BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag 26 Maart 2012

DIE VERBODE ONDERWERP

- waaroor Jesus egter dikwels gepraat het.

Die rubriekskrywer Annemarie van der Walt skryf ’n tyd gelede in BEELD : “Vir die eerste keer hoop ek daar ís ’n hel” Sy maak die stelling na aanleiding van die afskuwelike optrede van ’n pa en ma wat hulle eie dogtertjies vir seks verkoop het. Ek dink alle redelike mense deel Annemarie se weersin in hierdie gruweldade. Ek wonder net hoekom sy sê “hoop”? God se Woord is mos baie duidelik oor die bestaan van ’n hel! Maar ja, dit het bykans ’n verbode onderwerp geword om oor te praat, juis in ’n tyd waar daar nie eintlik meer taboes is nie. Ons mag blykbaar alles bespreek en bekyk, maar daar moet maar liewers geswyg word oor die hel. Dit pas nie in die post-modernistiese konteks van verdraagsaamheid en relatiwisme nie! Die rede vir die hedendaagse stilswye (ook van ons kansels) oor die hel is maklik om te verstaan. Dis uiters ongemaklik vir die arrogante sondaar om van Goddelike vergelding te hoor. Predikers wat dit waag om hierdie waarheid te verkondig, kan ook maar vergeet van gewildheid.

Of ons dit nou wil hoor of nie, die Bybel praat reguit en duidelik oor God se finale straf oor goddeloses wat die evangelie verwerp. Dis veral Jesus self wat nie geskroom het om baie eksplisiet oor die lot van die ongehoorsames te praat nie. Dit moet mens regtig laat dink. Wie het ’n groter deernis en liefde vir stukkende sondaars as Jesus? Daarom moet ons aanvaar, dis juis Jesus se opregte liefde vir mense wat maak dat Hy eerlik oor hierdie moeilike saak praat. Een so ’n voorbeeld vind ons in Lukas 16. Hier vertel Jesus die gelykenis van die Ryk man en Lasarus. Inderdaad is dit ’n gelykenis en kan ons nie elke onderdeel daarvan letterlik opneem nie (soos ’n letterlike kloof tussen hemel en hel), maar as daar nie ’n plek van smart en ’n ewige skeiding sou wees nie, verloor die gelykenis natuurlik sy hele punt. Beslis kan ons vanuit hierdie gedeelte (in samehang met die Skrifboodskap in geheel) ’n paar gevolgtrekkings maak rondom die dood en die mens se voortbestaan daarna.

1. Almal moet sterwe. (Behalwe dié wat by die wederkoms nog sal leef) Natuurlik weet alle mense dit; tog leef baie asof daar nie so ’n moontlikheid bestaan nie. Hulle leef en versamel rykdom asof hulle vir altyd hier sal wees. (Kyk net na die paleise wat sommiges bou!) Hier is dit baie duidelik : beide die ryk man en die arm Lasarus sterf op ’n dag! Die dood is die groot gelykmaker : koning of onderdaan, grondbaron of plaasarbeider, generaal of troep, held of skurk, die ouens wat in vliegtuie rondkerjakker sowel as die wat op krukke voortstrompel! ALMAL moet sterwe!

2. Daar is ’n lewe na die dood vir alle mense. Die mens hou nie net op bestaan nie. Jy is nie bloot ’n hond wat vrot nie. Daar is ’n bewustelike persoonlike voortbestaan. Ek en jy behou ons unieke identiteit. Die Ryk man bly die Ryk man, Lasarus bly Lasarus. Gert bly Gert, en Piet bly Piet... Die ryk man bly bewus van sy familie en wil Lasarus na hulle toe probeer stuur! (Opvallend, selfs na die dood behou die ryk man sy arrogansie en dink hy kan nog steeds vir Lasarus, “rondshunt”! Want, sien, in die hel is daar geen genade en ook geen bekering nie.) Geweldig om te dink : alle mense wat ooit op aarde geleef het, bestaan nog steeds! Ook dié van die verste verlede! ’n Duidelike bewys hiervoor vind ons op die Berg van Verheerliking (Matteus 17), waar Moses en Elia met Jesus gepraat het. Ja, jy sal hulle ook eendag ontmoet as jy by die Here is....

3. Daar kom ’n skeiding na die dood. Almal bestaan voort na hul dood, maar almal gaan nie na dieselfde plek nie!

Onmiddellik na die dood.... en ja, terwyl ons nog besig is met begrafnis hou (en ydele lofredes voordra) is die gestorwene reeds in ’n plek van smart of in ’n plek van heerlikheid en geluk! Elke mens kan net na een van twee bestemmings gaan : ’n bestemming van oneindige ellende en selfverwyt of ’n plek van onbeskryflike heerlikheid en vrede!

Jesus het van twee Griekse terme gebruik gemaak as Hy na die plek van straf na die dood verwys naamlik Hades en Gehenna. (Hy gebruik ook ander beskrywings soos byv. “buitenste duisternis”) Hier in Lukas 16 gebruik Hy “Hades”(doderyk) Dis duidelik, Jesus wend ’n woord wat vir sy hoorders bekend was aan as verwysend na die plek van smarte wat in kontras staan met die hemelse woning van heerlikheid waar God se kinders hulle sal bevind. Dis ’n plek van pyn en ellende. “Ek ly verskriklik in hierdie vuur”, sê die Ryk man.

Die meer algemene woord wat Jesus gebruik om na die bestemming van die ongelowiges te verwys is “Gehenna” Die woord het ’n interessante geskiedenis. Dit verwys na die vallei van Ben Hinnom, suidwes van die stad Jerusalem. In die tyd van die Ou Testament is afgodsoffers hier gebring en dis waar die goddelose koning Manasse sy seuns aan die afgode geoffer het. (Lees ook : KINDEROFFERS) Dit het uiteindellik die ashoop van Jerusalem geword, ’n stink smeulende plek. Karkasse van dooie diere en selfs lyke van kriminele is hier gelaat om te verrot en te verbrand. Inderdaad was dit ’n plek waar wurms bly knaag het en waar die vuur nooit geblus is nie.* Die verkorte naam van hierdie plek in Hebreeus was Ge-hinnom, waarvan die Griekse vertaling Gehenna is. Jesus gebruik dus bestaande en reeds bekende woorde om die konsep van ’n plek van finale ewige straf te verduidelik. In Afrikaans noem ons hierdie plek, hel. (Mense wat grootpraterig en slim wil klink, sê dat daar nie so ’n woord soos hel in die Griekse Nuwe Testament is nie, en daarom ook nie so ’n plek nie. Hulle verstaan regtig nie die basiese beginsels van taal nie. ’n Woord kry sy betekenis vanuit sy gebruik en konteks. Bestaande begrippe kan met nuwe inhoud bekleë word.)

4. Na die dood is daar geen tweede kans nie! (Vergelyk ook Hebreërs 9:27. En terloops reïnkarnasie is ‘n leuen, ’n skim wat Satan aan sotte verkwansel!) Daar is geen moontlikheid om jou bestemming te verander nie. Daar is ’n groot onoorbrugbare kloof tussen die twee bestemmings. Die groot prediker Spurgeon het dit so gestel : “Not even a drop of water could cross the bridgeless gulf.” Diegene wat in die hemel is, is veilig, onaantasbaar vir ewig. Maar net so, dié wat in die hel is, is sonder hoop...!

5. Ons lewe op aarde is bepalend vir ons bestemming. Hierdie lewe nou is deurslaggewend belangrik. Ons aardse paadjie is kort, maar dit het konsekwensies tot in alle ewigheid. Natuurlik, hierdie gelykenis beteken nie, alle ryk mense gaan hel toe en alle arm mense gaan hemel toe nie. Dit wys wel dat God weet wat op aarde gebeur en dat Hy alle onreg sal vergeld. Dis ’n heerlike troos vir al God se kinders wat ly en veronreg word! Dis ’n ernstige waarskuwing vir almal wat hulle nie aan God en sy geregtigheid steur nie. Niemand gaan wegkom met onreg nie, niemand kan God flous of omkoop nie. God se geregtigheid en vergelding word treffend uitgebeeld. Die rolle van die karakters word dramaties omgeswaai. Jesus teken die kontraste skrikwekkend skerp : As Lasarus sterf dra die engele hom weg na Abram. Terwyl hy geleef het moes hy uitgestoot buite voor die poort lê van een van Abram se sogenaamde kinders. Nou kry hy ’n ere ontvangs. Lasarus was buite, nou is hy binne. Die ryke wat als gehad het, is nou buite en in pyn. Lasarus is nou die bevoorregte; die ryke bedel nou ’n paar druppels water! PASOP! Daar wag ’n aaklige verrassing, as ons eendag sien wie gaan ingelaat word en wie gaan buite bly! Die man wat nie eers ’n krieseltjie wou oorlos vir ’n bedelaar nie, wil nou die vinger van ’n bedelaar aflek!** Dis opvallend : die ryk man ken die bedelaar se naam. Dis ’n verswarende omstandigheid! Hy het al die tyd presies geweet wie daar voor sy poort lê en vergaan van die ellende! ’n Skrikwekkende werklikheid onder ons aandag gebring. Wie kontak met die bedelaar wil maak, moet dit nou doen! Daarna is dit vir altyd te laat! Dis nou die kans om barmhartigheid te bewys! Dit bring ons by die laaste beginsel:

6. Tree betyds op! As jy gereed wil wees vir die dood, tree betyds op! Dis nou! Maak betyds voorsiening vir die ewigheid.

Betyds, Betyds, Betyds... anders is dit vir ewig te laat!

Daar is veral twee dinge waaraan ons betyds moet aandag gee volgens hierdie gelykenis:

~ Luister betyds na die Woord. Die ryk man se versoek om Lasarus na sy broers te stuur om hulle te waarsku word geweier. “Hulle het mos Moses en die profete!” Dis die Bybel van destyds! God het mos klaar duidelik in sy Woord gepraat. As jy nie daarna wil luister nie, is daar vir jou geen verskoning en geen hoop nie! As jy nie aan die Bybelse boodskap gehoor wil gee nie, sal geen wonderwerk jou in elke geval oortuig nie! Glo die Woord, die Woord is die waarheid! Maak ons erns met die Woord? Het jy jou al bekeer en die heerlike boodskap oor Jesus se kruis en opstanding geglo? Die Bybel sê mos duidelik wat ons moet doen om gered te word. “Bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15)

~ Gee ook betyds aandag aan die bedelaar voor jou deur! Gebuik jou aardse besittings op die regte manier. Geldsake is ’n belangrike tema in Lukas 16. In die eerste gelykenis in Lukas 16 gaan dit ook hieroor en word dit duidelik gestel dat ons nie God én Mammon kan dien nie (vers 13) en net daarna word melding gemaak van die Fariseërs se geldgierigheid (vers 14). Hierdie gelykenis sê nie ek word outomaties gered as ek armes help nie. Barmhartigheid is egter wel ’n noodwendige gevolg van Christenskap! Christenskap en geldsake gaan saam! Barmhartigheid teenoor ander is ’n duidelike bewys dat ekself vergifnis en barmhartigheid by God ontvang het.

 
Is ek gereed vir die dood?


Nog ’n laaste vraag : Sal ’n God van liefde regtig mense tot die hel verdoem?

Ons eie filosofiese redenasies bepaal nie wat God kan en sal doen nie. God openbaar Homself in sy Woord en ons moet dit aanvaar. Nou is die Woord baie duidelik dat God toornig is oor sondaars wat weier om hulle te bekeer en hulle baie swaar oordeel. Ja, inderdaad is God baie genadig. God se genade loop egter in die Skrif parallel met sy oordele. Vat nou maar die Bybelse geskiedenis van voor af. God red Noag en sy familie (net 8 mense!), maar delg die res van die mensdom uit in die sondvloed.  God begenadig Lot en sy gesin, maar wis die goddelose stede van Sodom en Gemorra uit met vuur. God verlos sy volk Israel uit slawerny, maar teister die Egiptenare met skrikwekkende plae! Weens hulle afvalligheid moet Israel later egter self onder God se oordele deurloop soos tydens die verwoesting van Jerusalem en die ballingskap en die profete kondig dan aan dat net ’n klein oorblyfsel gered sal word. Ook in die evangelie bedeling waarin ons nou leef, word beide God se genade en oordele ervaar. Vir sommige is die evangelie ’n lieflike lewensgeur, maar vir ander ’n stank van die dood! (2 Kor 2 :14-16) Dwarsdeur die geskiedenis van die mendom is God die Een wat red, sowel as oordeel! Dit is ’n voorspel tot die laaste oordeel wanneer die geseënde gelowiges die Koninkryk sal beërf en die vervloektes verdoem sal word tot die ewige vuur! (Matteus 25:34,41) Dis wat die Bybel ons leer. Wie van ons durf iets anders verkondig?

Persoonlik dink ek dat die kruisdood van Jesus dalk die duidelikste bewys van ’n hel is. Die feit dat God bereid was om sy Geliefde Seun tot die skandedood van die kruis te verdoem ter wille van sondaars is nie net ’n bewys van God se liefde nie, maar ook van die skrikwekkende plek waarvan daardie liefde ons juis wil red. Waarom moes Jesus die straf van Godverlatenheid (helse straf) ondergaan, as daar dan in elk geval nie ’n hel bestaan waar sondaars gestraf sou word nie? Die kruis van Jesus waar Hy elke gelowige se straf volledig gedra het, was nie net ’n gebaar van welwillendheid nie, maar is ’n eenmalige liefdesdaad wat ons verlos van sonde, Satan, dood... en ja, HEL!

God roep die mens tot verantwoording na sy dood. Daar is ’n plek van pyn soos die poel van vuur. (En terloops, dis nie ’n plek waar die duiwel met ’n drietandvurk in sy hand mense braai nie! Dis God se toorn wat die hel aan die brand steek en dis juis die plek waar die duiwel vir ewig gestraf gaan word volgens Openbaring)

Niemand sal die hel vryspring, bloot deur die ontstaan daarvan te ontken nie. Dis die Bybelse boodskap. Gelukkig is dit nou nog genadetyd. Die Verlosser, Jesus nooi jou uit! As jy meer wil lees oor hoe Hy ons verlos van sonde, Satan, dood en hel, lees gerus : “GOLIAT HET GEVAL!”

* Sien : “Whatever happened to hell?” deur John Blanchard

** Uit die kommentaar van Jakob van Bruggen is heelwat gedagtes oorgeneem

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.