BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 23 Januarie 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (1)

- Kyk na die skildery en skep moed!

Maak oop en lees Openbaring 1:1-6 ( ’n oop Bybel langs jou is ’n vereiste om hierdie studies te volg)

Om te begin : MOENIE BANG WEES VIR OPENBARING NIE! Die boek Openbaring bekleë gewoonlik een van twee plekke in baie Christene se denke :

~ Dit word geïgnoreer en eenkant geskuif. (“Ag, dis te moeilik, dit maak my deurmekaar, los dit maar vir spesialiste!”)

of

~ By sommige is daar amper ʼn buitensporige en fanatiese belangstelling in die boek. Dit word amper ’n geestelike stokperdjie. Heeldag word daar na DVD’s gekyk en boeke gelees oor die onderwerp van die eindtye en vervulling van profesieë! (En met almal wat nie met my siening van interpretasie saamstem nie, word daar hewig gestry!)

Nie een van bogemoemde benaderings is tog reg nie!

Ons moet wel erns maak met die boodskap van Openbaring. Die lees van hierdie boek dra ’n belofte van seën! (Vers 3) Dis tog deel van God se Woord wat Hy vir ons welwese bedoel het.

PRENTJIES

Aan die anderkant is Openbaring nie ’n eie agenda opsigself nie. Ons sal sien dat Openbaring niks anders sê as die res van die Bybel nie, maar slegs uitbrei op sekere waarhede en dit op ʼn ander manier sê. Terloops, die meeste beelde wat in Openbaring gebruik word, kom in elk geval uit die Ou Testament! Nog belangriker : Die hoofinhoud van Openbaring is die evangelie self! ’n Mens sou amper kon sê dat Openbaring vir ons die evangelie in prentjies teken. Die evangelie gaan oor die goeie nuus met betrekking tot Jesus en sy werk! Reeds hier in die aanhef val die klem reeds baie duidelik op Jesus en sy verlossingswerk. Kyk weer na Vers 5 en 6. Jesus self is die doel en hoogtepunt van die geskiedenis!


Wat wil Openbaring nou eintlik sê? Vertel dit ons van die laaste dae? (En wanneer is dit?) Kom ons maak eers seker oor ’n paar belangrike vertrekpunte.

~ Openbaring is in die eerste plek aan sewe regte gemeentes (Efese, Smirna ens.) gerig. (Hierdie gemeentes was in die streek wat vandag Turkye is) Dit het gegaan oor sake wat hulle op daardie oomblik geraak het, binne ’n spesifieke situasie. Dis ’n boek vol bemoediging en vermaning in ʼn konteks van vervolging en die bedreiging van afvalligheid wat hulle konkreet beleef het. Dit moes hierdie Christene wat swaargekry het vermaan, vertroos en bemoedig. Dink dan net logies : As Openbaring hoofsaaklik en eksklusief gehandel het oor dinge wat in ons tyd (2000 jaar later) sou gebeur, watter nut sou dit vir hulle hê? Watse troos sou dit vir hulle bring? Wat sou dit help om vir hierdie mense te vertel van Iran se kernplanne of Europa se staatkundige bedeling? Vanuit die oorspronklike bedoeling en konteks kan ons sê :

Openbaring is ’n TROOSBOEK, nie ’n VOORSPELLINGSBOEK nie!


Ons kan en mag nie Openbaring lees asof dit Nostradamus of Siener van Rensburg is nie! Die hoofinhoud van hierdie troos is : die vestiging van en erkenning van God se alleenheerskappy op aarde soos dit reeds in die hemel is. (Mounce) Dis alles seker vanweë die oorwinning van Jesus!
~ Inderdaad gaan Openbaring oor die Laaste Dae. Maar wat bedoel die Bybel met die Laaste dae? Die Nuwe Testament beskou die hele tydsduur na Jesus se kruis en opstanding as die eindtyd of Laaste Dae. Die evangelie gebeurtenis in Jesus se kruis en opstanding was die beslissende draaipunt wat die hele geskiedenis in twee dele sou verdeel. Met Jesus se eerste koms en werk het die Laaste Dae aangebreek. Twee belangrike teksgedeeltes is Handelinge 2:14-21 en Hebreërs 1:1-3 . In Handelinge 2 kry ons die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag en Petrus se daaropvolgende toespraak. Hierin verwys Petrus dat wat op daardie tydstip gebeur het ’n vervulling is van die profeet Joël se voorspelling oor die laaste dae. (Sien vers 17) Die tydperk van die Laaste Dae was dus met die uitstorting van Heilige Gees reeds ’n werklikheid! (Die laaste dae is dus nie ’n tydperk wat eers in 1948 of 2000 begin het nie) In Hebreërs 1 sê die skrywer duidelik : “in hierdie laaste dae het God met ons gepraat deur die Seun” Vantevore het God Homself op baie maniere (deur profete, drome ens.) geopenbaar, maar Jesus was God se finale spreke. Deur Jesus het God alles aan ons bekend gemaak wat nodig is. (En natuurlik het ons God se openbaring deur Jesus in ons Bybel)

Jesus se eerste koms na die wêreld het die LAASTE DAE ingelui.


Jesus se koms na die aarde dui die beslissende moment aan van die begin van die vestiging van God se koningsheerskappy op aarde. Dis die Laaste Dae!
~ Ons moet verstaan wat is ’n profesie. Profesie (as ons ook gaan kyk na die Ou Testamentiese profete) het nie net gegaan oor toekomsvoorspellings nie, maar ook oor morele onderrig. Profesie is God se Woord vir mense in ’n bepaalde tyd en omstandighede. Deur sy werk ’n profesie te noem laat Johannes ons verstaan dat hierdie boek dieselfde gesag dra as die groot werke van die Ou Testamentiese profete! Dit gaan ook nie net oor ’n verre toekoms nie, maar het dwarsdeur die geskiedenis ’n boodskap vir daardie tyd se Christene gehad... dus ook vir ons!

Met bogenoemde as agtergrond, hoe moet ons dan nou Openbaring interpeteer?

Daar is twee belangrike beginsels wat ons in gedagte moet hou :

~ Hou rekening met die literatuursoorte (genres) in die Bybel. (Ons pas dit eintlik almal alreeds toe - ons lees die verhaal van die kruisiging wat geskiedskrywing is, anders as die Barmhartige Samaritaan wat ’n gelykenis is.)

In Openbaring kry ons die volgende literatuursoorte: Briewe, Profetiese uitsprake, Lofliedere, Apokaliptiese Visioene. Elke Bybelleser weet reeds dat ons nie elke Bybelgedeelte letterlik kan opneem nie. As Jesus sê : “Ek is die deur van die skape” weet ons tog presies wat Hy bedoel! Ons dink tog nie dat Jesus van hout gemaak is nie! Om dus alle beelde en getalle in Openbaring skielik letterlik te wil opneem is absurd! (Dink bietjie : Wil jy vir ewig ’n letterlike pilaar wees? - vgl. Openb 3:12)

 

~ Hou rekening met die sentrale tema en opbou van die hele Bybel. Die hele Bybel loop uit op die hoogtepunt in Jesus Christus! ( Kol 1:15-20; Ef 1:10) Ons kan die visioene nie los verstaan van die hoof evangelie gebeurtenisse naamlik Jesus se kruis, opstanding en wederkoms nie. Openbaring sê nie vreemde goed nie, dit sê presies dieselfde as die sentrale Bybelse boodskap, met Jesus as die kern, maar dikwels op ’n apokaliptiese manier. (Met beelde en simbole)

Ten slotte : Ons gaan na Openbaring kyk soos na ’n skildery. Om die geheelboodskap en grootsheid van ’n skildery te waardeer en te geniet, hoef mens nie altyd elke onderdeel te ontleed nie. Dis die geheelindruk wat mens aanspreek en ’n booodskap in jou hart deponeer! Ons gaan dus nie elke teks in detail probeer ontleed nie (en as ons oor detail betekenisse verskil, maak dit ook nie soveel saak nie) Ons gaan kyk na die groot temas wat saamvloei om aan ons ’n heerlike en magtige boodskap van oorwinning oor te dra! Sien nou reeds raak : "Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen." (Openb 1:6)

Mag die evangelie so nog helderder vir jou skyn, mag elkeen dit omhels en verder daarin groei en daaroor bly wees!

Lees verder oor Openbaring. Kliek op Maak oop by Openbaring (2)

 

(Bronliteratuur : Du Randt, Die A-Z van Openbaring; Goldsworthy, The Gospel in Revelation)






Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.