BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Woensdag 11 Januarie 2012

JESUS, DIE ALMAGTIGE REDDER!

Wie het die absolute mag op aarde? Die mag oor mense en die mag om die geskiedenis te bepaal? Swaai Satan die septer? Het tiranne of despote die laaste sê? Gelukkig nie een van hulle nie! Jesus Christus het volmag oor die mensdom! Trouens aan Hom behoort alle mag in die hemel en op aarde! Dis die duidelike Bybelse uitspraak.

Jesus is nie swak nie!

Terwyl Jesus op aarde was het Hy sy Goddelike Almag baie duidelik gedemonstreer. Dit was een van die groot redes vir sy wonderwerke. Mense moes besef dat Hy almagtig is en dat Hy dus werklik God is. Jesus het volkome mag oor die natuur en natuurwette! (Hy maak die storm stil, vermeerder die brood en loop op water) Hy het mag oor die Satan (Hy dryf demone uit) en Hy het mag oor die dood. (Die opwekking van die weduwee van Nain se seun, Lasarus wat na vier dae uit die graf geroep word) Jesus se eie liggaamlike opstanding uit die dood is natuurlik die sekerste bewys van sy almag! Maar Sy mag strek nog verder.

Jesus het volmag om sondaars te red.

Om sonde te vergewe en van rebelle, dissipels te maak! Anders gesê, Jesus wend sy absolute gesag en mag aan om mense te red van sonde, dood en hel en niemand kan Hom keer nie!


Kom ons kyk saam in die Woord na twee uitsprake oor Jesus se almag :

Johannes 17:2,3 "U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee..." Dis deel van die groot hoëpriesterlike gebed van Jesus kort voor die kruisiging. Jesus het volmag ontvang om alle mense te red wat God van ewigheid af reeds aan Hom gegee het! Niks kan dus vir Jesus stuit of dwarsboom om God se presiese reddingsplan tot op die laaste letter uit te voer nie!


Matteus 28:18 "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde." LW - "alle mag" Jesus het alle mag in hemel en op aarde, dus in die ganse heelal! Jesus maak hierdie uitspraak as agtergrond toe Hy sy dissipels uitstuur na die nasies om dissipels te maak. Hy wil as’t ware sê : "Julle hoef nie bang te wees vir hierdie groot opdrag nie, want Ek het al die mag in my hand en Ek is by julle!"  Dit gaan dus veral oor Jesus se reddende mag, om van sondaars God se kinders te maak.


Wat is nou die praktiese implikasies van Jesus se almag? Omdat Jesus alle mag het :

~ Is daar geen onmoontlike of hopelose gevalle nie. Geen sondaar is te sleg en geen rebel is te rof nie! Hierdie waarheid moet my laat besef : Daar is hoop vir my! Ja, ook vir my... Dis ook ’n kragtige motivering om die boodskap van verlossing aan ander uit te dra. Hierdie wete maak ons nie passief nie, maar dring ons juis om met vertroue en ywer die evangelie te verkondig. Dis juis as Jesus verklaar dat alle mag in hemel en op aarde aan Hom gegee is dat Hy sy dissipels uitstuur : “Gaan dan...” Met vertroue en optimisme kan ek die evangelie verkondig, in my eie huis, my wyk, my Sondagskoolklas, by elke geleentheid wat God my gee. Die evangelie is ’n kragtige boodskap juis omdat alle mag aan Jesus gegee is. Hierdie mag van Jesus het geen beperkings om te kan red nie. Dink maar aan die bekering van Paulus ... hy was oppad na Damaskus om Christene te vang, maar hierdie rebelse en eiegeregtige Fariseër word deur die almag van Jesus in sy spore gestuit en omvorm tot ’n getuie! (Handelinge 9)

~ Hoef ons nie van allerhande truuks en menslike slimmighede gebruik te maak om mense te red nie. Dis nie nodig om mense te paai of heuning om die mond te smeer nie. Ons hoef ook nie God se standaarde te verlaag sodat dit die sondige mens pas nie. Ons kan met outoriteit almal uitdaag : "Die Koninkryk van God het naby gekom, bekeer julle en glo die evangelie! Dis nie ons mooi woordjies of slim tegnieke wat mense red nie, maar die almag van Jesus!

 
~ Maak dit sin om te bid. As ons bid,  praat ons met die Een wat alle mag besit. Dis wonderlik as daar iemand is wat bereid is om met medelye te luister na jou diepste probleme, maar as daardie persoon magteloos is om iets daaraan te doen help dit nie juis veel nie. Jesus het medelye EN mag. Juis daarom is Hy die volmaakte hoëpriester! Ek kan eerlik en hoopvol met my eie sondelas na Hom kom! Ek kan hoopvol vir my kinders bid. Ek kan pleit vir die bewaring en volharding van gelowiges. Jesus het die volmag om hulle te verlos en veilig in sy Koninkryk te bring!

~ Kan ware verlossing nie weer ongedaan gemaak word nie. As Jesus jou gered het en veilig in sy hand geplaas het kan niemand jou weer daar uitruk nie! (Johannes 10:28) Ja, skynbekerings en mensgemaakte geloof sal nie hou nie, maar as Jesus ’n werk in my gedoen het, sal ek veilig bewaar word. Juis in Johannes 17 bid Hy daarvoor vir sy dissipels. Vers 15. (Lees) Jesus se verlossende volmag beteken dus dat ons sekuriteit in Hom ’n ewige onaantasbare sekuriteit is!

~ Het ons rede om baie positief en bly te wees! As ons biddend op die almagtige Jesus vertrou sal ons blydskap beleef ten spyte van bekommernisse en benoudhede! Jesus se almag bring ’n rustigheid en vrede in ons harte!

Jesus se reddende almag is vir ons die groot bron van
BLYDSKAP in alle omstandighede!


Dis duidelik : Jesus se almag hou vir ons ’n groot troos in! Maar Jesus se almag spel tog ook ’n waarskuwing. Ons moenie met genade speel nie. Jesus is nou hier teenwoordig as die almagtige Verlosser, maar wie Hom nou verwerp sal eendag met Hom te doen kry as die almagtige Regter!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.