BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 08 Junie 2020

DUBBELHARTIGHEID

- DIE VLIEG IN JOU VREUGDESALF




[Maak gerus jou Bybel oop by Jakobus hoofstukke 1 en 4]




Is daar vreugde in jou Christenskap, groei en getuieniskrag? Is oorwinnende blydskap ‘n beskrywing van jou geloofspad? Ja, natuurlik, versoekings en beproewings sal daar ook wees. Maar volgens Jakobus is dit nie iets negatief nie. Die toetsing van ons geloof spoor ons juis aan tot volharding, tot vasbyt. Dit is noodwendige trappies wat ons moet klim op pad na volmaaktheid. En in hierdie stryd het ons as kinders van God die voorreg om wysheid te vra. (1:5) Wysheid soos jy weet gaan oor die insig om prakties ons Christenskap uit te leef. Wysheid is die vermoë om God se wil prakties in my daaglikse lewe te implementeer. In ons wedloop tot volmaaktheid (geestelike rypheid) mag ons bid en God sal sonder om ons te verwyt aan ons wysheid gee. Maar dan noem Jakobus ‘n struikelblok. Daar is iets wat kan verhinder dat ons gebede verhoor word. Daar is ‘n vlieg in die salf waarvoor ons moet pasop. Hierdie vlieg se naam is dubbelhartigheid. Dis die groot sondebok, dis die struikelblok wat vreugdevolle Christenskap belemmer. Of dan nou ’n virus wat ons vreugde opvreet. Kom ons bekyk hierdie probleem van naderby uit drie hoeke : 
1) Wat is dubbelhartigheid? 
2) Die gevaarlike gevolge van dubbelhartigheid. 
3) Die oplossing\kuur vir dubbelhartigheid 

WAT IS DUBBELHARTIGHEID? 

“Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. 
Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie- so 'n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.” (Jakobus 1:6-8) 

“Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!” (Jakobus 4:8) 

Die woord wat hier in die OAV in 1:8 en 4:8 met dubbelhartigheid vertaal word is δίψυχoς (dipsugos) - letterlik “dubbelsiel, tweesielig.” Dis ‘n goeie beskrywing. In sy verhouding met God openbaar so iemand ‘n dubbele of gesplete persoonlikheid. In Afrikaans praat ons ook sommer van ‘n draadsitter, ‘n manteldraaier. Jakobus gebruik hierdie term in twee kontekste:

Jakobus 1. Dis duidelik dat hy iemand wat twyfel beskryf as dubbelhartig. Nou weet ons dat alle gelowiges tye van wankelende geloof beleef en ons moet gedurig daarteen stry. (Soos Abram!) Tog het hy die beloftes verkry deur die geloof. Dubbelhartigheid is egter iets anders as hierdie van tyd tot tyd stryd teen vertwyfeling, iets anders as ‘n geloof wat soms swak is. Dit gaan hier oor ‘n doelbewuste dubbele ingesteldheid. Aan die eenkant sal ek God uitprobeer deur te bid, maar as dit nie werk nie, is ek heeltemal tevrede om my tot ander bronne van hulp te wend. God is nie werklik my enigste bron van hoop en my enigste objek van verwagting nie. Ek is besluitloos (undecided) in my verhouding met God. Vertroue op God is vir my maar net een van die opsies ‘n Dubbelhartige mens is onbestendig. Daar is geen vaste oortuiging om op die Here alleen te vertrou nie. So ‘n persoon het eintlik nog nooit sy “mind” opgemaak nie! Dubbelhartigheid kom eintlik maar neer op valsheid. (Vergelyk die gebruik van die woord dubbelhartig in Psalm 12:3)* Pasop vir ‘n stuk valsheid in ons verhouding met God! 

Jakobus 4. Hier kry ons verdere insig in die term dubbelhartig. Hier gebruik Jakobus die term vir mense wat beide God en die wêreld probeer liefhê. “Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie ‘n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy ‘n vyand van God is.” NAV "Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God." OAV (4:4) Ek is ewe tuis om vandag saam Bybelstudie te hou saam met Christene en môre ‘n dronknespartytjie saam met die wêreld. Met die mond sê hulle dat hulle uitsien na die Koninkryk van God se koms, maar hulle hele lewe is ingestel om hulle eie materiële koninkryk op aarde te bou. Die dubbelhartige wil sy brood aan twee kante gebotter hê - hy wil eendag deel in hemelse heerlikheid, maar hy is so bang hy mis die genietinge van die sonde. Ek wil graag in wees by God se kinders, maar ek wil net so graag in wees by die nuutste giere, modes en neigings van die wêreld. In sy toewyding aan die Here is hy dus wispelturig, onstabiel, rigtingloos, besluitloos, onbeslis, halfhartig, tweeslagtig. Hy probeer gelyktydig op twee stoele sit... Dit lei tot groot ellende... 

DIE GEVAARLIKE GEVOLGE VAN DUBBELHARTIGHEID 

Dubbelhartigheid verongeluk jou gebedslewe. Uit altwee gedeeltes is dit duidelik. God beantwoord nie die gebede van die wat op twee gedagtes hink nie.(1:7,8) Dubbelhartigheid in my verhouding met God lei daartoe dat as ek wel nog bid ek verkeerd bid en dat God nie my gebede verhoor nie. Die gevolg is jy is kragteloos, sonder oorwinning en sonder blydskap. Jy dink dalk jy kan wegkom met dubbelhartigheid. Dubbelhartigheid lei egter tot ‘n vreugdelose, ‘n onvergenoegde lewe. Jy sal altyd ontevrede en ongelukkig wees. Dit lyk amper asof dubbelhartigheid ‘n noodlottige kettingreaksie aan die gang sit. As jy dubbelhartig is bid jy nie met geloof nie of jy bid met die verkeerde motiewe. Dit lei daartoe dat jy onvervuld en geestelike gebrekkig is. Hierdie onvervuldheid en gebrekkigheid maak jou jaloers en afgunstig op ander mense en dit lei weer tot rusies en konflik - ‘n hele gemors omdat jy dubbelhartig is! 


Erger nog, dubbelhartigheid belemmer jou totale verhouding met God. Dit word hier baie sterk gestel “vyand van God” (4:4) God self word jou teenstander! ‘n Dubbelhartige word beskou as iemand wat ontrou is in sy verhouding met God (Daarom praat Jakobus van “egbrekers en egbreeksters” - OAV). Die almagtige God laat Hom nie misbruik nie. God is nie bereid om die tweede plek in jou lewe te vul nie. Hy wil ons heeltemal hê, ons is immers gekoop deur die bloed van Jesus. God se kinders is mos eintlik die aanstaande bruid van Christus. Ons wag dat die bruidegom ons kom haal. Geen aardse bruidegom gaan maar verlief neem dat sy aanstaande met ander mans flankeer nie. Of besluitloos is oor haar lojaliteit nie. Dis ook heeltemal ondenkbaar dat Jesus dit sal duld. As dubbelhartigheid nie genees word nie lei dit skrikwekkende gevolge. Die geskiedenis is vol voorbeelde – die vrou van Lot , die gemeente van Laodicea (Hulle het Jesus naar gemaak!) 

DIE OPLOSSING VIR DUBBELHARTIGHEID 

Jakobus is baie duidelik in sy advies. “Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars. 
Bekla julle ellende, treur en huil! Laat julle vrolikheid in rou verander en julle blydskap in droefheid. 
Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog." (4:8-10) 

Wat nodig is om van hierdie vlieg ontslae te raak is totale verootmoediging en bekering! 

Gaan word stil op jou knieë. Laat jou gedagtes teruggaan na die kere van valsheid, van dislojaliteit, van ongehoorsaamheid. Aktiveer jou gewete, dink bietjie na oor jou ontrouheid. Besef jou lewe snel verby en daar is geen vreugde en vrug nie. Wees in ‘n toestand van rou. 

Wanneer laas het jy in jou binnekamer voor die Here gehuil of getreur? 

Bekering sal behels dat ek my aan die Here sal onderwerp met ‘n volkome hart. Die teenoorgestelde van dubbelhartig is enkelhartig. Plaas jou verwagting en vertroue op die Here alleen. Prakties - breek die brûe van sonde agter jou af. Raak ontslae van verkeerde gewoontes, vriendskappe en verhoudings! Werp jouself in nederigheid op die genade van God in Jesus Christus! Klou opnuut weer vas aan die kruis as enigste hoop! 

*Psalm 12:3 OAV “Hulle praat leuens, die een met die ander; met vleiende lippe spreek hulle dubbelhartig.”

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.