BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag 24 Januarie 2014

PLOEG ‘N BRAAKLAND

- bekering as ‘n radikaal nuwe begin. 

"Ploeg vir julle ‘n braakland!"* Dis ‘n opdrag aan die volk Israel, dis ‘n opdrag aan ons. Dis iets wat óns moet doen. Ons verantwoordelikheid! In Esegiël 26 het ons gesien wat God doen... Kliek op NUWE VERBOND. God se aksie kom altyd eerste, want selfs bekering is ‘n uitwerking in ons van sy genadewerk. En tog kan ons nooit daarby verbykom nie – bekering bly ‘n opdrag aan die mens om te gehoorsaam! 



"Ploeg vir julle ‘n braakland en moenie in die doring saai nie!" ‘n Braakland is ‘n onbenutte, onbewerkte stuk grond, gewoonlik oortrek van dorings en ander onkruid. “Ploeg vir julle ‘n braakland!” is ‘n kragtige metafoor...
vir die noodsaaklikheid van radikale hartgrondige bekering in Jeremia 4:1-4!

"As jy jou wil bekeer, Israel, moet jy jou tot My bekeer, sê die Here. As jy jou afskuwelike afgode voor My wegvat, moet jy nie meer dwaal nie.

Wanneer jy ‘n eed aflê en sê: "So seker as die Here leef," moet dit in waarheid wees, moet jy reg laat geskied en reg doen. Dan sal die nasies hulle seën van die Here verwag en in Hom roem.

So sê die Here vir die mense van Juda en Jerusalem: Ploeg vir julle ‘n braakland en moenie in die dorings saai nie.

Wy julle aan die diens van die Here, en verwyder alle ontrou uit julle harte, mense van Juda, inwoners van Jerusalem, sodat my toorn oor julle bose dade nie losbreek soos ‘n vuur en bly brand sonder dat dit geblus word nie."

Bekering is nie ‘n gewilde woord nie. Dit laat mense ongemaklik op hulle stoele rondskuif, die vraag daarna laat baie ontwykend mompel. Die sondaar span alle truuks in om die eis van bekering te ontwyk of af te water. Ons is van nature skrikkerig of skepties oor hierdie opdrag. “Moet net nie vir my sê, ek moet verander nie!” So baie mense redeneer : “Ag, wat dis my voorreg om sonde te doen en dis God se plig om te vergewe...” Dit, vriende is ‘n helse illusie! Dis ‘n stuk selfbedrog wat inderdaad mense in die hel sal laat beland.

DIE ONMISBARE OPDRAG!

Hoekom praat God hier van bekering? Ons kry die rede in die voorafgaande hoofstuk. God nooi sy afgedwaalde kinders om terug te kom. "Kom terug, kinders wat afgedwaal het, sê die Here. Ek maak julle my eiendom. Ek sal julle vat, een uit ‘n stad en twee uit ‘n familie, en julle na Sion toe bring." (3:14) "Kom terug, kinders wat afgedwaal het, Ek wil ‘n einde maak aan julle afdwaling. Kyk, ons kom na U toe, want U is die Here ons God!" (3:22) God is in sy groot liefde bereid om sy rebelse kinders terug te vat en hulle te vergewe! Maar sonder bekering kan daar nie vergifnis wees nie! Bekering! Dis die groot opdrag aan alle sondaars, die kinders van God wat afgedwaal het, asook hulle wat nog nooit God se kinders was nie. Dis die opdrag wat God gegee het deur sy profete in die Ou Testament, deur sy apostels in die Nuwe Testament, ja dit was die prediking van die Seun van God self. Jesus se boodskap was : “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie." (Markus 1:15)

Wat behels ware bekering? Wat is dit prakties? Daar is nie ‘n presiese reseppie nie, maar daar is wel ‘n paar basiese elemente.

Besef en Bely daar is fout : Ek kan nie so aangaan nie. God hou nie van wat ek doen nie. Ek is verkeerd, ek is ‘n oortreder, ek is skuldig! Ek maak nie meer verskonings of blameer ander nie...ek erken my skuld. 

Berou. Ek verag myself oor dit wat ek doen. Ek is diep jammer, nie net omdat ek mense skade aangedoen het nie, erger as dit, my sonde is sonde teen God. Ek is ‘n rebel teen God wat sy eer aangetas het. Dis wat Dawid besef het in Psalm 51:6 - “Teen U alleen het ek gesondig...” (al het sy sonde met Batseba ook behels dat hy ander mense skade aangedoen het, besef hy dat sy sonde wesentlik teen God gerig was.) 

Breek met sonde. (Moenie net daaroor bid nie!) Draai jou rug daarop. Los dit! Stop daarmee. Los afgode, los leuens en skynheiligheid. (1,2) Raak ontslae van die dorings en onkruid. Breek ook met daardie kastige klein gewoontetjies en “mooi” leefstylsondetjies wat geleidelik soos onkruid God se Woord in ons harte verdring en verstik soos Jesus ons in die gelykenis van die Saaier leer.**

Glo die Beloftes van vergifnis. Bekering beteken niks sonder geloof nie. Ek moet glo dat God my vergewe op grond van Jesus se offer aan die kruis. Bekering is iets meer as net ‘n nuwe morele blaadjie omslaan, ware bekering is bekering tot God, ‘n onderwerping aan God. Bekering kan juis saamgevat word in bekering weg van al my afgode (ook my eie geregtigheid en al my eie morele bates) en bekering tot God! En as ek my aan God onderwerp, beteken dit dat ek sal glo wat God oor sy Seun, Jesus Christus sê! God getuig dat Jesus se offer aan die kruis vir my genoeg was. Dat ek ‘n nuwe lewe ontvang deur in Hom te glo!

Weereens bekering en geloof gaan altyd saam. 

Dis nie net iets eenmalig nie, maar is ook die daaglikse pad van die kind van God.

Ploeg is die opdrag aan elkeen van ons. Ploeg die grond van jou hart, ploeg diep, ploeg deeglik, ploeg reguit!

Ploeg diep. Ondersoek jou hart eerlik. Bid opreg Psalm 139 : 23,24 “Deurgrond my O, God, ondersoek my...”

Ploeg deeglik. Ploeg al die onkruide uit van onsedelikheid, onreinheid, die boomwortels van bitterheid en wraaksug. Ploeg alle sonde uit, die openbare sondes soos vloek en dronkenskap, maar ook die geheime boesemsondes soos verslawing aan pornografie, onrein gedagtes, die liefde vir Mammon. Hierdie opdrag kom na die nie-Christen, die afvalliges, maar ook na elke kind van God. In 2 Timoteus 2:21 lees ons : “As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ‘n voorwerp vir besondere gebruik wees. Dan sal hy vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens.”

Ploeg so dat al die gemors uitkom en aan die Lig onderwerp word, los die verskonings, die wegsteek, die voorgee, die blameer van ander en raak eerlik voor God!

Ploeg reguit. Reguit volgens die Woord. Kyk na jouself in die lig van die Woord en nie volgens die algemene opinie van mense nie. Keer terug na God se standaarde en God se wil!

OPDRAG VAN DIE LIEFDEVOLLE GOD!

Ons moenie die konteks van hierdie opdrag van God vergeet nie. Die liefdevolle God smag daarna om die gebroke verhouding met sy afvallige volk te herstel. (19-22) Maar daar is ‘n voorwaarde : Bekering! Sonder bekering is daar geen verlossing nie, maar wel God se oordeel wat gaan brand soos vuur! Maar onthou selfs die waarskuwing oor die komende oordeel is ook deel van God se liefde en genade! Dis om ons aan te moedig tot bekering, want God begeer nie die dood van die sondaar nie, maar dat Hy hom sal bekeer! (Esegiël 18:23) “Het Ek dan miskien 'n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here HERE. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?”

Gaan jy betyds begin ploeg? Vandag is die regte tyd! “Hy sê: "Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp." Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.” (2 Korintiërs 6:2)

*Ons kry hierdie metafoor ook in Hosea 10:12 “Ek het gesê: "Saai volgens my wil, en julle sal my liefde oes. Ploeg vir julle ‘n nuwe land! Dit is nou die tyd om na my wil te vra sodat Ek kan kom en weldade oor julle uitgiet."

**In Lukas 8 word hierdie “onskuldige”, maar gevaarlike onkruid by die naam genoem : sorge (bekommernisse), rykdom, genietinge van die lewe...

***Daar word ook ‘n tweede metafoor vir bekering in vers 4 (sien OAV) gebruik : “Besny julle vir die HERE en verwyder die onbesnedenheid van julle hart, manne van Juda en inwoners van Jerusalem, dat my grimmigheid nie soos 'n vuur uitgaan en brand sonder dat iemand kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge.” Hier het ons ‘n duidelike verbondskonteks. Die profeet maak gebruik van die beeld van die besnydenis, waarskynlik om te beklemtoon, uiterlike besnydenis is nie genoeg nie – hartgrondige bekering is nodig. Die gebruik van besnydenis in ‘n landboukonteks is nie so vreemd as mens na Levitikus 19: 23 in Hebreeus kyk nie. Daar word die woord “onbesnedenheid” as ‘n sinoniem vir “verbode, onrein” gebruik. “En as julle in die land inkom en allerhande vrugtebome plant, moet julle hulle vrugte as verbode (lett =onbesnede) beskou; drie jaar lank moet hulle vir julle verbode (lett =onbesnede) wees; daar mag nie van geëet word nie.”


Ploeg met osse in die Kavango

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.