BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag 18 September 2012

STILSTAAN BY DIE SKADUWEE?

- nee, want Jesus het gekom!

Die Hebrew Roots Movement (asook die Sewendedaagse Adventiste) met hulle aandrang dat ons weer die Sabbat moet onderhou en ons aan die Mosaïse voedselwette moet onderwerp vind sekere gedeeltes in die Nuwe Testament (veral in Paulus se briewe) uiters ongemaklik. Een so ‘n gedeelte is in Kolossense 2:16 - 17 wat sê :

“Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet of drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag (lett - Sabbatte) moet vier nie. Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid  is Christus.”

Aangesien hierdie teksgedeelte die HRM skuldig verklaar (want hulle wil weer voedselwette, feeste en Sabatte aan ons voorskryf) is dit te verstane dat hulle hierdie woorde van Paulus sal probeer verdraai. Dis dan ook wat Elim Ministries (Fish Hoek) probeer doen. Met langdradige verduidelikings probeer hulle die duidelik ooglopende bedoeling van Paulus omseil in wat genoem word “A new look at Col 2". (Terloops dit lyk asof hierdie dwaling nog verder gaan en hulle eie vertaling van die Skrif wil maak, genaamd “Woord en Getuienis” net soos hulle geestelike voorvaders, die Jehova Getuies met hulle New World Translation.)*

Kom ons kyk na Kolossense 2:16,17. Omdat hierdie teks nie in isolasie staan nie, maar deel is van ‘n brief, is dit eers belangrik om agter die hooftema en strekking van die Kolossense brief te kom. Vers 16 en 17 sal tog uiteraard daarby inpas.

Die hooftema van Kolossense kan as volg geformuleer word: 

Die algenoegsaamheid van Christus en sy oppermag oor beide die skepping en die herskepping (kerk) vorm die fondasie van ons beskerming teen die misleidinge van die dwaalleraars wat voorgee dat daar geheimsinnige maniere is waarop ons nader na God kan kom sowel as die vaste basis van ons praktiese Christenskap, ons verhoudinge met gelowiges en die wat buite staan. 

Die fokus in Kolossense val dus op Jesus as die genoegsame en volledige openbaring van die volheid van God.

Terug by ons teks. Die opvallende kontras in Kolossense 2:16,17 is tussen skia (skaduwee) en soma (liggaam/realiteit).  Die finaliteit en volheid van Jesus word gekontrasteer met die voorlopigheid van die skaduwee (voedselwette, feeste en Sabatte) Hierdie interpretasie word verder versterk deurdat ons ‘n soortgelyke kontras in Hebreërs 8:5 en veral ook baie duidelik in Hebreërs 10:1 aantref :

“Die wet van Moses (tora) is slegs ‘n skadubeeld van die weldade wat sou kom...” 

Hier is die kontras tussen die voorlopige diere offers en Jesus as finale en volkome offer.

Natuurlik kan soma ook die betekenis van “liggaam” hê, maar die onmiddelike konteks waarin dit teenoor skadu stel, maak dit baie logies om dit hier met “werklikheid”  te vertaal. Die vertaling van soma as “werklikheid/realiteit” in hierdie teks  word gesteun deur gesaghebbende Griekse woordeboeke wat die volgende verklarings gee : “the thing itself, the reality” in die “A Greek-English Lexicon” (Walter Bauer) en  “reality, corresponding reality - but the reality is Christ” in die “Greek-English Lexicon” (Louw en Nida)  

Die kontras tussen skaduwee en werklikheid pas ook pragtig in by Paulus se soortgelyke redenasie in Galasiërs 4:9. As ons Christus (die Werklikheid) leer ken het, is dit mos dwaas en ‘n terugwaartse stap om weer wettiese godsdienstige reëls te probeer nakom, waarvan die rakleeftyd verval het. En net in die volgende vers noem hy die dinge wat onder wettiese godsdienstige reëls tel : “besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare.” (Galasiërs  4:10) Dieselfde sake wat ook in Kolossense genoem word!

Wat sê dit nou als vir ons? In die Mosaïese wetsisteem was sekere voedselwette en die onderhouding van sekere dae en feeste verpligtend. Christene is bevry van hierdie verpligtinge. As ‘n Christen homself wil onthou van sekere voedsel of sekere dae wil gedenk is dit goed en wel, dis ‘n saak vir sy gewete tussen God en homself. (Paulus skryf hieroor in Romeine 14:5 ev.)

Maar baie belangrik : Diegene wat aan Christus behoort, moet hulle dus nie meer oor hierdie sake laat voorskryf, wanneer mense ons wil wysmaak dat ons so meer behaaglik vir God sal wees  nie. Waarom moet Christene weier om geïntimideer te word oor sake soos hierdie? 

Die wetlike voorskrifte van die verlede (Ou Verbond/Mosaïse Verbond) was slegs van verbygaande aard, dit het behoort tot ‘n tydelike oorgangstadium in die uitwerk van die heilsgeskiedenis. (Galasiërs 4:1-7 - “toe ons nog onvolwasse kinders was”) Nou dat die bedeling van Christus aangebreek het, geld hierdie dinge nie meer nie. Dit was maar net heenwysings, skaduwees wat op Hom gewys het. Jesus self is die werklikheid, die substansie. En dis die groot punt in Kolossense : 

Jesus Christus is die genoegsame werklikheid wat geen aanvulling van voedselwette, visioene en engele nodig het nie!

Daar was niks fout met die wet nie, maar dit was net die skadu, nou dat ons by die werklikheid gekom het, is ons aandag en ons saak by die werklikheid en nie meer by  die skaduwee nie.  Dink aan die  program van ‘n konsert. Die program is in ‘n sekere sin baie nuttig, maar net tot op ‘n punt. Dit berei jou voor vir die konsert, maar as die lees van die program jou verhoed om by die werklike konsert uit te kom is daar tog fout.  Die wet het ‘n belangrike heenwysende  funksie gehad, maar dis nou verby, want Jesus na wie dit gewys het, is nou hier!  Paulus sluit heel waarskynlik aan by dit wat hy as Joodse rabbi geleer het.  Baie Jode het die Joodse feeste as voorlopers van die Messiaanse tyd gesien. Volgens sekere rabbynse tekste was die  sabbat byvoorbeeld  ‘n voorsmaak van die tyd wat sou kom. Hierdie heerlike tyd het nou in Christus aangebreek. Die rus waarvan die sabbat gepraat het, het nou in Christus ‘n werklikheid geword. (Vgl. Matteus 11:28ev)  Dit maak tog nie sin om die voorteken te vier as die werklikheid aangebreek het nie. Jesus self is die ware vervulling van die Sabbat, en met sy teenwoordigheid verdwyn die belangrikheid van die afbeeldings. Wie in Jesus glo is besig om die ware Sabbat te onderhou. Prakties - ons hoef nie meer die (Saterdag) Sabbat te vier nie, maar ons moet ook nie die Sabbat na ‘n ander dag verskuif  nie. Die Sondag, terloops  is nie maar net ‘n verskuifde Sabbat nie, dis iets heeltemal anders. ‘n Dag vir die bymekaarkom van gelowiges en feesviering oor die opstanding.

Ons as gelowiges uit die heidendom staan nie meer onder die Mosaïse wetgewing rakende dae en kos nie.  Ons word nie ingeënt in die Judaïsme van die Mosaïse Verbond (Ou Verbond) nie, maar ons is wel kinders van Abram. (Galasiërs 3:7) Ons is in die geloofsfamilie van Abram en bou op die beloftes wat aan hom gemaak is, eeue voordat die wet van Moses bestaan het. Die wet was ‘n latere en tydelike byvoeging.  (Galasiërs 3:17-18) Dit was net bedoel totdat Christus, die Saad sou kom. Ons was net tydelik onder die toesig van die wet, maar staan nou nie meer daaronder nie. (Galasiërs 3:23-25)

Kom ons verheug ons in die vryheid wat ons Volmaakte Verlosser vir ons verwerf het! Kom ons vier die vryheid met heiligheid onder leiding van die Heilige Gees!


* Daar is ook ‘n vertaling genaamd,  “The Word of Yah – the King’s Covenant” waaroor die samestellers die belaglike en leuengtige aanspraak maak dat dit teruggaan op oorspronklike manuskripte wat in 2002 by die Eufraat ontdek is. Alhoewel nie alle HRM aanhangers hierdie vertaling aanvaar nie, is dit net weereens ‘n bewys tot watter uiterstes dwaalleraars sal gaan om hulle onwaarhede te versprei. 


4 opmerkings:

  1. Johannes,

    Waarom se^ jou "jesus" dat ...> Mat 15:24 Maar Hy antwoord en sê: Ek is NET gestuur na die verlore skape van die huis van Israel?

    Wie is hierdie "Huis van Israel" vir wie "jesus" aandui dat hy NET vir hulle gestuur is ?

    En moet asb nie vir my se^ dat hierdie uitgesoekte groep die "israel vision" groep is nie want dit is beslis nie hulle nie !

    So kom wys vir ons HRM mense hoe jy die "Woord" ken.

    Bob.

    AntwoordVee uit
  2. Bob dis vir my hartseer dat jou so minagtend van "jou Jesus" praat. Hy is my Verlosser en ek het Hom lief, wat sy lewe vir my gegee het.

    Oor jou vraag, wil ek jou net aanraai om die hele Matteus te lees. Jesus het inderdaad in die eerste plek na Israel gekom. As Verbondsvolk kry hulle die eerste geleentheid tot bekering, maar dis baie duidelik in Matteus 28:19 dat Hy sy dissipels na alle nasies uitstuur. Dis in lyn met die belofte wat reeds aan Abraham gemaak is, dat alle nasies in hom geseend sal wees.

    groete
    Johannes

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. Nee, nee Johannes,

      Antwoord my vraag asseblief

      "...Wie is hierdie "Huis van Israel" vir wie "jesus" aandui dat hy NET vir hulle gestuur is ?...:

      Jy het nie 'n idee nie , want jy ken nie die "ou" testament nie

      Jesus is bloot 'n storie-karakter wat vir julle in die jare 325 opgedis is deur Keiser Konstantein ! Hy is 'n mite en sal nooit terugkeer na 'n kwansuise bruid wat nog hoereer met christ-mass en easter bunny nie.

      Nou daar het jy dit van 'n HRM student wat die Bybel nie as sprokies verhaal [simboliek] sien en beleef nie.

      Ek daag jou om hierdie kommentaar te plaas.

      Groete
      Bob

      Vee uit
    2. Ek plaas met graagte jou kommentaar, want dit wys aan almal dat die HRM nie net 'n verskil binne die Christelike geloof behels nie, maar 'n kultus op sy eie is.

      Ek ken die Ou Testament nogal heel goed en het vanoggend nog uit die ontsagwekkende Eksodus hoofstuk 24 gepreek. Dis juis wonderlik om te sien hoedat die hele Ou Testament heenwys na en uitmond in ons Lewende Verlosser Jesus Christus, vir wie jy as 'n mite afskryf! Ek bely onomwonde saam met Tomas in Johannes 20:28 tov Jesus : "My Here en my God!"

      Jy bedoel seker Konstantyn? Ja, ons is almal baie goed bewus van dwalinge wat sedert Konstantyn se tyd in die kerk ingesluip het (daarom is ek 'n Protestant en nie 'n Katoliek nie), maar die kerk van Jesus het lank reeds voor Konstantyn se bewind oor 'n groot gebied versprei. Jesus is nie 'n uitvindsel van Konstantyn nie, maar die Seun van God wat miljoene se lewe verander het en nog steeds verander. En, ja ek is nie 'n aanhanger van Vader Krismis of 'n bewonderaar van die Paashaas nie - so wees gerus!


      (Die vraag oor Israel het ek reeds beantwoord binne die konteks van Matteus. Sien ook LUGFOTO VAN DIE BYBEL)

      Mag daar wysheid aan jou geskenk word.
      Johannes

      Vee uit

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.