!


Die elemente van die Koninkryk nl. Koning, Volk, Land, Wetstruktuur is sigbaar in die verskillende fases van die heilsgeskiedenis. (Die geskiedenis van God se groot verlossingsdade in die lang proses van die herstel van sy Koninkryk)


Die verdorwenheid van die gevalle mens na die sondeval gaan van erg tot erger. (Gen 6:5) God gryp in met sy skrikwekkende oordele - ’n verwoestende vloed wat die Tsunami van destyds in Japan na kinderspeletjies laat lyk... God laat vaar egter nie Sy plan om sy Koninkryk weer te vestig nie. Die geskiedenis van Noag is die volgende groot fase in die heilsgeskiedenis. God (Koning) red Noag en familie (Volk) en gee aan hulle weer die aarde (Land) om op te vermeerder. Hy sluit ’n Verbond (Struktuur) Die na-sondvloed aarde wys vir ons reeds op die herstel van die hele skepping, die nuwe hemel en nuwe aarde. Vergelyk Gen 1:28 met Gen 9:1,2. (dieselfde opdragte van God aan die mens om sy skepping te vul en te versorg) Ons sien ook reeds dat Verlossing en Oordeel saamgaan. God is ’n genadige God wat verlos, maar almal word nie verlos nie, die meerderheid word veroordeel en vernietig! Dis net ’n oorblyfsel van 8 mense wat oorleef (Die Bybel ken nie ’n eensydige God-is-liefde teologie nie!) Die wat gered word is min - die gedagte van ’n oorblyfsel wat gered word kry ons ook weer later by die profete. Maar ook Jesus self sê die pad is smal wat na die lewe lei en die wat gered word min!

Kyk net hoe word die basiese Verlossingswaarhede reeds in die Ou Testament bekend gestel!



Nadat God die menslike arrogansie by Babel straf (Gen 11) maak Hy ’n nuwe begin in Genesis 12 met Abram. Kyk na die kontraste! (Vergelyk Gen 11:4 met Gen 12:2!) Die mens probeer self vir hom ’n naam maak - (dis waarom die lewe vandag nog draai vir die ongelowiges) , maar God sê vir Abram : “EK sal jou naam groot maak!” (Lees dit in die OAV) 

Hier kry ons weer die koninkrykselemente: God (die Koning) kies Abram en beloof aan hom ’n nageslag (Volk) en die land Kanaän (Land) en sluit met hom ’n verbond (Struktuur van verhouding).


Belangrik : Die verbond met Abram gaan nooit tot niet nie! Die verbond met Abram word nooit “oud” genoem nie, wel die latere Mosaïese Verbond. Daarom word Christene in die Nuwe Testament, kinders van Abram genoem! Galasiërs 3:7, 29!

Abram se nageslag, Israel beland in Egipte. Ons weet hoe het dit gebeur - die geskiedenis van Josef en hoe God dit gebruik het om hulle aan die lewe te hou. Tog skep dit ’n krisis! Hoe so? God se beloftes is onder druk - dit lyk of dit nie gaan realiseer nie, want die volk is onder vreemde heerskappy (onder die farao) in ’n vreemde land (Egipte). Dit lyk asof God se plan om sy Koninkryk te vestig misluk het, dit lyk asos Hy sy beloftes vergeet het, of dat Hy nie die mag het om dit uit te voer nie...

Maar dan na ongeveer 400 jaar, kom daar weer aksie!  Die Uittog onder leiding van Moses! God, die Koning dink aan sy beloftes (sien Eksodus 2:24,25) en red sy Volk (deur Moses) en lei hulle na Kanaän (die beloofde Land). Op pad gee Hy aan hulle ’n Wetstruktuur by die verbondsluiting by Sinaï. Dis die konstitusie van die Koninkryk in hierdie fase van die heilsgeskiedenis.

Die doel van God se redding van sy volk word duidelik uitgespel in Eksodus 19:3-6. (lees dit deeglik)

Die doel van God : God bring hulle na Homself - God red ’n volk om gemeenskap met hulle te hê, om aan Hom te behoort (eiendom), om Hom te dien, om afgesonder te wees vir Hom ! Dis nog steeds die doel waarvoor God mense red!

Vergelyk ook Eksodus 19:3-6 met 1 Petrus 2:9,10. Duidelike parallel! (nou reeds kan jy sien dat God se volk in die Nuwe Testament, nie meer etniese Israel is nie, maar alle ware gelowiges wat aan Jesus behoort!)


In die nuwe Land, regeer God (die Koning) sy Volk deur rigters en later konings volgens die vereistes van die Verbond (Wetstruktuur). (Let op - die volk sowel as hulle leiers is vol mislukkings. Dit laat ons uitsien na ’n Leier wat nie sal misluk nie) Die fokuspunt van God se teenwoordigheid in die land is eers die tabernakel en later die tempel. Dis waar God se heerlikheid in besonder aanwesig is. God sluit ’n verbond met Dawid dat iemand uit sy nageslag altyd sal regeer. Die volk en hulle konings is aanhoudend ongehoorsaam en uiteindelik word hulle in Ballingskap in ’n vreemde land weggevoer en die tempel verwoes.


Die profete (Jesaja, Jeremia, Esegiël ens) profeteer die terugkeer uit die Ballingskap en ook ’n Nuwe Verbond (Jeremia 31:31-34). Hulle voorsien ook die herstel van die tempel. Daar sal ’n Verlossingsfiguur kom, ’n nuwe Dawid (Jesaja 11 ens.) wat sy volk sal verlos en as Koning vir altyd sal regeer. Hy sal terselfdertyd ’n lydende Kneg wees! (Hier is Jesaja 53 uiteraard baie belangrik! Veral vers 5 en 6. Die straf wat vir ons sonde op die Kneg neerkom, bring vir ons vrede!) Daar is net Een Persoon na wie dit kan heenwys, Jesus Christus! Kyk maar, hier is weer die temas van Koning, Volk, Land en Wetstruktuur (verbond)

Hier kan jy nou reeds sien dat so baie lyne na Jesus toe loop. Die hele Ou Testament is soos 'n berglandskap met klomp spruitjies en stroompies, wat bymekaar aansluit en groter riviertjies word en uiteindelik in een groot rivier saamvloei in die see in. Die hele Ou Testamentiese boodskap vertel ons van die noodsaak van Jesus, laat ons uitsien na Jesus, maak uiteindelik net sin in Jesus! Dis die opwindende boodskap waarna ons volgende keer in meer detail sal kyk. (kliek op LUGFOTO 3)

(Met erkenning aan Graeme Goldsworthy : According to Plan)


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.