BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag 01 Maart 2012

PALEISPRINS IN OPLEIDING

- die baie belangrike beginsel om te begryp.

Op ‘n dag neem ’n ryk goedhartige Koning ’n wandeling deur sy hoofstad. Langs die straat bemerk hy ’n liederlik vuil straatkind. ’n Jeugdige wetsoortreder. ’n Regte gomsnuiwer en daggaroker. Dit roer die Koning se hart en Hy rig ’n uitnodiging aan die verwaarloosde kind. “Kom saam met my. Ek as die hoogste gesag in die land gee vir jou koninklike kwytskelding van al jou misdade. ’n Volledige amnestie. Geen vervolging sal teen jou ingestel word nie. Word my eie kind. Ek neem jou aan!” Die seuntjie stem in. Die aanneming word sommer dadelik in ’n hof wettiglik formeel bekragtig. Dit beteken dat die weggooi straatkind nou onmiddelik die status het van ’n koningskind - ’n prins! Een implikasie is dat hierdie kind as prins ook ’n wettige erfgenaam van die Koning is!

Dis onbegryplik heerlik en dramaties - een oomblik nog ’n straatkind met ’n uitsiglose duister toekoms. Die tronk het gewink. Die volgende oomblik, ’n prins met ’n blink toekoms!

Die prins gaan woon nou in die paleis soos dit by sy nuwe status pas. Hier wag natuurlik groot aanpassings en veranderings op hom. Sy vodde word vervang met splinternuwe koninklike klere. Hy moet leer om soos ‘n koninklike te eet. (Dis nie so maklik nie, want hy was gewoond om in die asblikke vir oorskietkos te aas) Die moeilikste is egter om van sy straatmaniere en agterbuurttaal ontslae te raak. Dit vat tyd en inspanning. Die nuwe prins is nie altyd so suksesvol om by die nuwe leefstyl aan te pas nie. Soms is dit nodig dat die Koning hom ernstig berispe en selfs partykeer straf as hy van sy ou kriminele streke wil uithaal. Dan word hy ernstig vermaan en aan sy nuwe status herinner : “Gedra jou soos ’n prins, jy bly nie meer op straat nie!” Sulke vermanings raak die nuwe prins diep, as hy dan met dankbaarheid terugdink aan hoe goed die Koning vir hom was. Dit motiveer hom opnuut om met erns ’n nuwe lewe te leef. ’n Leefstyl wat die Koning, sy eie Pa gelukkig sal maak!.

Hierdie verhaaltjie probeer vir ons die verskil tussen vryspraak (justification) en heiligmaking (sanctification) verduidelik. Dis wesensbelangrik vir ons geestelike gesondheid en vreugde om hierdie onderskeid te verstaan.

Ek word ’n kind van God as Hy my genadig is op grond van wat Jesus gedoen het aan die kruis. Dis ’n groot voorreg! (1 Johannes 3:1) Ons verdien nie om God se kinders te wees nie, dis net uit genade wat ons gered word vanuit ons sondige straatkindbestaan! (Efesiërs 2:8) Ons is inderdaad goddelose mense wat vrygespreek word en so in God se oë ’n nuwe status het. (Romeine 4:4) Vryspraak/regverdigmaking is ’n onmiddelike eenmalige aksie van God wat aan ons geskenk word deur die geloof, heeltemal gratis en verniet. (Romeine 3:23,24) Die oomblik as ek my vertroue op Jesus plaas, is ek dus ’n vrygespreekte en staan ek strafloos voor God. My sonde word hoegenaamd nie meer teen my gehou nie. (Hebreërs 8:12) Soos die rower aan die kruis kan ek seker wees dat die paradys nou vir my oopstaan. Ek het vrede met God en staan onder geen veroordeling meer nie! (Romeine 5:1, 8:1)

As God se vrygespreekte kinders moet ons nou leer om volgens ons nuwe status te leef! Dis ’n lewenslange proses en word heiligmaking genoem. Dit beteken die afsterwe (afleer) van die ou sondige lewensstyl en die aanleer van ’n nuwe lewensstyl wat volgens God se wil is. Die genade wat ons ontvang het, stel ons onder ’n verpligting om drastiese aanpassings te maak. (Romeine 12:1-2) Dit beteken dat ons nie meer gelykvormig aan die wêreld se norme sal leef nie, maar toelaat dat God ons denke verander om sy wil te gehoorsaam. Heiligmaking is ’n harde daaglikse stryd (opleidingsproses), waarby ons aktief betrokke is. (Vryspraak is iets wat ons net ontvang deur die geloof, ons kan geen bydra daartoe lewer nie.) In heiligmaking is ons hele menswees betrokke. Nie net my wil nie, maar ook my liggaam. Ek moet selfs my voete gebruik om weg te vlug van die kwaad! (2 Timoteus 2:22) Heiligmaking behels dat ek verkeerde dinge in my lewe met wortel en tak sal uitroei en ’n nuwe lewensstyl sal najaag! Lees gerus Kolossense 3:5 en verder. Ek moet nuut word, nie net in my denke nie, maar in al my optrede en verhoudings met ander. Die Heilige Gees, wat in elke kind van God woon (Rom 8:9) gee my die krag om ’n einde te maak aan die sondige praktyke in my lewe. (Rom 8:13)

Vryspraak en heiligmaking gaan onlosmaaklik saam. Heiligmaking is die noodwendige gevolg van vryspraak! Wie werklik die vryspraak beleef het, sal erns maak met heiligmaking! As iemand beweer om ’n vrygespreekte te wees en geen tekens van heiligmaking toon nie, moet daar ernstige vrae gevra word.

Die basis van ons aanvaarding by God is egter altyd ons vryspraak op grond van Jesus se genoegsame sterwe (wat volmaak is) en nie ons heiligmaking (wat onvolmaak en nog aan die gang is) nie! Die straatkind is 'n prins, nie omdat hy nou opgelei word om soos 'n prins te leef nie, maar omdat die koning hom reeds kwytgeskel en aangeneem het! Omdat hy alreeds volledig 'n prins is, moet hy nou geleer word om waardiglik soos 'n prins te leef!

Kind van God, die Koning is vir jou ontsaglik lief! En as Hy jou partykeer hard moet aanspreek of jy wil moedeloos raak, onthou net : Jy is ’n paleisprins in opleiding!

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Jy is welkom om kommentaar te lewer. Hou dit kort, beleef en op die punt af.
As jy nie iewers geregistreer is nie, gebruik die anonymous opsie.